Vinnige feite

Elvis se pienk Cadillac.
  • Die term “ruk-en-rol” is afgelei van die meer letterlike “rocking and rolling”, ’n frase wat deur 17de-eeuse matrose gebruik is om die beweging van ’n skip op die see te beskryf.
  • Elvis is vernoem na sy pa, Vernon Elvis Presley, en Vernon se vriend in Tupelo, Aaron Kennedy. 28
  • Op hoërskool was hy in die skool se boksspan. Sy gunstelingvak was houtwerk. Hy het later ʼn swart gordel in karate verwerf. 7
  • Meer as 600 liedjies van Elvis is in sy musiekloopbaan opgeneem, maar nie een van dié liedjies is self deur hom geskryf nie. 29
  • Elvis het in 1964 ʼn bedrag van $55 000 (sowat $500 000 of nagenoeg R10 miljoen in vandag se geldwaarde) 30 betaal vir Franklin D. Roosevelt, die voormalige Amerikaanse president, se luukse seiljag (boot). Dié seiljag, USS Potomac, het in Roosevelt se ampstermyn as die “drywende Withuis” gedien. Elvis het die boot later aan die St. Jude-kinderhospitaal geskenk sodat hulle dit kon verkoop om geld daarmee in te samel. 31
  • Naas die Withuis (die Amerikaanse presidentswoning en hoofkantoor) is Graceland die bekendste gebou in die VSA. Meer as 600 000 mense besoek jaarliks dié deftige herehuis. Nagenoeg 20 miljoen toeriste het reeds sedert 1982 hierheen gestroom. 32
  • Elvis was byna net so lief vir vliegtuie as vir sy dogter. Hy het sy private straler na Lisa Marie vernoem. Dié vliegtuig, uitgerus met ’n sitkamer, slaapkamer en vergaderplek, vlieg natuurlik lankal nie meer nie en is ’n gewilde toeristeaantreklikheid by Graceland. 33
  • Hy het ook ’n liefde vir motors gehad, spesifiek Cadillacs, en meer as 100 van dié motors oor die jare gekoop. Die heel eerste een, ’n pienk Cadillac, het hy as ’n geskenk vir sy ma gekoop. 7
  • Elvis het nie net ’n strelende stem gehad nie, maar was ook baie vrygewig. Hy het as soldaat sy salaris vir liefdadigheid geskenk en televisies en ekstra klere vir sy makkers gekoop. 7 Later het hy motors, juwele en geld aan vriende en vreemdelinge geskenk en selfs konserte gehou en die inkomste uit die kaartjieverkope geskenk.
  • Elvis se bestuurder, kol. Tom Parker, se regte naam was eintlik Andreas Cornelis van Kuijk. Hy het as ’n jong man onwettig uit Nederland na die VSA geëmigreer. Hy was nooit ’n kolonel in die weermag nie.
  • Behalwe vir drie optredes in 1957 in Kanada, het Elvis nooit buite die VSA opgetree nie. Daar word beweer dat Elvis se bestuurder oorsese (buitelandse) konserte van die hand gewys het omdat hy ʼn onwettige immigrant was. 34
  • Lisa Marie, Elvis en Priscilla Presley se enigste kind, was vir ʼn kort rukkie met die koning van popmusiek, Michael Jackson, getroud. Die huwelik het net 18 maande gehou. Haar huwelik met die akteur Nicolas Cage was egter nog korter: hulle paaie het ná slegs vier maande geskei. Lisa Marie was vier keer getroud. 34
  • Lisa Marie Presley is op 12 Januarie 2023 oorlede. 35
  • Meer mense het in 1973 na Elvis se Aloha From Hawaii-konsert gekyk as dié wat die eerste maanlanding op televisie dopgehou het! 7

“One for the money, two for the show …”

As hierdie woorde nie jou voete laat jeuk nie, sal dit miskien jou ma en pa, en beslis jou ouma en oupa, met húl danspassies laat spog.

Elvis Presley was ʼn ikoon vir tieners ná die Tweede Wêreldoorlog. [Lees hier oor die Tweede Wêreldoorlog.] Met sy kenmerkende rubberbeendansies, swaaiende heupe, uitspattige klere, streelsagte stem en blink geoliede kuif het hy, in die tyd voor kompetisies soos Idols, homself opgewerk tot ʼn suksesvolle ster.

Elvis, die koning van ruk-en-rol, het as ’n arm kind grootgeword in ʼn huis waar sy pa ’n paar jaar in die tronk deurgebring het. 1 Eintlik was hy die koning van meer as net ruk-en-rol. Hy is die enigste kunstenaar van verskillende genres – soos ruk-en-rol, gospel en country – wie se naam in verskeie Halls of Fame (plekke waar mense vereer word indien hulle uitsonderlik goed in iets gevaar het) verskyn. 2 [Lees hier oor musiekgenres.]

Sy musikale invloed was só groot dat die oud-Beatle John Lennon gesê het dat daar niks was vóór Elvis Presley nie. 3 Vir mede-Beatle-lid Paul McCartney was Elvis se treffer “Heartbreak Hotel” die “grootste artistieke skepping van die moderne era”. Elton John stem saam: “Sonder Elvis sou daar geen Beatles, geen [Jimi] Hendrix of [Bob] Dylan gewees het nie.” 4

Daar word beraam dat meer as een miljard Elvis-plate wêreldwyd verkoop is. 5 Ná sy dood leef die koning steeds voort in rolprente wat oor hom gemaak word, soos die 2022-rolprent Elvis waarin Tom Hanks kolonel Tom Parker speel en Austin Butler die rol van Presley vertolk. 6 Verder is daar die 600 000 besoekers wat steeds jaarliks na sy huis Graceland stroom en die talle nabootsers (in Engels: impersonators) wat optredes hou.

Forbes het aangedui dat Elvis selfs ná sy dood jaarliks sowat $110 miljoen (nagenoeg R2 miljard) “verdien”! Dit maak hom die vierde grootste bekende persoonlikheid wat ná hul dood steeds met ’n inkomste spog. 7

Kinderjare

Vernon Presley en Gladys Love Smith, is in Junie 1933 getroud. Vernon, Elvis se pa, was toe net 17 jaar oud en Gladys, sy ma, was 21. Hoewel Gladys wel volgens die wet oud genoeg was om te trou, het sy ook oor haar ouderdom gejok. Op hul huweliksertifikaat is Vernon se ouderdom as 22 aangedui en Gladys s’n as 19. Vir jare daarna het Gladys steeds oor haar ouderdom gejok. 1

Teen die einde van Junie 1934 het Gladys besef sy is swanger. Gladys het in daardie tyd slegs $2 per dag by ’n kleremaatskappy verdien. Vernon, wat saam met sy broer met sojabone en katoen geboer het en ook ’n afleweringsvoertuig bestuur het, het in daardie stadium by die melkboer Orville S. Bean gewerk. Hy leen $180 by sy werkgewer en saam met broer Vester en pa Jesse bou hulle ’n tweeslaapkamerhuis langs sy pa se vierslaapkamerhuis. Die huis was sonder loodgieterswerk en elektrisiteit (dit was gekoppel, maar die jong egpaar het nie genoeg geld gehad om dit te gebruik nie). Selfs sonder krag of water was dit steeds ’n huis waar die Presleys se babas gebore kon word. 1

Die huis waarin Elvis grootgeword het.

Op 8 Januarie 1935 skenk Gladys geboorte aan ’n identiese tweeling. Die eerste seuntjie, Jesse Garon, soos sy ouers beplan het om hom te noem, word ongelukkig doodgebore. ʼn Paar minute later, net voor sonsopkoms, is Elvis Aaron Presley gebore. 1

Ma en seun is amper dood tydens die bevalling en hulle is na die hospitaal geneem. Vir die res van Gladys se lewe was sy baie beskermend oor haar enigste kind – altyd bekommerd dat hy ook iets sou oorkom. Sy beleef ’n verdere terugslag daardie jaar toe haar ma, Doll Smith, sterf. Gladys was 23 jaar oud. 1

Elvis en sy ouers het baie naby aan sy grootouers, ooms, tannies, niggies en nefies gebly. Hoewel daar maar min geld in die huis was, het Vernon en Gladys na die beste van hul vermoë probeer om vir hul seun te voorsien – hy was die middelpunt van hul lewens. 1

Op 16 November 1937 word Vernon, Gladys se broer Travis Smith en ’n vriend Lether Gable van bedrog aangekla. Orville Bean het ’n tjek van $4 uitgeskryf vir ’n vark wat hy by Vernon gekoop het. Dit was baie minder as wat Vernon verwag het. Nadat hy sy plan met Travis en Lether bespreek het, verander hulle die bedrag op die tjek. Dit is onduidelik of dit na $14 of $40 verander is. 1

Hoewel die gemeenskap (inwoners van dieselfde gebied) van Tupelo by Bean gepleit het om die klag terug te trek, wou hy nie instem nie. Borgtog van $500 elk is aan die beskuldigdes toegestaan. Op 4 Januarie betaal Jesse Presley en J.G. Brown almal se borgtog behalwe Vernon s’n. Vernon en sy pa Jesse het nie ’n goeie verhouding gehad nie. Hy het vroeër reeds die sestienjarige Vernon uit die huis geskop. 1

Die kerk van Elvis se grootwordjare.

Vernon moet ses maande lank in die tronk deurbring terwyl hulle wag dat die saak in die hof voorkom. Op 25 Mei 1938 word al drie mans aan bedrog skuldig bevind en drie jaar tronkstraf opgelê. Hulle word in Mississippi se staatsgevangenis in Parchman aangehou. 1

Sonder Vernon by die huis kon Gladys egter nie meer die huis se paaiemente bekostig nie en toe sy die huis verloor, trek sy en klein Elvis vir ʼn kort rukkie by haar skoonouers (die ouers van jou man of vrou) in. As gevolg van Jesse se houding teenoor sy seun, het Gladys egter nie meer gemaklik gevoel om by hulle te bly nie en sy en Elvis gaan bly by haar nefie, Frank Richards. Die Presleys het nooit weer na daardie tweeslaapkamerhuis, waar Elvis gebore is, teruggekeer nie. 1

In 1940 word Vernon vroeër vrygelaat danksy sy goeie gedrag, ’n petisie van Tupelo-inwoners en ’n brief van Orville Bean. 1

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het Vernon oorlogskampe vir die Work Progress Administration (WPA) gaan bou. 1 Die WPA was projekte van die Amerikaanse regering wat werk vir 8,5 miljoen mense geskep het. Die WPA het veral gehelp om die Amerikaanse infrastruktuur te verbeter deur paaie, brûe, skole en selfs parke te bou. 8

In Vernon se afwesigheid het Gladys ’n miskraam gehad. Hierna het sy nooit weer probeer om swanger te word nie. 1

Skoolloopbaan

In 1941 gaan Elvis as sesjarige vir die eerste keer skool toe. Sy ouers skryf hom in by die East Tupelo Consolidated (gekombineerde) School in Lakestraat. 9 Sy ma koop vir Elvis sy eerste kitaar toe hy elf jaar oud is. In graad 5 skryf sy onderwyseres Oleta Grimes, die dogter van einste Orville Bean, Elvis vir sy eerste talentkompetisie by die Mississippi-Alabama-skou in. 1 Hierdie skou was ʼn plek waar kunstenaars kon optree en mense produkte kon uitstal, met ’n pretpark waar kinders allerhande pretritte op mallemeules kon geniet en speletjies kon speel om pryse te wen.

Grimes het die jong Elvis ingeskryf nadat sy gehoor het hoe hy “Old Shep” tydens godsdiensopening by die skool sing. Hy kom vyfde en sy prys is gratis kaartjies vir ’n paar pretritte. 9

Teen die tyd wat hy in graad 7 is, bring hy byna elke dag sy kitaar skool toe en speel tydens pouses vir almal wat wil luister. ’n Groep boelies het op ’n dag die snare van sy kitaar afgesny. Gelukkig het sy vriende, wat geweet het hoe baie Elvis van musiek hou, geld ingesamel en vir hom nuwe snare gekoop. 9

‘n Verslag van Elvis se punte op skool.

Elvis was dertien toe sy ouers van Tupelo, Mississippi na Memphis, Tennessee trek omdat sy pa daar ’n beter werk kon kry. Hierdie besluit het ’n groot invloed op Elvis se musiekstyl gehad. 10 Hy begin Humes High School in graad 8 bywoon. 9

In graad 10 skryf hy in vir die Reserve Officers’ Training Corps (ROTC). 9 Die ROTC is ’n kollegeprogram wat by skole en universiteite in die VSA aangebied word. Ná afloop van die program kon studente offisiere in die Amerikaanse weermag word. 11 Hy verwerf meestal B’s en C’s daardie jaar, behalwe vir ’n A in Engels en ’n F vir tik. 9

In graad 11 begin hy meer aandag aan sy voorkoms gee. Hy ontwikkel ’n flambojante klerestyl en is veral gesteld op sy hare. Met behulp van roosolie en Vaseline het hy dit reggekry om sy lang kuif in posisie te hou. 9 As tiener het hy skoenpolitoer gebruik om dit swart te kleur omdat haarkleursel te duur was om te koop. 12

In sy graad 12-jaar begin Elvis ná skool (van 15:00 tot 23:00) by ’n meubelmaatskappy werk. Hy was later só moeg dat hy in die klas aan die slaap geraak het, waarna sy ma hom gedwing het om te bedank sodat hy eerder op sy skoolwerk kon fokus. 9

In daardie stadium was hy nie baie gewild onder die ander leerders nie. Met sy vreemde klere en lang hare het hy dus nie baie vriende gehad nie. Alles het egter verander toe hy in April 1953 besluit om aan die skool se jaarlikse talentkompetisie deel te neem. 13

Elvis vertel hoe hy gehoor het hoe almal daardie aand fluister toe hy die verhoog betree. “Ek dink baie kinders het nie geweet ek kan sing nie.” 13

Die eerste nommer wat hy daardie aand gesing het, was ’n countryliedjie, “Keep Them Cold Icy Fingers Off Of Me”. Die applous was só hard, dat hy besluit het om nóg ’n liedjie, “Till I Waltz Again With You”, te sing. 13

Toe hy daardie aand as wenner van die talentkompetisie aangewys word, het almal, selfs die voetbalspelers wat Elvis voorheen geterg het, hom toegejuig. 13

Die koning van ruk-en-rol

In Memphis was daar ’n ateljee met die naam Sun Records, wat deur Sam Phillips besit is. Die 18-jarige Elvis neem sy eerste liedjie in 1953 daar op. Die opname van “My Happiness” was ʼn geskenk aan sy ma – hy het self $4 vir die opname betaal. 14

In April 1954 gaan werk Elvis by Crown Electric Company. Hier doen hy verskillende werkies, soos om ʼn afleweringsvragmotor te bestuur. In die aand studeer hy om ’n elektrisiën te word. 15

In Junie 1954 kontak Sam Phillips Elvis weer in die hoop om ʼn album op te neem. Phillips stel voor dat Elvis saam met ʼn paar plaaslike musikante, kitaarspeler Scotty Moore en baskitaarspeler Bill Black, bymekaarkom om te hoor hoe dit sou klink. 16

Elvis, Scotty en Bill het saam Sun Records besoek en ʼn paar liedjies gespeel, maar Phillips was nie beïndruk nie. Toe Elvis tydens ʼn ruskans tussen die opnames deur egter met ʼn vinnige weergawe van Arthur Crudup se “That’s All Right” wegtrek, het dinge verander. 15

Elvis het dié liedjie vinnig en in sy eie styl gesing, en in die vertrek rondgedans. Scotty en Bill het die musiek gehoor en saam met hom begin speel. Toe Phillips dit hoor, het hy geweet dié liedjie gaan ʼn treffer wees. Hy het die liedjie opgeneem en dit is drie dae later op die radio gespeel. Elvis was op pad na roem! 16 In die vyftigerjare het platemaatskappye dikwels enkelsnitte wat net uit een of twee liedjies op ‘n plaat bestaan het, uitgereik omdat dit só meer bekostigbaar was om te koop. 17

Deur die loop van 1954 tree die drie mans gereeld saam by padkafees en klubs op. Veral in die suidelike state van die VSA begin dié orkes ʼn groot aanhang kry.

In die res van die land was hulle nog nie bekend nie, maar dit verander gou toe hulle die kans kry om op Louisiana Hayride, ’n radioprogram wat landwyd uitgesaai is, op te tree. D.J. Fontana sluit as tromspeler by die groep aan. 18 In Oktober 1954 gaan dit só goed met die orkes dat al die lede hul vaste werk bedank sodat hulle net aan hul musiekloopbane kon aandag gee. 15

Die bekende Sun Records Studio in Memphis, Tennessee, waar Elvis Presley sy eerste liedjies opgeneem het.

In Januarie 1955 word kolonel Tom Parker Elvis se bestuurder. ’n Musikant of akteur se bestuurder reël sy of haar optredes en besluit byvoorbeeld waar of in watter rolprente hulle optree. Die bestuurder kry gewoonlik ’n persentasie van die kunstenaar se inkomste, en Parker het meer as die gewone persentasie (10-15%) van Elvis se inkomste vir homself gevat. Hy het veral in countrymusiek gespesialiseer en het ander musikante soos Eddy Arnold en Hank Snow bekend gemaak.

Parker besluit dat al Elvis se liedjies en sy platekontrak deur groot maatskappye in New York oorgeneem moet word. Sun Records verkoop die liedjies aan Hill and Range en die kontrak aan RCA Victor vir $35 000, waarvan Elvis ʼn bonus van $5 000 ontvang. 18 Volgens die ooreenkoms stig Hill and Range ʼn afsonderlike maatskappy genaamd Elvis Presley Music, Inc. Elvis deel die eienaarskap van die liedjies en hy word die gewildste nuwe ster in die musiekbedryf. 15

Elvis en sy bestuurder, Tom Parker.

Op 10 Januarie 1956, twee dae ná sy 21ste verjaarsdag, begin Elvis met sy eerste opnames by RCA in hul ateljee in Nashville. Heartbreak Hotel met die liedjie “I Was the One” op die B-kant van die plaat, word uitgereik om voorbrand te maak vir sy vollengte album wat later die jaar uitgereik sou word. 15

Meer as 300 000 kopieë van hierdie plaat word binne drie weke nadat dit uitgereik is, verkoop. Dit verskyn vinnig boaan die trefferlyste en is agt weke lank in die eerste plek op die Billboard-lys van popliedjies, asook in die eerste plek op die lys van countrymusiek en rhythm and blues (R&B). “Heartbreak Hotel” word Elvis se eerste enkelsnit om meer as 1 miljoen kopieë te verkoop, en daarmee behaal hy vir die eerste keer goue status.

Die album Elvis Presley, of Elvis Presley Rock N Roll soos dit in ander lande genoem is, word op 13 Maart 1956 uitgereik. Die album bestaan uit liedjies wat in 1954 en 1955 deur Sun Records opgeneem is. Die res is nuwe liedjies soos “Blue Suede Shoes”, “Blue Moon” en “Tutti Frutti” wat ook treffers sou word. 19

Die Elvis Presley-album verskyn op 5 Mei 1956 vir die eerste keer boaan die trefferparades. 20 Dit behou tien weke lank die eerste posisie op die Billboard-trefferparade en word boonop die eerste ruk-en-rol-album wat dit kon regkry. 19

Elvis die ikoon

In die jaar 1956 het Elvis se gewildheid al hoe meer toegeneem. Hy het met vyf liedjies en twee albums boaan die trefferparades gespog, saam met talle ander treffers. Sy eerste rolprent (Love me Tender) word vertoon en hy verskyn verskeie keer op televisie, soos op die Ed Sullivan Show. Verder word sy optredes deur duisende bewonderaars bygewoon.

Dit is ook die jaar waarin Elvis-aandenkings vir die eerste keer verkoop word. Lisensiehouers wat toestemming gehad het om hierdie artikels te maak en te verkoop, het dertig verskillende soorte aandenkings begin verkoop, soos hoede, T-hemde, beursies, gordels, skryfbehoeftes, tydskrifte en selfs lipstiffie. Die aandenkings was só gewild dat die Amerikaanse koerant The Wall Street Journal berig dat Elvis-aandenkings teen die einde van 1957 meer as $22 miljoen in verkope gegenereer het. 15

Elvis is wêreldwyd as ’n superster beskou, en was veral gewild onder tieners. Sy unieke mengsel van country-, pop- en gospelmusiek van wit kunstenaars, asook R&B en gospelmusiek soos gesing deur meestal swart kunstenaars, het sy musiek uniek gemaak. Saam met sy charisma en talent het hy ʼn verandering gebring in musiek en popkultuur. 15

Een van die redes waarom hy ’n ikoon vir jongmense geword het, was sy kenmerkende heupswaaiende rubberbeendans wat hom die bynaam Elvis the Pelvis besorg het. 21 Ouer mense het gedink sy bewegings was baie suggestief, en het nie daarvan gehou nie. 15

Daar is twee teorieë hoekom Elvis met dié rubberbeendansies begin het. Een moontlikheid is dat hy tydens sy eerste betaalde konsert in 1954 so senuweeagtig was, dat sy bene begin bewe het. In plaas daarvan om die bewery te probeer wegsteek, het hy besluit om dit te gebruik deur verder van die mikrofoon af weg te staan en te maak asof hy een of ander “musikale aanval” kry soos die musiek deur sy lyf vloei en hom energie gee. Op dié manier het hy dit reggekry om sy senuagtigheid weg te steek en terselfdertyd die gehoor gaande gehad. 22

Die ander teorie is dat hy hierdie danspassies gesien het tydens die kerkdienste wat hy saam met sy ouers in Memphis bygewoon het. Musiek en dans was ’n belangrike deel van die kerkdienste wat hy bygewoon het en hoewel hy beslis deur die gospelmusiek van hierdie kerke beïnvloed is, kan dit wees dat hy ook die danspassies van die kerkgangers nageboots het. 22

Elvis Presley in die rolprent Love Me Tender.

Die joernalis Robert Johnson verwys in ʼn artikel in die middagkoerant Memphis Press-Scimitar op 4 Mei 1956 vir die eerste keer na Elvis as “die koning van ruk-en-rol” en ander joernaliste het gou ook dié bynaam begin gebruik. Johnson het met dié titel verwys na die skares wat Elvis se konserte bygewoon het, die hoeveelheid geld wat hy verdien het, sy rekord-albumverkope, en sy Hollywood-kontrak om rolprente te maak – hy het enige ander ruk-en-roller op elke gebied uitgestof. Elvis se gewildheid het dus van hom die koning van ruk-en-rol gemaak. Niemand het gedink hy is maar net die beste sanger, die beste kitaarspeler, of die beste liedjieskrywer nie. Hy het die “koning” geword omdat hy die grootste, mees entoesiastiese gehore gehad het en meer albums as enige van sy eweknieë verkoop het.

Hierdie status en gewildheid het reg deur die 1950’s bly voortduur. 21

Elvis Presley en Dolores Hart uit die lokprent vir die film King Creole, 1958.

Graceland

Ná die sukses van sy eerste album, het die 22-jarige Elvis genoeg geld gehad om ’n pragtige huis in Memphis, Tennessee te koop. In 1957 koop hy die huis, genaamd Graceland, vir $102 000 (in vandag se geldwaarde is dit ongeveer $1, 1 miljoen of R20 miljoen). Hy het tot met sy dood daar gebly en het heelwat veranderings aan die huis gemaak, soos om dadelik ’n swembad te bou. Die sogenaamde “Jungle Room” – versier met vreemde, eksotiese plante en selfs ’n kunsmatige waterval – is waar hy later die meeste van sy musiek opgeneem het. Sy ouers asook sy ouma het saam met hom in die huis gebly. 19

Elvis Presley se Graceland-herehuis in Memphis, Tennessee.

Sersant in die weermag

Op 20 Desember 1957, tydens Elvis en sy familie se eerste Kersfees by Graceland, word hy opgeroep om twee jaar in die Amerikaanse weermag diens te doen. Sy bewonderaars het tienduisende briewe aan die weermag skryf en gevra dat hulle hom van sy diensplig moet kwytskeld, maar Elvis was vasberade om weermag toe te gaan.

Tydens basiese opleiding, wanneer soldate fiks gemaak word en geleer word hoe om te skiet, kry hy toestemming om sy ma voor haar dood in Augustus 1958 te gaan sien. 23

Hy vertrek kort daarna op die skip USS General Randall om as ʼn sersant in Duitsland te gaan diens doen. Tydens sy verblyf van agtien maande bly hy in ’n huis saam met ’n paar Memphis-vriende, waar hulle gereeld partytjies hou en musiek maak. Dit is tydens een van hierdie partytjies in 1959 waar hy aan die veertienjarige Priscilla Beaulieu voorgestel word en op haar verlief raak. 23

Erkenning van sy weermagdiensverpligting.

ʼn Kort huwelik

Priscilla se ouers was aanvanklik nie gelukkig oor die ouderdomsverskil van 10 jaar tussen die twee nie. Hulle het boonop nie van Elvis gehou nie en haar verbied om hom weer te sien. Elvis het egter haar ouers oorgehaal en die twee spandeer tyd saam tot Maart 1960, toe Elvis se twee jaar in Duitsland verby is. Hy keer terug Amerika toe en, ten spyte van die afstand tussen hulle, kry Elvis en Priscilla dit reg om vir die volgende twee jaar in kontak met mekaar te bly.

In 1962 laat Priscilla se ouers die eerste keer toe dat sy vir Elvis in Los Angeles gaan kuier, op voorwaarde dat daar altyd iemand saam met hulle is en dat sy elke dag aan hulle sal skryf. Elvis het hom glo egter nie aan die reëls gesteur nie. Hy het haar na Las Vegas geneem en haar aan dwelmmiddels blootgestel. 24

Elvis en Priscilla.

’n Jaar later, toe Priscilla 17 jaar oud is, stem haar ouers in dat sy permanent na Memphis mag verhuis om saam met hom te wees. Daar is egter weer streng voorwaardes: Priscilla moet ʼn Katolieke meisieskool bywoon, sy moet in ʼn afsonderlike huis saam met sy ouers woon en Elvis moet uiteindelik met haar trou. Priscilla en Elvis steur hulle weer nie aan die reëls nie.

Sy het geleidelik by sy huis ingetrek en Graceland haar permanente huis gemaak toe Elvis haar ouers belowe dat hy met Priscilla sal trou. 24

Ná sewe jaar raak hulle in 1966 verloof en trou op 1 Mei 1967 tydens ’n klein seremonie in die Aladdin-hotel in Las Vegas. Ná ’n kort wittebrood in Palm Springs, keer hulle terug na Memphis. Op 1 Februarie 1968, presies nege maande ná hul troudag, word Lisa Marie Presley, Elvis se enigste kind, gebore. 24

Die Presley-egpaar se paaie skei op 9 Oktober 1973. Albei het buite-egtelike verhoudings oor die jare gehad. Hulle bly egter op goeie voet tot en met Elvis se dood in 1977. 24

Elvis en Priscilla met hul dogter, Lisa Marie.

Loopbaan ná die weermag

Met sy terugkeer na die VSA in 1960 het Elvis sy loopbaan hervat. Deur die loop van die volgende agt jaar maak hy meer as dertig rolprente. Dié rolprente het nie regtig in enige spesifieke genre gepas nie. Dit was bloot “Elvis-flieks”, wat beteken het dit was ’n romantiese komedie met ’n klankbaan. 18

Die rolprente en die albums het nog steeds die dollars laat instroom, maar dit het hom byna sy loopbaan as kunstenaar gekos. Sy beste musiek was dié liedjies wat nie aan ’n klankbaan verbind was nie. In die 1960’s het hy met treffers gespog soos “It’s Now or Never (‘O Sole Mio’)” (1960); “Are You Lonesome Tonight?” en “Little Sister” (albei in 1961); “Can’t Help Falling in Love” en “Return to Sender” (albei in 1962); en “Viva Las Vegas” (1964).

Presley was egter nie meer omstrede nie. Sy musiek was nie meer anders en uniek nie, dit was voorspelbaar vir ʼn massagehoor. Hy was nie meer gewild onder die rock-gehoor nie – hulle het die nuwe klanke van die Beatles, The Rolling Stones en Bob Dylan begin volg. 18

In 1968 het albumverkope gedaal en sy fliekgangers het al hoe minder geword. In Desember daardie jaar verskyn hy in ʼn spesiale Kersfees-televisieprogram. Met hierdie eenmanvertoning wen hy weer aanhangers.

In 1969 reik hy die nommer 1-treffer “Suspicious Minds” uit wat nie aan enige rolprent verbind was nie. Hy begin weer optredes hou, maar hierdie keer is sy aanhangers die werkersklas uit die suidelike en middel-westelike dele van die VSA, en hoofsaaklik vroue. 18

Vir die volgende dekade was hy weer een van die gewildste konsertkunstenaars in die VSA, hoewel hy nooit (behalwe drie keer in Kanada) buite die VSA opgetree het nie. Vroeg in die 1970’s het hy gereeld in Las Vegas opgetree – met die ikoniese katpakke (eenstuklangbroekpak; in Engels: catsuit) waarin Elvis-nabootsers vandag nog gereeld verskyn. Hy stel rekords op vir bywoning van sy konserte reg oor Amerika en in Las Vegas, en sy albums verkoop steeds goed. 25

Die fliek Elvis on Tour word goed ontvang deur resensente en die publiek. Die vervaardigers ontvang die Golden Globe-toekenning vir die beste dokumentêre rolprent in 1972. 25

Hy maak televisie- en vermaakgeskiedenis met sy Elvis: Aloha from Hawaii via Satellite-program. Die konsert is op 14 Januarie 1973 by die internasionale sentrum in Honolulu, Hawaii uitgevoer en is regstreeks uitgesaai na Australië, Suid-Korea, Japan, Thailand, Filippyne, Suid-Viëtnam en ander lande. Dit word ook in 30 Europese lande uitgesaai. ʼn Opname van die vertoning is op 4 April daardie jaar in die VSA uitgesaai. 25

Een van Elvis se pare skoene.

Die April-uitsending wat in die VSA vertoon is, het 57% van die televisiegehoor gelok en dit is in meer huise gekyk as die oomblik toe die eerste mens op die maan geloop het!

Uiteindelik is die program in 40 lande uitgesaai en tussen 1 en 1,5 miljard mense kry dit te sien. Vir dié geleentheid het Elvis ʼn spesiale katpak laat maak waarop die Amerikaanse seearend (die land se nasionale voël) verskyn. Geen ander kunstenaar kon die wêreld se aandag só trek nie. Hy was fisiek en vokaal op sy allerbeste – waarskynlik die hoogtepunt van sy supersterstatus en een van die grootste oomblikke van sy loopbaan. 25

In die laaste paar jaar van sy lewe was sy albums nie almal ewe goed nie, maar dit het altyd een of twee van die energieke liedjies bevat wat hom voorheen so gewild gemaak het.

Elvis se laaste nommer 1-treffer was “Suspicious Minds” in 1969. “Burning Love” (1972) was die laaste liedjie van die koning van ruk-en-rol wat onder die tien beste liedjies van die treffersparade gaan boer het. Hoewel hy steeds baie geld verdien het, kon hy net nie weer die energie van sy vroeë loopbaan handhaaf nie. 18

ʼn Dodelike leefstyl

Sy leefstyl in sy latere lewe het hom beslis nie goed gedoen nie. Hy was ’n naguil en het olierige, ongesonde kos verorber. Hy het geleef van drank, dwelms en baie voorgeskrewe medisyne (medikasie wat jy met ’n doktersvoorskrif koop). Hierdie leefstyl het sy gesondheid al hoe meer laat verswak. 18

Op 16 Augustus 1977, kort ná middernag, keer hy terug van ʼn laataandbesoek aan die tandarts. Deur die loop van die vroeë oggendure ontspan hy saam met sy familie en vriende by Graceland en tref voorbereidings vir ʼn konsert die volgende dag in Portland, Maine. Hy gaan omstreeks 07:00 die oggend na sy kamer toe om te gaan slaap voor die aand se vlug na Maine. Deur die loop van die oggend sterf hy aan ’n hartaanval. Hy was 42 jaar oud. 18

Hy is op 18 Augustus 1977 begrawe. 18

Amper onmiddellik ná die nuus van sy dood het mense na Graceland gestroom om te rou oor die arm seun wat een van die grootste legendes in die musiekwêreld geword het. Vandag stroom duisende toeriste steeds na Graceland om te sien waar Elvis Presley geleef het en begrawe is. 18

Baie mense glo dat Elvis gemaak het of hy dood is omdat hy nie meer die roem en die lewe van ’n superster kon hanteer nie. Elke kort-kort is daar ’n storie van iemand wat hom êrens gesien het en baie mense maak geld as Elvis-nabootsers.

“Elvis has left the building” – ’n frase wat gebruik is om Elvis se sekuriteitswagte te waarsku wanneer hy ’n plek verlaat – is inderdaad waar, maar hy leef steeds voort in al die aandenkings, albums wat weer uitgereik word en aanhangers wat hulle verwondering van Elvis aan hul kinders oordra. 18

Sy prestasies

Elvis is tydens sy loopbaan 14 keer vir ʼn Grammy-toekenning benoem. Hy ontvang sy eerste Grammy vir Beste Gewyde Uitvoering vir die liedjie “How Great Thou Art” in 1967. In 1972 ontvang hy die toekenning vir Beste Inspirerende Uitvoering vir “He Touched Me” en twee jaar later ontvang hy die toekenning, weer in dieselfde kategorie, vir die regstreekse weergawe van “How Great Thou Art”. Elvis het al drie sy Grammy-toekennings in die gospelkategorie verower. 26

In 1971 was hy die sesde kunstenaar om die Recording Academy se Lewenslange Prestasietoekenning te ontvang. Dit het in daardie stadium as die Bing Crosby-toekenning bekendgestaan. Dié spesiale toekenning gee erkenning aan kunstenaars wat ʼn besonderse bydrae lewer tot die wêreld van musiekopnames. 27

Lys van sy treffers

Hier is ’n lys van twintig van Elvis se liedjies wat oor die jare die beste verkoop het: 27

  1. It’s Now Or Never (November 1960)
  2. Jailhouse Rock (Januarie 1958)
  3. Are You Lonesome Tonight (Januarie 1961)
  4. A Little Less Conversation (Junie 2002)
  5. The Wonder Of You (Julie 1970)
  6. Way Down (Augustus 1977)
  7. Wooden Heart (Maart 1961)
  8. Rock A Hula Baby / Can’t Help Falling In Love (Februarie 1962)
  9. All Shook Up (Junie 1957)
  10. Surrender (Mei 1961)
  11. Suspicious Minds (November 1969)
  12. Return To Sender (November 1962)
  13. Good Luck Charm (Mei 1962)
  14. A Fool Such As I / I Need Your Love Tonight (April 1959)
  15. In The Ghetto (Junie 1969)
  16. Devil In Disguise (Julie 1963)
  17. Hound Dog (September 1956)
  18. His Latest Flame / Little Sister (November 1961)
  19. It’s Only Love / Beyond The Reef (Augustus 1980)
  20. Crying In The Chapel (Mei 1965)

Van sy gewildste liedjies op YouTube is: 26

  • Can’t Help Falling In Love
  • Suspicious Minds
  • Burning Love
  • Jailhouse Rock
  • In The Ghetto
  • Blue Christmas
  • Hound Dog
  • Always On My Mind
  • Love Me Tender
  • If I Can Dream

Woordbank

aandenkings Iets wat jou aan iets/iemand herinner.
aanhang kry Gewild word; deur ander bewonder word.
album Oudio-opnames wat op ’n plaat, CD of in digitale vorm is.
applous Handegeklap, toejuiging.
artistieke Kunstig.
ateljee Vertrek van waar radio-/televisieprogramme uitgesaai word, of waar musiek/ens. opgeneem word.
bedrog Die misdaad om geld of finansiële voordele te verkry deur ’n truuk/kullery of deur te lieg.
bevalling Geboorte.
borgtog ʼn Som geld van die beskuldigde/iemand anders wat by ʼn hof gelaat word om seker te maak dat ʼn gevangene wat vrygelaat word, sal terugkom wanneer sy/haar verhoor begin.
buite-egtelike Buite die huwelik; onwettig.
charisma Besondere persoonlikheidstrekke wat iemand buitengewoon gewild maak.
country Soort musiek, oorspronklik uit die VSA, met plattelandse en cowboyliedjies as basis, veral op ’n kitaar begelei.
doodgebore Reeds voor die geboorte oorlede.
geëmigreer Jou land verlaat om in ’n ander land te gaan woon.
enkelsnit Plaat wat net een snit aan elke kant bevat, of CD wat net twee snitte bevat.
flambojante Lewendig en kleurryk.
gegenereer Voortbring.
genres Soort; tipe (veral literatuur- of kunssoort).
gospel Opgewekte geestelike musiek en sang, oorspronklik ontwikkel vanuit die suidelike Baptiste- en Pinksterkerke in Amerika.
grootouers Jou ma/pa se ma/pa; ouma of oupa; grootmoeder of grootvader.
hartaanval ʼn Skielike, ernstige mediese toestand waartydens iemand se hart ophou om normaal te klop en groot pyn veroorsaak.
herehuis Mooi, groot woonhuis van ’n persoon van aansien.
huweliksertifikaat Die wettige dokument as bewys van ’n huwelik.
ikoon Iemand of iets wat merkwaardig/besonders/navolgenswaardig is; beroemde persoon wat deur baie mense bewonder word.
immigrant Iemand wat van elders af ’n land binnekom om hom/haar blywend/permanent daar te vestig; inkomende landverhuiser.
klankbaan Die opgeneemde musiek/klanke/ens. van ’n rolprent.
klubs Plek waar daar op musiek gedans word.
leefstyl Hoe iemand leef. Die soort kos wat mens eet, die grootte van die huis waarin jy woon, die klere wat jy aantrek en die aktiwiteite waaraan jy deelneem vorm deel van jy leefstyl.
legendes Iemand wat beroemd was/is en deur baie mense bewonder word.
loodgieterswerk Die waterpypstelsel, dreine en toilette in ʼn gebou.
makkers Medesoldaat; iemand wat saam met jou dinge doen of gedoen het.
miskraam Te vroeë geboorte waarby die fetus (baba) dood is.
naguil Iemand wat baie laat gaan slaap.
omstrede Oor wie of waaroor daar verskillend geoordeel word.
op goeie voet Vriende wees.
paaiemente Elkeen van ’n aantal (gelyke) bedrae wat op vasgestelde tye betaal moet word totdat ’n bepaalde groter som afbetaal is.
petisie ʼn Geskrewe versoek, gewoonlik geteken deur ʼn aantal mense wat vra dat iemand met gesag iets moet doen of verander.
plaat Plat, ronde, gewoonlik swart skyf met ’n gaatjie in die middel waarop musiek en klank gestoor is. Langspeelplaat, grammofoonplaat.
platekontrak Kontrak waarmee ʼn musiekkunstenaar die geleentheid gebied word om ʼn plaat of plate op te neem.
popliedjies Moderne musiek met ’n sterk ritmiese inslag, uitgevoer met elektroniese apparaat en populêr onder veral jonger mense.
resensente Iemand wat ’n boek/kunswerk/opvoering/ens. resenseer/beoordeel.
rhythm and blues Gewilde musiekgenre wat jazz-, gospel- en blues-invloede kombineer, oorspronklik uitgevoer deur Afro-Amerikaanse kunstenaars. Afgekort as R&B.
rock Gewilde musieksoort gekenmerk deur die harde klanke van kitare en tromme; rockmusiek.
romantiese komedie Liefdesverhaal met snaakse tonele.
ruk-en-rol Ruk-en-rol is ’n gewilde musiekgenre wat elemente van ritme en blues (R&B), jazz en country kombineer met die byvoeging van elektriese instrumente. Ruk-en-rol dans is ʼn populêre, wilderige dans wat hierby gedans word, gekenmerk deur rukbewegings van die liggaam.

 

skou ʼn Uitstalling/tentoonstelling van iets op ʼn plek waarheen mense kan kom om daarna te kyk.
sonar ʼn Mediese instrument wat met behulp van ultraklankgolwe vir jou ʼn beeld van die binnekant van jou lyf kan wys.
straler Luukse vliegtuig.
suggestief Wanneer beelde, woorde of aksies (soos dans) seksuele gedagtes by jou opwek.
tjek ’n Stukkie papier waarop kliënte vroeër jare aan hul bank die magtiging of toestemming gegee het om geld uit te betaal.
treffer Iets wat gou gewild/populêr raak, soos ’n nuwe boek/liedjie/fliek/ens.
trefferlyste Lys met gewildste nommers.
Tweede Wêreldoorlog ʼn Wêreldwye militêre konflik wat van 1939 tot 1945 geduur het.
vermoed Om te raai sonder bewyse.
verorber Verslind; baie vinnig eet.
voorbrand te maak Jou voorberei vir iets/voorbereidings tref.
werkersklas Sosiale groep wat bestaan uit mense wat handearbeid verrig of in die nywerheidsektor werk; arbeidersklas.
wittebrood Vakansie vir pasgetroudes.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Volg die Elvis Presley-kanaal op YouTube

Elvis spog met sy danspassies op die maat van “Hound Dog”

Onderneem ’n aanlyn toer van Graceland

Elvis sing “Suspicious Minds” by ’n optrede in Las Vegas in die VSA

Dink jy Justin Butler lyk soos die ware Jakob in die rolprent Elvis (2022)?

Só sou Elvis in ’n duet (’n liedjie wat twee sangers saam sing) met Celine Dion geklink het

Duisende mense het Elvis Presley se staatsbegrafnis twee dae ná sy dood bygewoon. Die destydse Amerikaanse pres. Jimmy Carter het selfs soldate gestuur om die skare te beheer

Gepubliseer op: 2 Augustus 2023 | Bygewerk op 18 Januarie 2024