Vinnige feite

  • Die feit dat elke mens sy of haar eie voorkeure, belangstellings, karaktereienskappe en idees het, sal altyd verskille meebring. Om oor sake te verskil, is onvermydelik. Hoe die verskille hanteer word en hoe die ooreenkoms bereik word, hoef egter nie tot ’n slegte konfliksituasie te lei nie.
  • Hoe die verskille hanteer word, gaan op die ou end bepaal of dit tot positiewe (konstruktiewe) of negatiewe (dekonstruktiewe) konflik lei.
  • Hoewel dit ’n normale reaksie is om ongelukkig, kwaad of hartseer te voel tydens ’n rusie – veral as ’n persoon voel hy/sy is te na gekom – sal hierdie emosies nie die situasie kan oplos nie. Onthou, dit is beter om konflik te hanteer wanneer die betrokke persone se woede eers bedaar het.
Foto: iStock

Konflik ontstaan wanneer daar ’n stryd, botsing of rusie tussen mense, groepe of lande plaasvind. Die verskille, wrywing of teenstand tussen die betrokke partye is so groot dat ’n ooreenkoms of gesamentlike besluit nie maklik bereik kan word nie. 1

Om rusie te maak, te argumenteer, te stry, twis of ’n woordewisseling te hê, is nog beskrywings van konflik. Om te baklei, is ook ’n vorm van konflik, maar ernstiger en verwys meer na ’n fisieke geveg. 1

Hoe ontstaan konflik?

Konflik ontstaan wanneer meningsverskille ernstig word. Die betrokke mense of groepe verskil van opinie, of die optrede van een persoon of groep kan die ander persoon of groep verhoed om sy doel te bereik. Dit word dan as ongevraagde inmenging beskou. 2

Veronderstel die leerders in ’n klas word in groepe opgedeel en elke groep kry ’n opdrag om te doen. Die hele groep moet egter as ’n span saamwerk om die opdrag te voltooi. Wanneer die hele groep nie saamstem oor die metodes, stappe en uitvoering van die opdrag nie, ontstaan konflik.

Tipes konflik

Intrapersoonlike konflik

Hierdie tipe konflik is ’n ervaring wat slegs deur een persoon alleen beleef word. Dit beteken dat hierdie persoon in hom-/haarself gevoelens beleef wat teenstrydig met mekaar is. Dit het veral ook met ’n keuse te doen wat die persoon moet maak. Die intrapersoonlike konflik kan oor ’n groot saak wees wat morele waardes insluit, of dit kan bloot net ’n moeilike keuse wees om te maak, veral omdat die keuse verskillende gevolge kan hê. 3

Verbeel jou jy is deel van ’n netbalspan wat Saterdag ’n belangrike wedstryd speel. Jy is egter ook uitgenooi na ’n oorslaappartytjie by een van jou beste vriende vir die Vrydagaand voor die belangrike wedstryd. Nou moet jy kies tussen ’n goeie nagrus voor jou netbalwedstryd of ’n lekker partytjie met min slaap wat jou spel kan beïnvloed en ook jou spanmaats kan benadeel.

Interpersoonlike konflik

Interpersoonlike konflik is die tipe konflik tussen mense en groepe wat plaasvind wanneer daar verskillende opinies is en dit moeilik is om ’n ooreenkoms te bereik. Dit is algemeen tussen klasmaats, vriende, broers en susters, kollegas en paartjies. Konflik kan ontwrigtend raak en normale funksionering beïnvloed; dit is ook hoekom dit belangrik is om vaardighede aan te leer om dit reg te hanteer. 3

Veronderstel jy het ’n ouer broer en sy maat kuier by hom. Hulle bou ingewikkelde Lego-vliegtuie en jou broer weier dat jy mag saambou. Hy sê jy is nog te jonk en gaan sy goed breek. Jy word ongelukkig en gaan kla by jou ma. Jou ouer broer kla terselfdertyd en voel jy maak inbreuk op sy speeltyd met sý maat. Julle beland in ’n konfliksituasie waarin elkeen verduidelik hoekom hy ’n goeie rede het vir die klagte.

Oorsake van interpersoonlike konflik

  • Verskille in waardes: Situasies word op verskillende maniere gesien en ervaar wat beïnvloed word deur verskillende faktore soos opvoeding, agtergrond en kultuur.
  • Misverstande: ’n Gebrek aan goeie kommunikasie kan maklik tot misverstande lei. Onvoldoende kommunikasie veroorsaak dat iemand/mense hul eie afleidings maak van iets wat heeltemal anders bedoel is.
  • Verskille in prioriteite: Verskille in prioriteite veroorsaak dat twee persone mekaar se punte van bespreking nie as ewe belangrik beskou nie. Elkeen beskou sy/haar punt as die belangrikste.
  • Eensydig of bevooroordeeld: Wanneer iemand bevooroordeeld is teen ’n groep mense of dit wat hulle wil doen, sal dit na alle waarskynlikheid konflik veroorsaak. 3

Konstruktiewe en dekonstruktiewe konflik

Die feit dat elke mens sy of haar eie voorkeure, belangstellings, karaktereienskappe en idees het, sal altyd verskille meebring. Om oor sake te verskil, is onvermydelik. Hoe die verskille hanteer word en hoe die ooreenkoms bereik word, hoef egter nie tot ’n slegte konfliksituasie te lei nie.

Hoe die verskille hanteer word, gaan op die ou end bepaal of dit tot positiewe (konstruktiewe) of negatiewe (dekonstruktiewe) konflik lei. 2

Onthou, ’n konstruktiewe optrede sal tot ’n konstruktiewe reaksie lei en nie konflik veroorsaak nie, soos in die voorbeeld:

Jy staan ​​in die ry vir jou oggendkoffie en iemand druk voor jou in.

  • A: Verskoon my, ek dink jy druk voor my in.
  • B: Ag jammer, ek het nie gesien jy was in die ry nie. Staan gerus voor my. Ek is jammer.

Maar ’n dekonstruktiewe optrede sal tot ’n dekonstruktiewe reaksie lei en beslis konflik veroorsaak! (Vloek- en kwetsende woorde word dikwels in so ’n situasie gebruik.)

  • A: Hoe durf jy voor my indruk? Gaan staan agter in die ry en wag soos almal!
  • B: Hoe durf jy so met my praat? Ek gaan nêrens heen nie. Jy kan jou koffie op ’n ander plek gaan kry as dit jou ongelukkig maak!

Optredes wat dekonstruktiewe (afbrekende) konflik kan laat ontstaan

Afbrekende konflik kan ontstaan en vinnig eskaleer van ‘n meningsverskil na ‘n giftige situasie, veral wanneer gedrag die volgende insluit: 1

  • Wanneer jy emosionele argumente voer en daarop aandring dat ander na jou moet luister as gevolg van jou ervaring, prestasies, sosiale status, ouderdom, rykdom en so meer.
  • Wanneer jy vrae en kritiek as persoonlike aanvalle sien.
  • Wanneer jy ander se standpunte verwerp voordat jy dit ten volle verstaan.
  • Wanneer jy spot met ander se uitgangspunte en hulle verkleineer.
  • Wanneer jy ander se idees of voorstelle summier ignoreer of verwerp.
  • Wanneer jy nie saamstem nie bloot omdat jy lus is vir stry of baklei.
  • Wanneer jy weier om jou standpunt te oordink.

Optredes wat konstruktiewe (postiewe) konflik is

Konstruktiewe konflik kom van kerngesonde gedrag wat bydra tot positiewe uitkomste, soos:

  • Die aanbied of voorlê van bewyse en redes ter ondersteuning van jou idees.
  • Aanvaar vrae en kritiek op jou idees as dit die groep sal bevoordeel.
  • Luister fyn na ander se standpunte.
  • Vra ander om bewyse aan te bied wat hul besluit ondersteun sodat jy ‘n beredeneerde besluit kan neem.
  • Bou op ander se idees en voorstelle.
  • Verskil gerus, maar met die doel om die beste oplossing te vind.
  • Wees gewillig om van plan te verander.

Verskillende reaksiestyle in ’n konfliksituasie

  • Vermyding of ontkenning: Dit is wanneer iemand voorgee dat niks in die situasie hom of haar pla nie. So ’n persoon vermy eerder die konflik as om aandag aan die probleem te gee en dit te probeer oplos. Die kwessie bly dus onopgelos.
  • Inskiklikheid: Dit is wanneer iemand anders ten koste van hom- of haarself toegee (oorgee) in die situasie. So ’n persoon voel meestal ná die situasie ingedoen.
  • Mededinging: ’n Persoon wat só reageer, dink net aan hom-/haarself, meestal ten koste van die ander persoon.
  • Ooreenstemming: Met so ’n reaksie word ’n wedersydse ooreenkoms bereik sodat dit vir albei partye regverdig is.
  • Samewerking: Dit is wanneer ’n persoon of party aanbied om saam met die ander persoon of party te werk om ’n oplossing te vind wat vir almal aanvaarbaar is. 3

Hoe word konflik opgelos?

Stap 1

Dit is altyd belangrik om mooi te luister na die ander persoon of party. Almal betrokke moet presies verstaan wat gesê is en bespreek word, in plaas daarvan om eie afleidings of ’n eie interpretasie te maak. (Plaas jouself vir ’n oomblik in die ander persoon se skoene om hul kant beter te verstaan.)

Stap 2

Verduidelik volledig waaroor die probleem nou eintlik gaan, sodat almal betrokke die eintlike probleem of verskil kan identifiseer.

Stap 3

Hou ’n dinkskrum en maak ’n lys maak van moontlike oplossings.

Stap 4

Oplossings wat vir beide van die persone of partye aanvaarbaar is, moet gekies word.

Stap 5

Wanneer die oplossing gevind is, kan dit toegepas en geëvalueer word om te sien of dit sal werk. (Suksesvol sal wees.)

Belangrike vaardighede vir konfliksituasies

Daar is sekere vaardighede wat ’n persoon kan help om ’n konfliksituasie goed te hanteer. Hoewel dit ’n normale reaksie is om ongelukkig, kwaad of hartseer te voel tydens ’n rusie – veral as ’n persoon voel hy/sy is te na gekom – sal hierdie emosies nie die situasie kan oplos nie. Onthou, dit is beter om konflik te hanteer wanneer die betrokke persone se woede eers bedaar het.

Tel tot tien!

Hierdie is eenvoudige, maar goeie raad vir enige konfliksituasie. Om die gemoedere eers te kalmeer, voorkom dat ’n persoon nie uit woede reageer en moontlik die hele konfliksituasie verder vererger nie. 4

Bly kalm

Om ’n rustige benadering tydens konflikhantering te hê, sal almal kalmer laat voel en ’n ooreenkoms sal makliker bereik word.

Sê jammer

Dit is belangrik vir ’n persoon of groep om verantwoordelikheid vir hul aandeel in die konfliksituasie te neem en om jammer te sê daarvoor. 4 ’n Mens moenie iemand anders vir sy of haar foute blameer nie. 5

Wees geduldig

Om geduld te hê kan in die eerste plek voorkom dat ’n situasie tot konflik lei. Wanneer ’n konfliksituasie wel ontstaan, sal geduld ’n persoon help om minder ontsteld en angstig te voel. 5

Vermy negatiewe kritiek

Dit is belangrik om nie persoonlik te raak deur die betrokkenes sleg te sê nie, maar te fokus op die probleem. ’n Mens kan maklik verkeerde of onverantwoordelike dinge sê wat daardie persoon of groep kan beledig en seermaak. Onderskei tussen die persoon en die probleem. 5

Wees positief ingesteld

Wanneer ’n mens ’n positiewe gesindheid het en hoopvol is vir ’n goeie uitkoms, is dit altyd makliker om ’n konfliksituasie op te los. 5

Woordbank

bevooroordeeld Dit is om ’n vooropgesette mening oor iets of iemand te hê. Met ander woorde, jy het vooraf besluit hoe die persoon gaan optree. 1
prioriteite Dit is iets waaraan eerste aandag gegee word of wat spesiale aandag verdien. 1

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 26 Januarie 2022 | Bygewerk op 15 Maart 2024