Vinnige feite

  • Europeërs het vir jare geglo dat sy aan ’n boom groei. Hulle het eers rondom die sesde eeu uitgevind dat dit van wurms afkom. 4 Die Oos-Romeinse keiser Justinianus het toe spioene na China gestuur om sywurms te steel. Daarna is ’n reuse-syindustrie in die Oos-Romeinse Ryk opgerig. 2
  • China het in 2013 aangekondig dat hulle die Syroete wil laat herleef. 6
  • Die antieke Griekse woord vir China is “Seres”, wat letterlik “die land van sy” beteken. 5
Foto: iStock

In die jaar 130 kon ’n rol sy van China af via Indië, Persië, Arabië en Griekeland reis voor dit in Rome teen ’n baie groot wins verkoop is. Op pad is die sy deur kamele, perde, waens, bote en slawe vervoer. Dit is oor berge, deur woestyne, en het riviere en valleie deurkruis.

Die pad wat die sy gevolg het, staan vandag as die Syroete bekend. Dit was ʼn antieke netwerk van handelsroetes wat dwarsoor Eurasië gestrek het, en op sy langste amper 6 500 kilometer was. 1

Oorsprong

Tussen om en by 550 v.C. en 330 v.C. het die Achaemenidiese Ryk (ook Eerste Persiese Ryk) oor Persië regeer. 2 Op vandag se wêreldkaart het daardie ryk gestrek van die noorde van Iran na die Persiese Golf en die Arabiese woestyn in die suide, en van Griekeland in die weste tot by Indië in die ooste. 3

Die Persiese koninklike roete was geskep om handel en kommunikasie binne die ryk te verbeter. Die regeerders het vars perde langs die pad aangehou sodat boodskappe vinnig van een kant na die ander vervoer kon word. Herodotus, die beroemde Romeinse historikus, het hieroor geskryf: “Die ding wat die vinnigste in die wêreld reis, is ’n Persiese koerier. Nie sneeu, reën, hitte of die donkerste nag keer hierdie koeriers om hul aangewese roetes met uiterste spoed te voltooi nie.”

Alexander die Grote die Achaemenidiese Ryk in 330 v.C. oorwin het, het sý mense dele van die roete onderhou. Hulle het later as die Grieks-Baktriërs bekendgestaan.

Die koninklike roete sou later een van die hoofroetes van die Syroete word. 2

Die ontstaan van die Syroete

Rondom die jaar 150 v.C. was die Han-dinastie onder keiser Wu, wat China sedert ongeveer 200 v.C. geregeer het, in die moeilikheid. Hulle is genadeloos deur die Xiongnu, ’n nomadiese groep van die Eurasiese steppe, op hul westelike en noordelike grense geteister.

Om die bedreiging die hoof te bied het Wu in 138 v.C. vir Zhang Qian as gesant uitgestuur om bondgenootskappe te sluit. 2

Zhang het wyd gereis en onder andere die Grieks-Baktriërs in Persië ontmoet. Hy was ook beïndruk met die wondere van Dayuan, ’n ryk in vandag se Oesbekistan. Hulle het uitstekende rys, koring en druiwe gehad, en wat hy “hemelse” perde genoem het. 4

Zhang se ontmoeting met die Dayuan en die Grieks-Baktriërs was die eerste amptelike kontak tussen Chinese en mense van Sentraal- en Suidwes-Asië. Hierdie mense het op hul beurt kontak met die Midde-Ooste en Suid-Europa gehad. Dit was dus nou vir die eerste keer moontlik om China en Europa te verbind.

In Dayuan het die kontak met Zhang tot ’n perdeteelprogram gelei. Dit is nie dat die Han-mense nie perde gehad het nie, maar die “hemelse” perde van die Dayuan was groter en vinniger. Dit het uiteindelik, soos wat Wu gehoop het, die Han in staat gestel om die Xiongnu te verslaan. 2

Dié sukses het vir Wu laat wonder watter ander wonderlike produkte hy kon invoer van ander wêrelddele. 2 Sonder die bedreiging van die Xiongnu was daar stabiliteit in China wat ekonomiese groei bevorder het. Chinese mense was ryker, en het geld gehad om op luukse produkte uit ander dele van die wêreld te spandeer. 4

Tydperk

Wu het dus in 130 v.C. handel met die Weste toegelaat, en dus effektief die Syroete vir besigheid oopgemaak.

Die Syroete het amptelik tot in 1453 bestaan. Daardie jaar het die Ottomaanse Ryk Konstantinopel verower en handel met die Weste geboikot. Dit het die Syroete in die Weste gesluit. 2

Die roete het egter sy hoogtepunt bereik tussen omtrent 200 en 900. 1

Naam

Ons praat vandag van die Syroete, maar die naam is eers in 1877 deur die Duitse geograaf en reisiger Ferdinand von Richthofen gegee. 2

Die naam is ook misleidend. Die naam kom van die gewildheid van Chinese sy, veral in Rome, waar dit die waardevolste produk was. Op die roete is daar egter elke ander produk wat mens in die antieke wêreld mee kon handel dryf, handel gedryf.

Dit is ook nie net een Syroete nie, maar ’n klomp syroetes.

Waar loop die roete?

Die hoofroete wat die Ooste en Weste verbind het, het geloop vanaf China, na vandag se Kasakstan, Kirgistan, Tadjikistan, Turkmenistan en Oesbekistan. 5

Uit hierdie roete het ander roetes vertak:

  • Oos na Korea en Japan 7
  • Wes na Rusland en Oos- en Suid-Europa
  • Suid na Indië
  • Suidwes na die Midde-Ooste 8

Wat was die Syroete?

Die roete het nie soseer nuwe paaie gestig as bestaande roetes aan mekaar verbind en die hoeveelheid goedere wat daarlangs vervoer is, vermeerder nie. Met die loop van tyd het handelsposte, markte, en herberge langs die pad ontstaan. 6 Hier kon goedere gestoor of verruil word. 7

Daar was ook hindernisse. Die paaie is nie altyd goed onderhou nie. Rowers was altyd ’n probleem. Dit het handelaars gedwing om in karavane te reis, om hulself en hul vrag te beskerm.

Min mense het die hele pad gereis. Daar was tussenhandelaars, en baie handelaars het net op een skof gewerk. 1

Reisigers het meestal kamele, maar soms ook perde, gebruik. 6 Kamele is natuurlik in woestyne verkies. 4

Daar was ook waterhandelsroetes. Dit het gelei tot die bou van hawens, waar bote kon vasmeer vir vars water en handelsgeleenthede. 6

Die Syroete is ook nie net deur handelaars gebruik nie. Daar was veral baie godsdienstige reisigers, soos Boeddhistiese en Europese monnike, wat hul gelowe na ander plekke versprei het. 6 Musiekgroepe, dansers, akrobate, sirkusse en toneelspelers het ook al langs die roete hul kuns beoefen. 8

Waarmee is handel gedryf?

Buiten sy is daar ook met die volgende produkte handel gedryf:

  • lewende hawe, soos perde en kamele, asook toerusting wat met die lewende hawe gepaard gegaan het soos perdesale, diervelle, wolkomberse, matte, 2 tekstiele, 6 en leer 5
  • eksotiese diere soos olifante, leeus, jagluiperds, bokke, arende, valke, papegaaie en volstruise 7
  • kos, soos wingerdstokke en druiwe, heuning, vrugte, 2 groente, grane, speserye, 6 suiker, 7 en tee 1
  • luukse produkte, soos glasware, gordyne, 2 hout- en metaalwerk, 6 godsdienstige voorwerpe, kuns, 5 wierook, mirre, korale, ivoor, keramiek en papier 7
  • edelstene en metale soos goud, silwer, 2 diamante, jade en amber 7
  • slawe 2
  • styl en modes 7
  • toerusting, gereedskap, wapens, wapenrusting en buskruit 7
  • medisyne 1

Sy was wel die vernaamste produk. Teen die regeringstyd van die Romeinse keiser Augustus (27 v.C. tot die jaar 14) was sy die mees gesogte produk in Egipte, Griekeland en Rome. 2

Marco Polo

In 1271, toe Marco Polo 17 jaar oud was, het hy saam met sy familie van Venesië na China gereis. 1

In daardie tyd was China onder beheer van die Mongoolse keiser Koeblai Khan. 5 Khan het vir Polo as ontdekkingsreisiger aangestel, en vir die volgende 24 jaar het hy hom op missies al langs die Syroete gestuur. 1

Ná sy terugkeer in 1295 het hy ’n boek, Il Milione (of Die reise van Marco Polo) oor sy wedervaringe geskryf. 5 Hierin is die Syroetes van die Ooste vir die eerste keer aan Europeërs beskryf. 2

Marco Polo

Die sluit van die roete

Die Syroete was nie net belangrik terwyl dit bestaan het nie. Die gevolge van die sluit daarvan is ook noemenswaardig.

Teen die 15de en 16de eeu was Europeërs gewoond aan produkte uit die Ooste, veral speserye. Toe die roete gesluit is, het die vraag daarna nie verdwyn nie. Handelaars wat wou geld maak, moes dus ’n plan maak. Die landroete was nou wel gesluit, maar daar was roetes per see vir dié wat braaf genoeg was om te probeer.

Dit het die Era van Ontdekking in Europa afgeskop. 2

Nalatenskap

Dit is onmoontlik om te oorskat hoe belangrik die Syroete was.

In die eerste plek het dit ’n geografiese impak gehad. Dorpies en stede langs die roete het groot, multikulturele stede in groot, multikulturele samelewings geword. 1

In die tweede plek het die produkte self ’n reuse-impak gehad. Buiten speserye was die mees noemenswaardige buskruit en papier. Buskruit het ’n omwenteling in oorlogvoering meegebring. Papier het die proses aangehelp wat tot die ontdekking van die drukpers gelei het. Dit het op sy beurt boeke en koerante en op die lang duur die verspreiding van kennis aangemoedig. 6

In die derde plek het kultuur versprei. Kuns, godsdiens, filosofiese idees, tegnologie, taal, wetenskap en argitektuur het van die een kant van Eurasië af na die ander gevloei. 2 Boeddhisme het byvoorbeeld via Indië na China gekom. Daar is vandag meer Boeddhiste in China as Indië, en Boeddhisme is die grootse geloof in China. 9 Christenskap en later Islam het vanaf Sirië, Iran en Arabië uitgekring.

In die vierde plek het die roete siekte “toegelaat” om wyer verwoesting te saai. ’n Goeie voorbeeld was die rampspoedige buboniese plaag (ook bekend as die Swart Dood) van 542.

Laastens het die Syroete die mens se gemeenskaplike kennis van die aarde verbreed. Dit het die grondslag gelê vir die moderne, geglobaliseerde wêreld waarin ons vandag woon. 2

Woordbank

antieke Baie oud; uit die ou tyd.
argitektuur Wetenskap van die ontwerp, optrek en versiering van geboue, boukuns.
bondgenootskappe Vereniging of verbond tussen mense/volke.
braaf Dapper
buskruit Ontplofbare mengsel wat in vuurwapens gebruik word.
die hoof te bied Te beveg.
dinastie Regerende stamhuis; vorstehuis.
drukpers Masjien wat gebruik word om afdrukke op papier of karton te maak.
eksotiese Buitelands, uitheems; ongewoon.
Era van Ontdekking Tydperk in Europese geskiedenis toe Europeërs die wêreld op see ontdek het.
Eurasië Die uitgestrekte kontinentale landmassa wat beide Europa en Asië insluit. Dit strek van die westelike grense van Europa tot by die Stille Oseaan-kus van Rusland.
geboikot Georganiseerde weiering om sekere artikels te koop; uitsluiting.
geglobaliseerde Wêreld waar verskillende lande in noue kontak met mekaar is en maklik idees en goedere kan uitruil.
genadeloos Om onvriendelik te wees en mense maklik seer te maak; sonder genade.
geografiese Wat verwys na geografie wat kyk na die ruimtelike verband tussen mense, plekke en die aarde.
gesant Verteenwoordiger van ʼn staat by/in ʼn ander staat.
gesogte Gewild; populêr; baie in aanvraag.
geteister Om iemand lastig te val en te dreig en sodoende sy/haar lewe baie onaangenaam maak.
impak Invloed, uitwerking.
ivoor Die tande van ʼn olifant.
karavane Groepe mense, gewoonlik handelaars, wat saamreis vir veiligheid, meestal met pakdiere soos kamele [NIE: ʼn woonwa nie].
keramiek Voorwerpe wat van klei gemaak is.
koerier Iemand wat boodskappe of goedere van een plek na ’n ander neem.
korale Antieke edelstene. Ander edelstene word deur minerale gevorm, maar korale word deur lewende organismes gevorm.
kultuur Groepe mense se manier van leef.
lewende hawe Diere of vee.
mirre ’n Soort gom wat lekker ruik en gebruik word vir allerhande take.
missies Belangrike opdragte of sendings.
monnike  Mans wat hulle aan godsdiens wy.
multikulturele “Multi” beteken “baie”, dus baie kulture; verwys na die manier waarop ʼn groep mense leef, hul gewoontes en godsdiens.
nomadiese Rondtrekkend, swerwend.
omwenteling Wanneer ’n groot verandering plaasvind en dinge van daar af heeltemal anders begin gebeur.
ontdekkingsreisiger Iemand wat na onbekende plekke reis en vreemde wêrelddele ontdek.
perdeteelprogram ’n Groot program om perde bymekaar te bring sodat hulle kleintjies kan kry.
ryk ’n Gebied waaroor ’n vors (koning/koningin/keiser) regeer.
skof ’n Bepaalde afstand wat soms daagliks afgelê word, met ’n duidelike begin- en eindpunt; ook ’n bepaalde tydsduur wat iemand werk.
stabiliteit Standvastigheid; weerstand teen verandering.
steppe Uitgestrekte grasvlakte.
sy Dun, sagte materiaal wat gemaak word van die sy wat deur sywurms gespin word.
via Deur middel van.
wedervaringe Belewenisse; iets/dinge wat ervaar is.
wierook Stokkies wat van gomhars (mirre) gemaak word en ’n aangename reuk afgee as dit brand.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die Syroete

Kyk hierdie video’s oor die Syroete

Die lewenssiklus van die sywurm

Hoe het die Syroete gewerk?

Die Syroete en antieke handel

Hoe word sy gemaak?

Hoe het geloof langs die Syroete versprei?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 23 April 2024 | Bygewerk op 23 April 2024