Vinnige feite

  • Blignault het in ’n groot mate tot die stigting van verskeie leeskringe landwyd bygedra. Sy het ook in 1980 ’n handleiding vir leeskringe, Van leser tot leser, uitgegee.
  • Die US het in 2001 die Audrey Blignault-katalogus aan haar oorhandig. Dit was ’n vierdelige katalogus, in rooi leer gebind, oor haar loopbaan en lewe.
  • Blignault se dogter, Marié Heese, is ook ’n bekende skrywer. Sy het boeke soos Die troebadoer en Die uurwerk kantel
  • Heese het ook ’n biografie oor haar ma saamgestel: Audrey Blignault uit die dagboek van ’n vrou het in 2009 verskyn.
  • ’n Eenvroutoneelstuk is in 2008 oor Blignault se lewe opgevoer. Coba-Maryn Wilsenach het in die vertoning genaamd Audrey
  • Daar is ’n straat in haar geboortedorp, Bredasdorp, wat na haar vernoem is.
  • Daar is ’n museum op Bredasdorp wat die Skeepswrakmuseum genoem word. In die museum is daar ook ’n plekkie wat Blignault vereer. Daar hang eerbewyse, die ereburgerskap wat sy ontvang het, sowel as ’n brief wat sy geskryf het. 4
  • Blignault was baie lief vir rooi, en die kleur het dikwels in haar essays opgeduik.

 

Audrey Blignault was ’n geliefde Afrikaanse skrywer, wat van 1916 tot 2008 geleef het. Sy was veral bekend vir ’n gewilde radioprogram en haar essays wat in die Sarie-tydskrif verskyn het. Sy is ook bekend daarvoor dat sy ’n leeskultuur bevorder het en het graag haar liefde vir boeke met ander mense gedeel.

Grootwordjare en studies

Sy is op 6 Julie 1916 as Audrey Bettie Swart op die plaas Heuningrug, Bredasdorp, in die Overberg-streek gebore. Haar prokureurpa se naam was Johannes Jochemus Albertus Swart en haar ma, Maria Swart (née Kennedy), was ’n musiekonderwyseres van Ierse afkoms. Sy het ’n suster, Yvonne, en twee broers, Ken en Christopher, gehad.

Haar ma was Engelssprekend en haar pa Afrikaanssprekend, maar albei kon baie goed Afrikaans en Engels praat. Hul huis was gevul met musiek en boeke, en Blignault was van jongs af ’n ywerige leser. Sy het vertel dat sy ook vir Kersfees boeke gekry het, en sy kon nie wag om by mense te gaan kuier om by hulle boeke te leen nie.

Blignault het reeds op 11-jarige ouderdom ’n Engelse gedig oor Bredasdorp geskryf, wat in ’n plaaslike koerant gepubliseer is. Sy het op Bredasdorp skoolgegaan en in 1933 daar gematrikuleer.

Hoewel nie baie vroue daardie tyd studeer het nie, het haar pa haar en haar suster haar aangemoedig om ná skool verder te studeer. Sy het ’n BA-graad aan die Universiteit Stellenbosch (US) voltooi. Sy het ses jaar daar studeer en haar magistergraad in Afrikaans en Nederlands met onderskeiding verwerf, asook haar sekondêre onderwysdiploma voltooi. Sy het in daardie tyd ook artikels vir De Stellenbosse Student geskryf.

Blignault het ook ’n tweetalige onderwysdiploma in voordrag en toneel verwerf en het in 1940 die onderwys betree. Sy het eers klas aan die Wellingtonse Opleidingskollege gegee en het daarna by die Rynse Meisieskool op Stellenbosch skoolgegee. 1

Loopbaan en lewe

Sy en Andries Blignault is op 28 Junie 1941 getroud. Haar man was van 1942 tot 1945 hoof van die Jan Kriel-skool in Kuilsrivier, en dit is daar waar hul enigste kind, Marié, op 24 September 1942 gebore is.

Haar man, Andries, het in 1945 besluit om voltyds medies te studeer, en sy het redakteur van Die Huisvrou geword. Sy het dié pos vir 11 jaar beklee en het daarna dieselfde pos by ’n gewilde maandblad Die Naweekpos beklee. Andries het intussen klaar studeer en ’n psigiater geword.

Blignaut is in 1946 gevra om die openbare uitsaaier, die SAUK (vandag ken ons dit net as die SABC), se Vrouerubriek-program te begin. Dit was ’n baie gewilde program wat sy later daagliks uitgesaai het. Sy het die program uiteindelik 46 jaar lank uitgesaai.

Benewens haar gewilde Vrouerubriek-program het sy ook die programme Wat kan ek lees? en Boeke vir ons kinders op die radio uitgesaai. Dit was vir haar belangrik om mense te inspireer om te lees, en sy het baie oor boeke oor die radio gepraat en ook praatjies daaroor gelewer. Sy het ’n groot invloed op lesers gehad, en boekverkope het dikwels toegeneem omdat sy dit op haar programme bemark het.

Sy was ook bekend vir haar gewilde essays in die vrouetydskrif Sarie. Die rubriek het op 23 Augustus 1950 afgeskop en is “Uit die dagboek van ’n vrou” genoem.

Tragedie tref

Blignault en haar man was op 2 Mei 1967 in ’n ernstige motorongeluk betrokke, en haar man is oorlede. Sy was self ernstig beseer en was ná die motorongeluk in ’n koma. Sy het gelukkig van haar beserings herstel en het in 1970 weer getrou, hierdie keer met Attie de Villiers. Hy was ’n ondersekretaris in die parlement, en sy het hom eintlik 33 jaar vantevore ontmoet toe hy ’n vervolgverhaal vir Die Huisvrou geskryf het. 2

Haar loopbaan floreer

Blignault het in 1955 haar essays, wat reeds in Sarie verskyn het, in ’n bundel, In klein maat, saamgevoeg en gepubliseer. Dit was egter slegs die begin van ’n reeks gewilde bundels wat sou volg.

Sy was ook in 1960 redakteur van die reeks Juweelnovelles, ’n reeks boeke wat uit die wêreldletterkunde in Afrikaans vertaal is.

Sy was baie lief vir prosa, poësie en reis, en haar bundel essays Die verlange loop ver (1969) het oor haar besoeke aan die grafte en woonplekke van skrywers en digters gegaan. Sy en haar man, Andries, was in 1966 op ’n wêreldreis en het daartydens baie skrywers se huise besoek.

Blignault het in die jare negentig ook ’n reeks in die tydskrif Insig wat oor die wêreldletterkunde gehandel het, geskryf. Dit is ook in ’n bundel saamgevoeg getiteld Die eindelose avontuur, wat in 1993 verskyn het.

Laaste jare

Die paartjie het in 1992 van hul huis in Kampsbaai na ’n aftree-oord in Tuine in die Kaap getrek. Blignault is op 92-jarige ouderdom op 1 Oktober 2008 in ’n hospitaal in Kaapstad oorlede. 3

Bekronings

Blignault is verskeie kere in haar leeftyd bekroon. Sy het in 1961 die gesogte Eugène Marais-prys vir In klein maat en Die vrolike lied gewen, en in 1965 die W.A. Hofmeyr-prys vir Met ligter tred. In 1980 word die Italiaanse Adelaide Ristori-prys aan haar toegeken. Die Adelaide Ristori-kultuursentrum in Rome ken elke jaar 50 pryse toe aan vroue op grond van die leidende rol wat hulle in kultuur speel, en die eer het Blignault in 1980 toegekom. Sy het ook in 1982 die Dekorasie vir Voortreflike Diens van die Suid-Afrikaanse regering ontvang.

Haar geboortedorp, Bredasdorp, het in 1988 ereburgerskap aan haar toegeken, en die US het haar in 1990 met ’n eredoktorsgraad vereer.

Blignault was ook die eerste vrou wat tot die fakulteitsraad van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verkies is. Die akademie het ook in 1994 erelidmaatskap aan haar toegeken.

In 1997 ontvang sy ’n prestigetoekenning vir haar voortreflike diens aan die Universiteit en die Suid-Afrikaanse gemeenskap van Die Klub van Sudenteraadvoorsitters aan die US.

Sy is ook in 2000 deur die ATKV met ’n prestigetoekenning vereer, en in 2005 met die Kanna-Insig-prys vir haar lewenslange bydrae tot Afrikaans. 1

Blignault se skryfwerk

Titel Literêre vorm of genre Publikasiedatum(s) van uitgawe(s) Plek en uitgewer
Met eenheid van hart Godsdienstige lektuur 1938, 1942 Kaapstad: HAUM
Die uitdaging van die huwelik Godsdienstige lektuur 1960 Kaapstad: HAUM
In klein maat: uit die dagboek van ʼn vrou Essays 1955, 1956,1958, 1960, 1963, 1966, 1968, 1969, 1970, 1975 Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Kaapstad: Tafelberg

Die vrolike lied Essays 1957, 1960, 1961, 1966, 1968, 1969, 1971 Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Kaapstad: Tafelberg

Die dammetjie en ander sketse en essays. (bydraes deur Audrey Blignault, Alba Bouwer, Freda Linde, Elise Muller, M.E.R. en Rykie van Reenen) Essays 1961, 1962 Kaapstad: Tafelberg
Met ligter tred Roman 1963,1964, 1965, 1966, 1967, 1970, 1971 Kaapstad: Nasionale Boekhandel
Die blye dae Essays 1965, 1966, 1969, 1978 Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Kaapstad: Tafelberg

Die plesierboom Essays 1967, 1968, 1969, 1971, 1973, 1991, 1994 Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Kaapstad: Tafelberg

Pretoria: Daan Retief

Kaapstad: Ametis

Om die son te aanskou Essays 1968, 1970, 1978

 

Kaapstad: Nasionale Boekhandel
Die verlange loop ver Reissketse 1969, 1971, 1978 Kaapstad: Nasionale Boekhandel

Kaapstad: Tafelberg

Die rooi granaat Essays 1970, 1971, 1974 Kaapstad: Tafelberg
Die wind van die see af Essays 1972 Kaapstad: Tafelberg
Nogtans sal ek jubel: 30 essays en vertellings, saamgestel deur Elize Botha Essays 1977, 1985 Kaapstad: Tafelberg
Pasop vir Jantatarat Essays 1979, 1981, 1988 Kaapstad: Tafelberg
Van leser tot leser: ’n gesprek met leeskringe Handleiding 1980 Kaapstad: Tafelberg
Die goue vreugde: ’n keur uit jare se leesgenot Essays 1985 Kaapstad: Human ’n Rousseau
Oulap se rooi: 32 essays tot lof van blydskap, ingelei deur Berta Smit Essays 1989 Kaapstad: Tafelberg
’n Groet van Audrey Essays 1992 Kaapstad: Tafelberg
Die eindelose avontuur: ’n venster op die wêreldletterkunde Essays 1993, 1994, 2020 Kaapstad: Tafelberg
Pretoria: Protea Boekhuis
Dit reën rose: beeld van ’n kindertyd Essays 1996 Kaapstad: Tafelberg
Mal Hansie en ander verhale: ’n keuse (saamgestel deur Elize Botha en Hennie Aucamp) Kortverhale 1996

2020

Kaapstad: Tafelberg

Pretoria: Protea Boekhuis

’n Blywende vreugde: briewe van Audrey Blignault (saamgestel deur Lynne Fourie, Marina Brink en Petrovna Metelerkamp) Briewe 2008 Hermanus: Hemel ’n See Boeke
Met my rooi rok voor jou deur (saamgestel deur Lana Burnett) Essays 2020 Kaapstad: Tafelberg

Woordbank

biografie Die geskiedenis van iemand se lewe wat beskryf word; lewensbeskrywing.
ereburgerskap Iemand word op ’n spesiale manier vereer deur ’n burger van die stad genoem te word.
eredoktorsgraad ’n Mens kry ’n eredoktorsgraad vir uitsonderlike prestasies, maar jy hoef nie ’n eksamen af te lê nie.
essays Afkomstig van die Franse essai. ’n Kritiese maar persoonlike bespreking van enige onderwerp in prosa, sonder om die betrokke onderwerp uit te put. Die doel van ’n essay is om ’n standpunt te stel, die leser tot ’n bepaalde insig te probeer oorreed, of om ’n gesprek te stimuleer.
magistergraad Die graad wat ’n mens ná ’n baccalaureus- of honneursgraad doen; meestersgraad.
prosa Geskrewe taalgebruik, veral as letterkundige genre.
poësie Die werke van digters of ’n versameling gedigte.
psigiater ’n Dokter wat in die sielkunde spesialiseer.
redakteur Iemand wat rigting gee en toesig hou oor die beleid van ’n publikasie.
voortreflike Baie goed; uitstekend.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Audrey Blignault

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Audrey Blignault

Blignault se lewe opgesom in 60 sekondes

Foto: iStock
Gepubliseer op: 20 Februarie 2024 | Bygewerk op 20 Februarie 2024