Vinnige feite

  • Die woord Nederduitse dui op die historiese wortels van die kerk: neder is ’n ander woord vir ‘laer’, dus die ‘laer Duitse land’, wat verwys na Nederland in die 17de eeu. 3
  • Die drie Afrikaanse susterkerke het elkeen ’n bynaam: die Gereformeerde Kerk is die ‘Doppers’, die Hervormde Kerk die ‘Stoepsitters’ en die NG kerk die ‘Gatjieponners’. 12
  • Die Hervormde Kerk was die eerste van die susterkerke wat vroue tot al die ampte toegelaat het. 7
  • In 1855 is die eerste vergadering van die NG Sendingkerk gehou. Dit was ’n NG Kerk wat vir bruin mense gestig is, omdat hulle verbied was om lidmate van die Kaapse Kerke te wees. In 1951 is daar ’n afsonderlike NG Kerk in Afrika vir swart mense gestig. In 1994 het dié twee kerke verenig en die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA/URCSA) geword. 1

‘n Groot groep Afrikaanse Christene is deel van een van die drie susterkerke: die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk), die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA of Hervormde Kerk), en die Gereformeerde Kerke van Suid-Afrika (GKSA of Gereformeerde Kerk). Die susterkerke is gereformeerd of hervormd – dié twee woorde is sinoniem met mekaar 1 – wat   beteken hulle is gebou op die idees van die beroemde kerkhervormer Johannes Calvyn. Die woord gereformeerd beteken dan ook om hervorm te wees volgens die beginsels van Calvinisme. 2

Johannes Calvyn

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk (NG Kerk)

Die NG Kerk het begin ná die eerste Europeërs in 1652 in die Kaap aangeland het. Die eerste gemeente is in 1665 in Kaapstad gestig, 3 en die eerste dominee was ds. Joan van Arckel (soms ook Joannes, Johan of Johannes gespel). Ander vroeë gemeentes was Stellenbosch, Drakenstein (vandag die Paarl), Roodezand (vandag Tulbagh), en Zwartland (vandag Malmesbury). Die eerste gemeentes buite die Kaap was in Winburg in die Vrystaat, Mooirivier (later Potchefstroom) in die Transvaal en Pietermaritzburg in Natal. 1

Nederduitse Gereformeerde Kerk, Vryheid

Die naam van die kerk het deur die jare ontwikkel. Die kerk was tot in die negentiende eeu bekend as die Kaapse Kerk, 4 en is deur die kerk hervormd én gereformeerd genoem. In 1824 was dit amptelik die Nederduitsch Hervormde Kerk in Zuid-Afrika, maar in 1842 het die Kaapse sinode besluit om eerder die naam Nederduitse Gereformeerde Kerk van Zuid-Afrika te gebruik. Ná die Nederduitsch Hervormde Kerk (NKHA) in 1853 gestig is, het die Kaapse/NG Kerk heeltemal opgehou om die woord hervormd te gebruik om na hulself te verwys. 1

Tot in 1962 was daar ’n aparte NG Kerk in elke provinsie (Kaapland, Natal, OVS, Transvaal en Suidwes-Afrika [vandag Namibië]). 1 In 1962 is die Algemene Sinode gevorm, en die kerke is verenig as een NG Kerk. 3

Die NG Kerk se sendingwerk het gelei tot die stigting van NG Kerke vir ander rassegroepe, soos die NG Sendingkerk vir bruin mense en die NG Kerk in Afrika vir swart mense. Daar is ook kerke in ander lande, soos Malawi, Zambië, Nigerië en Portugal, gestig. 3

Die NG Kerk is die grootste gereformeerde kerk in Suid-Afrika. Op sy grootste in 1985 het die NG Kerk bykans 1,5 miljoen lidmate gehad. 3 In 2019 het die NG Kerk 880 489 lidmate gehad. 5

Buiten die Bybel gebruik die NG Kerk die drie ekumeniese geloofsbelydenisse: die Apostoliese Geloofsbelydenis, die Geloofsbelydenis van Nicea en die Geloofsbelydenis van Atanasius, asook die Drie Formuliere van Eenheid (die Heidelbergse Kategismus, die Nederlandse Geloofsbelydenis en die Dordtse Leerreëls). 3

Die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika (NHKA)

Die NHKA, of Hervormde Kerk, soos dit meer algemeen bekend staan, is na afloop van die Groot Trek gestig. Die Voortrekkers was ontevrede met die NG/Kaapse Kerk se houding teenoor hulle gedurende die Groot Trek. Hulle het begin om hulle eie gemeentes in die binneland te stig, soos in Potchefstroom in 1842.

In 1853 het hulle ’n eie predikant, ds. Dirk van der Hoff, aangestel, en hul eerste Algemene Kerkvergadering in Rustenburg gehou. 6 By hierdie vergadering het hulle besluit om onafhanklik van die NG/Kaapse Kerk te wees. Die eerste gemeente wat gestig is ná die Algemene Kerkvergadering was in 1855 in Pretoria. 1

Teen die einde van die twintigste eeu het die Hervormde Kerk amper 200 000 lidmate gehad, versprei oor 300 gemeentes in Suid-Afrika, Namibië, Zimbabwe en Botswana. Die kerk se getalle het onlangs weer begin daal as gevolg van, onder meer, lae geboortesyfers en emigrasie. 6 Die lidmaattal in 2013 was net onder 120 000. 7

Soos die NG Kerk gebruik die Hervormde Kerk die Bybel, die drie ekumeniese geloofsbelydenisse en die Drie Formuliere van Eenheid. 6

Die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA)

Die Kaapse Kerk het in 1814 besluit om die sing van gesange in die kerk toe te laat, en toe die Hervormde Kerk in 1853 gestig is, het hulle by dié besluit gehou. Daar was egter lidmate wat baie ongelukkig oor hierdie besluit was 1 omdat hulle gevoel het dat die boodskap van sommige gesange die geloofsbelydenisse weerspreek. 8

Die kwessie oor gesange het weer opgevlam voor die Hervormde Kerk se Algemene Kerkvergadering van 1859. 1 Vyftien mans uit die Rustenburg-omgewing – insluitende Paul Kruger, die toekomstige president van die Transvaal – het besluit om af te skei van die Hervormde Kerk. Op 10 en 11 Februarie het hulle onder ’n boom vergader en die Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika gevorm. Die Gereformeerde Kerk se besluit oor gesange was dat dit die veiligste was om liedere te sing waarvan die woorde net so uit die Bybel kom, soos die psalms. Ds. Dirk Postma, ’n besoekende predikant uit Nederland, is aangestel as eerste predikant. 8

Gereformeerde Kerk, Reddersburg

Die Gereformeerde Kerk se getalle het stadig maar seker gegroei en gemeentes oor die hele Suid-Afrika heen het ontstaan. In 2019 was daar 388 gemeentes, 8 en ’n lidmaatskap van amper 90 000. 5 Die kerke is versprei oor Suid-Afrika, Namibië, Zimbabwe en Zambië. 8

Die Gereformeerde Kerk het sendingwerk gedoen deur gemeentes onder swart mense te stig. Dit het uiteindelik gelei tot die stigting van nóg twee nasionale sinodes: een vir kerke met swart lidmate en een vir kerke met bruin lidmate. Tot in 2006 het die drie sinodes elke sewe jaar saam met die sinode vir die wit lidmate ’n Algemene Sinode van die GKSA gevorm. In 2006 het die drie sinodes saamgesmelt tot een Algemene Sinode, en is dus nou een kerk. 9

Die Gereformeerde Kerk se grondslag is die Heilige Skrif (die Bybel), die Drie Formuliere van Eenheid en die Dordtse Kerkorde. 8

Die Afrikaanse Protestantse Kerk (AP Kerk)

In 1986 het die NG Kerk ’n nuwe beleid aanvaar wat apartheid veroordeel het en kerklidmaatskap oopgestel het vir mense van alle rasse. In reaksie het meer as 100 000 lede van die NG Kerk in 1987 weggebreek en die AP Kerk gestig. 10

Lidmate van die AP Kerk glo dat geloof en kultuur nou aan mekaar verbind is. Kultuur bepaal mense se aanbiddingstyl, en daarom is dit goed as daar verskillende kerke is vir verskillende kulture, sodat elke mens sy geloof op sy eie manier kan uitleef. 11

Afrikaanse Protestantse Kerk, Orania

Die AP Kerk gebruik die Bybel en Drie Formuliere van Eenheid. 11

In 2014 het dié kerk ongeveer 45 000 lidmate gehad. 11

Ooreenkomste en verskille tussen die vier kerke

Ooreenkomste:

  • Die kerke het dieselfde gereformeerde wortels, en onderskryf die Drie Formuliere van Eenheid: Dordtse Leerreëls, Heidelbergse Kategismus en Nederlandse Geloofsbelydenis.
  • Die kerke se voertaal is Afrikaans, en bestaan grotendeels uit wit, Afrikaanssprekende lidmate.
  • Die kerk het ’n vorm van kerkregering waar die ampte van predikant, ouderling en diaken onderskei word. 10

Verskille:

  • Die NG Kerk het Pinksterbidure wat die ander kerke nie het nie.
  • Die Gereformeerde Kerk sing slegs psalms en liedere waarvan die woorde uit die Bybel kom, terwyl die ander kerke ook Gesange en ander liedere sing.
  • apartheid het die susterkerke die idee van die kerk as slegs vir wit Afrikaners laat vaar. Die AP Kerk beskou hom steeds as ’n kerk vir wit Afrikaners.
  • Die NG Kerk en Hervormde Kerk laat vroue as leraars, diakens en ouderlinge toe, maar die Gereformeerde Kerk en AP Kerk laat dit nie toe nie. 10

Woordbank

ampte Openbare werk wat iemand doen.
beleid ’n Program vir die bestuur van iets.
diaken Iemand wat in bepaalde kerkgenootskappe ’n bepaalde funksie het, bv. die insameling van geld.
ekumeniese Wat die hele Christelike Kerk verteenwoordig.
emigrasie Jou eie land verlaat en in ’n ander land gaan woon.
geloofsbelydenisse Verklaring van ’n godsdienstige oortuiging.
gereformeerd Hervorm volgens die beginsels van die kerkhervorming van die 16de eeu; Protestants volgens die Calvinistiese beginsels; regsinnig; hervormd.
onafhanklik Die reg om jouself te regeer; om nie onderworpe/onderdanig/onderhorig te wees nie; vry; selfstandig. 4
opgevlam Op ’n intense wyse in die gedagtes of gemoed na vore kom of herleef. 13
ouderling ’n Ouer lid van ’n kerkraad wat toesig hou oor die gemeente.
sinode Algemene (soms hoogste) kerkvergadering waar gemeentes mekaar ontmoet en kerklike sake bespreek.
weerspreek ’n Ander mening/opinie as iemand uitspreek. 4
amptelik  Formeel of deftig. 
beginsels  Die morele beskouing of oortuiging waarvolgens ’n mens optree. 
grondslag  Dit waarop iets berus, die beginsel of fondament. 
kerkhervormer  Iemand wat ‘n leier was van die Kerkhervorming. 
sendingwerk  Evangelisasiewerk, die Woord bedien. 
sinoniem  Wat in betekenis gelyk is aan ʼn ander. 
veroordeel  Om ‘n oordeel oor iets uit te spreek. 
voertaal  Taal wat algemeen gebruik word om mee te kommunikeer. 

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die gereformeerde kerke

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die gereformeerde kerke

Luther en die kerkhervorming

Hoekom was daar ’n Protestantse kerkhervorming?

Wie was Johannes Calvyn?

Gepubliseer op: 27 Februarie 2023 | Bygewerk op 6 Februarie 2024