Vinnige feite

  • Die rickettsiabakterie is na die Amerikaanse patoloog Howard Ricketts genoem. Hy het van 1871 tot 1910 geleef en die bakterieë ontdek. Hy is uiteindelik self aan tifus
  • Rotsgebergtevlekkoors is ook ʼn vorm van tifus en word deur ʼn spesifieke tipe bosluis oorgedra. Dit het die eerste keer in Amerika se bekende Rotsgebergte (Rocky Mountains) voorgekom. 5
  • Epidemiese tifus is al tydens die Middeleeue opgeteken. Daar was groot epidemies in die sewentiende, agtiende en negentiende eeue. Daar was veral groot uitbrekings tydens die Napoleontiese oorloë.
  • Daar is ná 1909 groot vooruitgang gemaak om die siekte te bestry. Die Franse dokter Charles-Jules-Henri Nicolle het gedemonstreer hoe tifus van mens tot mens deur die luis oorgedra word. Nicolle het later ʼn Nobelprys vir sy ontdekking gewen.
  • Tifus het in die 20ste eeu afgeneem en omtrent uit Europa verdwyn toe lewensomstandighede en higiëne verbeter het.
  • Die siekte het egter steeds in Oos-Europa, die Midde-Ooste en dele van Afrika voorgekom.
  • Teen die einde van die Eerste Wêreldoorlog het tifus tot miljoene sterftes in Rusland, Pole en Roemenië gelei.
  • Tifus het ook tot talle sterftes tydens die Tweede Wêreldoorlog gelei. Die siektes het veral in die Duitse konsentrasiekampe versprei, waar daar baie swak lewensomstandighede geheers het.
  • Die siekte kom vandag omtrent glad nie in die ontwikkelde wêreld voor nie, maar dit kom wel in Suid-Amerika, Afrika en Asië voor.
  • ʼn Entstof teen tifus is tydens die Tweede Wêreldoorlog ontwikkel. Soos wat entstowwe gewoonlik werk, kan jy steeds tifus ondanks dit opdoen, maar dit bied wel algehele beskerming teen die dood.
  • Die ontwikkeling van ʼn kragtige insekweerder dichloordifenieltrichlooretaan (DDT) in die middel van die twintigste eeu het daartoe gelei dat luise se bevolking verminder kon word. Dit is egter sedertdien weens ekologiese redes verbied, maar daar is ander chemikalieë wat dieselfde werk as dit doen.
  • Vlooie en luise is voorbeelde van ektoparasiet Ektoparasiete bly buite hul gasheer se liggaam en nie binne-in soos endoparasiete nie.
Foto: iStock

Wat het vlooie, luise, myte en vlieë in gemeen? Hulle almal kan die draers van bakterieë wees wat die mens baie, baie siek kan maak. Tifus is die naam van verskeie oordraagbare siektes wat deur piepklein lewendige dinge genaamd bakterieë veroorsaak word. Bakterieë is klein organismes wat infeksie en besmetlike siektes veroorsaak. Die simptome van tifus sluit hoofpyn, koors en ʼn veluitslag in. 1

Vlooie, luise, myte en vlieë dra die rickettsia-bakterieë wat tifus kan veroorsaak. Rickettsia is organismes wat ernstige siektes by mense en diere kan veroorsaak, soos tifus en bosluisbytkoors. Dié insekte kan mense of diere byt en hulle só besmet of die siekte deur hul ontlasting versprei. Die belangrikste en bekendste vorm van tifus is epidemiese tifus wat deur luise oorgedra word. Die tweede bekendste een is endemiese tifus. Dan is daar ook bostifus of tsutsugamushisiekte (deur myte oorgedra) en bosluistifus wat natuurlik deur bosluise oorgedra word. 2

Moderne higiëne en goeie sanitasie het meestal tifus in sy spoor gestuit, maar dit word vandag steeds deur besmette diere oorgedra of daar waar swak sanitasie voorkom.

Het jy geweet?

ʼn Mens kan maklik verward raak tussen tifus (typhus in Engels) en ingewandskoors of buiktifus (typhoid in Engels). Dit is egter nie dieselfde siekte nie. Tifus word opgedoen deur besmetting via ʼn bakterie wat deur insekte oorgedra word, terwyl ingewandskoors deur bakterieë in kos oorgedra kan word. 3

Die twee hooftipes

Epidemiese tifus is ook al kampkoors, tronkkoors of oorlogkoors genoem.

Dit word deur die Rickettsia prowazekii-bakterie veroorsaak en word deur die liggaamsluis, Pediculus humanus, oorgedra. Luise kry die bakterie as hulle iemand met die siekte byt, want die lyer se bloed bevat die bakterie. Soos wat die luis weer iemand anders byt, word sy ontlasting op die insekbyt agtergelaat. As die persoon wat gebyt is, die insekbyt krap dan druk hy as’t ware daardie besmette ontlasting in die wond in en word só met die siekte besmet. Die siekte word gewoonlik in plekke soos tronke gevind wat oorbevolk is en waar daar swak lewensomstandighede heers. Daar is ook een epidemiese tifus wat deur besmette eekhorings oorgedra word, maar dit is baie seldsaam (skaars). 2

Endemiese of muis- of vlooitifus (murine typhus) word deur vlooie oorgedra. Dit word deur die bakterie Rickettsia typhi veroorsaak, wat gewoonlik vanaf vlooie na muise en rotte oorgedra word. Mense kry dit deur in aanraking met die muis- of rotontlasting te kom.

Die siekte duur gewoonlik so lank soos epidemiese tifus, maar dis matiger en daar kom minder komplikasies voor. Daar is ook aansienlik minder sterfgevalle as met epidemiese tifus.

Daar is ook die sogenaamde bostifus, wat deur myte oorgedra word, en bosluistifus, wat natuurlik deur bosluise oorgedra word. 2

Simptome

Tifus word in die algemeen met antibiotika behandel. As ʼn mens een van hierdie tipes opdoen, sal jy tipies ongeveer tien dae tot twee weke ná die besmetting begin siek word.

Simptome, soos kouekoors, koors, hoofpyn en spierpyne kan voorkom. ʼn Veluitslag verskyn gewoonlik eers nadat die ander simptome ervaar is.

As ʼn mens endemiese tifus het, kan jy dalk ook ʼn gehoes, naarheid, maagpyn of aptytverlies ervaar. 4

Lyers van epidemiese tifus kan ook ʼn gehoes, naarheid, braking, verwarring en vlak asemhaling ervaar.

Lyers van bostifus kan ook verwarring ervaar, en hul limfkliere kan opswel.

Hoe kry ʼn mens dit?

Insekte en ander parasiete versprei tifus as hulle mense byt en die bakterieë in ontlasting op die vel agterlaat. Soos voorheen genoem, kan ʼn mens as jy die jeukende bytplek krap, die besmette ontlasting in die oop wond invryf en só besmet word. Die tifusbakterie word dan in die bloedstroom ingeneem. Met bostifus werk dit effens anders. ʼn Besmette myt kan ʼn mens byt en dan word jy dadelik besmet, selfs al krap jy nie die bytplek nie. 3

Diagnose

ʼn Bloedtoets sal die bakterie kan opspoor, maar dit vat soms weke om uitslae terug te kry. ʼn Dokter wat vermoed dat iemand aan tifus ly, sal eerder dadelik vir ʼn pasiënt antibiotika voorskryf om die siekte in sy spore te stuit. 3

Komplikasies

As tifus nie behandel word nie, kan dit ernstige gevolge hê en selfs dodelik wees.

Ernstige nagevolge sluit die volgende in:

  • Brein- en rugmurginflammasie
  • ʼn Vergrote milt
  • Inflammasie van die hartspier of -klep
  • Interne bloeding
  • Skade aan die niere of lewer
  • Lae bloeddruk
  • Septiese skok
  • Longontsteking 3

Hoe kan ʼn mens dit voorkom?

  • Basiese higiëne is belangrik, veral in oorbevolkte gebiede. Bad gereeld, en trek skoon klere aan.
  • Bly weg van rotte of muise wat tifus kan dra. Moenie kosafval in ʼn erf los wat hulle kan lok nie.
  • Spuit troeteldiere met produkte wat vlooie en myte beheer.
  • As jy na plekke reis waar tifus voorkom, is ʼn insekweerder baie belangrik. 3

Woordbank

bakterie ʼn Klein organisme wat infeksie en besmetlike siektes veroorsaak.
parasiet ʼn Organisme wat op ʼn ander organisme teer.
rickettsia Organismes wat ernstige siektes by mens en dier kan veroorsaak, soos tifus en bosluisbytkoors.
sanitasie Die verwydering van riool- en ander afval van woonhuise en woongebiede.
seldsaam Raar; kom nie baie voor nie.
simptome Verskynsel of teken van ʼn siekte.
tifus Die benaming vir verskillende besmetlike siektes wat met hoë koors, bewussynsverlies en delirium gepaardgaan en deur insekte versprei word. 6

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor tifus

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer oor tifus

Wat is tifus?

Leer meer oor bakterieë en virusse

Meer oor parasiete (ook ektoparasiete)

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 7 Februarie 2023 | Bygewerk op 15 November 2023