Vinnige feite

  • Daar is baie riviere wat in die Stille Oseaan uitmond, maar die grootste is sekerlik dié van China en Suidoos-Asië.
  • Tifone word algemeen in warmer omgewings van die westelike Stille Oseaan gevind. Dit word gevorm deur hitte en water wat verdamp en vorm groot sirkelvormige storms. Tifone veroorsaak vernietigende winde en hewige reënval, soortgelyk aan orkane wat in die Atlantiese Oseaan vorm.
  • Die lidlande van die Suidelike Stille Oseaan se forum het in 1986 die Stille Oseaan as ’n kernkragvrye sone verklaar. Dit beteken dat geen kernkragtoetse daar uitgevoer mag word nie.
  • Vyf Amerikaanse state grens aan die Stille Oseaan: Alaska, Washington, Oregon, Kalifornië en Hawaii.
  • As ’n mens ’n eilandvakansie beplan, is daar baie keuses in die Stille Oseaan. Daar is immers meer as 25 000 eilande om van te kies! Dis meer as al die ander oseane se eilande as jy alles bymekaartel.
  • Die meerderheid van die Stille Oseaan se eilande word in die Suidelike Halfrond gevind.
  • Die Stille Oseaan is besig om kleiner te word as gevolg van plate wat skuif, terwyl die Atlantiese Oseaan weer groter word.
  • Het jy geweet dat die Stille Oseaan groter is as die grootte van al die landmassas van al die kontinente bymekaar?
  • Ongeveer 75% van die vulkane op aarde word in die Stille Oseaan kom gevind.
Botha, C.G. 1938. Ons Suid-Afrika voorheen en tans. United Tobacco cos. (south) limited. 104

Die Stille Oseaan moet mos  ʼn rustige en stil oseaan wees, nè? Die Portugese ontdekker Ferdinand Magellaan het die oseaan “El Mar Pacific” genoem, wat “die stil/vreedsame see” beteken. Maar wat Magellaan nie geweet het nie, is dat hierdie einste oseaan op ander kere allesbehalwe stil en rustig is wanneer die baie vulkane naby dié oseaan dikwels uitbars of wanneer daar gereelde aardbewings voorkom. 1

Hierdie naam pas dus eintlik nie, want dié oseaan is allesbehalwe stil! Dit is nie net aardbewings en vuurspuwende berge wat die oseaan onrustig en woes maak nie, maar ook die feit dat die eilande in die Stille Oseaan gereeld deur tifone (dis tropiese siklone) getref word. Tsoenami’s wat deur onderwateraardbewings veroorsaak word, het al hele dorpe vernietig! 2

Die verskil tussen seë en oseane

Het jy geweet dat ʼn see en ʼn oseaan nie dieselfde is nie? Seë is oor die algemeen kleiner as oseane en is geleë daar waar die see die land ontmoet. Ook word seë dikwels deur land omring. ʼn Oseaan verteenwoordig dus ’n baie groter stuk oop water as ’n see. 2

Alle oseane en seë is eintlik deel van een groot watermassa wat oor die ganse wêreld verbind is. Dit word die wêreldoseaan (in Engels: global ocean) genoem en dit is die tuiste van meer as 230 000 seediere. Dalk meer, aangesien daar nog dele van die wêreldoseaan is wat nog nie verken is nie! 1

Waar is die Stille Oseaan?

Die Stille Oseaan is ’n groot seemassa wat van die Arktiese Oseaan in die noorde tot die Suidelike Oseaan in die suide strek. Dit lê tussen Noord- en Suid-Amerika in die ooste en Asië en Australië in die weste.

Die oseaan (as ons nie die Suid-Chinese See byreken nie) beslaan ongeveer 161,76 miljoen vierkante kilometer.

Die Stille Oseaan ontmoet die Arktiese Oseaan in die Noordelike Halfrond by die Beringstraat. Dit is ’n smal strook water tussen Asië en Noord-Amerika en verbind die Beringsee met die Noordelike Yssee. In die Suidelike Halfrond ontmoet die Stille en die Atlantiese Oseaan mekaar by die Drake-deurgang tussen Tierra del Fuego in Suid-Amerika en Graham Land in Antarktika. Die Straat van Malakka verbind die Stille Oseaan met die Indiese Oseaan in die weste terwyl die Straat van Magellaan (onderpunt van Suid-Amerika) die Stille Oseaan met die Atlantiese Oseaan in die ooste verbind.

Daar is baie seë in die Stille Oseaan. Die grootstes is die Celebes-see, die Koraalsee, Oos-Chinese See, Filippynse See, See van Japan, Suid-Chinese See, Sulu-see, Tasmaniese See, en die Geelsee.

Baie groot eilande lê in die westelike Stille Oseaan. Dit sluit verskeie eilandgroepe van Japan, die Filippyne, Indonesië en Nieu-Seeland in. Daar is ook kleiner eilande wat oor ’n groot omgewing van die sentrale en westelike Stille Oseaan versprei is, en dit word Oseanië genoem.

Sommige van hierdie eilande is deur vulkane gevorm, een van die bekendste daarvan is Hawaii. Daar is ook eilande wat uit koraal geskep is. 1

Grootste en diepste

Die Stille Oseaan is die grootste van al die oseane op Aarde, en bedek ongeveer een derde van die aarde. Die Stille Oseaan stof beslis sy oseaanmaat, die Atlantiese Oseaan uit, want dis omtrent dubbeld groter en bevat meer as dubbeld die watervolume van die Atlantiese Oseaan.

Die gemiddelde diepte van die Stille Oseaan is 4 280 meter.

Die oseaan is ook bekend daarvoor dat die diepste plek wat al ooit in die see gemeet is, daar voorkom. Dit is die Mariana-trog.

Die Mariana-trog is naby die Mariana-eilande geleë en sy diepte is op 11 034 meter gemeet. Dit beteken dat as ons die Berg Everest daar insit, sal dié berg se hoogste punt nie eens by die water uitsteek nie! 2

Geskiedenis

Die mense van Suidoos-Asië het hulself baie lank gelede op die eilande in die Stille Oseaan gevestig. Dit was ongeveer 3 000 tot 4 000 jare terug. Die eerste Europese ontdekkingsreisigers waarvan ons weet wat die Stille Oseaan gesien het, was Spaanse ontdekkers. Vasco Núñez de Balboa was in 1513 by Panama terwyl Ferdinand Magellaan in 1520 die Stille Oseaan in die suide ontdek het. Hollandse, Franse en Britse ontdekkers het op hul hakke gevolg.

Ferdinand Magellaan

Kaptein James Cook was ’n baie bekende ontdekkingsreisiger van Groot-Brittanje, en hy het in die 1700’s die eilande in die suide van die Stille Oseaan ontdek. Tot met sy dood in 1779 was daar maar min eilande wat nog nie ontdek was nie! 1

James Cook

Plante en diere

Die Stille Oseaan het ’n groot verskeidenheid van plante en diere. Kelpbeddings van bruin alge (Laminaria) word in die rotsagtige, koue water van die kuslyne van Noord en Suid-Amerika gevind. Die beddings werk soos ’n reënwoud in die see en baie verskillende diere en plante kom daar voor. Visse wat plankton eet – soos die Japanse sardyne en die Peruaanse ansjovis – floreer in die water van hierdie gebiede.

Die rykste en grootste koraalriwwe in ons oseane kom in die westelike Stille Oseaan voor. Daar is ses keer meer visspesies in die Stille Oseaan se koraalriwwe as in die Atlantiese Oseaan se riwwe.

Ses spesies van tuna, waarvan een endemies is, kom in die tropiese Stille Oseaan voor, en beslaan meer as helfte van die wêreld se totale vangste. Vyf spesies van salm kom in die noorde van die Stille Oseaan voor, terwyl slegs een spesie, die Atlantiese salm (Salmo salar), in die Atlantiese Oseaan voorkom.

Daar woon ook baie walvisse in die Stille Oseaan. Baie spesies migreer oor lang afstande van die kouewaterstreke waar hulle eet tot in die warmer gebiede waar hul walviskalfies gebore word.

Die ekonomie

Die Stille Oseaan het baie mineraalbronne, maar die diepte van die oseaan maak dit moeilik om te ontgin. Daar word petroleum en natuurlike gas langs die kuslyn van Australië en Nieu-Seeland ontgin en pêrels word langs die kuslyne van Australië, Japan, Papoea-Nieu-Guinee, Nicaragua, Panama en die Filippyne geoes. Die pêrels word egter glo al hoe minder in sekere gebiede.

Vis is die Stille Oseaan se grootste bate en daar word baie verskillende vissoorte, soos salm, sardientjies, swaardvis, tuna en skulpvis gevang. Het jy geweet die visserye in die Stille Oseaan voorsien meer as drie vyfdes van die totale vangste ter wêreld? Ongelukkig is daar al hopeloos te veel vis gevang en oorvissery bied ’n wesenlike probleem. Dit, tesame met waterbesoedeling, het die getalle van sekere vissoorte ernstig laat afneem. Sout, broom en magnesium in die water word ontgin en sand, grond en fosfaatrots in die seebedding word ook benut.

Toerisme is ’n groot bron van inkomste vir baie eilande in die Stille Oseaan.

Pienk koraalspesies en swart koraal word in die tropiese streke van die Stille Oseaan benut om juwele en ander ornamente mee te maak. 3

Die Ring van Vuur

Die Stille Oseaan lê bo-op ’n massiewe Pasifiese tektoniese plaat. ’n Tektoniese plaat is ’n groot stuk van die aarde se kors wat stadig beweeg soos wat ander plate beweeg. Die land en water is bo-op hierdie plaat en verskeie van hierdie plate omring die Pasifiese plaat. Waar hierdie plate ontmoet, kan baie vulkane en aardbewings voorkom. Die ketting van vulkane om die grense van die Stille Oseaan, word die Ring van Vuur genoem. 4

Die Ring van Vuur is dus ’n reeks vulkane en plekke waar aardbewings gereed voorkom. Ongeveer 90% van alle aardbewings vind al langs die Ring van Vuur plaas. Die ring is boonop die tuiste van 75% van alle aktiewe vulkane op die planeet.

Daar is immers ’n verstommende 452 vulkane wat op die ring voorkom, dis al langs die Noord-Amerikaanse kus, oor die Straat van Bering, dan na Japan en vanaf Japan na Nieu-Seeland. ’n Paar aktiewe en dormante vulkane in Antarktika is ook deel van die ring.

’n Mens sou dink dat die ring sirkelvormig is, soos ’n regte ring, maar nee. Dit lyk nogal soos ’n reusagtige hoefyster en dis ongeveer 40 000 km lank. 5

 

Water en klimaat

Die watertemperatuur van die Stille Oseaan wissel van vriesend in die poolstreke tot ongeveer 25-30 °C naby die ewenaar.

Die soutinhoud van die water wissel ook na gelang van die ligging. Water naby die ewenaar is gewoonlik minder sout as in ander gebiede. Die soutinhoud naby die pole is ook minder, want minder seewater verdamp in koue omgewings. Die Stille Oseaan is in die algemeen warmer as die Atlantiese Oseaan. Seestrome in die oseane word deur winde gedryf wat patrone naby die oseaan se oppervlak maak. Die hoofseestrome in die noordelike Stille Oseaan beweeg in ’n kloksgewyse rigting, terwyl die hoofstroom in die suidelike Stille Oseaan antikloksgewys beweeg. Hierdie seestrome en die winde op die oseaan beïnvloed ook die klimaat op die land. Die Japanse seestroom dra byvoorbeeld warm weer na Japan toe.

Die lug bo tropiese Asië word in die somer verhit en dit begin ’n laagdrukstelsel. Die laagdrukstelsel bring sterk winde en reën daarmee saam en dit word moesons (in Engels: monsoons) genoem. Die laagdrukstelsel word dan die fokus van passaatwinde in die Suidelike en Noordelike Halfrond. In die winter koel die kontinent af en dit lei dan weer tot die ontwikkeling van die Oosterse hoogdrukstelsel, wat die passaatwinde van die Noordelike Halfrond versterk. Die westelike Stille Oseaan, suid van die Japanse see, ervaar dramatiese seisoenale verskille tussen koud en warm.

Die weer in die gedeeltes waar passaatwinde voorkom, is in die algemeen gematig met baie min wolkbedekking en min reën. Die ekwatoriale gebied waar die passaatwinde van die Noord- en Suidelike Halfrond bymekaarkom, kan windstilstreke (in Engels: doldrums) veroorsaak. 3

Hedendaagse probleme

Ongelukkig is daar vandag groot gedeeltes van die Stille Oseaan wat besoedel is, veral naby die kuslyne van groot stede en hawens. Dis juis daar waar fabrieksafval, riool, kunsmis en gif hul weg in die oseaan in gevind het.

Dan is daar ook nog skepe wat olie stort, wat groot probleme in kusgebiede veroorsaak. Benewens al hierdie probleme, is daar sekere tipe visse wat nou skaars is omdat vissermanne te veel daarvan gevang het.

Die rommelkol

Daar is so ’n enorme hoeveelheid rommel in die Stille Oseaan dat, as dit nie gedurig rondgedryf het nie, dit ’n land op sy eie kon vorm! Dit staan as die Great Pacific Garbage Patch bekend en is groter in oppervlak as Suid-Afrika! Al die rommel, veral plastiek, kom daar byeen omdat seestrome daar ontmoet en ’n massiewe hoop vorm. Plastiek is baie sleg vir die omgewing en dus is dit baie gevaarlik vir die see en al sy inwoners.

Dié rommelhoop is tussen Hawaii en Kalifornië geleë. Dis moeilik om te sê presies hoe groot dit is, want die rommel skuif die heeltyd. Ongelukkig is dit nie die enigste plek in die oseaan waar daar sulke groot rommelhope is nie, want daar is ook soortgelykes in die Atlantiese en Indiese oseane. 6

Woordbank

alge Seewiere.
ansjovis ’n Klein vissoort, wat gesout of in olyfolie ingelê word en dan as sardientjies verkoop word.
bate Iets wat vir iemand/of ’n plek tot voordeel kan wees.
broom Dis ’n donkerbruin vloeistof wat in die natuur voorkom. Dit ruik sleg.
ekwatoriale Naby die ewenaar.
forum Mense wat byeenkom om te vergader.
fosfaatrots ’n Gesteente/rots waarin kalsiumfosfaat gevind word.
hoogdrukstelsel ’n Stelsel van hoë druk soos dit in die atmosfeer beweeg. Lugdruk is die krag wat deur die gewig van die atmosfeer op die aarde se oppervlak uitgeoefen word. Dit neem af wanneer die hoogte bo seevlak toeneem.
kelp ’n Groeiende massa van bruin seegras.
kernkrag Die krag of energie wat vrygestel word wanneer ‘n atoom gesplyt of gekloof word.
koraal Koraaldiertjies in die see skei kalkstof af wat dan koraalbanke vorm.
laagdrukstelsel ’n Stelsel van lae lugdruk. Lugdruk is die krag wat deur die gewig van die atmosfeer op die aarde se oppervlak uitgeoefen word. Dit neem af wanneer die hoogte bo seevlak toeneem.
magnesium ’n Silwerwit metaal.
migreer Beweeg van een streek na ’n ander.
moesons Die swaar reën wat gewoonlik van April tot Oktober in Indië en ander lande in Suid-Asië voorkom.
passaatwinde Byna konstante oostewinde wat in die grootste gedeelte van die tropiese en subtropiese dele van die wêreld voorkom en a.g.v. ‘n laagdrukstelsel oor die ewenaar in daardie rigting waai.
plankton Drywende voedsel wat uit diertjies en plante bestaan.
riool Afvalstowwe, wat gewoonlik vloeibaar is en uit huishoudings, fabrieke en winkels kom.
sardyne ’n Klein vissie wat in die see aangetref word. Word ook sardien genoem.
salm Groot eetbare vis met ’n ligpienk vleis.
see ’n Massa soutwater wat die grootste deel van die oppervlak van die aarde bedek.
seestraat ’n Nou deurgang van die see tussen twee groter seë/oseane.
seisoenale Vind in sekere seisoene plaas.
siklone ’n Sirkelvormige storm wat oor warm oseane ontwikkel. As dit land tref, dan word hewige reënval en winde ervaar.
tektoniese plaat Groot bewegende stuk van die aarde se kors.
trog ’n Insinking of vallei in die see wat soos ’n bak lyk, met die bokant wyer as die onderkant.
tifone Sirkelvormige stormstelsel wat oor tropiese gebiede ontwikkel.
tsoenami Reusagtige golwe wat groot vernietiging veroorsaak.
tuna ’n Eetbare seevis waarvan die vleis dikwels in blikkies ingemaak word.
uitmond Uitloop of uitvloei in; eindig.
wesenlike Werklike of ernstige.
windstilstreke ‘n Omgewing waar die wind nie juis waai nie, meestal naby die ewenaar.

Lees hierdie artikels om jou kennis te verryk

Kyk hierdie video’s  

Leer meer oor oseane

Pragtige beeldmateriaal van die Stille Oseaan

Hoe groot is die Stille Oseaan?

Wat is die Ring van Vuur?

Die Mariana-trog

Die groot rommelkol

Grafika: VivaGrafika: Viva
Gepubliseer op: 27 Oktober 2023 | Bygewerk op 24 Junie 2024