Vinnige feite

  • Die geboue in Timboektoe was van die eerstes wat met modder op ʼn hout raamwerk gepleister is. 7
  • Tydens die Goue Era kon ʼn 90 kg-blok sout vir 450 g goud verruil word. 8
Foto: iStock

Timboektoe is ʼn stad in Mali, Wes-Afrika in die Sahara-woestyn en is van geskiedkundige belang, aangesien dit op ʼn handelsroete geleë is en mense goedere kon koop, verkoop of ruil (veral goud, sout, ivoor en slawe). Timboektoe was vroeër ʼn vername handelstad in die koninkryk van Mali en het baie handelaars daarheen gelok. Die stad is in ʼn vrugbare area naby Soedan geleë, en dit is een van die stede in Afrika wat die rykste aan geskiedenis en verhale is. Hierdie einste stad was vroeër as die einde van die aarde gesien. 1

Die stad is in 1988 as ʼn Wêrelderfenisgebied deur die Verenigde Nasies se Opvoedkundige, Wetenskaplike en Kulturele Organisasie (UNESCO) verklaar, en vanaf 2012 word hierdie erfenis as ʼn bedreiging beskou, wat beteken dat dit nou baie vervalle is en dat ekstra hulp ingeroep moet word om hierdie stad en sy historiese geboue te help bewaar. 2

Die ontdekking

Timboektoe het sy ontstaan in 1100 voor Christus (v.C.) gehad toe nomade wat rondgereis het, dit ontdek het. Aanvanklik was dit net ʼn seisoenale dorp, waar reisigers oorgebly het, maar het kort voor lank – as gevolg van die ideale ligging – tot ʼn volledige stad ontwikkel. Volgens oorlewering het die stad sy naam te danke aan ʼn ou vrou genaamd Timboektoe wat oor die tente waggehou het, terwyl die nomade in die woestyn gaan verken het.

Die ligging van Timboektoe was ideaal vir reisigers in die woestyn om goedere uit te ruil, en die feit dat daar ʼn waterpunt was, was ook ʼn groot voordeel. Laat in die 13de en 14de eeu het hierdie nedersetting tot die Koninkryk van Mali ontwikkel. Die ligging was ʼn bymekaarkomplek van twee handelsroetes. Handelaars het van die suide hulle produkte – veral goud – met die Nigerrivier na Timboektoe gebring. Timboektoe was dus ʼn plek waar handelaars van die twee roetes mekaar ontmoet het. 3

Handel in die Sahara-woestyn

Kamele

Sonder kamele sou dit onmoontlik gewees het om handel in die woestyn te dryf. Hierdie diere is goed aangepas om vir lang tye sonder water te oorleef. Hul liggame kan ook die skerp nagtemperature en uiters warm dagtemperature weerstaan. Slawe is ook gebruik om goedere te dra, maar dit was oorwegend kamele wat ingespan was. Hierdie togte was lank, stadig en baie gevaarlik: Hewige sandstorms, onmoontlike hitte, hongersnood, dors en aanvalle deur teëstanders in die pad was die ontberinge waarmee die handelaars te doen gehad het.

Natuurlike hulpbronne

Timboektoe is gedurende die Ystertydperk (die tyd toe mense gereedskap begin gebruik het om hul werkswyse te vergemaklik) gevestig. Die Nigerrivier wat naby die stad vloei, het gereeld oorspoel, met die gevolg dat daar baie vrugbare grond vir die aanplant van gewasse was. Koper en goud is ook in die nabye omgewing ontgin, wat bygedra het tot Timboektoe se welvaart. Sout uit die noorde en goud uit die suide was grotendeels verantwoordelik vir die vooruitgang van Timboektoe. Sout is meestal afkomstig van Taoudenni, ʼn soutmyn in die Sahara wat gevorm is toe ʼn binnelandse see opgedroog het.

Nigerrivier

Die koninkryk van Mali

Met die Mali Koninkryk aan bewind vanaf 1240 tot 1645, het Timboektoe nuwe hoogtes bereik en het die stad die bekendste in die Soedan-distrik geword. Die koninkryk van Mali het sy onafhanklikheid deur die stigting van die Ghana Koninkryk (6de tot 13de eeu) verwerf, met prins Sundiata Keita aan die stuur van sake. Prins Keita kon dit regkry om ʼn koninkryk op te bou wat nie net Timboektoe regeer nie, maar ook Ghana, Walata, Tadmekka en die koninkryk van Songhai. Die koninkryk van Mali het dus die grootste koninkryk nog in Wes-Afrika geword. Leiers het die Islam-geloof aangeneem, en daarom het hierdie distrik ook ʼn groot rol in die grootskaalse verspreiding van die Islam-geloof gespeel. Plaaslike leiers het self pelgrimstogte na die heilige stad Mekka aangepak.

Die Groot Moskee van Djenne is die grootste gebou ter wêreld wat uit modderstene bestaan

Die Islam-kultuur het ook sterk op kultuurgebied begin uitbrei. Drie van Wes-Afrika se oudste moskeë is in Timboektoe geleë: Djinguereber, Sankore en Sidi Yahia. Hierdie drie moskeë en ander heilige plekke het ʼn sentrale rol in die verspreiding van die Islamgeloof in Afrika gespeel.

Ná ʼn uitspattige Mekkaanse uittog in 1324 is die keiser, Mansa Musa, geïnspireer om ʼn groot moskee (Djinguereber) en ʼn paleis (die Madugu) te bou. (Dele van die Madugu is verskeie kere herbou en gerestoureer, maar vandag is daar net ruïnes van die eens adellike woning oor.) Abu Ishaq as-Saheli is deur Mans Musa ingevoer om toesig oor die bouwerk van die moskee te hou. 4

Die volgende moskee wat gebou is, is die Sankore, en uit hom het die Sankore Universiteit ontwikkel. Hierdie gebou bestaan vandag nog, heel moontlik as gevolg van die hout raamwerk, alhoewel gereelde opknappings aan die moddermure ná ʼn reënseisoen gedoen moet word. Teen 1433 het die Toareg-volk (die nomade) weer beheer oor die stad gekry, alhoewel hulle dit vanuit die woestyn moes beheer.

Die stad het aansienlik uitgebrei, en teen 1450 het die bevolkingstal op 100 000 mense gestaan. In 1468 was die stad deur Sonni Ali, wat nie die Moslems goedgesind was nie, oorgeneem, maar gelukkig het sake weer verbeter nadat Mohammed I Askia tussen 1493 tot 1528 aan bewind was. Hy het weer toegesien dat skoolgaande kinders ʼn hoër aansien ontvang, en Timboektoe het al hoe meer leergieriges uit Libië en verskeie ander stede uit Noord-Afrika gelok om ʼn skoolopleiding te kom ontvang.

Timboektoe het nou die sentrum vir skoliere in Afrika geword, en baie historiese skrywers het oor hierdie nedersetting begin skryf, wat die Europeërs baie nuuskierig gemaak het. Die universiteit was 25 000 studente sterk, en manuskripte van verskeie studierigtings het hul weg na Timboektoe gevind, waar studente in onder andere wiskunde, astronomie, regte en mediese velde studeer het. Voornemende studente het uit so ver as Kaïro, Bagdad en Persië gekom om hul studies hier voort te sit. Baie van hierdie manuskripte het behoue gebly en vorm vandag deel van die skatkis van Timboektoe se ryk geskiedenis. 5

Marokko neem oor

In 1591 het Marokko beheer van Timboektoe geneem, en alle skoliere is gearresteer of selfs ter dood veroordeel, party is ook na Marokko gedeporteer. Die swak verdedigingsmag wat Marokko aan die stad beskikbaar gestel het, het die stad ook baie aan gereelde aanvalle blootgestel.

Europeërs ontdek Timboektoe

Gordon Laing was die eerste Europeër om Timboektoe te ontdek in 1826 en ná hom was dit die Franse ontdekkingsreisiger René-Auguste Caillié in 1828. Caillié het die Islam-kultuur bestudeer en was geletterd in Arabies en kon hom as ʼn Arabier vermom. Ná twee weke se verblyf in Timboektoe kon hy terugkeer na Europa met eerstehandse kennis van hierdie stad. Aangesien daar heelwat stories in Europa rondgeloop het oor hierdie stad se rykdom en mag, was almal nuuskierig om te hoor wat regtig daar aangaan. Heinrich Barth was ʼn Duitse geograaf wat vir vyf jaar deur Afrika gereis het. Nadat hy in 1853 besoek aan Timboektoe afgelê het, het hy ʼn boek van sy observasies en bevindinge gepubliseer.

In 1894 is Timboektoe deur Frankryk oorgeneem, en hoewel geen spoorlyne en paaie aangebring is nie, is baie van die bouvalle opgeknap. Teen 1960 het Timboektoe deel van die onafhanklike Republiek van Mali geword. Teen die laat 1990’s was daar weer pogings om die stad se geboue – wat deur erosie beskadig is – te restoureer, veral met die oog op die drie groot moskeë.

Hulle het ook ondersteuning van militêre Islamitiese magte ontvang en het beheer oor die noordelike deel van die land geneem. Timboektoe het die gebied ingesluit wat die rebelle oor beheer wou hê. Kort daarna is die rebelle gestuit deur die Islamitiese magte, wat geglo het dat die historiese monumente en artefakte blote afgodery was, en het grafte van heiliges by die moskeë Djinguereber en Sidi Yahia geplunder. Toe die militante magte wegbeweeg het, is die restourasiewerk weer in 2013 hervat.

Suid-Afrika-Mali-medewerking

Suid-Afrika is by die bewaring van die antieke manuskripte van onder meer die Kaïreens, Bagdadse en Persiese studente in Timboektoe betrokke. Die Ahmed Baba-sentrum beywer hulle vir die bewaring van dié manuskripte. In 2009 is die nuwe gebou van die Ahmed Baba-sentrum amptelik ingelyf. Hierdie gebou is ʼn produk van ʼn bilaterale ooreenkoms – wat in 2001 van stapel gestuur is ná voormalige president Thabo Mbeki se besoek aan Mali – tussen die Suid-Afrikaanse en Malinese regerings. Die oprigting van hierdie gebou het ten doel om antieke manuskripte uit Timboektoe te bewaar, asook om navorsing oor hierdie manuskripte te bevorder. 6

Gedurende die 2012- Malinese krisis is die nuwe Ahmed Baba-sentrum vir 10 maande lank deur Toeareg-rebelle beset. Gelukkig is die meerderheid van die manuskripte (ongeveer 20 000) op hierdie stadium nog nie in die nuwe gebou gehuisves nie en kon dié manuskripte vanaf Timboektoe na Bamako geskuif word. Hierdie manuskripte kan vandag nog in Bamako aangetref word. Die meerderheid van die manuskripte wat wel op die nuwe perseel gehuisves is, is egter in die kelder van dié gebou gestoor en het gelukkig ook behoue gebly.

Die oorblywende manuskripversameling is dus tans tussen Bamako en Timboektoe verdeel. Hoewel die meerderheid van die manuskripte bewaar kon word, het ongeveer 4 000 manuskripte egter in die slag van die besetting gekom, en talle duur digitiserings- en bewaringstoerusting is ook vernietig of gesteel. 6

Timboektoe vandag

Verskeie restourasieprojekte word deur die wêrelderfenisgroep UNESCO aangepak om die stad so outentiek en eg moontlik te behou. Die moderne samelewing en leefwyse het gemaak dat die moskee Sankore ʼn deel vir kommersiële gebruik – wat dan ook afbreek aan die moskee se aansien maak – moes afstaan. Die risiko bestaan dat die eens invloedryke moskee nie meer vandag in dieselfde lig gesien word nie, omdat dit plek vir moderne argitektuur en meer mense moet maak.

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 17 Januarie 2022 | Bygewerk op 3 April 2024