Vinnige feite

  • Marco Polo het met sy terugkeer van China na Italië onder meer die volgende saamgebring: ivoor, juwele, porselein, sy en noedels, wat die Italianers pasta genoem het.
  • Kos wat op die skepe geëet is, was meestal brood, vis en gesoute vleis. Die matrose was ook natuurlik baie lief vir bier. 17
  • Die Europeërs het siektes soos masels en pokke saam met hulle gebring, wat baie inboorlinge laat sterf het omdat hulle geen immuniteit daarteen gehad het nie. 18
  • Jy ken seker die speletjie Marco Polo waar een geblinddoekte persoon die ander moet raak? Daar word vertel dat dit afkomstig is van die tyd toe Marco tydens een van sy reise weggeraak het. Elke keer as sy familie Marco skreeu, moes hy Polo antwoord. 19

Daar was ʼn tyd toe mense in Europa nie eers bewus was van die Amerikas, Australië of selfs die suidpunt van Afrika nie – totdat ʼn klomp dapper seevaarders die twee oseane waarvan hulle tóé geweet het, begin verken het. Danksy dié ontdekkingsreisigers is die see vandag steeds ʼn weg waarop handelsgoedere tussen lande reg oor die wêreld vervoer word.

‘n Kaart van die Portugese reise.

Die lewe vóór verkenning

Om te verstaan hoekom dit tot die vyftiende eeu geneem het vir die Europeërs om die wêreld te verken, moet ‘n mens eers gaan kyk hoe die mense vóór daardie tyd geleef het.

Die tydperk voor die era van die ontdekkingsreise is die Middeleeue genoem omdat dit letterlik in die middel van die val van die Romeinse Ryk (500 n.C.) en die aanbreek van die Renaissance (1500 n.C.) was. Dit was ʼn chaotiese tyd in die Europese geskiedenis, wat gekenmerk is deur verskeie oorloë tussen verskillende nasies. Boonop breek die Swart Plaag ook in dié tyd uit. Hierdie siekte was die oorsaak dat een uit elke drie Europeërs binne vier jaar gesterf het. 1

Die Italianer Francesco Petrarca het hierdie tyd die “donker eeue” genoem omdat daar nie baie vordering met die wetenskap en kuns gemaak is nie. 2 Hoe dan anders? Daar was nie tyd vir prentjies, eksperimente of boeke terwyl jy net probeer oorleef nie!

Vir die Europeërs van die Middeleeue het die wêreld net uit ʼn klein stukkie land rondom die Middellandse See bestaan: Daar was die riviervallei omring deur berge en woestyn (Babilonië en Egipte) en die Mediterreense gebied wat vanaf die Sahara in Noord-Afrika tot by die Gobi-woestyn in Asië strek. 3 In daardie tyd het hulle net van die Atlantiese en Indiese Oseaan (Griekeland en Rome) geweet, en later het hulle lande bo die Balkan en die Verre Ooste ook verken.

Die eeu van verligting en die era van verkenning

Ná die donker eeue het die Renaissance aangebreek, wat ook die “tydperk van verligting” genoem is. Renaissance is ’n Franse woord wat “hergeboorte” beteken. Uiteindelik was daar vir ʼn ruk lank vrede en kon mense meer aandag aan die wetenskap, kuns en letterkunde gee.

Een van die bekendste mense van die Renaissance was Leonardo da Vinci. As ʼn kunstenaar het hy nie net die Mona Lisa geskilder nie, maar ook besonder akkurate tekeninge van die menslike liggaam gemaak. Da Vinci se sketse van uitvindings soos ʼn soort helikopter was ʼn voorbeeld van hoe die mense van daardie tyd gedink het. Hulle was vol verbeelding en oop om nuwe plekke te ontdek. 4

Da Vinci se skets van ‘n helikopter

Die era van verkenning vind in dieselfde tyd as die Renaissance plaas, vanaf vroeg in die 15de eeu (1400’s) tot die 17de eeu (vroeg 1600’s). 5 Dié era kan in twee dele verdeel word: die ontdekking van seeroetes en kolonisering. Tydens die eerste gedeelte was die doel van die reise om nuwe seeroetes na die Ooste te vind. Met dié reise het die seevaarders plekke soos die Amerikas (Noord- en Suid-Amerika) ontdek wat hulle die “Nuwe Wêreld” genoem het. Tydens die tweede gedeelte van hierdie era fokus die Europese lande op die kolonisering van die Amerikas, Afrika, asook Australië en Nieu-Seeland. 3

Portugal was een van die eerste lande wat verkenningstogte onderneem het. Die seevaarders het baie ondersteuning van Koning John I gekry. Sy seun, prins Hendrik die Seevaarder, begin ʼn skool vir seevaarders en finansier baie van die ontdekkingsreise, veral aan die weskus van Afrika. 6 Spanje sluit later by Portugal aan toe die Nuwe Wêreld deur mense soos Christopher Columbus ontdek is. 7

Later begin lande soos Nederland, Engeland en Frankryk om, soos Portugal en Spanje, die nuut ontdekte dele van die wêreld te koloniseer. 8

Redes om die wêreld te verken

Tot in daardie stadium was dit baie gevaarlik en natuurlik duur om die wêreld te verken. Talle skepe het nooit van hul reise teruggekeer nie. Daar was egter verskeie redes waarom dit belangrik was vir mense om hierdie verkenningstogte aan te pak, soos hier onder bespreek word.

Geld en handelsgoedere

Die grootste rede om die wêreld te verken en nuwe plekke te ontdek, was om handel te dryf. Items soos speserye en sy was so skaars soos hoendertande, en handelaars het hope geld uit die verkope daarvan gemaak. Nadat Turkye die landroete tussen Europa en Asië versper (geblokkeer) het, was die enigste seeroetes dié onder Arabiese lande se beheer. 9

Die handelaars moes soveel belasting betaal om hierdie roetes te gebruik, dat peper letterlik peperduur was teen die tyd wat die handelaar dit kon verkoop. Die handelaars het besef dat hul grootste wins daarin sou lê om die speserye direk van die Ooste te koop.

Politieke mag

Met die kolonisering van hierdie nuwe plekke het die Europese lande baie politieke mag gekry namate hulle hul grondgebied uitgebrei het. Uiteindelik het Engeland só baie grond besit dat die Britse ryk aan die begin van die twintigste eeu die grootste en magtigste ryk op aarde was.

Godsdiens

In die Middeleeue was daar groot oorloë tussen die Moslems en Christene oor wie op daardie stadium die grootste geloof in die wêreld was. Deur Christenskap na die nuwe lande te neem, het die Europese lande gevoel hulle vergroot die invloed van die Christendom. Soos die Portugese byvoorbeeld Suid-Afrika verken het, het hulle in St. Helenabaai en Mosselbaai steenkruise (ook genoem “padrao’s”) geplant om te wys hulle was daar.

Tydens die Renaissance is die Protestante in lande soos Frankryk deur die Katolieke vervolg en doodgemaak. Baie van hierdie Franse Protestante het na Suid-Afrika gevlug en die dorp Franschhoek is na hulle vernoem. (As jou van met ʼn klank eindig wat nie uitgespreek word nie, byvoorbeeld Marais, Du Toit of Du Preez, het jou oer-oer-oer-oupagrootjie waarskynlik van Frankryk af gekom.)

Die teenoorgestelde het weer in lande soos Ierland gebeur waar die Rooms-Katolieke van die Protestante moes vlug. Baie van hulle het na Noord-Amerika gevlug.

Wetenskap en tegnologie

Sommige mense het bloot uit nuuskierigheid die wêreld verken. Die fokus op wetenskap en tegnologiese uitvindings – soos die magnetiese kompas, verbeterde karvele (skepe wat hoofsaaklik deur die Portugese en Spaanse spesiaal vir ontdekkingstogte gebou is) en selfs Galileo Galilei se teleskoop – het die ontdekkingsreise soveel makliker gemaak. 10

Galileo Galilei

Tien vindingryke ontdekkers

Marco Polo, Italiaans, 1254-1324

Die Polo-broers van Venesië in Italië het dikwels na Oos-Asië gereis op ʼn roete wat later as die syroete bekend sou staan. In 1271 neem Niccolo Polo sy sewentienjarige seun, Marco, saam op een van hierdie reise. Sy broer, Maffeo, vergesel hulle. In 1274 kom hulle uiteindelik by Koeblai Khan aan. Hulle begin vir hom werk omdat die keiser nie sy Chinese volgelinge vertrou het nie. Die ouer mans gee raad aan die keiser in tye van oorlog, maar Marco word op ontdekkingstogte gestuur. Met hierdie reise leer hy verskillende gelowe, kulture en tale ken. In 1292 begin die Polo’s se terugreis na Venesië, en teen ongeveer 1295 – ná ʼn afwesigheid van 24 jaar – sien hulle hul familie vir die eerste keer weer. 11

Marco Polo se bydrae tot latere ontdekkingsreise is dat sy avonture tussen 1271 en 1295 in ʼn boek genaamd Il Milione opgeteken is. Die boek is só genoem omdat hy altyd “miljoene” stories oor sy wedervaringe vertel het. Dié boek is deur ʼn medekrygsgevangene genaamd Rustichello da Pisa geskryf nadat hy en Polo tyd in die tronk saam deurgebring het. Dit het die Europeërs van plekke soos Ethiopië, Siberië, Madagaskar en Japan bewus gemaak. Sy vertellings oor die skatte en veral die speserye in Asië het die mense in Europa die hoop gegee om self hier die plekke te ontdek. 12

Marco Polo

Bartolomeus Dias, Portugees, 1450-1500

Die eerste kaarte van die wêreld het gewys dat die Indiese Oseaan deur land omring was. Tot met die seevaarders se reise het die Europeërs gedink dat daar nie ʼn seeroete na Indië en Asië was nie. Bartolomeus Dias se reise het bewys dat jy om die Kaap kan vaar. Selfs al kon hy as gevolg van slegte weer nie die Kaap van Storms sien nie (dit is so genoem omdat daar dikwels gure weer rondom die suidelike kus van Afrika was), het hy aanhou seil tot by die Groot Visrivier in vandag se Oos-Kaap. 13 Op sy terugtog na Portugal het hy wel die Kaap gesien en ʼn steenpilaar ter bewys van die ontdekking opgerig. 3

Bartolomeus Dias

Vasco da Gama, Portugees, 1460-1524

Die Portugese seevaarder Vasco da Gama was die eerste Europeër om verby Afrika te seil en ʼn seeroete na Indië te ontdek. In 1497 land hy aan die weskus van Suid-Afrika. Hy vernoem die plek St. Helenabaai na ʼn toegewyde Christen en ma van Konstantyn, die Grote. 14

Vasco da Gama

Rondom Kersfees van daardie jaar sien hy en sy matrose weer land. Hulle noem dit Natalia, wat later KwaZulu-Natal word. Natalia beteken Kersfees in Portugees. Tydens hierdie reis het baie van die matrose siek geword van skeurbuik – ʼn siekte wat as gevolg van ʼn gebrek aan vars vrugte en groente ontstaan. Die roete wat Da Gama na Indië ontdek het, het die Portugese ʼn voorsprong gegee om met die Ooste handel te dryf. 15

Christopher Columbus, Spaans, 1451-1506

Christopher Columbus was deel van ʼn gerespekteerde maar arm familie. Sy pa was ʼn wolhandelaar. Columbus was van jongs af ʼn avonturier en reis reeds as sestienjarige na Ysland. In sy twintigs leef hy die lewe van ʼn matroos en val skepe aan so ver hy gaan. Tydens een van hierdie reise sink sy skip, maar hy swem tot aan land en oorleef. Nadat hy met ʼn Portugese vrou trou en in Portugal bly, hoop hy dat die Portugese koning vir sy ontdekkingsreise sou betaal, maar helaas gebeur dit nie so nie. Uiteindelik is dit die koning en koningin van Spanje wat vir hom geld gee vir sy reise nadat ʼn priester hulle oortuig dat dit ʼn manier is om die Christendom na ander plekke te versprei.

Christopher Columbus

Hy onderneem uiteindelik vier groot ontdekkingstogte in sy lewe. Die eerste een in 1492 neem baie langer as wat hy gedink het, en hy hou twee dagboeke met datums sodat die matrose aan boord nie moedeloos word nie. Hy stig in Oktober 1492 die eerste Spaanse nedersersetting in die Nuwe Wêreld. Met sy tweede reis ontdek hy Jamaika en stig ʼn nedersetting in Haiti waar hulle ook vir goud soek. Met sy derde reis in 1498 word hy die eerste Europeër wat in Suid-Amerika land.

Die Christopher Columbus-monument in Barcelona, Spanje.

Amerigo Vespucci, Italiaans, 1454-1512

Die Italianer Amerigo Vespucci ontvang goeie opleiding in fisika, meetkunde en astronomie. Hy word ook onder andere deur koning Ferdinand van Spanje gefinansier om ses groot reise in sy lewe te onderneem. Tydens hierdie togte ontdek hy groot dele van Amerika en die Amasone-rivier. Die Duitse kartograaf Martin Waldseemuller is die eerste persoon om dele van die Nuwe Wêreld – vandag Amerika – na Amerigo Vespucci te vernoem.

Ferdinand Magellaan, Portugees, 1480-1521

Ferdinand Magellaan was die seun van ʼn ryk en invloedryke familie. Hy ontvang sy opleiding as seevaarder aan die Portugese hof (waar die koning en koningin bly) en bestudeer ook hier die kaarte van Christopher Columbus. Sy eerste reis was na Indië, maar tydens sy tweede reis na Marokko word hy erg gewond. Hy loop weg sonder toestemming nadat hy en een van sy bevelvoerders ʼn rusie gehad het. As gevolg van hierdie voorval kry hy nie ondersteuning van Portugal vir sy reise nie, maar uiteindelik gee Koning Charles I van Spanje vir hom geld om na die spesery-eilande (klein eilandjies naby vandag se Indonesië) te vertrek. Die koning belowe hom ʼn vyfde van die wins wat hy met die reis maak.

In 1519 vertrek Magellaan met 5 skepe en 251 mansskappe uit Spanje op (wat later) die eerste tog om die wêreld (sou word). Tydens hierdie reis ontdek hy die Stille Oseaan. In 1521 word hy deur die inwoners van Filippyne vermoor, en die res van sy bemanning word gevange geneem. Die enigste oorblywende skip bereik Portugal op 6 September 1522 met net 18 mense aan boord. Hoewel hierdie reis van drie jaar ʼn groot sukses vir die wetenskap was, was die prys hoog om rondom die wêreld te vaar, met 233 mense wat gesterf het.

Jacques Cartier, Frans, 1491-1557

Ons weet nie so baie van Jacques Cartier se vroeë lewe nie, behalwe dat hy goed opgelei was in kartografie, navigasie, astronomie en wiskunde. Met sy eerste ekspedisies reis hy saam met Giovanni da Verrazzano, ʼn Italianer wat vir Frankryk gevaar het. Tydens hierdie reise verken hulle Noord-Amerika, onder meer die deelstate van Maine en Noord-Carolina. Cartier onderneem ook drie togte na Kanada met die opdrag om die Christendom uit te brei en rykdom soos goud in die Nuwe Wêreld te gaan vind. Cartier noem hierdie land met sy baie koue winters “Kanata”, ʼn woord van ʼn inheemse taal wat “nedersetting” beteken.

Jacques Cartier

Sir Francis Drake, Engels, 1540-1596

Koningin Elizabeth (moenie verwar word met koningin Elizabeth II van Engeland nie) het Francis Drake, die oudste van twaalf seuns, opdrag gegee om na die Amerikas te seil. Hy word die eerste persoon om die Atlantiese Oseaan na die Stille Oseaan oor te steek. Hy plunder Panama en bring goud wat aan Spanje behoort terug na Engeland. In 1577 gee koningin Elizabeth hom die opdrag om rondom die wêreld te seil. Hy stop in Noord-Amerika by die stad wat vandag San Fransisco genoem word, kleim dit as Britse grondgebied en keer terug na Engeland. Vier jaar later slaan koningin Elizabeth hom tot ridder, en sy stel hom ook as onderbevelvoerder van die Britse vloot aan. Later vertrek sir Francis Drake saam met sy broerskind, Richard Hawkins, op ʼn reis na Brasilië. Tydens hierdie reis oorwin Drake die Spanjaarde tydens ʼn seegeveg. In 1596 sterf hy op see aan ʼn tropiese siekte genaamd geelkoors en word in ʼn loodkis ter see begrawe.

Sir Richard Hawkins, Engels, 1562-1622

Met ʼn pa (sir John Hawkins) en ʼn oom (sir Francis Drake) wat albei vername verkenners was, kon dit nie anders dat Richard Hawkins ook ʼn ontdekkingsreisiger word nie. In 1588 veg hy saam met sy oom Francis Drake in die oorlog teen Spanje as die bevelvoerder van een van die oorlogskepe. Hy koop ʼn boot van sy pa, en tydens ʼn reis oor die Atlantiese Oseaan word hy in Chili gevange geneem. Nadat hy drie jaar in ʼn tronk in Peru deurbring, word hy vrygelaat nadat ʼn losprys van ongeveer R60 000 betaal is. Terug in Engeland word hy deur koning James I tot ridder geslaan, en hy word later ook ʼn lid van die Engelse parlement. Tydens sy laaste reis lei hy ʼn ekspedisie na die Mediterreense See om seerowers te verslaan.

Richard Hawkins

Abel Tasman, Nederlands, 1603-1659

Australië en Nieu-Seeland is eers heelwat later as die res van die Nuwe Wêreld ontdek. Tydens ʼn ontdekkingstog van die Nederlander Abel Tasman land hy aan die kus van vandag se Tasmanië (wat na hom vernoem is). Op sy weg terug vind hy die suidelike eiland van Nieu-Seeland, Tonga en Fidji. Met sy tweede reis in 1644 reis hy langs die noordelike kus van Australië, wat hy gedink het deel van Nieu-Guinee is. 16

Abel Tasman

Woordbank

inboorling Die eerste inwoners van ’n land.
kolonisering Een land neem ʼn ander land oor en maak dit deel van sy grondgebied. Daar word politieke, ekonomiese en maatskaplike beheer oor die mense van daardie land geneem.
matroos Persoon wat op ʼn skip werk; seeman; veral iemand van die laagste rang.
Nuwe Wêreld Dele van die wêreld waarvan die ontdekkingsreisigers van Europa nie voorheen bewus was nie.
skeurbuik ʼn Siekte wat deur ʼn gebrek aan vitamien C, asook vars kos en water veroorsaak word.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor ontdekkers

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor ontdekkers

ʼn Biografie van Christopher Columbus

Verduideliking van die era van verkenning

Ferdinand Magellaan se bydrae

Ontdekkers voor die era van verkenning

Die ontdekking van die Suidpool

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 7 April 2022 | Bygewerk op 23 April 2024