Vinnige feite

  • F.A. Venter het gewerk as joernalis, skaap- en wingerdboer en voltydse skrywer.
  • Hy was in 1961 die wenner van die Hertzogprys vir letterkunde vir sy boeke Swart pelgrim en Geknelde land.
  • Hy het oorspronklik beplan om ’n trilogie (’n reeks van drie boeke) oor die Groot Trek te skryf, maar het weens die gewildheid van die reeks besluit om dit uit te brei na ’n tetralogie (’n reeks van vier boeke).
  • F.A. Venter was een van die produktiefste Afrikaanse skrywers van sy tyd – wat beteken dat hy báie geskryf het! Hy het ook tientalle boeke onder skuilname die lig laat sien.
  • Venter se tetralogie oor die Groot Trek (bekend as die Lande-boeke) het baie gedoen om weer ’n trots by Afrikaners aan te wakker en deur die letterkunde helde te skep.

Sy ma het hom haar “kambrokind” genoem. Later het Afrikaanse lesers hom hul volkskrywer genoem. Wie was hierdie seun van die Karoo wat as joernalis en skrywer met sy woorde “mites en helde uit die verlede geskep het”? 1

Kom ontmoet Frans Venter, beter bekend as F.A. Venter, die skrywer van die geliefde “Lande-boeke”.

Jeugjare en persoonlike lewe

Francois Alwyn (Frans) Venter is op 27 November 1916 op Hopetown, ’n Noord-Kaapse dorpie aan die randjie van die Groot Karoo, gebore. Sy ouers, Hermanus Carel (Herman) en Cornelia Cecilia (Nellie) Venter (née Koortse) 2 was boere en hy hul enigste steun. Sy enigste sussie, Ceciel, is nege jaar ná hom, in 1925, gebore.

In 1918 breek ’n wêreldwye grieppandemie, bekend as die sogenaamde Spaanse Griep of die Groot Griep, uit. Dit was die grootste natuurlike ramp wat Suid-Afrika nóg getref het.

In September en Oktober daardie jaar sterf daar in Suid-Afrika alleen sowat 140 000 mense, terwyl meer as 2,6 miljoen Suid-Afrikaners siek word. 3 Klein Frans was nog nie eens twee jaar oud nie toe albei sy ouers dié gevreesde siekte opdoen. Hulle was geweldig siek en het albei vir ’n dag of twee weens koors en suurstofnood bewusteloos in die bed gelê. 2 Toe sy ma haar bewussyn herwin, vind sy haar seuntjie op die grond langs die bed waar hy uitgehonger en dors lê en suig aan die tossels van hul beddeken. (Albei sy ouers het die wel die Groot Griep oorleef!)

Later sou Nellie Frans haar “kambrokind” noem. ’n Kambro is ’n tingerige, eetbare plant met vlesige wortels en knolle wat in die Karoo en ander droë streke van oostelike en suidelike Afrika voorkom. Dié plantjie is bekend vir sy gehardheid en ’n groen blaartjie of twee wat selfs in die droogste, moeilikste tye steeds aan die bopunt van die bollende stammetjie pryk. 4 Só het Nellie ook haar seun gesien – as een wat in die moeilikste tye steeds gelukkig en lewenslustig bly. 2

Venter het van jongs af die droë noordelike deel van die destydse Kaapprovinsie goed leer ken en sy kinderjare op die plase Botterkraal en Nuwejaarskraal deurgebring. Hy het begin skoolgaan by ’n plaasskool op Vioolkraal, ’n plaas halfpad tussen Strydenburg en Britstown. Hierna gaan hy na die skool op Strydenburg. 5

Gedurende sy hoërskoolloopbaan tref nóg ’n ramp Suid-Afrika. Behalwe vir die Groot Depressie (dit wil sê ’n ekonomiese insinking) 6 wat wêreldwyd ervaar is, het Suid-Afrika gebuk gegaan onder ’n uitmergelende droogte – bekend as die Groot Droogte. Die Droogte, wat min of meer van 1930 tot 1933 geduur het, 7 het ook die Venter-gesin baie swaar getref. Venter moes selfs sy skoolloopbaan onderbreek om saam met sy ouers rond te trek agter weiding aan vir hul kleinvee. Die Venters het groot verliese gely en het amper alles wat hulle vóór die droogte gehad het, verloor.

Ten spyte van teëspoed matrikuleer Venter in 1934 op 18-jarige ouderdom aan die Hoërskool Hopetown. Hy was boonop een van die topmatrikulante in die land!

Ná skool laat Venter vir eers die dorre wêreld in die noorde van die Kaapprovinsie agter en gaan studeer op Stellenbosch. Hier voltooi hy ’n BA-graad, terwyl hy ook dien op die redaksie van die studentepublikasie die Stellenbosse Student. Hy word later selfs aangestel as onderredakteur. Ander latere bekende Afrikaanse digters, skrywers en joernaliste, onder andere, Ernst van Heerden, W.A. de Klerk en Audrey Blignault, het saam met Venter op die redaksie gedien. 8 In dié tyd begin Venter sy talent as skrywer slyp – ’n talent waarvoor hy vandag nog onthou word.

Venter, die joernalis

Soos verskeie ander Afrikaanse skrywers, het Venter oorspronklik sy daaglikse brood verdien deur as joernalis te werk. Daarom begin hy in 1938 werk as joernalis by Die Suiderstem 8 – ’n Afrikaanse middagkoerant in Kaapstad wat skaars twee jaar vantevore (in 1936) 9 begin is. In 1941 gaan werk Venter ’n ruk lank in Pretoria by Die Volkstem. Dieselfde jaar nog trou hy met Stella Muller, ’n nooi van Fraserburg. Die paartjie het uiteindelik twee kinders, ’n seun en ’n dogter, gehad.

Pretoria kon Venter egter nie vir te lank hou nie, en kort voor lank het die pasgetroude Venter-paartjie weer koers gekies Kaap toe. Venter sluit weer aan by Die Suiderstem en word bevorder tot parlementêre verslaggewer. Later word hy ook as nuusredakteur van dié blad aangestel. Teen 1946 het Venter homself al so goed in die gedrukte media bewys dat hy aangestel word as redakteur van Die Suidwes-Afrikaner in Windhoek (in die huidige Namibië).

Dié koerant is in 1927 begin, maar is in die 1940’s deur die uitgewer Unie-Volkspers oorgeneem. Venter is juis met die oorname aangestel om nuwe lewe in dié koerant te blaas. Hy het later oor sy tyd by die koerant geskryf: “Ek het gou geleer dat Suidwes wel ‘anders’ is.” 10

Venter en die politiek

Terwyl Venter in Suidwes-Afrika (nou Namibië) gewerk het, het hy ook by die politiek betrokke geraak en het onder meer as kandidaat gestaan vir die Verenigde Nasionale Suidwes-party (VNSWP), maar het verloor. Dit is wel nie vreemd dat Venter by die politiek betrokke geraak het nie, want nie net het hy reeds as student aan die aktiewe politiek op kampus deelgeneem nie, 11 maar Die Suidwes-Afrikaner was lank die mondstuk van die VNSWP en was polities nou verwant aan genl. Jan Smuts se Verenigde Party (VP). 12

Jan Smuts

In 1952 is Venter aangestel as die Verenigde Party (VP) se hoof van inligting in Johannesburg en het weer die volgende jaar as kandidaat vir die party in Kempton Park gestaan. Hy was egter weer onsuksesvol.

Hierna gaan werk Venter vir ’n ruk lank vir die tydskrifeienaar en eienaar van Goeie Hoop- en Tafelberg-Uitgewers, Blaar Coetzee. Terloops, Coetzee het later jare bekendgestaan as die koning van geeltydskrifte 13 – met verwysing na die populistiese tydskrifte Fyn Goud en Keur wat hy uitgegee het.  Dit het egter nie lank gehou nie, want teen Januarie 1960, pak die Venter-gesin hul tasse. Hulle laat die geroesemoes van Johannesburg agter, want die Noord-Kaap het die boer in Venter teruggeroep na die plaas.

Die skrywende boer

In Januarie 1960 gaan vestig Venter hom op die familieplaas Constantia – sowat 80 km suidoos van Kenhardt in die Vanwyksvlei-distrik in die Noord-Kaap. Hier boer hy met nagenoeg 1 200 merinoskape 14 (’n skaapras bekend vir sy uitstekende wol- en vleisproduksie).

Dit is juis in hierdie tyd en in hierdie geharde landskap, wat Venter voltyds begin skryf. Van sy bekendste werke het verskyn in die nagenoeg sewe jaar wat hy op Constantia gewoon het – dink maar aan die twee boeke in sy bekende “land-reeks” (Geknelde land en Offerland) asook Werfjoernaal.

In 1970 gaan boer Venter op ’n wingerdplaas Ciréne, buite Vredendal. Hy en sy vrou bly met tussenposes in die Strand en dis hier waar hy op 8 Julie 1997 op 80-jarige ouderdom sterf. 8

Venter se skryfwerk

F.A. Venter se oeuvre (dit wil sê al sy skryfwerk) kan in vier kategorieë verdeel word, naamlik:

Jeugverhale

Die twee gepubliseerde jeugverhale uit F.A. Venter se pen, is:

  • Die geheim van die berg (1944, hersiene uitgawe verskyn in 1958), en
  • Wit oemfaan (1965).

Die geheim van die berg was Venter se debuutwerk. Dié boek is ’n geslaagde avontuurverhaal vir die jeug. 14 Dit gaan oor vier seuns wat saam met ’n bekende natuurkenner (dr. Hans Bols) die Groot Kloof binnegaan om na ’n baie seldsame bergiris te gaan soek. 14 Hier kruis hulle paaie met ’n kluisenaar wat in die kloof bly. Talle avonture volg hierna.

Baie jare later skryf Venter nog ’n jeugverhaal – Wit oemfaan. Hierin vertel hy die storie van die Voortrekkerseun Ferdinand Paulus van Gass en sy vriendskap met die Zoeloes. Dit is ’n historiese avontuurverhaal wat met sukses aan ’n jonger leser vertel word. 14

Kortverhale

In 1949 verskyn Venter se enigste bundel kortverhale, Gebondenes. Dit bevat elf kortverhale en gaan meestal oor mense wat as “gevangenes” van die lewe geag kan word. 14

Romans

In 1950 verskyn Venter se eerste roman Eenderse morge. Hierna het Venter nog elf romans geskryf, naamlik Swart pelgrim (1952), Die drosters (1952), Die tollenaar (1954), Man van Ciréne (1957), Geknelde land (1960), Offerland (1963), Gelofteland (1966), Bedoelde land (1968), Die rentmeesters (1969), Die koning se wingerd (1984) en Die ou man en die duif (1987).

  • Eenderse morge gaan oor twee Boerefamilies op buurplase wat mekaar in die boerderye ondersteun. Die Tweede Wêreldoorlog breek egter uit en dié families se verskillende politieke sienswyse veroorsaak ernstige konflik. 14
  • Swart pelgrim (waarvoor Venter onder meer die Hertzogprys ontvang het) is ’n aktuele roman oor ’n swart man (Kolisile) wat van die Transkei na Johannesburg moet gaan om geld te verdien. Hierdie aktuele roman gaan oor kontroversiële onderwerpe en probleme wat eie aan die tyd is. 14 Dié boek word as een van Venter se beste werke geag.
  • Die drosters speel af tydens ’n denkbeeldige Derde Wêreldoorlog waartydens drie soldate (’n Afrikaner, ’n Duitser en ’n Italianer) van die slagveld dros. 15
  • Die tollenaar is ’n liefdesroman oor teringlyers in ’n sanatorium vir teringlyers.
  • Man van Ciréne was Venter se eerste Bybelse roman en vertel die verhaal van Simon van Ciréne wat Jesus se kruis gedra het, terwyl Jesus op pad was om gekruisig te word. Dié roman is later in verskeie tale vertaal.
  • Geknelde land, Offerland, Gelofteland en Bedoelde land is die vier boeke in Venter se bekende Groot Trek-tetralogie (tertra kom uit Grieks en beteken ‘vier’, dit is dus vier letterkundige werke wat verbind is aan mekaar). Dit is historiese romans wat ’n fyn wisselwerking tussen feit en fiksie is. Daar is sekere elemente in die werk wat werklik tydens die Groot Trek plaasgevind het, en ander wat vir die doel van die verhaal deur die skrywer versin (uitgedink) is. Rudolf Dreyer van Grensplaas is die hoofkarakter in al vier boeke. 14
  • Die eerste boek Geknelde land strek vanaf 1834, in ’n tyd toe boere aan die Oosgrens van die Kaapkolonie en die Xhosas keer op keer in konflik met mekaar gekom het. Dit vertel van Dreyer se uiteindelike besluit om as deel van die Groot Trek met sy gesin uit die Kaapkolonie weg te trek.
  • In Offerland skryf Venter oor die eerste fase van die Groot Trek, die Slag van Vegkop, die strafekspedisie teen die Matabele-nasie, die Trekkers se trek oor die Drakensberg tot in Natal, die moord op die Trekkerleier Piet Retief en die aanvalle by Bloukrans.
  • Die koms van ’n nuwe Voortrekkerleier Andries Pretorius, die aflegging van die Gelofte en die Slag van Bloedrivier vorm die belangrikste elemente in Gelofteland.
  • In Die rentmeesters vertel Venter weer ’n plaasverhaal – hierdie keer oor die Richter-familie van die plaas Pioniersvlei. Die plaas is in die hande van die seun, Cas, maar sy swak bestuur van die plaas bekommer sy pa, Ben. 14
  • Die koning se wingerd, is nog ’n Bybelse roman. Dit vertel die verhaal van Nabot, Elia, Agab en Isebel waarvan mens ook lees in 1 Konings. 16
  • Die ou man en die duif is Venter se laaste roman en vertel van ’n ou man se eensaamheid ná die dood van sy vrou. Hy vorm dan ’n vreemde vriendskap met ’n ligblou duif wat hy beskou as die reïnkarnasie van sy vrou. 17

Sketsvertellings

Venter skryf uiteindelik vier bundels wat as sketsvertellings beskou kan word. Sketse is kort vertellings waarin die skrywer ’n persoon, toneel of situasie beskryf. Dit is soos om ’n prent of toneel wat jy sien, te skilder – daar is nie enige ontwikkeling in hierdie stories nie en vertel net eintlik wat die skrywer waarneem. 18

Venter se vier bundels sketsvertellings is: Werfjoernaal (1965), Die middag voel na warm as (1974), Kambro-kind (1979) en Die keer toe ek my naam vergeet het (1995).

  • In Werfjoernaal skryf Frans oor die lewe op die plaas en “vertel van die droogtes en winde, bome, plante en struike en veral die voëls en ander diere” wat hy byna in eie persoonlikhede in sy boek omskep. 15
  • Die middag voel na warm as vertel van Venter se ervarings met veral die bruin werkers op sy wingerdplaas in die Olifantsriviervallei buite Vredendal. 15 Die vertellings is soms ernstig en soms snaaks, maar vertel ’n eerlike verhaal van die verhoudings tussen mense. 14
  • In Kambrokind vertel Venter die leser meer oor sy eie lewe. Dit is sy jeugherinneringe – dus dit wat hy onthou en oorvertel van sy kinderdae in die Karoo. Dit vertel oor sy lewe van sy voorskoolse jare tot universiteit. 19
  • Die keer toe ek my naam vergeet het het in 1995 verskyn en is Venter se laaste boek. Dit is ’n outobiografiese vertelling van sy ervarings nadat hy in 1990 ’n beroerte gehad het. 20

Venter se ‘dubbele lewe’

Soos talle ander skrywers in Afrikaans (en in die res van die wêreld) het Venter soort van ’n “dubbele skrywerslewe” gevoer. 21 Hy het onder verskeie skuilname ’n groot aantal “ligte romans” gepubliseer.

Skrywers gebruik skuilname (oftewel pseudonieme) om verskillende redes, soos om die geleentheid te hê om in ander genres te publiseer, maar nie huidige aanhangers van sy/haar werk te vervreem nie. 22 Dit is moontlik die rede waarom Venter ook soveel skuilname gebruik het. Om sy beeld as skrywer van ernstige romans te beskerm, het hy daarom ook ligte stories geskryf onder die skuilname René Stegmann, Marius de Jongh en Meiring Fouché. 21

Hierdie ligte romans wat Venter geskryf het, word geag as sogenaamde sosiale prosa, en het baie spesifieke eienskappe. Boeke in hierdie genre fokus in die algemeen op intrige, persoonlike probleme wat karakters ondervind en konflik tussen die verskillende karakters.

Enkele boeke wat Venter onder skuilname geskryf het, sluit in: Teen ’n afgrond (as René Stegmann) en Die oë van Okatura (as Marius de Jongh). Hy neem ook vanaf 1958, ná die dood van die oorspronklike skrywer Braam le Roux, die skryfwerk van die gewilde Swart luiperd-reeks oor onder die skrywersnaam Meiring Fouché. Altesaam 66 titels het vanaf 1949 tot 1962 in hierdie reeks verskyn. 23

Erkenning en toekennings

  • Hertzogprys vir letterkunde vir Swart pelgrim en Geknelde land – toegeken in 1961.
  • Eredoktorsgraad in letterkunde van die Universiteit van Port Elizabeth – toegeken in 1981.
  • Andrew Murray-prys vir Die keer toe ek my naam vergeet het – toegeken in 1997. 16

Lys van gepubliseerde werke

  • 1944 (hersien in 1958): Die geheim van die berg
  • 1949: Gebondenes
  • 1950: Eenderse morge
  • 1952: Swart pelgrim
  • 1952: Die drosters
  • 1954: Die tollenaar
  • 1957: Man van Ciréne
  • 1960: Geknelde land
  • 1963: Offerland
  • 1965: Wit oemfaan
  • 1965: Werfjoernaal
  • 1966: Gelofteland
  • 1968: Bedoelde land
  • 1969: Die rentmeesters
  • 1974: Die middag voel van warm as
  • 1979: Kambro-kind
  • 1984: Die koning se wingerd
  • 1987: Die ou man en die duif
  • 1995: Die keer toe ek my naam vergeet het

Woordbank

aktuele Iets wat nou belangrik is. 24
daaglikse brood verdien Geld verdien om jouself te onderhou. 25
debuutwerk ’n Skrywer se eerste werk wat verskyn.
dros Skelm uit die leër of van ’n tehuis wegloop.
fiksie Verdigsel, versinsel, veronderstelling en in die letterkunde verbeeldingskuns.
geeltydskrifte Bedenklike joernalistiek gekenmerk deur skindernuus, ongegronde aansprake en halwe waarhede.
genres Soort.
geroesemoes Gedreun, geraas, lawaai.
geslaagde Die doel bereik, met sukses afhandel.
Groot Depressie Tydperk van verslapping op ekonomiese gebied, handelslapte.
intrige Verwikkelde situasies wat ’n skrywer uitdink en waarop sy verhaal gebaseer is, knoop, verwikkeling.
kluisenaar Persoon wat hom van mense afsonder en alleen woon.
konflik Stryd, botsing, worsteling.
kortverhale ’n Kunsvorm wat gekenmerk word deur ’n strak bou, uiterste konsentrasie en ’n snelle verloop met ’n dikwels verrassende slot. Dit moet nie verwar word met ’n “kort verhaal” – dus net ’n kort storie nie. Dit het nie karakterontwikkeling nie, maar eerder karakteronthulling. 18
nuusredakteur Lid van ’n redaksie wat verantwoordelik is vir die kies en voorbereiding van nuusberigte.
oeuvre Die gesamentlike werke van ’n kunstenaar.
outobiografiese Beskrywing van ’n skrywer se eie lewe.
pseudonieme Skuilnaam.
redakteur Hoofleier van en bepaler van die beleid van koerant of tydskrif.
reïnkarnasie Voortsetting van lewe op aarde in ’n stoflike vorm ná die dood.
rentmeesters Ontvanger en beheerder van geld of vaste eiendom.
roman ’n Lang prosaverhaal met karakteruitbeelding en omgewingsbeskrywing wat uitvoerig en indringend geskied.
sanatorium Gesondheidsinrigting vir siekes, herstellingsoord.
seldsame Skaars.
sketsvertellings Kort, beskrywende artikel.
teëspoed Ongeluk, ramp, onheil, mislukking, terugslag.
teringlyers Mense wat aan die longsiekte tuberkulose ly.
tetralogie Vierspel, vier letterkundige werke wat verband hou met mekaar.
uit die pen van ’n Werk wat deur iemand geskryf of gekomponeer is. 25
uitmergelende Uitputtende.
verliese gely Skade, die verlore gaan van iets.
versin Iets uitdink; ’n bedinksel.
vervreem Afstoot, wegdryf.
wisselwerking Wanneer die een ding ’n invloed op die ander het en andersom.

Lees die volgende vir meer inligting

Kyk die volgende video’s vir meer inligting

Luister na dié voorlesings

  • ’n Voorlesing van F.A. Venter se Bybelroman Die man van Ciréne is in 60 dele beskikbaar op RSG.

Luister hier na die eerste episode.

Foto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 9 Februarie 2023 | Bygewerk op 20 Februarie 2024