Vinnige feite

  • Daar was op ’n tyd ’n sosialistiese party in Amerika wat ook aan die presidensiële verkiesing deelgeneem het. Eugene V. Debs, die leier van die Sosialistiese Party, was een van Amerika se bekendste sosialiste.
  • Karl Marx het in 1875 die volgende gesê as ’n manier om kommunisme op te som: “Van elkeen volgens sy vermoë tot elkeen volgens sy behoeftes.”
  • Marx was ’n sosialis, geskiedkundige en ekonoom. Buiten vir sy manuskrip, The Communist Manifesto, het Marx ook bekendgeword vir sy boek, Das Kapital. 7
  • Friedrich Engels (1820-1895) wat saam met Marx The Communist Manifesto geskryf het, was ook ’n Duitser en ’n sosialis. Hy was ’n filosoof en het saam met Marx tot die stigting van moderne kommunisme bygedra. 8
  • Robert Owen wat in 1771 gebore is, word as die eerste sosialis gesien en was die stigter van Brittanje se Cooperative Movement wat hulle beywer het vir maatskappye wat deur werkers besit word. 9
  • Die eerste sosialistiese leier wat verkies is, was Australië se Chris Watson wat in 1904 die eerste minister geword het. 7
  • China word steeds deur ’n kommunistiese party regeer en daarvolgens word nywerhede streng beheer. Die land bied gratis gesondheidsorg en onderwys aan sy burgers. Tog het China mettertyd sekere kenmerke van kapitalisme aanvaar en privaat eienaarskap van sekere ondernemings aanvaar. 6

Verbeel jou daar is ’n land waar niemand ryk of arm is nie. Niemand besit selfs ’n eie onderneming nie, want die fabrieke behoort aan almal. Daar is dus nie ryk eienaars nie, maar ook nie arm werkers nie. Dit klink vreemd, nè? Dit is egter die basiese idee van sosialisme, maar in praktyk werk dit nie altyd volgens sosialiste se ideaal nie.

Wat is sosialisme dus? Dit is ’n ekonomiese en politieke stelsel wat gegrond is op die kollektiewe, gemeenskaplike of openbare eienaarskap van alle produksiemiddele. Dit sluit masjinerie en fabrieke in wat gebruik word om goedere te vervaardig om aan mense se behoeftes te voldoen. 1

Sosialisme het dus meer met die ekonomie te make en die doel is dat welvaart gelyk verdeel moet word.

Die ontstaan

Sosialisme het ontstaan as ’n reaksie op kapitalisme. In ’n kapitalistiese bestel, mag mense eiendom besit en mense en maatskappye ding met mekaar mee vir welvaart. Daar is dus sterk mededinging tussen maatskappye vir verbruikers se geld.

Tydens die 1700’s en 1800’s is masjinerie uitgevind en baie van die take wat mense eers verrig het, is toe deur masjinerie oorgeneem. Dit het daartoe gelei dat produksie in fabrieke verhoog kon word en hierdie tyd staan as die Industriële Revolusie bekend. Kapitalisme het flink in hierdie tydperk gegroei en sekere mense, soos fabriekeienaars, het vinnig ryk geword terwyl ander, soos die fabriekwerkers, steeds swaargekry het. Hulle het min geld gekry en dan was hul werksomstandighede ook dikwels haglik. Soos ’n mens kan dink, het dit baie werkers kwaad gemaak.

Mense het toe begin speel met idees hoe om die probleem op te los. Een idee was dat regerings moes ingryp, nywerhede beheer en só ’n gemaklike en beter lewe vir al die burgers skep. Dié stelsel wat hulle voorgestel het, was sosialisme. 2

Wortels van sosialisme

Hoewel daar ooreenstemming is dat sosialisme tydens die Industriële Revolusie ontstaan het, kom die eintlike idee daarvan lank voor daardie tyd. Dit was weer eens die Antieke Grieke wat met hul idees ver voor hul tyd was. Só het die filosoof Plato in sy dialoog Republic ’n kollektiewe samelewing voorgestel met wortels van sosialisme. Kollektief beteken maar net dat die mense saamwerk en saam besluite neem en optree. Dit was reeds in 360 v.C.

Sir Thomas More het ook in die 16de eeu in sy werk Utopia geskryf oor ’n plek waar geld afgeskaf word en mense op dieselfde vlak werk en leef. 3

Die ontwikkeling van sosialisme

Vroeë sosialiste soos Henri de Saint-Simon, Robert Owen en Charles Fourier het modelle vir sosialistiese gemeenskappe opgetrek. Hulle wou hê dat mense eerder saam met mekaar moes werk in plaas daarvan om met mekaar mee te ding. Saint-Simon se voorstel was dat die regerings van lande die produksie moes beheer en die goedere tot almal se voordeel verdeel moes word. Fourier en Owen het bietjie anders gedink en hul voorstel was dat daar net klein kollektiewe gemeenskappe moes wees in plaas van een sentrale staat. 3

Robert Owen
Henri de Saint-Simon
Charles Fourier

Van sosialisme na kommunisme

Sosialiste se idee was dat die eienaarskap van fabrieke en eiendom mettertyd vanaf die ryk mense na die werkers oorgedra moes word, maar nie almal het gedink dat dit realisties is nie.

Hulle wou beslis nie wag vir ’n verandering wat jare en jare kon vat nie.

Hul plan was eerder dat die kapitalistiese stelsels omvergewerp moes word en deur ’n nuwe klas vervang moes word. Waar kom die idees vandaan? Van die Duitse akademikus Karl Marx (1818-1883). Hy het geglo dat ander sosialiste se drome onrealisties was en dat daar slegs verandering deur aksie kon kom.

Karl Marx

Hy het gesê dat die samelewing uit klasse bestaan en as sekere klasse produksie beheer, sal hulle die mag gebruik om die arbeidsmag (of werkers) uit te buit.

Hy en Friedrich Engels se bekende 1848-werk, , het die grondslag van kommunisme geword. Hulle het daarin geargumenteer dat ware wetenskaplike sosialisme net bereik kan word as werkers vir hulself opstaan, ’n revolusie lei en die kapitaliste omverwerp. As die werkers (of soos hy hulle genoem het, die proletariaat) as oorwinnaars uit die stryd tree, sal hulle die nuwe regerende klas word.

Hy het geglo dat daar dan ’n ware kommunistiese samelewing kan ontwikkel. Maar wat behels so ’n samelewing? Niemand mag privaat eiendom besit nie, daar moenie ’n regering wees nie en mense vervaardig goedere op grond van hul vermoëns. 4

Kommunisme is dus ’n ekonomiese of politieke stelsel waarmee die staat alle eiendom, industrieë en ekonomiese instellings besit en beheer en verder alle mense gelyk behandel – of ten minste probeer om dit te doen. 1

As jy in ’n kommunistiese land bly, kan jy, byvoorbeeld, nie jou eie onderneming besit of jou oupa sy eie plaas besit nie. Dit vat dus die idees van sosialisme verder.

Selfs nadat Marx dood is, het sy idees versprei en gegroei en is mettertyd deur verskeie politieke partye opgeneem en daarop uitgebrei. 3

Die eerste kommunistiese regering is deur die Russe geskep. Dit het ná ’n revolusie in 1917 gebeur.

Die nuwe leier, Vladimir Lenin, se politieke party het Marx se idees geïmplementeer. Hy het sy party die Kommunistiese Party genoem en hulle het ook in 1922 die Sowjetunie tot stand gebring. Die slagspreuk was “Die groot sprong vorentoe.”

Dit was katastrofies vir die bevolking. Tydens die regering van Lenin en Stalin het tussen 60 tot 100 miljoen mense gesterf. Grootskaalse hongersnood het die Sowjetunie getref toe baie suksesvolle kleinboere van hul grond verwyder is. Miljoene mense is vanaf die jare twintig tot die jare vyftig in strafkampe geplaas en dikwels ook tereggestel. Dit was mense wat as “gevaarlik” vir die staat gesien is. Dit het beteken dat selfs skrywers wat krities was teen die staat, asook ryk plaaseienaars toegesluit is.

Hierdie strafkampe is Gulag genoem. Dis ’n akroniem wat basies die administrasie van korrektiewe arbeidskampe beteken.

Baie lande in Oos-Europa het by die Sowjetunie aangesluit en ook kommunisties geword. 5

Ná die Tweede Wêreldoorlog het kommuniste beheer oor China, Noord-Korea, Viëtnam en Kuba geneem en baie Afrikalande het ook kommunisties geword.

Amerika en sy bondgenote was gekant teen die verspreiding van kommunisme en dit het tot die sogenaamde Koue Oorlog tussen die Sowjetunie en Amerika gelei. 5

In die jare negentig het die Sowjetunie tot ’n val gekom en al sy lidlande het onafhanklik geword en meer demokratiese regeringsvorms aangeneem.

Kommunisme het dus daar tot ’n val gekom en lande het meer kapitalisties geword. 5

Die verskille tussen sosialisme en kommunisme

In ’n kommunistiese land word alle ekonomiese hulpbronne deur die staat besit en beheer. Individue mag geen persoonlike eiendom of bates besit nie. Sosialiste glo egter individue mag privaat eiendom en bates besit, maar alle nywerhede en fabrieke moet gemeenskaplik besit word en deur ’n demokraties verkose regering beheer word.
Ingevolge kommunisme moet goedere vervaardig word om in mense se basiese behoeftes te voorsien en dan gratis aan mense versprei word. Volgens sosialisme word goedere vervaardig om die individu en die samelewing se behoeftes te bevredig en word verdeel volgens die individu se vermoë en bydrae tot die proses.
Daar is geen sosiale klasse in ’n kommunistiese bestel nie en niemand kan meer as ander verdien nie. Al werk jy byvoorbeeld harder as jou buurman, sal julle steeds dieselfde geld verdien. In ’n sosialistiese bestel, bestaan sosiale klasse en dis moontlik vir mense om meer as ander te verdien.
Kommunisme laat geen beoefening van godsdiens toe nie. Sosialisme maak voorsiening vir vryheid van godsdiens. 6

Sosiaal-demokrasie

Sosiaal-demokratiese partye het in die 20ste eeu toenemend in baie Europese lande veld gewen. Hul idees is basies gegrond op sosiale hervormings soos openbare onderrig en gesondheidsorg deur ’n demokratiese regering met ’n hoofsaaklik kapitalistiese ekonomie.

Dit beteken dat hulle glo dat ’n samelewing en ekonomie demokraties bestuur moet word en dat daar in die behoeftes van al die burgers voorsien moet word. Hulle voel die regering het ’n verantwoordelikheid om sy burgers met welsynsprogramme te help, terwyl ’n vryemarkekonomie (waar mense met mekaar mag meeding en ondernemings en eiendom mag besit) aangemoedig word. Hul ekonomieë is dus afhanklik van ’n sterk kapitalisme en kan as ’n gemengde ekonomie beskryf word.

Het jy geweet?

Daar is ’n verskil tussen sosiaal-demokrasie en demokratiese sosialisme.

Sosiaal-demokrasie is gegrond op ’n kapitalistiese ekonomiese stelsel en het regeringsinstellings wat deur maatskaplike programme in burgers se behoeftes voorsien.

Demokratiese sosialisme het ’n visie van ’n samelewing en ekonomie wat demokraties is en waar individue meer sê as groot maatskappye het. Hierdie stelsel wil die ekonomie sosialisties eerder as kapitalisties hê. 6

Woordbank

akroniem ’n  Enkele woord saamgestel uit die eerste letter(s) van die komponente van ‘n begrip, omskryf deur verskeie woorde, bv. ‘Soweto’ is die akroniem vir ‘South Western Townships’.
bates Besitting wat iemand of ’n maatskappy voordelig kan aanwend.
bestel In hierdie geval beteken dit ‘bewind of ‘regime’.
burgers Mense wat lede van ’n stad of staat is.
demokraties ’n Regeringsvorm deur verteenwoordigers wat deur die hele bevolking gekies is, en gekenmerk word deur vryheid van spraak, van die individu, van die reg en van die media.
ekonoom Sakekenner; beoefenaar van die ekonomiese wetenskap.
filosoof ’n Denker, geestelike, (hoog)geleerde, intellektualis, (Bv. Plato).
haglik In ’n baie slegte toestand, bedenklik; rampsalig
geïmplementeer Ten uitvoer bring, toepas, bewerkstellig.
kollektief Gesamentlik, gemeenskaplik
mededinging Wanneer mense of ondernemings beter as hul teenstander(s) wil doen/presteer. 1
omverwerp Om iets te laat misluk.
produksie Die lewering of vervaardiging van ’n produk. 1
produktiwiteit Die hoeveelheid produkte wat in ’n sekere tyd vervaardig word. 1
realisties Wat die werklikheid weergee.
regerings Die bestuur van ’n land. 1
revolusie Dis ’n situasie waarin mense van ’n land baklei om die bestaande regering met ’n regering van hul keuse te vervang.
samelewing Mense in die algemeen, soos hulle in gemeenskappe saamleef, veral in gemeenskappe waarin hulle dieselfde gewoontes, wette, ensovoorts het. 1
veld gewen Vooruitgang maak.
verbruikers Iemand wat goedere of dienste vir persoonlike gebruik koop. 1
vervaardig Maak, fabriseer, voortbring. 1
vryemarkekonomie Waar mense met mekaar mag meeding en ondernemings en eiendom mag besit.
vryemarkstelsel Dis ’n ekonomiese stelsel waar vraag en aanbod die prys van goedere en dienste bepaal. 1
welvaart Rykdom. 1
werkers/werknemers Iemand wat vir ’n loon of ’n salaris werk.

Lees die volgende artikel om nog meer te leer

Kyk na hierdie video om nog meer te leer

Die verskil tussen kapitalisme, sosialisme en kommunisme

 

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 11 November 2022 | Bygewerk op 23 Januarie 2024