Vinnige feite

  • Een mens met masels kan ongeveer 12 tot 18 mense met die siekte aansteek. Dit word daarom as een van die aansteeklikste siektes op aarde gereken. Dit is egter ook hoogs voorkombaar as kinders ingeënt word. 4
  • ʼn Maselsinfeksie kan verskeie weke duur.
  • Hoewel daar vandag ʼn veilige en koste-effektiewe entstof beskikbaar is, sterf ongeveer 367 per dag daaraan, meestal kinders. 4
  • Daar word beraam dat ongeveer 128 000 mense in 2021 aan masels gesterf het en 136 000 in 2022.
  • Daar word ook beraam dat ongeveer 9 miljoen mense in 2021 die siekte gekry het. 4
  • Inenting teen masels het tot ʼn 73%-afname in sterftes aan masels tussen 2000 en 2018 gelei.
  • Teen 2018 het ongeveer 86% van die wêreld se kinders minstens een dosis maselsentstof teen hul eerste verjaardag gekry. Dis ʼn toename vanaf 72% in 2000. Die getal het egter teen 2022 gekrimp, want in daardie jaar het slegs 83% van die wêreld se kinders minstens een dosis van die entstof gekry. 2
  • ʼn Inisiatief vir masels en Duitse masels is in 2001 van stapel gestuur. Dit is ʼn wêreldwye vennootskap deur verskeie internasionale gesondheidsorganisasies, en die mikpunt is om dié siektes te verminder en sterftes te voorkom.
  • Waterpokkies is ʼn akute, aansteeklike virussiekte wat normaalweg by kinders voorkom. Dit word deur ʼn uitslag van waterblasies gekenmerk. Indien ’n volwassene dit opdoen, kan dit ernstige komplikasies hê. 5
  • Pampoentjies is ʼn aansteeklike siekte wat die kante van jou gesig en nek laat opswel. 5
  • Duitse masels is ʼn akute, aansteeklike siekte, en dit volg op infeksie met die rubellavirus uit die familie Togaviridae. Dit lyk soos masels, maar die griepsimptome, koors en veluitslag is minder. Daar word ook na die siekte as “rooihond” verwys. 5
  • Duitse masels kan ook ernstige gesondheidskomplikasies veroorsaak. As swanger vroue dit opdoen, kan dit tot ʼn miskraam of stilgeboorte (baba met geboorte sterf) lei.
Foto: iStock

Het jy al masels gehad? ʼn Mens kry ʼn uitslag van klein, rooi kolletjies, jy het ʼn hoë koors en voel sommer net goor (sleg). Dit is ʼn oordraagbare siekte en een van die aansteeklikste siektes ter wêreld.

ʼn Oordraagbare siekte is ʼn siekte wat tussen mense (of diere) oorgedra kan word. Dit is so aansteeklik dat as mense nie ingeënt is nie, kan nege uit tien mense masels kry as hulle aan die virus (kiem) blootgestel word. Masels word deur die rubella-virus veroorsaak. 1

Die entstof (spuitmiddel teen aansteeklike siektes) teen masels is al teen 1963 wêreldwyd beskikbaar gestel en dit het ʼn groot verskil aan uitbrekings gemaak. Voor dit egter gebeur het, het groot maselepidemies ongeveer elke twee tot drie jaar uitgebreek, en het gemiddeld tot ongeveer 2,6 miljoen sterftes per jaar gelei.

Masels is ʼn virussiekte, en dit word normaalweg oorgedra as jy direkte kontak met iemand het wat masels het of as die kieme deur die lug oorgedra word. Die virus besmet die respiratoriese kanaal (lugweg of asemhalingskanaal), en versprei dan regdeur die liggaam. Dit is ʼn siekte wat nog net by mense aangetref is. 2

Masels deur die jare

Masels is nie ʼn nuwe siekte nie; inteendeel, dit is ʼn siekte wat al eeue gelede aangetref is. Dit is so vroeg as die 9de eeu deur ʼn Persiese geneesheer Abu Bakr Muhammad Ibn Zakariya Al Razi (Rhazes) beskryf. Soos mense in die 16de eeu al hoe meer gedeeltes van die wêreld ontdek het, het masels (en ander siektes) ook versprei. ʼn Skotse geneesheer Francis Home het in 1757 gesê dat masels deur ʼn patogeen (mikro-organisme wat ʼn siekte voortbring) veroorsaak word. Hy het die siekte na gesonde mense versprei deur die bloedmonsters van besmette pasiënte te gebruik.

Daar was al baie uitbrekings van die virus wat ʼn vernietigende impak gehad het, soos die 1846-uitbreking in die Faroe-eilande, die 1848-uitbreking in Hawaii, die 1875-uitbreking in Fidji en die uitbreking in Rotuma in 1911.

Masels was vir lank endemies in baie lande, asook ʼn wêreldwye epidemiese siekte.

Sterftes weens masels het weliswaar in die 20ste eeu afgeneem as gevolg van gesonde kos en die beskikbaarheid van antibiotika (medisyne) wat gehelp het om komplikasies (verergering van die siekte) soos bakteriële longontsteking, te genees. Antibiotika kan nie virusse beveg nie, maar wel bakterieë. 3

Die ontwikkeling van entstof

ʼn Maselsuitbreking in 1954 by ʼn skoolkoshuis net buite Boston, Massachusetts in Amerika, het vir wetenskaplikes ʼn gulde (uitstekende) geleentheid gegee om ʼn entstof (vaksien) te ontwikkel. Dokters van die Boston-kinderhospitaal kon vir die eerste keer die maselsvirus isoleer deur monsters van kinders se bloed en keel te vat. Dr. Thomas Peebles het ʼn monster van die 11-jarige David Edmonston se virus geneem. Dr. John Franklin Enders, wat al as die vader van moderne entstowwe beskryf is, het die virus suksesvol gekweek. Dié het toe die maselsentstof van die Edmonston-B-stam ontwikkel.

Die entstof is tussen 1958 tot 1960 op groepe kinders getoets, en daarna is duisende kinders in New York en Nigerië as deel van proewe ingeënt. Die entstof is teen 1961 as 100% doeltreffend verklaar, en die eerste entstof is in 1963 vir openbare gebruik goedgekeur. Lande wêreldwyd kon toe met inentingsprogramme teen masels begin, en groot suksesse is daarmee bereik. 3

Teen die jaar 1968 is daar ʼn verbeterde weergawe van die entstof ontwikkel. Dit is deur dr. Maurice Hilleman ontwikkel, wat as ʼn pionier in entstofontwikkeling bekendstaan. Die nuwe entstof het ook tot minder newe-effekte as die vorige ene gelei. Die entstof is die Edmonston-Enders-stam genoem, en dit vorm die basis van dit wat vandag in maselsentstowwe gebruik word.

Hilleman het ook in 1971 die entstowwe teen masels, pampoentjies en Duitse masels gekombineer om een entstof te ontwikkel. Dit is die MMR-entstof wat in ʼn enkele dosis beskikbaar is. Kinders kon dus net een keer ingespuit word in plaas van verskeie kere. In die jaar 2005 is die entstof gewysig toe ʼn entstof teen waterpokkies bygevoeg is. Die entstof word nou die MMRV-entstof genoem. 3

Simptome

Die eerste teken van masels is gewoonlik ʼn hoë koors wat sowat tien tot 12 dae nadat iemand aan die virus blootgestel is, verskyn. Dit duur gewoonlik so vier tot sewe dae. Griepsimptome soos ʼn loopneus, ʼn hoes, asook rooi en waterige oë kom ook voor. Lyers kan ook Koplik-kolle in die mond kry. Dis klein rooi kolletjies met ʼn baie klein wit spikkel in die middel. Dis na dr. Koplik, ʼn Amerikaanse geneesheer, vernoem. Dit kom gewoonlik in die aanvanklike stadium van die siekte voor. ʼn Uitslag op die kop en nek verskyn gewoonlik in ʼn paar dae. Ná sowat drie dae begin die uitslag versprei en verskyn ook op die hande en voete. Die uitslag duur gewoonlik vyf tot ses dae en begin dan verdof. Die uitslag verskyn gewoonlik so 14 dae ná blootstelling aan die virus. 2

Komplikasies

Mense kan ook aan masels sterf. Ernstige komplikasies is algemener by volwassenes ouer as 30 en kinders wat jonger as vyf jaar oud is. Ernstige komplikasies sluit blindheid, enkefalitis (ʼn infeksie wat die brein laat swel), ernstige diarree en verwante ontwatering, oorinfeksie of ernstige respiratoriese infeksie, soos longontsteking, in. Ernstige masels is meer geneig om by jong kinders voor te kom wie se liggame nie genoeg vitamien A het nie of wie swak immuunstelsels het, soos dié wat siek was of met MIV/Vigs besmet is. 1

Wie kan dit opdoen?

Enigeen wat nie ingeënt is nie, kan dit kry. Kinders en swanger vroue wat nie ingeënt is nie, het egter die hoogste risiko om masels en verwante komplikasies te kry.

Masels word steeds in baie ontwikkelende lande aangetref, soos in dele van Afrika en Asië. Die oorweldigende meerderheid (meer as 95%) van sterftes kom in lande voor waar mense nie baie geld het nie en waar daar nie goeie gesondheidsorg is nie.

Die uitbreek van masels kan veral dodelik in lande wees wat rampe (soos natuurrampe of oorloë) ervaar of wat besig is om daarvan te herstel. Dit is omdat inentings dan gewoonlik agterweë bly en mense boonop in oorbevolkte gebiede bly, wat die risiko vir infeksie verhoog. 2

Hoe word dit oorgedra?

Die virus word gewoonlik deur die lug oorgedra as mense hoes en nies. Dit kan ook deur direkte kontak versprei word (as jy aan iemand met masels vat) of deur direkte kontak met besmette afskeidings (soos deur die neus of keel).

Die virus kan vir tot twee uur aktief en aansteeklik in die lug of op ʼn besmette oppervlak bly. Iemand kan dit oordra nog voor hy of sy weet dat hy of sy masels het! Dit is omdat iemand reeds die siekte kan oordra vir vier dae voordat die uitslag begin en tot vier dae ná die uitslag verskyn het. 1

Behandeling

Daar is nie ʼn spesifieke behandeling vir die maselsvirus nie, en gewoonlik word gesonde kos met baie voedingstowwe en baie vloeistowwe aanbeveel. Dit is ook baie belangrik om ontwatering te behandel.

Antibiotika kan voorgeskryf word om oog- en oorinfeksies en longontsteking te behandel. Alle kinders waarby masels gediagnoseer word, moet twee dosisse van vitamien A-aanvullings kry. Dit sal lae vitamienvlakke herstel en kan oogskade of blindheid voorkom. Bedrus en medikasie om die koors af te bring, word ook aanbeveel. Aspirien word egter nie vir virussiektes aanbeveel nie. 1

Voorkoming

Inenting teen masels is baie belangrik. Die entstof word reeds vir 60 jaar met sukses gebruik, en dit word as veilig, doeltreffend en bekostigbaar gesien. Dit kos ongeveer een Amerikaanse dollar om ʼn kind teen masels in te ent. Die maselsentstof is veilig in ʼn enkele vorm of in ʼn gekombineerde vorm saam met ander entstowwe.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) beveel aan dat babas teen die ouderdom van nege maande ingeënt moet word in gebiede waar masels algemeen voorkom. In omgewings waar dit nie algemeen voorkom nie, word dit aanbeveel dat inentings tussen 12 en 15 maande moet geskied. ʼn Tweede dosis word ook aanbeveel om die 15% van kinders, wat nie immuniteit ná die eerste dosis opgebou het nie, te beskerm. 3

Woordbank

antibiotika Geneesmiddel/medisyne.
bakterie ʼn Klein organisme wat infeksie en besmetlike siektes veroorsaak.
besmette Siektekieme oordra.
endemies Beperk tot ʼn bepaalde streek of gebied. ʼn Siekte kom dus in ʼn bepaalde gebied voor.
entstof Dit is ʼn vaksien. ʼn Mikroörganisme of virus wat in die liggaam opgeneem word om die produksie van teenliggame te stimuleer, sodat die liggaam onvatbaar vir besmetting kan word.
epidemies ʼn Besmetlike siekte wat vinnig oor ʼn groot gebied uitbrei en ná ʼn tyd weer verdwyn.
goor Aaklig, ellendig; baie sleg.
gulde Uitstekend, baie goeie.
komplikasies Die ongunstige verloop van ʼn herstelfase.
monsters Proefstuk/spesimen om te toets of ’n persoon ’n siekte het.
ontwatering Water of vog is verwyder; dehidrasie.
patogeen Enige mikro-organisme of materiaal wat ʼn siekte voortbring.
pionier Iemand wat nuwe weë baan.
respiratoriese Wat met die asemhalingsproses te make het.
simptome Verskynsel of tekens van ʼn siekte.
virus Dit is enigeen van ʼn groep submikroskopiese entiteite wat nie as lewende organismes beskou word nie omdat hulle slegs in die lewende selle van ʼn gasheer kan vermenigvuldig, waarvan baie siektes kan veroorsaak.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor masels

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor masels

Alles wat jy oor masels moet weet

Die simptome van masels én Duitse masels

Vyf dinge wat jy oor masels moet weet

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 7 Februarie 2023 | Bygewerk op 23 Januarie 2024