Vinnige feite

  • Die wêreld se vinnigste trein is die Maglev, in Sjanghai, wat binne agt minute 30,5 km kan aflê. Dit werk met maglev-tegnologie (tegnologie wat verbandhou met magnetiese levitasie) wat beteken dat daar geen wrywing is nie, dus maak die trein feitlik geen geluid wanneer hy ry nie. 5
  • Daar is op enige gegewe tydstip meer as 60 000 mense in die lug bo die VSA. ʼn Derde van die wêreld se lughawens is in die VSA.
  • Daar word jaarliks sowat 85 miljoen motors vervaardig. Byna 5,1 miljard motors word tans reg oor die wêreld gebruik. 6
  • Die wêreld se grootste skip is die Prelude, wat deur Shell besit word. Dit is 488 m lank en het ’n groter kapasiteit as die totale volume van vier groot vliegdekskepe. Dié skip se doel is om aardgas aan die kus van Australië op te vang en dit in vloeistof om te skakel. 7

Foto: iStock

Vervoer is die verskuiwing of beweging van mense of goedere van een plek na ’n ander plek. Waar vervoer jare gelede baie primitief (eenvoudig) was en dit soms ’n paar maande geneem het om van een plek na ’n ander te reis, is vervoer vandag blitsvinnig. 1

Vervoer het die hele wêreld en die manier hoe ons handel dryf, vinniger en makliker gemaak. Dit het lande en ekonomieë laat groei en ’n onmisbare deel van ons alledaagse lewe geword. Die wêreld voel sommer kleiner omdat ons baie vinnig kan beweeg of goedere rondstuur. Ons kan op ’n vliegtuig spring en binne ’n uur of twee by die see wees vir vakansie, of selfs vir iemand in ’n ander land ’n pakkie laat aflewer.

Vervoer kan verdeel word in infrastruktuur, voertuie en bedrywighede:

  • Infrastruktuur: In terme van vervoer verwys infrastruktuur na die netwerk wat gebruik word om dinge te vervoer. Infrastruktuur sluit busstasies, kanale, (lug)hawens, paaie, pypleidings, spoorweë en treinstasies in. Infrastruktuur word gewoonlik deur regerings opgerig en word deur belastingbetalers van ’n spesifieke land of streek gefinansier. Infrastruktuur soos paaie en spoorweë word ontwerp deur siviele ingenieurs en stadsbeplanners.
  • Voertuie: Voertuie of vaartuie gebruik die infrastruktuur om op te beweeg. Voertuie sluit (vrag)motors, vliegtuie en treine in. Voertuie word gewoonlik deur meganiese ingenieurs ontwerp. Vaartuie sluit bote, veerbote en skepe in, wat op kanale, die see en riviere vaar en hawens gebruik. Net soos treine van treinstasies gebruik maak, so gebruik vliegtuie lughawens. Op dieselfde manier wat treine spoorlyne (treinspore) gebruik, gebruik vliegtuie aanloopbane om op te styg en te land.
  • Bedrywighede: Vervoerstelsels word deur gevorderde seinstelsels beheer. Dit sluit verkeerstekens (soos stoptekens en verkeersligte), spoorwegseine en lugverkeersleiding in. Bedrywighede sluit ook die regeringsbeleid in (’n plan van aksie om riglyne aan besluite en aksies te verskaf) en regulasies (’n stel of groep wette en reëls) wat gebruik word om die stelsel te beheer, soos tolgeld, brandstofbelasting en verkeerswette.

Vervoer gebruik baie energie. Die meeste vervoer gebruik olie en gas wat besoedeling veroorsaak. Omgewingsregulasies (wette) en brandstof met minder skadelike uitlaatgasse (byvoorbeeld vloeibare aardgas) kan besoedeling verminder. Namate meer voertuie gebruik word, word meer besoedeling veroorsaak. Etanol en biodiesel veroorsaak egter minder omgewingsbesoedeling as petroleum.

Vooruitgang in vervoer veroorsaak egter ook verkeersknope en -ongelukke. Om die druk op paaie te verlig, werk regerings hard daaraan om openbare vervoer te verbeter. In baie lande word mense aangemoedig om meer fiets te ry om die aantal motors op paaie te verminder. Elektriese motors is ’n voorbeeld van omgewingsvriendelike vervoer wat al hoe meer gewild raak.

Ons kan tussen drie hoofgroepe vervoer onderskei, naamlik landvervoer, watervervoer en lugvervoer. Landvervoer sluit in wandelpaaie, paaie en treinspore met fietse, motors, motorfietse en treine. Watervervoer sluit in skepe, roeibote en seilbote wat kanale, riviere en die see gebruik. As ’n mens aan lugvervoer dink, dink jy dadelik aan vliegtuie en lughawens, helikopters en selfs lugballonne. 2

Hoekom is vervoer belangrik?

Die wêreldekonomie maak op vervoer staat. Grondstowwe moet verskuif word van die plek waar dit geproduseer word na fabrieke waar dit verwerk word. Voedsel, minerale en hout word dikwels per vragmotor, trein of skip vervoer. Olie en gas word weer met pypleidings vervoer. Vervolgens moet vervaardigde produkte van fabrieke na winkels vervoer word. Dit kan per vragmotor, trein, skip of vliegtuig plaasvind. 3

Mense het ook vervoer nodig om byvoorbeeld van die huis tot by die werk of skool te kom. Baie mense bestuur motors werk toe, terwyl ander weer openbare vervoer, waaronder busse, minibustaxi’s en treine, gebruik. Mense neem ook motors, treine, skepe en vliegtuie om na vakansieplekke te reis en familie en vriende te besoek.

Deur die geskiedenis

Vroeë vervoer

Stap was die vernaamste vervoermiddel totdat mense diere mak begin maak het. Daarna het kamele, perde en beeste goedere en mense vervoer. Meer as 5 000 jaar gelede het mense die wiel uitgevind. Hierdeur kon diere karretjies trek. Eertydse volke het ook op water gereis, aanvanklik met eenvoudige kano’s en vlotte. 4

Die Perse het ’n stelsel van paaie in 500 voor Christus (v.C.) gebou. Die antieke Egiptenare, Indiërs en Chinese het ook paaie gebou. Teen die 200’s het die Romeine paaie reg oor Europa gebou.

Vervoer per water is in die Middeleeue uitgebrei (500-1500). Skepe is met seile toegerus, en hulle kon verder en vinniger reis as vroeëre skepe wat deur mense geroei moes word. Die verbetering van navigasie het dit moontlik gemaak om verder van die land af te vaar. Ontdekkingsreise in die 1400’s en 1500’s het voorts handelsroetes tussen verafgeleë plekke geopen.

Moderne vervoer

Die uitvinding van die stoomenjin in die 1700’s was ’n belangrike gebeurtenis in die geskiedenis van vervoer. Stoomaangedrewe bote kon maklik stroomop ry en oseane sonder wind (wat nodig is vir seilbote) oorsteek. Op die land het uitvinders stoomenjins gebruik om lokomotiewe aan te dryf. Dit het gelei tot die groei van spoorweë. Teen 1869 het ’n spoorlyn deur die Verenigde State van Amerika (VSA) geloop en stoomskepe het gereeld die Atlantiese Oseaan oorgesteek. Reise wat weke geneem het, het nou slegs ’n paar dae geneem.

Die bou van kanale het seereise baie korter gemaak. Die Suezkanaal in Egipte het die reis tussen Europa en Asië verkort. Die kanaal het dit ook onnodig gemaak om om die suidpunt van Afrika te vaar. Dit het die Rooisee en die Middellandse see met mekaar verbind, en dit is in 1869 in gebruik geneem. Die het weer die reis tussen die Oos- en Weskus van Noord-Amerika verkort.

In die laat 1800’s het fietse en motors baie gewild begin word. Hulle het vinnige en maklike vervoer vir meer mense as ooit tevore moontlik gemaak. Mense wat motors gekoop het, het meer en beter paaie vereis.

In 1903 het Wilbur en Orville Wright die wêreld se eerste vlug onderneem. Die uitvinding van die straalenjin in die veertigerjare het lugreis die vinnigste manier van vervoer gemaak. Kort hierna het mense ruimtereise begin onderneem en eendag, nie te ver in die toekoms nie, sal gewone mense ook na die buitenste ruimte kan reis!

Woordbank

handel
Die koop en verkoop of die ruil van goedere/dienste/produkte met die oog om ‘n wins te maak/toon.
infrastruktuur Onderste/basiese gedeelte van ‘n struktuur; fisieke struktuur soos ‘n pad, gebou, lughawe.
ingenieurs Iemand wat akademies opgelei is in een of ander vertakking van die ingenieurswese of dit as ‘n beroep beoefen.
navigasie Jou koers/rigting behaal of beheer.
wêreldekonomie Stelsel waarvolgens handel en produksie in ‘n land beheer word.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

ʼn Historiese oorsig oor die ontwikkeling van vervoer deur die eeue

Die geskiedenis van vervoer

Verskillende vervoermiddels

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 Augustus 2021 | Bygewerk op 6 Maart 2024