Vinnige feite

  • Maksimum breedte: ongeveer 10 000 km (tussen die twee mees suidelike punte van Afrika en Australië) 7
  • Lengte: 9 600 km (Antarktika na Indië)
  • Oppervlak: 70 560 000 vierkante km (ongeveer 20% van die aarde se wateroppervlakte)
  • Gemiddelde diepte: 3 741 m
  • Maksimum diepte: 7 290 m (die Java-trog naby Indonesië) 8
  • Volume/Inhoud: 292 131 000 kubieke km
  • Lengte van kuslyn: 66 526 km
Foto: iStock

Van die drie bekendste oseane in die wêreld – die Stille Oseaan, Atlantiese Oseaan en Indiese Oseaan –  is die Indiese Oseaan die kleinste. Dié oseaan is ongeveer vyf-en-’n-half keer die grootte van die Verenigde State van Amerika (VSA). 1

Herkoms van die naam

Die naam word sedert ongeveer 1515 gebruik. Daar is drie hoofredes waarom die oseaan na die land Indië genoem is: Indië het die langste kuslyn van al die lande wat aan die oseaan grens, Indië is sentraal geleë tussen Oos- en Wes-Asië, en die suidelike deel van Indië strek soos ’n lang punt in die oseaan in.

Seychelles

Ligging van die oseaan

Lande/kontinente wat rondom die oseaan geleë is:

Noord: Indië (Asië)

Wes: Afrika

Suid: Suidelike Oseaan (Antarktika)*

Oos: Australië

Daar is 57 eilandgroepe in die Indiese Oseaan.

Daar is 16 lande in Afrika en 18 lande in Asië wat deur die water van die Indiese Oseaan aan mekaar verbind word.

*In 2000 het die Internasionale Hidrografiese Organisasie besluit om die suidelike gedeeltes van die  oseane rondom Antarktika (suid van die 60 grade- suidelike breedtelyn) te hernoem na die Suidelike Oseaan.

Maldives

Seevaart oor die oseaan

Mense uit lande rondom die Indiese Oseaan het sedert die vroegste tye op dié oseaan gevaar. Die Europeërs het eers teen die einde van die 15de eeu by die eerste seevaarders aangesluit. Dit was toe die eerste Europese seevaarder, die Portugees Vasco da Gama, in 1497 die Indiese Oseaan oorgesteek en die weskus van Indië bereik het. Ná hom het Engelse, Franse en Hollanders gevolg.

In die eeue daarna het dit deel van die seeroete tussen Asië en Wes-Europa geword. Vandag is dit ʼn belangrike roete vir die vervoer van olie. 2

Bekendste eilande in die Indiese Oseaan

Mauritius
Seychelle
Réunion
Madagaskar
Comore
Maldives
Sri Lanka (voorheen bekend as Ceylon)

Mauritius

Belangrikste hawestede (Stad en land waarin die stad geleë is)

Singapoer (Singapoer – sowel die land as die stad word ‘Singapoer’ genoem) Moembai (Indië)

Singapoer

Djakarta (Indonesië)

Mombassa (Kenia)

Durban (nie net die besigste hawe in Suid-Afrika nie, maar ook in Afrika).

Durban

Die noordelike Indiese Oseaan is die belangrikste vervoerroete vir olie aangesien dit Asië verbind met die olieryke lande in die Midde-Ooste. Daar word elke dag ongeveer 17 miljoen vate olie deur tenkskepe oor die Indiese Oseaan vervoer. 3

Groot kusstede (Stad en land waarin die stad geleë is)

Moembai (Indië)
Colombo (Sri Lanka)
Singapoer (Singapoer)
Perth (Australië)
Dar-es-Salaam (Tanzanië)
Durban (Suid-Afrika)

Durban

Hoe warm is die oseaan se water?

Die Indiese Oseaan is die warmste van die drie bekendste oseane. Temperature word bepaal deur die posisie in die oseaan asook deur seestrome. In kusgebiede naby die ewenaar is die water se temperatuur ongeveer 28oC. Oor die algemeen is die minimum temperatuur 22oC, maar verder suid naby die poolgebied is die water se temperatuur natuurlik baie kouer. 4

Seychelles

Die warm water van die oseaan veroorsaak natuurtoestande soos moesonreën, tsoenami’s, tropiese siklone asook sterk winde.

Omgewingsfaktore

Besoedeling kom voor as gevolg van afval asook olie wat in die see gestort word. Van die koraalriwwe word ook beskadig as gevolg van klimaatsverandering. 5

Van die spesies in die oseaan waarvan die voortbestaan bedreig word, is seeskilpaaie, walvisse en robbe. Die hoeveelheid tuna wat in die oseaan leef, het deur die jare baie verminder. Een van die redes is die groot aantal industriële visvangmaatskappye wat in die oseaan aktief is.

Daar word groot hoeveelhede plastiek en ander afval in die oseaan gestort, ook van skepe af. In 2010 is ’n drywende berg plastiek in die Indiese Oseaan ontdek. Die grootte daarvan is 5 miljoen vierkante kilometer! Hierdie berg plastiek dryf in ’n sirkelroete van Australië na Afrika en weer terug na Australië. Hierdie sirkelroete neem ses jaar om te voltooi. 6

Plante- en dierelewe

Dit is interessant dat daar min mariene dierelewe in die Indiese Oseaan is omdat die oseaan se water soveel warmer is as dié van die ander oseane. Tuna en ansjovis is van die vissoorte wat hier voorkom.

Die suurstofinhoud van die oseaan is laag en dit het ’n invloed op die mariene lewe. Die rede hiervoor is die groot hoeveelheid verdamping van die oseaan se water.

In 2016 het navorsers van die Southampton-universiteit bekend gemaak dat daar ’n aantal nuwe spesies seediere in die oseaan ontdek is, onder andere krappe, wurms en slakke.

Kyk in hierdie skakel na ’n kaart van die Indiese Oseaan

Woordbank

mariene dierelewe Lewende wesens en plante in die see

Lees hierdie artikel om nog meer te leer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 19 Januarie 2022 | Bygewerk op 5 Maart 2024