Vinnige feite

  • Voor Paul besluit het om ’n heeltydse musikant te word, was hy vir ʼn kort rukkie ’n elektrisiën, maar hy was nie baie suksesvol nie. 13
  • Daar is mense wat glo dat McCartney in 1966 in ’n ongeluk oorlede is en dat ’n dubbelganger sedertdien voorgegee het om hy te wees. Dit het tot die “Paul is Dead”-samesweringsteorie gelei. 14
  • Om die “Paul is Dead”-teorie verder te bevorder, het bewonderaars na leidrade gesoek op die Beatles se album Abbey Road (1969). Op die omslag van die album is ʼn foto van die vier Beatles wat die pad oorsteek. ʼn Wit Volkswagen-kewer staan in die straat met die nommerplaat “28 IF” – en mense het geglo dit staan vir “28 IF he had survived” (Paul het toe pas sy 27ste verjaarsdag gevier). Die vier Beatles loop agter mekaar in ʼn ry, met Paul wat kaalvoet is en John, heel voor, in wit geklee. Bewonderaars het gemeen dit lyk soos ʼn begrafnisoptog: George (heel agter) is die grafgrawer; Paul (derde van agter) is die lyk; Ringo (tweede van voor) is die gemeente; en John (heel voor, geklee in wit) is die priester. 15
  • Tydens Paul en Linda se troue het duisende vroulike bewonderaars buite die hof waar hulle getrou het, gesit en huil. Daar was so baie mense op straat dat die polisie die motor waarmee die paartjie gery het, moes vergesel. 16
  • McCartney het die melodie van “Yesterday” in sy kop gehad lank voor die woorde gekom het. Hy was so opgewonde daaroor dat hy sommer net woorde uitgedink het om hom te help om die melodie te onthou. Die eerste woorde was soos volg: “Scrambled eggs / Oh my baby, how I love your legs / Not as much as I love scrambled eggs.” Hy het later woorde soos “say”, “stay” en “today” gebruik om met die titel “Yesterday” te rym. 17
  • Paul McCartney is mal oor pizza van New York. Hy het een keer pizza van New York na Londen met ’n Concorde laat aflewer! 18
  • Hy het ook al sy lyf akteur gehou in die Pirates of the Carribean-fliekreeks toe hy in Dead Man Tell No Tales die rol van Jack Sparrow (vertolk deur Johnny Depp) se oom gespeel het. Die musikant Keith Richards, wat voorheen Jack Sparrow se pa gespeel het, was nie beskikbaar om in daardie fliek op te tree nie. 18
  • Lisa Simpson, die dogtertjie in The Simpsons-televisiereeks, is ’n vegetariër omdat Paul en Linda McCartney in 1995 ingestem het om as gaste in die reeks te verskyn indien die skeppers van The Simpsons die karakter van Lisa vir die res van die reeks as ’n vegetariër sou uitbeeld. 18
  • In 1997 is die rekord opgestel vir die meeste vrae wat binne 30 minute op ’n webwerf gevra is. Paul McCartney het tydens ’n aanlyn sessie om sy album Flaming Pie te bemark, binne ʼn halfuur altesaam 3 miljoen vrae van bewonderaars gekry. 19
  • Hy was die eerste persoon wat ʼn konsert vir die buitenste ruim opgevoer het. In 2005 het hy tydens sy konsert in Anaheim, Kalifornië, regstreeks ʼn uitsending behartig om ruimtevaarders op die Internasionale Ruimtestasie (IRS) wakker te maak. Die uitsending het sowat 15 minute lank geduur en hy en die ruimtevaarders het ook bietjie gesels. Hy het twee liedjies vir hulle gesing, waaronder “Good Day Sunshine”. 20
  • Die frase “Mother Mary come to me” in die liedjie “Let It Be” verwys nie na moeder Maria, Jesus se ma nie. Dit is ʼn verwysing na Paul se eie ma, wat se naam ook Mary was. Tien jaar ná haar dood het hy van haar gedroom. Dié droom het hom gehelp om een van die hartroerendste liedjies van alle tye te skryf. 18

Jy ken waarskynlik ook só ’n kind in jou skool: die een wat in alles uitblink – van akademie tot musiek en sport. Paul McCartney was só ’n kind (buiten vir die sportgedeelte). Hy was ’n uitstekende sanger, komponis, liedjieskrywer, baskitaarspeler, pianis, trompetspeler, skilder, digter en skrywer.

Hy het as solokunstenaar en as lid van die ikoniese Beatles-groep dit reggekry om popmusiek van uitstekende gehalte te maak en boonop finansiële sukses te smaak.

Met meer as 60 goue plate en verkope van meer as 100 miljoen enkelsnitte in sy loopbaan is McCartney een van die suksesvolste en gewildste sangers en komponiste in popmusiek. 1

Hy gebruik sy roem om ’n verskil in ander se lewens te maak deur liefdadigheidswerk wat strek van die beskerming van robbe en die uitwissing van landmyne tot pogings om die skuld van ontwikkelende lande te verlig. 1

Kinderjare

James Paul McCartney is op 18 Junie 1942 in die Walton-hospitaal in Liverpool in Engeland gebore. Hy is die oudste seun van Jim en Mary Patricia (née Mohin) McCartney. 2 Twee jaar later maak sy broer, Peter Michael (Mike), McCartney sy opwagting. 3

Pa Jim het in die katoenbedryf gewerk en klavier en trompet in plaaslike jazz-groepe gespeel. 4 In die 1920’s was hy selfs die leier van sy eie orkes, die Jim Mac’s Jazz Band. Sy ma was ’n vroedvrou. 2 Paul was, soos toekomstige Beatles-lede Ringo Starr en George Harrison, ook deel van ʼn tipiese werkersklasgesin. 4

Paul het die Stockton Wood-laerskool bygewoon. Hierna word hy ’n leerder aan die Joseph Williams Junior Skool. In 1953 slaag hy sy 11+-eksamen. 2 Die 11+-eksamen was ’n toets in Brittanje wat jy in die laaste jaar van jou laerskoolloopbaan aflê. Dié toets het gekyk na jou vermoëns in taal en wiskunde en het bepaal watter hoërskool ’n leerder kon bywoon. ’n “Grammar school” was vir leerders wat eendag verder by ’n universiteit wou studeer en sekondêre hoërskole was vir leerders wat nie ná skool verder wou studeer nie en gewoonlik een of ander ambag wou gaan doen. 5

Paul vaar goed genoeg om by die meer akademiese Liverpool-instituut toegelaat te word. ’n Jaar later ontmoet hy George Harrison, ook ’n leerder aan die Liverpool-instituut, op die skoolbus. 2

Paul McCartney se ouerhuis in Liverpool, Engeland.

In 1955 trek die McCartney-gesin na ’n beter huis in die Allerton-distrik van Liverpool. Hulle moes 1 pond 6 sjielings per week betaal om daar te bly (in vandag se geldwaarde is dit sowat £50 of R1 000). Dié huis is deesdae ʼn gewilde toeristebestemming. 2

Tragedie tref die gesin ’n jaar later toe Mary, ’n strawwe roker, op 31 Oktober 1956 as gevolg van komplikasies ná ’n mastektomie sterf. 2 Vir die veertienjarige Paul was dit ’n baie groot verlies. Sy toekomstige Beatles-maat John Lennon het ook sý ma op ’n jong ouderdom verloor en dit lei tot ’n hegte band tussen die twee hoofliedjieskrywers van die Beatles. 4

In die nuwe huis was daar ’n klavier wat pa Jim by Harry Epstein se NEMS-winkel gekoop het. Hierdie winkel is later toevallig deur die Beatles se bestuurder Brian Epstein oorgeneem. 2

Jim het Paul en Mike gereeld aangemoedig om musiek te maak en ná Mary se dood, koop hy vir Paul ’n trompet. Met die gewildheid van “skiffle” in Brittanje, verkoop Paul later sy trompet sodat hy ₤15 vir ʼn Framus Zenith-kitaar kon betaal. 2

Skiffle is ’n mengsel van jazz, country en blues. Eenvoudige instrumente soos die kitaar, mondfluitjie en selfs lepels en bekers – enigiets wat ritmiese musiek kon maak – is gebruik. Hoewel die term skiffle oorspronklik in die 1930’s in die Verenigde State van Amerika (VSA) gebruik is om na die mengsel van blues, boogie-woogie en ander gewilde musiek onder swart mense te verwys, het die groot skiffle-herlewing in die 1950’s in Brittanje met Lonnie Donegan se opname van “Rock Island Line” begin. Hierdie musiekstyl was gewild in Brittanje tot die aanbreek van ruk-en-rol aan die einde van die dekade. 6

Die linkshandige Paul het eers gesukkel om kitaar te speel. Hy het egter later geleer om die kitaar se snare om te ruil en gou sy eerste liedjie “I Lost My Little Girl” geskryf. Hy het ʼn rukkie lank musieklesse geneem, maar het verkies om op gehoor te speel. Hy leer ook om klavier te speel en skryf “When I’m Sixty-Four” in sy tienerjare. 2

Een van Paul McCartney se broeke wat in die Liverpool-museum uitgestal word. Dit het vroeër aan kleinboet Mike McCartney behoort.

Paul se sukses as deel van die Beatles het kleinboet Mike geïnspireer om by Scaffold, ’n groep wat gedigte, musiek en komedie opgevoer het, aan te sluit. Hy het sy van na McGear verander sodat mense nie kon dink dat hy sy broer se roem gebruik om suksesvol in die vermaaklikheidswêreld te wees nie. Vir ’n rukkie het Mike saam met Scaffold en as solokunstenaar ’n musikale loopbaan gevolg, maar in die 1980’s het hy sy van weer na McCartney verander en ’n fotograaf geword. 3

Paul en Linda McCartney by die Oscar-toekenningsaand in 1973.

Die Beatles

Op 6 Julie 1957 word geskiedenis gemaak toe Paul McCartney vir John Lennon tydens ’n kermis ontmoet waar Lennon en sy skiffle-orkes, The Quarrymen, opgetree het. 2

Die 16-jarige John het die 15-jarige Paul uitgenooi om as ritmekitaarspeler by die groep aan te sluit. Later is George Harrison genader as hoofkitaarspeler en Stuart Sutcliffe was die eerste baskitaarspeler. 7

The Quarrymen is in die 1950’s deur John Lennon en ʼn paar van sy vriende by Quarry Bank High School begin. Toe Paul (en later ook George Harrison), wat nie deel was van die skool nie, by hulle aansluit, het hulle besluit om die naam van die musiekgroep te verander en op die naam “Beatles” besluit. 8

Ná ’n rits konserte in Liverpool, het die Beatles se eerste bestuurder, Allan Williams, gereël dat die groep vir ’n ruk in Hamburg, Duitsland gaan bly en daar optree. Pete Best sluit as tromspeler by die groep aan. In 1961 verlaat Sutcliffe die groep. Paul neem sy plek in as die baskitaarspeler. Ná heelwat kritiek word Pete Best deur Ringo Starr vervang. 4

Ná hul terugkeer uit Hamburg, was hulle aan die voorpunt van Liverpool se Merseybeat-toneel, vernoem na die Merseyrivier in die stad. Dit was ’n kruising tussen Amerikaanse ruk-en-rol, R&B en die Britse skiffle wat tussen 1963 en die helfte van 1964 baie gewild was.

Die Beatles se “Please Please Me” en “Love Me Do” was tipiese liedjies van hierdie genre. Nadat die Beatles begin het om hul musiekstyl uit te brei, het Merseybeat se gewildheid afgeneem. 6

In 1962 word Brian Epstein, nadat hy hulle by The Cavern Club gesien het, die groep se amptelike bestuurder. Hoewel die Beatles aanvanklik deur Decca Records afgekeur is, kry Epstein dit reg om ’n kontrak met EMI Parlophone te sluit. In Junie 1962 begin die Beatles met hul eerste opnamesessie by die nou bekende opnameateljee Abbey Road Studios in Londen. 7

The Cavern Club.

In Oktober 1962 haal die Beatles se “Love Me Do”-enkelsnit nommer 17 op die lys van gewildste liedjies in Brittanje. Die Beatles neem hul eerste langspeelplaat in 1963 op. “Please Please Me” is dadelik ʼn nommer 1-treffer in Brittanje vir die musikante geklee in baadjiepakke, toeknoophemde en dasse.

Toere deur Europa volg met duisende aanhangers wat elke aand saamdrom in die strate buite die plekke waar die groep optree. Dié gewildheid onder aanhangers het as Beatlemania bekendgestaan. In 1964 besoek die Beatles die VSA met dieselfde reaksie onder bewonderaars. Die groep se eerste televisieoptrede op die Ed Sullivan Show word deur 73 miljoen mense in die VSA gekyk. 7

Tot vandag toe is dit ’n rekord dat die Beatles die topvyfplekke op die VSA se Billboard Top 100 beklee het. Tussen verskeie toere, neem die groep die ateljee-album A Hard Day’s Night en Beatles for Sale op wat in die tweede helfte van 1964 uitgereik word. 7

Die Beatles se sukses in die VSA het voortgeduur met die eerste musiekkonserte wat in groot sportstadions plaasvind. Op 15 Augustus 1965 woon ’n skare van 55 600 mense ’n Beatles-konsert in die Shea-stadion by.

Vier jaar se aanhoudende opnames en 1 400 optredes het egter sy tol geëis op die groep. In Augustus 1966 hou die Beatles hul laaste openbare optrede in Candlestick-park in San Francisco, VSA. 7

Met geen beplande optredes vir die volgende paar jaar nie, kon die Beatles meer met hul musiek begin eksperimenteer. Tussen 1966 en 1970 neem die groep ses nuwe albums op, waaronder Sgt. Pepper’s Lonely Hearts Club Band.

Ná die dood van bestuurder Brian Epstein het daar meer konflik tussen die groep se lede ontstaan. Dit was moeilik om opnames te voltooi, want kort-kort het een van die lede die ateljee verlaat om later maar weer terug te kom. 7

Ten spyte van hierdie moeilike omstandighede, kon die Beatles steeds daarin slaag dat vier van hul ses albums nommer een in Brittanje haal met vyf albums in die eerste plek in die VSA.

Die spanning tussen die groep het egter al hoe meer geword. Hul laaste optrede vind in Januarie 1969 op die dak van Apple Corps, Savile Row in Londen plaas. Die wêreldwye nommereenalbum Abbey Road volg later daardie jaar. In 1970 het die groep se paaie finaal geskei. Op 8 Mei 1970 verskyn die Beatles se laaste album Let It Be. 7

Die Beatles ná die Beatles

Nadat die groep finaal in 1970 opgebreek het, het elkeen voortgegaan met sy eie musiekloopbaan:

John Lennon het saam met sy vrou Yoko Ono ’n paar liedjies opgeneem. Mense reg oor die wêreld was in rou gedompel toe hy in 1980 buite die Dakota-woonstelle in New York vermoor is. Hy word begrawe in Strawberry Fields, ’n gedeelte van Central Park in New York. 9

John Lennon en sy vrou, Yoko Ono.

Ringo Starr was baie aktief in die 1990’s toe hy met sy All-Starr Band veral tydens somervakansies getoer het. 10

Ringo Starr.

Vir die grootste deel van die 1980’s en 1990’s was George Harrison nie baie aktief in die musiekwêreld nie, maar het ’n hele paar suksesvolle rolprente vervaardig. In 1988 begin hy saam met musieklegendes soos Bob Dylan, Tom Petty, Jeff Lynne en Roy Orbison in ’n groep met die naam Traveling Wilburys ’n paar musiekalbums opneem. Nadat hy ’n mesaanval by sy huis in 1999 oorleef het, sterf hy aan kanker in 2001. 9

George Harrison.

McCartney se loopbaan ná die Beatles

Ná die Beatles het McCartney twee albums, McCartney (1970) en Ram (1971), opgeneem voor hy ’n orkes met die naam Wings saam met sy vrou, Linda (voorheen Eastman), begin het. Linda was ’n Amerikaanse fotograaf en musikant met wie hy in 1969 getrou het.

Paul en Linda McCartney.

Wings het wêreldwyd getoer en was die popgroep wat die meeste geld in die 1970’s verdien het. Altesaam 27 liedjies het die Amerikaanse top-40-trefferparade gehaal. Die ander Britse popkunstenaar in daardie tyd was Elton John en net 25 van sy liedjies het die top-40 gehaal. Vyf agtereenvolgende albums, waaronder die gewilde Band on the Run (1973) en Wings at the Speed of Sound (1976), haal die nommereenposisie. 1

‘n Konsertkaartjie van een van Paul McCartney se vertonings in April 2003.

Sekuriteitsprobleme ná Lennon se dood in 1980 het McCartney verhoed om vir die volgende tien jaar te toer. In hierdie tyd fokus hy op skryf en verdere ateljeeopnames. In 1984 tree hy in die minder suksesvolle fliek Give My Regards To Broad Street op. Resensente was egter mal oor sy 1989-album Flowers in the Dirt. Dit is ook die jaar waarin hy na die verhoog terugkeer.

In 1997 word hy deur koningin Elizabeth II tot ridder geslaan vir sy “diens aan musiek” (hy staan daarna as sir Paul McCartney bekend). 1

McCartney bewys met sy klassieke komposisie Liverpool Oratoria, wat gedeeltelik op sy lewe gebaseer is, dat hy ook in staat is om selfs sonder enige formele musiekopleiding die genre van klassieke musiek te kan aandurf. Die Liverpool Oratoria is saam met die Amerikaanse komponis Carl Davis geskryf en word vir die eerste keer in 1991 deur die Royal Liverpool Filharmoniese Orkes by Liverpool se Anglikaanse katedraal opgevoer. Dit is toevallig dieselfde kerk waar Paul as kind nie sy oudisie vir die kerkkoor geslaag het nie!

Verdere klassieke komposisies uit sy pen is Standing Stone (1997), Working Classical (1999) en die latere Ecce Cor Meum (2006). In 2011 skryf hy die musiek vir Peter Martin se ballet Ocean’s Kingdom.

In 1999 reik hy Run Devil Run saam met David Gilmour, ’n lid van die rockgroep Pink Floyd, uit. Hierdie album, wat uit vroeëre ruk-en-rol-liedjies bestaan, word baie goed deur resensente ontvang. Sy popalbums vroeg in die twintigste eeu is onder meer Driving Rain (2001), Chaos And Creation In The Backyard (2005), Memory Almost Full (2007), New (2013) en Egypt Station, wat in September 2018 as nommer een op die top-200 debuteer. 1

Ander belangstellings

In latere jare het McCartney ook as skilder, digter en skrywer ontpop. Geïnspireer deur ’n ontmoeting met die Nederlandse kunstenaar Willem de Kooning in die laat 1970’s, het hy begin skilder en teen die einde van die 1980’s baie tyd daaraan spandeer. Sy werk word vir die eerste keer in Mei 1999 in Siegen, Duitsland uitgestal. 1

Die Nederlandse kunstenaar Willem de Kooning.

Sy digbundel Blackbird Singing word saam met ’n paar van sy liedjies se lirieke in 2001 uitgegee. Hey Grandude (2019) is maar een van die baie kinderboeke wat uit McCartney se pen verskyn het. 1

McCartney is ’n groot voorstander van vegetarisme en diereregte. Hy is ook betrokke by aktiwiteite wat die skuld van minder ontwikkelde lande probeer verminder, om van landmyne ontslae te raak en om robbe te beskerm. 1

Persoonlike lewe

Met meer as 60 goue plate en verkope van meer as 100 miljoen enkelsnitte is Paul McCartney vandag ongetwyfeld een van die beste musikante op die planeet. 1 Met sy liefdeslewe het dit ongelukkig nie heeltemal so voor die wind gegaan nie.

Paul en Linda. Linda is in 1998 aan borskanker oorlede.

Hy het eerste met Linda Eastman getrou. Hulle was 29 jaar lank getroud tot Linda in 1998 aan borskanker oorlede is. Uit hierdie huwelik is Mary, Stella en James gebore. Paul het ook vir Heather, Linda se dogter uit ’n vorige verhouding, aangeneem. 11

Linda (met Stella op haar heup) en Paul McCartney met hul familie en Wings-lede wat op ‘n boot (Aallotar) vanaf Swede in Finland aankom.

In 2002 trou hy met Heather Mills. ’n Jaar later skenk Heather geboorte aan Paul se vyfde kind, Beatrice. 11

Heather (links), Paul (regs) en die Russiese president, Wladimir Poetin.

Ná hulle egskeiding in 2008, trou McCartney in 2011 met sy derde vrou, Nancy Shevell. 11

Vandag is Paul se aangenome dogter Heather ’n suksesvolle pottebakker. Stella is ’n bekende modeontwerper en Mary ’n fotograaf. Sy seun James het in sy pa se voetspore as musikant gevolg en het al aan ’n paar van sy pa se solo-albums gewerk. Hy het ook al sy eie musiek uitgereik. 11 McCartney se jongste kind, Beatrice, gebore op 28 Oktober 2003, speel die saksofoon, maar stel nie belang om heeltyds musikant te word nie. Haar belangstelling lê in mariene biologie. 12

James McCartney is ‘n ewebeeld van sy pa.
‘n Winkel van Stella McCartney, ‘n modeontwerper, in Madrid, Spanje.

Hy is die oupa van agt kleinkinders. Mary het vier seuns – Arthur, Elliot, Sam en Sid. Stella het ook vier kinders – Miller, Bailey, Beckett en Reily. Hul bynaam vir hom is Grandude. 11

Woordbank

aanhangers Bewonderaars.
ambag Aangeleerde handwerk waarby stowwe bewerk/verwerk word.
blues Swaarmoedige volksmusiek van Afro-Amerikaanse oorsprong.
boogie-woogie Herhaalde ritmiese of melodiese musiekpatroon, gewoonlik in die basparty.
Concorde ʼn Vliegtuig wat dubbel die snelheid van klank kon vlieg.
country Soort musiek, oorspronklik uit die VSA, met plattelandse en cowboyliedjies as basis, veral met kitaarbegeleiding.
debuteer Vir die eerste keer in die openbaar of in ’n bepaalde sportsoort/vakgebied/rigting/ens. optree of beskikbaar raak.
dubbelganger Iemand wat presies soos ’n ander persoon lyk.
enkelsnitte Plaat wat net een snit aan elke kant bevat.
genre Soort; tipe; veral, literatuur- of kunssoort.
ikoniese Iemand/iets wat merkwaardig/besonders/navolgenswaardig is; beroemde persoon wat deur baie mense bewonder word.
jazz (Dans)musiek van Afro-Amerikaanse herkoms met gesinkopeerde ritme en dele wat verskillende lede van ’n orkes alleen gespeel word. Jazzmusiek word onder meer uitgevoer deur slag- en blaasinstrumente, klavier en kitaar.
katedraal Kerk.
kermis Byeenkoms (meestal in die buitelug) met stalletjies waar mense aan kompetisies kan deelneem en allerhande lekkernye kan koop, gewoonlik jaarliks gereël om geld in te samel.
klassieke Wat tot ʼn tradisionele styl behoort.
komedie Blyspel.
komplikasies Probleem.
komponis ’n Persoon wat musiek skryf; skepper van musiekstukke; toondigter.
komposisie Musiekstuk.
konflik Rusie, stryery.
landmyne Myn wat in die grond begrawe word en ontplof wanneer iemand daaroor loop/ry.
langspeelplaat Grammofoonplaat met ’n lang speelduur, gewoonlik minstens 20 minute aan ’n kant, en ’n driekwartier na ’n uur in totaal; langspeler.
musieklegendes Baie bekende persoon as gevolg van sy prestasies/wat hy bereik het.
liefdadigheidswerk Die handeling van steun/geld/goed/ens. te gee aan mense wat arm/siek/ens. is en hulp nodig het.
lirieke Woorde van ’n liedjie.
mariene Wat betref die see; wat by/in die see voorkom.
mastektomie Amputasie van ’n bors (operasie wat dikwels op vroue uitgevoer word wat borskanker het).
melodie Deuntjie.
ontpop Te voorskyn kom; ontluik/ontwikkel.
oudisie Toets om ’n sanger/toneelspeler/uitsaaier/ens. se bekwaamheid vas te stel.
pianis Iemand wat klavier speel.
popgroep Groep wat gewoonlik uit een of meer soliste en instrumentaliste bestaan, wat popmusiek maak of daarin spesialiseer; musikante wat musiek speel waarvan die meeste mense hou.
popmusiek Moderne musiek met ’n sterk ritmiese inslag, uitgevoer met elektroniese apparaat en populêr onder veral jonger mense.
resensente Iemand wat ’n boek/kunswerk/opvoering/ens. resenseer/beoordeel.
R&B Gewilde musiekgenre wat jazz-, gospel- en blues-invloede kombineer, oorspronklik uitgevoer deur Afro-Amerikaanse kunstenaars.
ridder Iemand in besit van ’n ridderorde; lid van ’n ridderorde.
rits Reeks dinge (in hierdie geval optredes/konserte) naas mekaar.
rock Gewilde musieksoort gekenmerk deur die harde klanke van kitaars en tromme; rockmusiek.
roem Bekendheid.
ruk-en-rol Soort populêre dansmusiek wat in die 1950’s in Amerika ontstaan het, ’n versmelting van rhythm-en-blues, country-en-western en gospel, gekenmerk deur elektries versterkte instrumentasie bestaande uit kitaar, bas en tromme en eenvoudige melodieë.
samesweringsteorie Teorie of hipotese vir iets wat moeilik verklaar kan word of waaroor daar legitieme vrae gevra kan word en waarvolgens sekere groepe, organisasies, regerings, of dergelike aanspreeklik gehou word vir onwettige of skadelike praktyke wat in die geheim beoefen word of beoefen is.
skiffle ’n Soort populêre folk-musiek wat dikwels op ongewone instrumente gespeel word, veral gedurende die 1950’s.
solokunstenaar Musikant/kunstenaar wat alleen optree.
trefferparade Lys van die gewildste musiek in ’n land.
vegetarisme Beginsel/praktyk, vanweë morele, godsdienstige of gesondheidsredes, om ’n dieet te volg wat hoofsaaklik uit plantdele (blare, wortels, vrugte, neute en sade) en fungi bestaan, en waarvan vleis en vis, en soms ook eiers en suiwelprodukte, uitgesluit is.
musiekveterane Ouer, ervare persoon.
voor die wind Eersteklas; voorspoedig.
vroedvrou Iemand wat vroue help met die geboorte van hul babas; vrou wat verloskunde beoefen.
werkersklasgesin Sosiale groep wat bestaan uit mense wat handearbeid verrig of in die nywerheidsektor werk; arbeidersklas. 21

Lees dié artikels om meer te leer

Video’s oor McCartney en die Beatles

Die A-Z van verskillende musiekgenres

Dit het McCartney en animasiekunstenaar Geoff Dunbar drie jaar geneem om hierdie video gebaseer op die Rupert, the Bear-kinderboeke te maak

’n Voorlesing van McCartney se kinderboek Hey Grandude!

Dit is hoe Beatlemania gelyk het

McCartney het selfs die musiek vir ’n ballet geskryf

John Lennon se eerste musiekgroep is deur skiffle-musiek geïnspireer

Gepubliseer op: 21 Junie 2023 | Bygewerk op 19 Januarie 2024