Vinnige feite

  • Buiten Murray en sy ouer broer John, het nóg drie van hul broers predikante geword. 10
  • Murray sr. en Murray jr. het albei ’n ouer broer met die naam John gehad wat ook albei predikante was. 2
  • In Wellington is daar ’n Andrew Murray Centre for Spirituality. 11
  • Die Huis Andrew Murray Kinder- en Jeugsorgsentrum bestaan sedert 1898 in Wellington. 12
  • Die Universiteit van Suid-Afrika het op 2 Maart 1918 tot stand gekom. Dit het eers bekend gestaan as die Universiteit van die Kaap die Goed Hoop, wat in 1873 gestig is. 13
  • Daar is ʼn standbeeld van Andrew Murray jr. voor die NG Kerk in Wellington en voor die Groote Kerk in Kaapstad. 4
  • Andrew Murray jr. was ses keer moderator van die Kaapse Sinode van die NG Kerke – in 1862, 1876, 1883, 1886, 1890 en 1894. 1
Foto: iStock

Dit het nie dikwels in die wêreld se geskiedenis gebeur dat ’n pa en ’n seun albei só ’n groot invloed op die geestelike lewe van soveel mense gehad het nie. Maar dit is wat Andrew Murray senior en Andrew Murray junior gedoen het – albei het hul lewe volledig aan die verkondiging van die Woord van die Here gewy. Hulle het diep spore in die geestelike bediening getrap en tot vandag weet mense oor groot dele van die wêreld van hulle.

Andrew Murray senior

Andrew Murray sr. is in 1794 in Aberdeenshire, Skotland, gebore. Toe hy 18 is, begin hy met teologiese studies aan die Universiteit van Aberdeen en voltooi sy studies in 1820.

In 1821 vertrek hy na Nederland om in die volgende 10 maande Nederlands aan te leer. Onthou, hy is in Skotland gebore en het dus Skots gepraat. Hy wou egter Nederlands leer praat sodat hy as prediker na Suid-Afrika kon gaan waar die mense toe nog ’n vorm van Nederlands gepraat het. Hy moes afskeid neem van sy bejaarde moeder en hy het geweet dat hy haar nooit weer sal sien nie.

Hy gaan in Londen aan boord van die skip Arethusa en op 4 Maart 1821 vertrek die skip na Suid-Afrika. Die skip kom eers op 1 Julie in Kaapstad aan – om te dink, dit het ’n hele vier maande geneem om die reis te voltooi!

Andrew Murray sr.

Pas nadat hy in die Kaap aangekom het, vertrek hy na Graaff-Reinet om daar die Woord onder die Boere te verkondig. 1

Op 22 Julie 1822 word hy as predikant in Graaff-Reinet bevestig. Hy sou uiteindelik vir 45 jaar hier as predikant werk en was bekend vir die ernstige en intense gebedsbyeenkomste wat hy elke Vrydag gehou het.

In 1824 ontmoet hy vir Maria Susanna Stegmann by die eerste sinodesitting van die NG Kerk in Kaapstad. Hulle raak dadelik verlief, maar ongelukkig moes hy natuurlik ná afloop van die sinodesitting teruggaan Graaff-Reinet toe en dit het beteken dat die twee jong mense baie ver van mekaar af sal wees. Veral in daardie tyd was dit nie maklik om sommer tussen Kaapstad en Graaff-Reinet heen en weer te reis om te gaan kuier nie, omdat mens met ’n ossewa moes ry.

Nadat hulle vir twee jaar oor en weer vir mekaar briewe geskryf het, trou hulle in 1826. Hulle gaan woon in Graaff-Reinet in die pastorie, wat vandag die Reinethuis genoem word. Hier plant hulle ’n groot vrugteboord en ook ’n druiweprieel.

Reinethuis

Hulle het uiteindelik 16 kinders – almal in die pastorie gebore – waarvan slegs 11 volwassenes geword het en die ander jonk dood is. Hy woon tot met sy dood in 1866 in die historiese pastorie. 2

Andrew Murray ontvang beroemde besoekers soos die sendeling en ontdekkingsreisiger dr. David Livingstone, en dr. Robert Moffat, ook ʼn sendeling.

Robert Moffat

Uit die ses seuns wat volwassenes geword het, is daar vyf wat predikante in die NG Kerk geword het: John Murray, Andrew Murray, William Murray, Charles Murray en George Murray. Vier van die dogters is ook met predikante getroud. 2

Andrew Murray sr. is in 1866 oorlede. 1

Andrew Murray junior se jong dae

Andrew Murray jr. is op 9 Mei 1828 in Graaff-Reinet gebore.

Sy ouer broer se naam was John. Hulle was baie geheg aan mekaar en het ook baie dinge saam gedoen. 1

Toe Murray 10 jaar oud was en sy broer John bietjie ouer, is hulle vir sewe jaar na Skotland gestuur vir hul skoolopleiding. In 1845 reeds behaal albei die broers meestersgrade aan die Marishcal-Kollege in Aberdeen, Skotland.

Andrew Murray as jong leraar

Dié twee broers het tydens hul studentejare nie gerook of drank gebruik soos meeste studente maar doen nie. Daaroor is hulle deur ander studente gespot en deur die ander die “Chocolate Club” genoem, omdat hulle net Nederlandse sjokoladedrankies gedrink het. Murray skryf in hierdie tyd aan sy ouers dat hy wedergebore is en hy hom volkome aan die bediening wy – iets wat hy sy hele lewe gedoen het.

In 1846 het die twee broers die musiekgroep Eltheto (dit beteken Your Kingdom come) gevorm.

Hulle het hard gewerk om buitelandse sendingwerk te bevorder asook om Sondagskole vir arm mense en Bybelstudie vir werkende mans te begin. Hulle publiseer ook ’n maandelikse sendingtydskrif in Nederlands.

In 1848 word beide John, 22 jaar, en Murray, 20 jaar as predikante georden. Hulle kom in November van daardie jaar in Kaapstad aan. 1

Murray se harde en belangrike werk in die binneland van Suid-Afrika

In die Kaapkolonie van daardie dae moes ’n mens 22 wees om as ’n predikant te kon werk.  Omdat Murray te jonk was, word hy in 1849 na Bloemfontein gestuur. Sy pa, Murray sr., het saam met hom na Bloemfontein gereis en daar het Murray jr. sy intreepreek gegee.

Hy was die eerste predikant wat onder die Voortrekkers gewerk het. Hy het die Woord bedien aan ongeveer 12 000 boere en Voortrekkers wat oor ’n baie groot gebied versprei was. 1

Wanneer die boere in ’n distrik gehoor het dat hy op pad is om te kom preek, het hulle ’n kerk van riete gebou en hul waens rondom die “kerk” getrek vir die tyd wanneer hy daar was. 3

Murray jr. het probleme met sy gesondheid gehad wat al hoe erger geraak het, maar tog gee hy gehoor aan die versoek van die Voortrekkers wat verder noord bly om by hulle te kom preek. In Desember 1849 het hy met ’n ossewa oor die Vaalrivier getrek. Hy hou daar 37 eredienste op ses verskillende plase en doop ook 567 kinders. 1

Die jong predikant moes een keer meer as 800 myl (1 760 km) in net ses weke aflê en soms vier keer op ’n Sondag nagmaal bedien. Dit het veroorsaak dat hy homself ooreis het en het die probleem wat hy reeds met sy keel gehad het, vererger. 2

In Magaliesburg het hy by die huis van die Voortrekkerleier Andries Pretorius gebly en Pretorius het hom gevra om permanent predikant in die Transvaal te wees, maar hy het tog ook gedink dat Murray eintlik sy werk in Bloemfontein moet voortsit. 1

Andries Pretorius

In Bloemfontein het hy werklik die teenwoordigheid van die Here ervaar. Hy het baie tyd daaraan bestee om te perd of met ’n ossewa by afgeleë gebiede uit te kom. Dit moes hy doen op paaie wat soms byna onbegaanbaar was en ook in alle soorte weerstoestande. Soms moes hy by vol riviere wag totdat die water afloop voor hy die rivier kon oorsteek.

Op ’n dag in 1850 moes Murray na ’n vergadering gaan en hy moes deur ’n gebied beweeg waar daar ’n trop wildehonde was. Toe hy van sy perd afklim om deur ’n rivier te beweeg, het die perd die reuk van die wilde honde gekry, geskrik en weggehardloop. Murray het doodluiters sy bagasie op sy skouer getel en 15 km verder aangestap tot by die naaste plaashuis. Toe hy daar aankom, was die boer baie verbaas om te sien dat hy lewendig deur die roofdiere se gebied gestap het. Op sy vraag oor hoe Murray dit reggekry het, het hy geantwoord dat hy vir die Here gevra het om hom te bewaar en net aangestap het. Die wildehonde het na sy bene gehap maar hom nie raakgebyt nie.

In 1850 het Murray bewus geword van die groot behoefte aan predikante om die Woord van die Here in die binneland te bedien – in die destydse Natal asook in Transvaal en die Oranje-Vrystaat. Daar is ’n petisie deur 11 000 Tranvaalse burgers opgetrek en onderteken waarin hulle die sinode gevra het dat Murray hul predikant moet wees. Hy het gevoel dat hy dit net sal kan doen indien daar iemand was om sy werk in Bloemfontein voort te sit. Omdat dit nie kon gebeur nie, het hy besluit om in Bloemfontein te bly.

In 1852 was hy teenwoordig tydens die ondertekening van die Sandrivierkonvensie, waarvolgens die Boere noord van die Vaalrivier die reg gekry het om hulself te regeer. Hy reis hierna vir ’n vierde keer na Transvaal en word onder andere vergesel deur veldkornet Paul Kruger, wat later president van die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) sou word. 1

Paul Kruger

Murray ontmoet sy vrou en werk verder in Worcester en Wellington

In 1853 reis hy na Engeland en probeer ook om in Skotland meer predikante te werf om na Suid-Afrika te kom. Hy word siek terwyl hy daar is en word vir ’n jaar en ’n half in Nederland behandel.

In 1855 is hy terug in Suid-Afrika en reis onder meer na Kaapstad. Daar ontmoet hy vir Emma Rutherfoord. Hy is dadelik verlief op haar en nadat hy haar ’n tweede keer gevra het om met hom te trou, stem sy in. Hulle is op 2 Junie 1856 in Wynberg getroud.

Hulle trek met ’n groot tentwa na Bloemfontein met onder meer Emma se klavier ook deel van die trek! Sy moedig Murray aan om boeke te skryf en gaan dikwels saam met hom wanneer hy na verafgeleë plase in sy gemeente moes gaan.

In 1859 word Murray na Worcester beroep en hy en Emma gaan woon daar.

In 1860 is daar ’n groot geestelike oplewing in Worcester en Montagu en kerke moes vergroot word vir al die mense. Beide Murray sr. en Murray jr. was hierby betrokke. Hierdie herlewing het ook na dorpe soos die Paarl en Graaf-Reinet versprei en Murray jr. het gemeentes ook oortuig dat dit nodig was om Pinksterbidure te hou.

Murray word in 1862 vir die eerste keer moderator van die NG Kerk. Hy het die kerk se saak gestel waar daar verskille was en het almal beïndruk met sy redenasievermoë en hoe goed hy die kerk se saak kon stel.

In 1880 het Murray ernstige probleme met sy stem gekry. Hy is deur dokters behandel en kon vir twee jaar nie sy stem gebruik nie. In hierdie tyd begin hy beplan aan ’n daaglikse kalender vir Bybellees. In 1882 verskyn sy eerste Engelse boek met die titel Abide in Christ. In 1883 help hy om die Bible and Prayer Union te stig om mense aan te moedig om hul Bybels gereeld te lees.

Sy vrou, Emma Murray, sterf in 1905. In dieselfde jaar stig hy die Zuid-Afrikaansce Hulp Vereeniging met die doel om hulp aan sendelinge in Soedan te verleen.

In 1906 tree hy af ná 58 jaar diens aan die NG Kerk. Hy het steeds betrokke gebly by ondersteuning van die kerk totdat hy op 18 Januarie 1917 in sy huis in Wellington gesterf het. 1

Hy is op die terrein van die NG kerk in Wellington begrawe. Op sy grafsteen word sy sterfdatum as 17 Januarie 1917 aangegee en op die standbeeld staan 18 Januarie 1917 as sy sterfdatum. 2 Die korrekte datum is 18 Januarie 1917.

Bydrae tot sendingwerk – ʼn tydlyn

Andrew Murray het ʼn geweldige groot bydrae tot sendingwerk in Suid-Afrika gelewer. Sy pogings het gelei tot die NG Kerk se sendingwerk in onder meer Malawi.

Hugenote seminarie, 1884
  • In 1873 stig hy ’n skool vir meisies in Wellington, genoem die Hugenote Seminarie. 1 In Januarie 1874 is die eerste 40 meisies by die skool ingeskryf. 4
  • In 1877 het hy ’n Sendinginstituut vir jong mans in Wellington gestig. Hier kon hulle opgelei word om sendingwerk te gaan doen.
  • In 1879 word die Vrouwen Zending Bond gestig met Emma Murray as die eerste president.
  • In 1886 help hy die Predikanten Zending Vereeniging stig en word die eerste president van die organisasie. Hy werk saam met die Vrouwen Zending Bond om fondse te kry om sendingwerkers op te lei vir plekke soos Njassaland (vandag Malawi) en Masjonaland (ʼn streek noordoos in vandag se Zimbabwe). Hierdie sendingwerkers het ook jong vroue ingesluit.
  • Hy het ook in 1895 sendingkonferensies in Engeland en Amerika bygewoon en sy gehore beïndruk met sy lesings. 5
  • In 1902 help hy om die Het Boeren Zending School in Worcester te stig. Dit was bedoel vir krygsgevangenes wat sendelinge wou word.
  • Hy het deur die jare talle sendingreise in Suid-Afrika onderneem. In 1904 het hy vir die negende keer ’n sendingtoer na die destydse Transvaal onderneem.
  • In 1905 stig hy die Zuid-Afrikaansche Hulp Vereeniging met die doel om hulp aan sendelinge in Soedan te verleen.
  • 1908 stig hy die Mannen Zending Bond in Wellington. 1
  • Teen die jaar 1917 het hy ook kweekskole in dorpe soos Paarl, Bethlehem en Greytown gestig. 1

Bydrae tot onderwys

Op al die reise wat hy deur Suid-Afrika onderneem het, het hy besef dat daar ’n groot behoefte aan onderwys was. Onder sy leiding het die Kaapse sinode in 1876 besluit om ’n opleidingskool vir onderwysers te stig. Vir Murray was dit belangrik om ’n Christelike grondslag in die staat se skole te behou. Hy het onderwysers in die VSA en Nederland gewerf om in Suid-Afrika te kom skoolhou.

Murray het in 1898 ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Aberdeen ontvang. In 1907 het hy ook van die Universiteit van die Kaap die Goede Hoop (vandag Universiteit van Suid-Afrika – Unisa) ʼn eredoktorsgraad ontvang. 6

In hierdie jaar het Murray gehelp met die stigting van Grey Kollege en die hoeksteen is op 13 Oktober 1856 gelê. In 1859 is die skool amptelik ingewy. Murray was die eerste rektor van die kollege en beide hy en Emma was baie betrokke by die seuns. Van die seuns het selfs by hulle in die pastorie gewoon.

Hul eerste van agt kinders, Emma Maria, is in 1857 gebore. 1

Andrew Murray-huis, Grey Kollege

Sy boeke en publikasies

Gedurende sy 88 jaar het Andrew Murray jr. meer as 240 boeke en ander publikasies die lig laat sien. Sy skryfwerk is deur miljoene mense gelees en word vandag steeds gelees. 7

Murray se heel eerste boek verskyn in 1858 met die titel Jezus, de Kindervriend. Dit bestaan uit 12 dagstukkies oor die lewe van Jesus.

In 1882 verskyn sy eerste Engelse boek – Abide in Christ. In 1884 publiseer hy drie boeke in Nederlands – Jezus de Geneesheer der kranken, Het nieuwe Leven en De school des Gebeds. 1

Hier is die titels van nog ’n paar van sy boeke. Klik op die titels om meer oor die inhoud van die boeke te lees.

Hy het altesaam 44 boeke geskryf wat in 15 tale vertaal is. Hy het die boeke in Nederlands aan sy vrou of sy dogter of sy sekretaresse gedikteer wat dit neergeskryf het. Die rede hiervoor was blykbaar omdat hy self nie duidelik geskryf het nie. 8

Hy het die Bybel op so ’n manier vir mense geïnterpreteer dat Christene in die genade van die Here kon glo en dit kon beleef. Hy het geglo dat God alles gedoen het sodat mense gelukkig, produktief en betekenisvol kon leef. 7

Wyshede van Andrew Murray

Daar is byna 800 gesegdes van Andrew Murray wat opgeteken is, mens kan dit eintlik wyshede noem.

Hier is ’n paar daarvan:

“How different our standard is from Christ’s. We ask how much a man gives. Christ asks how much he keeps.”

“Humility is perfect quietness of heart. It is to expect nothing, to wonder at nothing that is done to me, to feel nothing done against me. It is to be at rest when nobody praises me, and when I am blamed or despised. It is to have a blessed home in the Lord, where I can go in and shut the door, and kneel to my Father in secret, and am at peace as in a deep sea of calmness, when all around and above is trouble.”

“Pride must die in you, or nothing of heaven can live in you.”

“A dead Christ I must do everything for; a living Christ does everything for me.”

“I need to spend time with God even when I do not know what to pray.” 9

’n Groot prediker sterf

In hierdie woorde van Andrew Murray het hy sy lewe gelei tot en met sy dood op 18 Januarie 1917: 1

“May not a single moment of my life be spent outside the light, love, and joy of God’s presence.” 6

Woordbank

afgeleë ’n Gebied wat ver of afgesonder is.
dikteer Wanneer iemand vir ’n ander persoon in woorde sê wat om neer te skryf.
doodluiters Kalm, ongesteurd.
kweekskole Opleidingskool vir predikante.
moderator Voorsitter van ’n kerk se sinode.
onbegaanbaar Pad wat in ’n baie slegte toestand is.
georden Om in die beroep van predikant aanvaar te word.
pastorie Woning van ’n predikant.
seminarie Opleidingskool vir predikante; kweekskool.
veldkornet Amptenaar wat onder ’n landdros gewerk het in die bestuur van plaaslike sake soos administratiewe, regterlike en polisieaangeleenthede. 14

Lees meer

Kyk hier

Andrew Murray en die 1860-oplewing in Suid-Afrika

Die Hugenote Seminarie

ʼn Kykie na Huis Andrew Murray Kinder- en Jeugsorgsentrum

Oor nederigheid – Andrew Murray

 

 

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 31 Julie 2023 | Bygewerk op 27 Februarie 2024