Vinnige feite

  • Hoewel die Amerikaanse geheimediens (in Engels: Secret Service) in 1865 op die been gebring is (op dieselfde dag wat Abraham Lincoln vermoor is), was dit aanvanklik ’n deel van die Amerikaanse tesourie (departement van finansies) wat die verspreiding van vervalste geld moes keer of stop. Ná die Amerikaanse burgeroorlog was bykans ’n derde (33,3%) van alle geld in sirkulasie vervals. 70
  • Alexander Graham Bell, uitvinder van die telefoon, het onsuksesvol probeer om die koeël in James A. Garfield se liggaam met ’n elektriese toestel te vind wat hy ontwerp het. 15
  • Ná die sluipmoord op pres. William McKinley in 1901, is die geheimediens getaak met die voltydse beskerming van die Amerikaanse president. Dit is later uitgebrei om al die belangrike Amerikaanse regeringsamptenare en geboue te beskerm. Die geheimediens het vandag bykans 7 000 werknemers en kantore in die VSA, Kanada, Mexiko, Suid-Amerika, Europa, Afrika en Asië. 69
  • John Lennon se vrou, Yoko Ono, het nog die bril (met bloedvlekke op) wat hy gedra het toe hy geskiet is. Sy het in 2013 ’n foto daarvan op Twitter gedeel om bewusmaking te skep vir die groot aantal mense wat jaarliks die slagoffers van vuurwapengeweld in die VSA is. 71
  • Malcolm X, wat op ’n tyd groot vriende met die legendariese bokser Mohammed Ali was, het voorspel dat hy belangriker en bekender ná sy dood sou wees as tydens sy lewe, en het selfs sy vroeë afsterwe in sy boek The Autobiography of Malcolm X voorspel. Hy is in die Ferncliff-begraafplaas in New York begrawe. 38
  • Een van die koeëls waarmee aartshertog Franz Ferdinand vermoor is, is vandag in ’n museum in ’n kasteel in die Tsjeggiese Republiek. Dit word beskryf as “die koeël wat die Eerste Wêreldoorlog begin het”. Die motor waarmee Franz en Sophie die dag gery het, word by die Weense militêre geskiedenismuseum gehou. 21
  • ʼn Paar maande voordat Abraham Lincoln deur John Wilkes Booth vermoor is, het die president se oudste seun, Robert Todd Lincoln, op ’n treinplatform in New Jersey gestaan. Die groot aantal passasiers het die jong man agteruit gedruk, en hy het in die oop spasie tussen die platform en ’n bewegende trein geval. Edwin Booth, John Wilkes se broer, het die president se seun aan sy jas se kraag na veiligheid getrek. In nog ’n “toevalligheid”, het die Ford-teater waar Lincoln vermoor is, op die dag van Edwin Booth se begrafnis (9 Junie 1893) ineengestort. Altesaam 22 mense is dood. 72
Foto: iStock

Bekendes en beroemdes is voortdurend in die kollig of in die openbare oog. Oral waar dié mense gaan, drom groot groepe mense saam om hul gunstelingsanger, gewilde president of beeldskone glanspersoonlikheid te sien. ’n Mens sal nie sommer ’n bekende persoon sonder ’n klomp lyfwagte sien wat nuuskierige (en dikwels lastige) omstanders probeer weghou nie.

Baie jare gelede was daar nie iets soos veiligheids- of lyfwagte nie. Ook nie hemelhoë heinings, skreeuende alarms en sekuriteitskameras wat elke beweging dophou nie. Die ontwikkeling van tegnologie soos slimfone en sosiale media (waar ʼn mens bekendes se doen en late kan volg en kan sien wie wanneer waar gaan wees) het dit al hoe gevaarliker vir bekendes gemaak om in die openbaar te verskyn. Hulle kan nie soos ek en jy sommer net vinnig by die winkel indraf of gaan fliek sonder dat dit ’n groot gedoente veroorsaak nie!

Baie van dié ikone ry in gepantserde voertuie, en mense soos die pous en die Amerikaanse president word selfs deur koeëlvaste glasskerms beskerm as hulle toesprake in die openbaar lewer. Dink byvoorbeeld aan hoeveel geheimediensagente (in Engels: Secret Service agents) die Amerikaanse president beskerm, die konvooi voertuie wat saam met sy twee identiese koeëlvaste voertuie (ook genoem The Beast) rondbeweeg en hoe die Withuis, die president se woon- en werkplek, met hand en tand beskerm word! 1

Die gevaar van roem

Roem en bekendheid hou groot gevare in. Sommige mense ontwikkel ’n obsessie met ’n bekende persoon en probeer dan ten alle koste om naby aan dié persoon of sy/haar eiendom te kom (en breek selfs by hul huise in!). Ander word weer deur politieke of godsdienstige idees of verskille gemotiveer of gedryf wat hulle só kwaad maak, dat hulle ’n ander mens se lewe sal neem sonder om oor die moontlike gevolge na te dink. 2

’n Mens noem dié persone wat ander sommerso vermoor, sluipmoordenaars. Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal definieer ’n sluipmoord as die skielike moord op ʼn – dikwels belangrike – persoon, wat in die geheim beplan en dikwels in die openbaar uitgevoer word. 3

Omdat dit gewoonlik bekende of belangrike mense is wat oor hul godsdienstige of politieke ideologie of siening vermoor word, lei sluipmoorde gewoonlik tot groter roem vir die slagoffer en ewige bekendheid vir die sluipmoordenaar. In baie gevalle beïnvloed dit kulturele gebeure en die geskiedenis. Soms word ’n sluipmoord teen vergoeding (betaling) gedoen, en ander kere bloot uit wraak. 4

Deur die geskiedenis

Sluipmoorde kom reg deur die geskiedenis voor. Selfs in die Bybel lees ons van sluipmoorde in Bybelboeke soos Konings, Samuel en Kronieke. 4

’n Antieke Indiese skrywer genaamd Chanakya, wat van ongeveer 350 tot 283 v.C. (voor Christus) geleef het, het baie oor sluipmoorde in ’n boek genaamd Arthashastra geskryf. Een van sy studente het later van sy vyande vermoor, insluitend twee van Alexander die Grote (die koning van Masedonië) se generaals. 4

‘n Standbeeld van Alexander die Grote in Griekeland.

Bekende slagoffers van sluipmoorde in dié tyd sluit in Philip II van Masedonië (336 v.C.) en Alexander die Grote se pa. Die sluipmoord op Julius Caesar, ’n gerekende militêre generaal en diktator van Rome, is op 15 Maart 44 v.C. uitgevoer, ’n datum beter bekend as die “Idus van Maart” (ook bekend as Onheilsdag of Noodlotdag), toe hy 23 keer deur sy eie senators (amper soos ministers) met messe doodgesteek is. 5

‘n Standbeeld van Julius Caesar wat deur sy eie ministers met messe doodgesteek is.

Keisers van die Romeinse Ryk is dikwels vermoor sodat ’n ander leier hul plek kon inneem. In die Middeleeue is talle konings in die Oos-Romeinse Ryk in sluipmoorde om die lewe gebring sodat nuwe konings die troon kon bestyg. [Lees hier oor die Middeleeue.] Sluipmoorde het veral tydens die Renaissance meer algemeen in Wes-Europa geword. Konings Willem (“William The Silent”) van Nederland (1584), Hendrik III van Frankryk (1589), en Hendrik IV van Frankryk (1610) is almal op dié manier vermoor. [Lees hier oor die Renaissance.] In keiserlike Rusland is twee keisers binne 80 jaar vermoor: Paulus I (1801) en Alexander II (1881). 4

Hendrik IV van Frankryk.

Veral tydens die Eerste en Tweede Wêreldoorloë het sluipmoordaanvalle drasties toegeneem. Aartshertog Franz Ferdinand van Oostenryk is in 1914 vermoor en in die 1930’s en 1940’s het Josef Stalin, die leier van die voormalige Sowjetunie (vandag is dit Rusland), se Volkskommissariaat vir Binnelandse Sake (of NKVD) talle sluipmoordaanvalle uitgevoer, selfs in ander lande. 4

Franz Ferdinand van Oostenryk is in 1914 vermoor.

Tussen 1934 en 1944 het verskillende individue en groepe meer as 40 keer probeer om Adolf Hitler, die leier van Nazi-Duitsland tydens die Tweede Wêreldoorlog, te vermoor. Hierdie mense wou keer dat Hitler so baie lande inval en oorneem, en soveel onskuldige mense doodmaak. 6 Hitler het egter elke keer oorleef, totdat hy op 30 April 1945 sy eie lewe geneem het. 7

Adolf Hitler het meer as veertig sluipmoordaanvalle vrygespring.

Daar was tot dusver 33 pogings (waarvan ons weet) om Amerikaanse presidente om die lewe te bring terwyl hulle nog in dié amp gestaan het. 1 Altesaam vier Amerikaanse presidente is in sluipmoordaanvalle vermoor – Abraham Lincoln (14 April 1865), James A. Garfield (2 Julie 1881), William McKinley (6 September 1901) en John F. Kennedy (22 November 1963). 8

Abraham Lincoln was die eerste Amerikaanse president wat in ‘n sluipmoordaanval dood is.

Kan jy aan nog bekende mense dink wat die slagoffer van ’n sluipmoordaanval was? Ons het oor ’n paar van die bekendstes (in die volgorde van hul sterfdatum geplaas) in die geskiedenis gaan nalees.

Abraham Lincoln (1809-1865)

Abraham Lincoln, die 16de president van die Verenigde State van Amerika (VSA), word as een van die invloedrykste Amerikaanse presidente ooit beskou. Sy gesig is op die pennie, die $5-geldnoot, én die Mount Rushmore-monument in Suid-Dakota. Lincoln het nie net sy land deur ’n burgeroorlog gelei nie, maar hom ook vir die beëindiging van slawerny beywer. 9

Lincoln is op 6 November 1860 as die eerste Republikeinse president verkies. 10 Gedurende sy presidentskap was sy fokus op slawerny en die burgeroorlog. Daar was baie politieke en kulturele verskille tussen die noordelike en die suidelike state wat tot die burgeroorlog gelei het, maar die grootste oorsaak was slawerny. 11

Mense in die suide het op slawe staatgemaak vir arbeid op hul plase. Mense in die noorde het weer geglo slawerny is verkeerd. Mense in die noorde het dus die bevryding van slawe ondersteun, maar ryk boere in die suide was bang dat hulle hul inkomste sou verloor. 12

Toe Lincoln president word, was die suidelike state oortuig dat Lincoln teen die suidelike state was, omdat hy teen slawerny gekant was. Inwoners van die suidelike state wou nie meer deel van die VSA wees nie. Elf state het weggebreek en ’n nuwe land, naamlik die Gekonfedereerde State van Amerika, gevorm. 12

Lincoln het soldate gestuur om die Gekonfedereerde State te dwing om weer by die VSA aan te sluit. Die suidelike state het geweier en die burgeroorlog het begin. Tydens die geveg in Gettysburg in Pennsilvanië in Julie 1963 het die Unie (die noordelike state) die oorhand begin kry. 12

Die 13de wysiging aan die Amerikaanse Grondwet is op 18 Desember 1865 deur die federale regering van die VSA goedgekeur. Hierdie aanpassing het slawerny onwettig gemaak en onmiddellik meer as 100 000 slawe van Kentucky tot Delaware bevry. 13

Lincoln sou uiteindelik nie die gevolge van sy jare lange stryd teen slawerny sien nie. Hy is in 1864 vir die tweede keer tot president verkies – kort voor die einde van die oorlog. Op 9 April 1865 eindig ’n bloedige burgeroorlog waartydens 750 000 soldate binne vier jaar gesterf het. Die vreugde oor die einde van die oorlog was egter van korte duur. Skaars vyf dae later was die Amerikaners weer in rou toe Lincoln op 14 April 1865 in Washington geskiet word. 12

Lincoln en sy vrou, Mary, het die aand ’n teateruitvoering bygewoon. Die deure na die losie waar hulle gesit het, was nie goed bewaak nie en tydens ʼn gedeelte van die opvoering waartydens die gehoor gelag het, het die destydse bekende akteur John Wilkes Booth die president in sy agterkop geskiet. 12

John Wilkes Booth het Lincoln tydens ‘n teateruitvoering geskiet.

Booth, wat van die toneel gevlug het, is eers twee weke later gevang. Met sy inhegtenisneming word hy doodgeskiet. Die president, gewond en bewusteloos, is na ’n losieshuis oorkant die straat van die teater geneem. Hy sterf vroeg die volgende oggend op 15 April 1865 in die ouderdom van 56 jaar. 12

James A. Garfield (1831-1881)

James Abram Garfield was die 20ste president van die VSA, vanaf 4 Maart 1881 tot sy ontydige dood op 19 September dieselfde jaar.

Garfield, die seun van Abram Garfield en Eliza Ballou, is op 19 November 1831 in ’n houthuisie in Orange, Ohio, gebore en was die jongste van vyf kinders. Die gesin was redelik arm. Ten spyte van sy nederige begin, het hy goed op skool gevaar en aan die Williams College in Massachusetts gaan studeer. 14

James A. Garfield, die 20ste president van die VSA.

Ná sy studies keer Garfield na Ohio terug, waar hy by Western Reserve Eclectic Institute (nou bekend as Hiram College), professor in Antieke Tale was. In 1857, op 25-jarige ouderdom, word hy hoof van dié skool. ’n Jaar later is hy met Lucretia Rudolph getroud en hulle het sewe kinders gehad (waarvan twee dood is toe hulle babas was). 14

Hy het hom daarna as ’n prokureur én predikant bekwaam, maar besluit om hom eerder tot die politiek te wend. In 1859 word hy tot die Ohio-wetgewer verkies. Met die uitbreek van die Amerikaanse Burgeroorlog, het Garfield by die weermag aangesluit. Hy het gou opgang gemaak en uiteindelik die rang van generaal-majoor beklee. 14

James Abram Garfield is twee keer deur Charles J. Guitea op ‘n treinstasie geskiet.

Ná die oorlog is Garfield tot die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers verkies, waar hy vir byna 18 jaar gedien het. Hy was bekend as iemand wat goed voor mense kon praat, en word in 1880 deur die Republikeinse Party vir die presidentskap genomineer en wen die verkiesing. 15

Ongelukkig was sy presidentskap van korte duur. Op 2 Julie 1881 word hy twee keer geskiet deur Charles J. Guiteau, ’n man met sielkundige probleme wat hom vir weke agtervolg het. Garfield was op ’n treinstasie in New England in Washington D.C., op pad na ʼn vakansie met sy gesin, toe hy aangeval is. Hoewel die een skoot sy arm net rakelings getref het, het die ander koeël agter sy pankreas (verteringsklier naby die maag) vasgesteek. Die dokters het om sy lewe geveg, maar hy is 11 weke later oorlede nadat hy ’n infeksie opgedoen het. 14

Charles J. Guiteau is tereggestel vir die sluipmoord op pres. James A. Garfield van die VSA.

Garfield se sluipmoord was ’n skok vir die Amerikaners, en dit het gelei tot verhoogde veiligheidsmaatreëls vir presidente en ander hoëvlakamptenare. Guiteau het homself aan die polisie oorgegee en is vir die moord verhoor. Hy is uiteindelik in Januarie 1882 skuldig bevind en tereggestel (hy is opgehang). 16

William McKinley (1843-1901)

William McKinley was die 25ste president van die VSA, vanaf 4 Maart 1897 tot met sy sluipmoord in September 1901. Onder McKinley se leierskap het die VSA in 1898 oorlog teen Spanje gevoer en daardeur ʼn wêreldryk geword, wat Puerto Rico, Guam en die Filippyne ingesluit het. 17

William McKinley was die 25ste Amerikaanse president.

McKinley is op 29 Januarie 1843 in Niles, Ohio, gebore en was die sewende van nege kinders van William McKinley en Nancy Allison. Ná skool bekwaam hy hom in die regte, ’n beroep wat hy vir sy hele lewe (behalwe tydens sy tyd in Washington D.C.) beoefen het. 18

Met die uitbreek van die burgeroorlog het McKinley by die weermag aangesluit en uiteindelik die rang van majoor beklee. McKinley se politieke loopbaan het in 1876 begin toe hy tot die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers verkies is. Hy het vir 14 jaar in die Huis gedien. In 1890 is hy tot goewerneur van Ohio verkies, en twee jaar later herkies. McKinley was getroud met Ida Saxton, dogter van ’n plaaslike bankier. 18

In 1896 is McKinley deur die Republikeinse Party vir die presidentskap genomineer, en hy verslaan sy Demokratiese teenstander, William Jennings Bryan, in die verkiesing. As president was die land se ekonomiese groei en uitbreiding vir hom baie belangrik. Hy was ’n voorstander van die goudstandaard asook hoë belasting op ingevoerde goedere om Amerikaanse vervaardigers teen buitelandse kompetisie te beskerm. 19

McKinley se presidentskap is ook deur ’n sluipmoordenaar se koeël kortgeknip. Nadat hy in November 1900 vir ’n tweede termyn as Amerikaanse president ingehuldig is, het McKinley in September 1901 die Pan-American Exposition (soos ’n groot skou of uitstalling) in Buffalo, New York, bygewoon. Op 6 September 1901 word hy twee keer deur Leon Czolgosz geskiet. Czolgosz was ’n anargis wat geglo het dat die dood van die president ’n revolusie of opstand sou meebring. 19

Leon Czolgosz wat die sluipmoord op die Amerikaanse president William McKinley uitgevoer het.

Ten spyte van die pogings van sy dokters, het McKinley se toestand vererger, en hy beswyk ʼn paar dae later, op 14 September 1901, aan sy beserings. 19 Czolgosz is skuldig bevind en die doodstraf opgelê. Hy sterf op 29 Oktober 1901 in die elektriese stoel. 20

Aartshertog Franz Ferdinand (1863-1914)

Franz Ferdinand is op 18 Desember 1863 in Graz in Oostenryk gebore. Hy was ’n aartshertog (amper soos ’n prins) en van 1896 tot sy dood in 1914 was hy die troonopvolger om die keiser van die voormalige Oostenryk-Hongarye te word. Franz se pa, Karl Ludwig, was die eintlike troonopvolger, maar toe hy in 1896 aan tifuskoors gesterf het, het Franz Ferdinand volgende in die ry gestaan. 21

Franz Ferdinand tydens ‘n jagtog.

Franz Ferdinand het op ʼn jong ouderdom by die weermag aangesluit en vinnig opgang gemaak. Hy het op 14-jarige ouderdom die rang van luitenant beklee, op 22 ʼn kaptein geword, was op 27 ʼn kolonel en is op 31 tot generaal-majoor bevorder. 21

In 1894 ontmoet die aartshertog Sophie Chotek by ’n deftige partytjie in Praag. Hulle is ses jaar later, in Julie 1900, in Reichstadt (nou Zákupy in Tsjeggië) getroud. Franz Ferdinand het groot planne vir die Oostenrykse Ryk gehad. Hy wou Oostenryk-Hongarye federaliseer deur die land op te breek in ʼn groep state wat hul eie sake bestuur, maar beheer word deur ʼn nasionale regering wat besluite oor buitelandse sake, verdediging, ensovoorts neem. Hy wou 16 lidlande vorm met afsonderlike regerings – soortgelyk aan die 50 state van die VSA. Hy wou ook verseker dat die etniese Slawiërs ’n stem in hierdie staatsregerings het. Dit was dié politieke idees wat hom baie ongewild gemaak het. 21

Ferdinand en sy gesin.

Op 28 Junie 1914 het die aartshertog en sy vrou in Sarajewo (die grootste stad van Bosnië en Herzegowina) aangekom. Hulle sou ʼn onthaal by die stadsaal bywoon. Die egpaar het in ʼn konvooi in ʼn sportmotor, waarvan die dak afgeslaan was, gery. Ses sluipmoordenaars van Bosnië/Serwië, wat deel was van die Swart Hand-terreurgroep (in Engels: Black Hand Terrorist Group), het langs die roete staan en wag. Net ná 10:00 het ’n man genaamd Nedeljko Čabrinović ’n handgranaat na hul motor gegooi. Die bom het egter agter hulle geval en onder die vierde motor in die konvooi ontplof. Twintig mense is beseer. Dit het gelyk of die sluipmoordpoging onsuksesvol was. 22

Ná die onthaal het Franz Ferdinand en sy vrou besluit om die beseerde persone in die hospitaal te gaan besoek. Daar was egter verwarring onder die bestuurders van die konvooi en hulle het in die verkeerde rigting gery – in dieselfde straat waar die groep sluipmoordenaars nog steeds gewag het. Toe die konvooi daar aankom, het ʼn makker van Čabrinović, die 19-jarige Gavrilo Princip, die egpaar geskiet. Die bestuurder het weggejaag om mediese hulp te soek, maar Sophie is op pad oorlede en Franz Ferdinand is kort daarna oorlede. Princip wou homself skiet, maar die skare het hom gevange geneem. Die hele groep samesweerders is uiteindelik gevind en in hegtenis geneem. Princip was te jonk om die doodstraf te kry, en is 20 jaar tronkstraf opgelê. Hy sterf in 1918 weens tuberkulose. 23

Gavrilo Princip het 20 jaar tronkstraf vir die sluipmoord op Franz Ferdinand en sy vrou, Sophie, gekry.

Wat dié sluipmoord geskiedkundig maak, is dat Oostenryk-Hongarye ʼn maand later oorlog teen Serwië verklaar het. Dit was die begin van die Eerste Wêreldoorlog. 23

Mahatma Gandhi (1869-1948)

Mohandas “Mahatma” Gandhi was ʼn klein en maer man met ʼn bril en ʼn tradisionele Hindoe-lendedoek wat met ʼn bamboeskierie rondgeloop en tandeloos geglimlag het. Hy sou nie ’n vlieg skade aanrig nie en was een van die grootste leiers van die twintigste eeu.

Dié nederige man met die groot siel (dis ook die betekenis van sy naam), wat vir 21 jaar in Suid-Afrika gewoon het, het met sy dapperheid en toewyding tot niegewelddadige teenstand een van die grootste wêreldryke aangevat. Hy het deur middel van vreedsame protes nie net daartoe bygedra dat Indië in 1947 onafhanklik van Brittanje kon word nie, maar het deur sy verset teen diskriminasie en onregverdigheid vir die regte van verskillende godsdienstige en onderdrukte groepe geveg. 24

Mahatma Gandhi was ‘n nederige man wat een van die grootste lande ter wêreld aangevat het.

Hoewel Indië se onafhanklikheid in 1947 ʼn groot oorwinning was, was Gandhi teleurgesteld dat Indië in twee nuwe lande, Indië (hoofsaaklik Hindoes) en Pakistan (hoofsaaklik Moslems), verdeel is. Die gevegte tussen Hindoes en Moslems het bly voortduur. 25 Gandhi was gekant teen dié verdeeldheid. Hindoes en Moslems “moet dapper genoeg wees om mekaar lief te hê, om mekaar se geloof te verdra, moet mekaar vertrou …” het hy gesê. 26

Tydens Gandhi se pogings om die Moslems en Hindoes te versoen, is hy in Januarie 1948 in Delhi, in die ouderdom van 78 jaar, in ʼn sluipmoordaanval doodgeskiet. Hy het slegs ses maande van Indië se onafhanklikheid ervaar. 27

“Hy was net ʼn ou man in verafgeleë Indië,” het die Amerikaanse joernalis Louis Fischer geskryf. “En tog, toe hy sterf, het die hele mensdom getreur.” 28

Die 38-jarige Nathuram Vinayak Godse, ʼn Hindoe-ekstremis, is ná die sluipmoordaanval in hegtenis geneem. Godse het Gandhi die skuld gegee vir die verlies van ʼn deel van Indië (Pakistan) aan die Moslems. Godse het later in die hof verduidelik dat Gandhi die Hindoes verraai het deur met die Moslems en Pakistan te onderhandel. Godse is ter dood veroordeel, ʼn straf wat Gandhi dalk nie sou goedkeur nie, want hy het nooit geglo dat geweld met geweld beantwoord moet word nie. 29

Nathuram Vinayak Godse, ʼn Hindoe-ekstremis, was vir die dood van Gandhi verantwoordelik.

John F. Kennedy (1917-1963)

John Fitzgerald Kennedy is op 29 Mei 1917 as die tweede van nege kinders van Joseph Patrick Kennedy en Rose Fitzgerald Kennedy in Brookline, Massachusetts, in die VSA gebore. 30 Sy pa se droom was dat een van sy kinders eendag die president van die VSA sal word. 31

As kind was John baie sieklik en het amper gesterf van skarlakenkoors, ʼn baie gevaarlike siekte wat gekenmerk word deur ontsteking van die neus, keel en mond met rooi vlekke oor die hele liggaam. Gelukkig het hy baie van hierdie siektes ontgroei en later selfs Amerikaanse voetbal vir Harvard-Universiteit in Massachusetts gespeel. Ongelukkig beseer hy sy rug in kollege – ʼn besering waarvan hy nooit heeltemal herstel het nie. 31

John Fitzgerald Kennedy as jong vlootsoldaat.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog sluit Kennedy by die Amerikaanse vloot aan. In 1943 word die skip waarvan hy die bevelvoerder was deur ʼn Japannese oorlogskip vernietig. Kennedy swem saam met die oorlewendes na veiligheid. Hy kry later ʼn toekenning vir dapperheid omdat hy een van sy beseerde manskappe se lewe gered het. Hy het die band van die soldaat se reddingsbaadjie tussen sy tande vasgebyt en hom deur die water na veiligheid getrek. Sy ouer broer Joseph sneuwel gedurende die oorlog en sy pa se droom, om ʼn seun in die Withuis te hê, word na John verplaas. 31

Voor hy as president verkies is, het Kennedy eers Massachusetts in die Amerikaanse senaat verteenwoordig. Hy trou met Jacqueline Bouvier in 1953 net nadat hy ’n senator geword het. In 1960 is hy nie net die jongste nie, maar ook die eerste Katolieke persoon wat as president van die VSA verkies word. Dit was egter ʼn naelskraapoorwinning met die kleinste voorsprong wat ʼn wenner nog ooit teenoor sy teenstander gehad het. 31

Die Koue Oorlog tussen die Sowjetunie (vandag word dit Rusland genoem) en die Weste was een van die vernaamste kwessies waarteen John F. Kennedy te staan gekom het. Tydens ʼn geheime sending probeer die VSA vir Fidel Castro, die pas verkose leier van Kuba en bondgenoot (ondersteuner) van Rusland, oorneem. Die mislukte sending staan as die Inval van Varkebaai (Bay of Pigs) bekend. 31

Burgerregte (die regte wat mense het) was nóg ʼn kwessie waaraan Kennedy baie aandag gegee het. Hy het geglo dat alle Amerikaanse burgers dieselfde basiese regte, ongeag die kleur van hul vel of hul geloof, moet geniet. 31

Nog voordat Kennedy as president verkies is, het die Amerikaanse Hoogste Hof beslis dat wit en swart kinders toegelaat moet word om dieselfde skole by te woon. Kennedy het hierdie uitspraak ondersteun en later selfs soldate na die suidelike state van die VSA gestuur om seker te maak dat swart Amerikaanse kinders veilig by die skool aankom. 31

Kennedy was skaars drie jaar lank president toe hy op 22 November 1963 tydens ’n presidensiële konvooi in die strate van Dallas, Texas, deur Lee-Harvey Oswald geskiet is. Twee dae later word Oswald net ná middernag in die kelder van die Dallas-polisiekantoor deur die nagklubeienaar Jack Ruby doodgeskiet. Terwyl Ruby gewag het dat ’n tweede hofsaak begin, is hy aan longkanker in 1967 oorlede. 32

Lee-Harvey Oswald het John F. Kennedy, die jongste Amerikaanse president ooit, om die lewe gebring.

Meer as ʼn honderd lande het verteenwoordigers na John F. Kennedy se begrafnis in Washington D.C. gestuur.

“Ask not what your country can do for you; ask what you can do for your country,” is van Kennedy se bekende woorde wat vir altyd onthou sal word. 31

John F. Kennedy se begrafnis is deur verteenwoordigers van meer as 100 lande bygewoon.

Malcolm X (1925-1965)

Malcolm X is op 19 Mei 1925 as Malcolm Stuart Little in Omaha, Nebraska, in die VSA gebore en was een van tien kinders. 33 Sy pa, Earl, was ’n predikant en leier van ’n Afro-Amerikaanse groep genaamd UNIA. Die familie is gereeld deur lede van die Ku Klux Klan (’n groep wat wit heerskappy wil bevorder) geteister. Die gesin se huis is selfs afgebrand. 34 Toe Malcolm ses jaar oud was, is sy pa dood op die spore van ’n trem aangetref. Hoewel die polisie gesê het sy dood was ’n ongeluk, het baie mense geglo sy pa is vermoor. 35

Die menseregte-aktivis Malcolm X was een van tien kinders.

Malcolm se ma, Louise, moes midde-in die Groot Depressie – toe dit wêreldwyd baie sleg met lande se ekonomieë gegaan het – alleen na die kinders omsien. Sy het later aan geestesgesondheidskwessies (sielkundige probleme) gely en is na ’n inrigting gestuur. Die kinders is in pleegsorg geplaas en Malcolm het geglo wit mense het die gesin vernietig. Op 15 verlaat hy die skool. 36

As ’n jong swart man in die 1940’s het Malcolm gevoel hy het geen werklike geleenthede nie. Hy het los werkies gedoen, maar het gevoel dat hy nêrens kom nie, maak nie saak hoe hard hy werk nie. Hy wend hom uiteindelik tot misdaad. In 1945 is hy met gesteelde goedere betrap en tronk toe gestuur. 37

Terwyl hy in die tronk was, het Malcolm se broer vir hom ’n brief gestuur oor ’n nuwe godsdiens waarby hy aangesluit het, genaamd die Nasie van Islam (in Engels: Nation of Islam of NOI). Die NOI het geglo dat Islam – die godsdiens wat deur Moslems beoefen word – die ware godsdiens van swart mense is. Malcolm besluit om by die NOI aan te sluit en verander sy van na “X”. Hy het gesê die X verteenwoordig sy regte Afrika-naam wat deur wit mense van hom weggeneem is. 37

Nadat hy uit die tronk gekom het, het Malcolm ʼn dominee vir die NOI geword. Malcolm was ’n indrukwekkende man, ’n goeie spreker en gebore leier, en het al hoe meer gewild geword. Hy het egter nie met die vreedsame protes van mense soos Martin Luther King jr. saamgestem nie. Hy wou aanvanklik nie soos King versoening tussen swart en wit mense gehad het nie. Hy wou ’n afsonderlike nasie nét vir swart mense hê. 37

Martin Luther King jr. wou geweld vermy, maar Malcolm X het sy volgelinge aangemoedig om hulself “op enige manier wat nodig is” te verdedig. 36

Hy is in 1958 met Betty Sanders (wat later Betty X geword het) getroud en hulle het ses dogters gehad. Hy verlaat uiteindelik die NOI, maar bly ’n Moslem en onderneem selfs ’n pelgrimstog na Mekka, die heiligste stad van Islam in Saoedi-Arabië. Hier kom hy tot nuwe insig oor die NOI se geloof. Toe hy terugkeer na die VSA, het hy met ander burgerregteleiers soos Martin Luther King jr. begin saamwerk om op ʼn vreedsame manier gelyke regte te verseker. 37

Met sy terugkeer verander hy sy naam na El-Hajj Malik El-Shabazz en in Junie 1964 stig hy die organisasie Afro-American Unity, wat geglo het dat rassisme, en nie wit mense nie, die vyand van geregtigheid is. 38

Malcolm het baie vyande in die NOI gemaak, want sy gewildheid het baie jaloesie veroorsaak. Baie leiers het hulle teen hom uitgespreek en gesê dat hy “die dood verdien”. Op 14 Februarie 1965 is sy huis afgebrand. 37

Net ’n paar dae daarna, op 21 Februarie 1965, is hy deur drie gewapende mans vermoor tydens ’n byeenkoms van die Afro-American Unity in die Audubon-balsaal, ’n deftige danssaal in New York. Hoewel daar aanvanklik geglo is dat die drie sluipmoordenaars lede van die NOI was, bestaan daar steeds geen konsensus oor wie die moordenaar(s) werklik was nie. 38

In 2021 is Muhammad Aziz vrygespreek nadat hy in 1966 saam met Khalil Islam en Mujahid Abdul Halim aan die moord skuldig bevind is. Halim, wat verantwoordelikheid aanvaar het, het later gesê Aziz en Islam was nie betrokke nie, en hy is in 2010 op parool vrygelaat. 38

H.F. Verwoerd (1901-1966)

Hendrik Frensch Verwoerd is op 8 September 1901 in Amsterdam, Nederland, gebore. Hy was die tweede kind van Anje Strik en Wilhelmus Johannes Verwoerd.

Sy ouers het baie simpatie met die Afrikaners ná die vernietigende Anglo-Boereoorlog gehad en wou help waar hulle kon. In 1903 trek die Verwoerd-gesin na Wynberg in Kaapstad waar hulle vir tien jaar bly. Die Verwoerd-gesin verhuis na Rhodesië (vandag Zimbabwe) nadat Wilhelmus ’n werk kry as assistent-dominee by die Nederlandse Hervormde Kerk in Bulawayo. Ná vier jaar keer die gesin terug na Brandfort in die Vrystaat in Suid-Afrika waar Hendrik matrikuleer. 39

H.F. Verwoerd het ‘n eerste sluipmoordaanval oorleef, maar is later in die parlement deur Dimitri Tsafendas doodgesteek.

Ná skool studeer hy aan die Universiteit Stellenbosch (US) en verwerf ʼn BA-graad in 1921. In 1922 behaal hy ʼn meestersgraad in sielkunde en filosofie. Sy doktorsgraad in sielkunde was só goed dat hy aanbiedings kry om in Brittanje of Duitsland verder te studeer. Hy kies om aan die universiteite van Leipzig, Hamburg en Berlyn te studeer. 40

Ná sy studies het hy en sy vrou, Betsie, met wie hy in 1927 in Hamburg getroud is, ʼn reis deur Europa en die VSA onderneem. Dit is ook hier waar hy gehoor het dat hy as professor in sielkunde aan die US aangestel is. 40

In 1937 word hy aangestel as die eerste redakteur van Die Transvaler. Hierdie pos het hom meer belangrik in die Suid-Afrikaanse politiek gemaak. Toe die Nasionale Party (NP) die verkiesing in 1948 wen, word hy as ʼn senator aangestel. In 1950 word hy die minister van naturellesake (die vroeë benaming vir swart Suid-Afrikaners). As minister van dié portefeulje was hy verantwoordelik vir baie van die apartheidswetgewing, die amptelike rassistiese beleid van die NP-regering van 1948 tot die eerste demokratiese verkiesing in 1994. 41

Ná die dood van Johannes Gerhard Strijdom word Verwoerd verkies as die leier van die NP en word die nuwe eerste minister van Suid-Afrika (voordat ons ’n president gehad het, is die leier van die land ’n eerste minister genoem). Sy program vir apartheid kon nou ten volle toegepas word met ʼn ingewikkelde stel wette wat wit mense, bruin mense, Indiërs en swart mense geskei het. 41

Op 21 Maart 1960 word 69 swart mense deur die polisie doodgeskiet by die Sharpeville-polisiekantoor tydens ʼn betoging deur ongeveer 7 000 swart mense. Dit het tot verdere betogings, protesoptogte en onluste reg oor die land gelei.

Op 30 Maart het Verwoerd ʼn nasionale noodtoestand (situasie van groot onveiligheid in ʼn land) afgekondig. Die noodtoestand was steeds aan die gang toe Verwoerd in April 1960 die Randse Skou sou open. Ongeveer 3 000 mense het na die skouterrein gestroom om die eerste minister se toespraak te hoor. 42

Een van hierdie mense was die 51-jarige boer en sakeman David Beresford Pratt. Hy was egter nie daar om in die feesvieringe te deel nie. Hy wou die “argitek van apartheid-Suid-Afrika” doodmaak. Pratt skiet Verwoerd twee keer in die gesig. Albei koeëls is later met ’n operasie verwyder en binne ’n maand was Verwoerd terug op sy pos as eerste minister. 42

Tydens Pratt se hofsaak is bevind dat hy ten tye van die sluipmoordaanval nie tussen reg en verkeerd kon onderskei nie – ’n mens noem dit ontoerekeningsvatbaar – en kon daarom ook nie van poging tot moord aangekla word nie. Op 1 Oktober 1961 het Pratt sy eie lewe geneem. 42

Verwoerd wou intussen seker maak dat Suid-Afrika totaal onafhanklik van enige Britse inmenging sou wees. Hy wou ook eenheid tussen die twee wit groepe – die Afrikaners en die Engelse – bevorder. Daarom het hy die idee van ’n Suid-Afrikaanse republiek begin verkondig. 43 Sy droom word op 31 Mei 1961 bewaarheid toe die Unie van Suid-Afrika die Republiek van Suid-Afrika word. 44

Op 6 September 1966 is daar ’n tweede sluipmoordpoging op Verwoerd toe ’n boodskapper van die parlement hom in die parlement doodgesteek het. Dimitri Tsafendas was ’n Mosambiekse immigrant wat aanvanklik gesê het dat hy die sluipmoord uitgevoer het in opdrag van ’n reusagtige lintwurm (’n wurm wat parasities in die dermkanaal van mense of diere lewe) in sy maag. Hy is tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Later is daar bevind dat hy Verwoerd uit weerwraak vermoor het as gevolg van die uitwerking wat apartheid op sy lewe gehad het. 41

Dimitri Tsafendas is lewenslange tronkstraf opgelê vir die sluipmoord op H.F. Verwoerd.

Martin Luther King jr. (1929-1968)

Michael King jr. is op 15 Januarie 1929 in Atlanta, Georgia, in die VSA gebore. Hy was die seun van Michael King sr. en Alberta Williams King. 45 In Augustus 1934 besluit pa Michael om sy naam te verander na Martin Luther sr. en sy vyfjarige seun na Martin Luther King jr. Hy vernoem hulle na die Duitse kerkhervormer Martin Luther. 46

Martin Luther King jr. is na die Duitse kerkhervormer Martin Luther vernoem.

Gedurende Martin se leeftyd was daar verskillende openbare plekke vir wit en swart mense, baie soortgelyk aan Suid-Afrika se apartheidswette. In die VSA is dit segregasie of die skeiding van mense genoem en dit het beteken daar was verskillende skole, toilette, restaurante en busse vir mense van verskillende rasse. Die plekke wat wit mense kon gebruik, was gewoonlik beter as dié waar swart mense toegelaat is. 47

King het die eerste keer segregasie ervaar toe hy as sesjarige na ʼn skool vir swart kinders moes gaan en sy vriend na ʼn skool vir wit kinders. 47 As veertienjarige het hy op ʼn keer ʼn prys gewen vir ʼn toespraak wat oor burgerregte gegaan het. Tydens die busrit na sy huis moes hy plek maak vir ʼn wit persoon wat daar wou sit. Vir die res van die rit moes hy bly staan. Later het King vertel dat dit hom die kwaadste in sy lewe gemaak het toe hy daardie dag sy sitplek moes prysgee. 48

In 1944, toe King 15 jaar oud was, het hy Morehouse College in Atlanta begin bywoon, net soos sy pa en oupa voor hom. Hy wou aanvanklik ʼn dokter of ʼn prokureur word, maar in sy finale jaar het sy pa hom oortuig om in sy pa en oupa se voetspore te volg en ʼn predikant te word. 47

Voor sy studies het King in die somervakansie op ʼn tabakplaas in Connecticut gaan werk. Dit was die eerste keer dat hy só lank van die huis af weg was en sy eerste ervaring van rasseverhoudinge in die noorde van die land – weg van die gesegregeerde suide. Hy was geskok om te sien hoe vreedsaam die rasse in die noorde met mekaar meng. “Swart mense en wit mense woon dieselfde kerk by,” het hy in ʼn brief aan sy ouers geskryf. “Ek het nooit gedink iemand van my ras kan enige plek eet nie.”

Sy ervaring in die noorde het sy haat oor rasseverdeeldheid verder verdiep. 47

Ná Morehouse gaan studeer hy aan ʼn teologiese kollege in Pennsilvanië. Dit is hier waar hy die eerste keer te hore kom van aktiviste soos Mahatma Gandhi se filosofie van niegewelddadige verset teen Brittanje in Indië. Vir King was vreedsame betogings die manier waarop die burgerregtebeweging in die VSA aangepak moes word. 49

In 1955 verwerf King ʼn doktorsgraad in teologie aan die Universiteit van Boston. Terwyl hy in Boston was, het hy Coretta Scott ontmoet. Hulle trou in 1953 en het vier kinders gehad. 47

King was die pastoor van die Dexter Avenue-baptistekerk in Montgomery, Alabama, toe ʼn klein groepie mense begin betoog het teen segregasie oor sitplekke op busse. Dit het gevolg ná ʼn voorval op 1 Desember 1955 waartydens Rosa Parks, ʼn swart vrou, nie haar sitplek vir ʼn wit persoon wou prysgee nie.

Die groep het die Montgomery Improvement Association gevorm om ʼn boikot teen die vervoerstelsel te reël. Hulle het King as hul leier gekies. Hy was jonk, goed opgelei en was nog nie lank genoeg in die stad om vyande te hê nie. Mense het respek vir hom gehad en die betoging was suksesvol. Teen 1956 was daar ʼn uitspraak in die hof en was daar nie meer afsonderlike sitplekke vir verskillende rasse op die busse nie. Mense kon sit waar hulle wil. 50

In 1963 het King gehelp om ʼn optog in Washington te reël. Dit was die grootste optog vir burgerregte in die VSA se geskiedenis. Sowat 250 000 mense het op 28 Augustus 1963 vanaf die Washington-monument na die Lincoln-gedenkteken gestap. Verskeie aktiviste het tydens die geleentheid gepraat, maar King het geskiedenis gemaak met sy “I have a dream”-toespraak. Hierdie toespraak, waar King vertel het van sy droom dat almal eendag gelyk sal wees, is een van die bekendste toesprake oor burgerregte in die wêreld. King se inspirerende woorde en die optog het baie daartoe bygedra dat die wet op burgerregte in die VSA deurgevoer is. Hierdie wet het dit onwettig gemaak om op enige manier teen swart mense te diskrimineer. 51

Luther het met sy vreedsame verset só baie gedoen om burgerregte in die VSA te bevorder dat hy in 1964 die Nobelprys vir Vrede ontvang het. 51

Hy het egter baie vyande in sy leeftyd onder die Ku Klux Klan gemaak omdat hy burgerregte bevorder het en ʼn sterk leier was. Op 4 April 1968 was hy in Memphis, Tennessee, om ʼn optog te lei vir vullisverwyderaars wat oor hul werksomstandighede gestaak het. Om 18:01 word hy geskiet waar hy op die balkon van sy motelkamer gestaan het. Hy is na die St. Joseph-hospitaal gehaas waar dokters probeer het om sy hart weer aan die klop te kry. Hul pogings was onsuksesvol en om 19:05 word Martin Luther King jr. dood verklaar. Hy was net 39 jaar oud. 51

James Earl Ray is in Maart 1969 skuldig bevind aan die sluipmoord op King. Hy is 99 jaar tronkstraf opgelê en sterf in 1998. 51

James Earl Ray is in Maart 1969 skuldig bevind aan die sluipmoord op Martin Luther King jr. Hy is 99 jaar tronkstraf opgelê.

Robert F. Kennedy (1925-1968)

Robert Francis Kennedy, seun van Joseph (Joe) P. en Rose Kennedy, en jonger broer van pres. John F. Kennedy, is op 20 November 1925 in Brookline, Massachusetts, in die VSA gebore. Hy onderbreek sy studies om tydens die Tweede Wêreldoorlog by die Amerikaanse vloot aan te sluit. 52

In 1950 trou Robert met Ethel Skakel van Greenwich, Connecticut. Die egpaar het elf kinders gehad. In 1951 verwerf hy ʼn regsgraad aan die Universiteit van Virginia. Sy politieke loopbaan begin die volgende jaar toe hy sy broer John se veldtog om tot die Amerikaanse senaat verkies te word, suksesvol bestuur. 53

In 1957 word hy aangestel as raadgewer vir ʼn komitee wat ondersoek moes instel na die uitbuitery van werkers. Dit het tot die jare lange rusie en vyandskap tussen hom en James (Jimmy) R. Hoffa, ʼn vakbondleier, gelei.

Robert Francis Kennedy is soos sy broer John F. Kennedy om die lewe gebring.

Robert bedank in 1960 uit hierdie komitee om sy broer by te staan in sy veldtog om as president van die VSA verkies te word. John F. Kennedy wen die verkiesing in 1961 en stel Robert as prokureur-generaal aan. Ná John se sluipmoord op 22 November 1963 bly Robert in hierdie posisie aan tot hy in September 1964 bedank. 52

In sy kort politieke loopbaan was hy 44 maande lank die hoof van die departement van justisie waar hy ʼn einde aan georganiseerde misdaad in die VSA wou bring. Een van die beste oomblikke van sy lewe was toe hy genoeg getuienis byeengebring het om die mafiabaas Hoffa aan te kla. 52

Robert Kennedy was ook nie bang om teen rassisme op te tree nie. Toe hy op 20 Mei 1961 gehoor het dat ʼn vyandige skare die menseregteaktivis Martin Luther King jr. en sowat 1 200 van sy volgelinge in Montgomery, Alabama, bedreig, het hy onmiddellik 400 polisielede gestuur om hulle te beskerm. 52

Robert Kennedy saam met Martin Luther King jr. Albei is eindelik in sluipmoordaanvalle dood.

In November 1964 word hy as senator van New York verkies. Binne twee jaar het Robert homself as ʼn belangrike politieke figuur gevestig. Hy was die hoofwoordvoerder van die Demokratiese Party, en het pres. Lyndon B. Johnson se beleid tydens die Viëtnam-oorlog gekritiseer. 52

Op 16 Maart 1968 stel hy homself as presidentskandidaat beskikbaar. Teen 4 Junie het hy reeds in vyf groot streke geseëvier. Op daardie dag het hy die staat Kalifornië gewen. Kort ná middernag, op 5 Junie, nadat hy ʼn toespraak by die Ambassador-hotel in Los Angeles gelewer het, word hy noodlottig gewond toe hy die hotel deur ʼn kombuisgang verlaat. Die Palestynse immigrant Sirhan Bishara Sirhan was verantwoordelik vir die tweede sluipmoordaanval op ʼn Kennedy. 52

Sirhan Bishara Sirhan was verantwoordelik vir die tweede sluipmoordaanval op ʼn Kennedy.

Robert word naby sy ouboet John in die Arlington- nasionale begraafplaas begrawe. Verskeie van sy kinders het ook later politieke loopbane gevolg. Sirhan is die doodstraf opgelê, maar dit is later na lewenslange tronkstraf verander. 52

John Lennon (1940-1980)

John Lennon was een van die vier lede van die Beatles, die rockgroep wat populêre musiek (popmusiek) in die 1960’s baie gewild gemaak het. Hy en Paul McCartney het die meeste van die liedjies geskryf wat die Beatles die gewildste musiekgroep van die 20ste eeu gemaak het. Die ander twee lede van dié kwartet (’n musiekgroep bestaande uit vier lede) was George Harrison en Ringo Starr. 54

John Lennon het die meeste van die Beatles se trefferliedjies geskryf.

John Winston Lennon is op 9 Oktober 1940 in Liverpool, Engeland, gebore. Sy ma, Julia, het hom van kleins af geleer hoe om banjo en klavier te speel. Haar afsterwe in Julie 1958 het ʼn groot impak op sy lewe gehad. 54

In 1956 het Elvis Presley se musiek die 16-jarige Lennon geïnspireer om ʼn musiekgroep, The Quarry Men, te vorm. Op 6 Julie 1957 ontmoet hy vir Paul McCartney en nooi hom om by die groep aan te sluit. McCartney het Lennon weer die volgende jaar aan George Harrison voorgestel. Hul eerste tromspeler was Pete Best en die groep verander hul naam na The Beatles. 54

Brian Epstein word in 1961 die groep se bestuurder en hulle kry ʼn nuwe tromspeler, Ringo Starr. Hul eerste liedjie, “Love Me Do”, word in Oktober 1962 vrygestel. 54

Die “Fab Four” (fantastiese vier) se musiek is deur vroeë Amerikaanse ruk-en-rol-musiek beïnvloed. Hulle het Brittanje in 1963 met die enkelsnit “Please Please Me” oorrompel. “Beatlemania” (mense was mal oor die groep en duisende mense het hulle oral gevolg) het in 1964 na die VSA versprei met die vrystelling van “I Want to Hold Your Hand”. 55

The Beatles het populêre musiek (popmusiek) in die 1960’s baie gewild gemaak.

Lennon is as die intellektuele of slim lid van die groep beskou en was ook die mees uitgesproke van die vier lede. Hy het ’n groot opskudding in 1966 veroorsaak toe hy gesê het dat die Beatles “meer gewild as Jesus” is. Baie mense het in reaksie hierop hul Beatles-plate verbrand. Hy was later ook uitgesproke as iemand wat teen oorlog gekant is. 56

Die groep se bestuurder, Brian Epstein, sterf op 27 Augustus 1967. Dit was die begin van die einde van die Beatles. McCartney het in ʼn onderhoud op 10 April 1970 aangekondig die groep se paaie het geskei. Elkeen het sy eie musiekloopbaan begin volg. 57

Lennon se politieke idees soos kommunisme kon in die lirieke van sy solotreffers, soos “Imagine”, gehoor word. 58 [Lees hier oor kommunisme.]

Lennon het in 1975 uit die musiekbedryf getree om meer tyd saam met sy Japannese vrou, Yoko Ono, en hul seun, Sean, te spandeer. 59 In 1980 het hy ʼn terugkeer gemaak met Double Fantasy, ʼn bekroonde album wat sy liefde vir Yoko gevier en liedjies bevat het wat deur haar geskryf is. 60

John en sy Japannese vrou, Yoko Ono.

Op 8 Desember 1980 word die 40-jarige Lennon net buite die luukse Dakota-woonstelgebou in New York deur die 25-jarige Mark David Chapman geskiet. Chapman het vyf skote gevuur, en vier het Lennon getref. Hy is na die hospitaal gehaas, maar het op pad gesterf. Chapman het vroeër die dag ʼn handtekening van Lennon ontvang en het vrywillig op die toneel van die skietery gebly totdat hy deur die polisie in hegtenis geneem is. 61

Mark David Chapman het vyf skote op John Lennon gevuur, waarvan vier die sanger getref het.

Chapman het erken dat hy Lennon geskiet het en is 20 jaar tot lewenslange tronkstraf opgelê. Hy is reeds 12 keer parool geweier en is vandag nog agter tralies. Hy kan in 2024 weer om parool aansoek doen. 62

Yitzhak Rabin (1922-1995)

Yitzhak Rabin is op 1 Maart 1922 in Jerusalem (in daardie stadium deel van Brits-Palestina en vandag Israel), gebore. 63 Sy familie was Joods en hy het ʼn landbouskool bygewoon. 64

In die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) het Rabin vir die Palmach, ʼn Joodse weermag, baklei. Toe Israel in 1948 gevorm is, het Rabin ʼn soldaat in Israel se weermag geword. Hy het ook aan die Arab-Israeli-oorloë deelgeneem. 64

Yitzhak Rabin, voormalige eerste minister van Israel.

In 1964 word Rabin as die hoof van Israel se weermag aangestel. In 1967 het hy Israel tot oorwinning gelei in die Sesdaagse Oorlog tussen Israel en die naburige state Egipte en Sirië (toe bekend as die Verenigde Arabiese Republiek), asook Jordanië. 64

Ná die oorlog in 1967 het Rabin uit die weermag bedank. Hy was daarna, van 1968 tot 1973,  Israel se ambassadeur in die VSA. Hy word in 1973 tot Israel se parlement verkies en word in Junie 1974 dié land se eerste minister. 64

Rabin wou, as leier van Israel, die bakleiery teen Sirië in die Golanhoogland tot ʼn einde bring. In 1976 het hy beveel dat passasiers, wat op ʼn vlug uit Israel ontvoer is, vrygelaat moet word. Dié reddingspoging, in Entebbe, Uganda, was suksesvol. 64

In 1977 bedank hy as eerste minister. In die 1980’s het hy as Israel se minister van verdediging opgetree. Hy word in 1992 weer as eerste minister aangewys. 64

Rabin se regering het in die geheim gesprekke gevoer met Palestina se grootste politieke groep, die Palestynse Bevrydingsorganisasie (PLO). Israel en die PLO het in 1993 ʼn vredesooreenkoms onderteken. 64

Rabin ontvang in 1994 saam met sy minister van buitelandse sake, Shimon Peres, en die leier van die PLO, Jasser Arafat, die Nobelprys vir Vrede vir “hul pogings om vrede in die Midde-Ooste te bewerkstellig”. 65

Rabin het in dieselfde jaar ʼn vredesooreenkoms onderteken met koning Hoessein van Jordanië. Sommige Israelse burgers was ongelukkig met Rabin se vredemakery. ʼn Joodse sluipmoordenaar het Rabin op 4 November 1995 in Tel Aviv, Israel, doodgeskiet. 64

Yigal Amir, ʼn 25-jarige Jood van Israel, het die eerste minister twee keer direk ná mekaar geskiet. Rabin is ʼn uur en ʼn half later dood verklaar. Binne ʼn paar maande het Rabin se regering ook uitmekaar geval en die vooruitsig vir ʼn langdurige vrede tussen Palestina en Israel was daarmee heen. 66

Yigal Amir, ʼn 25-jarige Jood van Israel, het die eerste minister twee keer direk ná mekaar geskiet.

Benazir Bhutto (1953-2007)

Benazir Bhutto is op 21 Junie 1953 in Karachi, Pakistan, gebore. Sy was die eerste vroulike leier van ʼn Moslemland in die moderne geskiedenis en het twee termyne as eerste minister van Pakistan gedien. Benazir se pa, Zulfikar Ali Bhutto, was die leier van Pakistan van 1971 tot 1977. 67

Benazir het in ʼn ryk Moslemfamilie grootgeword. In daardie stadium is vroue en meisies minder belangrik as mans en seuns beskou. Haar pa het egter geglo meisies is gelyk aan seuns. Hy het gevoel meisies verdien ook opleiding. Haar ma, Nusrat Bhutto, was ook ʼn opgeleide vrou. Benazir het dus die beste skole in Pakistan bygewoon. 68

Benazir Bhutto was die eerste vroulike leier van ʼn Moslemland in die moderne geskiedenis.

Sy studeer aan die universiteite van Harvard in die VSA en Oxford in Engeland en verwerf in 1977 ’n meestersgraad in internasionale reg. 67

Kort nadat Benazir haar studies voltooi en na Pakistan teruggekeer het, word haar pa, wat in daardie stadium die leier van Pakistan was, deur generaal Mohammad Zia-ul-Haq vervang.

Ná haar pa se teregstelling in 1979 het Bhutto die hoof van haar pa se Pakistanse Volksparty (PPP) geword. Tussen 1979 en 1984 was sy dikwels in huisarres, wat beteken dat sy nie haar huis kon verlaat nie. Tussen 1984 tot 1986 was sy in ballingskap (iemand mag nie van ʼn ander land terugkeer nie). 67

Nadat die krygswette (wette wat tydens ’n oorlog geld) opgehef is, kon sy terugkeer na Pakistan en word sy die belangrikste opposisie vir president Zia. Hy sterf in Augustus 1988 onder geheimsinnige omstandighede in ʼn vliegtuigongeluk. In die daaropvolgende verkiesing wen Bhutto se PPP die meeste aantal stemme. 67

Sy word op 1 Desember 1988 Pakistan se eerste vroulike hoof van ʼn burgerlike regering sedert haar pa se regering in 1977 ontbind is. Sy het egter nie genoeg mag om wetgewing in te stel wat kwessies soos armoede, misdaad en korrupsie kon aanpak nie. 67

Sy het nie goeie verhoudings met die hoofde van die weermag in die land gehad nie. In Augustus 1990 ontbind die president van Pakistan, Ghulam Ishaq Khan, haar regering op aanklag van korrupsie. ʼn Nuwe verkiesing vind plaas en Bhutto se PPP verloor in die verkiesing van Oktober 1990. Hierna lei Bhutto die parlementêre opposisie teen haar opvolger, Nawaz Sharif. 67

In die verkiesing van Oktober 1993 wen die PPP weer en dien sy vir ’n tweede termyn die mense van Pakistan. Onder haar leierskap lok sy baie buitelandse beleggings na die land en bied sy ook verskeie maatskaplike programme aan om die lot van die Pakistani’s oor die algemeen te verbeter.

Hierdie keer geniet sy die ondersteuning van die president, Farooq Leghari. Hy was ook ʼn lid van die PPP. Ten spyte van Bhutto se pogings is Pakistan se ekonomie en wet en orde nie baie stabiel nie. Haar broer beskuldig haar man, Asif Ali Zardari, van korrupsie. In November 1996 ontbind president Leghari haar regering. 67

In 1999 word Bhutto en haar man, ʼn sakeman en senator, van korrupsie aangekla. Bhutto kies om self in ballingskap in Londen en Dubai te gaan woon. Die hoogste hof het in 2001 die skuldigbevinding omgekeer, omdat daar bewyse was dat die regering by die saak ingemeng het. 67

Dit is eers in 2007 dat Bhutto amnestie (vrywaring/verskoning) van die korrupsieaanklagte teen haar gekry het en sy in staat was om na Pakistan terug te keer. Die feesvierings rondom haar terugkeer eindig in tragedie. ʼn Selfmoordbom ontplof en heelwat van haar ondersteuners sterf. ʼn Selfmoordbom is ʼn bom wat iemand laat ontplof om ander te dood, maar hom terselfdertyd ook sy eie lewe kos. 67

Die plek waar Benazir Bhutto gesterf het.

In Desember sterf Bhutto in ’n soortgelyke aanval terwyl sy stemme vir ’n opkomende verkiesing werf. Ná haar dood het die partyleierskap na haar man, Asif Ali Zardari, en later na hul seun, Bilawal Bhutto Zardari, gegaan. 67 Dit is nog steeds nie bekend wie vir Bhutto se dood verantwoordelik was nie. 69

Woordbank

aartshertog Hertog van die hoogste rang.
aktivis Iemand wat hard werk en praktiese dinge doen om sosiale of politieke verandering teweeg te bring: ’n menseregteaktivis.
anargis Iemand wat glo wette/regerings/ens. is onnodig.
burgeroorlog Oorlog tussen partye van een volk.
diktator Heerser met onbeperkte mag, veral met geweld verkry; alleenheerser: Hitler, Stalin, Mussolini en Idi Amin was diktators.
diskriminasie Onbillike onderskeid by behandeling; diskriminasie teenoor ’n bevolkingsgroep.
ekstremis Iemand wat tot die uiterste gaan: politieke ekstremiste.
federaal Wat bestaan uit ’n groep state wat hul eie sake bestuur, maar beheer word deur ’n nasionale regering wat besluite oor buitelandse sake, verdediging, ens. neem.
generaal Rang van ’n weermagoffisier wat die hoogste bevel of gesag het, of net onder die hoogste bevelvoerder is.
gerekende Wat aansien geniet; vooraanstaande; gesiene.
goudstandaard ʼn Geldstelsel ingevolge waarvan ʼn land se geldeenheid aan goud gekoppel word.
hand en tand Met alle mag.
handgranaat Splinterbommetjie met ’n slagpen wat met die hand gegooi of aan ’n stok of steel geslinger word.
ideologie Idee(s) wat die grondslag vorm van ’n politieke of ekonomiese teorie of stelsel, veral sulke idees wat tot starheid, onversetlikheid van denke/optrede lei.
ikone Iemand of iets wat merkwaardig/besonders/navolgenswaardig is; ’n beroemde persoon wat deur baie mense bewonder word.
intellektueel Wat verband hou met die vermoë om dinge te verstaan en intelligent te dink; verstandelik.
koeëlvas Teen koeëls bestand.
kommunisme ʼn Politieke stelsel waarin die regering die produksie en vervaardiging van alle voedsel en goedere beheer en niemand sy of haar eie eiendom mag besit nie.
konsensus Mening waarmee al die lede van ’n groep saamstem, of wat deur al die lede met uiteenlopende benaderings aanvaar word.
konvooi Aantal skepe/voertuie/ens. wat as groep beweeg, veral begelei deur ’n aantal gewapende skepe/voertuie.
legendariese Wat baie beroemd is en bewonder word.
losie ʼn Afgeslote sitplek in ʼn teater of stadion.
lyfwagte Wag wat verantwoordelik is vir die persoonlike veiligheid van ’n belangrike persoon.
Middeleeue Tydvak tussen die klassieke beskawings en die Renaissance, gewoonlik gereken van die Germaanse oorname van Rome en die val van die Wes-Romeinse Ryk in 476 tot die oorname van Konstantinopel in 1453 deur die Ottomans.
Nazi Duitse nasionaal-sosialis, veral ’n volgeling van Adolf Hitler voor en tydens die Tweede Wêreldoorlog.
obsessie Toestand waarin voortdurende kwel- en dwanggedagtes ’n mens besig hou.
onderhandel Mondeling of skriftelik ’n bespreking of handeling aangaan met ’n ander party of partye om tot ’n ooreenkoms te probeer kom.
onlus Voorvalle van burgerlike onrus; oproer; woelinge; beroeringe.
pantser ʼn Sterk laag metaal wat militêre voertuie teen aanvalle beskerm.
parool Vrylating van ’n gevangene voor sy of haar vonnis uitgedien is op voorwaarde dat hy/sy hom/haar gereeld aanmeld soos vereis en van oortredings weerhou.
pleegsorg Sorg soos dié van pleegouers: ’n baba in pleegsorg plaas.
pous Biskop van Rome en opperhoof van die Rooms-Katolieke Kerk.
rassisme Veronderstelling/oortuiging dat karakter en bekwaamheid bepaal word deur ras/velkleur; denkrigting wat aanneem dat ’n besondere ras/bevolkingsgroep meerderwaardig is en die reg het om ander rasse/groepe te oorheers.
Renaissance Herlewing van die kuns en letterkunde in Europa onder invloed van hernieude studie van die klassieke oudheid, omstreeks 1450 in Italië begin; “hergeboorte”.
roem Toestand van deur ander bewonder en geprys te word; lof/eer wat iemand ontvang; goeie naam.
Romeinse Ryk Die gebied wat tussen 27 v.C. en die 5de en 6de eeu deur ʼn reeks van keisers geregeer is.
slagoffers Iemand wat aangeval/beroof/vermoor is/word.
slawerny Toestand van ’n slaaf te wees of vir iemand onder slegte omstandighede te werk.
sluipmoordenaars Iemand wat ʼn sluipmoord pleeg.
trem Passasierstrein wat op spore deur die strate van ʼn stad of dorp loop.
uitbuitery Om onregverdig en selfsugtig soveel moontlik voordeel uit iemand of ’n situasie te put/trek.
verraai Nie aan iemand lojaal/getrou bly nie en sy/haar vyande help.
vervals Met ’n oneerlike bedoeling namaak.
wraak Die daad om kwaad met kwaad te vergeld.

Lees dié artikels om meer te wete te kom

Kyk dié video’s oor bekendes se veiligheid

Wêreldleiers reis in styl (en veiligheid!). Hier is van die indrukwekkendste vervoermiddels – van Air Force One tot ’n goue limousine

Die wêreld se mees beskermde bekendes
Air Force One, die vliegtuig waarmee die Amerikaanse president reis, is eintlik twee identiese stralers (die een is altyd op bystand vir ingeval die ander een breek). Dié “vlieënde Withuis(e)” sal binnekort met splinternuwe Boeings vervang word.

Só word lyfwagte opgelei

Die tien mees beskermde miljardêrs op aarde

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 2 Desember 2023 | Bygewerk op 26 Februarie 2024