Vinnige feite

  • Die universele Moslem-groet is “As-Salaam-Alaikum”, en beteken “vrede vir jou”. 2
  • Van die vroegste vorms van Afrikaans het onder die Kaapse Moslem-bevolking ontstaan. 8
  • In die jaar 622 het Mohammed en sy volgelinge van Mekka na Medina gereis. Hierdie reis is bekend as die Hijra, en is die begin van die Islamitiese kalender. 5
  • Mohammed kon nie self lees of skryf nie, en die openbarings wat Gabriël aan hom gemaak het, is deur skrywers neergepen (geskryf). 5
  • Mohammed word so baie gerespekteer dat Moslems gewoonlik sê: “Vrede vir Hom” as hulle sy naam noem. 3
  • Baie Moslems ken die hele Koran uit hul koppe (sonder om iets hoef te lees). 1
  • Die word halaal beteken “dit wat goedgekeur is”. Dit sluit onder meer kos in wat geen varkvleis of alkohol mag bevat nie. Dit moet op spesifieke maniere verwerk en gestoor word. Kos wat goedgekeur is, bevat dikwels ’n halaal-teken. Jy sal dit miskien al op sekere produkte gesien het. 9

Islam” is ’n Arabiese woord wat “onderwerping” (om in te stem om iemand te gehoorsaam) beteken. 1 Die naam van die geloof is dus ’n aanduiding van die wese (kern) van die geloof: mens kan slegs vrede vind indien jy jouself met hart, siel en daad aan God onderwerp. 2 Volgelinge van die Islamitiese geloof word Moslems genoem, en Moslems se naam vir God is “Allah”, die Arabiese woord vir God. 3

Die wese van Allah

Moslems glo daar is net een God, en dit is Allah. Hy is die enigste ware God, en slegs Allah moet aanbid word. Allah oordeel mense en besluit of hulle ná hul dood hemel of hel toe gaan. Allah het die wêreld geskep en hou dit in stand, en daarom moet Hy met die uiterste respek en eer behandel word. 4

Moslems glo dat Allah 99 eienskappe (kenmerke) van homself aan mense openbaar sodat hulle Hom beter kan verstaan. Hierdie eienskappe word soms die 99 name van Allah genoem. Sommige van hierdie eienskappe sluit in: Allah is ondeurgrondelik (só kompleks/ingewikkeld dat dit moeilik is om Hom volkome te verstaan), Allah is regverdig, Allah is almagtig, Allah is liefdadig, en Allah is genadig. 4

Die prent bevat al 99 name van Allah

Die oorsprong van Islam en die Koran

Moslems glo dat Allah homself ongeveer 1 400 jaar gelede in Mekka, ’n dorpie in vandag se Saoedi-Arabië, aan Mohammed geopenbaar het. 3 Mohammed het daarna begin om die geloof te versprei deur mense te vertel van Allah, en dat hulle hul lewens aan Allah moes wy. 5

Islam se heilige boek is die Koran (soms ook Qur’an of Quran). Die 114 suras (hoofstukke) van die Koran bevat alles wat Moslems moet weet, bely en doen. Moslems glo die teks bevat die direkte woorde van Allah wat deur die engel Gabriël aan Mohammed in Arabies gedikteer is (voorgelees om neer te skryf). Omdat dit Allah se direkte woorde is, mag dit nie verander of vertaal word nie. Moslems moet dus Arabies leer sodat hulle die Koran kan lees. 1

Die begin van hoofstuk 1 van die Koran, die heilige boek van die Islam, regs bo in Arabiese skrif. Links bo is die vertaling in Engels en daaronder is verduidelikende aantekeninge oor die teks.

Ander heilige Moslem-geskrifte is die Sunnah, 3 die Hadith, en dele van die Bybel. 5

Die moskee

Moslems se plek van aanbidding word ’n moskee genoem. Die godsdienstige leier word die imam genoem, en dit is die imam se rol om mense te lei in gebed, raad en leiding te gee, en te vermaan. Moskees het reëls, soos dat mens betaamlik (ordentlik en soos dit hoort) moet aantrek en nie met jou skoene in die moskee mag ingaan nie. 3

Binnekant van ‘n moskee

Moslem-kinders woon ’n Moslem-skool, die madressa, by. Hier leer hulle Arabies en van die tradisies en gewoontes van hul geloof. 1

Die Vyf Pilare van Islam

Moslems moet deur hul lewe vyf pligte doen.

1. Geloofsbelydenis (sjahada): Moslems moet die frase: “Daar is net een God en hy is Allah, en Mohammed is sy profeet” so gereeld as moontlik opsê en dit voor ander bely. Moslems moet sendelinge wees wat die naam van Allah, orals waar hulle kom, groot maak. 1

2. Gebed (salaat): Moslems moet vyf keer per dag tyd afstaan aan gebed. Wanneer ’n Moslem bid, moet hy/sy ʼn matjie ooprol en in die rigting van Mekka bid. Voor gebed moet hy/sy eers gereinig word. 1 Vrydagmiddae om 12:00 is die belangrikste gebed van die week, en Moslems moet saam met ander gelowiges by die moskee gaan aanbid. Sommige Moslem-mans dra ’n klein hoedjie, ’n taqiyah, as hulle bid. 3 Mans en vroue bid apart. 5

3. Aalmoese (zakat): Moslems moet een veertigste van hul inkomste aan liefdadigheid gee (om geld of goed te gee vir mense wat arm is of hulp nodig het). Vrywillige offergawes (geld wat by ’n gelowige byeenkoms ingesamel word) en gasvryheid teenoor vreemdelinge en mense wat in nood verkeer, word hoog geag. 1

4. Vas (saum): Tydens die maand Ramadan moet elke man, vrou en kind wat fisiek (liggaamlik) kan – met ander woorde buiten siekes, bejaardes, swanger vroue en kinders – van sonsopkoms tot sonsondergang vas (niks eet of drink nie). In die nag mag daar wel geëet en gedrink word. Daar is drie redes vir die vas: om selfbeheersing aan te leer, om Moslems se afhanklikheid (onderworpenheid) van God te bewys, en om Moslems bewus te maak van die lyding van armes en hongeres oral op aarde. 1 Kinders begin vas as hulle puberteit (tydperk in ’n mens se ontwikkeling wanneer sy/haar liggaam van kind na volwassene ontwikkel) bereik. 6

5. Die pelgrimstog na Mekka (hadj): Een maal in ’n Moslem se lewe moet hy/sy ’n pelgrimstog (reis na ’n heilige plek om daar te aanbid) na Mekka aanpak indien hy/sy dit enigsins kan bekostig. As deel van die hadj moet rituele gevolg word, soos dat die pelgrims sewe keer om die Ka’aba in Mekka stap. 1 Die Ka’aba is vir ’n Moslems ’n heiligdom. In die oostelike hoek van die Ka’aba is die Swart Klip van Mekka, waaraan Moslems probeer raak of soen tydens die hadj. 6

Pelgrims van regoor die wêreld bid rondom die Ka’aba in Mekka, Saoedi-Arabië

Wat glo Moslems?

Islam het ses belangrike gelowe: Geloof in God, die engele, die profete, die boeke van openbaring, die nadoodse lewe en die lotsbepaling: die idee dat alles deur Allah bestem (vooraf bepaal) is. 2

Profete speel ’n belangrike rol in Islam, omdat Moslems glo Allah het profete gestuur om sy wil aan mense te openbaar. 1 Jesus (Isa), Moses (Musa) en Abraham (Ibrahim), profete wat ook in die Christelike Bybel voorkom, is gerespekteerde profete in Islam. Die laaste profeet wat Allah gestuur het, is Mohammed, aan wie Allah homself ten volle openbaar het. 3

’n Sentrale idee in Islam is djihad wat stryd beteken. Verreweg die meeste Moslems glo dit beteken hulle het ’n stryd om hul geloof te verdedig. Daar is egter ’n klein minderheid van Moslems wat glo aan ’n militêre djihad, wat beteken hulle moet die vyande van Allah probeer uitwis (heeltemal ontslae raak van of vernietig). 5

Ramadan

Ramadan is die maand waarin die Koran aan Mohammed geopenbaar is. 6 Dit is in die negende maand van die Islamitiese kalender. 1 Dit begin met nuwemaan en die volmaan is in die middel van Ramadan. Ramadan eindig as die maan sy siklus voltooi het. 6

Gedurende Ramadan moet Moslems tussen sonsopkoms en sonsondergang vas. Dit is die vierde van die pilare van Islam wat hierbo bespreek word. 1

Aan die einde van Ramadan word Eid al-Fitr, waarskynlik die bekendste Moslem-fees, gevier. 5 Die fees vier die einde van die vas-tydperk. ’n Spesiale ete word tydens die dag geëet, die eerste keer in ’n maand wanneer Moslems gedurende die dag eet. 6 Op hierdie dag dra mense hul beste klere, gee vir kinders geskenke, spandeer tyd met familie en vriende en gee geld vir liefdadigheid. 6

Reëls

Die Islamitiese regstelsel staan bekend as Sjaria-wet en dit skryf aan Moslems voor hoe om te leef. Dit bevat reëls oor hoe Moslems moet optree, wat hulle moet aantrek en eet en hoe hulle gestraf word. 5 Sekere kosse, soos varkvleis en alkohol, is vir Moslems verbode, omdat dit onrein (vuil) is, of haram. Ander kos is rein, of halaal, en mag geëet word. 1 (Lees gerus meer oor halaal in “Vinnige feite”.)

Soos met ander aspekte van die Islamitiese geloof is daar groot verskille onder Moslems in hoe streng hulle die regulasies van Sjaria-wet moet nakom. 5

Verskille in Islam-groeperings

Alle Moslems op aarde is deel van die Moslem-broederskap (umma). Die eenheid van Moslems mag nie weens verskille in klas (groepe waarin mense in die samelewing ingedeel word op grond van hul werk en opleiding), ras of rykdom verbreek word nie. Ten spyte van hierdie idee is daar egter groot verdeeldheid onder Moslems, en sommige groepe opponeer mekaar so hewig dat dit tot geweld lei. 1

Die grootste skeuring onder Moslems is tussen twee groepe: Soenniete (“Sunni”) en Sjiïete (“Shi’a”). Die Soenniete is die meerderheid, en woon in Saoedi-Arabië, Afghanistan, Pakistan, Indië, Egipte, Turkye en Soedan. Iran is Sjiïties, en alhoewel die meerderheid Moslems in Irak Soenniete is, woon daar ook baie Sjiïete.

Die skeur het ná Mohammed se dood gekom. Hy het nie ’n kalief (opvolger) aangewys nie, en daar het ʼn stryd uitgebreek oor wie die volgende kalief sou wees. Daar was al deur die eeue bloedige gevegte tussen die twee groepe, soos in Irak in die 2000’s. 7

Islam in Suid-Afrika

Die eerste Moslems in Suid-Afrika was slawe wat van 1658 af vanuit Indonesië en Maleisië hierheen gebring is. Hierdie slawe was die stamouers van die hedendaagse Kaapse Moslems (wat vroeër Maleiers genoem is). Die tweede groot groep Moslems is Indiërs wat in die 19de eeu hier aangekom het. Daarom is Moslems meestal bruin mense en Indiërs. Daar is vandag omtrent 875 000 Moslems in Suid-Afrika – bietjie minder as 2% van die totale bevolking. 8

Die verhouding tussen Islam, Judaïsme en Christenskap

Islam, Judaïsme en Christenskap is monoteïstieste gelowe, wat beteken die volgelinge glo dat daar net een God is. 2 Al drie is ook Abrahamitiese gelowe, omdat al drie se volgelinge glo dat hulle afstammelinge is van Abraham en sy twee seuns, Isak en Ismael. Moslems glo die Jode is Isak se nageslag en die Arabiere Ismael s’n. 5

Islam vandag

Islam is ná Christenskap die tweede grootse geloof in die wêreld. Daar is ongeveer 1,8 miljard Moslems, 5 (meer as ’n vyfde van die wêreld se bevolking). 2 Dit is ook die vinnig groeiendste geloof op aarde. 5

Islam word gewoonlik gesien as ’n geloof van die Arabiese mense van die Midde-Ooste, maar eintlik is minder as 10% van Moslems Arabies. Daar is Moslems oor die hele wêreld. Die land met die grootste Moslem-bevolking is Indonesië. 2

Woordbank

afhanklikheid Aan iets onderworpe wees; van iets afhang.
bestem Vooraf bepaal.
betaamlik Soos dit hoort; ordentlik.
gedikteer (Aan iemand) iets voorlees om neer te skryf.
eienskappe ’n Kenmerk van iemand/iets.
fisiek Liggaamlik.
kalief Opvolger.
klas Een van die groepe waarin mense in die samelewing ingedeel word op grond van hul opleiding, watter soort werk hulle doen, hoeveel geld hulle verdien.
liefdadigheid Die handeling van steun/geld/goed/ens. te gee aan mense wat arm/siek/ens. is en hulp nodig het.
monoteïstieste Geloof aan net een God.
neergepen Geskryf.
offergawes Geld (vir liefdadigheid ens.) wat tydens en ná ’n kerkdiens ingesamel word.
onderwerping Instem om iemand of ’n stel reëls te gehoorsaam.
ondeurgrondelik Wat moeilik of onmoontlik is om volkome te begryp of te verstaan of om te bepaal of te verklaar, veral vanweë die komplekse, geheimsinnige of raaiselagtige aard daarvan.
onrein Wat volgens bepaalde godsdiensgroepe vuil is en nie geëet mag word nie.
opponeer Teenwerk; teenstaan, dwarsboom.
pelgrimstog Iemand wat na ’n heilige plek reis om daar te aanbid.
puberteit Die tydperk in jou ontwikkeling wanneer jy verander van ’n kind na volwassene wat liggaamlik self kinders kan kry.
uitwis (Heeltemal) ontslae raak van; vernietig.
vas ’n Lang ruk niks eet/drink nie.
wese Die kern van iets.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Islam

Kyk hierdie videos om nog meer te leer oor Islam

Verduideliking van die Islam-geloof

Hoe het Mohammed die profeet van Islam geword?

Hoe het Islam in Sunni- en Shia-takke opgedeel?

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 5 Desember 2023 | Bygewerk op 5 Desember 2023