Vinnige feite

  • In 1736 is die bou van huise met rietdakke in Kaapstad verbied.
  • Aan die begin van die 21ste eeu was daar nog ongeveer 3 000 of meer Kaaps-Hollandse geboue wat bestaan het; vyftig jaar later was daar net ʼn paar honderd oor.
  • Bouers het probleme gehad omdat daar nie materiaal was om sterk bakstene mee te maak nie.
  • Bouplanne het soos letters van die alfabet gelyk – H-plan, T-plan en U-plan.
  • Groot Constantia het in 1925 afgebrand en is daarna weer herbou om soos die oorspronklike gebou te lyk.

Nadat Jan van Riebeeck in 1652 in die Kaap aangekom het, moes daar geboue opgerig word. Boumateriaal wat plaaslik beskikbaar was, is hiervoor gebruik. Die soort boumateriaal wat daar was, het ʼn invloed gehad op die soort bouwerk wat gedoen kon word.

Daar het naderhand ʼn eiesoortige boustyl ontstaan wat kenmerkend van die Kaap geword het. Ook die soort versierings wat op geboue gebruik is, was kenmerkend van die Kaapse geboue.

Die meeste historiese geboue en huise wat vandag as voorbeeld van die Kaaps-Hollandse boustyl beskou word, is tussen 1750 en ongeveer 1825 opgerig.

Aan die begin van hierdie eeu was daar ongeveer 3 000 geboue oor wat in die Kaaps-Hollandse styl gebou was. Vyftig jaar later was daar net ʼn paar honderd oor. Verskeie individue en organisasies werk sedert die einde van die 19de eeu hard daaraan om hierdie volksboustyl te bewaar. 1

Agtergrond

Die eerste gebou wat deur die Hollanders opgerig is, was ʼn fort. Aanvanklik was dit ʼn lekkende struktuur met grondwalle wat gereeld inmekaar geval het. Dit het die kommandeurs aan die Kaap hoofbrekings besorg. Die fortjie is oplaas in 1674 afgebreek om plek te maak vir die Parade soos dit vandag bekend staan.

In 1665 is werk aan ʼn nuwe fort begin. Ons ken dit vandag as die Kasteel. Die fortifikasie is in 1678 onder die bewind van goewerneur Joan Bax voltooi.

Die vryburgers het op hulle plasies langs die Liesbeekrivier vir hulself huise gebou. Naby die Kasteel is daar ook ʼn hele aantal eenvoudige dorpshuise gebou. Hierdie eerste nedersetters het hoofsaaklik uit Nederland, die aangrensende dele van Noord-Duitsland en later Frankryk gekom. Hulle sou natuurlik onthou het hoe die huise in hul eie lande gelyk het, maar hulle het eenvoudige huise gebou wat nie gelyk het soos die huise waaraan hulle gewoond was nie. Boustyle soos hulle dit in Europa geken het – soos die Klassisisme, Barok en Rococo – is dus nie hier gebruik nie.

Praktiese probleme met bouwerk

Die bouers het baie praktiese probleme met die bouwerk ondervind.

Bakstene

Bakstene was al in Jan van Riebeeck se tyd problematies. Die soort grond wat gebruik is om stene van te maak, was nie van ʼn goeie gehalte nie. Daarom moes bouers lae klei en strooi gebruik om mee te bou. Hulle het ook ongebakte kleistene gemaak wat hulle in die son drooggemaak het. Omdat die bakstene nie sterk was nie, moes die geboue se mure baie dik wees om seker te maak dat die mure stewig genoeg kon bly staan. Die mure is ook met klei gesmeer om dit stewig te hou. Die kleimure moes weer met kalk geverf word om dit teen reën te beskerm.

Boumateriaal vir dakke

Die bekende dakteëls wat in Europa gebruik is, was nie aan die Kaap beskikbaar nie. Daarom het bouers vleiriete op dakke gebruik. Hierdie riete het oral langs die riviere gegroei.

Nog ʼn probleem met die bou van dakke, was die feit dat hout skaars was. Al die hout wat naby genoeg aan die Kaap gegroei het, was baie gou uitgeroei en opgebruik. Dit het veroorsaak dat huise nie met houtvloere gebou kon word nie.

Versierings en boustyle

Vir sommige bouers het die rietdakke vervelig geword, en hulle het begin om ʼn soort gewel in die middel van die dak bokant die voordeur te bou. Die boustyl het verder ontwikkel sodat dit later as die Kaaps-Hollandse boustyl bekend begin staan het.

Van 1781 tot 1783 was daar ʼn Franse garnisoen (ʼn groep soldate) aan die Kaap. ʼn Franse luitenant, Louis Thibault, het ná die vertrek van die Franse aangebly en die Kaap se eerste ware argitek geword. Sy idees het ʼn belangrike invloed op die Kaapse boukuns gehad.

Toe Brittanje die Kaap gekolonialiseer het, het die ekonomie versterk en mense het gevolglik meer geld verdien. Daarom was dit moontlik om groter en mooier huise te begin bou. Omdat meer geld beskikbaar was, kon die Kaapse burgers nou boustyle uit hul herkomslande gebruik om hulle huise te bou. Hulle het ook begin om nuwe boustyle te gebruik wat intussen in Europa ontstaan het. Die verskillende style is deur bouers gemeng sodat ʼn eie boustyl aan die Kaap ontstaan het.

So sien ‘n mens dus dat politieke gebeure ook die Kaapse boustyle beïnvloed het.

Bouplanne

Die bouplanne wat vir huise gebruik is, het dikwels soos letters van die alfabet gelyk, en daarom is die verskillende bouplanne dan ook na letters van die alfabet vernoem, byvoorbeeld ʼn H-plan, ʼn T-plan of ʼn U-plan.

Huise in Kaapstad het gewoonlik slegs drie vertrekke gehad omdat die erwe klein was. Die middelste vertrek was die woonkamer, met die slaapkamer aan die een kant en die kombuis aan die ander kant.

Omdat die houtbalke wat vir dakke gebruik kon word, nie lank genoeg was nie en die mure nie stewig genoeg nie, kon hierdie huise nie vergroot word deur eenvoudig nog drie vertrekke direk agter die bestaande kamers aan te bou nie. Die dak vir só ʼn groot huis, sou te groot en te swaar wees.

Die enigste manier om ʼn groter huis te bou, was om ʼn verdere vleuel van 6 m wyd aan te bou – dit het ʼn L-vorm tot gevolg gehad. Die kombuis was gewoonlik in dié vleuel geleë.

Uit die L-vorm het die U-vorm ontwikkel. Dit het beteken dat daar ʼn bykomende vleuel op die ander sykant van die erf aangebou is. Die smal binneplasie wat deur die U-vorm geskep is, is gewoonlik met ʼn plat dak toegebou, en die sogenaamde agterkamer het só ontstaan.

By plaashuise naby Kaapstad was ruimte op erwe nie ʼn probleem nie. Hierdie huise is dus met ʼn ry van vyf kamers langs mekaar gebou. Die bene van die U-vorm is later aangebou. Voorbeelde is Groot Constantia, Klein Constantia en Stellenberg.

VOC-behuising.

Die T-vorm is die meeste vir Kaapse plaashuise gebruik. Dit het die huis baie ruimer laat lyk. Die meeste T-huise op die platteland was so groot soos die L-huise in die stad. Terwyl die L-huis plek gehad het vir die aanbou van ʼn tweede vleuel sodat dit ʼn U-huis kon vorm, moes daar met die uitbreiding van die T-huis aan nuwe planne gedink word. In sommige gevalle is die vleuels (die dwarsbeen en die been van die T) verleng deur kamers op elk van die drie punte aan te bou. Die H-bouplan was egter die ideale oplossing.

Die beroemde Meerlust, wat oorspronklik ʼn T-vorm gehad het, het in 1776 ʼn nuwe voorstuk bygekry sodat die huidige plan ʼn kombinasie van ʼn T- en ʼn H-vorm is.

By Knorhoek (1795) by Somerset-Wes en Schoongezicht by Stellenbosch strek die voor- en agterkamer oor die hele lengte van die huis en gee die uitsig oor die voor- en agterhuis die twee wonings ʼn besonderse mooi oop voorkoms.

Tipiese kenmerke van huise

Gewels

Die gebruik van gewels by die bou van huise het eers ná 1750 aan die Kaap baie gewild geword.

Die sierlike middelgewels wat byna alle Kaaps-Hollandse plaashuise in die Boland gehad het en steeds het, word as tipies Kaaps beskou. Die gewels is ʼn opvallende kenmerk van die Kaaps-Hollandse boustyl en besit vorme wat nie soos die vorme van gewels in Europa lyk nie.

Omdat baie van die ou geboue nie meer bestaan nie, moes navorsers tekeninge wat van Kaapse huise gemaak is, gebruik om te weet hoe die huise en hulle versierings gelyk het.

Van die mense wie se tekeninge hiervoor gebruik is, is onder andere:

  • V. Stade se tekeninge is in 1710 gemaak en sy uitbeeldings van Kaapstad, Constantia, Stellenbosch, Drakenstein en Paarl is redelik akkuraat.
  • Op ʼn tekening van J.W. van Heydt wat in 1741 gemaak is, is een van die dakvensters van Groot Constantia sigbaar.
  • In Rach se tekeninge kan ‘n mens sien dat gewels met ronde lyne reeds in 1662 gewild was. Vanweë die speelse krulwerking en die dramatiese skaduwerking van die uitstaande krulprofiele, word hierdie gewels barokgewels genoem.

Gewels is nie slegs gebruik om huise mooier te laat lyk nie; dit het ook ʼn belangrike praktiese rol gespeel. Die huise het geen dakgeute gehad nie en die gewel het die reënwater van die voordeur af weggekeer. In die geval van ʼn brand het dit ook die bewoners gehelp om met groter veiligheid by die voordeur te kon uitbeweeg tussen die vallende, brandende riete van die dakke deur. Endgewels (wat op die punt van huise gebou is), het ook gehelp om te keer dat grasdakke gedurende sterk storms afgeruk word.

Die uitgeboude dakvensters in die gewels het ook lig gegee in die solder, wat veral by die eerste huisies as ʼn baie nuttige bergplek gedien het.

Daar was kenmerke van Europese boustyle en versierings in gewels in die Kaap – soos Barok, Rococo, en Neo-Klassisistiese eienskappe – maar die gewels wat in die Kaap gebruik is, het hulle eie styl gehad. Sommige gebiede het gewels en boustyle gehad wat net in daardie gebied voorgekom het. Voorbeelde hiervan is die gewels van die Klipriviergroep in en om Swellendam (1820-1835) en die gewels van De Doorns en Sandfontein, naby Caledon.

Van 1820 af is gewels stadig maar seker al hoe minder gebruik. Die oudste Kaaps-Hollandse gewel wat tans nog bestaan, is in 1756 in Joostenberg naby Paarl gebou.

Verdere kenmerke

Buiten die gewels en die alfabetiese bouplanne het Kaaps-Hollandse plaashuise ook ʼn aantal ander kenmerke gehad.

Voordeur

Die voordeur was altyd in die middel, met ʼn gelyke aantal vensters aan weerskante van die voordeur.

Stoep

Die stoep het altyd oor die hele lengte van die huis se voorkant gestrek en is soms reg rondom die hele huis gebou. Die stoep se oorspronklike doel was om die witgekalkte buitemure moddervry te hou en ook om ʼn plat vlak rondom die huis te skep.

Op die punte van die voorstoep is daar gewoonlik twee bankies ingemessel. Vir koelte was daar soms ʼn druiweprieel wat uit ʼn aantal pilare bestaan het.

Deure

Die hoofdeur of voordeur is in die middel van die huis se voorkant gebou, onderkant die hoofgewel.

Die deur was gewoonlik soos ʼn staldeur horisontaal in twee verdeel (ʼn bo- en onderdeur). Die onderdeur was gewoonlik sowat een meter hoog, en met die bodeur oop kon baie lig en lug binnegelaat word.

Die hoofdeur, saam met sy bolig (ʼn venstertjie reg bokant die deuropening), was een van die belangrikste kenmerke van die Kaaps-Hollandse boustyl. Die bolig het soms uit ʼn dubbele vensterraam met ruite bestaan. Dit was dan moontlik om een van die bolig se vensterrame op ʼn winderige dag oor die opening van die bodeur af te skuif. Só is die wind buite gehou, maar die lig binnegelaat.

Die hout waarvan die deur gemaak is, het afgehang van watter soort hout beskikbaar was. Die hout vir voordeure, veral kiaat, is dikwels ingevoer en was baie duur. Binnedeure het gewoonlik uit breë kiaatrame met geelhoutpanele bestaan.

Vensters

ʼn Gelyke aantal vensters van dieselfde hoogte is aan weerskante van die voordeur ingebou. Die vensters was óf lae swaaivensters, óf hoë skuifvensters. By die skuifvensters kon slegs die onderste deel skuif; die boonste deel was eintlik ʼn soort bolig.

Die vensterruite is uit Nederland ingevoer en het naderhand ʼn pers skynsel begin kry nadat die son lank daarop geskyn het. Soos in Nederland, is daar in die Kaap ook luike voor die vensters gebruik. In Nederland was die doel van luike om stormweer en koue buite te hou. In die Kaap moes die luike die huise eerder koel as warm hou, en dit is ook gebruik om huise te beveilig.

Vloere

Omdat daar te min hout was, kon vloere nie van hout gemaak word nie. Huise het die meeste van die tyd grondvloere gehad wat byna weekliks met mengsels van beesmis of beesbloed gesmeer moes word om dit glad te maak en makliker skoon te hou.

Vloere is ook gemaak van perskepitte wat in ʼn kleimengsel gelê is. Toe hout wel later beskikbaar geword het, is dit vir vloere in slaapkamers gebruik. Vir die voorkamer en agterkamer se vloere is teëls gebruik wat plaaslik vervaardig is.

Plafon

Die plafon het gewoonlik bestaan uit ʼn aantal dik, breë balke waarop planke van tot 30 cm wyd gerus het. In die hoofvertrekke, soos die voorkamer, is die balke baie netjies afgewerk, maar in die slaapkamers was die balke nie so glad afgewerk nie.

Die agterkamer en die kombuis se plafonbalke het gewoonlik uit ruwe, ronde pale bestaan. Die plafonplanke is meestal van geelhout gemaak en soms ook van stinkhout.

Solder

Omdat die meeste huise geen kelders gehad het nie, is die solder – die ruimte direk onder die grasdak – as bergplek gebruik. Die venster in die gewel was die enigste plek waardeur lig in die solder kon inkom. In een van die endgewels is daar gewoonlik ʼn deur of luik aangebring wat met ʼn leer bereik kon word om in die solder te kon ingaan. Soms is daar ʼn permanente trap na hierdie deur gebou. Soms kon die solder ook deur ʼn luik in die kombuis bereik word.

Omdat die brandgevaar met rietdakke altyd hoog was, is ʼn spesiale vloer in die solder ingebou. Dit het bestaan uit ʼn aantal ruwe dik pale en latte wat bedek is met ʼn dik laag modder en waarop teëls en bakstene gelê is. Brandende riete uit die dak kon op só ʼn soldervloer val sonder dat die res van die huis aan die brand sou raak. Hierdie soort solders is brandsolders genoem.

Voorhuis

Die voorhuis of voorkamer was die eerste kamer van die huis en was reg agter die voordeur. Dit was gewoonlik ʼn ruim vertrek met min meubels. In die latere groot huise het die vertrek dikwels tot in die agtervleuel van byvoorbeeld die been van die T of die verbindingstuk van die H gestrek. In die voorhuis was daar gewoonlik ʼn rusbank met ʼn aantal stoele en ʼn kas. Die stoele se sitplekke was meeste van die tyd van riempies gemaak.

Soms was daar ʼn los skerm tussen die ingangsportaal en die res van die voorkamer. Dit het meestal uit geelhoutpanele bestaan wat na weerskante tot teenaan die mure kon oopvou. So kon ʼn groot ontvangsaal vir onthaaldoeleindes geskep word.

Agterhuis

Die agterhuis was gewoonlik reg agter die voorhuis in die agtervleuel geleë en was aanvanklik deel van die kombuis. Dié vertrek is as eetkamer gebruik, en daar was gewoonlik ʼn eettafel en eetkamerstoele in. Daar was ook een of twee muurkaste. Oorspronklik het hierdie kaste die agterhuis van die kombuis geskei.

Muurkas

Die muurkas was aanvanklik net ʼn groot kas wat dwars gestaan het en wat die res van die kombuis van die eethoek geskei het. Later is ʼn permanente muur in die plek van die muurkas gebruik en is die kas in die muur ingebou.

Hierdie muurkas is soms – soos by Meerlust en Nooitgedacht – in die muur tussen die voorhuis en die agterhuis ingebou. Daar is baie aandag geskenk aan die afwerking en voorkoms van hierdie kaste, waarin die breekware en glase gebêre is. Die onderste deel het uit mooi paneeldeure bestaan, terwyl die boonste deel – wat as vertoonkas gedien het – glasruite gehad het. Die bokante van hierdie kaste is ook besonder mooi afgewerk, dikwels met kopstukke met ronde lyne of barokkrulle.

Die vuurherd

Die vuurherd was so lank soos die hele kombuismuur. Dit het ʼn groot skoorsteen gehad, met ʼn oond aan die een kant ingebou.

Ysterstawe is bokant die vuurherd ingemessel, sodat ketels en kookpotte oor die vuur daaraan opgehang kon word. Meestal was dit die enigste vuurherd of kaggel in die hele huis, maar soms is daar ook ʼn kleiner vuurherd in die ontvangskamer ingebou. Hierdie vuurherd kon met houtdeure toegemaak word. Huise is verder ook warm gemaak deur houtstofies waarin daar ʼn bakkie met warm kole (ʼn tessie) geplaas is.

Plaaswerf en buitegeboue

Die destydse Kaapse plase was taamlik groot en het genoeg ruimte vir buitegeboue gehad. Op sommige van die ou plase was daar ʼn hele aantal buitegeboue, onder meer die slawe se wonings, ʼn woning vir die voorman en een vir die oudste seun, ʼn wynkelder, stalle, ʼn waenhuis en skure.

Hierdie buitegeboue het min of meer soos die plaashuis gelyk. Hulle was meestal langwerpig, en hulle het dikwels ook middelgewels gehad. Die geboue is dikwels so geplaas dat daar ʼn binnehof gevorm is. Dit het ook die plaaswerf veiliger gemaak in ʼn wêreld waar daar heelwat gevare was.

Die jonkershuis was ʼn huis wat vir die gebruik deur die oudste seun gebou is. Dit was dikwels ook die oorspronklike plaashuis wat later deur ʼn nuwe, groter plaashuis vervang is. Vandag woon die plaasbestuurder dikwels in die jonkershuis.

Die wynkelder was nooit onder die grond soos dit uit die naam klink nie. Hierdie gebou se gewel is dikwels met ʼn wynmotief – soos ʼn bottel, ʼn glas of ʼn tros druiwe – versier.

Naby die plaaswerf was die familiebegraafplaas, wat gewoonlik deur muurtjies omring was. Die mure waaraan die slaweklok gehang het, is gewoonlik soos die hoofopstal (hoofhuis) versier. Die slaweklok is gelui om werktye aan te dui. Dit is dus amper soos ʼn skoolklok gebruik, wat vandag gebruik word om periodes in ʼn skool aan te dui.

Die hoofwoning is gewoonlik met sy voorkant na die ooste gebou. Waar moontlik was daar meestal lopende water naby die plaaswerf. Daar is ook kanale en leivore (slote vir die toevoer van leiwater) gebou, en bruggies is bo-oor gebou.

Bome en veral eikebome is op plase geplant. Die doel met die eikebome was om nog hout te voorsien, maar dit het misluk omdat die ingevoerde eikebome aan die Kaap té vinnig gegroei het. Dit het veroorsaak dat die hout nie sterk genoeg was om vir bouwerk te gebruik nie. Sommige van die eikebome wat destyds geplant is, word vandag steeds gebruik as versiering of as koeltebome vir die plaaswerf. 2

Die eerste platdakhuise

Die belangrikste redes waarom huise in dorpe soos Kaapstad anders ontwikkel het as op die plase en in die binneland, was die feit dat daar minder ruimte in die Kaap is, asook die brandgevaar as gevolg van die winde. Grasdakhuise wat baie naby mekaar gebou is, was in Kaapstad ʼn baie groot risiko. Indien daar ʼn brand sou wees, kon die vlamme van een huis na ander huise versprei.

Om te verseker dat grasdakke waterdig is, moes dit baie steil gebou word sodat die water vinnig kan afloop. Nadat dekriet deur teëls vervang is, moes die dak steeds besonder steil wees. So ʼn steil teëldak was baie blootgestel aan die besonder sterk wind wat die Skiereiland gereeld geteister het. (Die berugte suidoostewind kan ʼn teël van 40 kg maklik oplig en wegwaai.)

In 1736 is talle rietdakhuise deur ʼn groot brand vernietig, en die owerhede het die bou van rietdakhuise in Kaapstad verbied.

Dit was belangrik om te begin met die ontwikkeling van ʼn werklik waterdigte plat dak. ʼn Oplossing is gevind toe daar klapperolie, stroop en walvisolie by mengsels van gestampte skulpe, kalk, fyn gruis en gebluste kalk gevoeg is. Daarmee kon die platdakke wat van houtbalke gemaak is, waterdig gemaak word.

Die eerste platdakhuise was enkelverdiepings wat aan die bokant ʼn lae muurtjie reg rondom die dak gehad het. Dubbelverdiepinghuise is ook nou gebou, en teen 1730 was daar al baie van hierdie dubbelverdiepinghuise in Kaapstad.

Barok en neo-Klassisisme

Tussen 1760 en 1780 het die Barokstyl ‘n invloed op die siermotief van die dakrande van die Kaapse platdakhuise uitgeoefen. Volgens die tekeninge van Rach was daar reeds in 1762 ʼn soort platdakgewel wat uit opgeboude stukke muur met Barokversierings bestaan het. Dit is onder andere by die oorspronklike Burgerwaghuis en in Tuynhuys gebruik.

Die neo-Klassisisme stylrigting was veral in die stad gewild. Pilasters langs die deure was verdere duidelike invloede van die neo-Klassisistiese boustyl, wat veral deur argitekte soos Louis Thibault in die Kaapse dubbelverdiepinghuise gebruik is.

Restourasie

Om geboue van kultuurhistoriese belang te bewaar, word samewerking tussen baie mense en organisasies benodig. In Nederland, België, Duitsland, Frankryk en Brittanje (Suid-Afrika se belangrikste moederlande) is daar jare gelede reeds groot bedrae geld en ondersteuning vanaf regerings in daardie lande gekry vir volksboukunsbewaring in Suid-Afrika.

In Suid-Afrika self is verskeie pogings aangewend om die publiek se belangstelling te wek en om hulle betrokke te kry. Professionele argitekte is ook ingeroep om hulp te verleen. Dié pogings het met tekeninge, foto’s en die skryf van boeke begin.

ʼn Baanbreker op hierdie gebied was Alys Fane Trotter, ʼn kunstenaar wat as baie belangrik in die geskiedenis van restourasie beskou word.

Terwyl haar eggenoot van 1896 tot 1898 as ingenieur aan die Kaap gewerk het, het sy met ʼn fiets deur die hele Skiereiland gery en potloodsketse van Kaapse plaashuise en Kaaps-Hollandse geboue gemaak. Sy het ook ʼn lang artikel in The Cape Times gepubliseer. Kort daarna het sy ʼn volledige boek – Old Cape Colony – met ʼn voorwoord deur sir Herbert Baker, gepubliseer.

Herbert Baker.

Sy het drie sketsboeke met akkurate potloodtekeninge gevul. Baie van hierdie sketse word vandag as deel van die William Fehr-versameling in die Rust-en-Vreugd-museum bewaar.

Nog mense wat ʼn belangrike bydrae gelewer het – deur met hulle sketse en studies gehelp het dat ons vandag weet hoe geboue gelyk het wat nie meer bestaan nie – sluit in Dorothea Fairbridge wat in 1922 en 1931 twee boeke, onderskeidelik Historic houses en Historic farms, gepubliseer het.

Arthur Elliot het sy hele lewe lank foto’s van Kaaps-Hollandse huise geneem, en sodoende seker gemaak dat mense vandag weet hoe daardie huise gelyk het.

G.E. Pearse, professor in argitektuur aan die destydse Universiteit van die Witwatersrand, het die Kaaps-Hollandse boustyl bestudeer.

Die Kaapse argitek F.K. Kendall het Groot Constantia bestudeer, en dit het gehelp dat die gebou ná ʼn brand in 1925 gerestoureer kon word.

Groot Constantia.

Belangrike boeke wat oor die Kaaps-Hollandse boukuns geskryf is:

  • Bosdari se Cape Dutch houses and farms (1953).
  • Die eerste boek oor die onderwerp in Afrikaans, Boukuns in Suid-Afrika, deur B.E. Bierman (1955).
  • The old houses of the Cape deur Hans Fransen en Mary Cook (1965).
  • Hans Fransen se boek Drie eeue kuns in Suid-Afrika (1981).

Die Simon van der Stel Stigting, die Rhodes Nasionale Erfenistrust (Rhodes National Heritage Trust) en Historiese Huise van Suid-Afrika, wat hoofsaaklik deur Anton Rupert op die been gebring is, doen baie om te sorg dat ou huise gerestoureer word om weer soos die oorspronklike weergawes te lyk. Baie van hierdie huise en geboue is tot nasionale gedenkwaardighede verklaar.

Nadat Groot Constantia in 1925 afgebrand het, is restourasiewerk vir die eerste keer op ʼn wetenskaplike wyse aangepak. Daar is onder meer ʼn brandsolder bygevoeg om die gebou teen ʼn moontlike brand in die toekoms te beskerm. 3

Groot Constantia.

Die aardbewing wat ʼn gedeelte van die Boland in 1969 getref het, het byna alle historiese geboue op Tulbagh en Ceres en in die Breederiviervallei beskadig. Kort daarna is die Tulbagh Restourasiekomitee gestig en talle geboue – waaronder ʼn hele straat (Kerkstraat) – is gerestoureer sodat geboue in Tulbagh vandag eintlik in ʼn beter toestand is as voor die aardbewing. 4

Die beste voorbeelde van Kaaps-Hollandse argitektuur sluit in Morgenster naby Somerset-Wes (1786), La Provence naby Franschhoek (1800) en Schoongezicht naby Stellenbosch (1814).

Schoongezicht naby Stellenbosch.

Nasionale gedenkwaardigheid: Wanneer ʼn gebou tot ʼn nasionale gedenkwaardigheid verklaar word, beteken dit dat daardie gebou in sy oorspronklike vorm behou moet word, en dat geen veranderinge sonder toestemming daaraan gemaak mag word nie. Sulke geboue word beheer en bewaar deur die Raad vir Nasionale Gedenkwaardighede.

Verskillende boustyle

  • Klassisisme: Hierdie styl is onder meer gekenmerk deur simmetrie, kolomme en reghoekige vensters.
  • Barok: Hierdie styl het voorgekom in die 17de en 18de eeu in Europa en is gekenmerk deur swier, oordadige en dramatiese versiering en helder kleure.
  • Rococo: Hierdie styl het uit die Barokstyk ontstaan, maar was ligter en minder dramaties met ligter pastelkleure.

Woordbank

Vryburgers Mense wat as amptenare vanaf lande soos Nederland en Brittanje gekom het en daarna van hul pligte vrygestel is.
luike ʼn Houtpaneel wat aan die buitekant van ʼn gebou se vensters vasgemaak word.
solder Die ruimte bokant ʼn huis se vertrekke wat net onderkant die dak gebou is.
tessie ʼn Bakkie met warm kole daarin.
waenhuis Oorspronklik ʼn stoorplek vir waens, maar later ook vir ander voertuie.
jonkershuis ʼn Tweede huis op ʼn plaas wat deur die oudste seun gebruik is.
pilasters Kort pilare wat vir versiering aan mure vasgesit is.

Lees dié artikels om meer te leer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 16 Augustus 2021 | Bygewerk op 25 Maart 2024