Vinnige feite

  • Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, oorspronklik De Zuid-Afrikaanse Akademie voor Taal, Letteren en Kunst, is op 2 Julie 1909 gestig. 5
  • Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns ken literêre pryse (waarvan die Hertzogprys die bekendste is) toe, gee publikasies uit, werk aan die standaardisering van Afrikaans en het talle vakwoordeboeke en terminologielyste wat deur hul lede opgestel en gepubliseer is.
  • Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het ʼn groot rol gespeel in die erkenning van Afrikaans as amptelike taal en was instrumenteel in die ontstaan van onder meer die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK), die Nasionale Vakterminologiediens; die Afrika-Instituut; die Stigting Simon van der Stel; die Buro vir Heraldiek en die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN).
  • N.P. van Wyk Louw is die enigste skrywer wat al ʼn Hertzogprys vir prosa, poësie en drama gewen het. 6
  • In 1948 kon die keurkomitee van die Hertzogprys vir drama niks in die Afrikaanse drama vind wat die prys werd was nie. Die komitee het gekyk na J.P.J. van Rensburg se Die vroue van Troje, ʼn vertaling uit die Grieks van Euripides. Die Raad wou egter niks weet nie omdat dit nie oorspronklike materiaal was nie, maar hieruit het ʼn nuwe prys die lig gesien. Dit was die Akademieprys vir vertaalde werk. Dieselfde genre-indeling (prosa, poësie, drama) as by die Hertzogprys word vir hierdie prys gevolg.
  • Hoewel die Hertzogprys die prys van alle letterkundige pryse in Suid-Afrika is, het ons ook ander pryse wat uitnemendheid bekroon. Ons het onder meer die Eugène N. Marais-prys vir ‘n eerste of vroeë letterkundige werk, die Scheepersprys vir jeugliteratuur, die Alba Bouwer-prys vir kinderliteratuur, die Elsabe Steenbergprys vir vertaalde kinder- en jeugliteratuur, die Tienie Hollowaymedalje vir kleuterliteratuur en die C.J. Langenhovenprys vir taalwetenskap.
  • Jacob Daniël du Toit (Totius) was die eerste wenner van die Hertzogprys. Hy is op 21 Februarie 1877 in die Paarl gebore. Hy was ʼn digter en ook een van die vertalers van die eerste Bybel in Afrikaans. 7

Hoe weet ʼn mens dat jy ʼn uitstekende skrywer, digter of dramaturg in Afrikaans is? Wel, jy wen ʼn Hertzogprys.

Die Hertzogprys word as die kroonprys van alle letterkundepryse in Afrikaans beskou. Dit is die prys wat jaarliks deur die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (voorheen genoem die Suid-Afrikaanse Akademie vir Taal, Lettere en Kuns) aan mense toegeken word. 1

Die prys het sy naam aan generaal J.B.M Hertzog te danke. Hy was ʼn voormalige eerste minister van Suid-Afrika (vandag sou dit president wees), en hy was ʼn groot kampvegter vir taal. 2 As ons sê iemand is ʼn kampvegter vir Afrikaans, beteken dit dat hy of sy vir Afrikaans veg of stry. 3

Die Hertzogprys het in 1914 tot stand gekom. Die digter Totius was die eerste wenner van hierdie prys vir sy bundel Trekkersweë, wat in 1915 uitgegee is.

In 1916 is die Hertzogprys (wat jaarliks om die beurt vir drama, poësie of prosa toegeken word) aan Totius toegeken vir sy digbundel Trekkerswee. Die eerste gedig daarin is getiteld “Silwer strale”. Die eerste strofe daarvan lui: “Dis heuwels, heuwels net / sover ’n mens se oog kan speur: / grasheuwels waar ook riwwe gaan, / met enkele stroompies tussendeur.”

Die prys se kategorieë is poësie, prosa en drama, en die prys word jaarliks om die beurt vir hierdie genres toegeken. Dit beteken dat ʼn prosawenner een jaar die prys kan wen, die volgende jaar ʼn digter (wat poësie skryf) en die jaar daarna weer ʼn dramaturg (wat toneeltekste skryf). 2

Waar kom die wedstryd vandaan?

Die prysgeld is deur generaal Hertzog bewillig. Hy het reeds in 1914 ʼn skenking van 1 200 pond daarvoor gemaak en het op 27 Mei 1914 ʼn notariële skenkingsakte onderteken. ’n Notariële skenkingsakte is ’n dokument waarin iemand die voorwaardes vir sy of haar skenking en die aanwending daarvan uiteensit. Dit word dan ook deur ’n notaris onderteken. Hertzog was hof toe omdat hy graag wou hê dat Hollands in Vrystaatse skole onderrig moes word.

Ná daardie hofsaak het Hertzog ʼn lastersaak gewen. Nadat daar geld aan hom toegeken was, is sy regskoste betaal, en die geld wat oorgebly het, is geskenk. Dit is onder beheer van die Akademieraad geplaas sodat dit belê kon word. Hertzog wou graag hê dat die rente daarvan vir ʼn letterkundige prys gebruik moes word. Die wedstryd het aanvanklik bepaal dat mense hul skryfwerk moes instuur, waarna dit gekeur moes word, maar daar is in 1923 besluit om alle gepubliseerde werke in aanmerking te neem. In 1928 is daar ook besluit dat prosa, poësie en drama om die beurt kans moet kry om in aanmerking vir die prys te kom. 2

Net Hertzog kon tydens sy leeftyd veranderinge aan die wedstryd maak, maar ná sy dood, kon die Akademie besluite maak, maar net as die hele raad saamstem.

Die wedstryd het deur die jare verander, en in 1943 is daar byvoorbeeld ʼn prys vir wetenskaplike prosa toegeken. Prof J. du P. Scholtz is met die Hertzogprys vir sy skryfwerk, Die Afrikaner en sy taal, bekroon. Dieselfde het in 1944 gebeur toe dr. Coenraad Beyers vir Die Kaapse Patriotte gewen het. Die afdeling vir wetenskaplike prosa is egter in 1946 afgeskaf, maar die Akademieprys vir geesteswetenskappe het die volgende jaar ontstaan. 2

Die Akademie het ook besluit om die prysgeld te verhoog, maar het in 1966 besluit om by Hertzog se skenking se reëls te bly. Daarvolgens kon wenners slegs die rente op die kapitaal van die geld wen.

Só het die prysgeld dus elke jaar verskil. Die prys was byvoorbeeld in 1974 slegs R900, maar later het wenners ook ʼn goue medalje gekry.

Die prysgeld beloop tans R75 000 wat deur die Sondagkoerant Rapport geborg word.

Wie was generaal Hertzog?

Generaal Hertzog se volle name was James Barry Munnik Hertzog, en hy is in 1866 naby Wellington in die Boland gebore. Hy het regte studeer en later ook ʼn doktorsgraad aan die Universiteit van Amsterdam in Nederland behaal. Hy was onder meer ʼn advokaat en regter in Bloemfontein en het ook tydens die Anglo-Boereoorlog geveg. Hy was ʼn kommandant in die oorlog. Hertzog was later prokureur-generaal van die Oranjerivierkolonie en medestigter van ʼn Afrikanerparty.

Met die dat Suid-Afrika ʼn unie geword het, is Hertzog as een van die ministers in die kabinet aangestel. Hy en die destydse eerste minister generaal Louis Botha het egter baie van mekaar verskil, en hy het later sy eie party, die Nationale Party (Nasionale Party) gestig. Sy party het teen 1921 die grootste party in die land geword, en teen 1924 het hy die eerste minister van Suid-Afrika geword. Probleme het ontstaan toe die kabinet moes stem oor of hulle aan die Tweede Wêreldoorlog moes deelneem en hy het later bedank. Ná sy bedanking het hy onder meer ʼn Volksparty gestig en later weer die Herenigde Nasionale Party. Hy is in 1942 oorlede. 4

Hertzog was baie trots op Afrikanerskap en was daarteen gekant dat Engels die hooftaal in die land moes wees. Hy het daarop aangedring dat Engels en Nederlands gelyk moet wees. 4

Hertzogpryswenners

Poësie

1916 – Totius (Trekkersweë)

1926 – A.G. Visser (Gedigte)

1928 – A.G. Visser (Rose van herinnering); C.M. van den Heever (Die nuwe boord)

1934 – Totius (Passieblomme); C.L. Leipoldt (Skoonheidstroos); W.E.G. Louw (Die ryke dwaas)

1937 – I.D. du Plessis (Vreemde liefde en Ballades); N.P. van Wyk Louw (Alleenspraak)

1940 – N.P. van Wyk Louw (Die halwe kring)

N.P. van Wyk Louw

1943 – Elisabeth Eybers (Die stil avontuur en Belydenis in die skemering)

1947 – D.J. Opperman (Heilige beeste)

1951 – Toon van den Heever (Gedigte 1919, omgewerk tot Eugène en ander gedigte in 1931)

1962 – Ernst van Heerden (Die klop)

1965 – N.P. van Wyk Louw (Tristia)

1968 – Boerneef (postuum) (al sy digbundels)

1971 – Elisabeth Eybers (Onderdak)

1974 – Uys Krige (Uys Krige: ‘n keur uit sy gedigte)

1977 – Wilma Stockenström (Van vergetelheid en van glans)

1980 – D.J. Opperman (Komas uit ʼn bamboesstok)

1983 – Sheila Cussons (al haar digbundels)

1984 – Breyten Breytenbach (Yk)

1987 – T.T. Cloete (Idiolek en Allotroop – sy ander werke, Jukstaposisie en Angelliera, is ook eervol vermeld met die toekenning)

1990 – Antjie Krog (Lady Anne)

1993 – T.T. Cloete (Met die aarde praat)

1996 – Ina Rousseau (ʼn Onbekende jaartal)

1999 – Breyten Breytenbach (Oorblyfsels: ʼn Roudig en Papierblom)

Breyten Breytenbach

2002 – Henning Pieterse (Die burg van hertog Bloubaard)

2005 – Petra Müller (Die aandag van jou oë)

2008 – Breyten Breytenbach (Die windvanger)

2011 – Johann de Lange (Die algebra van nood)

2014 – Marlene van Niekerk (Kaar)

2017 – Antjie Krog (Mede-wete)

Antjie Krog

2020 – Johan Myburg (Uittogboek)

2023 – Antjie Krog (Plunder)

Drama

1926 – J.F.W. Grosskopf (As die tuig skawe en Drie eenbedrywe)

1935 – H.A. Fagan (Die ouderling en ander toneelstukke)

1944 – C. Louis Leipoldt (Die heks en Die laaste aand)

C. Louis Leipoldt

1952 – Gerhard Beukes (Langs die steiltes, Salome dans, As ons twee eers getroud is en Agt eenbedrywe); W.A. de Klerk (Die jaar van die vuur-os, Drie vroue, Drie dramas en Vlamme oor La Roche)

1956 – D.J. Opperman (Periandros van Korinthe)

1960 – N.P. van Wyk Louw (Germanicus)

1969 – D.J. Opperman (Voëlvry)

1972 – P.G. du Plessis (Siener in die suburbs en Die nag van Legio)

1978 – Bartho Smit (Putsonderwater, Moeder Hanna, Christine en Die verminktes)

1981 – Henriette Grové (Ontmoeting by Dwaaldrif en al haar ander dramatiese werk)

1985 – Uys Krige (totale oeuvre)

1991 – Chris Barnard (totale oeuvre)

1994 – Reza de Wet (Vrystaat-trilogie en Trits: Mis, Mirakel, Drif)

1997 – Reza de Wet (Drie susters twee)

2000 – André P. Brink (Die Jogger)

André P. Brink

2003 – Pieter Fourie (totale drama-oeuvre)

2006 – Deon Opperman (vir sy drama-oeuvre tot 2005)

2009 – Deon Opperman (Kaburu)

2012 – Adam Small (vir sy drama-oeuvre)

2015 – Tertius Kapp (Rooiland en Oorsee)

2018 – Pieter-Dirk Uys  (Stukke teater met inagneming van drama-oeuvre)

2021 – Nicola Hanekom (In glas)

Nicola Hanekom

Prosa

1917 – Jochem van Bruggen (Teleurgestel)

1920 – Leon Maré (Ou Malkop)

1925 – Jochem van Bruggen (Ampie: die natuurkind)

1926  – D.F. – Malherbe (Die meulenaar)

1927 – Jochem van Bruggen (Ampie: die meisiekind); C.J. Langenhoven (Skaduwees van Nasaret); Sangiro (Diamantkoors en Twee fortuinsoekers)

1930 – D.F. Malherbe (Hans-die-Skipper); G.C. en S.B. Hobson (Kees van die Kalahari)

1933 – Jochem van Bruggen (Die sprinkaanbeampte van Sluis)

1936 – Mikro (Toiings en Pelgrims)

1939 – D.F. Malherbe (Saul die worstelheld en Die profeet)

1942 – C.M. van den Heever (Laat vrugte)

1945 – Sangiro (al sy prosawerk)

1953 – M.E.R. (al haar prosawerk)

M.E.R.

1957 – Elise Muller (Die vrou op die skuit)

1958 – N.P. van Wyk Louw (vir kritiese prosa en die volgende essays: Die mens agter die boek, Maskers van die erns, Lojale verset en Berigte te velde)

1961 – F.A. Venter (Swart pelgrim en Geknelde land)

1964 – Etienne Leroux (Sewe dae by die Silbersteins)

1970 – Karel Schoeman (By fakkellig, ‘n Lug vol helder wolke en Spiraal)

1973 – Chris Barnard (Mahala en Duiwel-in-die-bos)

1976 – Anna M. Louw (Kroniek van Perdepoort)

1979 – Etienne Leroux (Magersfontein, O Magersfontein!)

1982 – Hennie Aucamp (al sy prosawerk)

Hennie Aucamp

1984 – Henriette Grové (Die kêrel van die Pêrel)

1986 – Karel Schoeman (ʼn Ander land)

1989 – Etienne van Heerden (Toorberg)

1992 – Wilma Stockenström (Abjater wat so lag)

1995 – Karel Schoeman (Hierdie lewe)

1998 – Elsa Joubert (Die reise van Isobelle)

2001 – André P. Brink (Donkermaan)

2004 – Ingrid Winterbach (Niggie)

2007 – Marlene van Niekerk (Agaat)

2010 – Etienne van Heerden (30 nagte in Amsterdam)

2013 – Ingrid Winterbach (Die aanspraak van lewende wesens)

2016 – Willem Anker (Buys: ’n Grensroman)

2019 – Fanie Naudé (Die derde spoel)

2022 – S.J. Naudé (Dol heuning)

Sangiro wen die Hertzogprys in 1945 vir al sy prosawerk.

Wetenskaplike Prosa

1943 – J. du P. Scholtz (Die Afrikaner en sy taal)

1944 – Coenraad Beyers (Die Kaapse Patriotte) 5

Woordbank

bekroon Iemand se besondere prestasie word uitgelig, en hy of sy word daarvoor vereer. 3
dramaturg Dis iemand wat dramas oftewel toneelstukke skryf. 3
kabinet Ministers wat die regering van ʼn land vorm. 3
kampvegter Dis iemand wat stry of veg vir ʼn saak wat vir hom belangrik is. 3
kapitaal ʼn Groot som geld wat jy besit en wat jy kan belê om rente te verdien.
letterkunde Dis kuns in ʼn geskrewe vorm.
poësie Die werke van digters of ʼn versameling gedigte. 3
prosa Geskrewe taalgebruik, veral as letterkundige genre. 3

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor die Hertzogprys

Kyk na hierdie video’s om nog meer te leer oor die Hertzogprys

Antjie Krog se toespraak as Hertzogpryswenner

Dramaturg Pieter Fourie ontvang die Hertzogprys

Meer oor Totius, die eerste wenner van die Hertzogprys

Foto: AfriForum Uitgewers
Gepubliseer op: 13 Junie 2022 | Bygewerk op 3 April 2024