Vinnige feite

  • Hitler het baie van sirkusse gehou, veral van die akrobate. 1
  • Hy het nooit sy jas uitgetrek nie, al was dit hoe warm. 1
  • Hitler het ’n kat genaamd Schnitzel gehad. 1
  • Hitler het persoonlik die Nazi-party se vlag ontwerp deur die swastika-teken op ’n wit sirkel en rooi agtergrond te sit. 3
  • Aan die einde van sy lewe het hy nie vleis geëet of alkohol gedrink nie. Hy het ook ander Duitsers aangespoor om hul liggame rein te hou van “vuilgoed”, soos byvoorbeeld rook. 3
  • Een van sy bekendste sêgoed was: “As dit kom by oorlog, gaan dit nie oor reg en verkeerd nie, maar wie wen.” 7
Foto: iStock

Adolf Hitler (1889-1945) is vandag bekend as een van die mees brutale diktators (alleenheerser met onbeperkte mag) in die geskiedenis. Hy het die Tweede Wêreldoorlog – die bloedigste oorlog ooit – begin deur Pole in te val. Hy was ook die meesterbrein agter die Joodse volksmoord, ook bekend as die Holocaust.

Grootwordjare

Hitler is op 20 April 1889 in Branau am Inn, ’n klein dorpie in Oostenryk (in daardie stadium deel van die Oostenryks-Hongaarse Ryk) gebore. 1 Hy was die vierde van ses kinders van Alois Hitler, ’n regeringsbeampte, 2 en sy vrou, Klara Polzl. 3 Net een van die ses kinders, naamlik sy suster, Paula, het tot volwassenheid geleef. 1 Die dood van sy jonger broer Edmond, toe Hitler elf was, het hom veral diep geraak. 3

Hitler het het die meeste van sy kinderjare in Linz in Oostenryk gewoon. Hy het nie ’n baie gelukkige kinderlewe gehad nie. 1 Sy pa was glo baie streng en onbetrokke by sy gesin. 2 Hitler was buierig en veglustig, 4 maar was tog bang vir sy pa en het hom gehaat. 5 Hulle het ook vasgesit omdat Hitler ’n kunstenaar wou word en sy pa dit nie wou toelaat nie. 3

Op skool het Hitler nie enige spesiale talent getoon nie. 2 Hy het swak presteer en skool gehaat. Hy is ’n paar keer geskors weens swak gedrag, wat sy verhouding met sy pa verder gestriem het. 6 Sy pa is skielik oorlede toe hy 14 jaar oud was. Al klink dit vreemd, was sy dood vir Hitler ’n groot verligting. 3

Ná sy pa se dood het Hitler se ma hom op 16-jarige ouderdom toegelaat om skool te verlaat. 7 In 1907, toe hy 17 was, het sy ma ná baie lyding aan kanker gesterf. Hitler was platgeslaan. 2

Hitler se ma, Klara.

Die jare in Wene

Ná sy ma se dood het hy na Wene getrek om ’n waterverfkunstenaar te word. Hy het twee keer by die Akademie vir Kunste aansoek gedoen om daar te studeer, maar is albei kere afgekeur. Hy het in armoede verval, en geld gemaak deur poskaarte op straat te verf en te verkoop. 3 Hy was ’n alleenloper, en die jare in Wene het hom net meer asosiaal gemaak. Hy het die diversiteit van Wene – waar daar mense van klomp verskillende lande saam gewoon het – gehaat. 4 Sy anti-Semitisme (Jodehaat) het in hierdie tyd gegroei. 5

 

Bergmeer, 1910, deur Adolf Hitler.
Nog een van Hitler se waterverfwerke, Berge oor Fichtenwald.

Eerste Wêreldoorlog (1914-1918)

Hitler het in 1913, kort voor die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog in Julie 1914, na München in Duitsland verhuis. Hy kon aanvanklik nie by die weermag aangesluit het nie omdat hy fisies te swak was. Hy het egter ’n petisie (versoek-/klagskrif) aan die weermag gerig en is daarna wel toegelaat. 4 Hy het by die Duitse weermag aangesluit, al was hy ’n Oostenrykse burger. 3 Hitler het dus in die oorlog geveg as vrywilliger (iemand wat iets doen omdat hy of sy graag wil), nie dienspligtige (wanneer iemand verplig word om by die weermag aan te sluit) nie. 2

Tydens die Eerste Wêreldoorlog.

Die hoogste weermagrang wat Hitler beklee het, was korporaal. Dit is ’n relatiewe lae rang. 8 Hy het egter twee keer die Ysterkruis-toekenning vir dapperheid ontvang. 1 Hy was ook betrokke by ’n paar groot veldslae, soos die Slag van die Somme. 3 By laasgenoemde is hy beseer in ’n mosterdgas-aanval wat hom tydelik blind gelaat het. 6

Hitler was baie geesdriftig oor die deugde (goeie eienskappe) van die oorlog. Hy het gevoel dit gee ’n doel aan sy lewe en hy het die dissipline en kameraadskap (vriendskap en lojaliteit tussen mense wat saam veg) geniet. 4 Gedurende die oorlog het hy sy lojaliteit finaal van Oostenryk na Duitsland verskuif en ’n vurige Duitse nasionalis (liefde vir jou land en die mening dat dit beter as enige ander land is) geword. 1

Hitler was tydens die Eerste Wêreldoorlog betrokke by die Slag van Somme.

Hitler se vroeë politieke loopbaan

Toe Duitsland in 1918 die oorlog verloor het, was Hitler verpletter. 3 Die volgende skok het gekom met die aankondiging van die bepalings van die Vredesverdrag van Versailles. Duitsland moes volle verantwoordelikheid aanvaar vir die uitbreek van die oorlog, en op grond daarvan is Duitse grondgebied (waarop Duitsers gewoon het) aan lande soos Pole en Tsjeggo-Slowakye (vandag die Tjeggiese Republiek en Slowakye) gegee. Daar is ook beperkings op die Duitse weermag geplaas en hulle moes skadevergoeding (vergoeding in geld vir skade wat gely is) aan die seëvierende lande soos Brittanje en Frankryk betaal. 1

Soos die meeste Duitsers het Hitler Versailles (soos hulle in kort na die verdrag verwys het) verafsku en wraak gesweer. 4 Hy het geglo dat Duitsland nie die oorlog verloor het nie, maar deur demokrate, Jode en kommuniste in Duitsland verloën (verraai) is. 3 Sy persoonlike doelstellings het ná Versailles al hoe duideliker geword: Versailles moes vernietig word, Duitsland moes weer herstel word na die magtige ryk wat dit voor die oorlog was, en die skuldiges – veral die Jode en die kommuniste – moes gestraf word. 5

Ná die oorlog het Hitler vir die weermag in München gewerk, en in September 1919 het hy as geheime agent by ’n klein politieke party, die Duitse Werkersparty, aangesluit. Hy het só baie van hul idees gehou dat hy die weermag verlaat het om voltyds by hulle aan te sluit. Kort voor lank was hy in beheer van die party se propaganda (valse of net gedeeltelik korrekte inligting wat deur ’n politieke groep gebruik word om mense met hulle te laat saamstem). 4

Die party se naam het in 1920 verander na die Nasionaal-Sosialistiese Duitse Werkersparty, of Nazi-party in kort. 6 In 1921 het Hitler die Führer (Duitse woord vir leier) van die Nazi’s geword. Hy was ’n uitstekende openbare spreker. Hy het mense met sy toesprake geboei en hulle sou enigiets glo wat hy sê. 1

Hitler het die Sturmabteilung (SA), wat ook die Bruinhemde (of in Engels die “Storm Troopers”) genoem is, gestig. Dit was die Nazi’s se persoonlike weermag, en hulle het die Nazi’s se vergaderings beskerm en lede van ander politieke partye geteister. Die SA se leier was Ernst Röhm. 3

Adolf Hitler op die balkon van die Klaipėda-teatergebou in 1939. Hitler was ‘n uitstekende spreker.

Die München Putsch, November 1923

Die onstabiele situasie in Duitsland het die Nazi-party vinnig laat groei. Teen die einde van 1923 het Hitler geglo dat hy genoeg ondersteuning gehad het om die regering oor te neem. 8

Op 9 November 1923 het hy in München ’n poging tot ’n staatsgreep (om die regering van ’n land met geweld oor te neem) van stapel gestuur, wat vandag bekend staan as die München- of Biersaal-Putsch (putsch is die Duitse woord vir staatsgreep). 3

Dit was egter ’n mislukking, en al die Nazi-leiers is in hegtenis geneem. 2 Hitler is tot vyf jaar tronkstraf gevonnis. Hy het egter net 9 maande daarvan uitgedien. 7

Al het dit misluk, het die München Putsch ’n paar belangrike gevolge gehad. Hitler het vir die eerste keer landwyd bekend geword. 2 Hy het besef dat hy nie met geweld die regering kan oorneem nie, en dit dus wettiglik moes doen – met ander woorde hy moes ’n verkiesing wen. 4

Hitler het ook in die tronk sy outobiografie, Mein Kampf (My Stryd), geskryf, waarin hy al sy idees en oortuigings neergeskryf het. Die hoofidee is dat daar ’n hiërargie (stelsel waar iets volgens belangrikheid gerangskik word) vir rassegroepe was, met die Ariese ras bo en die Jode heel onder. Hitler het hulle as parasiete (lui mense wat nie werk nie en van ander afhanklik is) beskou. Sy ander sterk idee was dat die Nazi’s se grootste vyand kommunisme (‘n politieke stelsel waar die regering die ekonomie beheer en niemand hul eie eiendom mag besit nie) was. 4

Mein Kampf het ’n topverkoper geword en is uiteindelik in 11 tale vertaal. 3

Hitler se opkoms as kanselier

Die Nazi’s het tussen 1923 en 1930 gesukkel en min mense het vir hulle gestem. Duitsland het ’n opbloei (om goed te ontwikkel en suksesvol te word) beleef en die meeste Duitsers was tevrede met die regering van die tyd, die Weimar-regering. Ná sy tronkstraf is Hitler verbied om openbare toesprake te lewer, wat sy invloed laat afneem het. 4

Die Groot Depressie van die vroeë 1930’s was ’n keerpunt in Duitsland se geskiedenis. 1 Die Duitse ekonomie het ineengestort en dit het tot grootskaalse werkloosheid en armoede gelei. Die Weimar-regering kon nie die probleme oplos nie en die Duitse burgers het na ’n nuwe party begin soek om hulle te lei. 3

Die Nazi’s het dit reggekry om hul idees al wyer uit te basuin (orals rondvertel) en al hoe meer mense het vir hulle begin stem. 4 Teen 1932 was die Nazi’s een van die grootste politieke partye in Duitsland. 2

Duitsland se president, Paul von Hindenburg, het in 1933 vir Hitler die pos van kanselier aangebied. Die kanselier (eerste minister) was die regeringshoof, met ander woorde die hoof van die kabinet (ministers van die regering). Hindenburg het gedink dat die kabinet Hitler sou keer om té radikale veranderings te maak. 4

Paul von Hindenburg, Duitse president, het die pos van kanselier in 1933 vir Hitler aangebied.

Van kanselier na diktator

Hitler was nou die kanselier, maar hy het nog nie al die mag gehad nie. Daar was min Nazi’s in die kabinet, en die Nazi’s was nie die grootste politieke party in Duitsland se parlement, oftewel die Reichstag (die liggaam wat wette maak) nie, en kon dus nie die wette maak wat Hitler wou hê nie. 4

Hy het begin planne maak om van sy vyande ontslae te raak. In Februarie 1933 was daar ’n brand by die Reichstag, Duitsland se parlementsgebou. Hitler het sonder enige bewyse die kommuniste vir die brand geblameer, en vervolgens is kommuniste in hegtenis geneem of verban (gedwing om Duitsland te verlaat en op ’n ander plek te gaan woon). 4 Daarna het hy die Reichstag oortuig om die Magtigingswet aan te neem. Hierdie wet het hom toegelaat om wette te maak sonder om die Reichstag te raadpleeg, 5 met ander woorde hy kon die grondwet ignoreer. 3 Hitler het die Magtigingswet gebruik om alle nie-Nazi partye te verban of vernietig. 4

Hitler het die Reichskonkordaat met die Vatikaan gesluit. Dit was ’n ooreenkoms dat die Nazi’s uit die Rooms-Katolieke Kerk se sake sou bly solank die kerk uit die Nazi’s se sake sou bly. Biskoppe moes ook ’n eed (belofte waar ’n mens God as getuie aanroep) van getrouheid aan Hitler sweer. 4

Volgende moes Hitler kies tussen die SA en die Duitse weermag. Die SA het tienduisende lede gehad en die generaals in die weermag het gevoel die SA het te veel mag. Hitler het die weermag gekies. In die sogenaamde Nag van Lang Messe in 1934 het Hitler honderde SA-lede, insluitende die leier, Röhm, summier (onmiddelik) laat teregstel (met die dood gestraf). Die weermag het hierna hul steun aan Hitler beloof, en alle lede moes ’n eed van getrouheid aan Hitler sweer. 4

Teen Julie 1934 was die Nazi’s die enigste party. 3 Hitler se opponente was dood, in konsentrasiekampe, of só deur die polisie geteister dat hulle geen invloed gehad het nie. 6

In 1934 het die kabinet ’n wet aangeneem wat die pos van president en kanselier gekombineer het. Hitler het die titel behou wat hy gebruik het vir Nazi-party: die Führer. 3

Hitler se binnelandse beleid

Hitler het nie regtig Duitsland se binnelandse sake self beheer nie, maar dié verantwoordelikheid oorgelaat aan ander Nazi-leiers. Die twee hoofpersone was Joseph Goebbels, wat verantwoordelik was vir propaganda, en Heinrich Himmler, wat die polisiestaat (land waar mense onderdruk word en die polisie en geheime polisie wye magte het) geskep het sodat die Nazi’s die bevolking kon beheer. 8

Hitler was veral geïnteresseerd in die Jode-kwessie en Duitsland se buitelandse beleid. 4

Die Jode

Niemand is presies seker hoekom Hitler die Jode so gehaat het en wou uitwis nie. 1 Soos baie mense was Hitler voor die oorlog alreeds anti-semities, en hy het moontlik geglo dit was die Jode se skuld dat sy kunsloopbaan in Oostenryk onsuksesvol was. Hy het ná die Eerste Wêreldoorlog die Jode verantwoordelik gehou vir Duitsland se vernedering. Hy het ook kommunisme gehaat en geglo kommunisme was ’n Joodse sameswering (mense wat in die geheim saamwerk om iets onwettig te doen). 2

Die Nazi’s het wette gemaak om teen Jode te diskrimineer. Jode is byvoorbeeld verbied om vir die regering te werk, en is toegang tot sekere skole en universiteite geweier. Van 1935 af is die sogenaamde Nuremburg-wette aanvaar, 5 wat onder meer Jode verbied het om met nie-Jode te trou, en Jode van hul Duitse burgerskap ontneem het.

In 1938 het die Nazi’s Kristallnacht (Nag van gebreekte glas) aangevoor, waartydens sinagoges asook Joodse huise, skole en besighede gevandaliseer of vernietig is. Omtrent 100 Jode is vermoor, en duisende is hierna na konsentrasiekampe gestuur. 3

Teen 1941, toe die Tweede Wêreldoorlog reeds aan die gang was, het die die Nazi’s begin met die “Finale Oplossing” – so genoem omdat dit die Joodse “probleem” finaal sou oplos: die uitwissing van alle Joodse mans, vroue en kinders in Duitse gebiede. 8

Jode in Duitsland en lande wat deur die Nazi’s beset is, spesifiek Pole en dele van die voormalige Sowjetunie (vandag is dit Rusland), 4 is gedurende die Tweede Wêreldoorlog na konsentrasiekampe gestuur, sommige wat spesifiek gebou is as doods- of uitwissingskampe, soos Auschwitz-Birkenau, Treblinka, Sobibor en Belzec. 3

Daar is uiteindelik na raming sowat 6 miljoen Jode as gevolg van die Holocaust dood. 1

Die Radauti Holocaust-gedenkteken in die Holon-begraafplaas in Israel.

Daar is ook 5 miljoen mense van ander groepe doodgemaak, soos nie-Joodse Pole, kommuniste, homoseksuele mense en sigeuners (voorheen “gypsies”, vandag “Romani”-mense). Voorts is baie mense in die kampe gemartel (om iemand moedswillig baie seer te maak), gedwing om te werk, of is gebruik in grusame en pynlike mediese eksperimente. Die Nazi’s het ook ’n genadedoodprogram vir gestremde mense gehad. 3

Hoewel ander Nazi’s deelgeneem het en ook verantwoordelik was, soos Himmler, was Hitler die dryfveer (oorsaak) van die Joodse volksmoord. 7

Jode is op treine geboender en na konsentrasiekampe vervoer.

Hitler se buitelandse beleid

Hitler se hoofdoelwitte in sy buitelandse beleid was om alle Duitse mense, soos dié wat by Versailles van Duitsland uitgesluit is, te verenig. Hy wou ook meer lewensruimte (in Duits genoem Lebensraum) vir Duitsers bekom deur ooswaarts uit te brei en Pole, Oekraïne en die Sowjetunie te oorwin, en hy wou kommunisme verslaan. 4

Om dit te bereik, het hy in 1935 diensplig ingestel, in Maart 1936 die gebied weerskante van die Rynrivier oftewel die Rynland hermilitariseer (voor te berei vir militêre optrede), en bondgenootskappe met ander diktatorskappe, soos Italië en Japan, gesluit. In 1938 het hy Oostenryk oorgeneem en dié land gedwing om met Duitsland te verenig in die sogenaamde “Anschluss” of aansluiting. Daarna het hy sy aandag op Sudeteland gefokus. Dit is die oostelike deel van Tsjeggo-Slowakye, grondgebied waarop Duitsers gewoon het en wat voor die oorlog aan Duitsland behoort het. 4

Tot dusver het die leiers van die magtigste state in Europa, naamlik Brittanje en Frankryk, Hitler uitgelos. Hulle het ’n versoeningsbeleid (“policy of appeasement”) gevolg en sodoende aan Hitler se eise toegegee omdat hulle oorlog wou vermy, en boonop skuldig gevoel het oor die Verdrag van Versailles. 4

Hitler het in September 1938 die leiers van Brittanje, Frankryk en Italië in München ontmoet en belowe dat hy net Sudeteland wou hê, en dat dit die einde van sy grondgebiedeise was. Hulle het hom geglo en die vier lande het die München-ooreenkoms geteken, waarvolgens Hitler beheer oor Sudeteland gekry het. 1

Hitler was egter nié van plan om daar te stop nie. In Maart 1939 het hy ook die res van Tsjeggo-Slowakye oorgeneem. Dit was vir Frankryk en Brittanje duidelik dat Hitler nie gekeer kan word nie, en dat Pole volgende was. Hulle het Pole belowe dat hulle die land sou ondersteun indien Duitsland Pole sou inval. 4

Op 23 Augustus 1939 het Hitler ’n opskudding veroorsaak toe hy ’n nie-aggressie pakt (formele verdrag) met die Sowjetunie onderteken het. Dit het vir Hitler beteken dat hy nie gelyktydig oorlog sou moes voer aan sy westekant en sy oostekant nie, want die Sowjetunie sou hom nie aanval nie. Ná die München-ooreenkoms het Hitler geglo dat Brittanje en Frankryk te swak was om teen hom op te staan. Hy was dus nou gereed vir sy volgende stap. 4

Op 1 September 1939 het Duitsland Pole ingeval. Twee dae later het Brittanje en Frankryk teen Duitsland oorlog verklaar. Die Tweede Wêreldoorlog het begin. 4

Die Tweede Wêreldoorlog

Aan die een kant was die Spilmoondhede: Duitsland, Italië en Japan. Aan die ander kant was die Geallieërdes: Brittanje en Frankryk. 1

Hitler se weermag het aanvanklik uitstekend gedoen. Hulle het Frankryk in vier weke oorwin in wat as die blitsoorlog (“Blitzkrieg”) bekend staan. Duitsland het gou groot dele van Europa oorgeneem, onder meer België, Denemarke, Nederland en Noorweë. 1

Op 2 Junie 1941 het Duitsland die Sowjetunie binnegeval in ’n veldtog wat bekend gestaan het as Operasie Barbarossa. 8 Hitler wou kommunisme in die Sowjetunie uitroei. Ten spyte van goeie vordering kon hulle egter nie die Russe oorwin nie. In Desember het Japan die VSA aangeval, waarna Hitler ook teen die VSA oorlog verklaar het. 1

Hitler het dus nou geveg teen ’n alliansie wat Brittanje, die Sowjetunie en die VSA ingesluit het.

Teen die einde van 1942 het die oorlog teen hom gedraai. 4 Die Geallieërdes het op 6 Junie 1944 die D-dag-landing op die strande van Normandië in Frankryk uitgevoer. Frankryk is gou bevry, en teen Maart 1945 was die Duitse weermag verslaan. 1

Hitler se dood

In die laaste maande van sy bewind, het Hitler al hoe meer paranoïes (abnormaal wantrouig in ander mense) geword en homself van die wêreld afgesny. 7 Hy het homself en sy vertrouelinge in ’n bunker (sterk verdedigingstelling in die grond of ’n berg) geïsoleer. Toe hy uiteindelik besef dat Duitsland die oorlog sou verloor, het hy met sy jare lange metgesel, Eva Braun, getrou. 4

Op 30 April het hulle selfdood gepleeg: Hitler het homself geskiet en Braun het gif gedrink. 3 Hul liggame is daarna verbrand. 4

Persoonlike lewe

Hitler het dwarsdeur sy lewe ingewikkelde verhoudings met vroue gehad. Sy eerste intieme verhouding was met Geli Raubal, die dogter van sy halfsuster. Daar is nie sekerheid daaroor nie, maar dis moontlik dat Hitler se besitlikheid en jaloesie haar in 1931 tot selfdood gedryf het. Hitler was ontroosbaar. 4

In later jare was Eva Braun, ’n winkelklerk van München, sy metgesel. Hitler het haar nie toegelaat om saam met hom in die openbaar te verskyn nie en wou ook nie met haar trou nie. As blyk vir haar lojaliteit, het hy die dag voor hul selfdood wel met haar getrou. 4

Hitler en Eva Braun.

Het Hitler enige goeie eienskappe gehad?

Hitler was ’n ongeëwenaarde openbare spreker. Hy het verstaan hoe hy met mense moes praat om hulle te inspireer. Hy het boonop ’n uitstekende geheue gehad, en kon in toesprake inligting vinnig onthou en weergee. Selfs sy vyande het gepraat van hoe indrukwekkend sy toesprake was. 6

Hitler het ’n uitstekende aanvoeling vir diplomasie en buitelandse beleid gehad. 4

Hitler moet gesien word as een van die doeltreffendste en magtigste, maar ook dodelikste leiers van die twintigste eeu. 8 Dit het uiteindelik ’n alliansie van die wêreld se magtigste lande – die VSA, die Sowjetunie en Brittanje – gevat om hom te oorwin. 7

Woordbank

anti-Semitisme Om Joodse mense te haat.
bondgenootskappe Vereniging of verbond tussen mense/volke, wat dan saamwerk.
bunker Sterk verdedigingstelling in die grond of in ’n berg.
deugde Goeie eienskap.
dienspligtige Verpligte krygsdiens vir mans wat vir ’n bepaalde tyd weermagopleiding ontvang en dan moet veg.
diktators ’n Alleenheerser met onbeperkte mag.
dryfveer Die oorsaak/rede wat iemand iets laat doen.
eed ’n Verklaring waarby ’n mens God as getuie aanroep; ‘n baie ernstige belofte.
grondwet Die reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers oor beskik.
hiërargie ’n Stelsel of organisasie waarin mense of dinge volgens hul belangrikheid gerangskik word.
Holocaust Die grootskaalse uitwissing van of moord op mense van Joodse herkoms, veral in Duitsland tydens die Tweede Wêreldoorlog.
kabinet Ministers van die regering.
kameraadskap Vriendskap en lojaliteit tussen mense wat saam veg.
kommunisme ’n Politieke stelsel waarin die regering die produksie en vervaardiging van alle voedsel en goedere beheer en niemand sy/haar eie eiendom (mag) besit nie.
gemartel Iemand moedswillig baie seermaak.
nasionalis Liefde vir jou eie land en die mening dat dit beter as enige ander land is.
opbloei Goed ontwikkel en kragtig/suksesvol word.
pakt Formele ooreenkoms, bv. tussen regerings.
paranoïes Abnormale neiging om ander te wantrou.
parasiete ’n Lui mens wat nie werk nie, maar van ander afhanklik is.
parlement ’n Liggaam in ’n land met die hoogste wetgewende gesag.
polisiestaat Land waar mense onderuk word en die polisie en geheime polisie wye magte het.
propaganda Inligting wat vals is of net een kant van die storie vertel, gebruik deur ’n regering of politieke groep om mense met hulle te laat saamstem.
sameswering Wanneer mense in die geheim saamwerk om iets negatiefs/verkeerds/onwettigs te doen, byvoorbeeld om die opposisie te ondermyn of ’n regering omver te werp.
skadevergoeding Vergoeding in geld vir skade wat gely is.
staatsgreep Wanneer die regering van ’n land met geweld oorgeneem word.
summier Onmiddellik of dadelik.
teregstel Met die dood te straf.
uit te basuin Oral (luid) rondvertel.
verban Iemand dwing om ’n land/plek vir altyd te verlaat en op ’n ander plek te gaan woon.
verloën Iemand/iets verraai; aan iemand/iets ontrou wees.
vrywilliger Iemand wat iets doen omdat hy of sy graag wil en nie gedwing word om dit te doen nie. 9

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Kort biografie van Adolf Hitler

Die Tweede Wêreldoorlog

Feite oor Hitler

Hoekom was die Verdrag van Versailles so ’n groot skok vir Duitsland?

Definisie van anti-Semitisme

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 30 Mei 2023 | Bygewerk op 12 Februarie 2024