Vinnige feite

  • Galileo Galilei is een van die sentrale figure in die Wetenskaplike Revolusie van die 17de eeu. Sy werk word vandag nog bewonder en gedebatteer.
  • Galileo het met sy bewegingswet, gegrond op sy bevinding dat alle liggame teen dieselfde spoed versnel, ongeag hul grootte of massa, die grondslag gelê vir Isaac Newton se werk oor beweging. 11
  • Galileo se naam en van klink baie dieselfde. Dit is nie toevallig nie. In die tyd toe hy gebore is, was dit die gebruik in Italië dat seuns voorname gekry het wat met hul vanne verband hou. Galileo se voorvaders het dikwels Galileo en Galilei afwisselend as ’n van gebruik. Die meeste Italianers van daardie tyd, insluitend Galileo, sou hulself met net ’n enkele naam voorgestel het. 10
Foto: iStock

Galileo Galilei (1564-1642) word beskou as die vader van die moderne wetenskap. Hy het geskiedkundige bydraes gelewer in die fisika, sterrekunde, kosmologie, wiskunde en filosofie.

Galileo het ’n nuwe soort teleskoop ontwerp waarmee hy die mane van Jupiter, die ringe van Saturnus, die fases van Venus, sonvlekke en die ruwe maanoppervlak kon waarneem en beskryf. Sy opvatting dat die aarde om die son draai eerder as dat die son om die aarde beweeg, het hom by die Katolieke Kerk in die moeilikheid gehad. In 1616 en weer in 1633 is hy verhoor, gedwing om sy stellings terug te trek, en vir die res van sy lewe onder huisarres geplaas. 1

Vroeë lewe

Galileo is op 15 Februarie 1564 in Pisa (dieselfde Italiaanse stad waarin die Leunende Toring is) gebore. Sy pa, Vincenzo Galilei, was ’n invloedryke musikant, en wetenskaplikes beweer dat hy in 1588 en 1589 saam met sy seun aan wetenskaplike eksperimente oor die verhouding tussen toonhoogte en die spanning van snare gewerk het.

Die gesin het later na Florence, ook in Italië, verhuis. In sy tienerjare het Galileo die kloosterskool in Vallombrosa bygewoon en in 1581 by die Universiteit van Pisa gaan inskryf, waar hy medies sou studeer. Hy het egter verlief geraak op wiskunde en filosofie, en het net klasse in daardie vakke bygewoon. 2

In 1585 is hy weg uit Pisa sonder om sy mediese graad te voltooi. Hy het as ’n wiskundeonderwyser in Florence en Siena gewerk, en in 1586 het hy ’n onderwyser by dieselfde skool in Vallombrosa waar hy skoolgegaan het, geword. In hierdie jaar het hy sy eerste wetenskaplike boek, La bilancetta (“Die klein skaaltjie”), geskryf. 3

In die boek beskryf hoe hy Archimedes se metode gebruik het om die spesifieke gewig van stowwe met behulp van ’n balansskaal te vind. Hy het ’n spesiale balansskaal gemaak waarmee hy die presiese verhoudings van twee metale in ’n allooi kon meet. Hy het besef dat ’n mens nie ’n gewone skaal sou kon gebruik nie, want die merkies sou te fyn wees om te lees.

Daarom het hy al langs ’n deel van een arm van die skaal ’n stywe spiraal van baie fyn koperdraad gedraai, wat strek van waar die gewig metaal A (in water) sou balanseer tot waar dit metaal B (ook in water) sal balanseer. Pleks daarvan om die lesing op die skaal te probeer lees, het hy die aantal draaie op die spiraal gemeet deur ’n mes met ’n baie dun lem daaroor te trek. Elke keer as die mes oor ’n draai in die koperdraad gaan, was daar ’n hoorbare “pieng”-geluid. Só kon hy met sy fyn musikale oor die aantal draaie tel, en die lesing op die skaal kry. Dit was hierdie klein skaaltjie waarna die titel van sy opstel verwys. 4

Loopbaan in die akademie

Met die publikasie van sy boek, het hy bekend geword en in 1588 het hy ‘n uitnodiging ontvang om ’n lesing by die Akademie in Florence te gee oor die afmetings en ligging van die hel in Dante se Inferno.

In 1589 het Galileo die Leerstoel vir Wiskunde aan die Universiteit van Pisa gekry waar hy De Motu, ‘n reeks opstelle oor die teorie van beweging, geskryf het. Die opstelle is nooit formeel gepubliseer nie, maar die boek bevat ’n baie belangrike beginsel wat vandag nog toegepas word: ’n Mens moet teorieë kan toets deur eksperimente uit te voer. 3 Hy het byvoorbeeld voorwerpe met verskillende gewigte van die bopunt van die Leunende Toring laat val om te bewys dat die spoed waarmee ’n voorwerp val, nie eweredig is aan sy gewig nie. Dit het bewys dat Aristoteles se sienings nie korrek was nie. 2

In 1591 is sy pa oorlede, en as die oudste seun moes Galileo die res van die gesin onderhou. Die professoraat in Wiskunde by Pisa se salaris was nie groot genoeg nie, en hy het ander werk gesoek. In 1592 is hy aangestel as professor in Wiskunde aan die Universiteit van Padua (die Universiteit van die Republiek van Venesië) teen drie keer die salaris wat hy in Pisa ontvang het. Op 7 Desember 1592 het hy sy intreerede gehou, en daarmee ’n loopbaan van 18 jaar aan die Universiteit van Padua begin. By Padua was sy pligte hoofsaaklik om Euclides se meetkunde en sterrekunde aan mediese studente te leer. Dis ook in hierdie tyd dat hy teen Aristoteles se lerings oor sterrekunde en natuurfilosofie begin praat het. 3

Belangrikste bydraes, ontwikkelings en ontdekkings

Galileo het deur waarneming en eksperimente die kennis en tradisionele idees wat op daardie tydstip oor die wêreld en die wetenskap gegeld het, uitgedaag. Vir hom was dit nie genoeg dat mense eeue lank gesê het dat iets waar is nie, hy wou hierdie idees toets en dit met bewyse kon staaf. Dit was vir sy tyd ’n skokkende houding. 5

Hoewel dit presies hierdie houding is wat hom later in die moeilikheid gekry het, het hy ’n klomp nuwe dinge ontwikkel en ontdek waarvoor ons hom vandag nog bewonder.

’n Nuwe soort verkyker

In Mei 1609 het Galileo gehoor van ’n Nederlander wat in Venesië met ’n verkyker opgedaag het. Met sy eie tegniese vaardighede as wiskundige en as vakman, het Galileo begin om ’n reeks teleskope te maak waarvan die optiese werkverrigting baie beter was as dié van die Nederlandse instrument. Sy eerste teleskoop het hy van lense gemaak wat hy gekoop het. Dié het ’n vergroting van sowat vier keer gegee. Om ’n beter teleskoop te kon maak, het Galileo geleer hoe om sy eie lense te slyp en te poets, en teen Augustus 1609 het hy ’n teleskoop met ’n vergroting van ongeveer agt of nege gehad. Galileo het hierdie teleskoop ’n “perspicillum” genoem, en hy het dadelik die waarde van die instrument vir seevaart, sterrekunde en selfs oorlogvoering gesien. 3

Kraters en berge op die maan

Galileo kon met sy teleskope waarneem dat die maan se oppervlak – anders as wat mense tot op daardie stadium geglo het – nie glad en perfek was nie, maar grof, met berge en kraters waarvan die skaduwees verander het met die posisie van die son. Galileo kon die lengte van die skaduwees gebruik om die hoogte van die maanberge te skat, en daarmee bewys dat hulle soortgelyk is aan die berge op aarde. 5

Die fases van Venus

Die planeet Venus het fases soos dié van die maan getoon, maar hierdie fases kon meetkundig slegs verklaar word as Venus om die son beweeg, eerder as die aarde. Dit was teenstrydig met die opvatting wat daardie tyd gegeld het, naamlik dat die aarde die middelpunt van die heelal is en dat al die hemelliggame om die aarde draai. 5

Jupiter se mane

Galileo het vier klein mane ontdek wat om die planeet Jupiter wentel. Hierdie mane staan vandag bekend as die Galilese mane: Io, Ganymedes, Europa en Callisto. Dit was weer ’n weerspreking van die bestaande opvattings, want dit het opnuut bewys dat nie alle hemelliggame om die aarde wentel nie. 5

Die sterre van die melkweg

Galileo het ontdek dat die melkweg nie net ’n dowwe streep gas in die hemel is nie, maar inderwaarheid uit afsonderlike sterre bestaan.

’n Horlosie met ’n pendulum

Nadat hy dekades lank daarmee geëksperimenteer het, het hy ’n meganisme bedink wat gebruik kon word om lengtegraad op die see te bepaal. Hy was toe reeds ’n ou man, maar hy het die ontwerp met sy seun, Vincenzio, en sy biograaf, Vincenzo Viviani, bespreek. Sy seun het ’n gedeeltelike model gemaak, en sy biograaf het ’n tekening van die model gemaak of laat maak. 6 Galileo is dood voor die horlosie gebou is, maar ’n Nederlandse sterrekundige, Christiaan Huygens, het Galileo se ontdekking van isochronisme (pendulums van dieselfde lengte het dieselfde ossillasieperiode) gebruik om aan die einde van 1656 ’n prototipe van die eerste pendulumhorlosie te bou. 7

Konflik met die Rooms-Katolieke Kerk

Galileo se bewerings dat die aarde om die son draai en nie andersom nie, het die Rooms-Katolieke kerkmanne omgekrap. Die kerk het gesê dat die son wat om die aarde beweeg ’n absolute feit is wat in die Bybel opgeteken staan en nie betwis kan word nie, ten spyte van die feit dat Copernicus al ’n eeu vantevore beweer het dat die aarde nie die middelpunt van die heelal is nie. Die verskil was dat Copernicus dit beweer het, en Galileo het dit bewys! 8

Op 12 April 1633 het die Rooms-Katolieke Kerk ’n inkwisisie van stapel gestuur om te bepaal of Galileo ’n ketter is. Op 22 Junie 1633 het die Kerk bevind dat Galileo skuldig is aan dwaalleer “wat vals en in stryd met die Heilige en Goddelike Skrif is” omdat hy sê dat die son die middelpunt van die wêreld is, en dat dit nie van oos na wes beweeg nie. 8

Deur ’n openbare edik is sy boek Dialogues verbied, en hy is tronkstraf opgelê. Galileo het ingestem om nie meer hierdie dwaalleer te verkondig nie, en in ruil daarvoor het hy die res van sy lewe onder huisarres eerder as in die tronk deurgebring. 8

Persoonlike lewe

Geleerdes en akademici van die Renaissance het selde getrou. Galileo is ook nooit getroud nie. Hy het wel ’n verhouding met Marina Gamba gehad, en hulle het drie kinders gehad: Virginia (gebore in 1600), Livia (gebore in 1601) en Vincenzo (gebore in 1606). Sy twee dogters het nonne geword en by die klooster van San Matteo in Arcetri (in Florence) aangesluit. Sy seun het ’n musikant geword. 9

Galileo was ’n goeie musikant en het die luit gespeel. Hy was ook ’n besonder goeie skilder en het in ’n stadium gedink hy gaan ’n lewe daarvan maak. Trouens, later in sy lewe het Galileo by die Accademia delle Arti del Disegno (Akademie van die Tekenkuns) in Florence aangesluit en die voorste skilders uit daardie tyd oor kleur en perspektief geadviseer. 9

Latere lewe

Die kerkmanne het Galileo se terugtrekking reg oor Europa bekend gemaak. Dit was ’n enorme vernedering, en Galileo se gesondheid en geestesgesondheid is daardeur geknak. Gelukkig het ’n vriendelike biskop met die naam van Ascanio Piccolomini hom verpleeg tot hy beter geword het. 4

Hoewel hy onder huisarres was, het Galileo sy lewenswerk voortgesit, veral oor meganika en beweging. Sy boek Discorsi e dimostrazioni matematiche, intorno a due nuove scienze (“Diskoerse en wiskundige demonstrasies, rondom twee nuwe wetenskappe”) wat in 1638 gepubliseer is, is sy laaste enorme nalatenskap aan die wêreld. Hy was by publikasie van die boek reeds blind, en hy is op 8 Januarie 1642 oorlede. 4

Dit het die Rooms-Katolieke Kerk 359 jaar geneem om te erken dat Galileo reg was. Eers in 1992 het pous Johannes Paulus II, wat toe die hoof van die Kerk was, by ’n seremonie in Rome voor die Pouslike Akademie van Wetenskappe amptelik verklaar dat Galileo reg was. Die formele herstel van Galileo se naam was gebaseer op die bevindinge van ’n komitee van die Akademie wat die Pous in 1979, kort nadat hy sy amp aangeneem het, op die been gebring het. Die komitee het besluit die inkwisisie het te goeder trou opgetree, maar dat hulle verkeerd was. 10

Woordbank

allooi ’n Materiaal wat gemaak word deur ’n metaal met klein hoeveelhede van ander metale of niemetale te vermeng.
leerstoel Nie ’n fisieke stoel nie; die posisie van die professor met die hoogste gesag in ’n bepaalde vakgebied aan ’n universiteit.
professoraat Die posisie van professor aan ’n universiteit.
intreerede ’n Lesing wat ’n nuwe vol professor by ’n universiteit vir kollegas gee om aan hulle sy/haar navorsing en kennis bekend te stel.
isochronisme Pendulums van dieselfde lengte het dieselfde ossillasieperiode.
inkwisisie Meedoënlose ondersoek of ondervraging deur die Rooms-Katolieke Kerk, ten einde kettery op te spoor en te straf.
ketter Iemand wat, volgens sommige ander Christene, een of meer waarhede van die Christelike geloof verwerp; veral iemand wat, deur ander Rooms-Katolieke, beskou word as ’n afvallige van die Rooms-Katolieke geloof.
kosmologie Wanneer die ontstaan en die bou van die heelal deur sterrekunde bestudeer word.
dwaalleer Opvatting wat afwyk van die erkende godsdienstige leer.
edik ’n Amptelike aankondiging of bevel wat deur ’n gesagspersoon gemaak word.
huisarres ’n Strafmaatreël waar ’n skuldige persoon se straf is om die hele tyd in hulle eie huis te bly en geen kontak met die buitewêreld mag hê nie.
luit ’n Musiekinstrument wat baie soos ’n kitaar lyk, maar ’n bolvormige kas, meer snare en ’n langer nek het.
te goeder trou Eerlik en opreg.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Galileo Galilei: bekende wetenskaplike en wiskundige

Hoekom is Galileo onder huisarres geplaas?

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 1 Februarie 2024 | Bygewerk op 3 April 2024