Vinnige feite
- John Bardeen is die enigste persoon wat twee keer met die Nobelprys vir Fisika bekroon is. Hy het die toekenning in 1956 en 1972 ontvang.
- Marie Curie is die enigste vrou wat twee keer met ʼn Nobelprys vereer is. In 1903 het sy ʼn Nobelprys vir Fisika ontvang, en in 1911 is die Nobelprys vir Chemie aan haar toegeken. 25
- Malala Yousafzai is tot dusver die jongste ontvanger van die vredesprys. Sy was net 17 jaar oud toe sy die toekenning in 2014 ontvang het.
- John B. Goodenough, die oudste ontvanger van ʼn Nobelprys, was 97 jaar oud toe dié eerbewys vir Chemie hom in 2019 te beurt geval het. 26
- Mahatma Gandhi is vyf keer vir die Nobelprys vir Vrede benoem (1937, 1938, 1939, 1947 en 1948), maar het nooit dié toekenning ontvang nie. 27
- In die 1970’s het die Nobelstigting besluit dat ʼn prys nie postuum (nadat iemand oorlede is) toegeken kan word nie. Voor dit is die prys op twee geleenthede postuum toegeken. Ralph Steinman, die ontvanger van die Nobelprys vir Fisiologie/Geneeskunde in 2011, is drie dae voor die toekenningsgeleentheid oorlede, maar die stigting het besluit om steeds die prys aan hom toe te ken. 28
- Drie bekroondes was in die tronk toe hulle met die Nobelprys vir Vrede vereer is: die Duitse joernalis Carl von Ossietzky in 1935, die Birmaanse politikus Aung San Suu Kyi in 1991 en die Chinese menseregte-aktivis Liu Xiaobo in 2010. 29
- Elke Nobelprysdiploma of -sertifikaat is ʼn unieke kunswerk wat op handgemaakte papier geteken of geskilder word. 30
- Die lys van die huidige jaar se genomineerdes word nie bekendgemaak nie. Die volledige lys van benoemdes in al die kategorieë word eers ná 50 jaar bekendgemaak. 31
Om wêreldwyd erkenning vir ʼn mens se werk te ontvang, is ʼn baie groot eer. Die Nobelprys, wat sedert 1901 in verskillende kategorieë toegeken word en na Alfred Nobel vernoem is, is een van die hoogste eerbewyse wat iemand in sy of haar leeftyd kan ontvang. 1
Wie was Alfred Nobel?
Alfred Nobel is op 21 Oktober 1833 in Stockholm gebore en was ʼn Sweedse wetenskaplike, ingenieur en wapenvervaardiger. Hy is veral bekend vir die uitvinding van dinamiet. Alfred was ook ʼn dramaturg wat met ʼn versameling van meer as 1 500 boeke gespog het. Hy kon benewens Sweeds ook vier ander tale praat en was baie goed in chemie. 2
Alfred was die vierde seun van Immanuel en Caroline Nobel. Immanuel was ook ʼn uitvinder en ingenieur, en die egpaar het agt kinders gehad, van wie slegs Alfred en sy drie broers volwassenheid bereik het. 3
Sy een broer Emil het egter in ʼn ontploffing by die familie se plofstoffabriek gesterf. Alfred en sy twee ander broers, Ludvig en Robert Hjalmar, het baie geld uit die vervaardiging van dinamiet en ander plofstof gemaak.
Alfred het sy lewe gewy aan die studie van plofstof, veral die veilige vervaardiging en gebruik van nitrogliserien ná sy broer se dood. In 1867 registreer hy ʼn patent (een van 355 patente wat hy in sy leeftyd bekom het) vir dinamiet. Die aanvraag hiervoor in veral die konstruksiebedryf was só groot dat hy 90 fabrieke in 20 lande oprig. 4
Alfred, wat reg oor die wêreld gereis en gewerk het, het sy testament op 27 November 1895 by die Sweeds-Noorweegse Klub in Parys, Frankryk, onderteken. Dit het bepaal dat die Nobelprys ná sy dood ingestel en deur sy boedel gefinansier moes word. Hy is net meer as ʼn jaar later, op 10 Desember 1896, in San Remo, Italië, aan ʼn beroerte oorlede.
Alfred het die Nobelprys ingestel omdat hy bang was dat hy net as die skepper van dinamiet en ander wapens onthou sou word, nadat ʼn Franse koerant hom “die handelaar van die dood” genoem het.
Nobel se nalatenskap
Alfred Nobel het sowat $265 miljoen (’n astronomiese $9 710 010 119 in vandag se geldwaarde) nagelaat om die Nobelprys te stig. Kragtens sy testament moes die inkomste uit hierdie fonds jaarliks in vyf gelyke dele verdeel word en as pryse oorhandig word aan diegene wat die mensdom die meeste gehelp het. 5 6
Die Nobelprys is aanvanklik net in vyf kategorieë toegeken: fisika, chemie, fisiologie/geneeskunde, letterkunde en vrede. Die Nobelprys vir Fisika en die prys vir Chemie word deur die Koninklike Sweedse Akademie van Wetenskappe toegeken; die Nobelprys vir Fisiologie/Geneeskunde deur die Caroline Institute of Stockholm; die Nobelprys vir Letterkunde deur die Sweedse Akademie; en die Nobelprys vir Vrede word deur ʼn komitee van vyf lede wat deur die Noorweegse parlement gekies word, toegeken.
ʼn Sesde kategorie, die Nobelprys vir Ekonomie, is in 1968 deur die Sweedse sentrale bank, die Bank van Swede, ingestel. Die Koninklike Sweedse Akademie van Wetenskappe is aangewys om dié toekenning te maak. 7
Benoemings van kandidate word voor 1 Februarie elke jaar by dié prystoekenningsinstansies ingedien. Geen persoon kan hom- of haarself nomineer nie. In ooreenstemming met Alfred Nobel se testament kom alle nasionaliteite (mense van alle lande) vir die toekennings in aanmerking. Benewens ʼn kontantprys kry elke ontvanger ook ʼn goue medalje en ʼn diploma.
Die Nobelprys is vir die eerste keer op 10 Desember 1901, met die vyfde herdenking van Nobel se dood, toegeken. Sedertdien word dit elke jaar op 10 Desember oorhandig. 8 Die vredesprys word in Oslo (Noorweë), en die ander vyf pryse word in Stockholm (Swede) oorhandig. Die rede hiervoor? Noorweë en Swede was tussen 1814 en 1905 een monargie, oftewel ʼn unie, toe die pryse ingestel is. Geen pryse is tussen 1940 en 1942 (tydens die Tweede Wêreldoorlog) toegeken nie. 9
Die Nobelprys vir Vrede is tussen 1901 en 2021 altesaam 102 keer aan 137 ontvangers, insluitend 109 individue en 28 organisasies, toegeken. Die Rooikruis is drie keer met dié prys bekroon (in 1917, 1944 en 1963), en die kantoor van die Verenigde Nasies se hoë kommissaris vir vlugtelinge het die toekenning twee keer ontvang (in 1954 en 1981). 10
Die aantal wenners tussen 1901 en 2023
Kategorie | Aantal pryse | Aantal ontvangers | Slegs een ontvanger | Deur twee ontvangers gedeel | Deur drie ontvangers gedeel |
Fisika | 117 | 225 | 47 | 32 | 38 |
Chemie | 115 | 194 | 63 | 25 | 27 |
Fisiologie of Geneeskunde | 114 | 227 | 40 | 35 | 39 |
Literatuur | 116 | 120 | 112 | 4 | – |
Vrede | 104 | 111 (en 30 organisasies) | 70 | 31 | 3 |
Ekonomiese Wetenskappe | 55 | 93 | 26 | 20 | 9 |
Totaal 11 | 621 | 1 000 | 358 | 147 | 116 |
Die prysgeld en medalje
Die bedrag van elke prys was in 1901 sowat $40 000. Vandag is die prysgeld bykans $1,1 miljoen (of nagenoeg R18 miljoen). ʼn Prys word dikwels tussen twee of meer ontvangers verdeel. Hoewel dit slegs individue is wat bekroon word, kan organisasies wel die Nobelprys vir Vrede ontvang.
Die Nobelprysmedalje is 18 karaat goud, weeg ongeveer 150 g en is 6 cm in deursnee. ʼn Paar ontvangers het hul medaljes oor die jare vir tussen $500 000 en $1 miljoen verkoop. In 2014 het James Watson sy medalje vir $4,7 miljoen verkoop, hoewel die Russiese miljardêr wat dit gekoop het, dit aan hom terugbesorg en versoek het dat die geld vir navorsing gebruik word. 12
Nobelprysflater
Die Deense dokter Johannes Fibiger het in 1926 die Nobelprys vir Fisiologie/Geneeskunde gewen, nadat hy bewys het dat ʼn soort wurm (round worm of rondewurm) kanker by rotte en muise veroorsaak. ʼn Paar jaar later is die teendeel bevind, maar Fibiger het intussen aan kanker gesterf. Die prys is nooit herroep (teruggeneem) nie, maar in 2010 het ʼn amptenaar van die Caroline Institute, wat die Nobelprys vir Fisiologie/Geneeskunde toeken, erken dit is een van die grootste flaters wat die instituut tot nog toe begaan het.
Omstrede ontvangers
Van die mees omstrede ontvangers oor die jare: 13
1918 – Nobelprys vir Chemie – Fritz Haber: Hy is bekroon vir die uitvinding van die Haber-Bosch-proses, ʼn manier om ammoniak op groot skaal te vervaardig. Ammoniak word gebruik om kunsmis te maak wat in landbou gebruik word. Haber is egter ook bekend vir die ontwikkeling van chloorgas wat tydens die Eerste Wêreldoorlog as ʼn chemiese wapen gebruik is.
1949 – Nobelprys vir Fisiologie/Geneeskunde – António Gas Moniz: Dié Portugese neuroloog en breinchirurg het die prys ontvang vir die ontwerp van die lobotomie, ʼn prosedure waarin ʼn deel van die brein weggesny word. Hoewel die oogmerk was om geestesversteurings te behandel, is die prosedure sedertdien in groot omstredenheid gehul.
1973 – Nobelprys vir Vrede – Henry Kissinger: Dié Amerikaanse minister van buitelandse sake is in 1973 saam met Noord-Viëtnam se Le Duc Tho bekroon vir die bemiddeling van ʼn skietstilstand. Die toekenning is gekritiseer omdat Kissinger ʼn bomaanval op Hanoi beveel het terwyl die skietstilstandonderhandelinge aan die gang was. Le Duc Tho het sy helfte van die toekenning van die hand gewys.
1994 – Nobelprys vir Vrede – Yasser Arafat: Die Palestynse leier Yasser Arafat, Israel se eerste minister, Yitzhak Rabin, en Israel se minister van buitelandse sake, Shimon Peres, het die 1994-toekenning vir die Oslo-vredesooreenkoms gedeel. Die prys is omstrede omdat die stryd tussen Israel en Palestina vandag nog voortwoed.
2009 – Nobelprys vir Vrede – Barack Obama: Baie mense meen dié toekenning aan die Amerikaanse president was voortydig, omdat hy met sy nominasie slegs 12 dae in die Withuis was en nog nie ʼn noemenswaardige bydrae gelewer het om die prys te verdien nie.
2012 – Nobelprys vir Vrede – Die Europese Unie: Die toekenning is gedoen vir die EU se bydrae “oor meer as ses dekades tot die bevordering van vrede en versoening, demokrasie en menseregte in Europa”. Talle mense het oor dié keuse gekla omdat die EU met ekonomiese krisisse soos die Griekse skuldkrisis te kampe gehad het, en omdat Europa een van die wêreld se grootste wapenprodusente is. Hulle meen Nobel het hom juis vir ontwapening beywer.
Verskeie verdienstelike skrywers en dramaturge is oor die hoof gesien vir die Nobelprys vir Letterkunde. Dit sluit in James Joyce, Leo Tolstoy, Anton Chekhov, Marcel Proust, Henrik Ibsen, Mark Twain, George Orwell en Arthur Miller. Dít terwyl die sanger-liedjieskrywer Bob Dylan in 2016 met die letterkundeprys bekroon is.
Suid-Afrikaanse ontvangers
Suid-Afrika het oor die jare nie minder nie as 11 ontvangers van die Nobelprys opgelewer. Hier onder is al ons uitblinkers, die kategorieë, asook die jaar waarin hulle die gesogte eerbewys ontvang het.
Max Theiler, Fisiologie/Geneeskunde, 1951
Dr. Max Theiler, wat in 1899 in Pretoria gebore is, was in 1951 die eerste ontvanger uit Afrika om ʼn Nobelprys vir sy bydrae om ʼn doeltreffende entstof teen geelkoors te ontwikkel, te ontvang. Dit was die eerste, en tot dusver die enigste, Nobelprys wat toegeken is vir die ontwikkeling van ʼn virusentstof. Theiler is ook in 1937 en 1948 vir dié prys benoem. 15
Albert Luthuli, Vrede, 1960
Albert Mvumbi Luthuli, ʼn onderwyser, Zoeloe-stamhoof en later vryheidstryder wat in 1898 in Bulawayo, Rhodesië (vandag Zimbabwe) gebore is, het vir jare ʼn leiersrol in die ANC gespeel. Dit was onder sy leiding wat die ANC sy Vryheidsmanifes in Junie 1955 aanvaar het. Luthuli het in 1960 die Nobelprys vir Vrede ontvang vir sy niegewelddadige weerstand teen die Suid-Afrikaanse apartheidsregering. 16
Allan M. Cormack, Fisiologie/Geneeskunde, 1979
Allan M. Cormack is op 23 Februarie 1924 in Johannesburg gebore. Hoewel Cormack ʼn fisikus was wat nie ʼn dokters- of doktorsgraad in geneeskunde of enige wetenskapveld gehad het nie, het hy (en die elektriese ingenieur Godfrey Newbold Hounasfield, wat onafhanklik van Cormack navorsing gedoen en die Nobelprys in 1979 met hom gedeel het) vir ʼn reuse- mediese deurbraak gesorg: die uitvinding van rekenaartomografie- (RT-)skandering. In Engels noem mens dit “CT” of “CAT scan”. Met dié skandering kan dokters ʼn driedimensionele beeld van die menslike liggaam sien. 17
Aaron Klug, Chemie, 1982
Aaron Klug is op 11 Augustus 1926 in Zelvas, Litaue, gebore, maar het op driejarige ouderdom saam met sy ouers na Suid-Afrika toe gekom. Hy is in 1982 met die Nobelprys vir Chemie vereer vir die ontwikkeling van kristallografiese elektronmikroskopie. In hierdie proses word ʼn elektronmikroskoop (ʼn baie kragtige mikroskoop) gebruik om tweedimensionele beelde uit verskillende hoeke van ʼn klein voorwerp te neem. Die beelde word saamgevoeg om ʼn driedimensionele beeld te skep. Dit stel wetenskaplikes in staat om die volledige struktuur van klein, lewende deeltjies, soos virusse, te sien. 18
Desmond Tutu, Vrede, 1984
Aartsbiskop Desmond Tutu is op 7 Oktober 1931 in Klerksdorp gebore en was een van Suid-Afrika se bekendste en invloedrykste kerkleiers. As vurige teenstander van die apartheidsregering ontvang hy in 1984 die Nobelprys vir Vrede vir sy stryd teen rassediskriminasie in Suid-Afrika. Ná Suid-Afrika se demokratiese verkiesing in 1994 beywer hy hom vir versoening, en hy word in 1995 as voorsitter van die Waarheid-en-versoeningskommissie aangestel. Hy is op 26 Desember 2021 in Kaapstad oorlede. 19
Nadine Gordimer, Letterkunde, 1991
Nadine Gordimer is op 23 November 1923 in Springs gebore en het reeds op die ouderdom van nege begin skryf. Sy het haar eerste boek op 15 gepubliseer en in 1974 internasionale sukses met The Conservationist behaal. Gedurende die 1960’s en 1970’s het sy veral die opkomende versetbeweging teen apartheid as agtergrond van haar romans gebruik (baie van haar werk was in dié tyd verban), terwyl ʼn bevryde Suid-Afrika die agtergrond van haar werk in die 1990’s was. 20
Nelson Mandela en F.W. de Klerk, Vrede, 1993
Die Nobelprys vir Vrede is in 1993 gesamentlik aan Nelson Mandela en F.W. de Klerk toegeken vir die beëindiging van apartheid, en vir die lê van die grondslag vir ʼn demokratiese Suid-Afrika. Mandela het 27 jaar as politieke gevangene op Robbeneiland en in die Pollsmoor-gevangenis in Kaapstad deurgebring. Hy is in 1990 vrygelaat nadat F.W. de Klerk, wat toe die staatspresident was, die verbanning van die ANC opgehef en sy vrylating bemiddel het. Hulle het vir ʼn vreedsame oorgang onderhandel, en Mandela is in 1994 as president ingehuldig ná Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing. 21
Sydney Brenner, Fisiologie/Geneeskunde, 2002
Sydney Brenner is op 13 Januarie 1927 as die seun van Joodse immigrante in Germiston gebore en word as een van die vernaamste molekulêre bioloë (dit is die studie van lewe op sy mees basiese vlak) van die 20ste eeu beskou. Aan die begin van ʼn organisme se lewe neem die aantal selle wat dit bevat, vinnig toe. Nuwe selle word gevorm, maar selle sterf ook om ʼn balans te handhaaf. Hierdie proses word deur gene gereguleer en word geprogrammeerde seldood genoem. Brenner se werk het dit moontlik gemaak om seldeling en orgaanvorming aan die hand van genetika te ontleed en reguleer. 22
John Maxwell Coetzee, Letterkunde, 2003
Die skrywer J.M. Coetzee is op 9 Februarie 1940 in Kaapstad gebore en studeer ook hier aan die Universiteit van Kaapstad. Coetzee, wat as een van die mees vooraanstaande en bekroonde skrywers van sy tyd gereken word, behaal in 1972 ʼn doktorsgraad in Engelse letterkunde en taalkunde aan die Universiteit van Texas in die VSA. Hy is die eerste skrywer wat die gesogte Bookerprys twee keer verower het (vir Life & Times of Michael K in 1983, en Disgrace in 1999). 23
Michael Levitt, Chemie, 2013
Michael Levitt is op 9 Mei 1947 in Pretoria gebore. In die 1970’s het Levitt, Martin Karplus en Arieh Warshel metodes ontwikkel wat kwantum- en klassieke meganika kombineer om die verloop van chemiese reaksies met behulp van rekenaars te bereken. Die wêreld om ons bestaan uit atome wat saamgevoeg is om molekules te vorm. Tydens chemiese reaksies verander atome en word nuwe molekules gevorm. Om dié reaksies akkuraat te voorspel, word gevorderde berekeninge (of moeilike somme) gebaseer op kwantummeganika vereis, en dit is vir dié ingewikkelde berekenings wat Levitt, Karplus en Warchel in 2013 die Nobelprys vir Chemie ontvang. 24
Woordbank
geelkoors | Geelkoors is ʼn aansteeklike siekte wat lei tot skade aan organe in die liggaam, dikwels as gevolg van erge bloeding. Die lewer word ook aangetas, wat uiteindelik lei tot geelsug, die simptoom waarop die siekte se naam gegrond is. |
skietstilstand | Lande wat teen mekaar veg of oorlog maak, besluit om vir ʼn sekere tyd hul wapens neer te lê en nie op mekaar te skiet nie. |
testament | Dit is ʼn wettige dokument wat ʼn persoon voor sy dood opstel. Hierin spesifiseer die persoon wie watter besittings en/of geld ná sy/haar dood moet erf (ontvang). |
boedel | Dit is die versamelnaam vir al die besittings en geld wat ʼn persoon met sy sterfte besit het. |
dinamiet | ʼn Soort plofstof wat gebruik word om tonnels of gate te maak deur ʼn ontploffing te veroorsaak. Die woord dinamiet kom van die Griekse woord “dunamis” af wat ‘krag’ beteken. Het jy geweet die woorde dinamo en dinamies is ook van dié woord afkomstig? |
aktivis/stryder | Iemand wat vir ʼn spesifieke idee of saak veg of opstaan. |
Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Alfred Nobel en die Nobelprys
- Feite oor en uitvindings deur Alfred Nobel
- Hoekom is die Nobelprys so belangrik?
- Elke Nobeldiploma is ʼn kunswerk in eie reg
- Alles wat jy oor die Nobelprys moet weet, asook al die ontvangers
Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor die Nobelprys
Waar kom die Nobelprys vandaan?
Die geskiedenis van die Nobelprys
Die Nobelprys in ʼn neutedop