Vinnige feite

  • Kennedy is een van vier Amerikaanse presidente wat in sluipmoordaanvalle dood is. Die ander is Abraham Lincoln (sterf 1865), James A. Garfield (sterf 1881) en William McKinley (sterf 1901). 6
  • Kennedy was die VSA se eerste RoomsKatolieke president. 1
  • Kennedy se suster, Eunice Kennedy Shriver, is ‘n stigterslid van die Paralimpiese Spele. 3
  • Kennedy is die enigste Amerikaanse president wat al die Pulitzer-prys gewen het. 3
  • Sy jonger broer, Robert Kennedy, is in 1968 ook in ’n sluipmoordaanval dood. 5
  • Jackie Kennedy en andere het sy presidensie vergelyk met Camelot, die kasteel van die legendariese koning Arthur. Sy het gesê: “Daar sal weer groot presidente wees … maar daar sal nooit weer ’n Camelot wees nie.” 3

John F. Kennedy is een van daardie mense wat amper meer bekend is vir sy dood as vir sy lewe. Hy was met sy verkiesing die jongste verkose Amerikaanse president tot nog toe, en twee jaar later was hy die jongste president om te sterf – die vierde dienende Amerikaanse president wat in ‘n sluipmoordaanval om die lewe gebring is.

Grootwordjare

John Fitzgerald Kennedy is op 29 Mei 1917 in Brookline, Massachusetts, in die Verenigde State van Amerika (VSA) gebore. 1

Sy pa, Joe Kennedy sr., was ’n suksesvolle sakeman en staatsamptenaar, wat onder meer die Amerikaanse ambassadeur in Brittanje was. 2 Sy ma, Rose Kennedy, het soos sy pa uit ’n ryk, prominente familie in Boston gekom. 3

Rose Kennedy, John F. Kennedy se ma, was ‘n boorling van ‘n ryk Bostonse familie.

John, of Jack soos hy genoem is, was die tweede oudste seun van nege kinders: vier seuns en vyf dogters.

As kind was hy gereeld siek. Hy het op 2-jarige ouderdom skarlakenkoors, ’n lewensgevaarlike siekte, opgedoen, en by die dood omgedraai. Hy het ook later aan kinkhoes gely, en masels en waterpokkies opgedoen. 4

Die Kennedy’s het hul somervakansies by hul vakansiehuis in Cape Cod aan die kus spandeer. Daar het hulle geswem, geseil en Amerikaanse voetbal gespeel. Hul pa het kompetisie onder die kinders aangemoedig, 4 en van jongs af by sy kinders die belangrikheid van wen ingeprent. Jack het in daardie filosofie ingekoop en dit gehaat om te verloor. 3

Buiten Jack het van die ander Kennedy-kinders ook later belangrike politieke posisies beklee. Hulle was geheg aan mekaar en het mekaar lewenslank ondersteun. 3

Akademiese loopbaan

Kennedy het sy hoërskoolloopbaan in 1931 aan Choate Rosemary Hall, ’n gesogte voorbereidende kosskool in Wallingford, Connecticut, begin. Daar het hy meeste van sy tyd aan sport spandeer. Hy het tennis, basketbal, Amerikaanse voetbal en gholf gespeel. 4

Choate Rosemary Hall, ’n gesogte voorbereidende kosskool in Wallingford, Connecticut.

Kennedy was slim, maar nie besonder hardwerkend nie. Buiten in Engels en geskiedenis, sy twee gunstelingvakke, het hy nie goed op skool presteer nie. 3 Hy was wel lief vir lees, en het vir sy eie intekening tot die koerant The New York Times, betaal. Dit was ’n ongewone ding vir ’n hoërskoolleerder om te doen. 4

Universiteitsjare

Ná skool het Kennedy vir ’n semester aan die Universiteit van Princeton studeer, voor hy in 1936 na die Harvard-Universiteit in Cambridge oorgeplaas het. 3 Hy het politieke wetenskap studeer. 5

Kennedy het politieke wetenskap aan die Harvard-Universiteit studeer.

Soos op skool, was hy nie aanvanklik ’n uitstaande student nie. Hy het sy tyd aan te veel ander goed, soos meisies en sport, spandeer. Hy het Amerikaanse voetbal gespeel, maar sy rug seergemaak, ’n besering wat hom vir die res van sy lewe sou pla. 4

Kennedy was uiters gewild onder sy medestudente. 3 Hy was aantreklik en intelligent, maar ook aangenaam en gemoedelik. 4

In 1937 het die res van die Kennedy-familie Engeland toe getrek omdat sy pa as ambassadeur aangestel is. Dit was kort voor die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945). Kennedy het gou ’n diep belangstelling in wêreldsake en internasionale politiek ontwikkel. 4

Dit het hom ’n akademiese hupstoot gegee. Hy het ’n artikel geskryf, wat later ’n boek geword het, getiteld Why England Slept. Dit het gehandel oor Brittanje se beleid teenoor Duitsland in die 1930’s. 3

Kennedy het in 1950 sy graad in politiek en internasionale sake met lof ontvang. 5

Diens in die vloot

Kennedy het kort hierna by die Amerikaanse vloot aangesluit. 2 Hy is aangewys as aanvoerder van die PT-109, ’n torpedoboot in die suidelike Stille Oseaan, noordoos van Australië. Die boot het ’n bemanning van 12 gehad. 4

In Augustus 1943 is Kennedy se boot deur ’n Japannese oorlogskip getref. Die torpedoboot het in twee geskeur en Kennedy het in die slag sy rug beseer. Twee van die bemanningslede het gesterf. Hy het ’n medematroos se lewe gered, en sy bemanning in uiters gevaarlike waters na ’n eiland wat redelik naby was, gelei. Hulle is ses dae later daar gered.

Kennedy het twee medaljes ontvang: die Marine Corps se medalje vir “uiters heldhaftige gedrag”, asook die Purple Heart, ’n medalje wat aan Amerikaanse soldate gegee geword wat tydens ’n geveg gewond word.

Kennedy se ouer broer, Joe jr., het egter nie die oorlog oorleef nie. Sy vliegtuig is in Augustus 1944 opgeblaas. Joe jr. se droom was om die president van die VSA te word. Ná sy dood het hierdie droom Jack sʼn geword. 3

Politieke loopbaan

Ná die oorlog in 1945 geëindig het, moes Kennedy ’n beroep kies. 3 Hy het oorspronklik beplan om ’n skrywer of onderwyser te word. Sy broer se dood het dinge egter verander. Ná ’n ernstige gesprek met sy pa het hy op ’n politieke loopbaan besluit. 4

In 1946, op 29-jarige ouderdom, het hy as lid van die Demokratiese Party die setel vir Boston vir die Huis van Verteenwoordigers gewen. Hy het vir drie termyne daar gedien. Die werk was egter vir hom vervelig. 3

In 1953 het hy maklik die verkiesing as senator vir Massachusetts gewen. Dit was deels omdat sy broer, Robert, sy verkiesingsveldtog bestuur het en briljant was daarmee. Kennedy was hier ook baie gewild. Iemand het hom beskryf as “waardig, fatsoenlik, goed opgevoed, en intelligent, maar nie neerbuigend nie.” 3

Kennedy ontvang ‘n geskenk van sy broerskind, Robert jr., in die Withuis.

Pulitzer-prys

In 1955, terwyl hy van ’n rugoperasie herstel het, het hy ’n geskiedenisboek getiteld Profiles in Courage geskryf. Dit het in 1957 die Pulitzer-prys vir geskiedenis gewen. 1

Die verkiesing van 1960

In 1960 is Kennedy as die Demokratiese Party se kandidaat vir die presidentskap aangewys. 1 Sy visepresidentskandidaat was Lyndon Baines Johnson, wat hom ná sy dood sou opvolg. 4 Sy opponent uit die Republikeinse Party was Richard Nixon, ook ’n latere president. Kennedy het ’n naelskraapse oorwinning behaal: 120 000 uit 70 miljoen stemme. 2

Een van die redes waarom Kennedy gewen het, was omdat die debatte tussen die twee kandidate vir die eerste keer in die VSA se geskiedenis op televisie uitgesaai is. Kennedy het baie beter oorgekom as Nixon: hy was gemaklik en gesond, teenoor Nixon wat bleek en gespanne was. 3

Robert Kennedy, John F. Kennedy se broer, wat ook in ‘n sluipmoordaanval dood is.

Dit was ’n historiese oorwinning. Op 43-jarige ouderdom was hy die jongste verkose president en die tweede jongste president ooit ná Theodore Roosevelt, wat president geword het op 42. (Roosevelt is nie verkies nie – hy was William McKinley se visepresident, en het president geword ná McKinley in 1901 in ’n sluipmoordaanslag gesterf het). Kennedy was ook die eerste president wat in die 20ste eeu gebore is. 3

Presidensie

Kennedy se verkiesingsbelofte was: “Get America Moving Again.” In sy inhuldigingstoespraak het hy die beroemde woorde geuiter: “Ask not what your country can do for you – ask what you can do for your country.” 1

Kennedy het gestreef na vooruitgang en die verspreiding van demokrasie en vryheid. 4

Binnelandse beleid

Kennedy se binnelandse beleid kon nie eintlik iets uitrig nie. Die Amerikaanse Kongres is deur die Republikeinse Party beheer en hulle het sy planne gekeer. 5 Hy het wel die minimumloon verhoog en belasting verlaag. 3

Die grootste kwessie in die VSA in die vroeë 1960’s was voortgesette diskriminasie teen swart Amerikaners. 4 Kennedy het wel gelyke regte vir swart Amerikaners voorgestaan, maar nie met groot ywer nie. Baie lede van sy eie party, veral uit die suidelike state, was teen die gelykstelling van wit en swart mense gekant. 3

In September 1962 het Kennedy wel vir James Meredith, die eerste swart student om by die gesegregeerde Staatsuniversiteit van Mississippi (vir Landbou en Toegepaste Wetenskap) in te skryf, ondersteun. Hy het die weermag ingestuur om hom te beskerm. 3

Teen die einde van 1963 het Kennedy ’n wet wat gelyke regte vir swart Amerikaners sou verseker na die Kongres gestuur om aanvaar te word. Dit was een van die laaste dinge wat hy as president gedoen het. Hierdie wet is deurgevoer en het die beroemde Civil Rights Act van 1964 geword. 3

Pres. John F. Kennedy saam met premier Harold Macmillan van Brittanje in Bermuda.

Buitelandse beleid

Kennedy was meer bekend vir sy buitelandse beleid. Die VSA was sedert die laat 1940’s in ’n Koue Oorlog met die Sowjetunie (vandag Rusland) gewikkel. Hierdie stryd het Kennedy se buitelandse beleid oorheers.

Die volgende was projekte en gebeurtenisse wat met sy buitelandse beleid te doen gehad het:

  • Hy het die Peace Corps (Vredesmag) gestig. Dit is ’n program wat Amerikaanse vrywilligers na ander lande stuur. 3 Hierdie vrywilligers help byvoorbeeld met die ontwikkeling van opvoeding, boerdery, gesondheidsdienste en infrastruktuur. 4
  • Die Alliansie vir Vooruitgang (in Engels: Alliance for Progress) is gestig met die doel om sterker ekonomiese bande met lande in Sentraal- en Suid-Amerika te vestig. Kennedy se hoop was dat dít sou help om armoede verlig, maar ook om die verspreiding van kommunisme te keer. 3
  • Kennedy het die sogenaamde Varkebaai-inval in Kuba van April 1961 goedgekeur. 1 Dit was ’n poging om die Kubaanse leier Fidel Castro uit die kussings te lig. Die inval was ’n mislukking en vir Kennedy ’n groot verleentheid. 3
  • Spanning in Wes-Berlyn het Kennedy gedwing om die Amerikaanse magte in Wes-Berlyn te versterk. 1 Die Berlynse muur is in November 1961 opgerig. 3
  • Kennedy het die Apollo-program, ’n projek om Amerikaners na die maan te stuur, van stapel gestuur. 4
  • Ná die mislukte Varkebaai-inval het spanning tussen die Sowjetunie en die VSA opgebou. Dit het uiteindelik gelei tot die Kubaanse Krisis van Oktober 1962. Toe Kennedy uitvind dat die Sowjetunie atoombomme na Kuba gestuur het, het hy besluit om ’n seeblokkade rondom Kuba te vestig sodat Sowjetskepe dit nie kon bereik nie. Die blokkade het gelei tot die mees gespanne oomblik van die Koue Oorlog. Kennedy en Nikita Chroesjtsjof, die leier van die Sowjetunie, het egter dié krisis sonder bloedvergieting ontlont. 3
  • In Junie 1953 het die VSA, Brittanje en die Sowjetunie die Test Ban Treaty, ’n verdrag wat onder meer kernproewe in die atmosfeer verbied het, onderteken. Dit het die kernresies beperk en die spanning van die Koue Oorlog verminder. Dit was een van Kennedy se grootste prestasies. 3
  • Kennedy het stadigaan die VSA se militêre betrokkenheid in Viëtnam vermeerder. Dit sou later in die 1960’s tot die Amerikaanse oorlog in Viëtnam lei. 2

Persoonlike lewe

Kennedy het op 12 September 1953 met Jacqueline (Jackie) Lee Bouvier getrou. 2 Sy was ’n verslaggewer/fotograaf vir die Washington Times-Herald en was bekend as die “Inquiring Camera Girl”. 4

Kennedy is op 12 September 1953 met Jacqueline (Jackie) Lee Bouvier getroud.

Hulle het twee kinders gehad: Caroline, wat in November 1957 gebore is, en John jr. (John-John), gebore in November 1960. 3

Hulle het ook ’n doodgebore baba gehad in 1956 en ’n seuntjie, Patrick, wat in 1963 gebore is en twee dae ná sy geboorte gesterf het. 5

Die Withuis

Kennedy en sy vrou het geglo die Withuis moet ’n plek wees waar die VSA se kultuur en prestasies gedenk kon word. Hulle het skrywers, kunstenaars, wetenskaplikes, digters, musikante en atlete uitgenooi om die Withuis te besoek. Jackie het kunswerke en meubels versamel en die kamers in die Withuis versier om die Amerikaanse geskiedenis en kulturele kreatiwiteit te vier. 4

‘n Aandete ter ere van pres. John F. Kennedy en Jacqueline Kennedy by die ambassade van Iran.

Sluipmoord

Kennedy en sy vrou het op 21 November 1963 deur die strate van Dallas, Texas, gery. Lee Harvey Oswald het op hom geskiet en hom noodlottig getref. Kennedy het kort daarna gesterf. Hy was 46 jaar oud.

Hierdie gebeurtenis was vir die Amerikaners ’n groot tragedie. Baie kan tot vandag toe presies onthou waar hulle was toe dit gebeur het. 3

Honderde duisende mense het na Washington gereis om sy begrafnis by te woon. Dit is ook wêreldwyd deur miljoene mense op televisie gevolg. 4

Oswald is twee dae later deur Jack Ruby vermoor. 3

Omdat Oswald só kort na die moord op Kennedy vermoor is, kon hy nooit sy kant van die saak stel nie. Daar is daarom vandag allerhande samesweringsteorieë oor Kennedy se dood. Mense probeer bewys dat sy dood ’n komplot deur sy vyande was. Die mees waarskynlike storie is egter dat Oswald namens homself opgetree het, en nie deel van ’n komplot was nie. Hy was prokommunisme en het nie van Kennedy se beleid gehou nie. 2

Nalatenskap

Kennedy was minder as twee jaar lank president, en dit is daarom moeilik om te weet watter soort president hy sou gewees het indien hy langer aan bewind was. 3

Daar is gemengde opinies oor hom.

Sommige mense reken hy was ’n vrouejagter wat nie eintlik iets van belang reggekry het nie. 3 Dit is waar dat hy verskeie buite-egtelike verhoudings gehad het. 2 ‘n Mens kan ook argumenteer dat hy, buiten die sukses van die Kubaanse Krisis en die Test Ban Treaty, nie veel uitgerig het nie.

Vir die meeste Amerikaners is hy egter ’n held. Hy was een van die gewildste Amerikaanse presidente ooit. 3 Dit is egter meer as gevolg van sy reputasie as sy aksies. 5 Sy styl van leierskap, persoonlikheid, prestasies en kalm houding in stresvolle situasies het hom laat uitstaan. Hy kon mense inspireer. Hy was deernisvol, en het vir die regte van armes, bejaardes en siekes geveg. Hy was ook ’n optimis wat geglo het dat dit moontlik was om ’n beter toekoms te skep. 4

Woordbank

aanvoerder Bevelvoerder, gesagvoerder, leier.
ambassadeur Gesant/aangestelde persoon wat sy/haar land verteenwoordig.
Amerikaanse Kongres Die wetmakende liggaam van die VSA, wat bestaan uit die Senaat en die Huis van Verteenwoordigers.
argumenteer Redes vir (of ten gunste van) iets aanvoer.
atoombomme Bomme van geweldige ontploffingskrag wat op splitsing van atome berus. Ook kernbomme genoem.
belasting Verpligte betaling aan die staat of ander owerheidsliggame om uitgawes te dek.
beleid Plan of program vir die bestuur van iets.
beroep Die werk wat ʼn persoon, soos ʼn onderwyser, dokter, kunstenaar, ens. doen.
debatte Besprekings op ’n vergadering van die voor- of nadele van ’n saak; gedagtewisselings of rede, bv. in ’n parlement.
demokrasie ’n Regering wat verkies word deur verteenwoordigers van al die inwoners van ’n land.
Demokratiese Party Een van die twee groot politieke partye in die VSA, gestig in 1828. Demokrate ondersteun oor die algemeen werkersregte en regeringsprogramme om mense in nood te help.
diskriminasie Onderskeid word tussen mense of groepe getref, en een mens of groep word anders as die ander behandel.
doodgebore Wanneer ʼn baba voor of gedurende geboorte sterf.
fatsoenlik Ordentlik, beskaafd, goedgemanierd.
filosofie Wat iemand oor die betekenis en doel van die lewe dink.
gemoedelik Vriendelik en opgeruimd.
gesegregeerde Wanneer iets opgedeel word in swart en wit en mense mag dit slegs binne hul eie rassegroep gebruik.
gestreef Probeer; om iets te wil doen/reg te kry.
geuiter Te kenne gee; laat hoor; uitspreek.
heldhaftige Soos ʼn held; wat heldemoed openbaar; dapper; onverskrokke.
Huis van Verteenwoordigers Een van die twee kamers van die Kongres, die liggaam in die VSA wat wette maak.
hupstoot Nuwe krag of dryfkrag gee/verleen; aanmoediging.
infrastruktuur Die basiese strukture en stelsels wat ’n land of organisasie nodig het om behoorlik te funksioneer, byvoorbeeld paaie, ’n spoornetwerk, banke, ens.
ingekoop Om ’n idee of plan te ondersteun of daarin te glo.
inhuldigingstoespraak Toespraak wat gelewer word wanneer ’n owerheidspersoon in sy/haar nuwe amp bevestig word.
intekening Subskripsie. Wanneer jy ’n bedrag geld betaal en elke maand ’n koerant of tydskrif kry.
internasionale Wat te doen het met verhoudings tussen verskillende lande.
kandidaat Iemand wat hom- of haarself beskikbaar stel vir ’n verkiesing tot ’n posisie in die openbare lewe, soos byvoorbeeld die posisie van ’n politikus.
kernproewe Toetse om te kyk of kernwapens of atoombomme werk.
kinkhoes Aansteeklike kindersiekte, met ’n trek- of wurghoes, veroorsaak deur slym in die strottehoof (keel).
kommunisme ’n Regeringstelsel waarin die staat die eienaar van al die belangrike nywerhede is en die volk se ekonomiese, maatskaplike en kulturele lewe beheer.
komplot Geheime plan met ’n slegte doel.
kosskool ʼn Skool met ʼn koshuis waar leerders wat ver van die skool af woon, kan bly.
Koue Oorlog Toestand van uiterste vyandigheid tussen die VSA en USSR met hul onderskeie bondgenote; ongeveer 1947-1991.
masels ’n Aansteeklike virussiekte wat koors en ’n rooi uitslag veroorsaak, wat gewoonlik in die kinderjare voorkom.
met lof Met onderskeiding.
minimum loon Die minimum salaris wat jy vir iemand vir arbeid kan betaal.
naelskraapse Net-net.
neerbuigend As jy dink jy is beter as iemand anders.
noodlottig Iets wat die dood tot gevolg het.
ontlont ’n Dreigende/gevaarlike situasie verhoed; spanning verminder/wegneem.
opinies Menings, sienswyses, standpunte.
optimis ’n Persoon wat geneig is om hoopvol en vol vertroue te wees oor die toekoms of die sukses van iets.
politiek Bedrywighede waardeur mag in die openbare lewe verkry word.
politieke wetenskap Die studie van politiek en hoe dit werk.
prokommunisme Ten gunste van/ondersteuning van kommunistiese beleide, ideologieë, ens.
prominente Vooraanstaande of belangrik.
Pulitzer-prys ’n Toekenning wat gemaak word vir hoogstaande werk in koerante, tydskrifte, letterkunde en musiekkomposisie binne die VSA.
Republikeinse Party Een van die twee groot politieke partye van die VSA (die ander is die Demokratiese Party). Gedurende die 19de eeu was die Republikeinse Party gekant teen die uitbreiding van slawerny na die land se nuwe gebiede en uiteindelik vir slawerny se algehele afskaffing geveg.
Rooms-Katolieke Een van die takke van Christenskap, waar mense onder meer glo die pous in Rome is God se verteenwoordiger op aarde.
samesweringsteorieë Idees oor ’n kwessie (soos ’n produk of gebeurtenis) wat moeilik verklaar kan word of waaroor mense baie vrae en onsekerheid het. Samesweringsteorieë bied gewoonlik verstaanbare antwoorde wat die deelnemers in beheer laat voel en boonop beter oor hulself laat voel.
semester Twee kwartale, of ses maande. Dit word gewoonlik gebruik in universiteite om die jaar in twee op te deel.
senator Lid van die Senaat, een van die twee kamers van die Kongres, en die liggaam in die VSA wat wette maak.
setel ’n Gebied wat deur iemand in die parlement verteenwoordig word.
skarlakenkoors ʼn Lewensgevaarlike siekte waar jy ʼn uitslag en hoë koors kry.
state Lande of waar groepe mense ’n bepaalde gebied bewoon, polities georganiseer onder ’n soewereine regering wat die mag besit om reg en orde in die gemeenskap te handhaaf.
termyne Vaste of beperkte tydperke waarvoor iets, byvoorbeeld ʼn amp, gevangenisstraf of belegging, duur of bedoel is om te hou.
torpedoboot Boot gewapen met lang, smal wapens wat onder die see afgevuur word.
uitstaande Nog nie betaal, opgelos of hanteer nie.
van stapel gestuur Begin.
verdrag ’n Ooreenkoms tussen twee of meer magte.
verkiesingsveldtog Georganiseerde plan om iemand te help om ’n verkiesing te wen.
verleentheid Iets wat jou skaam maak.
vloot Al die skepe van ’n land.
voorgestaan Iets bepleit, ondersteun, daarvoor veg.
vrouejagter ’n Man wat gedurig in liefdesavonture gewikkel is.
vrywilligers Iemand wat iets doen omdat hy of sy graag wil en nie gedwing word om dit te doen nie.
waterpokkies ’n Hoogs aansteeklike virussiekte. Dit kan ’n jeukerige, blaasagtige uitslag veroorsaak.
ywer Werklus, met geesdrif werk.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Kennedy se lewe

Wat was die Kubaanse Krisis?

Kennedy se sluipmoord

Foto: iStock
Gepubliseer op: 9 Februarie 2024 | Bygewerk op 6 Maart 2024