Vinnige feite

Republikeinse offisiere by Magersfontein
  • Suid-Afrika se geldeenheid, die rand, is vernoem na die Witwatersrand.
  • Britse soldate het oor die algemeen as Tommies bekendgestaan. Die Boere het hulle egter Kakies genoem, omdat hulle kakiekleurige uniforms gedra het.
  • Daar was verskeie mense van buite Suid-Afrika se grense wat vrywilliglik aan die oorlog kom deelneem het. Aan Britse kant was daar soldate uit Kanada, Australië en Nieu-Seeland. Daar was ook individue wat aan Boerekant kom veg het. Twee bekendes was die Fransman Georges de Villebois-Mareuil en die Rus Yevgeny Maximov. 3
  • Een van die groot Boerehelde was die legendariese Boereverkenner Danie Theron. Hy het gesneuwel toe hy manalleen teen ’n hele Britse militêre eenheid geveg het. 1
  • Tot vandag toe is daar net een dagboek van ’n swart mens wat die oorlog beleef het, gevind. Dit is dié van Sol Plaatje, naamlik The Boer War Diary of Sol T. Plaatje. Hy was in Mafeking gedurende die beleg, en was ’n tolk vir die Britse owerhede. 3
  • Emily Hobhouse was so geliefd en gerespekteerd onder die Afrikaners dat haar as in 1927 by die Vrouemonument in Bloemfontein begrawe is. 2
  • Oorlog raak soms baie vervelig, veral tussen veldslae. Om hulself besig te hou, het die Boere kompetisies gehou soos perdewedrenne, atletiek of Boeresport. Die Britte het graag krieket gespeel. 1
  • Piet de Wet was waarskynlik die berugste joiner in die oorlog. Hy was Christiaan de Wet se broer. Die rede waarom hy hom by die Britte aangesluit het, is omdat hy gedink het dat ’n vinnige beëindiging van die oorlog die Afrikanervolk van ondergang sou red. 2
  • Baie krygsgevangenes het probeer ontsnap. Een van die bekendste suksesvolle pogings was dié van Willie Steyn en sy vier kamerade wat in die boek Die vyf swemmers: Die ontsnapping van Willie Steyn en vier medekrygsgevangenes uit Ceylon 1901 5 beskryf word. Hulle het in Ceylon van ’n skip afgespring en na ’n Russiese skip geswem, wat hulle opgepik het. Daar het hulle via Rusland, Duitsland en Nederland (waar hulle vir President Kruger gaan besoek het!) en die hedendaagse Namibië teruggekeer huis toe – en toe weer gaan veg! 1
  • Die Kappiekommando was ’n groep Boerevroue in Pretoria wat as spioene vir die kommando’s opgetree het.
  • Mahatma Gandhi was ’n beroemde leier in Indië wat as jongeling vir die Britse magte in die oorlog gewerk het.
  • Die Anglo-Boereoorlog was die eerste en grootste konflik waarin Brittanje betrokke was tussen die Napoleontiese Oorloë en die Eerste Wêreldoorlog. 4
  • Die oorlog het Brittanje baie onpopulêr in Europa gemaak. Meeste Europese lande, en veral Duitsland, het met die Boere gesimpatiseer. 4

Die Anglo-Boereoorlog was ’n militêre stryd tussen die Boererepublieke (Transvaal en die Oranje-Vrystaat) aan die een kant en Groot Brittanje aan die ander kant, tussen 1899 en 1902. Brittanje wou Suid-Afrika oorheers, veral as gevolg van die ontdekking van goud. Daardie drang het in konflik gekom met die Boererepublieke se vasberadenheid om hul vryheid te behou. 1

Burgers langs hulle Kersboom buite Ladysmith

Die naam van die oorlog

Die oorlog staan onder verskeie name bekend.

Lank terug het Afrikaners dit die Engelse Oorlog genoem, want die vyand was natuurlik Engeland. Die Britte het dit die Boer War (Boereoorlog) genoem, want hulle vyand was die Boere. Daar is ook lede van die Afrikanergemeenskap wat dit Tweede Vryheidsoorlog noem, om dit te onderskei van die oorlog tussen 1880-1881. 1

Boere laai die buitgemaakte kanonne op ‘n trein

Sommige mense verkies die naam Suid-Afrikaanse Oorlog. Hulle voel die naam Anglo-Boereoorlog is misleidend, want daar was ook swart gemeenskappe aan beide kante by die oorlog betrokke, en hul rol moet erken word. Die probleem hiermee is dat Brittanje nie eens genoem word nie. Meeste mense stem vandag saam dat daar nie ’n oorlog sou gewees het as dit nie vir die Britte was nie. Die naam Suid-Afrikaanse Oorlog misken ook dat hierdie ’n amptelike oorlog was tussen Brittanje en die Boererepublieke. 2 3

Omdat daar al baie oorloë in Suid-Afrika was, en omdat dit in die eerste plek ’n stryd was tussen die Boere en die Britte, gebruik ons die benaming Anglo-Boereoorlog. 1 3

Militêre begraafplaas, Springfontein

Oorsake

Die belangrikste oorsaak vir die oorlog was die ontdekking van goud op die Witwatersrand in 1886.

Eerstens was die Witwatersrand, geleë in die Transvaalse republiek, nou die wêreld se grootste bron van goud. Die Britte wou graag die belangrikste mag in suidelike Afrika wees, en die goud in die Transvaal het hul posisie bedreig.

Burgers vertrek per trein front toe van Pretoria af
Burgers slaggereed by hulle kampplek in Natal
Republikeinse artilleriste bombardeer die Britte op Platrand
Gewapende burgers bewaak Britse krygsgevangenes in die kamp by Waterval

Dit was nie soseer dat hulle die goud wou gehad het nie. Nee, hulle wou die gebied waar die goud was, beheer. Die Boere het boonop gewerk aan ’n hawe en spoorverbinding met Mosambiek. Dit kon die Britte se kolonies (Kaapkolonie en Natal) uit die goudhandel uitsny. Londen was in daardie stadium die middelpunt van die wêreldhandel. Verder was daar in daardie stadium ’n wedloop om kolonies in Afrika (‘The Scramble for Africa’) tussen Brittanje, Frankryk en Duitsland. Die Britte se prestige in Europa was bedreig. 1 2 3

Johannesburg treinstasie, uitlanders op beestrokke

Tweedens het goudsoekers na die goudvelde gestroom. Hierdie mense het gou bekendgestaan as die Uitlanders. Die Uitlanders het van verskillende lande af gekom, maar die meeste van hulle was Britte. 4

Omdat daar meer Uitlanders as Boere op die goudvelde was, het die Transvaalse regering hulle gesien as ’n bedreiging en het geweier om vir hulle stemreg te gee. Die Britse regering het weer die Uitlanders ondersteun, met die gevolg dat die Uitlandervraagstuk die spanning laat oplaai het. 1 2 3

Die regering: Uitvoerende Raad van die ZAR

Die Jameson-inval van 1895 het nasionalisme in die Boererepublieke aangeblaas. Die bande tussen die republieke het versterk toe hulle ’n verbond gesluit het dat hulle mekaar sou ondersteun indien hul onafhanklikheid bedreig sou word. Hulle het ook begin om wapens en ammunisie van Duitsland en Frankryk te koop. 1 2 3

Die uitbreek van die oorlog

In September 1899 het die Britse regering 10 000 troepe na Suid-Afrika gestuur. Transvaal en die Oranje-Vrystaat (OVS) se reaksie was om duisende burgers op te roep om die republieke te verdedig. 3

Paul Kruger, die Transvaalse president, was teen dié tyd seker dat die Britte bedoel het om te kom oorlog maak. Hy het toe besluit dat dit beter sou wees om oorlog te voer terwyl daar nog nie te veel Britse soldate in Suid-Afrika was nie. Daarom het hy ’n ultimatum na Brittanje gestuur. Daarin het hy geëis dat die Britte ophou soldate na Suid-Afrika stuur. Die OVS het aangekondig dat hulle Transvaal sou ondersteun.

President Paul Kruger

Kruger se ultimatum is op 9 Oktober 1899 aan die Britte oorhandig. Hulle het twee dae later die ultimatum verwerp, en die oorlog het amptelik begin. 1 2 3

Die militêre posisie

Die Boere, oftewel die burgers, het in kommando’s geveg. Almal tussen 16 en 60 jaar oud is opgeroep vir krygsdiens. In totaal was daar omtrent 52 000 burgers wat opgeroep kon word. Later het penkoppe (seuns onder 16) en ouer mans ook geveg. Die Britte het ongeveer 50 000 soldate in Suid-Afrika gehad aan die begin van die oorlog, waarvan 20 000 op die republieke se grense was. Op die ou end het daar ongeveer 450 000 Britse soldate in die oorlog geveg. 1 2 3

Transvaalse kommando buite Ladysmith

Die Britse weermag was ’n ervare, professionele oorlogsmasjien, wat oor die wêreld heen oorlog gemaak het. Die soldate was goed gedissiplineerd. Die gewone soldate, wat Kakies genoem is, het die omstandighede in Suid-Afrika egter baie moeilik gevind. Die Britse opperbevel in Suid-Afrika was grootpraterig, neerhalend teenoor die Boere, en het ’n maklike oorwinning voorsien. 1

Pretoria treinstasie

In 1899 het Britse oorlogskepe die oseane oorheers, en daarom kon die Boere nie voorrade van ander lande verkry nie. Veral wapens en ammunisie was ’n groot probleem. Die Boere het nie self wapens gemaak nie. Ná die besetting van Johannesburg en Pretoria kon hulle ook nie ammunisie produseer nie. Dus, wanneer hul wapens of ammunisie opgeraak het, moes hulle wapenvoorraad by die Kakies afneem om hul eie voorraad aan te vul. 1

Netjies gekleede burgers gereed vir die stryd

Buiten die kanonniers het die Boere nie formele krygsopleiding gehad nie. Sommige het oorlogservaring gehad, soos byvoorbeeld in die Eerste Vryheidsoorlog of in oorloë op die grense, maar die meeste was onervare.

Vir die Boere was dissipline ’n groot probleem. Hulle het geglo dat hulle ’n keuse gehad het om te veg. Burgers het sommer maklik die kommando’s verlaat, soos om met oestyd op hul plase te wees, of het sommer net nie met hul offisiere saamgestem nie. Aan die ander kant het die burgers die land en klimaat baie goed geken, en waar hulle kon, het hulle geveg op terreine wat hulle bevoordeel het.

Die Boere se hoofmagasynmeester en sy personeel met munisie

Hulle was ook uitstekende ruiters en skuts. Die Boere was meer beweeglik as die Britte, omdat hulle hul voorrade soos kos saamgevat of aangevul het by plase. Die Britte was afhanklik van treine om hul voorrade aan te ry. Later in die oorlog het die Boere baie treine opgeblaas, en kos en voorrade by die Britte gebuit. 1

Die verloop van die oorlog

Die oorlog het hom in drie fases afgespeel: eerstens ’n tydperk van Boere-oorwinnings, tweedens ’n tydperk van Britse suksesse, en derdens die bittereinder-fase.

Generaal Schoeman, staande derde van links en sy staf by Colesberg

Vroeë oorwinnings vir die Boere

Die Boere het hul veldtog afgeskop deur Britse garnisoene in drie dorpe te gaan beleër – Ladysmith in Natal, en Mafeking (vandag Mafikeng) en Kimberley in die Kaapkolonie. Terselfdertyd het hulle probeer om die Britse hoofmag wat in Natal was, te keer om Transvaal binne te dring. Beide die eerste twee veldslae was nederlae vir die Boere – Talana op 21 Oktober en Elandslaagte op 22 Oktober 1899.

Boere wat by Elandslaagte gevange geneem is word deur Britse soldate na gevangeneskap gelei
Die Long Tom by Mafeking met sy bemanning
Boere artilleriste by hul houwitser buite Ladysmith
Boere buite Ladysmith skep water vir hulle oggendkoffie
Boerefort buite Mafeking

Daarna het dit egter beter gegaan, en die Boere het Britse aanvalle by Modderspruit en Nicholsonsnek afgeweer. Die Britte het swaar verliese gely. Kommandante Louis Botha en Christiaan de Wet het hier begin naam maak.

Boere by ‘n Britse veldkanon wat hulle by Nicholsonsnek buitgemaak het

Teen die einde van November het generaal Louis Botha by generaal Piet Joubert oorgeneem as bevelvoerder op die Natalse front. Die eerste Britse troepversterkings het in November aangekom onder leiding van generaal Buller.

Generaal Piet Joubert

Hierna het ’n reeks katastrofes vir die Britte gevolg. Tussen 10 en 15 Desember, wat in Brittanje as die Swart Week bekendgestaan het, het die Boere die Britte op drie fronte verslaan: by Stormberg in die Vrystaat, by Magersfontein in die Noord-Kaap en by Colenso in Natal. 1

Die vernietigde treinbrug oor die Tugelarivier, Colenso
Boere byeen vir ‘n dankdiens na hulle oorwinning by Stormberg
‘n Republikeinse kamp naby Colenso, Natal
Republikeinse offisiere by Magersfontein
Boere en hul agterryers in die laer, Magersfontein

Intussen het die Boere voortgegaan met hulle beleg van Ladysmith, Kimberley en Mafeking, maar hulle kon dit nie regkry om die garnisoene te druk om oor te gee nie. Generaal Louis Botha het einde Januarie 1900 die Britte verslaan by die Slag van Spioenkop. Hierdie slag word soms genoem “een van die mees roemryke oorwinnings in die geskiedenis van die Afrikaners.”

Vroeg in Februarie was die Boere ook by Vaalkrans suksesvol. 1

Boere by beleg van Ladysmith

Britse suksesse (Februarie tot Augustus 1900)

Die momentum van die oorlog het van Februarie af in die guns van die Britte begin swaai. Twee veranderings het plaasgevind.

Eerstens was dit die massas Britse troepe wat vanaf Januarie 1900 die land ingestroom het. Vroeg in 1900 was daar reeds 180 000 Britse soldate. Tweedens is die Britse bevelvoerder generaal Buller deur veldmaarskalk Roberts vervang. Sy stafhoof was generaal Kitchener. Hulle was meer planmatig. En genadeloos. 1 2

Generaal Buller

In Februarie is die beleg van Kimberley beëindig in guns van die Britte. Op 27 Februarie het die Boere ’n rampspoedige slag ondervind toe generaal Piet Cronjé by Paardeberg omsingel is en met 4 000 burgers oorgegee het. Vanaf Paardeberg het Roberts na Bloemfontein opgeruk. Ten spyte van brawe pogings kon die burgers nie keer dat die Britte die Vrystaatse hoofstad, Bloemfontein, op 14 Maart beset nie.

Generaal Piet Cronje

Hierna was baie Vrystaatse burgers moedeloos, en generaal Christiaan de Wet en president Steyn moes hard werk om hulle gemotiveerd te hou. Die Boerevroue het ook in hierdie stadium sterk na vore getree. Hulle het die mans aangemoedig om aan te hou veg – soms deur hulle te beskuldig van lafhartigheid! 1 2

Die Boere het ’n oorwinning nodig gehad, en dit is verskaf deur De Wet en sy burgers by Sannaspos op 31 Maart 1900. Hulle het op ’n slim manier ’n groot Britse konvooi – met wapens, ammunisie, kosvoorrade, en trekdiere – gekaap, en toe ook die geveg gewen.

Roberts het egter met sy oorweldigende getalle noordwaarts na Transvaal gemarsjeer. Die Boere kon nie daarin slaag om hulle te stuit nie, en op 5 Junie 1900 is die Britse vlag op Kerkplein in Pretoria gehys. Wat Roberts betref het, was die oorlog met die val van die twee hoofstede verby. 1 2

Burgers kom op Kerkplein byeen, voor hul vertrek na die fronte

Baie Boere het ook so gedink, en talle het oorgegee en na hul huise teruggekeer. In Junie 1900 het die Transvaalse offisiere ’n krygsraadsvergadering gehou. Sommige leiers het gevoel dat dit sinneloos sou wees om verder te veg. Maar Transvaalse leiers soos president Kruger en generaal Koos de la Rey, en Vrystaatse leiers soos president Steyn en generaal De Wet, wou nie opgee nie. Hulle het besluit om te veg en dit het ’n nuwe fase in die oorlog ingelei – guerrillaoorlogvoering. 1 2

Sannaspos was die eerste suksesvolle guerrilla-aanval, en ’n tweede het gevolg by Roodewalstasie, waar De Wet die grootste buit (ammunisie- en voedselvoorraad) van die oorlog gemaak het. 3

In groot gevegte het die Boere intussen nóg terugslae beleef. Op 9 Augustus 1900 het generaal Marthinus Prinsloo met meer as 4 000 burgers in die Brandwaterkom in die Oos-Vrystaat oorgegee. Danie Theron, ’n legendariese Boereverkenner, het by Gatsrand gesneuwel toe hy manalleen teen ’n Britse militêre eenheid geveg het. En by Berg-en-Dal op 27 Augustus 1900 moes Botha terugval teen ’n oormag Britse soldate. Berg-en-Dal was die laaste stellingsgeveg van die oorlog. 1 3

Danie Theron

Die bittereinder-fase (September 1900 tot Desember 1901)

Ná Roberts se anneksasie van die Boererepublieke het hy Kitchener in beheer gelaat en as oorwinnaar na Brittanje teruggekeer. Die Britte het vir lord Alfred Milner aangestel as hoë kommissaris van die Oranjerivierkolonie en die Transvaalkolonie. Die Britte het gehoop die oorlog is verby. Die Boere het egter nie die anneksasies erken nie, en die oorlog sou nog 18 maande voortduur. 1

Milner, 1897

Paul Kruger is in Oktober 1900 Europa toe om buitelandse hulp te probeer kry. Hoewel Nederland, Frankryk en Rusland baie simpatiek was, was hulle te bang vir die Britte se mag om daadwerklik te help. 3

In die volgende twee jaar het die Boere, oftewel die bittereinders, doeltreffend guerrillaoorlogvoering toegepas. Dit het ingesluit verrassingsaanvalle op troepe, konvooie en opslagplekke en die sabotasie van brûe, treinspore en telefoonverbindings. 3

In Wes-Transvaal het De la Rey oorwinnings oor die Britte behaal by Silkaatsnek in Julie 1900 en Nooitgedacht in Desember 1900. Vanaf die einde van 1900 het die Boere begin om met kleinerige kommando’s die Kaapkolonie binne te val.

Silkaatsnekslagveld

Afrikaners in die Kaap het by die Boeremagte aangesluit. In reaksie daarop het die Britte aangekondig dat enige Kaapse Afrikaners wat teen die Britte veg, as rebelle hanteer sou word. Bekende Boere-offisiere soos Gideon Scheepers is deur die Britte aan oorlogsmisdade skuldig bevind en ter dood veroordeel. Een Boerekommando het tot in sig van Kaapstad gevorder, en ander het op Britse skepe gevuur. 1

Kommandant Gideon Scheepers
Generaal Koos de la Rey
Generaal Christiaan de Wet
Kimberley: De la Rey, Wessels en Vrystaatse veldkornette

In Februarie 1901 was daar vredesonderhandelings tussen Botha en Kitchener, maar dit was onsuksesvol. 1

Saam met De la Rey was Christiaan de Wet die groot held van die guerrillafase. Hy het ’n Britse eenheid op Groenkop in die Oos-Vrystaat oorrompel. Die Britte kon hom nooit vastrek nie, en hy het in die buiteland as ‘die onoorwinbare De Wet’ bekendgeraak. 1

In ’n poging om die guerrillataktiek te stop, het die Britte blokhuise opgerig. Soms het hulle aaneenlopende linies gebou, met doringdraadheinings tussenin, en probeer om Boerekommando’s daarheen te dryf en so vas te keer. Dit was selde suksesvol. 1

Ten spyte van die Boere se dapper weerstand, het Kitchener teen die begin van Januarie 1902 ongeveer 200 000 ervare berede troepe gehad. Hulle het die Boerekommando’s, wat al hoe kleiner geword het, genadeloos beproef. 2

Krygsgevangenes

Boere wat deur die Britte gevang is, is na krygsgevangenekampe gestuur. Sommige kampe was in Suid-Afrika (Kaapstad, Simonstad en Durban), maar sommige was op eilande soos St. Helena, Bermuda en Ceylon (vandag Sri Lanka). In totaal was daar sowat 12 000 Boere-krygsgevangenes. Dit was een van die Boere se groot nadele dat hulle geen kampe gehad waarheen hulle krygsgevangenes kon stuur nie. Hulle moes die Britte wat hulle gevange geneem het, noodgedwonge weer vrylaat – sulke soldate het onmiddellik weer teen die Boere geveg. 1

Boere-krygsgevangenes aan boord van ‘n Britse troepeskip
Britse krygsgevangenes in Ladysmith Waterval-kamp

Die hensoppers, wegkruipers en joiners

Daar was drie groepe Transvaalse burgers wat nie aan die Boerekant aan die oorlog deelgeneem het nie. Hensoppers was Boere wat ’n eed van getrouheid aan die Britte afgelê het om vrygelaat te word. Wegkruipers het die land verlaat eerder as om te veg. Joiners het by die Britse magte aangesluit en aktief teen die Boere geveg. Gewoonlik het joiners saam met die Britse troepe rondbeweeg en vir hulle inligting oor die Boere gegee. Aan die einde van die oorlog is die National Scouts gestig – Boere wat deur die Britte betaal is om vir hulle spioenasiewerk te doen. Die Boere het hierdie mense as verraaiers beskou. Joiners wat gevang is, is gewoonlik tereggestel. Die ander, en hul familielede, is ná die oorlog soos uitvaagsels behandel. In totaal was daar ongeveer 5 500 joiners. 1 2

Verskroeide aarde en konsentrasiekampe

Teen die einde van 1900 het die oorlog vir die Britte lank en duur begin word. Kitchener het besluit om tot die uiterste toe oor te gaan. Sy nuwe taktiek het as die verskroeideaardebeleid bekendgestaan. Die plan was om die Boere te ontneem van voorrade (veral kos) wat hulle by plase gekry het. Die Britte het begin om plaashuise af te brand, landerye, groentetuine en vrugteboorde te vernietig en plaasdiere uit te wis of te verwyder. Ongeveer 30 000 huise is verwoes – die oorgrote meerderheid was Boereplase. Sommige dorpies soos Reitz, Ventersburg en Lindley is ook verwoes, en selfs die kerke is afgebrand. Hier en daar het Boere ook Brits-gesinde families se wonings en plase afgebrand. Hierdie beleid het nie net die Boeregesinne geaffekteer nie, maar ook die swart plaasbewoners se woonplekke, hul gewasse en vee. 1 2

Die gevolg hiervan was dat daar duisende vroue, kinders, bejaardes en swart werkers was wat nie meer op die plase kon oorleef nie. Die Britte het vir diesulkes refugee camps, of burgher camps, opgerig. Vandag staan dit in Suid-Afrika as konsentrasiekampe bekend. Gedurende die oorlog het die Boere daarna verwys as doods- of moordkampe. Daar was sowat 50 konsentrasiekampe wat vir wit mense bedoel was.

Ongeveer 150 000 Boere is in dié kampe opgeneem. Dit was omtrent ’n derde van die totale wit bevolking in die twee Boererepublieke met die aanvang van die oorlog. Die inwoners van die kampe mag nie die kampe verlaat het nie omdat daar gevrees is dat hulle die Boere sou ondersteun. Dit kom daarop neer dat hulle eintlik krygsgevangenes was. 1 2

Die mense is te voet, te wa, of op steenkool- en veetrokke na die kampe geneem. Die toestande in die kampe was haglik, veral aan die begin, alhoewel dit teen 1902 heelwat verbeter het.

Die inwoners het meestal in tente gebly, wat baie keer nie groot genoeg was nie. Daar was ’n gebrek aan skoon vars water, genoegsame ablusiegeriewe, seep, brandstof (of byle om hout mee te kap), sentrale kombuise of kookgeriewe. Daarby was die kosrantsoene totaal onvoldoende. 1

Die kombinasie van swak huisvesting, onhigiëniese toestande en onvoldoende kosrantsoene was katastrofies vir die inwoners se gesondheid. Siektes soos masels, brongitis en maagkoors het vinnig versprei. Die konsentrasie van mense het bygedra tot die vinnige verspreiding. Boonop was daar ’n gebrek aan medisyne en aan kwaliteit mediese versorging. 1

In 1901 het Emily Hobhouse, ’n merkwaardige Britse vrou, die kampe besoek. Sy het die haglike toestande van die kampe direk in Engeland bekendgemaak, en ook hulp ingesamel om na die kampslagoffers te stuur. Kitchener het probeer om sy beleid goed te praat in die Britse pers, maar die pogings van mense soos Hobhouse het dit teëgewerk.

Emily Hobhouse

In ander Europese lande is die Britte as wreedaards uitgebeeld. In Brittanje het die leier van die opposisie in die parlement die Britse militêre owerhede in die openbaar beskuldig van ‘barbaarse metodes’. 1

Tipiese begrafnis in ‘n konsentrasiekamp

Die lyding van die vroue en kinders in die konsentrasiekampe het sy tol geëis en was uiteindelik een van die hoofredes waarom die Boere oorgegee het. 1

Daar is na skatting omtrent 28 000 mense in die kampe vir wit mense oorlede, waarvan 79% kinders onder sestien was. Meeste van hulle het tussen Augustus en Oktober 1901 aan siektes gesterf. 1 2

Konsentrasiekampmoeder met ‘n sterwende dogtertjie op haar skoot

Daar was vroue en kinders wat nie na konsentrasiekampe toe weggevoer is nie. In enkele gevalle is die families net so op die afgebrande plase gelaat. Diegene wat in dorpe gewoon het, kon tuisbly. Sommige het by hulle families in die Kaapkolonie gaan bly. Ander het weer gevlug. Generaal Koos de la Rey se vrou, Nonnie, het gedurende die hele oorlog saam met haar kinders in die veld rondgeswerf. 1

Nonnie de la Rey
Voor die uitruiling Lady Sarah Wilson, linkerkantste van die vroue, voor die Boere-hospitaal buite Mafeking

Swart betrokkenheid by die oorlog

Beide die Boere en Britte het die hulp van swart mense in die oorlog gebruik. Daar was sowat 12 000 swart en bruin mense by die kommando’s. Hulle was geweer- en wapendraers, het perde en wapens versorg, opgetree as verkenners en boodskappers, het rantsoene gedra, kos gemaak, en gewondes behandel. Daar is ook geen twyfel dat hulle ook by tye geveg het nie. 2

Swart betrokkenheid aan Britse kant was veel groter, veral omdat hulle betaal is. Minstens 100 000 swart en bruin mense, asook Natalse Indiërs – onder wie die bekende Mahatma Gandhi – het vir die Britse leër gewerk. Hulle was, onder meer, transportryers, kamparbeiders, verkenners, mediese ordonnanse, spioene en depotwagte. Omtrent 30 000 was gewapende vrywilligers wat aan gevegte deelgeneem het. 2

Mahatma Gandhi

Daar was heelparty swart groepe, soos die Kgafela-Kgatlas, die Rolongs van Mafeking, die Zoeloes van die Vryheid-distrik, die Shangaans van Oos-Transvaal en die bruin mense van die Kaap – wat doelbewus en vrywillig geveg het. 2

Dit is onmoontlik om te sê hoeveel in die gevegte gesneuwel het. Die grootste menslike verlies van die swart mense was in die konsentrasiekampe wat vir hulle opgerig is. Soos die Boeregesinne, is hul huise ook deur die verskroeideaardebeleid vernietig. Soos vroeër genoem, is daar na raming minstens 20 000 swart mense in die kampe dood, meestal aan siektes. 2

Die laaste fase van die oorlog

Die Boere wat nou nog geveg het, het die erenaam Bittereinders gehad, maar hul stryd het al hoe moeiliker geword. Die verwoesting van die plase was katastrofies. Hul kos was op, hul perde gedaan, hul klere vodde, en hul enigste ammunisie was dié wat hulle by die Britte afgeneem het. Die Britte het al hoe meer swart mense gebruik om teen die Boere op te staan. Aan die ander kant het die Boere soms wreedaardig teen dié swart mense opgetree, wat die swart mense se vyandigheid teenoor die Boere verder aangeblaas het. Uit protes teen die Boere se optrede op swart grond, het daar in 1902 ’n regiment Zoeloe-krygers ’n klein kommando aangeval en 56 burgers vermoor. Die bittereinders het begin praat oor vrede, maar die vraag was: Vrede ten alle koste? 1 2

Daar was gelukkig hier en daar nog goeie nuus. In die Wes-Transvaal het generaal Koos de la Rey die Britte laat les opsê, soos by Yzerspruit toe hy ’n groot Britse konvooi met waardevolle voorrade oorrompel het. Sy grootse oorwinning het gekom by die Slag van De Klipdrift in Maart 1902, waar hy die Britte vernietigend verslaan het. 1

Van die driftigste anti-Engelse weerstand het gekom van die Boerevroue. Hulle het die Britte wat hul huise vernietig en hulle in die kampe gelos het om te vergaan, gehaat. Hulle het verbete geveg teen oorgawe. 2

Die vredesonderhandelinge

Teen 1902 was albei kante gereed om die oorlog te beëindig. Die Boere was op hul laaste, en in Brittanje was die publiek moeg vir die oorlog. In Maart en April 1902 is vredesonderhandelings gehou, eers tussen die leiers van die twee Boererepublieke, en toe op 12 April in Pretoria tussen die Boereleiers en Kitchener, en later Milner. Die Boere het natuurlik probeer aandring op hul onafhanklikheid, maar die Britte wou dit nie toestaan nie. Die besluit is geneem dat die Boere sou teruggaan na hul kommando’s, om daar te stem oor of hulle verder sou veg. Die gevoel onder die burgers was dat hulle vrede wou hê, maar nie hul onafhanklikheid wou opoffer nie. 1

Die tent van samekoms waarin die samesprekings gehou is

Die Vrede van Vereeniging

Die vredeskonferensie het op 15 Mei 1902 in Vereeniging begin. Die Boereleiers was verdeeld. De Wet en andere wou aanhou veg, maar Louis Botha het gevoel hulle is te swak. Koos de la Rey se uitspraak in hierdie tyd is beroemd: “Daar word gepraat van veg tot die bitter einde toe. Is dit nie nou die bitter einde nie? Elkeen moet dit vir homself beantwoord. Maar onthou, alles is opgeoffer – beeste, eiendom, geld, vrou en kind. Ons mans loop kaal rond en ons vrouens het net velle oor om hulle mee te klee. Is dit nie die bitter einde nie?” 1

Die ooreenkoms wat die Boere moes teken, het beide nadele en voordele bevat. Die eerste voorwaarde was vir hulle ’n bitter pil: hulle moes die Britse monarg, Eduard VII, as hul koning erken. Hulle kon hul plase behou, en die Britte het ook belowe dat hulle binne ’n kort tydjie selfregering sou kry. Die Boere het oor en weer geredeneer. Uiteindelik, op 31 Mei 1902, het Botha en De la Rey vir De Wet oortuig om die voorwaardes te aanvaar. Die laaste stemming was 54 stemme ten gunste van die ooreenkoms en 6 stemme daarteen. Die vredesooreenkoms is laat daardie aand in die Melrose-huis in Pretoria onderteken.

Melrosehuis, waar die vredesverdrag onderteken is

Die oorlog was oplaas verby. 1 2

Maar waarom het die Boere dan uiteindelik die voorwaardes aanvaar? Die kommando’s se voorrade was op; die sterfgevalle in die kampe het gelyk of dit tot die uitsterf van die Afrikanervolk kon lei; die swart mense se deelname aan Britse het sommige distrikte baie onveilig gemaak; die Boere is gedreig met verlies van hul eiendom; en die feit dat die Boere nie die Kakies wat deur hulle gevang is, as krygsgevangenes uit die oorlog kon verwyder soos met hulle gebeur het nie. Die werklikheid was dat die bittereinders nie regtig ’n kans gehad het om te wen nie. 1

Die oorgawe

Die Boereleiers moes na hul kommando’s teruggaan om aan hulle die nuus mee te deel dat hul vryheid verlore was. Dit was verpletterend. Baie vegtendes, en baie vroue, het gesukkel om dit te aanvaar. 1 2

Burgers en Britse soldate bymekaar tydens die wapenstilstand op 26 Desember

Gevolge van die oorlog

Die ABO was ’n beslissende gebeurtenis in die vorming van Suid-Afrika. 2

Die ABO was die grootste en duurste oorlog wat die Britse ryk geveg het tussen 1815 en 1914. 4

Ongeveer 22 000 Britse soldate het gesterf. Aan die begin van die oorlog het Brittanje geskat dat die oorlog £10 miljoen sou kos, en dat hulle 75 000 soldate nodig sou hê. Die oorlog het op die ou end £217 miljoen gekos, en die Britte het 450 000 soldate gebruik. 2

Aan Boerekant het ongeveer 7 000 Boeresoldate gesterf. Op die meeste van hul plase was daar net bouvalle van afgebrande huise en so te sê geen plaasdiere nie. Feitlik al die Boeregesinne was ná die oorlog arm. Kinders het die duurste prys betaal – meer as twee derdes van Boere-ongevalle was kinders onder 16 jaar oud. Die verloor van hul onafhanklikheid was traumaties. In die eerste paar jare ná die oorlog was die Boere polities magteloos en ekonomies uitgeput. 1 2

Petrus Viljoen geblinddoek op die perdekar op pad na die uitruiling

Op die lang termyn was daar egter vir die Afrikaners baie om oor trots te wees. Die oorwinnings aan die begin, en die bittereinderfase teen die massiewe mag van die Britse Ryk, was vir hulle ’n triomf. Baie mense het ook later opgemerk dat die Boere die oorlog verloor, maar die vrede gewen het. Die vredesvoorwaardes was lig en die Britte het aan hulle hulp verleen om te help met die heropbou daarvan wat vernietig was.

Agt jaar ná die oorlog, met die Uniewording in 1910, het die Boeregeneraal Louis Botha die eerste minister van Suid-Afrika geword. Tot in 1948 het Boeregeneraals oor Suid-Afrika regeer. 1 2

Genl Louis Botha

Woordbank

Anglo Woordelement met die betekenis ‘Engels’, byvoorbeeld Anglo-Boereoorlog, Anglo-Amerikaans. 6
bedreiging Iets wat gevaarlik is; dreig om te gebeur.
beleër Om stelling rondom ’n dorp of stad in te neem.
berede Te perd: ’n berede soldaat; berede polisie.
beleg Militêre insluiting van ‘n stad of vesting.
beset ’n Gebied, dorp of stad wat met geweld deur troepe oor- of ingeneem word.
blokhuis Versterkte kliphuisies (klein forte) met skietgate wat tydens oorloë opgerig  word om sleutelspoorwegpunte of brûe te bewaak.
bittereinder Benaming vir ‘n burger wat tot aan die einde van ’n oorlog voortveg; iemand wat tot die bitter end volhou.
Boer Die naam vir ’n wit inwoner van die Boererepublieke (Transvaal en Oranje-Vrystaat) in die 19de eeu.
buit Om voorrade soos wapens, ammunisie, kos en klere in ’n oorlog by die vyand af te neem.
Britse Ryk Die gebiede (kolonies) waaroor Engeland geheers het.
dissipline Om gehoorsaam aan gesag te wees.
garnisoen Aantal troepe wat ’n versterkte plek, veral ’n fort, beset.
guerrillaoorlog Die Spaanse woord guerrilla beteken klein oorloggie. Die Boere sou in klein, beweeglike groepies van tussen 50 en 200 berede man rondbeweeg; ’n oorlog by wyse van strooptogte op verbindingsweë, sabotasie, hinderlae en dies meer op moeilik begaanbare terreine.
kanonnier Soldaat wat ’n kanon beman en afvuur.
konsentrasiekampe Kampe gedurende die oorlogstyd waarin gevangenes en ander persone wat as ongewens beskou word, afgesonder kan word – gewoonlik met swak, selfs wrede behandeling.
konvooi Voertuie met voorrade wat deur gewapende magte begelei word.
krygsdiens Om te gaan diens doen in jou land se weermag.
krygsopleiding Om iemand op te lei in oorlogvoering.
linie ’n Verdedigingslyn.
nasionalisme Liefde vir jou eie volk of nasie.
oorgee Om op te hou veg en ’n gevangene te word.
opslagplek ’n Plek waar voorrade opgeberg word.
ordonnans ’n Soldaat wat belas word met die oorbring van bevele en verslae.
prestige Sosiale status en invloed.
rebelle Iemand wat teen sy/haar land se wettige regering veg.
sabotasie Doelbewuste beskadiging van eiendom.
stafhoof Die hoof van ’n weermag se offisiere.
stellingsgeveg Geveg waar die twee opposisies op een plek bly en veg.
stemreg Die reg om jou eie regering te kies.
teregstel Om die doodstraf aan iemand te voltrek.
uitvaagsel Iemand wat vanweë sy/haar eie gedrag uit die samelewing gestoot word.
ultimatum Voorwaardes stel, en indien dit verwerp word, sal dit tot oorlogsverklaring lei (nadelige gevolge hê).
verbond ’n Belofte om iets of iemand onvoorwaardelik te ondersteun.
verkenner Iemand wat opgelei is om ’n gebied te bestuur om inligting oor die vyand te kry.
verraaier Iemand wat teruggaan op ’n belofte.
vrywillig Om iets te doen uit vrye wil uit, nie gedwing nie.

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer

Anglo-Boereoorlog: ‘n Swart week vir die Britse weermag

Die Tweede Anglo-Boereoorlog (1899 – 1902)

Die Slag van Colenso

Werklike beelde uit die ABO (1899) – argiefmateriaal (1:40)

Grepe uit ABO (1900) – argiefmateriaal, sonder klank (10 min)

Pragtige beeldmateriaal oor die Boerevegters gedurende die ABO (in kleur) Uitstekende klankbaan! (5½ min.)

Pragtige lied/gesang wat die Boerekrygers voor elke veldslag gesing het

Tydens die oorlogsfase van die Boereoorlog (1899-1902) het die Boere altyd vir ‘n kort preek bymekaargekom voordat hulle tot die geveg toegetree het. Hulle het gebid en psalms gesing. So ‘n byeenkoms is altyd afgesluit deur die luide en inspirerende sing van die “Boerestrydlied” (Boerenkrijgslied). Die Boerestrydlied is oorspronklik ‘n Nederlandse oorwinningslied, genaamd “Merck toch hoe sterck, wat Sien hoe sterk beteken”. Die Boere het die lirieke verwerk en dit die “Boerenkrijgslied) genoem. Hierdie musiekvideo bevat oorspronklike visuele materiaal uit die Boereoorlog en word uitgevoer deur die Bachkoor, Pretoria, Suid-Afrika.

vFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 8 Junie 2022 | Bygewerk op 11 April 2024