Vinnige feite

  • Daar is tussen 1 000 en 100 000 bakterieë in ons mond (en dit is selfs as ons gereeld tande borsel!). As ons nie gereeld tande borsel nie, kan daar tussen 100 miljoen en 1 miljard kieme in ons mond rondsluip. 10
  • Selfone is 18 keer vuiler as ’n toilethandvatsel. Wetenskaplikes het bevind dat daar op 1 uit elke 6 selfone ’n bakterie genaamd E. coli is (dit is dieselfde bakterie wat in besmette kos voorkom. Dit kan maagpyn, diarree en naarheid veroorsaak). Maak elke paar dae jou selfoon met ’n antibakteriese lappie skoon. 11
  • Net 1 uit elke 20 mense was hul hande nadat hulle die badkamer gebruik het. Dink net hoeveel kieme is daar as net 2 kinders uit jou hele klas hulle hande was! Wêreldwyd gaan 2,4 miljoen mense dood omdat hulle nie goeie persoonlike higiëne toepas nie. 12
  • Deur jou oorfone vir net ’n uur te dra, vermeerder die bakterieë in jou ore met 700 keer. 13
Foto: iStock

Ons kom elke dag in aanraking met miljoene kieme en om te keer dat ons nie siek word of ander mense siek maak nie, moet ons mooi na ons liggame kyk. ’n Mens noem dit goeie persoonlike higiëne as jy elke dag bad of stort, jou hande gereeld was en jou tande borsel. Kieme maak ’n mens nie net siek nie, maar jy ruik ook nie baie lekker as jy nie gereeld bad nie! As jy mooi na jouself en jou voorkoms omsien, lyk én voel ’n mens sommer goed oor jouself. En onthou: Hoe iemand lyk, sê baie oor daardie persoon. 1

Wat moet ek doen?

Hande was

Ons hande is die grootste draers van kieme en ons gebruik ons hande die hele dag – as ons speel, eet, huiswerk doen, op die telefoon gesels of na die winkel toe gaan – daarom begin goeie higiëne by ons hande. Was jou hande altyd –

  • voor etenstyd of voordat jy aan kos vat;
  • voordat én nadat jy iemand se hand skud;
  • nadat jy by die badkamer was;
  • as jy buite gespeel het of winkel toe was;
  • as jy genies of gehoes het of in kontak was met iemand wat siek is; en
  • as jy met jou troeteldier gespeel het.

Ons moet vir minstens 20 sekondes lank ons hande was. Hoe lank is dit? Sing “Veels geluk, liewe maatjie” minstens twee keer terwyl jy jou hande was. Was die bo- en onderkant van jou hande, elke vinger en ook tussen jou vingers, asook jou pols/gewrig.

Naels

Dit is belangrik dat ons ons naels skoon en kort hou. Omdat daar so baie bakterieë en kieme op ons hande en onder ons naels kan wees, moet ons dit gereeld met ’n naelborseltjie en seep skrop en ons naels kort knip. Onthou, ons vat gereeld aan ons gesig en oë, en as ons hande en naels nie skoon is nie, kan dit ons baie siek maak. 2

Bad of stort

As ons nie gereeld ons lyf en hare met seep/sjampoe en water was nie, sal ons baie sleg ruik. As ons nie ons hare gereeld was nie, sal dit soos ’n kraaines in allerhande rigtings staan én kopluise kan besluit dit is ’n baie lekker plek om te bly. Onthou: As jy geswem het, beteken dit nie jy hoef nie vanaand te bad nie! As jy groot genoeg is, kan jy natuurlik stort ook. As ons bad en hare was, was ons nie net grond en sweet af nie, maar ons was ook dooie selletjies af wat ons vel elke dag afskud. Gooi jou vuil klere in die wasgoedmandjie voordat jy bad en gebruik altyd jou eie, skoon handdoek om af te droog. Kieme kan op nat handdoeke wegkruip en jou siek maak. Trek skoon klere aan as jy klaar gebad het. 3

Tande borsel

Vra maar vir enige tandarts, jy móét minstens twee keer per dag tande borsel – in die oggend én nadat jy aandete geëet het.

Hier is nog wenke om te keer dat jou tande bederf (gaatjies kry en dalk uitval) en dat jou asem sleg ruik: 4

  • Borsel vir ten minste 2 minute lank, twee keer per dag. As jy baie soetgoed geëet of koeldrank gedrink het, moet jy sommer dadelik jou tande borsel. Suiker bly op ons tande agter en kan veroorsaak dat ons tande bederf.
  • Gebruik ’n mondspoelmiddel en tandevlos. Die vlos sal help om kos wat tussen jou tande vassit, uit te kry, en die mondspoelmiddel help nie net om bakterieë dood te maak wat binne jou mond is nie, maar sal jou asem ook lekker laat ruik.
  • Bêre altyd jou tandeborsel op ’n droë, skoon plek en vra jou ouers om elke 3 tot 4 maande vir jou ’n nuwe tandeborsel te koop.
  • Vra jou ouers ook om jou elke ses maande tandarts toe te vat. Die tandarts sal loer of jou tande nie dalk gaatjies het nie, of jou tande mooi skoon is en of jou tandvleis gesond is. Soms bloei ons tandvleis as ons borsel. Dit kan wees omdat ons nie genoeg of korrek borsel nie.

Nog higiënewenke

  • Hou jou omgewing skoon. Nie net is dit belangrik om die badkamer en kombuis skoon en netjies te hou nie, maar ook jou kamer. Vee jou lessenaar gereeld af en maak seker daar is nie vuil skottelgoed en klere wat rondlê nie. Sit gereeld skoon beddegoed op jou bed. 5

  • Ons sweet baie, veral as ons sport doen. Gebruik deodorant om te keer dat jy nie sleg ruik nie. 6
  • Gebruik handsaniteerder. Ons is nou al gewoond daaraan om ons hande te saniteer ná die Covid-19-pandemie. Behou dié goeie gewoonte, want dit hou kieme in toom (onder beheer) en sommige saniteerders laat jou hande sommer skoon ruik ook. 7
  • Deur genoeg te slaap, is deel van goeie higiëne en dit help ook om vir jou liggaam te sorg. As ons nie genoeg slaap nie, kan ons nie goed in die klas konsentreer nie. Kinders tussen 7 en 12 jaar moet ten minste 10 tot 11 ure slaap en kinders ouer as 12 jaar behoort elke nag 8 tot 9 ure te slaap. 8
  • Kweek ’n goeie roetine. ’n Roetine is as jy dieselfde dinge op spesifieke tye doen, byvoorbeeld om voor skool jou tande te borsel en hare te kam, en vanaand voor jy gaan slaap, te bad en weer jou tande te borsel. Maak ’n lysie in jou kop oor wat jy alles moet doen om goed vir jouself te sorg. 9

Woordbank

deodorant Middel wat gebruik word om die reuk van sweet te verdryf; reukweerder.
higiëne Die gewoonte om jouself en die omgewing skoon te hou om siektes te voorkom.
kieme Mikrobe/virus wat ‘n siekte kan veroorsaak.
kopluise
Luis wat veral op die kop voorkom.
roetine Gewone daaglikse pligte; gereelde volgorde waarin dinge/take verrig word.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Feite oor bakterieë

Persoonlike higiëne vir kinders

Gesonde gewoontes

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 28 Julie 2021 | Bygewerk op 15 April 2024