Vinnige feite

  • Botha se huis was toeganklik vir enigiemand met ʼn probleem, en hy het graag mense te woord gestaan. 1
  • Botha het binne ʼn maand gevorder van gewone soldaat tot generaal – iets wat ongehoord was vir daardie tyd. Dit wys hoe talentvol en begaafd hy was. 2
  • Botha se posisie as “waarnemende kommandant-generaal” was bloot omdat hy nie verkies kon word nie. 1
  • Ná die Vrede van Vereeniging het Botha vir sy burgers gesê: “Ons groot taak om ʼn Suid-Afrikaanse nasie te bou, begin môre.” 1
  • Botha se manifes in 1910 was as volg: gelykheid vir alle mense; gelyke regte vir alle rassegroepe; “nieblanke” groepe moes simpatiek en regverdig behandel word; immigrasie van Europa af moes aangemoedig word; bevorder onderwys; verbeter werkers se werksomstandighede; effektiewe regering; en uitbreiding van industrie en die ekonomie. 1
  • Daar staan standbeelde van Botha in Durban, Kaapstad en Pretoria. Die King Shaka-lughawe was vroeër die Louise Botha-lughawe genoem. 1
Foto: iStock

Louis Botha (1862-1919) was die éérste eerste minister van ‘n verenigde Suid-Afrika na die Uniewording van 1910. 1 Hy was ‘n Anglo-Boereoorlog generaal, en word deur baie mense beskou as die briljantste militêre aanvoerder wat Suid-Afrika al ooit opgelewer het. Terselfdertyd was hy ʼn staatsman en vredemaker, wat tot sy dood vir versoening en vriendskap tussen verskillende mense in Suid-Afrika geveg het.

Vroeë lewe

Botha se ouers, Louis Botha en Salomina Adriana van Rooyen, het aan die Groot Trek deelgeneem, en sy pa en oupa aan die Slag van Bloedrivier. Hy was die negende van 13 kinders. 2 Die familie het Natal in 1869 verlaat, en naby die huidige Vrede in die Noord-Vrystaat gaan woon. 1 Botha se enigste amptelike opvoeding was twee jaar op ʼn plaasskool. 2

In 1884 was Botha lid van die Boerekommando wat die Zoeloekoning gaan help veg het teen Zibhebhu, ʼn Zoeloehoofman wat deur Brittanje ondersteun is. In ruil vir hulle hulp het Dinizulu vir die Boere ʼn stuk grond gegee, waar hulle die Nuwe (Nieuwe) Republiek uitgeroep het. Botha het die erwe van die hoofstad, Vryheid, uitgemeet. 2 Hy het daarna op die plaas Waterval, net buite Vryheid, gaan woon en het gou ʼn suksesvolle boer en besigheidsman in die distrik geword. 1

Dinizulu

Vroeë betrokkenheid in die politiek

Botha is op jong ouderdom gekies as veldkornet van die Nuwe Republiek. Nadat die Nuwe Republiek by die Transvaalse Republiek ingelyf is, is hy in 1896 as een van Vryheid se twee volksraadslede verkies. Hy was op 34 die jongste kandidaat, maar hy het die meeste stemme gekry. 1

Hy was volksraadslid tot die uitbreek van die Anglo-Boereoorlog (ABO) in 1899, en het ʼn goeie indruk gelaat. Hy was byvoorbeeld nie bang om president Paul Kruger te kritiseer nie. Hy het ook pro-aktief probeer om die Uitlandervraagstuk op te los, deur aan uitlanders wat al lank in die land was, beperkte regte te gee. Toe dit duidelik geword het dat die Britte besig was om gereed te maak vir oorlog, het Botha hom sterk teen Britse betrokkenheid in Suid-Afrika uitgespreek. 1

Paul Kruger

Botha tydens die Anglo-Boereoorlog

Met die uitbreek van die ABO het Botha het by generaal Lukas Meyer se kommando aangesluit as ʼn gewone soldaat, sonder enige militêre rang. 3 Hy het ook basies geen militêre opleiding gehad nie. Hy het egter gou sy talent gewys, en toe Meyer siek geword het, is Botha deur die hoof van die weermag, kommandant-generaal Piet Joubert, as generaal aangewys. 2

Suid-Afrikaanse Generaals Botha en Smuts, Versailles, Julie 1919

Botha het onmiddellik as bevelvoerder sy taktiese briljantheid gewys. 1 Hy het een van die Boere se roemrykste oorwinnings behaal oor die Britse troepe van generaal Redvers Henry Buller by die Slag van Colenso. Hy was ook verantwoordelik vir Buller se vernietigende nederlaag by die Slag van Spioenkop, waarskynlik een van die grootste veldslae van die oorlog. 4

Spioenkop

Toe Piet Joubert dood is, het Botha op 27 Maart die waarnemende kommandant-generaal van die Transvaal geword. 4 Dit het alles binne vyf maande gebeur. Hy was 37 jaar oud, en op daardie stadium die jongste van al die Boeregeneraals. 1

Botha was vroeg in die oorlog van mening dat dit miskien beter sou wees om nie te veg nie, en het dit ook aan president Kruger voorgestel. 5 Hierdie houding het hom egter nie gekeer om dwarsdeur die oorlog dapper teen die Britte, wie se troepe altyd groter as Botha sʼn was, te veg nie. 1 Gedurende die guerrillafase van die oorlog het hy meestal in die Oos-Transvaal geopereer. 4 Botha se vermoë om die beste terrein vir ʼn botsing te kies, asook die beweeglikheid van sy kommando, het gemaak dat hy nooit deur die Britte gevang is nie. 5

Projek Gutenberg

Botha was aan die einde van die oorlog meer geneig om met die Britte te onderhandel as wat die meeste van die ander generaals was. 5 Hy was deel van die Boerekommissie wat in Pretoria met die Britse afgevaardigdes, Herbert Kitchener en Alfred Milner, oor vrede gaan onderhandel het. Hy het ook (saam met generaal Koos de la Rey) vir generaal Christiaan de Wet oortuig om die vredesvoorwaardes wat deur die Britte aangebied is, te aanvaar. 3 Botha het waarskynlik meer as enigiemand anders gedoen om die onwillige burgers, veral die Vrystaters, te oortuig om oor te gee. 1 Hy was ʼn lid van die afvaardiging wat in die Melrosehuis in Pretoria die Vrede van Vereeniging namens die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) onderteken het. 3

Horatio Herbert Kitchener

1902-1910

Ná die oorlog was Botha saam met De Wet en De la Rey die derde lid van ʼn Boeredeputasie wat Europa toe is om geld vir die Boere se heropboupoging in te samel. Hy het die Britte oortuig om meer geld te gee as wat hulle oorspronklik wou. 1

Milner het ná die oorlog soos ʼn despoot – iemand wat optree asof hy al die mag het – oor die hele Suider-Afrika regeer. Hy was openlik vyandig teenoor die Boere. Botha het gou besef dat dit nie sou help om met die Britte te probeer saamwerk nie. Hy en generaal Jan Smuts het ook geweier om op Milner se uitnodiging deel van sy regering te word. Hulle wou eerder hul eie politieke mag opbou, wat hulle gedoen het met die stigting van die Het Volk-party in 1904, ʼn politieke party onder Botha se leiding. 1

John X. Merriman tussen genl. Louis Botha (staande links) en generaal. Jan Smuts (staande regs), Nasionale Konvensie van Suid-Afrika (1909)

In 1905 het Milner na Brittanje teruggekeer. Die nuwe Britse leierskap het in 1906 aan die Transvaal en die Oranjerivierkolonie – soos wat die Oranje-Vrystaat ná die oorlog bekend gestaan het – selfregering toegestaan. Dit het beteken dat die inwoners weer beheer oor hul eie binnelandse sake gehad het. Botha en sy party het nou toegetree tot die politiek en die Transvaalse verkiesing in 1907 gewen. Botha was op 44-jarige ouderdom die premier van Transvaal. Hy het ook in Paul Kruger, wat in 1904 oorlede is, se skoene ingetree as die nuwe geestelike leier van die Boere. 1

Nasionale Konvensie: Die Unie van Suid-Afrika is op 31 Mei 1910 ingehuldig met Louis Botha as eerste minister

Jan Smuts was dwarsdeur Botha se politieke loopbaan sy regterhand en raadgewer. Smuts was ʼn intellektuele genie – hy was buitengewoon slim en begaafd – maar effe afsydig. Botha was die man van die mense – populêr en sjarmant. 1

Jan Smuts

Botha en Smuts se amptelike beleid is die “eenstroombeleid” genoem, en hulle slagspreuke was “vergewe en vergeet” en “konsiliasie” of versoening. 3 Hierdie vergewe, vergeet en versoening het verwys na die skeidings tussen die verskillende wit groepe in Suid-Afrika: Engelssprekendes en Afrikaners, hensoppers (Boere wat gedurende die ABO oorgegee het), en bittereinders (Boere wat tot aan die einde geveg het), en ook Suid-Afrikaners met die Britse Ryk. 6

Laasgenoemde doelwit het vir Botha heelwat kritiek op die hals gehaal. Baie Afrikaners, met die Anglo-Boereoorlog nog vars in hul geheue, was nog nie reg om te “vergewe en vergeet” nie. Hul ongelukkigheid is verhoog deur Smuts se onderwysbeleid wat Engels, maar nie Afrikaans nie, ʼn verpligte vak gemaak het. 1

Generaal Louis Botha in gesprek met die burgemeester van Windhoek by die oorhandiging van die stad in Mei 1915

As premier moes Botha fokus op die bestuur van die Transvaal se nasionale skuld – met ander woorde geld wat die Transvaal aan ander lande geskuld het – en die armblankevraagstuk. Die ekonomie het wel gegroei gedurende sy premierskap. Daar was egter probleme, soos arbeidsprobleme met die Indiërs, wat sy regering nie suksesvol kon oplos nie. 1

Louis Botha

Botha was in ʼn penarie. Hy moes die ekonomie laat groei en ook fokus op werkskepping, maar daarvoor het Transvaal geld nodig gehad, byvoorbeeld om nuwe besighede te begin, en die plek waar hulle kon geld kry, was by Britse beleggers. Die Britse beleggers was egter afgeskrik deur te veel Afrikanernasionalisme – die idee dat Afrikanerbelange eerste moes staan. 7

Botha moes dus versigtig te werk gaan om die belange van die Afrikaner te bevorder, terwyl hy ook versoening met die Britte aangemoedig het. Hierin het hy nie altyd geslaag nie. Ten spyte daarvan het Botha se prestige – sosiale status en invloed – vir eers gegroei.

Uniewording

Botha en Smuts was voorstanders van die unifikasie, of eenwording, van die vier selfregerende Britse kolonies in Suid-Afrika, te wete Transvaal, die Oranjerivierkolonie, die Kaapkolonie en Natal. 2 Smuts was die argitek – die hoofskepper – van die unie, en Botha het dit reggekry om die Transvalers te oortuig om uniewording te aanvaar. 1

Sir Herbert Gladstone, die eerste goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika, of die Britse koning se amptelike verteenwoordiger in Suid-Afrika, moes die politikus wat hy gedink het die meeste steun het, vra om die eerste minister te wees en ʼn kabinet te vorm. Sy keuse was Botha. 5 Botha het in lyn met sy versoeningsbeleid ʼn kabinet saamgestel met mense uit al die politieke partye en provinsies, nie net uit sy eie Het Volk-party nie. Botha was in hierdie stadium terselfdertyd die eerste minister en minister van landbou. 1

Botha het maklik die eerste verkiesing ná Uniewording gewen. Het Volk en ander politieke partye het in 1911 saamgesmelt in die Suid-Afrikaanse Party (SAP) in. Dit was ʼn koalisie van Afrikaans- en Engelssprekende leiers onder Botha, maar is beheer deur die Afrikaners van die Het Volk-party. Botha het gedink hy sou Afrikanerbelange en ook goeie verhoudinge met Brittanje deur die SAP kon uitbou, asook terselfdertyd versoening tussen Afrikaners en Engelstaliges in Suid-Afrika kon bevorder. 1

Botha as eerste minister, 1910-1919

Botha se era as eerste minister is deur konflik gekenmerk. Daar was baie uitdagende kwessies, soos konflik met generaal J.B.M. Hertzog en die Afrikanernasionaliste, Suid-Afrika se rassebeleid, arbeidsprobleme en die 1914-rebellie.

Botha vs. J.B.M. Hertzog en die Afrikanernasionaliste

Die leier van die grootste politieke party in die Vrystaat, die Orangia Unie, was generaal J.B.M. Hertzog, soos Botha ʼn Anglo-Boereoorloggeneraal. Botha het vir Hertzog in sy kabinet aangestel, maar hulle het van meet af vasgesit. 1 Die belangrikste twispunt was die aard van samewerking tussen Suid-Afrika en Brittanje. 7

Hertzog was ʼn Afrikanernasionalis. Hy en sy ondersteuners was ontevrede oor Botha se versoeningsbeleid, asook die noue verhouding met Brittanje wat Botha voorgestaan het. Die nasionaliste het nie gehou van woorde soos “versoening” nie. 1

Louis Botha se gesin

Hertzog was baie uitgesproke hieroor, en dit het die Engelssprekendes in Botha se kabinet ontstel. Hertzog het dit vir Botha moeilik gemaak om sy eenstroombeleid te implementeer. Botha het dus ʼn nuwe kabinet aangestel en vir Hertzog (en ook radikale Engelssprekendes) daaruit gelaat. 1

Dit het egter nie die probleem opgelos nie. Die konflik tussen Hertzog en Botha het al wyer uitgekring, en uiteindelik die Afrikanergemeenskap verdeel. Hertzog en sy ondersteuners het in 1914 die Nasionale Party (NP) gestig. 1

Die NP en die SAP sou meeding vir Afrikanerlojaliteite tot in 1948, toe die NP die kritieke “apartheidverkiesing” gewen het.

Rassebeleid

Suid-Afrika se rassebeleid was nie vir Botha ʼn groot prioriteit nie. Hy was ten gunste van skeiding tussen rasse, soos waarop besluit is in die Unie se grondwet. 1 Die Wet op Naturellegrond van 1913 is tydens sy ampstydperk aangeneem. Dit het voorsiening gemaak vir segregasie – ʼn beleid om verskillende rassegroepe verskillend te behandel en te skei – met betrekking tot die aankoop, huur, besit en bewoning van grond. 5 Dié wet het Suid-Afrika in wit en swart dele verdeel. 1

Monument ter herdenking van die geboorte van genl. Louis Botha

In verband met die Indiërs is die Wet op Immigrasie van 1913 aangeneem, wat enige verdere immigrasie van Indiërs na Suid-Afrika verbied het. Dit het tot baie protes in die Indiërgemeenskap gelei. In 1914 het hy wel met M.K. Ghandi ʼn ooreenkoms bereik wat voorsiening gemaak het vir Indiërs wat terug wou gaan Indië toe. 1

Arbeidsprobleme

Die swak werksomstandighede op die myne, veral ná die ABO, het baie mynwerkers ontevrede gemaak. In 1913 het ʼn mynwerkerstaking – waar werkers weier om te werk sodat hulle vir beter werksvoorwaardes kon veg – in geweld geëindig toe die stakers met die polisie gebots het. Botha en Smuts se optrede teenoor die werkers is as genadeloos gesien, en hulle het baie steun verloor. Terselfdertyd het die Arbeidersparty, vir wie die mynwerkers gestem het, se steun vermeerder. 1

Die Eerste Wêreldoorlog

Toe die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het, moes Suid-Afrika, as ʼn Britse kolonie en volgens die Uniegrondwet, die oorlog aan Brittanje se kant betree. Brittanje het toe Suid-Afrika versoek om Duits-Suidwes-Afrika (vandag Namibië) in te val, wat op daardie stadium ʼn Duitse kolonie was. Die Suid-Afrikaanse parlement het oorweldigend gestem ten gunste van die aanval, 1 met 91 stemme teenoor 12. 5

Die eerste kabinet van die Unie van Suid-Afrika in 1910 onder leiding van Eerste Minister Louis Botha
Agter: J.B.M. Hertzog, Henry Burton, F.R. Moor, C. O’Grady Gubbins, Jan Smuts, H.C. Hull, F.S. Malan, David Graaff
Voor: J.W. Sauer, Louis Botha, Abraham Fischer

Daar was egter baie Afrikanerleiers vir wie hierdie besluit onaanvaarbaar was. 1 Die probleem was nie die bondgenootskap met Brittanje nie, maar die besluit om Duits-Suidwes-Afrika in te val. 7 Dit het tot die 1914-rebellie gelei.

Die 1914-rebellie

Groepe Afrikaners onder leiding van die eertydse Boeregeneraals Christiaan Frederik Beyers, Jan Kemp, Manie Maritz en Christiaan de Wet het in gewapende opstand gekom teen die regering se planne, en die opstand het in gevegte tussen die rebelle en regeringstroepe geëindig. Dit was vir Botha baie pynlik om teen sy eie landgenote en medebittereinders te veg. 1

Christiaan Frederik Beyers
Jopie Fourie

Die Rebellie was ʼn mislukking, maar dit het Botha se beeld onder die Afrikaners baie skade gedoen. Die Rebellieleiers is genadig deur Botha se regering behandel, veral in die lig van die feit dat die Rebellie ʼn poging was om die regering omver te werp en dus op hoogverraad neergekom het. Hulle is wel beboet en het tronkstraf ontvang. Boonop is een van die rebelle, Jopie Fourie, ter dood veroordeel. 1 Die teregstelling van Fourie was ʼn fout wat vir Botha baie steun gekos het. Dit het ook baie Afrikaners van die SAP vervreem, en die golf tussen die Afrikaners het verdiep. 5 In die 1915-verkiesing het die SAP steeds die meeste stemme verwerf, maar die NP was besig om in te haal. 1

Botha het self en op briljante wyse die Suid-Afrikaanse troepe tydens die inval in Suidwes-Afrika aangevoer, en die Duitsers met gemak verslaan. 1 Sy oorwinning oor die Duitsers is wyd in Europa gerapporteer. Sommige mense het selfs “Bothaland” as nuwe naam vir Suidwes-Afrika aanbeveel. 5

Botha se gesondheid het gedurende die oorlog begin ingee. Die oorlog, die Rebellie, konflik tussen pro-Engelse Suid-Afrikaners en die Nasionale Party, en onrus onder veral swart werkers in Johannesburg het alles hul tol begin eis. 1

Die vredesamesprekings by Versailles, 1919

Sewentien jaar nadat hulle as verslaandes die samesprekings bygewoon het wat op die Vrede van Vereeniging uitgeloop het, was Botha en Smuts as oorwinnaars lede van die Britse delegasie – die afvaardiging wat Britse belange moes bevorder – by die vredesamesprekings by Versailles. 5 Botha was glad nie tevrede met die inhoud van die Verdrag van Versailles wat met Duitsland gesluit is nie. Hy het gedink dis veels te streng. Botha het teen sy beterwete in, maar ter wille van eenheid met hul bondgenote, die verdrag namens Suid-Afrika onderteken. 3

Vir Suid-Afrika was daar twee positiewe uitvloeisels van Versailles: Die een was dat Duits-Suidwes-Afrika effektief ʼn Suid-Afrikaanse kolonie geword het, en die ander dat Suid-Afrika ook gelyke status as die ander Britse kolonies, soos Australië, gekry het. Botha is triomfantelik in Suid-Afrika terugverwelkom. 1

Eerste Suid-Afrikaanse kabinet

Botha se dood

Botha se gesondheid het hierna vinnig agteruitgegaan. In Augustus 1919 het hy ʼn verkoue gekry, waarskynlik die Spaanse Griep wat op daardie stadium amok gesaai het, en enkele dae later is hy ná ʼn hartaanval oorlede. Hy was 56 jaar oud. Hy is in die Rebekkastraatbegraafplaas in Pretoria begrawe, 1 en is deur Jan Smuts as eerste minister opgevolg. 5

Louis Botha-standbeeld

Persoonlike lewe

Botha is op 13 Desember 1886 met Annie Emmett, ʼn Engelssprekende vrou van Ierse afkoms, getroud. Hy was baie geheg aan haar en sy vyf kinders (drie seuns en twee dogters). 1

Mev. Annie Botha

Botha was ʼn aantreklike man in sy jonger jare. Hy was 1,83 m lank, bruingebrand, met donker hare en ʼn snor, helderblou oë en opvallende wenkbroue onder ʼn hoë voorkop. In sy latere jare het hy egter ʼn soettand ontwikkel, en teen sy dood was hy redelik geset. 1

Generaal Louis Botha, sittende tussen sy burgers

Hy het ʼn sukses gemaak van omtrent alles wat hy aangepak het: hy was ʼn puik atleet, ʼn baie suksesvolle boer, en sakeman. Hy was een van die beste militêre aanvoerders in Suid-Afrika se geskiedenis, en bekend as ʼn uitmuntende taktikus wat die beste uit sy manskappe kon haal. 1

Botha was lief vir gesels. Hy het ook graag gespeel, veral brug, wat hy by Kitchener geleer het, en ook later gholf. 1

Botha het ʼn aantreklike geaardheid gehad, en hy was van jongs af gewild. Hy was ʼn natuurlike, charismatiese leier, wat staatgemaak het op sy intuïsie en gesonde verstand. Hy kon mense oortuig en oorreed. Hy was wel bietjie liggevoelig, en somtyds het hy in neerslagtigheid verval, wat sy vermoë om te werk, ondermyn het. Hy was nietemin sjarmant en mensliewend. Hy was ʼn oortuigde Christen, en het geglo dat geregtigheid altyd met groothartigheid en menslikheid getemper moes word. 1

Generaals Lukas Meyer, Louis Botha en Daniel Erasmus op die Natalse front

Evaluering van Botha se openbare lewe

Dit was hierdie laaste karaktertrek van Botha wat uiteindelik in die pad gestaan het van sy groot droom. Hy wou die Afrikaanse en Engelse mense van Suid-Afrika verenig, maar daarvoor moes die Afrikaners die Britte se optrede in die Anglo-Boereoorlog vergewe, en dit kon baie nie doen nie. Hy wou eenheid en broederskap daarstel, maar hy het nie verstaan dat dit ʼn geleidelike proses was, wat nie sou kom deur politieke dwang nie. Hy het ook nie verstaan dat die jong Afrikanertaal en -kultuur sou sukkel om die baie meer magtige Engelse taal en kultuur te weerstaan nie. Sy visie het te veel toegewings van mense wie se wonde nog nie genees het nie, vereis. 1

Generaal Louis Botha saam met sy staf en sy seuntjie, Louis, te velde

Daar is geen twyfel dat hy ʼn groot bydrae gelewer het om Suid-Afrika binne die eerste dekade ná Uniewording in ʼn eenheidstaat te omvorm nie. 3 Suid-Afrika se goeie verhoudinge met Brittanje in die eerste paar dekades van die twintigste eeu, het Suid-Afrika se statuur in die wêreld verhoog, en Suid-Afrika het sy plek as ʼn volwaardige staat ingeneem.

Woordbank

argitek Die beplanner of skepper van iets.
delegasie Iemand wat deur ʼn groep gestuur is om hulle êrens te verteenwoordig.
despoot Heerser met absolute mag.
genie Iemand wat buitengewoon slim en begaafd is.
nasionalisme Die begeerte onder ʼn groep mense om hul eie belange te bevorder.
prestige Sosiale status en invloed.
segregasie Beleid waarvolgens rasse, klasse en/of etniese groepe geskei word.
staking Die weiering van werkers om met hul werk voort te gaan, veral om beter diensvoorwaardes te probeer verkry.
versoening Om ʼn vyandskap tot ʼn einde te bring. 8

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor Louis Botha

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Louis Botha

Generaal Louis Botha, eerste minister van die Unie van Suid-Afrika

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 27 Oktober 2022 | Bygewerk op 14 Mei 2024