Vinnige feite

  • Hoewel daar nie ’n direkte oorlog was nie, is daar wel miljoene mense tydens die Koue Oorlog dood. Dit is omdat Amerika en die Sowjetunie ander lande met hul oorloë gesteun het soos die Koreaanse en Viëtnamese oorloë. Daar word beraam dat ongeveer 3,5 miljoen mense in die Viëtnam-oorlog dood is. 10
  • Amerika en die Sowjetunie het tydens die Koue Oorlog hul mag aan mekaar probeer bewys en die een wou beter en sterker as die ander een wees. Een voorbeeld hiervan was die wapenwedren (arms race) waar elke kant probeer het om die beste wapens en die meeste kernwapens in hul arsenaal te hê. Hulle het ook geglo dat as hulle meer wapens het, sou die ander party onwillig wees om aan te val. 11
  • Amerika het teen 1950 hul begroting vir wapens verviervoudig om al die wapens te kan bekostig. 4
  • Nadat die Sowjetunie ’n atoombom in 1949 getoets het, het die Amerikaanse president van daardie tyd, president Harry Truman, aangekondig dat Amerika ’n meer vernietigende atoombom sou bou. Dit is die waterstof- of superbom. Daarna het die Sowjetunie dieselfde gedoen.
  • Die eerste waterstofbomtoets in die Marshall-eilande het gewys hoe vernietigend hierdie bomme kan wees. Dit het ’n massiewe vuurbal tot gevolg gehad wat die hele eiland verwoes het en ’n groot gat in die oseaanvloer gevorm. 4
  • Bomtoetse deur Amerika en die Sowjetunie het skade aan die omgewing aangerig en was baie gevaarlik omdat daar soms radioaktiewe afval in die atmosfeer versprei het. 4
  • Amerika en die Sowjetunie het mekaar ook probeer uitoorlê met ander tegnologie en een voorbeeld hiervan is die ruimteresies (space race). Die Sowjetunie het byvoorbeeld in 1957 die eerste kunsmatige satelliet gelanseer en het Amerika onkant gevang. Amerika het in 1958 hul eie satelliet, Explorer I, gelanseer en Amerika se ruimte-agentskap Nasa (National Aeronautics and Space Administration) het in dieselfde jaar tot stand gekom. Die Sowjetunie het in 1961 die eerste mens ruimte toe gestuur, maar Amerika het op 20 Julie 1969 die eerste man na die maan gestuur. Neil Armstrong (van Nasa se Apollo 11-sending) was die eerste mens wat op die maan geland het en het sodoende die ruimtewedloop vir die Amerikaners gewen. 7
  • Die Koue Oorlog het ook ’n groot impak op die gewone mens gehad. Amerikaners was so bang vir bomaanvalle dat hul bomskuilings gebou het. Bomdriloefeninge is ook gereeld by skole en ander openbare plekke gehou.
  • Daar is baie rolprente in veral die jare vyftig en sestig oor die Koue Oorlog en die vernietiging wat kernwapens kan aanrig, gemaak. Die fliek The Day After oor ’n kernoorlog het kykers byvoorbeeld gewys wat regtig in so oorlog kan gebeur. 8
  • Dit is ook as gevolg van die Koue Oorlog wat ons die begrip Derdewêreldland ken. Lande wat nie bondgenote van Amerika of die Sowjetunie was nie, is so genoem. Die begrip is daarna gebruik om na lande te verwys wat steeds ontwikkel, maar vandag gebruik ons merendeels die begrip “ontwikkelende lande”. 8
  • Aktiwiteite gedurende die Koue Oorlog het selfs die grondslag vir die hedendaagse internet gelê, want Amerika het ’n projek genaamd DARPA (Defence Advanced Research Projects Agency) befonds en die projek het ’n tegniek vir militêre rekenaars ontwikkel om vinnig inligting met mekaar te deel. Dit is later vir die internet gebruik.
  • Daar is talle flieks oor spioenasie tydens die Koue Oorlog en dit is wel op die waarheid geskoei, want Amerika en die Sowjetunie het aktief op mekaar gespioeneer om inligting oor planne (en wapens) in te win. As ’n mens op iemand spioeneer, beteken dit jy probeer sy geheime uitvind. Amerika het die CIA (Central Intelligence Agency, oftewel die Amerikaanse Intelligensiediens) en die Sowjetunie het die KGB (Russiese Geheimediens). 8
  • Een van die bekendste sinne wat nog deur ’n Amerikaanse president gesê is, is toe John F. Kennedy vir ’n skare mense by die Berlynse Muur gesê het: “Ich bin ein Berliner.” Dit beteken: “Ek is ’n Berlyner,” en hy het dit gesê om vir die mense te wys dat hy hulle ondersteun.
  • Die Berlynse Muur het in werklikheid uit twee betonmure bestaan. Daar was ook ’n strook met honderde wagtorings, skerp ligte, waghonde, wapens en soldate om mense te vang wat wou oorglip. Meer as 100 mense is dood toe hulle oor die muur probeer klim het. 12
  • Die Berlynse Muur het baie hartseer veroorsaak, want families is van mekaar geskei en die ekonomiese toestande was baie swak in die Ooste (wat die Sowjetunie beheer het). Mense het dus konstant probeer om na die Weste te vlug. Party het allerlei maniere probeer kry om te ontsnap, soos om deur ondergrondse tonnels te kruip. Ander het weggesteekte kompartemente in motors te maak en daarin weggekruip wanneer die ontsnappingsmotor die grens by Checkpoint Charlie oorsteek. Die drie Bethke-broers is veral bekend vir hul ongelooflike ontsnappings. Die oudste broer, Ingo, het in 1975 ontsnap deur op ’n opblaasmatras oor die Elberivier te dryf. Agt jaar later het sy broer, Holger, ontsnap deur ’n staalkabel met ’n pyl en boog te skiet, dit aan ’n dak in Wes-Berlyn te heg en oor die muur te “sweef”. In 1989 het die twee boeties met ’n baie ligte vliegtuig oor die muur gevlieg om hul jongste broer, Egbert, te kry en hulle het dit wraggies reggekry om weer te ontsnap.
  • Die kontrolepunt Checkpoint Charlie het sy naam van die Navo- fonetiese alfabet (die finale weergawe van die Internasionale Radiotelefonie Spelalfabet) gekry: die lede van die geallieerde gewapende magte het die Berlynse middestad bereik via die kontrolepunt A (Alpha) naby Helmstedt – die punt waarop hulle vanaf die Bondsrepubliek Duitsland na die DDR (Duitse Demokratiese Republiek) oorgesteek het; Kontrolepunt B (Bravo) naby Drewitz – waar hulle die DDR verlaat het en die grens na Wes-Berlyn oorgesteek het; en Kontrolepunt C (Charlie) by Friedrichstrasse, waar hulle Wes-Berlyn na Oos-Berlyn verlaat het. Omdat dit aangewys is as ‘n deurgangspunt vir die lede van die Geallieerde gewapende magte, het die Friedrichstrasse-kontrolepunt in Oktober 1961 die toneel geword van ‘n konfrontasie tussen Amerikaanse en Sowjet-tenks. As ‘n simbool van die konflik tussen die twee wêreldmoondhede, het Checkpoint Charlie die stad se bekendste grensoorgang geword. 13
  • Die Berlynse Muur se amptelike afbreek het in die somer van 1990 begin. Meer as 40 000 stukke van die muur is as boumateriaal benut, maar baie gedeeltes staan nou in museums. Daar is tot ’n stuk van die muur in ’n casino in Las Vegas, Amerika.

Sir Winston Churchill, die eertydse eerste minister van Brittanje, het in 1946 ’n toespraak oor buitelandse sake by die Westminster College in Fulton, Missouri, gegee en die volgende sin het die begin van die Koue Oorlog beskryf: “Daar het van Stettin in die Oossee tot Trieste in die Adriatiese See ’n Ystergordyn oor Europa gesak …” 1

Winston Churchill

Churchill het genoem dat dit beslis nie die bevryde Europa was waarvoor hulle in die Tweede Wêreldoorlog geveg het nie.

As ons aan die woord oorlog dink, dink ons gewoonlik aan soldate, tenks, bomme en hewige gevegte, maar die Koue Oorlog was nie ’n oorlog in die tradisionele sin van die woord nie. Dit was die naam vir die langdurige politieke spanning wat vir dekades tussen Amerika en die Sowjetunie geheers het. Hoewel die onenigheid nooit na ’n regte oorlog tussen die twee lande oorgespoel het nie, het dit wel tot vele konflikte gelei.

VSA M48-tenks gerig teenoor Sowjet-Unie T-55-tenks by Checkpoint Charlie, Oktober 1961

Die Koue Oorlog het van 1947 tot 1991 geduur. 2

Die oorsprong van die naam

Die begrip ‘Koue Oorlog’ bestaan al sedert die jare dertig toe die Franse woorde guerre froide gebruik is om die spanning tussen Europese lande te beskryf. Guerre beteken ‘oorlog’ en froide ‘koud’. Die term La guerre froide het in Frankryk ná die 1917 Oktober-revolusie in Rusland ontstaan. Die Bolsjewieke het beheer oorgeneem in Rusland en dit het groot ongemaklikheid in Europese lande veroorsaak.

Guerre froide kan dus sekerlik die beste beskryf word as spanning tussen die kommunistiese Ooste en kapitalistiese Weste. Net nadat Amerika ’n atoombom op Hirosjima en Nagasaki laat val het, het die Britse skrywer George Orwell hierdie woord in ’n artikel gebruik. Hy het gesê “dat daar ’n vrede heers wat nie waarlik vrede is nie …”

’n Amerikaner Bernard Baruch het die begrip gebruik toe hy ’n toespraak in 1947 in Suid-Carolina in Amerika gelewer het en het gesê dat Amerika in ’n Koue Oorlog gewikkel was. 2

Die begrip ‘Koue Oorlog’ het al hoe meer gewild begin word, veral toe die Amerikaanse joernalis Walter Lippmann dit in 1947 in ’n reeks artikels gebruik het. 1

Churchill se woord Ystergordyn is ook toenemend gebruik om die isolasie van die kommunistiese lande te beskryf.

Dié woord is voorts gebruik om die verskille tussen die Weste se kapitalisme en die Ooste se kommunisme te beskryf. Kapitalisme is ’n ekonomiese stelsel wat op private besit, belegging en mededinging gegrond is en waar die staat nie veel beheer nie. Die geld en besittings is dus in private besit. Kommunisme is ’n regeringstelsel waarin die staat die eienaar is van al die belangrike nywerhede en beheer die volk se ekonomiese, maatskaplike en kulturele lewe. 3

Die agtergrond

Tydens die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) het Amerika, Brittanje en die Sowjetunie hul kragte saamgesnoer en is die Geallieerdes genoem. Hulle het teen die Spilmoondhede, Duitsland, Italië en Japan geveg. Die Sowjetunie – of altans die Unie van die Sosialistiese Sowjetrepublieke (USSR) – was ’n ryk van lande wat van 1917 tot 1991 geheers het. In die laaste jare voor die Sowjetunie ontbind het, het dit uit 15 republieke bestaan, naamlik Armenië, Azerbeidjan, Belo-Rusland, Estland, Georgië, Kazakstan, Kirgistan, Letland, Litaue, Moldawië, Oekraïne, Oesbekistan, Rusland, Tadjikistan en Turkmenistan. 4

Nadat Duitsland in die oorlog oorwin is en net voor die konflik beëindig is, het die leiers van Amerika (president Harry S. Truman), Brittanje (eerste minister Winston Churchill) en die Sowjetunie (Sowjet-leier Joseph Stalin) by Potsdam in Berlyn, Duitsland vergader en die Potsdam-ooreenkoms onderteken oor wie watter streke ná die oorlog moet beheer. 5

Die Potsdam-ooreenkoms was ’n verklaring waarin Japan se onvoorwaardelike oorgawe uiteengesit is. 6

Die Sowjetunie-leier Joseph Stalin het wel die ooreenkoms onderteken, maar hy was nie gelukkig daarmee nie. Hy het gevoel dat die Sowjetunie baie meer geld en grond onder hul beheer verdien omdat hulle soveel verliese in die oorlog gely het. Ongeveer 24 miljoen Russiese soldate is in die oorlog dood.

Die Japannese het die ooreenkoms ook nie aanvaar nie. Kort ná die konferensie het Amerika ’n atoombom in Hirosjima en Nagasaki laat val en die oorlog is amptelik beëindig. 1

Japan het eers ná die atoombomaanval ingestem om die ooreenkoms te onderteken.

Amerika vs. die Sowjetunie

Die Sowjetunie het baie lande in Oos-Europa van Nazi-Duitsland gered, maar hulle wou hierdie lande beheer en hul eie kommunistiese ekonomiese stelsel op hulle afdwing. 7

Amerika wou nie hê dat kommunisme na ander Europese lande moet versprei nie. Hulle wou veral die lande in Wes-Europa as bondgenote hê en daarom het hulle baie geld aan hierdie lande gegee om hulself weer ná die oorlog op te bou. Hierdie plan is die Marshall-plan genoem en is na George Marshall vernoem – die Amerikaner wat die voorstel gemaak het. 6

Amerika het besluit dat die beste verdediging teen die bedreiging van die Sowjetunie ’n strategie genaamd “stuiting” (containment) sou wees. Die diplomaat George Kennan (1904-2005) het gesê dat die Sowjetunie seker was daarvan dat daar geen permanente ooreenkoms tussen hulle en Amerika kan wees nie. Daarom was Amerika se enigste keuse om Rusland se uitbreiding op die lange duur geduldig, maar ferm te stuit. 8

Amerika en sy Europese bondgenote het op 4 April 1949 die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) gevorm om mekaar te help as die Sowjetunie enige van hulle aanval. Amerika was nie die enigste land wat bekommerd was oor die Sowjet-invloed nie. Baie Europese lande was bekommerd, veral omdat Rusland in 1948 ’n staatsgreep deur Kommuniste in die destydse Tsjeggo-Slowakye ondersteun het. 2

Hierdie verdrag het in beginsel gesê dat as een van die Navo-lande aangeval word, dit as ’n aanval teen al die Navo-lande gesien sal word en hulle mekaar dus sal help. 9

Die lande wat aanvanklik deel van Navo was, was Amerika, België, Brittanje, Denemarke, Frankryk, Italië, Kanada, Luxemburg, Nederland, Noorweë, Portugal en Ysland. Ná die einde van die Koue Oorlog het Navo van 1999 tot 2020 nog 14 lede bygevoeg. Vandag het die organisasie baie meer lede en daar is tans 31 lande wat lid van Navo is 9. Finland, wat sedert 4 April 2023 – op die dag en datum presies 74 jaar ná die stigting van Navo – ook sy vlag buite Navo se hoofkantoor in Brussel kan laat wapper, is die jongste toevoeging tot die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo). ”15″

Die Sowjetunie en sy oostelike Europese bondgenote (lande wat deur Rusland beheer is) het toe hul eie alliansie gevorm. As mense of leiers ’n alliansie vorm, beteken dit dat hulle sal saamwerk en mekaar sal help. Dit is die Warskou-verdrag genoem en is in 1955 onderteken. 2

Krisisse tydens die Koue Oorlog

Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog is die Duitse stad Berlyn (en die res van die land) in vier gebiede verdeel met Amerika, Brittanje, Frankryk en die Sowjetunie wat elk ’n sektor beheer het. Die drie Westerse magte het in 1948 besluit om hul sones te kombineer en die Sowjetunie het toe alle toegangsroetes na die stad afgesny. 6

Dit het beteken dat geen kos en ander voorrade by die Weste kon uitkom nie.

Amerika en Brittanje moes inderhaas vir die inwoners voorrade met vliegtuie aflaai – hierdie hulp is die Berlynse Lugbrug (Berlin Airlift) genoem. Die Sowjetunie het gehoop dat hulle só die Westerse magte uit Duitsland kon dwing en ook die weste van die land kon oorneem. Dit het egter nie gewerk nie en die Sowjetunie het uiteindelik op 12 Mei 1949 die blokkade gelig en die paaie en spoorweë was weer oop. 2

In die jare wat gevolg het, het baie mense van Oos-Berlyn af na Wes-Berlyn getrek om nie deur die Sowjetunie se kommunistiese bestel beheer te word nie. Die Sowjetunie het egter in 1961 besluit om ’n grensmuur te bou sodat mense nie meer kon vlug nie. Die Berlynse Muur het sodoende ’n simbool van die Koue Oorlog geword. 2

Die Koue Oorlog was ook nie net tot Duitsland en Europa beperk nie. Die Sowjetunie het ook ander lande in die wêreld ondersteun wat kommunistiese regerings gehad het. Amerika het weer probeer om te keer dat kommunisme versprei.

Die Koreaanse oorlog in die jare vyftig en die Viëtnamese oorlog in die jare sestig en sewentig was ook deel van hierdie stryd. In Viëtnam was Frankryk eens op ’n tyd in beheer, maar dié regime het daar ineengestort en dit het tot ’n stryd tussen die Ngo Dinh Diem in die suide en die kommunistiese Ho Chi Minh in die noorde gelei.

Amerika wou kommunisme stuit en het besluit om in te tree, maar toe word dit ’n oorlog wat tien jaar geduur het. 7 Talle mense is in dié oorlog dood.

In 1959 het Fidel Castro ’n kommunistiese regering in Kuba gevestig en in 1962 het Amerika vasgestel dat daar Sowjet-missiele en wapens in Kuba was. Dit was glo net 90 myl (sowat 145 km) suid van Florida in Amerika. Die president van Amerika was in daardie stadium John F. Kennedy en hy het geëis dat die wapens dadelik verwyder moes word. Hy het ook gedreig dat as daar enige aanval op Amerika sou wees, die Sowjetunie onmiddellik aangeval sou word. 1

Hierdie spanning is die Kubaanse Missielkrisis genoem en dit is eers beëindig toe die Sowjetunie besluit het om hul wapens te verwyder. Dit word beskou as die een voorval tydens die Koue Oorlog wat amper tot ’n volskaalse oorlog gelei het. 1

Die einde van die Koue Oorlog

Toe president Richard Nixon in Amerika aan bewind gekom het, het hy probeer om bande met kommunistiese lande soos China te bou. Hy en die premier van die Sowjetunie, Leonid Brezhnev, het ook in 1972 ’n ooreenkoms gesluit om hul kernwapens te beperk.

Dit was ’n positiewe skuif, maar toe president Ronald Reagan in Amerika aan bewind gekom het, het hy weer sterker teen kommunisme opgetree. Hy het gevoel dat kommunisme mense se vryheid bedreig en hy het lande finansieel en militêr gehelp om teen kommunisme op te staan. 7

Intussen was daar ernstige ekonomiese en politieke probleme in die Sowjetunie en toe premier Mikhail Gorbatsjof in 1985 in die Sowjetunie aan bewind gekom het, het hy twee beleide ingestel wat Rusland se verhouding met die Westerse wêreld geraak het. Dit was glasnost wat ‘politieke deursigtigheid’ beteken en perestroika wat ‘ekonomiese hervorming’ beteken. 7

Teen 1989 het kommunisme in Oos-Europa afgeneem en kommunistiese regerings is vervang met niekommunistiese regerings. 7

Die Berlynse Muur is uiteindelik in 1989 afgebreek, die Warskou-verdrag is in 1991 beëindig en die Sowjetunie het ’n jaar later in 15 afsonderlike nasies verdeel. Kommunisme het in baie lande tot ’n einde gekom en dit het ook die einde van die Koue Oorlog beteken. 2

Woordbank

arsenaal Plek waar wapens en ander weermagtoerusting bewaar word. 14
alliansie Dis ’n ooreenkoms tussen lande of groepe mense om saam te werk en mekaar te help. 11
kapitalisme ’n Ekonomiese stelsel wat op private besit, belegging en mededinging gegrond is en waar die staat nie veel beheer nie. Die geld en besittings is dus in private besit. 3
kernwapens Dis baie gevaarlike wapens wat met kernkrag of atoomkrag werk. 11
kommunisme Dis ’n regeringstelsel waarin die staat die eienaar van al die belangrike nywerhede is en die volk se ekonomiese, maatskaplike en kulturele lewe beheer. 3
konflik ’n Botsing of stryd tussen mense of groepe mense. 11
oorlog Geveg tussen twee of meer lande of groepe mense. 11
onenigheid Toestand van twis of verdeeldheid tussen mense. 11
simbool Prentjie, teken, merk of voorwerp wat ’n spesiale betekenis het. 11
spioenasie Die daad om ’n land, persoon of organisasie se geheime te probeer uitvind. 11
supermoondheid Dis ’n baie invloedryke en welvarende land. 3
spanning Gevoel of toestand van opgewondenheid of bekommernis. 11
verdrag Dis ’n formele ooreenkoms, veral tussen state. 11
Ystergordyn Die politieke, militêre en ideologiese versperring wat Rusland en sy satellietlande van ander lande afgeskei en geïsoleer het, en vrye kontak met andersdenkendes onmoontlik gemaak het. 3

Lees die volgende artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer

Hoe het die Koue Oorlog begin?

Meer oor die Koue Oorlog

Koue Oorlog op ’n kaart

Gepubliseer op: 5 Mei 2022 | Bygewerk op 20 Maart 2024