ʼn Kortverhaal is ʼn prosateks wat heelwat korter as ʼn roman is. Dit is een van die oudste vorme van storievertelling en is familie van die fabel, die mite, die volksverhaal, die sprokie, die anekdote en die gelykenis. Die moderne kortverhaal het vroeg in die negentiende eeu as ʼn afsonderlike genre ontwikkel. Hierdie ontwikkeling hou verband met die koms van tydskrifte omdat dit een van die gewildste plekke was waar kortverhale gepubliseer is.

Soorte kortverhale

Daar word breedweg tussen sewe soorte kortverhale onderskei:

  • Die situasieverhaal (wat wentel om ʼn gebeurtenis en die plot)
  • Die Tsjechoviaanse verhaal (die toevallige, die slordige, die abrupte, die absurde en die geheimsinnige van die alledaagse lewe wat die onderwerpe was waaroor die Russiese skrywer, Anton Tsjechof, geskryf het)
  • Die modernistiese verhaal
  • Die kriptiese/speelse verhaal
  • Die mininovelle
  • Die poëties-mitiese verhaal
  • Die biografiese verhaal (biografieë, memoires, dagboekinskrywings, verslaggewing, geskiedskrywing)

Kenmerke van ʼn kortverhaal

Nes die roman bestaan die kortverhaal uit tyd, ruimte, karakters, gebeure, en verteller, maar hierdie elemente word kunstiger as in die roman gerangskik. Kortverhale kan tragies, snaaks, realisties of mities wees. In die kortverhaal hou die titel, openingsin en slotsin baie nou met mekaar verband. Daar word gewoonlik op een of min karakters gekonsentreer. Karakters word eerder onthul as wat hulle ontwikkel.

Die gebeure is eenlynig wat beteken dat daar nie baie verskillende stories in die verhaal vertel word nie. Ruimte en tyd word spaarsamig benut en is vol suggesties. Al hierdie aspekte word aangewend om een effek op die leser te hê. Hierdie effek kan openbaring, insig, verheldering, verrassing of skok wees. Die konflik in ʼn kortverhaal word dikwels gedramatiseer en die gebeure vind vinnig plaas.

Terugflitse of gedetailleerde fokus word dikwels as verteltegnieke aangewend. Vertelling geskied ook gewoonlik deur suggestie eerder as verduideliking. Daar is ooreenstemming tussen die kortverhaal en poësie omdat eersgenoemde ook metafore, assosiasies en emotiewe taal gebruik. Die tyd in ʼn kortverhaal word dikwels ingeperk en dit kan wees om die intensiteit, spanning en afwagting in die verhaal te verhoog.

Die slot kan treffend en verrassend wees, of oop eindig. Kortverhale wil nie morele lesse aan lesers oordra nie. Daar word ʼn onderskeid getref tussen lang kortverhale en kortkortverhale. Laasgenoemde is gewoonlik tussen 100 en 1 800 woorde lank, en word gekenmerk deur ʼn gespanne kriptiese aard. Dit is ook belangrik om te weet dat nie alle kort prosa kortverhale is nie. Die essay, skets, vinjet en dagbroekinskrywing is byvoorbeeld nie kortverhale nie. Kortkuns is die versamelnaamwoord vir alle kort prosatekste.

Voorbeelde van kortverhale

In die Afrikaanse letterkunde is Hennie Aucamp en Abraham H. de Vries van die heel bekendste kortverhaalskrywers. Ander bekende kortverhaalskrywers sluit in Breyten Breytenbach, Henriëtte Grové, P.J. Haasbroek, Jeanne Goosen, Jan Rabie, Petra Müller, Koos Prinsloo, Riana Scheepers en Dana Snyman. Die Afrikaanse kortverhaalboek (2012), saamgestel deur Abraham H. de Vries, bly een van die belangrikste kortverhaalbloemlesings in Afrikaans.

Die reeks Nuwe stories (2012-2014), saamgestel deur Jeanette Ferreira, Suzette Kotzé-Myburgh en Leti Kleyn, bevat voorts kortverhale deur nuwe Afrikaanse kortverhaalskrywers soos Frederick Botha, Carien Smith, Christina van Deventer en Elani Venter. Ander noemenswaardige kortverhaalbundels sluit in Alfabet van die voëls (2011) deur S.J. Naudé, Die laaste wals: Hennie Aucamp se keuse uit sy verhaalkuns (2017) saamgestel deur Johann de Lange, Wit issie ʼn colour nie (2018) deur Nathan Trantraal, en Die nuwe Afrikaanse prosaboek (2019) saamgestel deur Sonja Loots en Steward van Wyk.

Die volgende voorbeeld is ʼn uittreksel uit Frederick Botha se kortverhaal “Please help, God bless” wat in 2016 die langlys van ses vir die PEN International New Voices Award 2016 gehaal het, en hier met die skrywer se vriendelike vergunning geplaas word:

In die hoek van my oog sien ek ’n bedelaar aan die linkerkant van my motor aanbeweeg kom. Al laggend loop hy tussen die motors wat by die verkeerslig ophoop. Ek sien sy linkerarm is geamputeer. Met sy regterhand klop hy teen die motors se vensters en hou dit dan bak sodat die motoriste munte daarin kan gooi. Sy groot, skewe skitterwit tande word beklemtoon deur sy songelooide vel. Soos hy nader beweeg word sy glimlag al hoe meer prominent. Sy grys hemp is slordig by sy swart broek ingesteek. Die moue is opgerol. Selfs die linkerkantste een; tot net onder sy stompie waar die opgerolde stuk mou papperig hang weens die afwesigheid van ’n elmboog en voorarm. Aan sy skurwe voete dra hy bruin sandale met sy tone wat oorsteek.

Dis die eerste keer wat ek hom hier sien. Gewoonlik is hierdie die staanplek van ’n ou vrou wat, op die kleinste bordjie wat sy in die hande kon kry, haar lot oor geen werk en kos bekla terwyl sy verwytend na die motoriste staar. Ek wonder of bedelaars staanplekke uitruil. Het hul gemeenskapsvergaderings waartydens hulle terugvoer gee oor ideale staanplekke vir optimale bedelary? Hou hulle dinkskrums vir metodes oor hoe hulle motoriste sommer diep in hul beursies kan laat grawe?

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 12 Januarie 2022 | Bygewerk op 26 Junie 2023