Vinnige feite

  • Die Antieke Egiptenare het hul kalender rondom die Nyl en die sterre beplan. Die jaar het in die middel van Julie begin, sodra die riviervlak voor die jaarlikse vloed begin styg het. 7
  • Die Nylrivier se gemiddelde afvoer (die hoeveelheid water wat deur die rivier vloei) is ongeveer 300 miljoen kubieke meter (m3) per dag. 8
  • Die Antieke Egiptenare het baie piramides gebou. Tot dusver is meer as 130 piramides in Egipte gevind, en argeoloë is nog steeds op soek na meer! 9
Foto: iStock

Onthou jy die Bybelverhaal van Moses se mamma wat hom in ʼn mandjie tussen die riete van die rivier weggesteek het? Of toe die farao nie die Israeliete uit Egipte wou laat trek nie en God vir Moses gesê het om met sy staf op die water te slaan om dit in bloed te verander? Die visse het gevrek, en die water het gestink. Dit het alles by die Nylrivier gebeur!

Ligging

Die Nylrivier vloei van suid na noord deur Oos-Afrika. Dit begin in die riviere wat in die Victoriameer vloei (geleë in die hedendaagse Uganda, Tanzanië en Kenia) en mond uit in die Middellandse See, amper 6 700 kilometer noord, wat dit een van die langste riviere in die wêreld maak. Die Nyl word al vir ʼn geruime tyd as die langste rivier in die wêreld erken, maar sommige wetenskaplikes voer aan dat die Amasonerivier in Suid-Amerika langer is. Die Nylrivier staan as die vader van Afrika se riviere bekend en het ʼn kritieke rol in die ontwikkeling van Antieke Egipte gespeel. 1

Egipte staan as die “geskenk van die Nyl” bekend, want as dit nie vir dié rivier was nie, sou mense glad nie in die Sahara-woestyn ʼn lewe kon maak nie. 2 22% van die Nylrivier loop deur Egipte. Benewens Egipte loop die Nyl deur of langs die grens van elf ander lande, naamlik Eritrea, Burundi, Tanzanië, Rwanda, die Demokratiese Republiek van die Kongo, Kenia, Uganda, Soedan, Ethiopië en Suid-Soedan. Die rivier se twee hoofvertakkings is onderskeidelik die Wit Nyl en die Blou Nyl. 3

Herkoms van die naam

Die naam Nyl kom van die Griekse woord “neilos”, wat ‘riviervallei’ beteken. Die Antieke Egiptenare het die rivier “Ar” of “Aur” (‘swart’) genoem, vanweë die kleur van die sediment wat oorgebly het ná die jaarlikse oorstroming van die rivier. 4

Die grond van die Nylrivierdelta tussen El Qâhira (Kaïro) en die Middellandse See is ryk aan voedingstowwe as gevolg van die groot hoeveelheid slik (‘papperige modder’) wat die Nyl agterlaat as dit in die see vloei. Die oewer van die Nyl bevat ook baie vrugbare grond, danksy die jaarlikse oorstromings wat vroeër jare in Augustus plaasgevind het. Uit die ruimte kan jy die groot verskil (kontras) tussen die lowergroen rivieroewers van die Nyl en die dorre woestyn waardeur dit vloei, duidelik sien.

Ontwikkeling

Vandat die Aswandam in 1970 gebou is, oorstroom die Nyl nie meer elke jaar nie. Hierdie groot dam beheer die vloei van die rivier om elektrisiteit op te wek, plase te besproei en om huise van drinkwater te voorsien. Baie van Egipte se kos word reeds vir duisende jare in die Nyldeltastreek verbou (gegroei). Antieke Egiptenare het besproeiingsmetodes ontwikkel om die hoeveelheid grond wat hulle vir gewasse kon gebruik, te vergroot en ʼn vinnig groeiende bevolking te ondersteun. Bone, katoen en koring was belangrike en volop gewasse wat maklik gestoor en verhandel kon word.

Die Nylrivierdelta was ook ʼn ideale plek vir die papirusplant om te groei. Antieke Egiptenare het die papirusplant op baie maniere gebruik, soos om lap en tou te maak, maar verreweg die belangrikste gebruik daarvan was om papier te maak. Die rivier het baie boumateriaal vir die Egiptenare voorsien. Hulle het die modder van die rivieroewers gebruik om stene wat in die son gedroog is, te maak. Hierdie stene is gebruik om huise, mure en ander geboue te bou. Die Egiptenare het ook kalksteen en sandsteen uit die heuwels aan die kant van die Nyl gekap. 5

Behalwe dat hulle die natuurlike hulpbronne van die rivier vir hulself gebruik het en dit met ander geruil het, het die vroeë Egiptenare die rivier ook gebruik om te bad, die water te drink, asook vir ontspannings- en vervoerdoeleindes. 6

Tans woon 95% van die inwoners van Egipte binne ʼn paar kilometer van die Nyl af. Kanale vervoer die water uit die Nyl om plase te besproei en stede van water te voorsien. Die Nyl is verskriklik belangrik vir landbou en visvang en is ook ʼn noodsaaklike manier om mense en goedere te vervoer. Talle inwoners van Kaïro gebruik vinnige bote, watertaxi’s of veerbote om die besige strate te vermy. Die Nylrivier is vandag steeds ʼn belangrike handelsroete wat Afrika met markte in en buite Europa verbind.

Die Nylrivier is nie net belangrik vir mense nie, die rivier en sy oewers huisves ook ʼn ryk natuurlewe met meer as 100 dierespesies – insluitende verskillende soorte visse en voëls, asook skilpaaie, slange, seekoeie en een van die grootste reptiele op ons planeet, die Nyl-krokodil! Voëlliefhebbers sal meer as 300 soorte voëls op die Nylrivieroewer aantref.

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 20 Januarie 2022 | Bygewerk op 5 Augustus 2023