Vinnige feite

  • Die woord “Mediterreens” is afgelei van die Latynse woord “mediterraneus” wat middel van die land beteken.
  • Die Romeinse Ryk het die see vir ongeveer 400 jaar beheer.
  • Daar is meer as 3 300 eilande in die Middellandse See. Die grootste eiland is Sisilië en dis ook waar jy Europa se grootste vulkaan, Etna, sal opspoor.
  • Die Golf van Sidra is die streek met die hoogste temperatuur in die omgewing. Die gemiddelde seetemperatuur is 31 °C! 3
  • Die Middellandse See bevat baie kleiner seë, soos die Baleariese See, die Liguriese See, die Adriatiese See, die See van Marmora en die Egeïese See.
  • Die water in die see is baie donkerder as dit waaraan Suid-Afrikaners gewoond is. Die donkerblou kleur is as gevolg van ’n tekort aan voedingstowwe wat tot plantegroei lei. Dit lyk daarom donkerder as die gemiddelde water.
  • Die Straat van Gibraltar tussen Spanje en Marokko is ’n kanaal wat die Middellandse See met die Atlantiese Oseaan verbind.
  • Die oostelike kant van die see is baie souter as die weste. Dit is omdat die oostelike kant laer watervlakke het en dit lei tot ’n hoër soutkonsentrasie.
  • Carl Petersen, ’n Amerikaanse matroos wat in die jare vyftig om die wêreld gevaar het, het gesê dat die storms op die see tussen Kreta en Malta baie erger was as enige weer wat hy in die ander seë en oseane ervaar het.
  • Die opening van die Suezkanaal in 1869 het vervoer tussen Europa en Asië versnel en het die see as ’n belangrike handelsroete gevestig.
  • Die Middellandse See is ook die tuiste vir bedreigde spesies, soos die monniksrob, wat al amper uitgesterf het. Die Europese paling word ook beskerm. 4

Klim saam met ons aan boord van ’n skip en vaar saam na die potblou waters van die Middellandse See. Hierdie see word ook soms die Mediterreense See genoem en dit word deur Suid-Europa, Noord-Afrika en Suidwes-Asië omring.

Dié see lê dus tussen Europa aan die noorde en weste, Afrika aan die suide en Asië aan die ooste. Dis ’n streek wat, nes Suid-Afrika, heerlike warm weer in die somer geniet, met lande soos Griekeland, Spanje, Italië en die suide van Frankryk, wat baie gewild onder toeriste is.

Baie vroeë beskawings het in hierdie gedeelte ontwikkel, soos die antieke Griekse en Romeinse beskawings. Die omgewing om die Middellandse See word daarom die “wieg van die beskawing” genoem. 1

Wat jy moet weet

Daar word beraam dat die Middellandse See ongeveer ses miljoen jaar gelede omtrent heeltemal droog was. Volgens wetenskaplikes is die see meer as 5 miljoen jaar oud en is veroorsaak deur ’n massiewe vloed wat ongeveer 5,33 miljoen jaar gelede plaasgevind het. Die omgewing is glo in slegs twee jaar gevul en ’n see is gevorm.

Die see is ongeveer 2 510 000 vierkante kilometer groot. In die weste van die see is daar ’n smal waterweg wat as die Straat van Gibraltar bekendstaan. Dit is ’n seestraat en verbind die Middellandse See met die Atlantiese Oseaan.

Die Dardanelle, die See van Marmora en die Bosporus, ook ’n seestraat, verbind weer die Middellandse See met die Swartsee in die noordooste. Die Dardanelle is die lang, smal deurgang tussen die Egeïese See en die See van Marmora. In die antieke tye was dit bekend as die Hellespont. Die gebied is ook bekend vir die Slag van Gallipoli wat in 1915 tydens die Eerste Wêreldoorlog plaasgevind het. Die See van Marmora is ’n binnelandse see in die noordweste van Turkye tussen die Bosporus en die Dardanelle.

Ons vind in die suidoostelike gedeelte van die see die bekende Suezkanaal. Dit verbind die Middellandse See met die Rooisee. Die Suezkanaal is in Noordoos-Egipte en is in 1869 geopen. Dit word gebruik deur skepe wat tussen Europa en die Indiese Oseaan vaar en is ʼn belangrike handelsroete. Die Bosporus is die smal seestraat wat die Swartsee met die See van Marmora verbind.

Die diepste gedeelte van die see (wat al gemeet is), is suid van Griekeland op 5 100 meter diep. Die see is ongeveer 3 900 km lank en 1 600 km op sy breedste punt.

’n Onderwaterrif tussen Sisilië en Afrika verdeel die see in twee dele, die westelike en die oostelike deel.

Die seevloer bevat sedimente wat uit leem, klei en sand bestaan en dit is op ’n blou modderige fondament gevorm. Die seekus is klipperig en steil. Die enigste groot rivierdeltas word by die Rynrivier in Frankryk, die Po-rivier in Italië en die Nylrivier in Egipte geskep. Die Ebrorivier vloei ook in die see vanaf Spanje in.

Die grootste bron van die Middellandse See se water is die Atlantiese Oseaan, aangesien die meeste van die water van die riviere baie vinnig verdamp.

Daar is meer as 3 300 eilande in die Middellandse See – die grootste eilande is Kreta, Siprus, Korsika, Sardinië en Sisilië. Ongeveer 15 miljoen mense bly op hierdie eilande.

Daar is nie vreeslike golwe in hierdie see soos by Suid-Afrikaanse strande nie, omdat die see meestal deur land omring word. Die gebied het gematigde nat winters en warm, droë somers.

Sekere gedeeltes van die Middellandse See het hul eie name, soos die Egeïese See wat tussen Griekeland en Turkye is en die Adriatiese See wat Italië van die Balkanskiereiland skei.

Die ekonomie

Die Middellandse See grens aan 22 verskillende lande. Dit is Spanje, Frankryk, Monaco, Italië, Malta, Slowenië, Kroasië, Bosnië en Herzegowina, Montenegro, Albanië, Griekeland, Turkye, Siprus, Sirië, Libanon, Israel, Egipte, Libië, Tunisië, Algerië, en Marokko.

Toerisme is ’n groot bron van inkomste vir baie lande in die omgewing en dis veral die strande wat in die somer duisende mense lok. Mense maak al vir eeue op die see staat vir oorlewing en daar is baie vissermanne met bote.

Vis is egter nie meer so volop in hierdie see teenoor ander seë nie. Die hoofvissoorte wat gevang word, is tuna, sardientjies en ansjovis. Daar is ook kuslangs in Spanje, Sisilië en Tunisië petroleumneerslae wat ontgin word. Daar is baie plase in die Mediterreense gebied met heelwat landboubedrywighede en veral olywe, sitrusvrugte, druiwe en kurk word daar geproduseer. 2

Geskiedenis

Die Mediterreense gebied is ryk aan geskiedenis en baie vroeë beskawings waarvan ons nou leer en lees, het daar ontstaan.

Dink net aan die Egiptenare wat so vroeg as 3000 v.C. floreer het, die Egeïese volk wat Kreta en Griekeland vanaf 2000 v.C. bewoon het, die Hittiete wat van 1900 tot 1200 v.C. in Anatoli was en die Fenisiërs, Kartagers en Griekse stadstate.

Teen die eerste eeu was die hele omgewing onder Romeinse beheer en die Romeine het die see Mare Nostrum (“ons see”) gedoop. Hierdie antieke volke het die see deurkruis na ander gebiede om daar handel met mense te dryf. Die Moslemse Arabiere het ook in die 600’s vanaf Arabië in Noord-Afrika inbeweeg en Germaanse groepe het vanaf die noorde migreer.

Teen die 11de eeu het die Christene se oorname van Spanje en Sisilië begin en stadstate soos Genua, Venesië, en Barcelona het tussen die 11de en 14de eeue ontwikkel. Die omgewing het tydens die 15de eeu agteruitgegaan met die ontwikkeling van ’n handelsroete om Afrika. Die Ottomaanse Turke was ook ’n teenwoordigheid in die oostelike gebied en in Noord-Afrika. Die omgewing is egter in die 18de en 19de eeue deur Groot-Brittanje gedomineer en hulle het Gibraltar, Malta, Siprus en Egipte bekom. Die see het vir die eeue wat gevolg het, ’n belangrike handelsroete gebly. 2

Argeoloë het al baie interessante vondse in die Mediterreense gebied gevind, en een daarvan is Soline, ’n ou nedersetting wat nou onderwater is. Hulle het ook daar ’n 7 000 jaar oue pad onder die water gevind. Daar is ook baie skeepswrakke gevind met skatte, soos ou Romeinse munte en juwele. 2

Woordbank

beskawings ’n Gemeenskap met ’n hoë vlak van organisasie en ontwikkeling.
floreer Welvarend/suksesvol word; vooruitgaan, ontwikkel.
leem Grondsoort; slikgrond, kleigrond.
neerslae Afsetting, aardlaag.
onderwaterrif   ’n Klipbank onder die see.
rivierdeltas Driehoekige stuk land wat deur sedimentasie in die mond van ’n rivier gevorm word.
sedimente Die deeltjies van vaste stowwe wat in ’n vloeistof na die bodem afsak.
see ’n Massa soutwater wat die grootste deel van die oppervlak van die aarde bedek.
seestraat ’n Nou deurgang van die see tussen twee lande; waterweg.
skiereiland ’n Stuk land wat byna heeltemal deur water omring word.
vondse Iets wat gevind is; ontdekking.

Lees hierdie artikels om meer oor Middellandse See te leer

Kyk na hierdie video’s om meer oor die Middellandse See te leer

Die Middellandse See in ʼn neutedop

Nog feite

Kyk net wat al als in die Middellandse see gevind is

Hier was ’n straat/pad 7 000 jaar gelede!

Gepubliseer op: 4 Augustus 2023 | Bygewerk op 30 November 2023