Vinnige feite

 

  • Egiptiese landbouers het ongeveer 3000 v.C. landbouwerktuie gebruik wat hoofsaaklik van klip gemaak is en ook soms koperdele besit het.
  • Sekere funksies kan nie met handgereedskap uitgevoer word nie en vereis ʼn sterk aangedrewe masjien om die stof of produk te sny, skaaf, fyn te maak of te vorm.
  • Werktuie kan wissel in grootte, funksie en hoe dit funksioneer.
Foto: iStock

ʼn Werktuig is ʼn stuk gereedskap wat nodig is om iets te maak of ʼn taak mee te verrig. 1 Gereedskap is dus al die werktuie wat nodig is om iets te maak, ʼn taak te verrig of ʼn bedryf te beoefen. ʼn Stuk gereedskap word ook gebruik om verandering aan ʼn voorwerp aan te bring, byvoorbeeld om te knip, skeer, saag, maal, pers of druk. Werktuie kan wissel in grootte, funksie en hoe dit funksioneer. Werktuie kan handgedrewe, saam met diere gebruik of elektronies of meganies aangedryf word. Vergelyk die voorbeelde hier onder. 2

  • ʼn Werktuigword gebruik om hout gelyk te maak.
  • ʼn Hamer en skroewedraaier is handige gereedskap om te hê vir selfdoenprojekte.
  • ʼn Boer gebruik ʼn trekker en ʼn ploeg om die lande voor te berei voordat die saad geplant word.
  • My ma het ʼn hele versameling tuingereedskap omdat sy baie lief is vir tuinmaak.
  • Die sjef op die televisiekookprogram gebruik kombuisgereedskap wat ek nie eers geweet het bestaan nie.

Die eerste werktuie

Die mens het in die vroegste tye hulpmiddele soos stukke hout en klip as eenvoudige werktuie of wapens gebruik. Klippe is byvoorbeeld gebruik om koring fyn te maal en vuur aan te steek. Egiptiese landbouers het ongeveer 3000 v.C. landbouwerktuie gebruik wat hoofsaaklik van klip gemaak is en ook soms koperdele besit het. Hulle belangrikste produksie was koring en gars (barley) waarvan brood en bier gemaak is. Die ploeg wat die kleinboere gebruik het, was ʼn skoffel wat aan ʼn paal vasgemaak is en deur ʼn span osse getrek is.

Met die primitiewe implement het hulle die grond – wat gelukkig meestal nie juis klipperig was nie – omgedolwe en die saad wat die landbouer met sy hand oor die land uitgestrooi het, ingeploeg. Die primitiewe klipsekels waarmee die oes in die vroegste tye afgesny is, is later deur koper– en bronssekels vervang. 3

Mense het ontevrede geraak met die primitiewe hulp van natuurlike voorwerpe as werktuie wat ʼn nuwe era van uitvindings ingelyf het. Deur die vorm en grootte van gereedskap te verander, is take doeltreffender uitgevoer. Byle is gemaak deur een klip teen ʼn ander klip te vryf totdat die rand skerp genoeg is om snywerk te doen of hout te kap. Mense het natuurlike metale in die natuur ontdek en gevind dat dit oor hitte smelt, vorm verander en in ʼn nuwe vorm gegiet kan word.

Hamers, messe, naalde en sae het stadigaan hul verskyning begin maak en kon ingespan word om huise te bou en gevorderde take uit te voer. 3 Sterker gereedskap wat langer hou, soos koper en yster, het hout en klippe begin vervang, en dit is ook gebruik vir die vervaardiging van wapens. Die latere uitvinding van werktuie wat deur meganiese krag aangedryf word, het tot die masjinerie-era in die laat 1700’s gelei. 2

Handgereedskap

Handgereedskap is gereedskap wat in die hand gehou word wanneer dit gebruik word en nie meganies of elektries aangedryf word nie. 1

Algemene handgereedskap

Die hamer is ʼn stuk gereedskap met ʼn metaalkop aan ʼn steel wat gebruik word om mee te slaan of kap, en dit is een van die eenvoudigste stukke gereedskap wat steeds lyk op sy eerste weergawe. 1 Verskillende soorte hamers word vandag aangetref met aanvullende funksies soos om metaal mee te buig of vorm. ʼn Sleehamer het ʼn baie swaar staalkop met twee plat dele en word onder meer gebruik om voorwerpe in klein stukkies te vergruis. 2

ʼn Ander algemene stuk gereedskap is ʼn skroewedraaier. ʼn Skroewedraaier is ʼn stuk gereedskap waarmee skroewe vas of losgedraai kan word. 2 Dit het gewoonlik ʼn dun, wigvormige punt wat pas in die gleuf van ʼn skroefie se kop, of ʼn stervormige punt vir skroefkoppies met ʼn soortgelyke vorm. 1

Gereedskap vir sny en vorm

ʼn Saag is ʼn stuk gereedskap wat bestaan uit ʼn plat strook staal, driehoekig getand aan die een kant (die snykant) – wat met die hand of meganies, deur ʼn heen-en-weer- of roterende beweging – hout, metaal, klip, ensovoorts kan deursny of verdeel. 1 Tipes sae wat verskillende funksies verrig, is onder meer ʼn boog-, hand-, trek-, yster-, dwarssaag en houtbeitel. 2

Boorgereedskap

ʼn Handboor is ʼn boortoestel wat in die hand gehou word wanneer daarmee gewerk word. Die boorpunt word vasgeklem in ʼn klembus en word met behulp van tandratte en ʼn slingertjie gedraai. Daar is ook weergawes van ʼn handboor waar die booryster wat dwars in die houthandvatsel vasgesit is, met die hand gedraai kan word. 2 Daar is wel ʼn verskeidenheid van bore beskikbaar wat gebruik word vir verskillende funksies, onder meer ʼn gegroefde, hol, meganiese, pneumatiese en lugdrukboor. 1

Meetgereedskap

Dit is noodsaaklik om die regte gereedskap aan te skaf, sodat akkurate afmetings gemaak kan word voordat voorwerpe gesny en gevorm word. Indien mens verkeerde afmetings maak, kan die projek skeefloop. 2 Hierdie gereedskap varieer van ʼn maatband, meetstok en meetpasser tot ʼn waterpas. 1

Masjiengereedskap

Sekere funksies kan nie met handgereedskap uitgevoer word nie en vereis ʼn sterk aangedrewe masjien om die stof of produk te sny, skaaf, fyn te maak of te vorm. 2 Masjiengereedskap is gereedskap wat deur ʼn masjien aangedryf word, teenoor handgereedskap wat nie meganies van aard is nie, maar deur die hand gedryf word. Masjiengereedskap word volgens funksie in verskillende groepe ingedeel, onder meer draaibanke, boor-, slyp-, sny- en skaafmasjiene.

Plaasgereedskap en -implemente

Om ʼn boerdery suksesvol te bedryf, is die gebruik van verskillende werktuie nodig. Boere gebruik trekkers, skrapers, ploeë, stropers, laaigrawe en ʼn verskeidenheid van masjiene om die lande voor te berei voordat saad geplant word. Met vandag se moderne masjinerie word masjiene, genoem saaiers of saadbore, selfs gebruik om sekere saad te plant, terwyl saad vroeër jare slegs per hand geplant is. Oesmasjiene word gebruik om die gewasse te oes, hoewel daar steeds sekere gewasse is wat per hand geoes word.

ʼn Groot verskeidenheid kleiner werktuie word ook op plase gebruik om die lande te bewerk. Hoewel baie werktuie elektries of meganies aangedryf word, kan sekere stukke gereedskap nie maklik deur elektriese plaasvervangers vervang word nie. 4

Tuingereedskap

Om ʼn tuin in stand te hou, te verbeter en te bewerk, vereis die gebruik van geskikte tuingereedskap. Basiese tuingereedskap sluit in ʼn grassnyer, tuingraaf, skoffel, hark, snoeiskêr of ʼn pik om ʼn boom te plant. 5 Daar is natuurlik nog ʼn groot verskeidenheid ander tuingereedskap wat ingespan kan word, waarvan die kruiwa een is – een van die vroegste vorme van werktuie wat vandag steeds baie naby aan sy oorspronklike vorm van die antieke tye in ons tuine pryk. 3

Tuinmaak is ʼn gewilde stokperdjie onder groenvingers, en hoewel ons in ʼn moderne era leef waarin baie werktuie gemeganiseerd word (deur masjiene vervang word), sal die lojale tuinmakers vinnig sê dat om self met ʼn tuingrafie in die grond te grawe, deel van die ontspanning en terapie van tuinwerk is. 5

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 25 Januarie 2022 | Bygewerk op 3 April 2024