Vinnige feite

  • Parks was nie die eerste vrou wat geweier het om haar sitplek op ’n bus op te gee nie. Vroue wat dit voor haar gedoen het, sluit Claudette Colvin, 1 Sarah Louise Keys, Irene Morgan, 2 en Mary Louise Smith in. 7
  • Parks het voorheen met dieselfde busbestuurder, James Blake, vasgesit. Sy het op een koue dag geweier om uit te klim net om weer by die agterste deur in te klim. Op daardie dag het sy egter besluit om eerder die bus te verlaat en op ’n ander bus te ry. 3
  • Amerikaanse state soos Kalifornië, Missouri, Ohio en Oregon vier jaarliks Rosa Parks-dag. Daar is ook snelweë in Missouri, Michigan en Pennsylvania na haar vernoem. 6
  • In 1998 het die hiphop groep OutKast ’n liedjie getiteld “Rosa Parks” geskryf. Sy het hulle hof toe geneem omdat hulle haar naam sonder toestemming gebruik het. Die saak het tot in 2005 aangesleep, toe die saak buite die hof geskik is. 1

Die suidelike state van die Verenigde State van Amerika (VSA) was in die 1950’s gesegregeer. Dit beteken daar was wette wat wit en swart mense apart gehou het, en teen swart mense gediskrimineer het. Rosa Parks, ’n swart vrou, het een middag in 1955 geweier om haar sitplek op die bus vir wit ’n persoon op te gee. Hierdie aksie was ’n keerpunt in die Beweging vir Swart Burgerregte in die VSA.

Grootwordjare

Rosa Louise McCauley is op 4 Februarie 1913 in Tuskegee, Alabama, gebore. Haar ouers was James en Leona McCauley. 1 Haar pa was ’n timmerman, 2 en haar ma ’n onderwyseres. 3

Sy het saam met haar ma, oupa en ouma op ’n plaas in Pine Level, Alabama, grootgeword. Beide haar oupa en ouma was voorheen slawe en voorstanders van gelyke regte vir wit en swart mense. 1

As kind het Rosa chroniese mangelontsteking gehad wat haar soms bedlêend gelaat het. Haar mangels is uiteindelik uitgehaal toe sy in graad 5 was. Dit het haar tydelik blind gelaat, maar sy het herstel. 1

Leona McCauley het opvoeding as uiters belangrik beskou, en vroeg al vir Rosa leer lees. Die skole in Alabama was gesegregeer, en die geriewe by swart skole was swak. Daar was byvoorbeeld nie genoeg skryfbehoeftes nie. Die swart studente moes skool toe loop, terwyl die regering vervoer aan wit student verskaf het. 1 Rosa het op skool begin besef dat daar verskillende standaarde vir swart en wit kinders was. 2

In Pine Level was daar geen skool vir swart kinders ná graad ses nie. Sy is dus op 11-jarige ouderdom na die Industrial School for Girls in Montgomery, die hoofstad van Alabama. 1

In graad 11 moes Rosa die skool verlaat om na haar siek ouma, en kort daarna ook haar chroniese siek ma, om te sien. 3

Rosa het hierna verskeie werke gedoen: sy was ’n assistent in ’n hospitaal, huiswerker, 2 en fabriekswerker. Sy het dit egter tussendeur reggekry om in 1933 matriek te voltooi. Dit was ’n noemenswaardige prestasie. Agt uit elke tien swart kinders in die suidelike state van die VSA in die 1950’s het nooit eens hoërskool bygewoon nie! 1

Huwelik

Rosa het in 1932, toe sy 19 jaar oud was, met Raymond Parks, ’n barbier (haarkapper) getrou. Hulle het nooit kinders gehad nie. 1 Raymond het haar lewenslank ondersteun, beginnende by haar poging om matriek te voltooi. 3

Rassediskriminasie en aktivisme

Die segregasie in die VSA het in die volksmond as Jim Crow bekend gestaan. Jim Crow was ’n reeks wette wat behuising, opvoeding en vervoer gesegregeer het. Die geriewe en geleenthede wat vir swart mense beskikbaar was, was van laer gehalte as dié vir wit mense. 3

Raymond was lid van die National Association for the Advancement of Colored People (NAACP), 1 ’n organisasie wat segregasie en diskriminasie beveg het. 4 Raymond was die eerste politieke aktivis wat Rosa ooit ontmoet het. 5

Uit vrees vir haar veiligheid het Raymond eers probeer om haar te laat afsien van aktivisme. Haar betrokkenheid het egter stadig maar seker toegeneem, en in 1943 het sy by die Montgomery-tak van die NAACP aangesluit. 3

Sy het gou opgang gemaak. Omdat sy die enigste vroulike lid was, het sy E.D. Nixon, die president van die Montgomery-tak, se sekretaresse geword.

Teen 1948 is Parks bevorder tot sekretaresse van die Alabama-tak. Sy moes egter kort daarna haar lidmaatskap opgee om na haar siek moeder om te sien. Teen 1952 het sy weer by die Montgomery-tak betrokke geraak. 5

Parks se protes

In Augustus 1955 is baie Amerikaners, insluitende Parks, deur die Emmett Till-voorval geskok. Hy was ’n swart tiener wat ontvoer, gemartel en gelynch is, omdat hy daarvan beskuldig is dat hy onvanpaste opmerkings teenoor ’n wit vrou gemaak het. 1

Op 27 November 1955 het Parks die nuus gehoor dat die mans wat Till vermoor het, vrygespreek is. 6 Vier dae later, op 1 Desember 1955, het sy ná werk op die bus huis toe gery. 3 Sy het in die voorste ry vir swart passasiers gesit. 1

In Montgomery was die busse gesegregeer. Wit en swart passasiers het op dieselfde bus gery, maar die busbestuurders het die bus in twee gedeel. Die wit passasiers het voor gesit en die swart passasiers agter. Die swart passasiers moes voor inklim, betaal, weer uitklim en dan by die agterste deur inklim. Die busbestuurders kon besluit waar die verdeling moes wees. 1

Die plek waar Rosa vir die bus gewag het.

Die afdeling vir wit passasiers op Park se bus daardie middag het vol geword. Die busbestuurder het opgestaan om die verdeling een ry agtertoe te skuif. Hy het vir Parks en die ander swart passasiers gevra om te skuif. 1

Parks het op daardie oomblik besluit om nie te skuif nie. Sy het later gesê dat die “vasberadenheid haar liggaam soos ’n kombers op ’n wintersaand bedek het”. 1 In haar outobiografie het sy geskryf: “Mense sê altyd dat ek nie my stoel wou opgee nie omdat ek moeg was, maar dis nie waar nie. Ek was nie moeg, of nie moeër as wat ek gewoonlik aan die einde van ’n werksdag was nie. Ek was nie oud nie, hoewel sommige mense dink ek was. Ek was 42. Nee, die enigste moeg wat ek was, was moeg daarvoor om in te gee.” 6

Die busbestuurder het vir haar gevra: “Hoekom staan jy nie op nie?” waarop sy geantwoord het: “Ek dink nie ek hoef op te staan nie.”

Die polisie het haar in hegtenis geneem en aangekla van wetsoortreding. Sy is dieselfde aand op borgtog vrygelaat. 1 Die nuus oor haar inhegtenisneming het vinnig versprei. Toe sy by die tronk uitgestap het, het E.D. Nixon haar saam met haar man ingewag. 3

Parks se vingerafdrukke word geneem.

Die Montgomery-busboikot

Nixon het al vir jare gehoop dat ’n dapper swart mens met onbetwisbare eerlikheid en integriteit hulself teen die wette sou verset. Hy wou dié persoon gebruik om die eiser in ’n hofsaak te wees. Die hofsaak moes toets of die segregasiewette geldig was. 3

Parks was nie die eerste vrou wat geweier het om haar sitplek in ’n bus op te gee nie. Die NAACP-leiers het egter gevoel dat sy die perfekte kandidaat was, juis omdat sy so ’n goeie reputasie gehad het. 2

Dieselfde aand wat Parks op borgtog vrygelaat is, het sy en Raymond ingestem. 3

Dit was egter net die eerste deel van Nixon se plan.

Die tweede was om swart mense te vra om op 5 Desember – die dag van Parks se hofsaak – publieke busse te boikot. Mense is aangemoedig om tuis te bly óf werk toe te stap. Die nuus is versprei deur advertensies in koerante te plaas en pamflette uit te deel. 1 Pamflette is byvoorbeeld by swart skole aan leerders uitgedeel om huis toe te neem. In totaal is 35 000 pamflette deur Montgomery versprei. 3

Toe Parks by die hof aankom, het sowat 500 ondersteuners haar ingewag. Sy is skuldig bevind, beboet, 1 en ’n opgeskorte vonnis gegee. 3

Die boikot was ’n reusesukses, selfs groter as wat die optimiste kon hoop. 3 Sommige mense het taxi’s gebruik of saamryklubs gevorm. Meeste pendelaars het egter werk toe gestap, sommige tot 20 myl (meer as 30 km) ver! 1

Die swart leiers in die gemeenskap het die sukses van die boikot gebruik om ’n organisasie, die Montgomery Improvement Association (MIA), op die been te bring. 1 Die MIA sou die boikot bestuur en mense aanmoedig om deel te neem. Martin Luther King jr., ’n 26-jarige dominee, is as leier van die MIA verkies. 1 Hy het Parks “die vlam wat die moderne weg tot vryheid ingelui het”, genoem. (In King se eie woorde: “The great fuse that led to the modern stride toward freedom”.) 2

Die boikot het voortgeduur. Vir maande het busse in Montgomery leeg rondgestaan. Die busmaatskappye het swaar gekry. 1

Reaksie

Ondersteuners van segregasie het heftig, en soms gewelddadig, gereageer. Swart kerke is afgebrand. King en Nixon se huise is deur bomme vernietig. Swart taxi’s se versekering is opgehef, en baie swart mense is in hegtenis geneem vir oortreding van wette wat voorheen nie toegepas is nie. 1

Hofsaak teen segregasiewette

Die eerste deel van Nixon se plan was om Parks se skuldigbevinding in die hof te beveg. Sy het dus teen haar skuldigbevinding geappelleer.

In Junie 1956 het ’n distrikshof verklaar dat segregasiewette teen die grondwet was. Montgomery het teen die distrikshof se bevinding geappelleer. Op 13 November 1956 het die Amerikaanse Hooggeregshof, die hoogste hof in die VSA, die distrikshof se besluit bekragtig.

Die bevinding was ’n mylpaal in die VSA. Segregasie was nou wetlik ongrondwetlik. Montgomery het nie ’n keuse gehad nie. Busse is gedesegregeer. Die boikot het sy doel bereik. Dit is op 21 Desember 1956, 381 dae ná dit begin is, beëindig. 1

Persoonlike lewe ná die boikot

Parks het nou as die “moeder” van die burgerregtebeweging bekend gestaan. 3 Dit het egter persoonlik met haar swaar gegaan.

Sy het kort ná die hofsaak haar werk verloor. Haar man het ook sý werk verloor, nadat sy baas hom verbied het om by die werk oor sy vrou se hofsaak te praat. 1

Sy is orals waar sy gegaan het, geteister, 3 en sy en haar man het gereeld doodsdreigemente ontvang. 1

Omdat hulle nie in Montgomery kon werk kry nie, het hulle saam met Parks se moeder na Detroit, Michigan, getrek. 1 Haar broer het ook daar gebly. Daar het sy werk gekry as sekretaresse en ontvangsklerk in die kantoor van John Conyers, ’n lid van die Huis van Verteenwoordigers. Sy het tot met haar aftrede in 1988 daar gewerk. 3

Haar man, broer en ma het almal tussen 1977 en 1979 aan kanker gesterf. 3

Openbare lewe ná die boikot

Parks het dwarsdeur haar lewe ’n aktivis gebly en ’n aktiewe rol in die gemeenskap gespeel. Sy was op die raad van die Planned Parenthood Federation van America, ’n organisasie wat vroue met ondersteuning en advies oor swangerskap en geboorte help. 1

Sy het haar uitgespreek teen behuisingsdiskriminasie en wandade deur die polisie. Sy het vriende geword met Malcolm X, die radikale aktivis, wat sy haar “persoonlike held” genoem het. 1

In 1987 het sy en ’n vriendin, Elaine Eason Steele, die Rosa en Raymond Parks Instituut vir Persoonlike Ontwikkeling gestig. Die doel was om jongmense in leierskap en burgerregte op te lei. 2 Die instituut doen byvoorbeeld toere wat vir jongmense belangrike burgerregte en Underground Railroad-plekke wys. 1

In 1992 het sy haar outobiografie, Rosa Parks: My Story, gepubliseer. Dit is drie jaar later opgevolg deur Quiet Strength, ’n memoir wat oor die rol van geloof in haar lewe handel. 1

Sy het laat in haar lewe eerbetoon ontvang. In 1996 kry sy die Presidensiële Vryheidsmedalje by Bill Clinton, die destydse Amerikaanse president. 5 In 1999 ontvang sy die Kongressionele Medalje, die hoogste eer in die VSA aan ’n burgerlike. 3

Dood

Parks het op 24 Oktober 2005 in die ouderdom van 92 jaar in Detroit gesterf. Sy het vir die laaste paar jaar van haar lewe aan demensie gely. 1

Ná haar dood is verskeie gedenkdienste in haar eer gehou. Die grootste daarvan was dat haar oorskot by die Amerikaanse Kongresgebou in Washington D.C. vertoon is. Om en by 50 000 mense het haar kis besoek. 1 Sy was die eerste vrou wat dié eer te beurt geval het. 3

Woordbank

aktivis Iemand wat hard werk en praktiese dinge doen om sosiale/politieke verandering teweeg te bring.
assistent Iemand wat iemand anders bystaan.
barbier Haarkapper.
beboet Geldstraf (geld wat jy moet betaal) om ’n oortreding goed te maak.
behuisingsdiskriminasie Wanneer daar vir verskillende groepe verskillende kwaliteit huise gebou word.
bekragtig Dit wettig maak; jou goedkeuring daaraan gee/heg.
Beweging vir Swart Burgerregte Beweging in die VSA in die 1950’s en 1960’s wat geveg het om diskriminasie en segregasie te vernietig.
boikot Georganiseerde weiering om sekere dienste te gebruik.
borgtog ʼn Som geld wat by ʼn hof gelaat word om seker te maak dat ʼn gevange wat vrygelaat word, sal terugkom wanneer sy/haar verhoor begin.
burgerlike ’n Niemilitêre persoon.
chroniese Langdurend.
demensie Mediese toestand waar ’n mens se brein ophou om behoorlik te funksioneer.
distrikshof Laerhof van ’n klein gebied, soos ’n dorp of distrik.
eerbetoon Wat mense doen om respek vir iemand te wys.
eiser Persoon wat in ’n hof ’n eis instel of ’n regskwessie aanroer.
geappelleer ’n Versoek by ’n hoër hof om oor ’n laerhof se uitspraak te besluit of te heroorweeg.
gedenkdienste ’n Begrafnis- of roudienste wat ter ere van ’n oorledene gehou word.
diskriminasie Onderskeid word tussen mense of groepe getref, en een mens of groep word anders as die ander behandel.
gehalte Hoe goed of sleg iets is.
geldig Hoe wettig iets is.
gelynch Wanneer iemand sonder verhoor opgehang word, gewoonlik deur ’n skare.
gemartel Iemand moedswillig baie seer maak.
gesegregeer Om dinge in die samelewing volgens ras te skei.
geskik Wanneer ’n saak opgelos word deur van albei kante toe te gee.
geteister Om iemand lastig te val en te dreig en sodoende hul lewe baie onaangenaam maak.
grondwet Die reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers besit.
hip-hop Musiekstyl.
Huis van Verteenwoordigers Een van die twee kamers van die VSA se parlement, die liggaam wat wette maak.
ingelui Die begin van ’n gebeurtenis, tydperk, ens. aankondig.
integriteit Opregtheid, onomkoopbaarheid, beginselvastheid.
kandidaat Persone wat geskik en beskikbaar is om vir iets gekies te word.
keerpunt Tydstip wanneer daar ’n beslissende verandering plaasvind.
memoir Deel van iemand se lewensverhaal.
onberispelike Sonder foute.
onbetwisbare Waaroor daar nie gestry kan word nie.
ongrondwetlik Iets wat die grondwet, die hoogste gesag in land, skend.
ontvangsklerk Die persoon wat in ʼn kantoor mense ontvang en hulp verleen.
onvanpaste Dit pas nie; dit verwys gewoonlik na dade of woorde wat negatief of lelik is.
op die been te bring Iets begin.
opgang gemaak Sukses behaal.
opgehef Beëindig.
opgeskorte vonnis Iemand wat aan ʼn misdaad skuldig bevind is nie dadelik te straf nie, maar sy/haar vonnis uitstel met die versekering dat dit in werking sal tree as hy/sy binne ʼn sekere tyd ʼn soortgelyke misdaad begaan.
optimiste Mense wat altyd positief is/vol hoop.
outobiografie Storie wat iemand self oor sy/haar lewe geskryf het.
pendelaars Mense wat gereeld tussen sy huis en werk reis.
radikale Wat tot die uiterste gaan; diep ingrypend; wat die wortel raak; geheel en al; grondig; totaal.
reputasie Dit waarvoor iets/iemand bekend is (goed of sleg).
sekretaresse ’n Vrou wat die administrasie van ’n kantoor behartig, soos briewe skryf, telefone antwoord en dokumente liasseer, organiseer.
standaarde Die vlak van iets, met ander woorde hoe goed dit is, wat as aanvaarbaar beskou word.
tak Afdeling.
timmerman Iemand wat met hout werk en onder meer meubels maak.
Underground Railroad Ontsnappingsroete waarlangs slawe uit die suidelike state van Amerika na die noorde gevlug het.
versekering ’n Ooreenkoms waarby, teen betaling van ’n premie, ’n gewaarborgde uitkering is van fondse op ’n sekere leeftyd of ná die dood, of as skadevergoeding in die geval van ’n ongeluk of brand, diefstal, haelskade, ensovoorts.
verset Weerstand/teenstand/opstand teen.
in die volksmond Die manier hoe gewone mense iets sê.
voorstanders Iemand wat iets voorstaan; pleitbesorger; verdediger; beskermer; aanhanger.
vrygespreek Vry of onskuldig verklaar.
wandade Onmenslike dade.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Wie was Rosa Parks?

Wat was segregasie en die Beweging vir Burgerregte in die VSA?

Rosa Parks en die Montgomery-busboikot

Martin Luther King jr. was een van die helde van die Beweging vir Burgerregte

Gepubliseer op: 22 Februarie 2024 | Bygewerk op 29 Julie 2024