Vinnige feite

  • Influensa, oftewel griep, is ’n infeksie wat koors, kouekoors, hoes, hoofpyn, lyfpyn, en soms sinusprobleme en oorpyn veroorsaak. Dit veroorsaak ook soms naarheid of diarree.
  • Griep word deur ’n virus veroorsaak. ’n Virus is ’n mikroörganisme wat só klein is dat jy ’n baie sterk mikroskoop nodig het om te dit kan sien. Daar word gewoonlik aanbeveel dat mense jaarliks ’n griepinenting moet kry omdat daar elke jaar verskillende virusse is. Navorsers kies jaarliks so drie of vier virusse wat daardie jaar na verwagting amok sal maak en die entstof bied beskerming daarteen. 9
  • Die swak oorlogstoestande van die Eerste Wêreldoorlog het daartoe bygedra dat die siekte vinnig versprei het. Kampe was oorbevolk en daar was swak voeding en onhigiëniese toestande. Die hoofrede vir die hoë sterftesyfer was egter die ontwikkeling van bakteriële longontsteking in longe wat reeds deur die virus verswak is. 10
  • Baie stede het probeer om die verspreiding van die siekte te keer. New York het byvoorbeeld gevra dat ondernemings se openingstye moes wissel sodat daar nie so baie mense op een slag op die treine en busse moes wees nie.
  • Die Amerikaanse president van daardie tyd, Woodrow Wilson, het ook die griep opgedoen terwyl hy deel van die onderhandelings van die Verdrag van Versailles was. Die verdrag het ’n einde aan die Eerste Wêreldoorlog gebring. Hy het daarna herstel.
  • Die 1918-pandemie het ’n groot impak op die wêreld se ekonomie gehad. Talle Amerikaanse ondernemings moes sluit omdat so baie werknemers siek was. Basiese dienste kon nie verskaf word as gevolg van siek werkers nie en in baie gebiede was daar nie genoeg plaaswerkers om te oes nie. 11
  • Daar is ’n paar ooreenkomste tussen griep en Covid-19. Dit is albei respiratoriese siektes wat beteken dat hulle die lugweg aantas. Die virus wat elkeen veroorsaak, is egter anders. Covid-19 versprei ook makliker as griep. Die simptome is baie dieselfde en daarom is toetsing nodig om die virus te identifiseer. Albei siektes kan ook ernstige komplikasies tot gevolg hê. 12

Eendag gaan jou kleinkinders dalk ’n taak oor die Covid-19-pandemie doen of daaroor oplees. Net soos jy nou meer van die 1918-grieppandemie probeer uitvind. Hierdie pandemie was baie erg, want ongeveer 500 miljoen mense – een derde van die wêreld se bevolking destyds – het die virus opgedoen en minstens 50 miljoen mense wêreldwyd het daaraan gesterf.

Wat is griep presies? Griep is ’n aansteeklike siekte wat koorsigheid veroorsaak en veral die longe, lugpyp en lyf aantas. ’n Uitbreking word as ’n pandemie beskou wanneer dit oor ’n baie groot gebied (landwyd of wêreldwyd) versprei en baie mense besmet, gewoonlik oor ’n aantal maande. 1

Griep word veroorsaak deur ’n virus wat van mens tot mens oorgedra word. Iemand met griep hoes of nies of vat aan ’n oppervlak en dra die virus só oor na ander mense.

Waar het dit begin?

Die pandemie van 1918 was in daardie tyd as die Spaanse griep bekend omdat die siekte aan die begin wyd in Spanje gerapporteer is. Ons weet nie vandag waar dit presies ontstaan het nie en daarom gebruik ons nie die benaming Spaanse griep nie. Ons weet wel hoekom dit destyds die Spaanse griep genoem is.

In daardie tyd was Spanje een van die min lande in Europa wat tydens die Eerste Wêreldoorlog neutraal gebly het en dus nie deel van die oorlog was nie. Dit het beteken dat hul media (koerante, radio, ens.) kon berig oor wat hulle wou, terwyl lande wat aan die oorlog deelgeneem het, nie oor die griep kon berig nie. Hulle wou nie die mense se moed nog verder met negatiewe nuus in hul skoene laat sak nie!

Dit was daarom die Spaanse media wat eerste oor die griep berig het en hul verslaggewing het toegeneem nadat die Spaanse koning Alfonso XIII dit opgedoen het. Die ander lande wat die nuus slegs uit Spaanse bronne gekry het, het dus geglo dat dit daar ontstaan het terwyl die Spanjaarde dit die Franse griep genoem het omdat húlle weer geglo het dat dit uit Frankryk na hulle versprei het. Wetenskaplikes spekuleer vandag dat dit moontlik in die Verenigde State van Amerika (VSA), Frankryk, China of Brittanje ontstaan het. 2

Ons verwys vandag hierna as die 1918-griep of die Groot Griep. Dié griep word as die ergste pandemie van die 20ste eeu beskou en is deur ’n H1N1-virus veroorsaak. Dit is in die VSA in die lente van 1918 deur militêre personeel geïdentifiseer. Só ’n uitbreking vind plaas as daar ’n nuwe griepstam is waarteen die bevolking nie immuniteit het nie en dit is presies wat toe gebeur het. 3

Daar word beraam dat ongeveer 500 miljoen mense die virus opgedoen het. Die aantal sterftes was verskriklik! Minstens 50 miljoen mense wêreldwyd het aan hierdie griep gesterf. As ‘n mens dit met die sterftesyfer van die Tweede Wêreldoorlog vergelyk, is dit is meer as dubbel! Daar word beraam dat ongeveer 17 miljoen mense hul lewe as gevolg van die oorlog verloor het. 2

Die siekte het sommige ouderdomsgroepe erger as ander geraak. Baie kinders jonger as vyf jaar oud is dood, en so ook mense wat 65 jaar en ouer was. ’n Unieke kenmerk van hierdie pandemie is dat soveel gesonde mense in die ouderdomsgroep 15 tot 34 jaar dood is.

Daar was nie in daardie tyd ‘n entstof beskikbaar teen dié griep nie. Trouens was daar nie eens antibiotika om bakteriële infeksies te behandel wat mense weens die griep gekry het nie, want penisilien is eers in 1928 ontdek. Die dokters en verpleegsters van daardie tyd het dus byna geen medikasie gehad om mense mee te behandel nie. Al wat hulle kon doen, was om mense weg van ander mense in isolasie te hou, onder kwarantyn te plaas, goeie persoonlike higiëne toe te pas en ontsmetmiddels te gebruik. Hulle het ook probeer om die bymekaarkoms van baie mense te beperk, maar dit was nie oral suksesvol nie. 4

Die siekte se golwe

Net soos daar verskeie golwe van die Covid-19-pandemie was, het die 1918-pandemie ook in golwe plaasgevind.

Die eerste een het tydens die Eerste Wêreldoorlog in Maart 1918 uitgebreek. Dit was juis as gevolg van die beweging van die soldate dat die griep soos ’n veldbrand versprei het. Daar was boonop swak lewensomstandighede en oorbevolking in kampe, wat die verspreiding van die siekte aangehelp het. Daar word vandag geglo dat dit Amerikaanse troepe was wat die griep saam met hulle deur Europa geneem het. 5 Dit het blitsvinnig deur Wes-Europa versprei en teen Julie was dit al in Pole (Oos-Europa).

Die eerste golf was matig, maar in die somer van daardie jaar het die tweede golf uitgebreek. Dit het blitsvinnig versprei. Baie mense het ook longontsteking gekry en is slegs twee dae nadat hulle griepsimptome begin toon het, dood. By een weermagbasis, Camp Devens in Massachusetts in die VSA, was daar binne ses dae nadat die eerste griepgeval gerapporteer is, 6 674 griepgevalle.

Die derde golf van die grieppandemie het die volgende winter plaasgevind en was teen daardie tyd omtrent oral! Indië het glo minstens 12,5 miljoen sterftes tydens die pandemie aangeteken en die griep het selfs verafgeleë eilande, soos Samoa in die Stille Oseaan, bereik.

Teen die lente van 1919 was die griep meestal uitgewoed.

Toeskouers met maskers tydens ‘n voetbalwedstryd in Georgia.

Suid-Afrika ook swaar getref

Toe die tweede golf van die siekte die wêreld getref het, is dit deur skepe oraloor versprei. Suid-Afrika was in daardie tyd nog die Unie van Suid-Afrika en die land is nie gespaar nie. Dit het blitsvinnig deur verskillende gemeenskappe versprei en teen die middel van Oktober 1918 was mense landwyd deur die griep geraak.

Volgens die amptelike syfers het 11 726 wit en 127 745 swart mense, bruin mense en Indiërs gesterf, maar navorsing deur die historikus Howard Phillips dui daarop dat die eintlike dodetal waarskynlik veel hoër as die amptelike syfers was. Hy beraam dat daar tussen 250 000 en 350 000 sterftes in die land was. Philips glo ook dat ons land een van die hoogste sterftesyfers ter wêreld gehad het. 6

’n Leser het aan die koerant De Burger geskryf:

“So ‘n treurigheid: oorlog, droogte, hongersnood en pestilensie; aan alle kante dreig die gevaar ons, terwijl die Spaanse griep duisende van slagoffers daagliks om ons heen weg maai.”

Die volgende gedig het ook in 1918 in Die Vaderland verskyn:

“Spaanse Griep, van oorseese strand,
Wat maak jij in ons vaderland?
Het ons dan nie genoeg gelij.
Vir reg het ons so swaar baklei.
Baje vrouwe, kinders en mans
Is deur honger, moord, koe’el en lans,
In die doodsvallei gejaagd,
Hul lot word deur die volk beklaagd.
Spaanse Griep, jij is nog ’n dolk
In die deurboorde hart van ’n volk,
Wie s’n wonde glad nie wil heel,
Want hui verlies is al te veel; …
Spaanse Griep, gaat tog weg van hier,
Want as jij nou nog langer duur,
Dan blij daar oor, slegs hier en daar,
Van ons uitgemoorde volk ’n paar”. (stet).
7

Entstof gevind

Navorsers het die virus wat die 1918-griep veroorsaak het, suksesvol nagemaak en in 2005 ‘n artikel oor hul bevindings in ‘n wetenskaplike joernaal gepubliseer. Dié artikel gee nuwe inligting oor faktore wat tot die 1918-virus bygedra het. Sulke inligting is belangrik om die doeltreffendheid van vandag se medisyne te bepaal, sodat mense nie weer só erg deur ‘n soortgelyke virus geraak word nie.

In 1918 was daar ’n klein dorpie in Alaska wat Brevig Mission genoem is. Daar was slegs 80 volwassenes in dié dorpie en 72 van hulle is aan dié griep dood. Omdat die dorpie so koud is, het die liggame in die grafte gevries. Jare later het die Amerikaanse patoloog Johan Hultin die dorpie besoek in die hoop dat hy die virus kon eien en navorsing daaroor kon doen. Dit was so koud, dat hy en sy span vuur moes maak om die gevriesde grafte te ontdooi. Ná twee dae se harde werk, het Hultin die perfekte liggaam van ‘n meisie gevind – sy het ‘n blou rokkie aangehad en daar was rooi strikkies in haar hare. Hy het longweefsel by haar en vier ander liggame gekry, sodat hy die virus kon identifiseer en bestudeer.

‘n Kaart wat Brevig Mission, ‘n klein dorpie in Alaska, aandui.

Hierdie eerste sending was egter ’n mislukking, want die virus wou nie weer groei toe hy dit in ‘n laboratorium in hoendereiers geplant het nie. Maar Hultin het 46 jaar later, in 1997, besluit om na die dorpie Brevig Mission terug te keer nadat hy nuwe navorsing oor die griep gelees het. Hy was toe al 72 jaar oud en het dit op sy eie koste gedoen. Hy het selfs sy vrou se tuinskêr ingepak om met die opgrawings te help!

Hultin het weer gevriesde longweefsel gevind wat perfek behoue gebly het in die koue. Hy het dit vir die Amerikaanse viroloog Jeffrey Taubenberger gestuur, wat die 1918-virus in die longe kon identifiseer. Dit is danksy Hultin dat die virus se genetiese materiaal uiteindelik in 1997 ontleed en geïdentifiseer is. 8

Die impak van dié ontdekking is vir die eerste keer in 1999 beskryf. Die wetenskaplikes kon die 1918-virus ontleed en het sodoende ‘n groot tree vorentoe geneem in die voorkoming en behandeling van soortgelyke virusse in die toekoms.

Woordbank

bakteriële Dis ’n klein organisme wat infeksie en besmetlike siektes veroorsaak.
entstof Dit is ʼn vaksien; ʼn mikroörganisme of virus wat in die liggaam opgeneem word om die produksie van teenliggame te stimuleer, sodat die liggaam onvatbaar vir besmetting kan word.
epidemie Skielike, dikwels omvangryke uitbreek van ’n aansteeklike siekte in die gemeenskap, gewoonlik met ernstige gevolge; heersende besmetlike siekte.
griep Dis ’n aansteeklike siekte wat koorsigheid veroorsaak en veral die longe, lugpyp en lyf aantas.
immuniteit As ’n mens nie vatbaar vir aansteeklike siektes is nie; ’n weerstand teen siektes hê.
isolasie Toestand van afsondering.
kiem ʼn Mikrobe of virus wat ʼn siekte kan veroorsaak.
kwarantyn Wanneer mense of diere gedwing word om vir ’n bepaalde tyd op ’n bepaalde plek te bly, uit vrees vir aansteeklike siektes.
pandemie ’n Epidemie wat ’n groot aantal van die bevolking (of die hele bevolking) óf mense wêreldwyd aantas; siekte waartydens individue tot hul blyplek beperk word, met beperkte bewegingsvryheid buite die huis om verdere uitbreking te probeer voorkom.
patoloog Dokter wat lyke ondersoek en dissekteer om die oorsaak van dood te probeer vasstel.
simptome Verskynsel of tekens van ’n siekte.
uitbreking Wanneer ’n siekte uitbreek.
viroloog Wetenskaplike wat virusse bestudeer; viruskenner; virusspesialis.
virus Dit is enigeen van ʼn groep submikroskopiese entiteite wat nie as lewende organismes beskou word nie omdat hulle slegs in die lewende selle van ʼn gasheer kan vermenigvuldig, en waarvan baie siektes kan veroorsaak.
virussiekte Dit is ʼn siekte wat deur ʼn virus veroorsaak word, soos verkoue, griep, masels, waterpokkies, polio en MIV/vigs.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Foto’s van die 1918-griep

Alles wat jy van die dodelike 1918-griep wil weet

Hoe het dié griep versprei?

Hierdie vrou het twee pandemies oorleef!

Gepubliseer op: 11 September 2023 | Bygewerk op 15 April 2024