Vinnige feite

  • Die gebeurtenis op 13 Mei 1961 was presies 51 jaar na Uniewording (31 Mei 1910) en 59 jaar ná die sluiting van die Vrede van Vereeniging (31 Mei 1902).
  • In 1962 het die Britse Leeus deur Suid-Afrika getoer vir rugbytoetse. Die laaste toets (op 25 Augustus) was in Bloemfontein. In die lig van Republiekwording het die anti-Engelse sentiment weer hoog geloop. In die laaste toets het 60 000 mense gekyk hoe die Springbokke die Leeus verslaan met 34-14. Minute voor die eindfluitjie het Mannetjies Roux ’n drie gedruk van sy eie halfgebied af. Dít is die drie waaroor Laurika Rauch sing in haar beroemde liedjie: Stuur groete aan Mannetjies Roux. 5
  • Op 14 Februarie 1961 het die Britse geldstelsel verdwyn, vervang met die desimale geldeenheid van rand en sent in plaas van ponde, sjielings en pennies. 5
  • Op Dinsdag 31 Mei 1966 is ’n groot militêre parade en lugvertoning in Pretoria gehou as viering van Republiekwording vyf jaar gelede. Volgens die koerante van toentertyd is dit bygewoon deur ongeveer ’n halfmiljoen mense – die meeste mense wat al ooit op een plek in Suid-Afrika byeen was! 5

Sedert die einde van die 18de eeu tot ná die middel van die 20ste eeu was groot dele van Suid-Afrika onder een of ander vorm van Britse invloed of beheer. In 1910 het vier Britse kolonies in Suid-Afrika verenig om die Unie van Suid-Afrika te vorm. Hierdie unie was steeds ’n Britse kolonie. Die Britse monarg – die koning of koningin – was die staatshoof, met ’n Suid-Afrikaanse eerste minister as die hoof van die regering. Dit het alles op 31 Mei 1961 verander. Suid-Afrika het ’n republiek geword, met ’n staatspresident as staatshoof. Ná meer as 150 jaar is Britse beheer oor Suid-Afrika finaal beëindig.

Agtergrond

Die eerste paar dekades van die twintigste eeu was ’n bloeitydperk (’n tyd van groot vooruitgang) vir Afrikanernasionalisme. Dit het onder meer gelei tot die totstandkoming van die Nasionale Party (NP), wat hulself beywer het vir die opheffing van die Afrikanergemeenskap. Baie nasionaliste het die ideaal gekoester om die unie van Suid-Afrika in ’n Afrikaanse, Christelike republiek te verander, finaal vry van enige Britse beheer. 1

D.F. Malan
D.F. Malan, ongeveer 1940
Vlag van Suid-Afrika, 1982 – 1994

Ná die 1948 verkiesing het die NP aan bewind gekom. Die eerste twee leiers van die NP, eers D.F. Malan en toe J.G. Strijdom, het die idee van ’n republiek bespreek, maar nie regtig hard daarvoor gewerk nie. 2

J.G. Strijdom

Malan het geweet dat hulle ook die Engelssprekende Suid-Afrikaners sou moes oortuig van die voordele van ’n republiek. Om dit te doen, het hy belowe dat die republiek gelyke taal- en kultuurregte vir Afrikaners en Engelse sou waarborg. ’n Republiek sou slegs uitgeroep word ná die landsburgers se opinie deur middel van ’n referendum (volkstemming) getoets is. 3

H.F. Verwoerd

Die idee van ’n republiek het so half opsy gelê tot dr. Hendrik Frensch Verwoerd in 1958 die eerste minister geword het. Verwoerd wou seker maak dat Suid-Afrika totaal onafhanklik sou wees van enige Britse inmenging. Hy wou ook eenheid tussen die twee wit groepe – die Afrikaners en die Engelse – bevorder. Daarom het hy die idee van ’n Suid-Afrikaanse republiek begin verkondig. 1

H.F. Verwoerd, redakteur van Die Transvaler en toekomstige eerste minister

Die impak van 1960

Die jaar 1960 was ’n gebeurtenisvolle jaar en dié gebeure het die geskiedenis van Suid-Afrika onherroeplik verander. Dit het ook die NP meer vasberade gemaak om Suid-Afrika ’n republiek te maak.

Die ‘Winde van Verandering’

Op 3 Februarie 1960 het die Britse leier, Harold Macmillan, tydens ’n besoek aan Suid-Afrika ’n toespraak gemaak wat later as die ‘Winde van Verandering’-toespraak bekend sou staan. Macmillan het gesê dat Brittanje aanvaar het dat swart mense in beheer sou wees van regerings in Afrika-lande. Daarom was Brittanje teen die wit minderheidsoorheersing in Suid-Afrika, met ander woorde waar die groep in die minderheid (die wit mense) die meerderheid (mense wat nie wit was nie) regeer. Baie Suid-Afrikaners het hierdie gesien as ’n waarskuwing dat Brittanje nie langer Suid-Afrika se regering sou ondersteun nie. 4

Protes teen apartheid

Op 21 Maart 1960 het die Sharpeville-menseslagting plaasgevind, en daar was ook opstande in ander swart woongebiede, soos Langa, Mbekweni, Soweto en KwaMashu. 1

Die regering was verplig om ’n noodtoestand af te kondig wat ’n paar maande voortgeduur het, en die African National Congress (ANC) en Pan-Africanist Congress (PAC) – twee swart politieke partye – te verban. Die effek van hierdie opstande, en veral Sharpeville, was belangrik. Suid-Afrika is skerp uit die buiteland veroordeel, en lande het begin om Suid-Afrika te isoleer. 4

Sharpeville, 1960

Maar binne Suid-Afrika het Verwoerd se ondersteuning gegroei. Wit Suid-Afrikaners, Afrikaners veral maar ook sommige Engelse, het geskrik vir die omvang van die geweld, en het Verwoerd gesien as ’n skerm teen die chaos. Mense het ’n ordelike republiek onder die bestuur van Verwoerd verkies bo die alternatief om deel te bly van die Britse Ryk en die verdeeldheid wat dit gebring het. 1

Sluipmoordpoging op Verwoerd

Op 9 April 1960 was daar ’n sluipmoordpoging op Verwoerd. Hy is in die gesig geskiet, maar het verbasend vinnig herstel van sy wonde. Ironies genoeg, het dié aanval sy steun vermeerder, moontlik omdat hy as ’n martelaar beskou is. 4 [Lees hier oor wêreldbekende sluipmoordaanvalle.]

Kongolese onafhanklikheid

In Sentraal-Afrika het die Kongo op 30 Junie 1960 sy onafhanklikheid van België gekry. Die proses het ongelukkig met baie geweld gepaardgegaan. Skrikwekkende verhale van moord en doodslag van (ook) wit mense is deur die NP-regering gebruik om kiesers op die moontlike gevolge van swart regering te wys. 1

Aankondiging van die referendum

Op 20 Januarie 1961 het Verwoerd in die parlement aangekondig dat die wit kiesers in ’n referendum moes stem of hulle wou hê dat Suid-Afrika ’n republiek moes word. 2  ’n Meerderheidstem – meer as 50% van die stemme – sou genoeg wees.

Die Republiek sou Christelik en demokraties wees, alhoewel net wit mense stemreg sou hê. Gelyke behandeling van die twee amptelike tale, Afrikaans en Engels, is gewaarborg, en die parlementêre vorm van die regering sou behou word. Die amp van goewerneur-generaal (Brittanje se verteenwoordiger in Suid-Afrika) sou vervang word met ’n staatspresident. Die staatspresident sou nie deel wees van ’n politieke party nie, en moes ’n simbool van nasionale eenheid wees. Die republiek sou vriendskaplike betrekkinge met Brittanje en ander Statebondslande (lande wat voorheen Britse kolonies was of steeds is) behou. 1

Aanloop en stemdag

Suid-Afrikaners het baie passievol gevoel oor republiekwording, en daar was beslis nie eenstemmigheid nie, selfs nie onder die Afrikaners nie. Die besluit om ’n referendum te hou was vir Verwoerd ’n politieke waagstuk, want daar was geen waarborg dat hy sou wen nie. Voor 1961 het die NP-regering nog nooit meer as helfte van die stemme in ’n verkiesing gewen nie. 4  In die 1958-verkiesing het die NP wel gewen, maar die ander partye het saam meer stemme as die NP gehad. 1 Die NP het dus nodig gehad dat ondersteuners van ander partye ook ‘ja’ stem. 4

Verwoerd se boodskap was gemik op eenheid tussen Afrikaans en Engels, eerder as Afrikanernasionalisme. Hy het gesê dat die wit mense net behoorlik sou kon saamstaan in ’n republiek. As Suid-Afrika volledig onafhanklik was, sou die land beter kon reageer op buitelandse kritiek, en sou die regering met minder moeite sy rassebeleid, wat daarop gemik was om wit mense teen ’n swart oormag te beskerm, kon implementeer. 4 Wat in Verwoerd se guns getel het, was dat swart en bruin mense en Indiërs nie kon stem nie, maar wit kiesers in Suidwes-Afrika (Namibië) wel. Verder was daar duisende Engelssprekendes wat geïrriteerd was met Brittanje oor Macmillan se ‘Winde van Verandering’-toespraak. 1

Die stem was eenvoudig: ja of nee. Die NP het natuurlik in die aanloop vir ’n ja-stem gevra, die Verenigde Party en die Progressiewe Party, vir ’n nee-stem. 2 Die stemming het op 5 Oktober 1960 plaasgevind. Dit was uiters spannend. 4 ’n Rekordpersentasie van 90,5% van alle kiesers wat kon stem, het gestem, 1 wat die oorgrootte meerderheid Afrikaners ingesluit het. 2 Die ja-stemme het met 74 580 stemme geseëvier: 4 850 458 of 52% het ja gestem, en 775 878 of 47,5% nee. 5

Reaksies

Verwoerd was in die wolke. Hy het in ’n toespraak gesê: “Ons het bo kleinlikheid en selfsugtigheid uitgestyg … Die Engelssprekende en Afrikaanssprekende dele is soos ‘n nuwe bruid en bruidegom wat die nuwe lewe in liefde betree en as lewensmaats saam bou en saam leef.” 4

Die meerderheid Engelssprekende Suid-Afrikaners het egter oorweldigend teen Republiekwording gestem. Die aanvang van die Republiek was vir hulle ’n traumatiese beëindiging van hul verhouding met Brittanje. 6

Op 15 Oktober het 70 000 mense ’n dankfees, gereël deur die FAK, in die amfiteater van die Voortrekkermonument bygewoon. 5

Daar was heftige swart opposisie teen die totstandkoming van die republiek. ’n Beplande wegblyaksie van swart werkers het egter misluk, en massabetogings het nie plaasgevind nie. 1

Grondwet van die Republiek

’n Maand ná die verkiesing is ’n konsepgrondwet – die voorstel vir hoe die nuwe grondwet sou lyk – gepubliseer en in April 1961 deur die parlement goedgekeur. Dit was gebaseer op die Uniegrondwet van 1961. Die goewerneur-generaal en Britse monarg is vervang is deur ’n staatspresident. 2 Afrikaans en Engels het amptelike tale gebly. 5

Suid-Afrika word ’n republiek

Die dag van Republiekwording was 31 Mei 1961, presies 51 jaar ná die dag van Uniewording. Die seremonie is op Kerkplein in Pretoria gehou. Die geboue was versier en die stemming feestelik. Van die vorige aand af het duisende mense, meestal Afrikaners, op die plein begin saamtrek. Die klokke het om 12 uur gelui om die nuwe republiek te verwelkom. Net daarna het dit swaar begin reën. 2

Die eerste staatspresident was Charles Robberts (Blackie) Swart. Hy is verkies deur lede van die parlement en provinsiale regerings. Hy is ingehuldig die oggend van 31 Mei in die NG kerk in Bosmanstraat, Pretoria. Hierna het hy en Verwoerd die skare toegespreek vanaf die balkon van die Paleis van Justisie. 2

Die Statebond

Die Statebond was ’n organisasie van lande waarvan die meerderheid voormalige of huidige kolonies van Brittanje was. Hulle het gewerk daaraan om politieke, sosiale, ekonomiese en kulturele bande met mekaar te bou.

Verwoerd het gedink dat Suid-Afrika sou kon aanbly as lid van die Statebond. Ander Statebond-leiers het egter Suid-Afrika se apartheidsbeleid verwerp, en aangedui dat hulle Suid-Afrika se lidmaatskap sou teenstaan. 1

Verwoerd se reaksie daarop was om op 15 Maart 1961 by die Statebondkonferensie in Londen onverwags aan te kondig dat hy Suid-Afrika se aansoek om voortgesette lidmaatskap terugtrek. Dit het groot opspraak gewek. Wat vir Suid-Afrika vernederend sou wees – as hul lidmaatskap verwerp sou word – het ’n triomf vir Verwoerd geword, veral in Suid-Afrika. Groot skares het op lughawens in Johannesburg en Kaapstad bymekaargekom om hom uit Londen terug te verwelkom. 1

Was Republiekwording ’n goeie besluit?

Republiekwording was vir die NP ’n reusesukses. In die eerste verkiesing ná Republiekwording, in Oktober 1961, het die NP ’n groter oorwinning behaal as nog ooit tevore. 2 Verwoerd het hard gewerk aan die verhouding tussen Afrikaners en Engelssprekendes. Hy het al hoe sterker klem gelê op wit eenheid eerder as Afrikanernasionalisme. 5 Dit was ’n suksesvolle strategie, en hy het dit tot ’n groot mate reggekry om die ou vyandelikhede tussen wit gemeenskappe te beëindig. 4

In die jare ná Republiekwording het Suid-Afrika, vir die wit mense in elk geval, ’n ekonomiese bloeityd beleef. In stadiums het die Suid-Afrikaanse ekonomie vinniger gegroei as enige ander ekonomie in die wêreld. 5

Die Statebondslande het Suid-Afrika al hoe meer verstoot. Suid-Afrika kon, byvoorbeeld, nie meer amptelik aan sommige internasionale sport- en kulturele gebeurtenisse deelneem nie. 6

’n Ryk, maar eensame pad het vir die nuwe republiek voorgelê. 1

Woordbank

bloeitydperk Tydperk waarin daar groot vooruitgang is.
grondwet Die reëls wat bepaal hoe ’n staat regeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers het.
monarg Ook genoem ’n vors. ’n Regeerder wat nie verkies is nie, maar die troon geërf het.
onafhanklik Die reg om jouself te regeer.
referendum Stemming waarin almal van ʼn volk mag deelneem, gewoonlik oor ʼn spesifieke saak.
Statebond Die politieke assosiasie van lande waarvan meeste voorheen deel van die Britse Ryk was. 7

Lees die volgende vir meer kennis van Republiekwording

Kyk hierdie videos om nog meer te leer oor Republiekwording

Die totstandkoming van die republiek van Suid-Afrika.

Dr. Verwoerd se toespraak (1961)

Gepubliseer op: 22 September 2022 | Bygewerk op 7 Maart 2024