Vinnige feite

  • Legendes wat in sy tyd vertel is, het gesê Alexander se pa was Zeus, die heerser van die gode. 2
  • Toe hy 12 was, het hy die wilde perd Bucephalus, ’n reuse ontembare hings, mak gemaak. Hy het baie van sy veldslae op dié perd gewen. 2
  • In Egipte het hy die orakel (’n priester wat namens ’n god optree en uitsprake oor mense se lewe maak) van Ammon besoek. Daar word baie stories vertel oor wat die orakel vir hom gesê het, soos dat hy bestem was om die wêreld te regeer. Die mees waarskynlike storie is dat hy nooit vir iemand vertel het wat die orakel vir hom gesê het nie. 2
  • Alexander het nie ’n wettige erfgenaam gehad nie, want sy seun, Alexander V, is ná sy dood gebore. 6
  • Baie van die inligting wat ons oor Alexander het, is oorvertellings en mites en nie baie betroubaar nie. 6
Foto: iStock

Voor die internet was die bekendste persoon in die geskiedenis waarskynlik die keiser en generaal Alexander die Grote. 1 Sy leuse was: “Daar is niks onmoontlik vir hom wat probeer nie”. 2 Hy het ’n ryk opgebou wat gestrek het van vandag se Griekeland, deur Persië (vandag Iran), Egipte, die Midde-Ooste, Pakistan en Indië. Boonop het hy nooit ’n veldslag verloor nie. En dit alles voor sy dood op 33-jarige ouderdom! 3

Die Ryk van Alexander die Grote

Sy jeug in Masedonië

Alexander is in 356 v.C. in Pella, Masedonië, in die noordelike dele van vandag se Griekeland, gebore. Hy was die seun van koning Filippus II en koningin Olimpias. 2

Alexander het ’n uitstekende opvoeding ontvang. Dit het musiek – hy kon die lier speel – en letterkunde (geskrewe werke soos boeke) ingesluit, 3 maar ook perdry, vegkuns en oorlewing (ontberings deurgemaak soos om heeltemal sonder kos of skuiling te wees). 4

Simbool van koning Filippus II van Masedonië

Toe Alexander ’n tiener was, het sy pa vir Aristoteles, ’n bekende filosoof (iemand wat die aard en betekenis van die lewe, en goed en sleg, bestudeer) as sy tutor (leermeester) aangestel. Aristoteles het hom in debatvoering, politiek, en filosofie opgelei. 5 Hy het ook ’n ’n liefde vir wetenskap ontwikkel, veral plantkunde en biologie. Toe hy die keiser was, het hy plantkundiges op sy veldtogte (tog deur ’n leër) saamgeneem om navorsing te doen in die lande wat hy oorwin het. 3

Een  van die belangrikste goed wat Alexander by Aristoteles geleer het, was om nie sy eie idees op ander mense af te dwing nie, maar om eerder by hulle te probeer leer. 4

Alexander se ouers het ’n groot invloed op sy lewe gehad. Sy ma, Olimpias, het sy ambisie (sterk begeerte om te presteer en jou ideale te bereik) aangemoedig deur hom te vertel dat hy bestem was om Persië te oorwin. 1

Filippus II was ’n indrukwekkende koning wat Masedonië opgebou het van ’n klein landjie tot die magtigste staat in Griekeland. Teen die tyd dat Alexander oorgeneem het, was Masedonië se weermag alreeds indrukwekkend: groot, goed opgelei en gedissiplineerd. 6

Filippus II

Alexander word koning

In 336 v.C. is koning Filippus deur ’n politieke vyand vermoor en Masedonië moes ’n nuwe koning kry. Alexander het op 20-jarige ouderdom die troon bestyg. 3

Alexander het vinnig opgetree om sy koningskap te verseker. Hy het sy vyande in Masedonië vernietig en opstande in ander dele van Griekeland onderdruk. 2

Ná hy groot dele van Griekeland onder sy beheer gebring het, was hy gereed om in sy pa se voetspore te volg. 6

Inval in Asië en Afrika

Die Persiese Ryk (gebied waaroor ’n keiser regeer) onder koning Darius III was die magtigste ryk in Alexander se wêreld, en hy het ook oor dele van Griekeland geregeer. Alexander wou die Grieke van Persiese oorheersing bevry. 1

Sy inval in Persië het in 334 v.C. afgeskop. 6 Alexander se troepe het gou groot dele van Persië oorgeneem. Die belangrikste veldslag (geveg tussen twee groepe soldate) van hierdie veldtog was die Slag van Issus. Hier het Alexander se magte teen Darius se magte te staan gekom. 2

Die Persiese mag was baie groter as Alexander se mag. Toe dit egter duidelik word dat die Grieke wel sou wen, het Darius besluit om te vlug. Hy het so haastig gevlug dat hy sy ma, vrou en kinders op die slagveld agtergelaat het. Alexander het hulle gevange geneem, maar soos koninklikes behandel. Ná die slag het Darius vir Alexander ’n losprys (som geld wat betaal word om iemand vry te maak) vir sy familie aangebied. Alexander se reaksie was: “In die toekoms sal jy my aanspreek as die koning van Asië, en nie as jou gelyke nie. Jy kan my, as die meester van alles wat aan jou behoort, laat weet wat jy nodig het.” 1

Alexander die Grote vertel die gevange familie van Darius III, wat Alexander verslaan het, dat koning Darius nog lewe, 331 v.C. (Darius III het ontsnap, maar sy familie het nie. Alexander het hulle vergifnis gegee).

Die slag van Issus het die Persiese mag verswak, maar hulle was nog nie oorwin nie. Alexander het dus sy troepe suid langs die Middellandse See laat af beweeg, met die doel om Persië van hul vlootbasisse (seemag) af te sny. 1

Toe die Grieke Fenisië (vandag Libanon) bereik, het hulle die seehawe van die eiland Tirus beleër en daarmee nog ’n beroemde oorwinning behaal. Tirus was ’n goed verdedigde eiland. Alexander se troepe het eers probeer om by die eiland te kom deur ’n pad in die see te bou en die stad te beleër (met ’n leër omring met die doel om tot oorgawe te dwing). Toe dit nie werk nie, het hy ’n groot vloot bymekaar gemaak en só die stad oorwin. As straf omdat hulle hom teëgestaan het, is duisende mense tereggestel (doodgemaak) of as slawe verkoop. 2

Daarna het Alexander in Afrika inbeweeg. Sy troepe het Gaza suksesvol beleër en dit het die pad na die res van Egipte oopgemaak. Ná hy die oorhand oor Egipte gekry het, het hy homself as farao (titel van die konings van Ou Egipte) gekroon. 1

Die Perse word finaal verslaan

Teen hierdie tyd het Alexander alreeds groot dele van Klein-Asië (die westelike dele van vandag se Turkye), Sirië, Egipte, Mesopotamië (vandag Irak) en dele van Persië oorgeneem. 6 Die Perse was egter nog nie oorwin nie en hy het teruggekeer Asië toe om die Persiese Ryk te verslaan. 1

Die Grieke het hul finale oorwinning by die Slag van Guagamela (ook genoem die Slag van Arbela), in vandag se noordelike Irak, in Oktober 331 v.C. behaal. 4 Alexander het ongeveer 50 000 troepe gehad teenoor die 100 000 Persiese troepe van Darius. Dit was ’n kwaai geveg en beide kante het swaar verliese gely. 1

Koning Darius het gevlug, maar is deur sy eie troepe, waarskynlik onder leiding van ’n ander Persiese leier, Bessus, vermoor. Daar is geskryf dat Alexander hartseer was toe hy op Darius se lyk afgekom het. 2 Hy het vir Darius ’n koninklike begrafnis gegee. 1

Bessus het later die koning geword van wat oorgebly het van die Persiese magte. Hy is uiteindelik deur Alexander se vriend en generaal, Ptolemeus, vermoor. Daarna was Alexander alleen in beheer van Persië. 2

Koning van Persië

In ’n poging om sy posisie te versterk het Alexander probeer om die Grieke en die Perse te verenig. Hy het huwelike tussen Perse en Grieke gereël, en self van die Perse se tradisies aangeneem. In sy weermag het hy eenheid aangemoedig deur Persiese soldate in die Griekse geledere in te trek. 6

Dit het tot heelwat ongelukkigheid onder sy generaals gelei en sommige het planne gemaak om hom te vermoor. Alexander het besef hy moes sy gesag laat geld. Hy het sy adjunk (die amptenaar direk onder hom), Parmenio, laat vermoor omdat Parmenio deel was van ’n sluipmoordaanslag (’n verraderlike moord wat in die geheim beplan word) op Alexander se lewe. [Lees hier oor wêreldbekende sluipmoordaanvalle.] Alexander het vir Cletius, nog ’n generaal en goeie vriend van hom, self vermoor ná ’n rusie waartydens Cletius hom geminag het (nie gerespekteer het nie). Albei was dronk en Alexander het agterna baie sleg daaroor gevoel. 1

Uch Sharif in Bahawalpur-distrik, Suid-Punjab, Pakistan. Uch is ‘n belangrike historiese stad wat deur Alexander die Grote gestig is.

Inval in die Indiese subkontinent

Van Persië af het Alexander sy troepe na die Indiese subkontinent (landmassa wat deel is van ’n vasteland, maar groot genoeg is om as apart gesien te word) gelei. Hulle het die plek Indië genoem, alhoewel dit eintlik vandag as Pakistan bekend staan. 1 Die veldtog daar was bloedig.

Die bekendste slag was teen die troepe van koning Porus van die Paurava-stam. Die hele veldslag het in gietende reën en ’n donderstorm plaasgevind. Porus se troepe het olifante gebruik – die eerste keer wat Alexander se troepe teen olifante te staan gekom het – maar die Grieke het uiteindelik geseëvier (die oorwinning behaal). 2

Alexander die Grote het koning Porus van Indië (gebied in die huidige Pakistan) in die Slag van die Hydaspes in 326 v.C. verslaan.

Hy en sy troepe het hierna langs die Indusrivier af beweeg, maar is ernstig gewond in ’n veldslag teen ’n plaaslike groep, die Malliane. 2

Kort hierna het Alexander se troepe geweier om voort te gaan. Hulle was pootuit en die swaar reën het hulle ontmoedig. 3 Boonop het hulle groot verliese gelei en soveel as driekwart van hulle het omgekom (gesterf). Toe sy troepe begin dreig om te muit (in opstand te kom) het Alexander uiteindelik besluit om om te draai. 5

Alexander die Grote in ‘n wa wat deur twee olifante getrek word terwyl hy sy triomfantlike intog in Babilon, die hoofstad van Persië, maak.

Alexander se dood

In 324 v.C. is Alexander se beste vriend, lyfwag en generaal Haphaestion onverwags dood aan koors. Dit  was ’n swaar slag vir Alexander. Sy persoonlikheid het verander en hy het erg begin drink. 1

In 323 v.C. was hy in die stad Babilon – naby waar Bagdad in Irak vandag is – besig om planne te maak om Arabië oor te neem. Hy het skielik koors gekry en is kort daarna oorlede. 1

Niemand weet wat die oorsaak van die koors was wat hom doodgemaak het nie. Dit kon moontlik ’n siekte soos malaria gewees het, of ’n ander natuurlike oorsaak. [Lees hier oor malaria.] Sommige historici reken hy is vergiftig, maar daar is geen bewyse daarvoor nie. 5

Alexander het nooit ’n opvolger aangewys nie, en sy ryk het ná sy dood versplinter. Die magtige ryk wat hy geskep het, is gou vernietig. 2

Die impak van Alexander se ryk

Dit was van die uiterste belang dat Alexander se weermag deurentyd voorsien is van genoeg kos en voorrade deur sy toevoerlinies (die lyne wat die voorrade aan die weermag lewer). Dít is wat hulle in staat gestel het om sulke groot gebiede oor te neem en beheer. Solank die mense in die gebiede wat hy oorgeneem het sy toevoerlinies alleen gelaat het, het Alexander hulle in vrede gelaat. Wanneer die mense in opstand gekom het, het hy egter nie gehuiwer om hulle uit te wis nie. 6

Termessos, ‘n antieke stad, se amfiteater. Termessos is een van Antalya, Turkye se mees uitstaande argeologiese terreine. Ten spyte van die lang beleg kon Alexander die Grote nie die antieke stad inneem nie.

Alexander het ook nie sy eie idees oor geloof, gewoontes en tradisies (gebruike wat van geslag tot geslag oorgedra word) op ander mense afgedwing nie. Hy wou eerder by ander kulture leer. 1

Alexander het in die gebiede wat hy verower het, stede gebou wat moes help om die mense te beheer. Hy het hierdie stede na homself vernoem. Die bekendste hiervan is Alexandrië in die noorde van Egipte wat in 331 v.C. gestig is. Dit is vandag die tweede grootste stad in Egipte. 2

Al het hy dit nie so beplan nie, het sy ryk ’n massiewe impak gehad op die lande wat hy verower het. 3 Die Griekse kultuur het wyd versprei en die stede wat die Grieke gebou het, was vir lank groot kulturele sentrums. 2

Al het sy ryk onmiddellik ná sy dood uitmekaargespat, het die Griekse invloed vir nog drie eeue voortgeleef. 1 Die invloed wat hy op Griekse en Wes-Asiatiese kultuur gehad het, was so diepgaande dat dit tot ’n nuwe era gelei het, naamlik die Hellenistiese tydperk. Hellenisties beteken “om Grieks te praat of met die Grieke te identifiseer”. Die Hellenistiese tydperk het gestrek van sy dood tot en met die opkoms van die Romeinse Ryk in ongeveer 31 v.C. 2

Munte van Griekeland -Alexander die Grote uitgebeeld in die ou Griekse 100 drachma-munt.

Alexander se nalatenskap

Alexander is sonder twyfel een van die beroemdste generaals in die geskiedenis en een van die beste militêre denkers ooit. Sy ryk was waarskynlik die grootste ryk wat die antieke wêreld al ooit gesien het, 2 en het gestrek van Griekeland in die weste tot by Pakistan en Noordwes-Indië. 1

Hy word die “Grote” genoem om twee redes: sy uitstaande militêre vaardigheid, en sy diplomatiese vermoë om die gebiede en mense wat hy oorgeneem het, effektief te beheer. 4

Hy was charismaties, briljant en honger vir mag, maar ook bedagsaam en oordeelkundig, en wanneer dit nodig was genadeloos. Hy het blindelingse lojaliteit in sy soldate geïnspireer, en hulle sou hom na enige plek volg, selfs al kos dit hul eie dood. 2

Persoonlike lewe

Alexander het in 327 v.C. ’n Persiese meisie, Roxane, ontmoet en per oorvertelling onmiddellik op haar verlief geraak en met haar getrou. 1 Sy het hom daarna vergesel op sy reise. Omdat sy nie Grieks was nie, het hy baie kritiek daaroor gekry. 2

Daar is baie bespiegeling (spekulasie) oor sy persoonlike lewe. Hy was waarskynlik biseksueel (aangetrokke tot beide geslagte) en het ’n baie hegte verhouding met sy vriend Haphaestion, gehad. Dit is ook moontlik dat hy tydens ’n massatroue in 324 v.C. met nog twee vroue getrou het. 2

Woordbank

adjunk Amptenaar direk onder ’n ander (meestal die hoogste) amptenaar.
ambisie ’n Sterk begeerte om te presteer, om eer/geld/ens. te kry, of om jou ideale te bereik.
bedagsaam Tegemoetkomend, hoflik, beleef.
beleër Met ’n leër insluit met die doel om tot oorgawe te dwing.
bespiegeling Verskillende moontlikhede oorweeg, maar sonder genoeg gegewens om jou slotsom wetenskaplik te steun; gis; spekuleer.
bestem Vooraf bepaal.
biologie Leer van lewende organismes.
biseksueel Seksueel aangetrokke tot albei geslagte.
blindelingse lojaliteit As jy sonder om twee keer te dink, getrou is aan jou land, regeerder en plig.
charismaties Iemand wat baie aantreklik/gewild is; sjarmant.
debatvoering ’n Openbare bespreking van verskillende standpunte oor ’n onderwerp.
farao Titel van die konings van Ou Egipte.
filosoof Iemand wat die aard en betekenis van die lewe, waarheid, goed en sleg, ens. bestudeer en bepaalde idees en teorieë daaroor ontwikkel.
fortifikasie Versterking met forte/vestings.
geledere Bataljon, troep, afdeling, korps; groep.
legendes Verhaal wat op volksoorlewering berus.
letterkunde Geskrewe (kuns)werke (boeke, toneelstukke, gedigte, ens.) wat mense dink belangrik en goed is.
lier Griekse snaarinstrument met ’n harpfatsoen.
losprys Die som geld wat betaal word om iemand vry te maak.
malaria Koors veroorsaak deur die byt van ’n Anopheles-muskiet; moeraskoors.
mites Tradisionele, voorhistoriese verhaal of vertelling oor bonatuurlike mense of gedaantes; wolhaarstorie; versinsel; ’n Mite is ’n storie wat so baie oorvertel word dat mense begin dink dit is die waarheid.
muit Wanneer soldate in opstand kom teen hul offisiere.
omgekom Doodgaan, sterf.
ontberings ’n Toestand van heeltemal sonder iets soos kos of skuiling te wees. 7
oordeelkundig Baie verstandig.
orakel Iemand, dikwels ’n priester of priesteres, wat as medium vir ’n godheid of hoër mag optree en wat uitsprake maak wat deur die godheid of hoër mag ingegee is, of deur wie die godheid of hoër mag geraadpleeg kan word. 8
ryk ’n Gebied waaroor ’n vors (koning/koningin/keiser) regeer.
geseëvier ’n Oorwinning behaal.
sluipmoordaanslag (Skielike/verraderlike) moord op ’n (dikwels belangrike) persoon, in die geheim beplan en dikwels in die openbaar uitgevoer. 7
subkontinent Landmassa wat deel vorm van ’n vasteland, maar wat groot genoeg is om, geografies of polities, as ’n aparte entiteit/eenheid gesien te word. 8
tereggestel Met die dood te straf.
toevoerlinies Die handeling van iets iewers te lewer in lyne.
tradisies Sekere gebruike, opvattings en gevoelens wat van geslag tot geslag oorgedra en in stand gehou word.
tutor Privaat/private onderwyser, leermeester.
veldslag Geveg tussen twee groepe soldate.
veldtogte Tog deur ’n leër onderneem.
versplinter Om iets in stukke te laat breek.
vloot Die seemag van ‘n land. 7

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Alexander die Grote

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Alexander die Grote

 

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 25 Mei 2023 | Bygewerk op 4 Desember 2023