Vinnige feite

  • Die gemiddelde hoogte van die muur is 6 tot 7 m hoog en die hoogste gedeeltes is 14 m hoog.
  • Die gemiddelde breedte is 6,5 m.
  • Meer as ’n miljoen werkers het aan die projek gewerk.
  • Daar word geraam dat tot 400 000 mense tydens die konstruksie van die muur dood is.
  • Die Ming-dinastie was verantwoordelik vir die bou van wagtorings en platforms by die muur. Hulle het meer as 4 000 km van die muur gebou.
  • ’n Groot Muur-fort is in Junie 2021 per ongeluk in die Shaanxi-provinsie ontdek. Daar word geraam dat dit waarskynlik tydens die Ming-era gebou is.
  • Die Groot Muur van China verskyn ook in die Guinness World Records vir die langste muur ter wêreld.
  • Dit is ’n mite dat ’n mens die muur vanuit die ruimte kan sien. 2
  • Wetenskaplikes waarsku dat sekere gedeeltes van die muur binne 20 jaar kan verdwyn. Dit word op erosie en menslike bedrywighede geblameer.
Foto: iStock

Dit was vroeër jare baie moeiliker as vandag om iets te bou. Daar was nie stootskrapers of vragmotors om sand, stene en sement mee aan te ry nie. Werkers moes alles gedra het waarmee hulle moes werk en hul gereedskap was baie eenvoudig. ’n Mens kan jou net indink hoe moeilik dit moes wees om ’n ellelange muur oor heuwels en berge te bou!

Die Groot Muur van China is op hierdie manier gebou en is die bekendste muur ter wêreld. Dit is merendeels met bakstene en klipblokke gebou, maar daar is selfs klewerige rys in die messelklei gebruik om die stene aanmekaar te laat vasklou! 1

Meer as net ’n muur

Eintlik is dit nie net ’n muur nie. Die muur sluit ’n reeks mure, torings, barakke, vestings en garnisoenstasies in, wat op die noordelike grens van China gebou is. Die muur is ongeveer 2 300 jaar oud en word as een van die Sewe Nuwe Wonders van die Wêreld gereken.

Dis die grootste projek wat nog deur die mensdom aangepak en gebou is en dit wys ons hoe vindingryk mense in die antieke tye was. Die muur het ’n totale lengte van 21 196,19 km! 2

Die Groot Muur van China is oor twee millenniums in noordelike China en suidelike Mongolië gebou. Die doel daarvan was om as ’n verskansingsmuur te dien en hulle dus teen vyande te beskerm.

Die gedeelte van die muur wat die beste bewaar is, dateer uit die Ming-dinastie (1368-1644) en is 8 850 km lank. Dit strek van oos na wes vanaf die berg Hu naby Dandong in die Liaoning-provinsie na die Jiayu-pas, wes van Jiuquan, in die Gansu-provinsie.

‘n Lugfoto van Jiayu-pas.

Die muur is dus baie, baie oud en daarom is daar groot stukke wat óf heeltemal weg is, óf wat nou ruïnes is. Dit bly egter een van die merkwaardigste strukture wat tot nog toe op die aarde gebou is en daarom is dit ’n Unesco-wêrelderfenisgebied. Dit beteken dat die muur baie belangrik is, dat streng reëls geld en dat dit vir die nageslagte bewaar moet word. 1

Koninkryke en dinastieë

China was nie altyd een land nie en het vroeër uit verskeie koninkryke bestaan. Dié koninkryke was dikwels vyandig teenoor mekaar en het oorloë gevoer om mekaar se grondgebied oor te neem.

Groot gedeeltes van die muur dateer uit die 7de tot 4de eeu v.C. en ons kan nie een mens uitsonder as die brein agter die muur nie. Verskeie dinastieë het aan die muur gebou. Keiser Qin Shi Huang was weliswaar die eerste keiser van ’n verenigde China en hy het in die 3de eeu v.C. ’n aantal van die mure in ’n enkele muur verenig.

Die ontstaan van die muur was egter lank voor sy tyd. Die Chu-staat het in die 7de eeu v.C. besluit om ’n permanente muur as verdediging teen vyandige magte te bou. Ander state het in Chu se voetspore gevolg en van die 6de tot die 4de eeu is daar kliphard aan mure gebou om as beskerming te dien.

Die Qi-staat het byvoorbeeld vir hulle mure uit klip en grond gebou en die bergagtige terrein as natuurlike verskansing gebruik. In die Zhongshan-staat is daar ook mure gebou en daar was twee rye verdedigingsmure in die Wei-staat. Dit is in 370-335 v.C. tydens koning Hui se heerskappy gebou. Die Zheng-staat wat gevolg het, het ook hul deel gedoen en die mure verder gebou, terwyl die Zhao-staat ’n noordelike en ’n suidelike muur gebou het.

Die Qin-staat het die sterkste van die toe sewe state geword en ook ’n lang muur gebou wat oor die Liupan-berge gestrek het en by die Huang He-rivier geëindig het. Nog ’n staat wat twee afsonderlike mure gebou het, was die Yan-staat.

Die koninkryke verenig

Hierna het die eerste Qin-keiser in 221 v.C. al die verskillende koninkryke in een land verenig.

Hy het gevra dat die verskansingsmure tussen die state afgebreek moes word, maar dat die mure in die Qin-, Yan-, en Zhao-state verenig moes word om een lang muur te word. Die konstruksie het in 214 v.C. begin. Die Qin-dinastie het gevangenes gebruik om die muur te bou en te onderhou. Hulle het met kettings aan hul bene aan die muur gewerk.

Nadat die Qin-dinastie met Shi Huangdi se afsterwe tot ’n val gekom het, is daar egter nie meer aan die muur gewerk nie.

Bouwerk, herstelwerk en versterking

Die werk is egter deur die volgende dinastie hervat. Die keiser van die Han-staat, Wudi, het in 141-87 v.C. die muur versterk omdat daar toe oorloë aan die gang was. In 121 v.C. is daar met ’n 20 jaar-projek begin om die muur tussen Yongdeng (vandag word dit Gansu genoem) in die ooste en die Lop Nur-muur (vandag in Xinjiang) in die weste te versterk en op te bou.

Keiser Liu Xiu (Guangwudi) het in die jare 25-220 werkers aangesê om die mure op te bou en te versterk.

Die Wei-dinastie het in die jare 386-534/535 die mure herstel en verleng omdat hulle ook aanvalle van vyande verwag het.

Die Dong Wei-koninkryk het in 549 nog ’n gedeelte van die muur gebou. Dit is in vandag se Shanxi-provinsie. Die Bei Qi-koninkryk (550-577) het ook hard aan die mure gewerk en verskeie gedeeltes gebou en opgeknap.

Hulle het meer as 1,8 miljoen werkers gebruik om die muur te herstel. In die jaar 565 is ’n nuwe muur in die ooste gebou en net daarna is ’n tweede muur binne die Groot Muur in Shanxi gebou. Die gedeeltes wat toe gebou en opgeknap is, was langer as 1 500 km! 1

Die Sui-dinastie was nog een wat groot werk gedoen het, want hulle het tydens die jare 581-618 die muur sewe keer herstel en verbeter.

Die Tang-dinastie wat ná die Sui aan bewind gekom het, was ’n mag met ’n groot weermag en hulle is nie sommer deur vyande binnegeval nie. Die muur was dus nie vir hulle so belangrik nie.

Die Song-dinastie van 960-1279 was egter nie so gelukkig nie en het kort-kort oorlog gevoer. Hulle moes juis gedeeltes van hul land en hul gedeelte van die muur aan vyande afgestaan het.

Die Jin-dinastie het in 1115 die mure versterk en nuwe gedeeltes gebou en die Yuan (Mongoolse dinastie) het van 1206-1368 die hele China beheer.

Van die Ming-dinastie tot vandag

Een van China se dinasties wat baie bekend is, is die Ming-dinastie van 1368-1644 en hulle het baie gedoen om die muur te onderhou en te versterk. Die grootste gedeelte van die muur wat toeriste vandag nog besoek, is deur hulle gebou.

Die Ming-dinastie se Hongzhi-keiser het tussen 1487-1505 groot werk aan die muur laat doen. Die Ming-dinastie is deur die Qing-dinastie opgevolg en tydens 1644-1912 is daar nie veel aan die muur gedoen nie. Die muur het dus later bouvallig geword.

Die Groot Muur strek vandag oor 15 noordelike Chinese provinsies: Heilongjiang, Jilin, Liaoning, Mongolië, Beijing, Tianjin, Hebei, Shandong, Henan, Shanxi, Shaanxi, Gansu, Ningxia, Qinghai, en Xinjiang.

Dis van die Bohai-see in die ooste tot die Gobi-woestyn in die weste. Daar is 15 passe wat op die roete gebou is. 1

Ongeveer een derde van die muur is nie meer daar nie. Een van die redes waarom daar groot gedeeltes van die muur weg is, is omdat mense van 1966 tot 1976 aangemoedig is om van die klippe en bakstene te vat om hul huise mee te bou! Die leier van China was toe Mao Zedong en hy het gereken huisvesting is baie belangriker as ’n historiese landmerk.

Meer as 50 miljoen toeriste besoek die Groot Muur van China jaarliks. Die gedeelte van die muur wat vandag die meeste deur toeriste besoek word, staan as Badaling bekend en dis naby die Chinese hoofstad, Beijing, geleë.

Legendes

Een van die bekende legendes in China is dié van Dame Meng Jiang. Haar man is na die muur gestuur om daaraan te werk, en sy het soontoe gereis om vir hom wintersklere te vat. Toe sy egter by die muur kom, het hulle haar vertel dat haar man dood is. Sy was só hartseer en het só gehuil, dat ’n stuk van die muur glo inmekaar geval het. Raai wat was daarbinne? Haar man se beendere! Gelukkig is dit net ’n storie! Daar is vandag ’n tempel in Shanhaiguan wat aan haar opgedra is. 3

Woordbank

baken Bekende teken.
barakke Die plek waar soldate woon.
bouvallig Ruïne, plek wat agteruitgegaan het en nie meer in ’n goeie toestand is nie.
dinastie Vorstehuis.
ellelange Verskriklik lank.
erosie As ’n stof oor ’n lang tyd deur wind en weer weggevreet word.
fort Vesting.
garnisoen Leërafdeling in ’n stad of fort.
konstruksie Bou, oprigting.
landmerk ’n Opvallende voorwerp waaraan ’n gebied herken word.
millenniums ’n Duisend jaar.
mite Nie waar nie, ’n wanvoorstelling.
ruïnes Bouvalle, net murasies bly oor.
verskansingsmuur ʼn Muur vir beskerming waar troepe verskuil kan wees.
vestings Versterkte stede of statte; skuilplekke.
vindingryk Slim of kreatief; die vermoë om dinge uit te vind en slim oplossings te bedink.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Wat maak dié muur besonders?

Die geskiedenis van die Groot Muur van China

Nog interessante inligting

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 29 November 2023 | Bygewerk op 14 Februarie 2024