Vinnige feite

  • Het jy geweet dat die helfte van ons planeet se bogrond die afgelope 150 jaar deur erosie verloor is? 4
  • Die Visrivier-canyon in die suide van Namibië is die grootste canyon in Afrika en is ʼn produk van riviererosie. Die Visriver het oor miljoene jare die grond weggekalwe en ʼn canyon van ongeveer 160 km lank, 27 km wyd en 550 m diep gevorm. 4
  • Rivier-erosie het ook die bekende Grand Canyon in Amerika gevorm. Die Colorado-rivier het oor miljoene jare stukkies grond en klip weggedra, en die konstante stroom water het ʼn canyon uit ʼn plat, stuk grond gemaak. 6
  • Aardverwarming veroorsaak dat erosie nou baie vinniger as ooit vantevore plaasvind.
  • Kuslyn-erosie is baie algemeen, en ongeveer 70% van sanderige kuslyne word gevorm as gevolg kuslyn-erosie. Baie kuslyne wat deur seewater verswelg word, vereis dat huise verder weg van die kuslyn gebou moet word. 8
  • Kuslyn-erosie kos regerings baie geld. In Amerika word amper $500 miljoen per jaar aan verliese afgestaan as gevolg van kuslyn-erosie. 8
  • Hidrouliese aksie is wanneer die krag van vinnig vloeiende water die bedding en die oewers van riviere tref en water en lug in die krake van die grond indwing. Hierdie veranderinge in lugdruk veroorsaak dat die rivierbedding verswak, en afwaartse erosie sowel as sywaartse erosie vind plaas. 9
  • Daar is lande wat aktief daaraan werk om verdere erosie te bekamp. Paraguay het byvoorbeeld daarin geslaag om ontbossing met 85% te verminder. 7
  • Het jy geweet dat die son ook erosie veroorsaak? Soos klip verhit, sit dit uit en dit kan mettertyd kraak en verkrummel. 10
  • Insekte wat hulle in grond inwikkel soos kewers en wurms, kan grond verplaas wat tot erosie bydra. 10

 

Foto: iStock

Was jy al op ʼn plaas of in die veld waar jy gesien het dat die grond lyk asof daar sommer groot stukke weg is? So asof ʼn reus groot happe uit die grond geneem het? As dit vir jou bekend klink, het jy al die resultaat van erosie gesien.

Erosie is die verbrokkeling en slytasie van grond of rots deur water, ys en wind. 1 Die belangrike ding om te onthou, is dat daar altyd beweging betrokke is; die gronddeeltjies of klippies word weggevoer. Erosie is ʼn geologiese proses: iets wat dus met die aarde se oppervlak oor ʼn tydperk gebeur. 2

Geologie is die studie van die aarde se oorsprong en geskiedenis; dit bestudeer spesifiek die litosfeer (rotse) se samestelling en hoe dit met tyd verander. Voor ons kan kyk wat presies erosie veroorsaak en wat die gevolge daarvan is, moet ons eers ondersoek wat verwering en afsetting is en wat die verband en verskil tussen dié twee konsepte en erosie is.

Verwering

Verwering  is die natuurlike proses waardeur gesteentes in kleiner deeltjies opgebreek word. Teenoor erosie word daar by verwering geen grond weggevoer nie – die grond breek eenvoudig af. 3 Verwering moet eers plaasvind voordat erosie kan plaasvind.

Daar is twee hooftipes verwering: chemiese en meganiese verwering. Hierdie twee kan gelyktydig plaasvind.

Chemiese verwering vind plaas wanneer gesteentes met chemiese komponente – soos suurstof, koolstofdioksied, water of sure – in aanraking kom en gedeeltes laat breek of van kleur laat verander. Chemiese verwering gebeur dikwels in grotte en lei tot rotsformasies soos stalaktiete en stalagmiete.

Meganiese verwering vind weer plaas wanneer rotsformasies in kleiner stukke breek as gevolg van die son se hitte, lopende water, ys wat skuif of boomwortels wat dit opdruk. Verwering gebeur op die oppervlak of naby die oppervlak van gesteentes. Wind en reën kan byvoorbeeld veroorsaak dat kleiner rotse van groter rotse aan die kant van ʼn berg afbreek. Rotsformasies kraak en breek dikwels as water in die groewe inloop, vries en dan weer uitsit. ʼn Alledaagse voorbeeld van meganiese verwering is wanneer die wind op die strand waai en ʼn sandkasteel se vorm begin verander.

ʼn Derde tipe is biologiese verwering, maar dit is raar en ons sien nie baie voorbeelde daarvan nie. Dit gebeur as swamme en bakterieë gesteentes afbreek.

Afsetting

Afsetting is die proses waardeur verweerde deeltjies op ʼn nuwe plek tot rus kom. Hierdie stof- of klipdeeltjies word deur wind, water, ys of die see vervoer. Die deeltjies kan as klippies, sand of modder vervoer word. 4 China se Geelrivier kry byvoorbeeld sy naam uit die landbouryke (geel) sediment (afsaksel) wat in sy water beland. Hierdie vrugbare grond rondom die rivier is al vir duisende jare een van die produktiefste omgewings in China. 5 Sanderige strande, riviermondings, deltas (driehoekige stuk land waar ’n rivier by sy monding in twee of meer strome die see ingaan) en lagunes (strandmere) is almal die resultate van afsetting. 6

Verwering, erosie en afsetting

Erosie vind ná verwering plaas. Tydens verwering word gesteentes losgemaak of afgebreek, en die stukke val dan af en beweeg weg. Dit word dalk deur die wind weggevoer, of dit beland in ʼn rivier of selfs in waterstrome as gevolg van besproeiing. Waar verwering rotse anders laat lyk deur stukke af te breek of die kleur daarvan te verander, beweeg erosie gronddeeltjies van een plek na ʼn ander. As hierdie deeltjies by ʼn plek te lande kom, noem ons dit afsetting. Die verweerde materiaal word dus vervoer deur erosie totdat dit êrens tot lande kom. Dit is afsetting, en dit werk saam met verwering en erosie om nuwe grondvorms te skep.

Tipes erosie

Gronderosie

Dit gebeur as die bogrond deur wind weggewaai of deur water weggespoel word. Die toename in die wêreldbevolking vereis dat ons meer kos nodig het, en dit veroorsaak ʼn groter vraag na landbougrond sodat gewasse soos mielies en koring verbou kan word. Vervolgens word baie graslande en woude in landerye omskep.

Hiervoor moet ontbossing (uitkap van bosse) eers plaasvind, maar ontbossing lei tot die vernietiging van habitats (natuurlike omgewing), en die grondgehalte van die landerye kan ook later nadelig beïnvloed word weens oorbenutting of plaagbeheer. Die impak van gronderosie is groot, want gronddeeltjies beland in strome en riviere, dit veroorsaak blokkasies en laat visse en ander spesies doodgaan. Wanneer plantegroei verwyder word, is daar nie plantwortels wat die gronddeeltjies en water kan “vashou” nie, en dit kan weer vloede vererger. 7

Rivier-erosie

Riviere en strome veroorsaak erosie soos hulle see toe vloei, en erosie vind dan afwaarts en sywaarts plaas. Mettertyd kan oewers afbreek, en valleie word al hoe groter. Die bewegende water kan ook rotse op die bodem van die riviere verweer en mettertyd afbreek en wegvoer. Rivier-erosie veroorsaak selfs dat rivierbeddings al hoe dieper word.

Kuslyn-erosie

Die krag van golwe veroorsaak erosie al langs die kuslyn. Die kragtige golwe dra stukke klip, grond of sand al langs die kus af, en klippies en sand word konstant op strande gewaar. Gronddeeltjies skuur ook teen mekaar en teen rotse, en mettertyd word rotse verweer en verander in nog meer sand. Die water dra hierdie nuwe sand dan verder. Alle kuslyne word natuurlik deur storms en ander natuurlike gebeure geraak, en dit kan ook erosie veroorsaak.

Die kombinasie van sterk storms en hoë golwe kan erge skade aan kuslyne veroorsaak. Die probleem word vererger deur stygende seevlakke as gevolg van klimaatsverandering wat deur aardverwarming veroorsaak word. Daar word verwag dat kuslyn-erosie in die toekoms net nog erger gaan word. 8

Wind-erosie

Net soos golwe, dra die wind sand en ander klein gronddeeltjies van een plek na ʼn ander. Wind vorm sandduine en verander hul vorm en waai ook grond van droë plaaslanderye af. Soos wat die wind sand en grond na rotse verplaas, verander die vorm van die rotse. 6

Erosie deur ys

Het jy al foto’s van massiewe stukke ys gesien? Dit word gletsers genoem en selfs dít kan erosie veroorsaak. Gletsers beweeg (al is dit baie, baie stadig), en hulle groei en krimp as gevolg van klimaattoestande. 4 Soos hulle beweeg, skraap hulle stukke van rotse en klip weg en dra dan hierdie rotse en klip saam met hulle. Gletsers kan stukke rots so groot soos huise vir kilometers en kilometers vervoer. Soos die gletsers smelt, bly die grond en rots wat hulle saamgedra het, agter. 6

Erosie se vriend

Die een groot ding wat erosie aanhelp, is die aarde se swaartekrag (aantrekkingskrag). Wind en reën kan die kante van berge en heuwels verswak, en dan kan die aarde se swaartekrag veroorsaak dat modderstortings plaasvind. Dit is wanneer grond, modder en rotse neerstort aarde toe. Modderstortings kan groot skade veroorsaak en het al baie sterftes tot gevolg gehad. 6

Mense se rol in erosie

  • Mense verwyder te veel bome en plante vir geboue, paaie en landerye. Plante is belangrik vir grond, want dit “hou” die grond vas. Plante dien as ʼn vorm van ʼn buffer teen wind en water – dit verminder die spoed van lopende water en wind, asook die tempo waarteen erosie plaasvind. 6
  • Oorbeweiding (wanneer boere te veel diere op weigrond het) dra ook by tot erosie. Die grond en voedingstowwe gaan verlore, en dit laat erosie makliker voorkom.
  • Die misbruik van pesbestryders kan ook die grond se balans versteur en dit verswak, wat natuurlik ook tot erosie kan bydra.
  • Erosie is baie sleg vir landbougrond, want oeste is afhanklik van ryk grond vir gesonde groei. Daarom probeer boere vandag verskeie tegnieke om erosie te verminder. Hulle plant byvoorbeeld bome om wind te keer en plant terrasse om te keer dat water die grond wegvoer. 7

Leerwenk: Sukkel jy om die verskil tussen verwering, erosie en afsetting te onthou? Leer dit só. Verwering breek dit, erosie vat dit en afsetting laat val dit.

Woordbank

afsetting Verweerde deeltjies word by ʼn nuwe plek neergestort. 6
bakterie Eensellige mikroörganismes wat infeksies en siektes veroorsaak.
canyon Diep rivierbedding of aardtrog met steil wande.
chemie Die wetenskap wat hom besig hou met die ondersoek na die samestelling van stowwe uit hul elemente, na die wette van verbinding, die verwantskap en die eienskappe van stowwe en elemente, chemie.
deltas Driehoekige stuk land in ʼn rivier se mond.
erosie Wegvreting van ’n stof deur wind/water/ys, wat meestal oor ‘n lang tydperk daarop inwerk.
geologie Die leer van die bou, samestelling, geskiedenis en ontwikkeling van die aardkors; aardkunde.
gesteentes Harde minerale, gesamentlike rotsformasie. 1
gletsers  Groot massas ys wat stadig by ʼn vallei afbeweeg.
habitat Plek waar ʼn bepaalde soort dier of plant gewoonlik aangetref word.
lagunes Strandmeer
litosfeer Die vaste aardkors.
meganies Wat dui op beweging.
ontbossing Wanneer mense baie bome en plantegroei uithaal om vir byvoorbeeld huise of plase plek te maak. 7
sediment Die deeltjies van vaste stowwe wat in ʼn vloeistof na die bodem toe sak. 1
slytasie Die proses waartydens iets dunner of beskadig word omdat dit baie gebruik word. 1
stalagmiete Regopstaande druipsteenkeël of formasie op die bodem van ’n grot.
stalaktiete Afhangende druipsteenkeël of formasie in grot. 1
verbrokkeling Wanneer iets afbreek of ineenstort. 1
verwering Verswak raak, vergaan deur die weer.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor erosie

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor erosie

Meer oor gronderosie

Die verskil tussen verwering en erosie

Wat gebeur met riviere?

Watter grondvorms word deur erosie veroorsaak?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 6 Maart 2022 | Bygewerk op 19 Maart 2024