Vinnige feite

  • Die loopgrawe was ’n aaklige plek vir soldate en baie siektes het in daardie nou tonnels versprei. Dit was ’n onhigiëniese plek en siektes soos cholera, disenterie en tifus was algemeen. Die konstante klamheid in die loopgrawe het boonop ’n pynlike toestand in voete veroorsaak waarin dooie weefsel in een of albei voete versprei het en dit het dikwels tot amputasie gelei. Dit is loopgraafvoete genoem. Die soldate was vir baie lang tye in die loopgrawe met konstante vrees en bomme en dit het tot die sogenaamde bomskok gelei. Ons weet vandag dat die bomskok eintlik ’n geestestoestand genaamd posttraumatiese stresversteuring was. 8
  • Die oorlog het tot groot produksie in fabrieke gelei, met elke land wat so gou as moontlik sy manskappe met wapens wou toerus. Die Britte het byvoorbeeld teen 1918 ongeveer 4 miljoen gewere, 250 000 masjiengewere, 52 000 vliegtuie en 2 800 tenks vervaardig. 5
  • Dit was ’n oorlog waarin baie mense gesterf het. Meer as 9 miljoen soldate is dood en 21 miljoen is gewond. Byna 10 miljoen gewone burgers is dood. Die twee nasies wat die meeste deur die oorlog geraak is, was Duitsland en Frankryk. Hulle het elk ongeveer 80% van die manlike bevolking tussen die ouderdomme van 15 en 49 na die slagveld gestuur.
  • Die oorlog het tot die val van vier imperiale dinasties gelei, te wete Duitsland, Oostenryk-Hongarye, Rusland en Turkye. 2
  • Dit was ’n tyd met groot vorderings wat op die gebied van vervaardiging, chemie en kommunikasie gemaak is. Daar was ook innovering op die gebied van geneeskunde. 5
Foto: iStock

’n Moord op ’n bekende paartjie in Sarajewo in Bosnië (vandag bekend as Bosnië-Herzegowina) was die vonk wat die kruitvat laat ontplof het en het tot een van die grootste en ergste oorloë ter wêreld gelei het – die Eerste Wêreldoorlog wat van 1914 tot 1918 gewoed het. Dit het ook as die “Groot Oorlog” bekendgestaan was in daardie stadium die grootste oorlog wat die wêreld nog gesien het. 1

Aartshertog Franz Ferdinand en sy vrou, Sophie, voordat hulle in Bosnië in ‘n sluipmoordaanval dood is.

Die meeste van die veldslae het in Europa en die Midde-Ooste afgespeel en meer as 16 miljoen mense is dood – nie net soldate nie, want miljoene gewone burgers het ook gesterf. Dit was só ’n erge en bloedige oorlog dat mense gedink het dat niemand ooit weer ’n oorlog sou begin nie… Toe nou nie, want dit was juis die uitslag van hierdie oorlog wat tot die Tweede Wêreldoorlog sou lei. 2 [Lees hier oor wêreldbekende sluipmoordaanvalle.]

Ná die sluipmoord op die aartshertog Franz Ferdinand en sy vrou, Sophie, in Bosnië.

Vonk in die kruitvat

Die stad Sarajewo was die hoofstad van Bosnië. Dit was deel van die gebied onder die beheer van die Oostenryks-Hongaarse Ryk (ook monargie genoem). Die Oostenryks-Hongaarse Ryk was ’n uiteenlopende monargie wat verskeie Slawiese groepe ingesluit het. 3

Hierdie ryk en sy buurman Serwië het nie langs dieselfde vuur gesit nie. Serwiese nasionaliste wou alle Serwiërs in een land gehad het en hulle wou nie hê dat die Serwiërs in Bosnië onder die Oostenryks-Hongaarse beheer moes wees nie. ’n Nasionalis is iemand wat nasionalisties is en dit is die liefde en trots vir jou eie land en nasie met die behoefte om onafhanklik te wees. 4

’n Bosniese Serwiër genaamd Gavrilo Princip het op 28 Junie 1914 die keiser van Oostenryk se neef, die aartshertog Franz Ferdinand en sy vrou, Sophie, doodgeskiet en die ryk het Serwië dadelik daarvan beskuldig dat hulle dié misdaad beplan het. ’n Maand later het hulle oorlog teen Serwië verklaar. 2

Volgens geskiedkundiges was daar reeds spanning in Europa tussen lande oor grondgebied en dies meer, en baie lande het tot die oorlog toegetree omdat hulle ander lande se grondgebied gesoek het. Reeds voor die oorlog het sekere lande bondgenote gehad en daarom het dit nie by ’n oorlog tussen slegs Serwië en die Oostenryks-Hongaarse Ryk gebly nie, maar ’n volskaalse wêreldoorlog geword.

Oostenryk-Hongarye se bondgenoot was Duitsland, wat ’n baie sterk weermag gehad het en dadelik tot die oorlog toegetree het. 1

‘n Kaart van Duitsland.

Rusland was weer die Serwiërs se bondgenoot en die Russe het op hul beurt sterk bande met Frankryk en die Verenigde Koninkryk (Brittanje) gehad. Hulle het ook ingestem om tot die oorlog toe te tree. Twee kampe is dus gevorm: Rusland, Serwië, Frankryk en Brittanje was aan die een kant en is die Geallieerdes genoem, terwyl Oostenryk-Hongarye en Duitsland die Sentrale Magte gevorm het. 1

Die oorlog het al hoe groter geword met al hoe meer lande wat deel daarvan geword het. Uiteindelik het 30 nasies oorlog verklaar en daar was nie net gevegte in Europa waar alles begin het nie, maar ook in die Midde-Ooste en selfs in Afrika. 5

Die westelike linie

Die gevegsgebiede wes van Duitsland is die westelike linie genoem en die Duitsers het daar met hul aanslag begin. Hul militêre strategie is die Schlieffen-plan genoem en hulle het in die weste met hul taktiek begin deur die neutrale België binne te val.

Die Slag van Somme.
Die Slag van Somme.

Op 4 Augustus 1914 het die Duitse troepe die Belgiese grens oorgesteek en só het die eerste veldslag van die oorlog in alle erns begin.

Die Duitsers het op ’n maklike oorwinning aan die westekant staatgemaak, maar dit het nie gebeur nie. In September 1914 het die Geallieerdes daarin geslaag om die Duitsers in die Slag van die Marne terug te dryf.

‘n Kaart van die Slag van die Marne.

Dié oorlog is ook bekend vir die soort oorlog wat gevoer is. Elke kant van die oorlog het lang, nou loopgrawe gehad. ’n Loopgraaf is ’n nou gat of sloot wat gegrawe word vir soldate om in te bly en hulle te beskerm. Lang loopgrawe is in die grond deur die soldate gegrawe.

Loopgrawe met sandsakke tydens die Eerste Wêreldoorlog in België.
Die Slag van die Marne.

Dit het van die kus van België tot die grens van Switserland gestrek en die soldate het in hierdie loopgrawe gebly. Die stuk tussen die twee kante is “niemandsland” genoem en daar is doringdraad geplaas. Enigeen wat dit daar gewaag het, is summier geskiet. 6

As soldate met hul aanvalle op mekaar begin het, het hulle uit die loopgrawe geklim en begin beweeg, maar dit het tot groot verliese gely, want uiteraard is die prosessie (aantog) gesien en is hulle doodgeskiet. 2

Twee van die oorlog se ergste en bloedigste veldslae is aan die westelike linie geveg met die Eerste Slag van die Somme wat naby die Sommerivier in Frankryk plaasgevind is. Hierdie veldslag van Julie tot November in 1916 het die lewens van duisende soldate geëis. Meer as 600 000 soldate aan elke kant is doodgemaak, gewond of gevang. Met al die lewensverlies is daar op die ou end slegs 25 vierkante myl (sowat 40 km2) gebied gewen! 7

Die Slag van Somme.
Die verwoesting tydens die Slag van Somme in Frankryk.

Die Franse en die Duitsers het nóg ’n lang stryd naby Verdun geveg waar opponente nuwe maniere probeer vind het om deur die loopgrawe te breek. In April 1915 het die Duitsers met die Slag van Ypres ’n giftige gas teen die Geallieerdes gebruik en daarna is meer chemiese wapens teen mekaar ingespan. Soldate moes toe uit die aard van die saak gasmaskers vir beskerming kry.

Duitse soldate tydens die Slag van Ypres.
Die Slag van Ypres.

Dit was ook hierdie oorlog wat die ontwikkeling van die eerste oorlogstenk gesien het. Dit was die Britte wat met die eerste tenk vorendag gekom het en dié tenk kon deur die doringdraadversperrings én loopgrawe kom. 1

Verwoesing in die Slag van Ypres.

Oostelike linie en Midde-Ooste

Die oostelike linie is die naam wat die gevegsterreine oos van Duitsland genoem is en gevegte daar het afgeskop met die Russiese magte wat in 1914 in Duitsland en Oostenryk-Hongarye inbeweeg het. Die Duitsers het die Russe in Augustus 1914 in die Slag van Tannenberg verslaan. Dit was ’n groot verlies vir die Russe wat derduisende soldate in dié slag verloor het. 2

‘n Stukkende oorlogtenk tydens die Slag van Tannenberg.

Bulgarye het ook by die Sentrale Magte aangesluit en troepe van dié land, Duitsland en die Oostenryks-Hongaarse Ryk het Serwië ingeneem. Die Geallieerdes het weer in Griekeland begin inbeweeg om die Serwiërs te help, maar hulle het min vordering gemaak. Die Ottomaanse Ryk (waar Turkye vandag is) het teen die einde van 1914 by die Sentrale Magte aangesluit en Rusland begin aanval. Die Geallieerdes het daar die Ottomane probeer stuit, maar sonder sukses.

Italië het in 1915 homself by die Geallieerdes geskaar.

Toe die oorlog begin het, het die Ottomaanse Ryk oor Sirië, die Palestyne en Mesopotamië (nou Irak) geregeer. In 1917 het die Britse troepe beheer oor Irak geneem, daarna die Palestyne, en in 1918 het hulle Sirië ingeneem.
‘n Uitbeelding van die Slag van Tannenberg.

Gevegte ter see en in die lug

Die Britte het in daardie stadium meer oorlogskepe as die Duitsers gehad en kon skepe keer om sekere Duitse hawens te bereik – dit word ’n vlootblokkade genoem. Hulle kon dus daarin slaag dat vragskepe met kos nie by die Duitsers kon uitkom nie. Die Duitsers het egter iets in hul arsenaal gehad wat die Britte nie gehad het nie. Hul duikbote was dodelik en hulle kon nie die bote se aanvalle keer nie. Die Duitsers het ook nie net vragskepe verwoes nie, maar selfs passasiersbote aangeval en gesink.

Op 7 Mei 1915 is die Britse passasierskip Lusitania gesink en nagenoeg 1 200 mense het omgekom. Die boot was van New York in die VSA na Liverpool in Engeland onderweg. Die Amerikaners was huiwerig om aan die oorlog deel te neem, maar die sinking van die Lusitania en daarna nóg Amerikaanse vragskepe, was die laaste strooi en hulle het oorlog verklaar.

Die Duitse duikbote het uiteindelik ongeveer 6 000 skepe van die Geallieerdes gesink en derduisende mense het hul lewens in hierdie aanvalle verloor.

Aan die begin van die oorlog was daar nie vegvliegtuie nie, want die vliegtuig is slegs elf jaar voor die begin van die oorlog uitgevind.

Die Duitsers het wel aan die begin van die oorlog van lugskepe as bomwerpers gebruik gemaak. Die lugskepe is Zeppelins genoem (na die skepper daarvan, Ferdinand von Zeppelin). Hulle kon 85 m/h (byna 137 km/h) vlieg en tot twee ton bomme dra. Die Britte het egter wapens gebou om hierdie lugskepe af te skiet.

In Junie 1917 het die Duitse weermag opgehou om lugskepe vir bomaanvalle oor Brittanje te gebruik. Hoewel ‘n geweldige sielkundige wapen, het hulle eintlik min skade as oorlogsvegtuie aangerig. 8

Die oorlog het tot die vinnige ontwikkeling van vegvliegtuie gelei en hierdie vliegtuie is met masjiengewere toegerus. Die Duitsers het hul vliegtuie in 1917 begin inspan om bomme op groot stede in Brittanje te laat val en het só baie gewone mense se lewens geëis.

Die begin van die einde

In 1917 was daar ’n paar faktore wat die gang van die oorlog verander het. Een daarvan was die Russiese Revolusie. Ekonomiese onstabiliteit, groot verliese in die oorlog, voedseltekorte en dies meer het tot groot ontevredenheid onder die Russiese bevolking gelei en mense was kwaad vir die heerser, Tsaar Nicholas II, en sy vrou, Alexandra. Dit was die aansporing vir die revolusie wat deur die Bolsjewieke gelei is. 2

Hulle het dadelik vrede met die Sentrale Magte gemaak en die Duitsers kon toe hul troepe enige plek mobiliseer.

Skermgreep uit die rolprent The Battle of the Somme, wat ‘n aanval uitbeeld.

Intussen het die VSA tot die oorlog toegetree nadat die Duitse duikbote baie van hul skepe gesink het. Die Amerikaners het boonop uitgevind dat Duitsland dele van die VSA vir Mexiko in ruil vir hulp in die oorlog beloof het. Die VSA het gevolglik op 6 April 1917 oorlog teen Duitsland verklaar. 1

In 1917 en 1918 was daar meer Duitse soldate as Geallieerdes aan die westelike linie, maar teen 1918 het die situasie aansienlik verander. Ongeveer 10 000 Amerikaanse troepe het daagliks in Frankryk aangeland.

Die Duitsers het geweet dat die Amerikaners op pad was en het verskeie aanvalle teen die Britte en Franse gelei. Die Duitsers het wel suksesse met die Tweede Slag van die Somme gehad, maar ná die Tweede Slag van die Marne het die Geallieerdes beheer oor die oorlog geneem. Teen November het hulle die Duitsers ver genoeg teruggestoot en die Sentrale Magte het begin oorgee. Die Bulgaarse soldate het op 29 September 1918 oorgegee en op 30 Oktober 1918 het die Oostenryks-Hongaarse Ryk vir ’n skietstilstand gevra. Die Ottomaanse Ryk het op dieselfde dag oorgegee.

Teen hierdie tyd was daar erge voedseltekorte in Duitsland en die vlootblokkade het gekeer dat voedsel die land kon bereik. Op 11 November 1918 het die Duitsers ’n ooreenkoms onderteken om die gevegte te beëindig.

Die leiers van die Geallieerdes het in Januarie 1919 in Parys, Frankryk bymekaargekom om oor vrede te gesels.

Hulle het ook ’n organisasie gestig met die doel om toekomstige oorloë te voorkom. Dit was die Liga van Nasies genoem.

Verteenwoordigers van Duitsland en die Geallieerdes het op 28 Junie 1919 die Verdrag van Versailles onderteken en die Geallieerdes het daarna ook afsonderlike verdrae met Oostenryk, Bulgarye en die Ottomaanse Ryk onderteken.

Die verdrag met Duitsland het dié land toegelaat om slegs ’n klein weermag en vloot te behou en hulle moes ’n enorme bedrag geld aan die Geallieerdes betaal. Die Duitsers het dit as ’n groot vernedering gesien en was baie ongelukkig oor die verdrag.

Die drome van ’n vreedsame toekoms het ongelukkig nie lank gehou nie, want die Duitsers was nie geneë met die straf wat hulle gekry het nie. Hul ontevredenheid het daartoe gelei dat Adolf Hitler in 1933 aan bewind gekom het. Hy het die Duitse weermag stelselmatig opgebou en sy besluite en dade het uiteindelik tot die Tweede Wêreldoorlog gelei.

Die Arlington-begraafplaas in die VSA, waar weermaglede begrawe word.

Suid-Afrika en die oorlog

Die Britse regering van daardie tyd het in 1914 die Unie van Suid-Afrika gevra om Duitswes-Afrika (vandag Namibië) binne te val. Generaal Louis Botha was aan bewind en hy was ten gunste van die voorstel. Daar was egter vier Afrikaanse ministers wat gekant was daarteen, veral omdat die Vryheidsoorloë (Boereoorlog en Anglo-Boereoorlog) nie lank terug plaasgevind het nie.

‘n Gedenkteken in Jansenville in Suid-Afrika.

Die parlement moes stem oor of die land aan die oorlog moes deelneem en die stemme was oorweldigend daarvoor. Baie Afrikaners was nog bitter hartseer en kwaad oor die vorige oorloë en só het ’n rebellie uitgebreek en selfs ’n mislukte staatsgreep is beplan.

Dié oorlogsgedenkteken by The Point herdenk die Mosselbaaiers wat hul lewens in die twee wêreldoorloë verloor het.

Suid-Afrika het egter steeds oorlog verklaar en was aan die kant van die Geallieerdes. Dit was die eerste keer wat Suid-Afrikaners buite die grense van die Unie geveg het. Ongeveer 40 000 manskappe is ontplooi en ná gevegte het die Duitsers in Suidwes-Afrika in 1915 oorgegee. Dit was as ’n groot oorwinning vir die Unie van Suid-Afrika gesien en Louis Botha is veral in Europa geprys.

Die Mottuin van herinnering in Himeville, KwaZulu-Natal.

Ná die veldslae is troepe ook na ander oorlogsgebiede soos dieper in Afrika en na Europa gestuur om die Geallieerdes te help. 9

’n Gedenkteken, vir alle artilleriste wat vir hul land gesterf het, in die Kompanjiestuine in Kaapstad.

Woordbank

bondgenote ’n Groep mense wat mekaar bystaan.
burgers Mense wat lede van ’n stad of staat is.
cholera ’n Dodelike siekte wat deur bakterieë of deur besmette kos en water veroorsaak word.
disenterie ’n Ontsteking van die ingewande.
dinasties ’n Regerende vorstehuis of heerskappy.
imperialisme Die politieke beleid van ’n staat om ander gebiede onder sy mag en invloed te bring.
linie ’n Opstelling van troepe in rye as verdediging.
regering Die bestuur van ’n land.
revolusie Dis ’n situasie waarin mense van ’n land baklei om die bestaande regering met ’n regering van hul keuse te vervang.
tifus Die benaming vir verskillende besmetlike siektes wat met hoë koors, bewussynsverlies en delirium gepaardgaan en deur luise versprei word.
tsaar Die titel van ’n Slawiese vors, veral ’n Russiese keiser.

Lees dié artikels om meer te leer

Kyk dié video’s om meer te wete te kom

Feite oor die Eerste Wêreldoorlog

Nog interessante feite oor die oorlog

Wat het tydens die Russiese Revolusie gebeur?

Die Zeppelin-lugskepe gedurende Eerste Wêreldoorlog

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 21 Julie 2022 | Bygewerk op 4 Desember 2023