Vinnige feite
- Die mees dramatiese oomblik van die Konvensie het gekom tydens die debat oor taal, toe oudpresident MT Steyn van die Vrystaat tot die debat toegetree het. Hy het die afgevaardigdes gevra om die “duiwel van rassehaat” (hy het na die Boere en Britte as verskillende rasse verwys) te begrawe, deur die twee tale volledig gelykheid te gee. Sy toespraak het baie mense tot trane gedryf. 6
- Die afgevaardigdes wat die Uniegrondwet opgestel het, het dit in ’n verbasend kort tyd reggekry. Dit het slegs agt maande geneem. In Kanada het hulle drie jaar geneem, en in Australië 10 jaar. 1
- Planne vir feeste in die land om Uniewording te vier, is afgeskaf omdat die Britse koning, Eduard VII, kort tevore oorlede is. 5
- By die Vrede van Vereeniging het die Vrystaat die Oranjerivierkolonie geword. Op 29 Januarie 1909 het die Nasionale Konvensie eenparig besluit om dié provinsie se naam terug te verander na Oranje-Vrystaat. 5
- In 1911 was daar amptelik 5 937 394 inwoners in die Unie. Van die 1 276 319 wit mense was waarskynlik meer as ’n miljoen Afrikaanssprekende mense. Daar was 4 018 878 swart mense, 525 466 bruin mense en 152 094 mense wat uit Asië afkomstig was. 5
Suid-Afrika het nie altyd gelyk soos wat ons ons mooi land vandag ken nie. Voor 1910 was die land in vier Britse kolonies verdeel – die Kaapkolonie, Natal en die twee ou Boererepublieke: Transvaal en Oranje-Vrystaat, wat van 1902 af die Oranjerivierkolonie genoem is. Ná ’n proses wat ná die Anglo-Boereoorlog begin het, het die vier kolonies op 31 Mei 1910 saamgesmelt om die Unie van Suid-Afrika te vorm.
Agtergrond
Brittanje het sedert die minerale revolusie – die tydperk van die ontdekking van diamante en goud in die tweede helfte van die negentiende eeu – die idee gehad om die verskillende gebiede van Suid-Afrika te verenig. Hulle wou ál Suid-Afrika se minerale rykdom onder Britse beheer plaas.
Ná die Anglo-Boereoorlog het Brittanje al vier kolonies besit. Suid-Afrika was egter in 1902 ’n baie verdeelde land. Daar was verskille ten opsigte van ras, taal, etnisiteit, stand en kultuur. 1 Brittanje se hoofdoel was om versoening tussen die verskillende wit groepe in Suid-Afrika (Engels en Afrikaans, hensopper, joiner en bittereinder, Kapenaar en Transvaler) te bewerkstellig.
Die Afrikaners het ná 1902 begin om politieke partye te stig om Afrikanerbelange te bevorder. Twee van hierdie partye was die Het Volk-party in Transvaal, gestig in 1905, met leiers Louis Botha en Jan Smuts; en die Orangia Unie in die Oranjerivierkolonie, gestig in 1906, onder leierskap van J.B.M. Hertzog, Abraham Fischer en Christiaan de Wet. Hierdie twee politieke partye het albei in 1907 die verkiesings in hul kolonies gewen. Louis Botha, met Jan Smuts se hulp, het die premier van Transvaal geword en Abraham Fischer die premier van die Oranjerivierkolonie. 1
In 1908 het John X. Merriman se Suid-Afrikaanse Party (SAP) die verkiesing in die Kaapkolonie gewen. Die meerderheid Afrikaners in die Kaap het die SAP ondersteun. 1
Soos wat die dekade gevorder het, het mense al meer die idee van unifikasie bespreek. Daar was baie voordele daaraan verbonde: dit sou ekonomiese aktiwiteite soos handeldryf makliker maak, en doeaneprobleme (belasting op die in- en uitvoer van goedere) oplos. Laastens sou dit beteken dat die posisie van swart mense en die kwessie van swart arbeid op ’n eenvormige wyse opgelos word, wat basies beteken het dat dit makliker sou wees om die swart bevolkingsgroepe te beheer. 2
Afrikanerleiers soos Hertzog het gehoop dit sou Afrikanernasionalisme versterk. 1
Teen 1906 het die idee om die vier kolonies te verenig só populêr geword dat daar begin is om stappe te doen om dit te laat gebeur. Dit het gelei tot die byeenroeping van ’n Nasionale Konvensie in 1908. 3
Die Nasionale Konvensie
Die Konvensie is gehou van Oktober 1908 tot Mei 1909. 1 Dit was eintlik ’n reeks vergaderings wat in groot stede oor die hele land gehou is. Die doel van die Nasionale Konvensie was om ’n grondwet op te stel vir ’n verenigde Suid-Afrika, en planne vir die toekoms van Suid-Afrika te formuleer. 2
Die afgevaardigdes was almal wit mense. 3
Die twee prominentste leiers wat by die opstel van die Uniegrondwet betrokke was, was Jan Smuts en John X. Merriman. 4
Kwessies by die Konvensie
Die Konvensie het oor ’n klomp kwessies beraadslaag. Hulle moes onder meer besluit of die land ’n unie (dieselfde wette vir almal oor die hele land) of ’n federasie sou wees. Daar moes ook besluit word hoeveel parlementêre setels elke provinsie sou kry (met ander woorde hoeveel verteenwoordigers elke provinsie in die wetgewende liggaam sou hê). Daar is redelik maklik oor die meeste kwessies besluit. Daar was egter veral twee kwessies waaroor die afgevaardigdes baie verskil het. Dit was die regeringsvorm (met ander woorde hoe die regering sou lyk) en stemreg. 1
Regeringsvorm
Die een opsie was die regeringsvorm van die Boererepublieke. Hulle regerings het uit twee dele bestaan: die Volksraad (die wetgewende liggaam, met ander woorde die vergadering wat die wette gemaak het), en die president, wat die staatshoof en regeringshoof was en die kabinet kon aanwys. Die Volksraad en president is deur die stemgeregtigdes verkies. ‘n Mens kan hierdie regeringsvorm ’n republikeinse demokrasie noem. 3
Aan die ander kant was daar die koloniale Britse regeringsvorm van die Kaapkolonie en Natal. Hier is die lede van die wetgewende liggaam deur stemgeregtigdes verkies. Die leier van die party wat die meeste stemme gekry het, is deur die Britse monarg (die staatshoof, in daardie stadium koning Eduard VII) gevra om die eerste minister (die regeringshoof) te wees. Dié persoon het dan ’n kabinet saamgestel. ‘n Mens noem dié regeringsvorm ’n monargale demokrasie. 3
Stemreg
Die tweede kwessie was oor wie aan die demokrasie kon deelneem. Die nasate van die Voortrekkers wou slegs aan wit mense stemreg gee. Die swart, bruin en Indiërgroepe kon oor hul eie sake beheer hê, maar onder die beheer van wit mense, en mag nie aan die politieke stelsel van die wit mense deelgeneem het nie.
Die teenoorgestelde gedagterigting, wat meestal aangehang is deur afgevaardigdes van die Britse kolonies en baie Kaapse Afrikaners, was dat alle volwasse mans wat aan sekere kwalifikasies voldoen het, soos byvoorbeeld om eiendom te besit, stemreg sou kry. Sommige nieblankes (die woord wat destyds gebruik is vir almal wat nie as wit mense [destyds blankes genoem] geklassifiseer was nie) kon dus op sekere vlakke aan die politieke stelsel van die blankes deelneem. 3
Besluite van die Konvensie
Die finale sitting van die Nasionale Konvensie was tussen 3 en 11 Mei 1909 in Bloemfontein. 2 Nadat die proses van voorstelle en debatte afgehandel is, is ’n Konsep-Uniegrondwet opgestel. 3 Dit is deur die parlemente van die Kaapkolonie, Transvaal en Oranjerivierkolonie goedgekeur, en in Natal deur ’n volkstemming aanvaar. 2
In September 1909 is dit deur die Britse parlement as die Suid-Afrika-Wet aanvaar. Dit sou vanaf 31 Mei 1910 ingestel word, en sou op al die inwoners van die Unie van toepassing wees. 3
Uniewording en die Uniegrondwet
Die regeringsvorm waarop besluit is, was ’n monargale demokrasie. Hiervolgens was die Britse koning/koningin die staatshoof. Hy of sy sou deur ’n goewerneur-generaal in Suid-Afrika verteenwoordig word.
Die regering sou bestaan uit ’n parlement, kabinet en die hof:3
- Die parlement was die wetgewende gesag – die mense wat die wette maak. Die parlement het bestaan uit twee huise – die Senaat en die Volksraad. Kaapstad sou die wetgewende hoofstad wees.
- Die kabinet was die uitvoerende gesag – die mense wat moes seker die maak die wette word uitgevoer. Die kabinet het bestaan uit die eerste minister (die regeringshoof) en ander ministers. Pretoria sou die uitvoerende hoofstad wees.
- Die hof was die regsprekende gesag – die mense wat seker moes maak die wette wat die wetgewende gesag maak, is nie strydig met die Grondwet nie, en wat diegene moes vervolg wat die wette oortree het. Bloemfontein sou die regsprekende hoofstad wees. 3
Die Unie het ’n kolonie van Brittanje gebly, en ten opsigte van buitelandse sake moes hulle aan Brittanje onderworpe bly. Dit was die standaard (algemene reël) in daardie tyd met alle Britse kolonies (soos Australië en Kanada). Die Unie het egter volledig beheer gehad oor hul eie binnelandse sake. 3
Ten opsigte van stemreg is die volgende besluit:
- In Transvaal en die Oranjerivierkolonie kon slegs wit mans van 21 jaar en ouer stem.
- In Natal kon alle mans bo 21 stem, mits hulle aan streng kwalifikasies voldoen. Dit het meeste swart mense gediskwalifiseer.
- In die Kaap kon alle mans bo 21 jaar stem, onderworpe aan kwalifikasies wat vir almal dieselfde was.
- Artikel 35 van die Grondwet het die stemreg vir nieblankes verskans. Dit beteken ’n tweederdemeerderheid van die parlement moes saamstem om daardie stemreg uit die Grondwet te verwyder.
- Geen nieblanke kon ’n lid van die parlement word nie. 3
- Wit vroue het nie stemreg gehad nie. 1
Die besluit oor taal was: “Beide die Engelse en Hollandse taal sal amptelike tale van die Unie wees en sal op ’n grondslag van gelykheid behandel word en gelyke vryheid, regte en voorregte geniet.” 1
Ander rasse en Uniewording
Geen swart Suid-Afrikaners se opinies of insette oor unifikasie is ingewin nie. Teen 1908 het ’n paar swart politieke organisasies besluit om hul eie konvensie te hou, naamlik die Suid-Afrikaanse Naturelle Konvensie. Toe die Konsepgrondwet in 1909 aangekondig is, was hulle baie ontevrede, en het dit verwerp. Hulle het briewe na die Nasionale Konvensie gestuur waarin hulle hul standpunte gestel het, maar dit is geïgnoreer. 3
Die reaksie kan opgesom word uit ’n koerant vir swart mense, wat gewaarsku het “teen ’n toekoms gevul met bittere haat en selfs geweld”. 1
Die Naturelle Konvensie het ’n afvaardiging na Londen gestuur om vir swart regte in die Grondwet te baklei. Indiër-afgevaardigdes het ook gegaan om die saak van Suid-Afrikaanse Indiërs te stel. Albei pogings was onsuksesvol. 1
Die Suid-Afrikaanse Naturelle Konvensie het een belangrike gevolg gehad: Dit was die voorloper van die South African Native National Congres, wat in 1912 gestig is. Hierdie party het later sy naam na die African National Congres (ANC) verander. 3
Kwessie van ’n eerste minister
Die eerste goewerneur-generaal van die Unie was lord Herbert Gladstone. Dit was sy taak om ’n eerste minister aan te stel. Sy twee keuses was Louis Botha en John Merriman. Hy het vir Botha gekies omdat die Britte versoening tussen Boer en Brit wou hê, maar ook omdat hulle gedink het Botha het die meeste steun onder wit mense geniet. Botha het die aanstelling aanvaar. 3
Uniewording
Botha is op 24 Mei in die ou Raadsaal in Pretoria as eerste minister beëdig. 5 Suid-Afrika is amptelik as Unie ingelui op 31 Mei 1910. 1
Politieke verwikkelinge ná Uniewording
Met Uniewording op 31 Mei het Suid-Afrika nog nie ’n parlement gehad nie. Die verkiesing daarvoor is eers op 15 September 1910 gehou. Ná die verkiesing was die regerende party ’n samevoeging van Afrikaner- politieke partye, soos Het Volk van Transvaal, die Suid-Afrikaanse Party van die Kaap, die Orangia Unie van die Vrystaat, en die Volksvereniging van Natal. Hierdie groepe sou in April 1911 saamsmelt en die Suid-Afrikaanse Party (SAP) word. 5
Die SAP het tot in 1924 in Suid-Afrika geregeer. 1
Botha wou graag versoening tussen Boer en Brit bevorder. Sy beleid is die Eenstroombeleid genoem. Dit was een van versoening tussen Boer en Brit, met ander woorde “vergewe en vergeet”. Sy kabinet het bestaan uit lede van die regerende partye van al vier provinsies. Daar was ewe veel Engelse as Afrikaanse lede. Daar was drie Transvalers, vier Kaaplanders, twee Vrystaters en twee Natallers. 5 Die kabinet het twee lede bevat wat Boeregeneraals in die Anglo-Boereoorlog was, en later eerste ministers van Suid-Afrika sou word, te wete Jan Smuts en J.B.M. Hertzog. 3
Die leeftyd van die Unie
Suid-Afrika het ’n Unie gebly tot op 31 Mei 1961, toe Suid-Afrika ’n Republiek geword het. Daarmee het Suid-Afrika totaal onafhanklik geword van Brittanje. Suid-Afrika was dus vir presies 51 jaar ’n Unie.
Woordbank
aangehang | Volg, steun; ten gunste van iets wees. |
afgevaardigdes | Iemand wat deur ’n groep gestuur is om hulle êrens te verteenwoordig. |
beraadslaag | Sake/kwessies ernstig oorweeg; gedagtes wissel, bespreek; ander mense raadpleeg; oor sake praat. |
demokrasie | Regeringsvorm waarby die hoogste gesag by die volk berus, volksregering. |
doeane | Belasting op in- en uitvoergoedere. |
etnisiteit | Die behoort tot ‘n spesifieke rasse- of taalgroep. |
federasie | Bond van samewerkende verenigings. |
formuleer | Kort en duidelik uitdruk, bewoord; uiteensit, opstel. |
grondwet | Die reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en oor watter regte burgers beskik. |
insette | Bydrae; voorstel oor wat gedoen moet word om ‘n onderneming, saak, nuwe rigting te laat vlot, ontwikkel, verbeter, ens. |
kabinet | Die regering, ministers. |
konsep | ’n Voorlopige formulering van iets. |
konvensie | Formele vergadering van afgevaardigdes wat met ʼn spesifieke doel byeenkom. |
kwessies | Saak, vraagstuk, probleem; aangeleentheid. |
liggaam | Organisasie; vereniging van persone; groep mense wat ’n instelling/saak, bestuur/beheer. |
monarg | Alleenheerser; koning/keiser. |
monargale | Alleenheersende. |
nasionalisme | Die begeerte onder ‘n groep mense om hulle eie belange te bevorder. |
Naturelle | Verouderde benaming vir ‘n lid van enigeen van die inboorlingstamme van Afrika; swart mens. |
opinies | Mening, sienswyse, standpunt. |
populêr | Gewild, gelief, bemind; iets waarvan mense hou. |
premier | Hoof van die regering van ‘n Suid-Afrikaanse provinsie; eerste minister. |
republikeinse | ’n Staat waar die hoof (‘n president) deur die stemgeregtigde publiek of hul verteenwoordigers gekies word; staat wat gekenmerk word deur die gelykheid van al sy lede. |
setels | Kiesafdeling, kiesdistrik, verteenwoordiging. |
stand | Maatskaplike status, rang, klas. |
unifikasie | Samevoeging in ‘n unie. |
verskans | Verskuil, wegsteek. |
versoening | Om ‘n vyandskap tot ‘n einde te bring. |
Lees dié artikels om meer te leer
Kyk dié video om meer te wete te kom
Die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika