Vinnige feite
- Nadat Machu Picchu in 1911 ontdek is, is dit gerestoureer. Teen 1976 was 30% van die terrein gerestoureer en herstel, maar die werk hou tot vandag toe aan.
- ’n Advertensie is in 2000 by Machu Picchu in Peru verfilm en een van die hyskrane wat gebruik is, het geval en een van die monumente gekraak!
- Die Christus die Verlosser-standbeeld word dikwels deur weerlig getref en in 2014 is die punt van die standbeeld se regterduim beskadig.
- Meer as 600 miljoen mense het vir die wonders van die wêreld gestem.
- Die Taj Mahal huisves nie net ’n graftombe nie, maar ook ’n moskee en gastehuis. Daar is ook pragtige tuine en ongeveer sewe tot agt miljoen mense besoek dit jaarliks.
- Die Colosseum is die grootste amfiteater wat tot nog toe gebou is.
- Die stad Petra is in 1812 deur die Switserse ontdekker Johann Ludwig Burckhardt ontdek.
- Pharos beteken “lighuis wat mense begelei en die pad aanwys” en daarom is dit ook ’n gepaste naam vir die Pharos-woordeboeke, want dié woordeboeke begelei mense immers ook na die regte spelling van woorde.
- Slegs een derde van die Colosseum bestaan vandag nog, aangesien die meeste dele deur aardbewings verwoes is. Daar word kort-kort daaraan gewerk om te sorg dat die oorblywende gedeeltes behoue bly.
- Die Groot Piramide van Giza was 4 000 jaar lank die hoogste struktuur wat deur mense gebou is, totdat die Lincoln-katedraal in Engeland met sy 160 m-toring in 1311 gebou is. 11
- Die hoogste punt van Tafelberg is 1 086 m bo seevlak en is ongeveer 19 m hoër as die kabelkarretjiestasie. 4
Het jy al ’n plek besoek wat jy dink ’n wonder is? Dalk was dit ’n natuurwonder, soos Tafelberg, of ’n pretparkrit wat jou na jou asem laat snak het. ’n Wonder is ’n voorwerp, verskynsel, handeling of gebeurtenis wat verwondering en verbasing wek, en wat die natuurkragte te bowe gaan. Dit is dus iets buitengewoon. As ons dan praat van wonders in die wêreld, kan jy dus weet dat dit baie besonderse bestemmings en unieke plekke is.
Die Sewe Wonders van die Antieke Wêreld
Die Sewe Wonders van die Antieke Wêreld het inderdaad besonderse plekke ingesluit. Dink net aan reusestandbeelde, hangende tuine en massiewe tempels…
Dit was glo die bekende Griekse geskiedkundige Herodotus wat baie jare gelede oor sewe groot argitektoniese prestasies geskryf het. Sy lys het die saadjie geplant vir wat die Sewe Wonders van die Antieke Wêreld sou word. Dit word ook die Klassieke Wonders genoem.
Vir die antieke en Middeleeuse mense was die syfer sewe belangrik en hulle het daarvan gehou om lyste van sewe items op te stel, soos die Sewe Wonders, die Sewe Seë en dies meer.
Die Sewe Wonders van die Antieke Wêreld is die Kolos van Rhodos, die Groot Piramide van Giza, die Hangende Tuine van Babilon, Zeus se standbeeld by Olimpië, die Tempel van Artemis by Efese, die Mausoleum van Halikarnassus en die vuurtoring van Alexandrië. 1
Ongelukkig het daar nie veel van dié Sewe Wonders oorgebly nie. Vier daarvan is deur aardbewings vernietig, twee is in brande vernietig en slegs een daarvan kan steeds besigtig word, en dit is die Groot Piramide van Giza. Daar is ook darem brokstukke van die Mausoleum van Halikarnassus en die Tempel van Artemis oor. 2
Die Kolos van Rhodos
Die Kolos van Rhodos was blykbaar ’n massiewe standbeeld van die mitologiese songod Helios op die Griekse eiland Rhodos. Daar is gesê dat die standbeeld wydsbeen oor die ingang na die hawe gestaan het en dat skepe onderdeur dit gevaar het. Mense vandag sê egter dat dit tegnies onmoontlik sou wees (nie moontlik om te bou of te maak nie) en dat dit bes moontlik aan die een kant van die hawe gestaan het.
Die standbeeld was glo ongeveer 32 m hoog, maar daar is vandag geen spoor daarvan nie. Dit is reeds in 224/225 v.C. deur ’n aardbewing vernietig. Daar het volgens oorlewering groot stukke daarvan oorgebly toe die standbeeld omgeval het en dit was steeds só indrukwekkend dat mense van heinde en ver gereis het om dit te sien. Die gebied is egter jare later deur vyandige magte oorgeneem en hulle het die stukke opgebreek en die brons verkoop. 2
Die Groot Piramide van Giza
Die Groot Piramide van Cheops by Giza in Egipte is die enigste een van die Klassieke Wonders wat vandag nog bestaan. Dit is ongeveer 147 m hoog en 230 m breed. Dit is glo met sowat 2,3 miljoen stene gebou!
Die piramide is in 2 570 v.C. gebou en dit het min of meer 100 000 werkers altesaam 20 jaar geneem om dit te voltooi. Dit is as ’n graftombe vir die Egiptiese farao (koning) Khufu gebou. Die piramide is deel van ’n kompleks wat tempels en ander piramides insluit. Die buitenste stene van die piramide was eens op ’n tyd van gepoleerde wit kalksteen, maar dit is honderde jare gelede deur ’n aardbewing losgeskud. Die Egiptenare het besluit om die kalksteen af te haal en dit te gebruik om moskees en stede te bou. Die piramide het heeltemal anders met die kalksteen gelyk, want dit was toe só helder dat jy dit van ver af kon sien. 2
Kenners verwonder hulself vandag nog aan die buitengewone argitektuur en vakmanskap van die piramides. 2
Die Hangende Tuine van Babilon
Babilon was ’n antieke Midde-Oosterse stad en die hoofstad van Babilonië. 3 Volgens oorlewering was dit ’n baie ryk stad en dit is waar die Hangende Tuine van Babilon was. Daardie gedeelte is in vandag Irak. Die tuine bestaan al vir baie jare nie meer nie en baie geskiedkundiges wonder of dit ooit regtig bestaan het.
Die gewildste teorie oor die tuine is dat koning Nebukadneser II dit in 600 v.C. in Babilon laat bou het. Hy het dit blykbaar vir sy vrou, Ametis, laat aanlê omdat sy die groenigheid van haar tuisland gemis het. Volgens oorlewering was daar terrasse wat bo-op mekaar gebou is met pragtige tuine wat daarop uitgelê is. Die tuine het glo ’n indrukwekkende besproeiingstelsel gehad wat water uit die Eufraatrivier gepomp het. Daar is ook geskiedkundiges wat glo dat die Hangende Tuine eintlik daktuine was en dat iemand anders dit eintlik laat bou het. Hoe dit ook al sy, dit moes merkwaardig gewees het om in die lys ingesluit te word. Dit is na bewering in 226 deur ’n aardbewing vernietig. 2
Zeus se standbeeld by Olimpië
Zeus was in die Griekse mitologie die koning van die gode en dis daarom dat daar vir hom ’n standbeeld in Olimpië, Griekeland, opgerig is. Dit was glo ’n verstommende beeld en is deur die bekende beeldhouer Phidias in die 5de eeu v.C. gebou. Ivoor en goud is onder meer vir die 12 meter hoë standbeeld gebruik. Dit het ’n sittende Zeus uitgebeeld en dié beeld het vir nege eeue op dieselfde plek gesit tot dit vernietig is. 2
Die Mausoleum van Halikarnassus
Dié praalgraf (versierde graf) was in Klein-Asië (vandag Turkye) en die naam is van koning Mausolus van Caria afkomstig. Ná sy dood in 352 v.C. het sy weduwee, Artemisia, Griekse argitekte gevra om hierdie monument oor sy graf te bou. Dit was ’n vierkantige monument en amper 14 verdiepings hoog. Elke kant van die tombe het nege massiewe kolomme gehad en die boonste stuk was ’n piramide met ’n marmerstrydwa. Dit was só bekend en besonders dat die woord “mausoleum” die naam vir alle praalgrafte geword het. Daar word beraam dat die mausoleum in 1404 deur ’n reeks aardbewings vernietig is. Dele van die beeldhouwerk van die monument word in die Britse museum in Londen, Engeland, bewaar. 2
Die Vuurtoring van Alexandrië
Alexandrië is ’n Egiptiese hawestad aan die Middellandse See wat in die antieke tyd deur Alexander die Grote gestig is. 3 Alexandrië het in antieke tye met ’n beroemde biblioteek en ’n vuurtoring gespog. Die Vuurtoring van Alexandrië is in 280 v.C. gebou en is na bewering in 1323 deur ’n aardbewing vernietig. Dit was op die Pharos-eiland in Alexandrië en is sekerlik die bekendste vuurtoring in die geskiedenis. Dit is in drie gedeeltes van marmerblokke gebou. Die onderste stuk was vierkantig, die middelblok agthoekig, en die boonste stuk wat silindervormig was. Die vuurtoring is só ontwerp dat ’n stelsel hout na bo vervoer het om in die nag te brand.
Daar was ook ’n groot spieël wat gebruik is om sonlig in die dag en vuur in die nag te reflekteer (weerkaats). Seevaarders kon glo die lig tot 56 km ver gesien het. 1
Die Tempel van Artemis
Artemis was in die Griekse mitologie die godin van jag en die maan, en haar volgelinge het vir haar ’n tempel in Efese, Klein-Asië (vandag Turkye), gebou. Die Grieke het hierdie tempel ter ere van Artemis gebou en deur die jare is die tempel vergroot en herbou. Dit was die vierde tempel, wat deur die koning Croesus gebou is, wat as ’n wêreldwonder beskryf is. Dit het glo 120 jaar gevat om te voltooi en het merkwaardige kunswerke gehuisves. Van die kunswerke was 110 x 55 m groot! Die tempel het ongelukkig in 356 v.C. afgebrand. 2
Middeleeuse wonders
Tydens die Middeleeue (500 v.C. tot 1 500) het mense ook lysies gemaak van die besonderse geboue en strukture wat daardie tyd bestaan het. Daar is geboue op die lys wat tydens die Middeleeue gebou is, maar baie daarvan kom uit die antieke tye.
Hier is elf plekke op die lys:
Die Hagia Sophia is ’n pragtige kerkgebou in Istanboel, Turkye. Die gebou wat van 532 v.C. tot 37 gebou is, was eers ’n katedraal, toe ’n moskee en is vandag ’n museum. Dié gebou met sy bekende koepeldak het al brande, aardbewings en vandalisme beleef. 4
Stonehenge in Wiltshire, Engeland, dateer uit die Bronstydperk. Dit bestaan uit groot klipblokke wat sirkelvormig gepak is en daar word beraam dat dit tussen 5 000 tot 3 500 jaar gelede daar geplaas is. Ongelukkig is baie daarvan deur die eeue verwyder en ons weet tot vandag toe nie waarvoor dit eintlik gebruik is nie. Daar word gereken dat dit ’n plek was waar mense hul gode aanbid het. 5
Die Kaïro-vesting is een van die gewildste toerismebestemmings in Kaïro, Egipte. Dit is vandag ’n museum en huisves verskeie geboue. Dit is op die Muqattam-heuwels geleë en is tydens die Middeleeue gebou. Dit was lank, lank gelede die tuiste van sultan Salah al-Din al-Ayyubi.
Die Cluny-abdy in Cluny, Frankryk, het in 910 ontstaan en was eens op ’n tyd ’n groot godsdienstige en politieke mag in Europa. Dit was tydens die Middeleeue ’n massiewe kerk met baie geboue. Die biblioteek was glo enig in sy soort en het baie ou boeke bevat. Ongelukkig is daar vandag min van die geboue oor.
Die Ely-katedraal in Cambridgeshire, Engeland, is in 1342 voltooi en was heeltemal anders as die ander katedrale wat toe gebou is. Hierdie katedraal met sy agthoekige toring word as ’n wonder van Middeleeuse ingenieurswese gesien.
Die Groot Muur van China is sekerlik een van die bekendste strukture in die wêreld. Dis só groot dat dit selfs uit die ruimte gesien kan word. (Lees meer by “Die Nuwe Sewe Wonders”.)
Die Katakombes van Kom el Shoqafa in Alexandrië, Egipte, is ’n labirint met verskeie vlakke en dosyne vertrekke. Daar is allerlei sarkofae, godsdienstige simbole, standbeelde en pragtig versierde pilare.
Die Leunende Toring van Pisa in Pisa, Italië, is tussen 1173 en die middel-1300’s gebou. Nadat drie van die agt verdiepings gebou is, het een kant van die toring in die grond begin insak. Bouers het dit probeer regmaak, maar kon nie die probleem herstel nie. [Lees meer oor die Toring van Pisa.]
Die Porseleintoring in Nanjing, China, was ’n pragtige voorbeeld van Boeddhistiese argitektuur met wit porselein en gekleurde stene. Dit is in die vroeë 15de eeu gebou, maar is in die 19de eeu verwoes. Daar is ‘n moderne replika gebou wat vandag vir die publiek oop is.
Die Romeinse Colosseum is ’n bekende amfiteater in Rome, Italië, en wys vir ons hoe slim die Romeinse argitekte en ingenieurs destyds was. Dis tussen die jare 70 en 80 gebou. Omtrent 50 000 mense kon daar sit en na gevegte kyk. (Vind meer uit onder “Die Nuwe Sewe Wonders”.)
Die Taj Mahal in Agra, Indië, is ’n pragtige marmermonument in Agra, Indië, en is ’n gewilde toeriste-aantreklikheid. (Vind meer uit onder “Die Nuwe Sewe Wonders”.) 6
Die Sewe Nuwe Wonders van die Wêreld
’n Switserse stigting het in die jaar 2000 ’n veldtog van stapel gestuur om die Nuwe Sewe Wonders van die Wêreld te bepaal. Hulle het gesê aangesien slegs die Piramide van Giza nog bestaan, was dit hoog tyd vir ’n nuwe lys met nuwe wonders wat vandag besoek kan word. Meer as 100 miljoen mense het gestem en die finale resultate is in 2007 aangekondig. 7
Die sewe gewildste wonders wat gekies is, is die Groot Muur van China, Chichén Itzá, Petra, Machu Picchu, die Christus die Verlosser-beeld, die Colosseum, en die Taj Mahal.
Die Groot Muur van China
Die Groot Muur van China is sekerlik een van die grootste bouprojekte wat tot nog toe in die wêreld aangepak is. Dit is 8 850 km lank, maar daar is wel ’n Chinese studie wat sê dit strek eintlik oor 21 200 km. Werk aan die muur het reeds in die 7de eeu v.C. begin en het vir twee millenniums voortgeduur. Daar is vir lang afstande twee mure wat saamloop en dan is daar ook plekke met wagtorings. Die muur is gebou om invalle te keer, maar dit het nie eintlik veel veiligheid gebied nie. 4
Chichén Itzá
Chichén Itzá is ’n stad in Mexiko wat deur die antieke Maja gebou is. Die Maja het eens op ’n tyd een van die grootste beskawings gehad en was ’n welvarende nasie. Die stad Chichén Itzá het in die negende en tiende eeue floreer en daar is baie monumente en tempels gebou. Die piramide El Castillo (die kasteel) is 24 m hoog en hoewel nie so groot soos die Egiptenare se piramides nie, is hierdie gebou verstommend, want dit wys hoe goed die Maja se kennis oor sterrekunde was. Daar is byvoorbeeld 365 trappe, een vir elke dag van die sonjaar. Tydens die dag-en-nag-ewening in lente en herfs gooi die son se strale ’n skadu op die piramide wat dit laat lyk asof ’n slang by die trappe afseil. En op die basis is daar ’n slang se kop uit klip gebou! 4
Petra
Die antieke stad Petra in Jordanië is in ’n verafgeleë vallei en word deur sandsteenberge en klowe omring. Dit is glo een van die plekke waar Moses ’n rots geslaan en water daaruit gespuit het. Daar was later ’n Arabiese stam wat daar gebly het en Petra het ’n belangrike handelsentrum geword. Tempels en tombes is in die sandsteen gebou en daar was boonop ’n waterstelsel toentertyd, wat boerdery en tuine moontlik gemaak het. Die stad het egter agteruitgegaan soos handelsroetes verander het, en aardbewings in 363 en 551 het tot vernietiging gelei wat baie mense laat wegtrek het. Petra is in 1912 herontdek, maar argeoloë het eers in die laat 20ste eeu regtig uitgrawings begin doen. Dis vandag ’n toeriste-besienswaardigheid en blykbaar ’n gesig om te aanskou as die sandsteen se kleur verander wanneer die son sak. 4
Machu Picchu
Machu Picchu is die oorblyfsels van ‘n antieke stad waar die Inkas gewoon het. Dit is naby Cusco in Peru geleë. Die Inkas was Suid-Amerikaanse Indiane wat in die 1400’s en 1500’s ‘n groot ryk gehad het langs die kus van die Stille Oseaan en in die Andes-gebergtes, waar Ecuador en Chile vandag is. Hul argitektuur en die tegnologie wat hulle ingespan het, was glo baie indrukwekkend, en die besproeiingstelsels, paleise, tempels, paaie en brûe wat hulle gebou het, is vandag nog tussen die Andes-berge sigbaar.
Die stad met sy baie terrasse en trappe is in 1911 deur die Amerikaanse geskiedkundige Hiram Bingham ontdek, wat geglo het dat dit ’n geheime Inka-vesting was. Die monument is een van die min plekke van die Inkas se tydperk wat amper ongeskonde gebly het. 4
Die Christus die Verlosser-beeld
Dié standbeeld in Rio de Janeiro, Brasilië, is ’n reusebeeld van Jesus en is net ná die Eerste Wêreldoorlog gebou. Daar is in daardie tyd ’n “golf van goddeloosheid” gevrees en daarom is hierdie standbeeld gebou. Dis is ongeveer 30 m hoog sonder sy basis. Die basis is ook nog 8 m hoog en die uitgestrekte arms sprei oor die 28 meter uit. Dit is die grootste Art Deco-beeld ter wêreld en ses miljoen teëltjies is daarvoor gebruik. 4
Die Colosseum
Die sesde wonder is die Colosseum in Rome, Italië, wat in die eerste eeu deur keiser Vespasian laat bou is. Die amfiteater is ongeveer 189 x 156 meter groot en het omtrént ’n ingewikkelde stelsel van gangetjies en kelders. ’n Mens sal maklik daar kan verdwaal!
Die Colosseum het toentertyd plek vir meer as 50 000 toeskouers gehad wat verskeie vertonings gekyk het. In daardie tyd was gladiator-gevegte tussen diere en mense, asook tussen mense en mense, baie algemeen en dit was ’n bloederige affêre. Dis aaklig om te dink dat daar baie diere en mense daar dood is. Daar word beraam dat soveel as ’n halfmiljoen mense daar dood is! 4
Die Taj Mahal
Die Taj Mahal is ’n mausoleumkompleks in Agra, Indië. Dit is deur die keiser Shah Jahan as ’n huldeblyk aan sy oorlede vrou, Mumtaz, laat bou. Hy was baie lief vir haar en toe sy in 1631 dood is, wou hy iets laat bou het om haar te onthou. Dit het ongeveer 22 jaar en 20 000 werkers gekos om dit te voltooi. Die gebou is van wit marmer en pragtige halfedelstene is as versierings gebruik. 4
Die Sewe Natuurlike Wonders van die Wêreld
Net soos met die Sewe Nuwe Wonders van die Wêreld, het mense wêreldwyd ook gestem vir die natuurwonders wat op grond van hul natuurskoon gekies is:
Hạ Long Bay is ’n Unesco-wêrelderfenisgebied en gewilde toerismebestemming in Viëtnam. Dit sluit ongeveer 1 600 eilande en klein eilande in en strek oor ongeveer 43 400 ha. Die gebied is ryk aan inheemse fauna en flora en die eilande van kalksteen is besonders, want dit het deur 500 miljoen jaar verskillende vorms aangeneem.
Jeju-eiland in Suid-Korea is ’n vulkaniese eiland en het ’n dormante vulkaan. Daar is ook 360 kleiner vulkane om die hoofvulkaan. Die eiland, wat ongeveer 2 miljoen jaar gelede deur vulkaanuitbarstings gevorm is, is bekend vir sy unieke skoonheid. Die eiland bestaan hoofsaaklik uit lawa en basalt (harde vulkaanklip).
Komodo is ’n eiland in Indonesië en is bekend vir sy Komodo-drake, die grootste likkewane op aarde, maar ook vir hoe sonderling mooi dit is.
Die PP-ondergrondse rivier in die Filippyne is in die Puerto Princesa Subterranean River National Park geleë. ’n Groep wetenskaplikes het in 2010 ontdek dat dié ondergrondse rivier ’n tweede verdieping het en daarom is daar klein watervalle binne-in die grotte. Hulle het ook ’n grotkoepel ontdek wat 300 m bo die ondergrondse rivier is. Daar is verskeie rivierkanale, grotte en diertjies wat in die ondergrondse stelsel voorkom. Dis egter onmoontlik om die hele stelsel te ontdek, want dis net te groot en duikers se suurstof kan dit nie hou nie!
Die Iguaza-waterval is op die grens van Argentinië en Brasilië en is die grootste watervalstelsel ter wêreld. Die watervalle verdeel die rivier in ’n boonste en onderste gedeelte. Die rivier vloei meestal deur Brasilië, maar die meeste van die watervalle is aan die Argentynse kant.
Tafelberg in Kaapstad, Suid-Afrika, is ’n gewilde toeriste-bestemming en dit vorm deel van die Tafelberg Nasionale Park. Die berg is natuurlik bekend vir sy tafelvorm en daar is ook heelwat inheemse fauna en flora.
Die Amasone is die grootste reënwoud op aarde en is baie belangrik vir ons planeet se ekostelsel. [Lees hier oor ekostelsels.] Dit word nie verniet die “longe” van die wêreld genoem nie. Die Amasone en die Amasone-rivier wat daardeur loop, word deur nege lande gedeel, naamlik Bolivia, Brasilië, Colombia, Ecuador, Guiana, Peru, Suriname en Venezuela. 8
Nóg sewe wonderlike plekke
’n Organisasie genaamd Seven Natural Wonders is in die lewe geroep om mense bewus te maak van die natuurwonders van ons wêreld. Hulle wil hê dat mense natuurwonders sal ontdek en daardeur leer hoe belangrike natuurbewaring is.
Hulle het hul eie lys van natuurwonders saamgestel:
Die aurora borealis is die bekende noorderligte en is ’n ligverskynsel in die Noordpoolstreke waarby boë en strepe lig ná sononder in die lug verskyn. Dit word veroorsaak deur energiegelaaide deeltjies uit die atmosfeer en die sonwind wat met atome bots. Dit word gewoonlik naby die aarde se magnetiese pole gevind.
Die Groot Barrière-rif of Groot Koraalrif is die wêreld se grootste koraalrif en is aan die noordoostelike kus van Australië geleë. Dis ongeveer 2 000 km lank en spog met ongelooflike seelewe. Die rif is oor miljoene jare gevorm en bevat minstens 300 soorte harde koraal. 3
Die Grand Canyon in die Verenigde State van Amerika (VSA) is baie bekend en jy het dit dalk al op televisie gesien. Dis ’n diep ravyn of rivierbedding met steil wande en is deur jare en jare deur die Colorado-rivier gevorm. Dit is ongeveer 446 km lank en is in sekere plekke meer as 1,6 km diep. Daar word beraam dat die Colorado-rivier ongeveer ses miljoen jaar gelede begin het om die rotse te erodeer (af te breek/weg te vreet). Wind en weer het die proses aangehelp. Die ravyn is meestal rooi, maar die verskillende lae van rots het verskillende kleure en daarom skep dit so ’n besonderse prentjie.
Die Parícutin-vulkaan is ’n vulkaan in Mexiko en is besonders, want dit het sommer in 1943 in ’n mielieland opgeskiet! Dit is dus een van die jongste vulkane op aarde en het die mensdom vir die eerste keer die kans gegee om die lewensiklus van ’n vulkaan te beleef. Dit was sewe jaar lank aktief en het twee dorpe en honderde huise verwoes.
Die Victoria-waterval is in die Zambezi-rivier tussen Zimbabwe en Zambië. Dit is omtrent 1,5 km breed en sowat 120 m hoog. Dit is twee keer so wyd en twee keer so hoog as die Niagara-waterval in Noord-Amerika. Die eerste Europeër wat dit gesien het, was David Livingstone op 16 November 1855. 3
Die berg Everest is die hoogste berg ter wêreld en ’n mens kan dit in die Himalaja op die grens tussen Tibet en Nepal vind. Die kruin is op die grens tussen Nepal en die Chinese gebied van Tibet. Die berg is ongeveer 8 840 m hoog. Jy kan jouself indink dat dit baie koud op daardie hoogte is. Die lug is baie dun en die wind is baie erg.
Rio de Janeiro se hawe is in Brasilië en is deur erosie van die Atlantiese Oseaan geskep. Dit staan ook as Guanabara-baai bekend. Die hawe word deur pragtige granietberge omring en is in 1502 ontdek. Dit is ongeveer 31 km lank en by die ingang is daar ’n eilandvesting wat Laje genoem word. Daar is verskeie eilande in die baai. 9
En die lys word net langer
Die maatskappy Bloomberg het in 2021 gesê dat daar ná die Covid-19-pandemie ’n behoefte aan ’n nuwe lys is omdat mense na hierdie plekke kan reis sonder dat daar groot groepe mense sal wees. Die lys bevat ook ’n plek in Suid-Afrika.
Antequera Dolmens, Spanje: kultuurmonumente uit die oertydperk. Dit is uit groot klipblokke gebou en daar is drie tombes. Dit is veral merkwaardig dat dit in die oertydperk sonder die toerusting van vandag gebou is.
Baalbek, Libanon: ’n wêrelderfenisgebied met ruïnes. Dit was eens op ’n tyd ’n stad waar verskeie gode aanbid is en is een van die beste voorbeelde van Romeinse argitektuur.
Nahanni, Kanada: ’n nasionale park wat langs die Suid-Nahanni-rivier gevind kan word. Dis een van die mooiste riviere in Noord-Amerika en die park het diep ravyne en groot watervalle. Daar is ook ’n unieke grotstelsel wat uit kalksteen bestaan.
Top End-rotskuns, Australië: Dié rotskuns word in grotte by Burrungkuy in die Kakadu Nasionale Park gevind. Die rotskuns is meer as 50 000 jaar oud en ’n mens kan dit in drie hoofgrotte besigtig.
Kaapse Seewierwoud (Groot Afrika-seewoud), Suid-Afrika: ’n onderwaterwoud met reuse-seegrasse. Dit is die enigste woud ter wêreld wat reuse-bamboeskelp het en is die tuiste van talle seespesies.
San Augustin, Colombië: ’n argeologiese park met monumente en beeldhouwerk uit die oertydperk. Die kunswerke van gode en ander figure wys die kreatiwiteit van ’n kultuur wat van die 1ste tot die 8ste eeu geleef het.
Sigiriya, Sri Lanka: ’n rotsvesting wat ook Leeurots of Leeuberg genoem word. Dit is in die 5de eeu op rots gevind. Die rots is ongeveer 349 m bo seevlak. Koning Kashyapa I (477-495) het ’n paleis in die vorm van ’n leeu in die rots gebou. 10
Woordbank
amfiteater | ’n Teater sonder ’n dak. |
basalt | Harde vulkaniese klip. |
besproeiingstelsel | Stelsel waardeur water afgelei word en voorsien word aan verskillende gedeeltes, soos in ’n tuin. |
canyon | ’n Diep rivierbedding met regaf kante wat diep in die landskap ingevreet het. |
dag-en-nag-ewening | As die dag en nag ewe lank is. |
dormante | Sluimerend, rustend. |
ekostelsel | ’n Stelsel wat bestaan uit alle lewende organismes en hul omgewing. |
farao | Titel van die ou Egiptiese konings. |
fauna | Al die diere van ’n bepaalde gebied of tydperk. |
flora | Al die plante van ’n bepaalde gebied of tydperk. |
floreer | Groei en is voorspoedig. |
graftombe | ’n Grafmonument van steen. |
heinde en ver | Naby en ver; oral. |
hoog tyd | Tyd dat iets gebeur, moenie langer uitgestel word nie. |
huldeblyk | Bewys van hulde of hoë agting. |
inheemse | Wat in ’n land voorkom. |
kalksteen | Die klip waaruit kalk gebrand word. |
katakombes | ’n Grafkelder onder die grond met tonnels. |
klassieke | Behorende tot die Ou Romeinse of Ou Griekse tyd. |
kruin | Hoogste punt. |
labirint | ’n Doolhof, met baie gange waarin mens kan verdwaal. |
mausoleum | ’n Praalgraf, ’n versierde graf. |
moskees | ’n Moslemtempel. |
natuurkragte | Elementêre mag wat sy oorsprong in die natuur het en waaroor die mens geen beheer het nie. |
praalgraf | Versierde graf. |
replika | Nabootsing, weergawe. |
sarkofae | Outydse doodskiste van klip, graniet of marmer, soms met versiering soos beeldhouwerk daarop. |
seewier | Seegras. |
tegnies | Wat verband hou met die reëls en presiese klein besonderhede van hoe iets behoort te werk. |
terrasse | ’n Gelyk stuk grond aan die kant van ’n berg of heuwel, of so ’n stuk grond naby ’n huis. |
tombe | Praalgraf, versierde graf. |
vulkaniese | Betreffende vulkane, vulkane is vuurspuwende berge. |
vuurtoring | Toring langs die kus waaruit snags ‘n sterk lig straal om as waarskuwing vir skepe te dien. |
wonder | ’n Voorwerp, verskynsel, handeling, gebeurtenis wat verwondering of verbasing wek, wat die natuurkragte te bowe gaan. Dit is dus iets buitengewoons. |
Lees dié artikels om meer te leer
Kyk dié video’s om meer te wete te kom
Die Sewe Nuwe Wonders
Die antieke wonders
Die Sewe Natuurlike Wonders