Vinnige feite

  • Die kwessie van Columbus se nasionaliteit kan mens deurmekaar maak. Hy is gebore in Italië en het daar gewoon tot hy vroeg in sy twintigs was. Daarna het hy vir ʼn paar jaar in Portugal gewoon, maar die res van sy lewe in Spanje. Dit was in Spanje waar sy tyd as seevaarder werklik afgeskop het. 6
  • Een van die belangrikste nalatenskappe van Columbus is dat daar soveel plekke is wat na hom vernoem is. Net in die Verenigde State van Amerika is daar talle stede asook die District of Columbia (DC), waar die hoofstad van die VSA geleë is. Naas Alexander die Grote, Julius Caesar en koningin Victoria is hy waarskynlik een van die mees vernoemde mense in die geskiedenis.
  • Columbus is geïnspireer deur die ontdekkingsreisiger Marco Polo, die beroemde Italiaanse seevaarder en avonturier. 3
  • Columbus word soms genoem as die eerste mens wat die huidige land Amerika “ontdek” het, maar hy was nooit eens naby aan die vasteland van Noord-Amerika nie. 7
  • Columbus se naam in Italiaans is Cristofore Colombo, en in Spaans Cristóbal Colón. 2
  • Columbus was nie die eerste mens wat gesê het mens kan by Asië uitkom deur van Europa af wes te seil nie. Die idee is so oud soos die idee dat die aarde rond is, en die eerste mens met daardie idee het gelewe voor Christus! 1
  • Een van die mites oor Columbus is dat hy wes gevaar het om te bewys dat die aarde rond was. Dit was glad nie die geval nie. Hy wou net bewys dat dit moontlik was om rondom die aarde te seil. 11
  • Columbus was ook nie die eerste Europeër wat die Westelike Halfrond gesien het nie. Dít was die Viking-ontdekker Leif Erikson, wat in die elfde eeu dele van vandag se Kanada ontdek het. 1 Die eerste mense van ʼn ander vasteland wat in die Amerikas aangekom het, was waarskynlik die Chinese. 6

In 1492 het Christopher Columbus, ’n Italiaanse ontdekkingsreisiger, per ongeluk die Amerikas “ontdek”. Daar het natuurlik alreeds mense daar gebly, maar hy was die eerste seevaarder wat die bestaan van die Amerikas in Europa bekend gemaak het.

Dit was een van die belangrikste oomblikke in die geskiedenis van die afgelope 600 jaar. Dit sou die lewe van mense in die Amerikas, Europa, en toe ook die res van die wêreld, onherroeplik verander.

Columbus is vir eeue lank as ’n held opgehemel. Vandag word hy gesien as ’n veroweraar. So wie was hy?

Grootwordjare

Christopher Columbus is in 1451 in Genua, in vandag se Italië, gebore. 1 Die presiese dag is nie seker nie, maar dit was êrens tussen 26 Augustus en 31 Oktober 1451. 2

Daar is min inligting oor sy grootwordjare beskikbaar. Hy was die oudste seun van Domenico Colombo en Susanna Fontanarossa. 2 Hy het drie broers gehad: Bartolomeu, Giovanni en Giacomo (ook bekend as Diego), en ’n suster, Bianchinetta. 3

Sy pa, Domenico, was ’n wolhandelaar en –wewer. Historici neem aan dat Columbus goed opgevoed is, omdat hy as grootmens verskeie tale kon praat. Hy het ook goeie kennis gehad van letterkunde en het duidelik wyd gelees. 4 Hy het byvoorbeeld diepgaande kennis gehad van die werke van Ptolomeus, die beroemde Egiptiese sterrekundige en wiskundige. 5

Vroeë werksjare

Columbus het vir ʼn kort rukkie vir sy pa se besigheid gewerk, 3 maar toe hy 14 jaar oud was, het hy werk gekry op ʼn handelskip. 4 Hierdie skepe het die Middellandse See, die Egeïese See (in Engels: Aegean Sea), 6 en die Atlantiese Oseaan aan die weskus van Europa deurkruis. 4

Vir die volgende 10 jaar het Columbus baie geleer. Buiten kennis van aardrykskunde en kartografie het hy ook belangrike ondervinding opgedoen in seevaart. Hy het ’n reputasie gebou vir sy kennis van die Atlantiese Oseaan en sy seestrome. 6

In 1476, toe hy omtrent 25 was, is die skip waarop hy was, deur seerowers langs die Portugese kus aangeval. Die skip het gesink, maar Columbus het ontsnap en strand toe geswem. Hy het sy pad na Lissabon, die hoofstad van Portugal, gevind. 1

In Lissabon het hy sy broer, Bartolomeus, weer raakgeloop. Hulle het werk gekry as kaartmakers, maar Columbus was nie tevrede daarmee nie. Daarom het hy weer begin seil, onder meer na Ysland en Ierland. Tussen 1482 en 1485 het hy handel gedryf aan die weskus van Europa en Afrika, onder meer by die Portugese eiland Madeira. 2 Hy het ook verder studeer in wiskunde, sterrekunde, kartografie en seevaart. 1

Agtergrond: Europese ontdekkingstogte en die ‘Era van Ontdekking’

In die 15de en 16de eeue het Europese leiers ontdekkingstogte geborg met die hoop dat die ontdekkers nuwe lande en rykdom sou ontdek. Portugal het die voortou geneem, en hul skepe het langs die weskus van Afrika gevaar en handel gedryf in speserye, goud en slawe. 1

Europa se waardevolste handel was met lande in Asië soos Indië en China. 7 Dit was egter ’n groot uitdaging om Asië (van Europa) te voet te bereik.

Die pad was lank – dis omtrent ewe ver van Portugal na Indië as wat dit is van Suid-Afrika tot in Egipte! –  en die tog was veeleisend. Dit was gevaarlik, want daar was baie vyandige groepe en rowers op pad soontoe. 1 Dit was boonop baie duur: In Columbus se tyd het die Moslems hul mag in Asië uitgebrei en beheer oor handelsroetes geneem. Hulle het hoë belasting op handelsgoedere gehef. 3 [Lees hier oor belasting.]

Omdat dit dus duur én gevaarlik geword het om via die landroetes handel te dryf, was Portugal desperaat om ’n beter roete na Asië te vind. Hul oplossing was om per see te reis: rondom Afrika, via die Kaap de Goede Hoop. Beroemde Portugese seevaarders soos Bartolomeu Dias en Vasco de Gama was baanbrekers op hierdie gebied. 6

Portugal se sukses het ander Europese lande, veral Spanje, geïnspireer en hulle het ook ’n handelsvloot tot stand gebring. 1

Columbus se plan

Meeste mense in Columbus se tyd het nog geglo dat die aarde plat is. Daar was egter baie mense, seevaarders en wiskundiges ingesluit, wat besef het die aarde is rond. 6 Columbus was een van hulle.

Gewapen met hierdie wete, het Columbus met ’n plan vorendag gekom om die Europeërs se probleem op te los: in plaas daarvan om die hele pad rondom Afrika te reis, kon hulle eerder wes rondom die aarde tot in Asië seil. 1

Columbus was nie die eerste mens wat hierdie idee gehad het nie. Die belangrikste verskil tussen hom en ander seevaarders is dat hulle gedink het die roete is te onbekend en ver. Columbus se tydgenote het gereken dat die afstand tussen Europa en Asië om en by 13 500 km was. 6 Columbus, aan die ander kant, het die aarde se omtrek as baie kleiner uitgewerk, en sy afstand geskat as 5 500 kilometer. 8 Dit was baie korter – so het hy gereken – as die seeroete tussen Portugal en Indië, wat so 12 000 km is. 9 Omdat die afstand relatief “kort” was, het Columbus geglo die tog behoort betreklik maklik te wees. 1

Sy tydgenote was korrek, en Columbus se wiskunde was verkeerd, maar op die ou end het dit nie saak gemaak nie. 1

Al wat hy nou moes doen, was om iemand met genoeg geld te kry om te betaal vir die skepe, soldate en handelsgoedere wat nodig was vir ’n tog na Asië.

Ferdinand en Isabella van Spanje

Columbus het sonder sukses sy plan aan die regerings van Portugal, Engeland, en Italiaanse state soos Genua en Venesië voorgelê. 1

In 1486 het hy sy plan aan die vorste van Spanje, koning Ferdinand van Aragon en koningin Isabella van Kastilië, voorgelê. 1 Op daardie stadium was Spanje egter in ’n oorlog gewikkel met die More – Moslem-invallers uit Noord-Afrika – met die gevolg dat sy plan verwerp is. 6 Teen 1492 het Spanje egter die More teruggedryf Afrika toe wat beteken het dat daar genoeg geld en tyd vir nuwe ondernemings was. 4

Daar was ’n paar faktore wat Ferdinand en Isabella in Columbus se guns laat besluit het:

  • Soos Columbus wou hulle graag rykdom, prestige en avontuur gehad het. 1
  • Dit was ’n tyd van Christelike sendingskap, en hulle wou graag Spanje se geloof (die Katolieke geloof) reg oor die wêreld versprei. 1 Columbus, wat self ’n Katoliek was, het saamgestem.
  • Spanje was ook bang dat Portugal té sterk sou word.
  • Daar was in Europa ’n werklike nood vir produkte vanuit die Ooste soos kruie en speserye, wat nie net geëet is nie, maar ook gebruik is om kos mee te preserveer, en as medisyne.
  • Laastens was daar in Spanje ’n sterk anti-Islamitiese gevoel. Ná hulle die More verdryf het, was daar die hoop vir ’n Christelike oorwinning oor Islam oor die hele wêreld. Dit was wel baie moeilik om by hulle uit te kom met die landroete, maar per see was dit baie makliker. 2

In 1492 het Ferdinand en Isabella dus met Columbus ’n kontrak aangegaan: hulle sou die ekspedisie befonds. Columbus kon 10% van enige rykdom wat hy ontdek het, behou. Indien hy suksesvol was, sou hy ook ’n adellike titel kry, en laastens sou hy aangestel word as goewerneur van enige lande wat hy ontdek. 1

Op soek na ’n pad na Asië en sy eerste tog in 1492

Columbus se eerste tog het Spanje op 3 Augustus 1492 op drie skepe verlaat: die Niña, die Pinta en die Santa Maria. 1

Omdat Columbus die afstand verkeerd bereken het, het dit natuurlik baie langer gevat om land te bereik as wat hulle gedink het. Omdat hulle nie beplan het om so lank te reis nie, is daar op pad van sy bemanning dood aan siektes, honger en dors. 4

Op 12 Oktober 1492 het hulle uiteindelik land gesien. Columbus het dit namens Spanje in besit geneem en San Salvador genoem, al was daar alreeds mense wat daar gewoon het. Hy het gedink hulle het die ooste van Indië bereik, en die mense dus Indiërs genoem. 7 Dit was natuurlik nie Indië nie, maar die land wat vandag bekend staan as die Bahamas, in die Karibiese See. 3

Hulle het by San Salvador aan wal gegaan, maar geen rykdom gekry nie, en dus verder geseil. 4 Vir die volgende paar maande het hulle in die Karibiese See rondgeseil, op soek na skatte soos pêrels, goud, silwer en speserye. Hulle het egter niks van belang gevind nie. 1 Van die eilande waar hulle aangedoen het was Kuba, wat Columbus gedink het is Japan, 7 asook Hispaniola, die eiland waar vandag se Haïti en die Dominikaanse Republiek is. 1

Op 25 Desember 1492 het die Santa Maria ’n rots getref en gesink. Columbus het op die Niña teruggeseil Spanje toe. Omdat daar nie plek vir almal was nie, het hy 39 bemanningslede op Hispaniola agtergelaat om ’n nedersetting op te rig. 7 Hulle het daar ’n fort gebou genaamd Navidad. 4 Die mense van Hispaniola was vriendelik toe hulle geland het, en hulle het handel gedryf in juwele, diere en kos. Die Spanjaarde het hulle egter kort daarna begin dwing om vir hulle te werk. 6

Columbus het in Maart 1493 in Spanje aangekom. Hy het tabak, kalkoene en nuwe soorte speserye teruggebring. 3 Al was dit nie seker of hy Asië ontdek het of nie, is hy met rykdom en titels bekroon. Hy is onder andere aangewys as Admiraal van die See en die goewerneur van die Indiese Eilande. 7

In 1494 het die Spanjaarde en die Portugese die verdrag van Tordesillas onderteken wat die westelike halfrond tussen die twee lande verdeel het. 10

Columbus se latere togte

Columbus vier togte – die eerste tog ingesluit – oor die Atlantiese Oseaan aangepak: in 1492, 1493, 1498 en 1502. 1

Die tweede tog het Spanje in September 1493 verlaat, ses maande ná sy terugkeer, 1 en het tot 1496 geduur. 6 Hy het hierdie keer ’n groter vloot gehad, en sy plan was om die inheemse mense te oorwin en kolonies te vestig. 3 Hy het ook naarstigtelik na goud gesoek. 1

Toe hulle by Hispaniola aankom, was die fort en die nedersetting vernietig. Hy het sy broers, van sy bemanning en ook slawe daar gelos om die fort te herbou. 1 Hulle het die plaaslike mense as slawe geneem en gedwing om vir goud te myn (delf). 6 Wanneer die mense in opstand gekom het, het Columbus lyke van tereggestelde slawe deur die strate laat paradeer om verdere opstand te keer. 11

Op ander eilande het hul pogings om die plaaslike mense te verower, tot botsings gelei. Baie inheemse mense is as slawe geneem, en óf Europa toe gestuur óf na elders in die Karibiese gebied om te werk op plantasies of myne. 3 Die slawe is ellendig behandel en baie het gedurende die reis gesterf. 10

Die derde tog was tussen 1498 en 1500. Tydens hierdie tog het hulle vir die eerste keer op die Suid-Amerikaanse vasteland geland, naby waar Venezuela vandag is. 6 Hulle het ook aangedoen by vandag se Trinidad en Tobago en Grenada. 4

Die inwoners van Hispaniola het in hierdie tyd in opstand gekom teen die brutaliteit van Columbus en sy broers. 1 Stories van wanbehandeling van mense, soos afranselings en teregstellings sonder verhoor het die Spaanse vorste bereik. Hulle het Columbus in hegtenis laat neem en in boeie teruggebring Spanje toe.

Alhoewel sommige van die stories opgemaak en aangedik was, het hy erken dat hy skuldig was aan sekere van die brutaliteite. 12 Hy is op die ou end onskuldig bevind aan meeste aanklagtes, maar sy titels van adellikheid, 1 en sy pos as goewerneur, is by hom weggeneem. 1

Ten spyte hiervan het Columbus dit reggekry om die vorste te oortuig om nog een tog te befonds. 1 Die vierde tog was van 1502 tot 1504. Die doel was steeds om rykdom terug te bring, en ook om ’n direkte roete na die Indiese Oseaan te vind. Hy was nie in een van hierdie doelwitte suksesvol nie. 6 Hy het wel tot by Panama, in Sentraal Amerika, gevorder. Stormskade en onderonsies met vyandige inheemse bewoners het hom egter genoodsaak om twee van sy skepe agter te laat en terug te keer Spanje toe. 1

Dit is moeilik om te weet presies waar Columbus orals was. Daar was nie in sy tyd behoorlike kaarte nie (buiten die kaarte wat hy self gemaak het!), en historici moet dus afleidings maak uit sy reisbeskrywings. 3 Dit is egter redelik seker dat hy aangedoen het in vandag se Guadeloupe, Jamaika, 4 Bahamas, Kuba, Haïti, Dominikaanse Republiek en Sentraal- en Suid-Amerika. 11

Persoonlike lewe, laaste jare en dood

Columbus het in 1479 met Felipa Perestrello e Moniz getrou. Sy was lid van ʼn arm maar adellike Portugese familie. Hul seun, Diego, is in 1480 gebore. 2

Felipa het in 1485 gesterf. Hy het nie weer getrou nie, maar het ’n minnares, Beatriz Enríquez de Arana gehad. Sy tweede seun, Ferdinand, is om en by in 1488 gebore. 2

Toe hy Spanje ná sy laaste tog in November 1504 bereik het, was hy siek, 3 en het by sy seun in Sevilla in Spanje gaan woon. 4

In sy laaste jare het hy briewe geskryf om te probeer geld terugkry wat hy geglo het hom toegekom het. Hy het ook probeer om sy titel van goewerneur te herstel. Hy kon dit egter nooit regkry nie. 3

Hy het op 20 Mei 1506 in Valladolid, Spanje, gesterf. 2

Columbus het tot sy dood volgehou dat hy wel die oostelike dele van Asië bereik het. 3 Sommige historici glo dat hy geweet het hy het nie, maar hy kon dit nie erken nie, want hy wou sy reputasie in stand hou. 6

Columbus se oorskot het ook baie gereis. Hy is in 1506 in Valladolid begrawe. Drie jaar later is sy liggaam na die familie se mausoleum in Sevilla, Spanje, geskuif. In 1542, in ooreenstemming met sy seun, Diego, se testament, is sy liggaam in Santo Domingo, Hispaniola (vandag se Dominikaanse Republiek), begrawe. Hispaniola is later aan Frankryk gegee deur die Spanjaarde, en in 1795 is sy liggaam (net die bene was natuurlik nou oor) na Havana, die hoofstad van Kuba, geskuif. Meer as honderd jaar later, in 1898, is sy liggaam terug oor die Atlantiese Oseaan gestuur. Hy is finaal in Sevilla, Spanje, begrawe. 13

Columbus se nalatenskap

Columbus se nalatenskap is ’n gemengde een…

Daar is geen twyfel dat hy ’n waagmoedige en baanbrekende ontdekker was nie. 1 Hy het die kritici verkeerd bewys deur in houtskepe, wat nie werklik gemaak was om op die oseaan te vaar nie, oor ’n onbetrede oseaan te vaar en kontinente te bereik wat geen Europeër voor hom bereik het nie. 11

Aan die ander kant was hy self, saam met die Europeërs wat hom gevolg het, verantwoordelik vir die uitbuiting en uitwissing van inheemse bevolkings. 1

Impak van Columbus se ontdekkingstogte

As mens na die groter prentjie kyk, het Columbus se reise die era afgeskop wat in Engels na verwys word as die Columbian Exchange. Dit was ’n era van ontdekking en voorspoed, maar ook van die kolonisering en uitbuiting van die Amerikas, wat soms die “Nuwe Wêreld” genoem is, en sy inheemse mense. 1

Die sogenaamde Columbian Exchange (uitruiling) was die beweging van mense, diere, plante, kos, siektes, idees en kultuur van een kant van die Atlantiese Oseaan na die ander. 11

Kossoorte van Suid-Amerika, soos mielies, tamaties en aartappels, het ʼn stapelvoedsel in Europa geword. Graan van Europa het weer onder meer ʼn stapelvoedsel van die Amerikas geword. Koffie van Afrika en suikerriet van Asië het kontantgewasse geword wat in die Amerikas verbou is. 1

Columbus en die Europeërs wat hy saam met hom op sy togte geneem het, se invloed op die inheemse mense was egter uiters negatief. Die tydperk wat ná Columbus se reise gevolg het, was een van Europese kolonisering, uitbuiting van mense en grondstowwe, en slawerny. 6

Die Europeërs het siektes (soos pokke, masels en griep) na die Nuwe Wêreld gebring wat die inheemse groepe van die Amerikas uitgewis het. 10 Na raming het kontak met die Europeërs êrens tussen 80% en 90% van die bevolking uitgewis. 6

In Hispaniola, byvoorbeeld, is die plaaslike Taino-mense, wat gedwing is om in goudmyne en plantasies te werk, afgemaai. Van die om en by 250 000 wat daar was voor Columbus geland het, was daar 60 jaar later miskien ’n paar duisend oor. 1

Columbus se togte is gevolg deur ontelbare togte deur Spanjaarde, Portugese, Franse, Engelse en Nederlanders, om maar net party te noem. 6

Die era wat deur Columbus afgeskop is, het die moderne wêreld onteenseglik verander. Geen uithoek van die aardbol was nou buite bereik van Europese skepe nie. In die volgende paar honderd jaar sou geen beskawing onafhanklik kon bly van die res van die wêreld nie. 6

Woordbank

aardrykskunde

Die studie van die oppervlakte van die aarde.
adellike Mense wat tot die hoogste sosiale stand behoort
afgemaai In groot getalle laat sterf.
afgeskop Begin.
afranselings Om iemand ernstig te slaan.
Amerikas Ook bekend as die Nuwe Wêreld. Dit sluit in Noord- en Suid-Amerika en die Karibiese Eilande.
baanbrekers Voorlopers, pioniers.
belasting Geld wat jy aan die regering moet betaal.
brutaliteite Wreedhede.
deurkruis In alle rigtings daarop gevaar.
Egeïese See Die see tussen Griekeland en Turkye aan die oostekant van die Middellandse See.
ekspedisie Ondersoekingstog.
era Tydperk.
geborg Om vir iets te betaal.
gelas Iets wat jy iemand laat betaal.
goewerneur Die leier of hoof van ’n plek.
handelsgoedere Produkte waarmee mens handel kan dryf, soos speserye.
handelsvloot ’n Versameling van skepe wat handelsware vervoer het.
historici Geskiedkundiges.
kartografie Die optrek van kaarte, byvoorbeeld van die wêreld, landstreke of die see.
kolonisering Om beheer te neem van ʼn volk of gebied.
kontinente Vastelande.
letterkunde Die werke van baie skrywers saam.
mausoleum Graf.
Middellandse See Die see tussen Afrika en Europa.
minnares Geliefde.
Moslems Mense wat aan die Islamitiese geloof behoort.
naarstigtelik Om iets met groot ywer te doen.
nedersetting ’n Klein dorpie met net ’n paar huise en geboue.
omtrek Die afstand om ’n sirkel.
onderonsies Uitvalle, geskille.
onherroeplik Verandering wat nie weggeneem kan word nie.
onteenseglik Ontwyfelbaar, onteenseglik, onweerspreeklik, onbetwisbaar.
opgehemel Geprys, hoë lof toegeswaai.
paradeer Ten toon stel d.m.v. ʼn optog.
plantasies Plase, spesifiek vir bome of plante.
preserveer Bewaar.
prestige ’n Goeie reputasie.
relatief Betreklik.
reputasie Jou goeie naam/aansien.
teregstellings Om iemand dood te maak.
tydgenote Iemand wat in dieselfde tyd leef as jy.
veeleisend Iets wat baie inspanning verg.
verbou Kweek, laat groei.
verhoor Wanneer jy voor ’n regter uitgevra word.
voortou Om die leiding te neem.
vorste Die koning of koningin van ’n ryk.
wewer Iemand wat woldrade weeg om materiaal te maak.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Christopher Columbus

Kyk hierdie video’s oor Christopher Columbus

Biografie van Christopher Columbus

Die storie van Christopher Columbus

Gepubliseer op: 17 Oktober 2023 | Bygewerk op 27 Februarie 2024