Vinnige feite

  • In sekere lande in Afrika en die Amazone-woud maak mense steeds gebruik van ruilhandel.
  • In sommige kultuurgroepe “betaal” ’n man die vrou met wie hy wil trou se ouers met beeste, skape en hoenders. ’n Mens noem dit “lobola”. Dié tradisie (of gebruik) is die rede waarom mense vir ’n bruidspaar ’n geskenk gee. 18
  • Die eerste OTM’s in Suid-Afrika is op 21 April 1981 deur Standard Bank geopen. Dit is amper 14 jaar nadat die eerste OTM in die wêreld op 21 Junie 1967 in Londen in die Verenigde Koninkryk geopen is.19
  • Die wêreld se hoogste OTM is 4 693 meter hoog en behoort aan die National Bank of Pakistan. 20
  • Dit kos 2,4c om ’n Amerikaanse pennie (soos hulle 1c-muntstuk) te maak. Dit kos dus meer om die muntstuk te maak as wat dit werd is.
  • Die fabriek waar die VSA se geld gedruk word, gebruik 9,7 ton ink elke dag. 21
  • Meer Monopoly-geld word elke jaar in die VSA gedruk as regte banknote. 22
  • Die Suid-Afrikaanse Munt maak nie net ons munte nie, maar het al munte vir 50 lande ander lande in Afrika, Suid-Amerika en Asië gemaak.23
  • Ons R5-muntstuk word as een van die veiligste muntstukke in die wêreld beskou en niemand het nog ooit ’n R5-muntstuk vervals nie. 24
  • Suid-Afrika se Krugerrand is ons waardevolste muntstuk en mense reg oor die wêreld koop dié goue muntstuk as ’n belegging. Krugerrande word al van 1967 af hier gemaak en het oudpresident Paul Kruger se gesig aan die een kant en ’n springbok aan die ander kant. Een Krugerrand is nou $2 000 (of sowat R30 000) werd. 25 Tien jaar terug (in 2011) het ’n Krugerrand $1 400 gekos (ongeveer R9 500 toe). 26

Foto: iStock

Geld is iets wat ’n mens gebruik om goed mee te koop (soos speelgoed of kruideniersware) of om vir ’n diens te betaal (soos wanneer iemand jou pa se motor was). Lank voordat daar geld was (soos die papiernote en muntstukke wat ons vandag gebruik), het mense ander maniere gehad om vir dinge te betaal. 1

Van ruilhandel tot muntstukke

Antieke mense het aanvanklik goed onder mekaar geruil, byvoorbeeld ’n skaap word geruil vir 10 hoenderhenne. ’n Mens noem dit ruilhandel. Mense het ook dienste gelewer (goed gedoen) in ruil vir kos. Die Inka-mans in Suid-Amerika het byvoorbeeld vanaf 15-jarige ouderdom vir die staat gewerk deur paaie en so meer te bou en het dan kos en ander goed wat hulle nodig gehad het, by die staat gekry.

Antieke Chinese munte

Van die goed wat die meeste geruil is, sluit in vee (soos beeste en skape), tabak, graan, sout en tee. Ruilhandel was egter ’n tameletjie omdat die een mens die ander moes oortuig dat dít wat hy wou ruil dieselfde waarde as die ander persoon se goed gehad het.

Twee kant van ‘n antieke goue munt

Mense het toe begin dink aan voorwerpe wat hulle kon gebruik as geld. Iets wat maklik vervoer of gedra kon word, want partykeer moes hulle ver stap of per skip reis om iets by iemand te gaan “koop”. Dit moes ook lank hou, omdat dit baie keer (oor en oor) deur verskillende mense gebruik moes word. Dit moes iets wees wat vir almal van (dieselfde) waarde kon wees.

Die Asteke in Mexiko het klein poppies uit goud gemaak, terwyl die Egiptenare en die antieke Kelte in Ierland metaalringe uit koper, brons en goud gemaak het. Hulle het dié ringe dan gedra om te wys hoe ryk hulle was. Skulpe (soos die Kauri-skulp) was ook baie gewild in Amerika, Asië, Afrika en Australië.

Sowat 1 000 jaar voor Christus (v.C.) het die Chinese klein modelle van gereedskap gemaak (soos messe en skoffels). Dit het gate in gehad sodat hulle dit aan ’n ketting kon ryg. Die Chinese het later (omtrent 100 v.C.) stukke leer (van dierevelle) met kleurvolle patrone op geverf as “geld” begin gebruik.

Daar word geglo dat die eerste munte soos ons dit vandag ken, 2 700 jaar gelede in Turkye gemaak is. Dit was klein, ronde skyfies of plaatjies wat uit goud of silwer gemaak is. Hulle het prentjies (van gode en keisers) op dié munte uitgekrap of gestempel om te wys wat elke muntstuk werd was.

Van papiergeld tot bankkaarte

Die eerste amptelike banknote of papiergeld wat deur ’n regering uitgereik is, was ongeveer in 1023 in China. 2 Die ontdekkingsreisiger Marco Polo het in die 13de eeu (in ongeveer 1271) na China gereis en selfs ’n boek oor dié indrukwekkende “geldstelsel” geskryf.

Die eerste banknote in Europa is eers baie later, in 1661, in Swede gemaak. 3 Die eerste papiergeld in die Verenigde State van Amerika (VSA) is kredietnotas genoem (in 1690), wat aan soldate uitgereik is. Teen 1861 was daar twee geldeenhede in die VSA. 4 Daar was ’n burgeroorlog aan die gang en die twee kante wat teen mekaar geveg het, het elkeen hul eie geld gemaak. Dit was eers in 1913 dat die Amerikaanse dollar ($) soos ons dit vandag ken, sy verskyning gemaak het. Baie lande in Europa (wat deel is van die Europese Unie) gebruik sedert 1 Januarie 2002 almal dieselfde geldeenheid, die euro (€). 5

Die Royal Bank of Scotland was in 1777 die eerste bank in Europa om banknote in kleur uit te reik (swart, rooi en blou) en was in 1826 die eerste Britse bank om ’n geldnoot uit te reik wat aan albei kante gedruk was. 6

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank (SARB) is verantwoordelik daarvoor om ons land se banknote en munte uit te reik, te versprei en te vernietig. Die SARB is op 30 Junie 1921 begin en die eerste Suid-Afrikaanse banknote is op 19 April 1922 deur die SARB uitgereik. Suid-Afrika het tot in 1961 ponde, sjielings en pennies gebruik. Eers tóé is daar na rand en sent oorgeskakel. 7 Ons papiergeld word by die Suid-Afrikaanse Banknootmaatskappy in Pretoria gedruk en ons munte word by die Suid-Afrikaanse Munt in Centurion gemaak. 8

Die president van die Reserwebank se handtekening verskyn op al ons geldnote en daar is verskeie veiligheidskenmerke wat dit moeilik maak om dit te vervals. Die ink op ons banknote staan uit as jy met jou vinger daaraan voel (die tekstuur), daar is ’n blink strokie en ’n watermerk (as jy dit teen die lig hou, sien ’n mens oudpresident Nelson Mandela se gesig) in elke noot. Elke banknoot het ook ons landswapen en ’n unieke rooi nommer op.

Vandag het amper almal ’n bankkaart waarmee jy goed by die winkel kan koop, of jy kan geld uit jou rekening by ’n outomatiese tellermasjien (OTM) trek. Mense dra deesdae egter al minder kontant (banknote en munte) in hul beursies rond, omdat dit maklik kan wegraak of gesteel kan word.

Suid-Afrikaanse Rand

Die meeste mense doen daarom deesdae hul banksake op die internet (op die rekenaar of op ’n toepassing/app op jou selfoon). Maar daar is ook skelms op die internet wat toegang tot mense se bankrekenings kry en dan geld uit dié rekenings vat (onttrek). ’n Mens moet baie versigtig wees en nie sommer jou bankkaart of -nommer vir enigeen gee nie. Suid-Afrikaners het in 2019 meer as R1 miljard verloor weens skelms wat mense se inligting bekom. 9

Geld van die toekoms

Geld soos ons dit vandag ken, gaan oor ’n paar jaar baie anders lyk. Al hou ons baie van die geluid wat munte in ons broeksak maak of dat ons spaarvarkie al hoe swaarder weeg, gaan ons eendag dalk net elektroniese (of digitale) geld gebruik. Dit is met ander woorde nie geld wat ’n mens kan vashou of in jou beursie bêre nie.

’n Mens noem dit kriptogeld en ’n mens gebruik dit op die internet om vir goed te betaal, maak nie saak in watter land jy bly nie. 10 Jy kan dus as jy in Suid-Afrika woon iemand in die VSA met kriptogeld uit jou “digitale beursie” betaal, maar jy kan nie lekkergoed by die winkel met kriptogeld koop nie.

Ons kry reeds meer as 1 300 verskillende kriptogeldeenhede soos Bitcoin (wat die bekendste is), Ethereum, Ripple, Bitcoin Cash, Cardano en Litecoin. Niemand weet wie kriptogeld begin het nie, maar bitcoin was die eerste van dié soort geld en is in Januarie 2009 begin deur iemand met die skuilnaam Satoshi Nakamoto. 11 12 13

Kriptogeld het nie ’n vaste waarde nie en wissel (verander) van dag tot dag. Die waarde word bepaal deur hoeveel mense (die mark) bereid is om daarvoor te betaal. Hoe meer mense dus kriptogeld koop, hoe waardevoller (duurder) word dit. Dit werk amper soos die wisselkoers (hoeveel rand jy moet gee om ’n ander land se geld te kan koop, byvoorbeeld Amerikaanse dollar ($), Britse pond (£) of euro (€)). Neem die Amerikaanse dollar as voorbeeld: Dit kos miskien vandag R15 om $1 te koop, maar môre kos dit dalk R16 om $1 te koop. 14

Baie mense is nog skrikkerig om kriptogeld te koop (of te myn – amper soos om vir goud onder die grond te delf), want daar is nog nie ’n plek (soos ’n sentrale bank) wat reëls hieroor het nie. Jy kan kriptogeld “verloor” (dit kan wegraak op die internet) en kriptogeld se waarde verander ook baie vinnig. Jy kon byvoorbeeld in Januarie 2020 een bitcoin koop vir R150 000. Net meer as ’n jaar later in Februarie 2021 kos een bitcoin al meer as R700 000! 15 In April 2011 het een bitcoin net R15 gekos. 16

Daar is net 21 miljoen bitcoins wat ’n mens kan koop, maar baie is reeds verkoop (3 van elke 4 beskikbare bitcoins is al verkoop). 17

Woordbank

antieke Uit die ou Griekse of Romeinse tyd.
gode In die antieke tye het gode ’n belangrike rol gespeel en is daar geglo dat hulle onder meer voorspoed en geluk gebring het vir diegene wat hulle dien en volg.
indrukwekkende Iets besonders wat ʼn indruk maak.
keisers ’n Man (hoër as ’n koning) wat oor ’n hele groep lande regeer.
kruideniersware Kos en skoonmaakmiddels.
Munt Die plek waar geld (munte) gemaak word.
muntstukke Geldstukke met die land se stempel (gesig van ’n minister/koning/president/ nasionale embleem, ens.) daarop.
skoffels Werktuie om onkruid mee uit te krap/kap.
spaarvarkie Spaarbussie (om jou geld in te bêre) in die vorm van ’n varkie.
staat Die regering en politieke organisasie van ’n land.
unieke Enig in sy soort; merkwaardig; buitengewoon, eiesoortig; onvergelykbaar.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Die geskiedenis van geld

Bitcoin en kriptogeld

Verstaan kriptogeld beter

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 2 Augustus 2021 | Bygewerk op 3 April 2024