Vinnige feite

  • Portugal het nie ’n kus in die Middellandse See nie, maar slegs in die Atlantiese Oseaan. Dit is dus nie verbasend dat hulle die eerste land was wat op wêreldontdekking gekonsentreer het nie. 5
  • Christopher Columbus, die beroemde seevaarder, het met die Portugese saamgewerk en baie by hulle oor ekspedisies geleer. Hy het die Azores as wegtrekplek vir sy ekspedisies gebruik. 4
  • Sagres is ’n gebied wat antieke geograwe as die westelike rand van die wêreld beskryf het. 5
  • Portugal het die meeste slawe in die Transatlantiese slawehandel gehad. Na raming het hulle 3,5 miljoen slawe uit Afrika geneem en verkoop. Die tweede meeste was Brittanje met 2 miljoen. 7

Hendrik die Seevaarder se naam is misleidend. Dit laat hom klink asof hy ’n groot ontdekkingsreisiger was, maar dit is glad nie die geval nie! Hy was nie ’n seevaarder nie, het nie op ekspedisies gegaan nie, en het amper nooit Portugal, sy tuisland, verlaat nie.

So waar kom die naam vandaan? Hy is só genoem omdat hy die persoon is wat die era van Europese ontdekking van die oseane ingelui het.

Grootwordjare en persoonlike lewe

Prins Hendrik van Portugal, of Dom Henrique, soos hy in Portugees bekend is, is op 3 Maart 1394 in Porto, Portugal, gebore. 1 Hy was die derde seun van koning Johan I (João I) van Portugal en sy vrou, Philippa van Lancaster. 2

Koning João I

Hendrik was ’n diep godsdienstige Christen. Hy het nooit getrou of kinders gehad nie. 3

Hy is in die 15de eeu deur een van sy biograwe soos volg beskryf: Hy was uiters intelligent. Hy was nie gedryf deur geldgierigheid nie, maar eerder sy begeerte om grootse dade te verrig. Hendrik het mense aangestel op verdienste, ten spyte van hulle ras, geloof of nasionaliteit. Hy was hardwerkend, stil, kalm, nederig en diep geïnteresseerd in mense. 4

Ceuta

In 1415, toe Hendrik 21 jaar oud was, het hy en sy broers troepe aangevoer wat Ceuta ingeneem het. Dit was Portugal se eerste oorsese kolonie. 5

Ceuta is suidoos van die Gibraltar-seestraat geleë. Dit is op die noordelike punt van Afrika en grens aan Marokko. Dit was in daardie stadium ’n Moslembuitepos en bedrywige handelsentrum. 5

Die aanval op Ceuta was ’n kruistog met twee doelwitte: om Portugal se mag uit te brei en die heidene, soos hulle na die Moslems verwys het, te verdryf. 1

Die Portugese het vanaf Ceuta aanvalle op Moslem-nedersettings langs die kus geloods. Hendrik het gou ryk geword van die handel en ander projekte op die eiland. 3

Dit is egter nie die belangrikste ding wat op Ceuta gebeur het nie. Die belangrikste is dat die Portugese (soos ander Europeërs) in daardie stadium amper niks van Afrika af geweet het nie. Hendrik het in Ceuta stories gehoor van goudhandelsroetes, waardevolle hulpbronne en magtelose Christene wat deur Moslems uitgebuit word. Hy het gou ’n obsessie met Afrika ontwikkel. 2

Hendrik borg see-ekspedisies

Hendrik se passie het in ’n reeks doelwitte tot uiting gekom, insluitende:

  • die uitbreiding van die Portugese se kennis van navigasie langs die weskus van Afrika afwaarts;
  • die vestiging van ’n seeroete vir handel met Asië;
  • die vermeerdering van handelsgeleenthede vir Portugese handelaars; 5
  • die ontdekking van goud en ander natuurlike hulpbronne om Portugal te verryk; 2
  • die verspreiding van Christenskap en die oorwinning van die Moslems; 5 en
  • die vind van presbiter John, ’n fiktiewe Christelike koning wat volgens legende in die binneland van Afrika gewoon het. 1

Sagres

In 1417 of 1418 het Hendrik ’n instituut vir navigasie by Sagres gestig. Sagres is op die mees suidwestelike punt van Portugal geleë. 5 Daar is egter ’n debat onder historici of die instituut by Sagres wel bestaan het. Meeste historici vandag reken dat dit moontlik ’n plek was waar matrose, skipbouers en sterrekykers ontmoet het. Daar is ’n fort opgerig. Daar is egter nie bewyse dat dit ’n instituut was nie, en was heel waarskynlik ’n informele bymekaarkomplek. 6

In Sagres het mense idees uitgeruil oor navigasietegnieke, geografiese inligting en instrumente vir seevaardery. 5

Elke ekspedisie wat teruggekeer het, het nuwe kennis gebring oor winde, seestrome, getye, kuslyne en eilande. Hierdie inligting is gebruik om die akkuraatheid van kaarte te verbeter én om beter toerusting te bou. 3

Die karveel

Die belangrikste nuwe skepping van Hendrik se tyd was die karveel. Hierdie skip is in opdrag van Hendrik ontwikkel. Hy het ’n skip gesoek wat teen die wind – met ander woorde as die wind van voor af kom – kon seil, asook in beide klipperige kuswaters én die oop see. 3 Die ontwerp van die karveel was gebaseer op dié van ’n vissersboot. 4 Die seile is só ontwerp dat die skip kon seil, al het die wind van voor af gekom. 1 Dit was baie vinniger en meer beweeglik as ander skepe van sy tyd. Hendrik het nou ’n skip gehad wat hy teen die weskus van Afrika kon afstuur. 5

Die kolonisering van Madeira

In 1418 het twee van Hendrik se skepe per ongeluk ná ’n storm op Madeira – ’n groep van vier eilande aan Afrika se noordweskus – geland. Portugal het die eilande in 1419 geannekseer. Hendrik is as goewerneur aangestel. Die kolonisering van Madeira het in 1420 begin. 3

Kaap Bojador

In Hendrik se tyd was die verste suid wat Europeërs in menseheugenis geseil het, Kaap Bojador, in vandag se Wes-Sahara. 5

Die oseaan was moeilik om te seil, met hoë golwe, vlak waters, mis en ongure weer. 3 Die seestrome daar vloei suid, wat dit moeilik maak om terug te seil Europa toe. 1

Omdat so baie skepe daar gestrand het, het die matrose geglo die see suid van Kaap Bojador was vol monsters en onbegaanbaar. 5 Vandag klink dit vir ons soos bygelowigheid, maar matrose in die 15de eeu het volstrek geweier om by Kaap Bojador verby te seil. 1

Tussen 1424 en 1434 het Hendrik 15 seeritte suid gestuur, maar geen van hulle het verder as Kaap Bojador gevorder nie. 5 Die kapteins het elke keer met een of ander verskoning teruggekeer. 4

In 1434 het kaptein Gil Eannes die eerste ekspedisie aangevoer wat Kaap Bojador verbygesteek het. Hy het eers wes geseil, toe die Kaap in die oop see verbygesteek, en toe weer oos geseil. Hy het sonder voorval teruggekeer. 5

Hierdie ekspedisie het die pad na die suide oopgemaak. Hierna sou meer en meer skepe die kus van Afrika al hoe vêrder suid verken.

Die kolonisering van Azores

Portugal het die Azores-eilandgroep, in die middel van die Atlantiese Oseaan, in 1439 gekoloniseer. Hendrik is ook hier as heerser aangestel. Hierdie eilande het die wegtrekplek van latere Portugese uitbreiding geword. 3

Afrika en die slawehandel

Die ekspedisies wat langs Afrika se weskus afgevaar het, het goud, velle, kos en materiale teruggebring Europa toe. Die noemenswaardigste handelsproduk was egter slawe. 3 Hendrik het die twyfelagtige eer dat hy die persoon is wat die Transatlantiese slawehandel afgeskop het. 2

In 1441 het twee van Hendrik se karvele by die grens van vandag se Wes-Sahara en Mauritanië geland. Hulle het in opdrag van Hendrik ’n paar inheemse Afrikane gevang en teruggeneem Portugal toe. 2 Vir Hendrik was die doel hiervan wetenskaplik. Hy wou leer oor hulle land, taal, ras en gewoontes. Hy wou hulle ook bekeer na Christenskap. 4

Hendrik se kapteins het egter net in geld belanggestel. 4 Die een gevangene was ’n hoofman. In ruil vir sy vryheid het hy belowe om vir die Portugese ander slawe te vang. 2 Hendrik het dit toegelaat. 4

In 1442 het die eerste tien slawe in Portugal geland. In 1443 was daar nog 30. 5 In 1444 is 240 slawe – mans, vroue en kinders – kaal op die dokke van Lissabon vertoon en verkoop. 3 Kort voor lank was Portugal diep in die slawehandel betrokke. 2

In Hendrik se tyd was slawehandel ’n normale en aanvaarbare aktiwiteit. In Portugal is hy geprys. Hy het ’n nuwe bron van rykdom gevind, Moslem-handelsnetwerke vernietig en die heidenslawe (ongelowige slawe) die geleentheid gegee om Christene te word. 3

Die pous van die Rooms-Katolieke Kerk het hom die “geliefde seun” en “ware soldaat van Christus” genoem. 3

Persoonlike lewe en dood

Hendrik het in 1460 in Sagres gesterf. 2 Hy is in ’n indrukwekkende grafkelder in die Batalha-klooster in Portugal tot ruste gelê. 3

Portugese see-ekspedisies ná sy dood

Ná Hendrik se dood het Portugese see-ekspedisies vooruitgang gemaak, onder leiding van Hendrik se nefie, koning Johan II van Portugal. 5

Teen Hendrik se dood het Portugese seevaarders al so vêr suid as die teenswoordige Sierra Leone geseil. 28 jaar later sou Vasco da Gama, die beroemde Portugese seevaarder, rondom die suidpunt van Afrika seil en die seeroete na Indië vind. 2

Vasco da Gama

Portugal het kolonies aan die wes- en ooskus van Afrika en handelsposte sovêr as Japan, Indië, die Indiese Oseaan en Brasilië gevestig. 1

Nalatenskap

Voor Hendrik se tyd het Europeërs nie geweet hoe die wêreld buite Europa, die Midde-Ooste en dele van Noord-Afrika gelyk het nie. Daar was nie skepe wat met gemak duisende kilometers ver kon seil nie, en die matrose was boonop bygelowig.

Teen die tyd wat hy gesterf het, is die weskus van Afrika tot by vandag se Sierra Leone ontdek, eilande in die Atlantiese Oseaan is gekoloniseer, en Europeërs het vir die eerste keer in die moderne tyd Brasilië en Kanada aanskou. Daar was geen meer rede tot vrees nie, en seevaarders kon nou die onbekende met vertroue aandurf. 4

Hendrik het basies die weg voorberei vir die moderne wêreld. Nuwe handelsroetes is gevind, en mense van totaal verskillende lewenswyses is aan mekaar verbind. Daarmee saam was daar natuurlik ook minder positiewe gevolge, insluitende uitbuiting van inheemse mense, wandade en slawehandel. 1

Die om en by 100 jaar tussen Hendrik se tyd en die middel van die 16de eeu word gewoonlik die Europese Era van Ontdekking (“Age of Exploration” of “Age of Discovery”) genoem. In hierdie tyd het lande soos Portugal, Spanje, Brittanje, Nederland en Frankryk duisende ekspedisies na nuwe en onbekende lande gestuur. 5 Europese heerskappy sou gou strek tot by Asië, Australië en die Amerikas. 2

Woordbank

Amerikas Ook bekend as die Nuwe Wêreld. Dit sluit in Noord- en Suid-Amerika en die Karibiese Eilande.
geannekseer Om besit van ’n gebied te neem.
antieke Ou Griekse of Romeinse tyd.
biograwe Iemand wat die geskiedenis van iemand anders se lewe skryf.
bygelowigheid Geloof aan wonderdadige werkings of verskynsels.
dokke Aanlêplek vir skepe; waar skepe in ’n hawe vasmeer.
era ’n Tydperk in die geskiedenis.
ekspedisies Lang, deeglik beplande reis, veral na ’n onbekende/gevaarlike plek.
fiktiewe Dit wat slegs in die verbeelding bestaan.
geografiese Geografie kyk na die ruimtelike verband tussen mense, plekke en die aarde. Dit sluit in hoe geboue, strate en stede georden word.
goewerneur Die titel wat gebruik is vir die regeerders van kolonies.
grafkelder Gemesselde vertrek, soms (gedeeltelik) onder die grond, waarin lyke in doodskiste weggelê word in plaas van in grafte in die grond begrawe te word.
handelsentrum ’n Plek waar goedere en dienste gekoop en verkoop word.
heidene Iemand wat nie aan ’n god glo nie en aan geen van die gevestigde godsdienste behoort nie.
hulpbronne Enigiets wat tot nut van die mens is.
informele Alledaags en nie vir ’n besondere geleentheid nie.
ingelui Die begin van ’n gebeurtenis, tydperk, ens. aankondig.
instituut Instelling.
intelligent Met ʼn goeie verstandelike vermoë; skrander; skerpsinnig.
karveel ’n Klein, ligte skip wat deur seevaarders tussen die 15de en 17de eeu gebruik is.
kolonie Gebied waar ’n groep mense hulle in ’n nuwe land gevestig het en ’n gemeenskap gevorm het wat geheel of gedeeltelik afhanklik is van die moederland; gebied wat deur ’n ander land oorheers word; oorsese besitting; nedersetting.
kolonisering Politieke beheer oor ’n gebied verkry en mense van jou land stuur om daar te gaan woon.
kruistog Georganiseerde optrede teen een of ander euwel en om jou eie goeie saak te bevorder.
menseheugenis So lank as wat mense terug kan onthou.
moderne wêreld Die tydperk toe die wêreld begin lyk het soos die een waarin ons vandag woon.
Moslem-buitepos Plek waar aanhangers van die geloof Islam handel dryf.
nasionaliteit Die land waaraan jy behoort.
navigasie Die kuns (studie) om ’n voertuig van een punt na die ander te stuur (beweeg).
nederig Wat nie dink hy/sy is belangriker as ander mense nie; nie hoogmoedig/trots nie; beskeie.
obsessie Beheptheid met iets, om gedurig daaraan te dink.
onbegaanbaar ’n Plek waarheen ’n mens nie kan gaan nie.
ongure Onplesierig, winderig en koud.
Rooms-Katolieke Kerk Een van die takke van Christenskap, waar mense onder meer glo die pous in Rome is God se verteenwoordiger op aarde.
seestraat ’n Nou deurgang van die see tussen twee lande; waterweg.
tot ruste lê Begrawe.
uitgebuit Om onregverdig en selfsugtig soveel moontlik voordeel uit iemand of iets te put.
verdienste Om iets te kry wat jou toekom, omdat jy goed of hardwerkend is.
volstrek Iets waaroor daar geen twyfel is nie.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Hendrik die Seevaarder

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Hendri die Navigator

Hendrik die Seevaarder en die era van ontdekking

Die Europese Era van ontdekking

Watter instrumente het die seevaarders gebruik?

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 6 Februarie 2024 | Bygewerk op 26 Februarie 2024