Vinnige feite

  • J.B.M. Hertzog is vernoem na sy ouma aan vaderskant se broerskind, James Barry Munnik, wat sy peetpa was. James Barry Munnik is op sý beurt vernoem na die bekende arts, dr. James Barry, wat hom in die lewe gebring het deur middel van die eerste keisersnee-operasie in Suid-Afrika. 4
  • In sy jonger dae het hy as “H” bekendgestaan. 20
  • Toe Hertzog gehoor het van die Boere se oorwinning oor die Britte by die Slag van Majuba ná die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881), het hy trane van blydskap gestort. 2
  • Sy harde werk en finansiële opofferings het hom amper bankrot gemaak kort voor hy in 1924 eerste minister geword het. Hy was glad nie daarvan bewus nie, en vriende wat anoniem wou bly, het hom sonder sy medewete gered. 4
  • Hertzog was ’n stoere Christen, maar nooit ’n gereelde kerkbesoeker nie. 2
  • Hy was Suid-Afrika se langsdienende regeringshoof, van 1924-1939. 4
  • Hertzog was die eerste minister wat die eerste groep Voortrekkers (’n Suid-Afrikaanse jeugorganisasie wat in 1931 gestig is) ingelyf het. 6 Die Voortrekkerbeweging is vandag nog aktief. 21
Foto: iStock

Generaal James Barry Munnik Hertzog (1866-1942), regter, Boeregeneraal en staatsman, het sy lewe aan die Afrikanervolk gewy. 1 Daar is waarskynlik niemand wat ’n groter bydrae gelewer het tot die opheffing van die Afrikanervolk van oorwonne (verslane) volk ná die Anglo-Boereoorlog (1899-1902), tot die magtige kulturele en politieke groep wat Suid-Afrika se geskiedenis in die twintigste eeu oorheers het nie. 2

1929

Vroeë jare

J.B.M. (Barry) Hertzog is op 3 April 1866 naby Wellington in die Kaapkolonie gebore, die agtste kind van twaalf van Johannes Albertus Munnik Hertzog en sy vrou, Susanna Maria Jacoba Hamman. 2

Hertzog het op plase in Wellington en Malmesbury grootgeword. Toe hy ses jaar oud was, het die familie Kimberley toe getrek, 3 waar hy sy eerste skoolopvoeding ontvang het. Toe hy ’n tiener was, het sy familie weer getrek, dié keer na Jagersfontein in die Vrystaat. 4

Hertzog was van jongs af konserwatief, dit wil sê, hy het nie baie van verandering of nuwe idees gehou nie. Al het hy in die Kaap grootgeword, was hy ’n vurige Vrystater én ondersteuner van Paul Kruger, die president van die destydse Transvaal. 4

Hertzog het in 1889 sy BA-graad by die Victoria-Kollege (vandag die Universiteit Stellenbosch) ontvang. 3 Hierna het hy regte in Nederland gaan studeer en in 1892 sy doktorsgraad aan die Universiteit van Amsterdam verwerf. 2

In 1893 het hy in Pretoria as advokaat begin praktiseer. 4 In 1895 is hy as regter in die Bloemfonteinse hooggeregshof – die hoogste hof in die Vrystaat – aangewys. 5 Hy het met sy familie na Bloemfontein verhuis en die huis betrek waar hy die volgende 30 jaar sou bly. 4

As regstudent in Amsterdam, 1889

Hertzog word ’n generaal – Anglo-Boereoorlog, 1899-1902

In 1899 het die Anglo-Boereoorlog (ABO) tussen die twee Boererepublieke, Transvaal en Vrystaat, en Brittanje uitgebreek. Hertog het vinnig naam gemaak, oftewel bekend geword, en binne ’n jaar is hy deur generaal Christiaan de Wet, die Vrystaatse opperbevelvoerder, tot tweede in bevel van al die Vrystaatse magte in die oorlog aangewys. 3

Christiaan de Wet

Hertzog was geïnteresseerd in krygstrategie – maniere waarop mens te werk kan gaan om ’n oorlog te wen. 4 Hy was een van die eerste voorstanders van guerrillaoorlogvoering waarmee die Boere met soveel sukses die Britte laat les opsê het. 3

Hertzog was ’n uitstekende leier. Hy het ’n reputasie gehad vir strengheid en hy was vindingryk en dapper. 5 Hy het nooit moed verloor nie en was goed daarmee om burgers wat klaar oorgegee het, te inspireer om voort te veg. 4

By die vredesamesprekings aan die einde van die oorlog het Hertzog daarop aangedring dat die Boere se leiers nie vrede mag sluit sonder die volk se toestemming nie. Daarom het die Boere eers in hul kommando’s gestem voor die vredesvoorwaardes aanvaar is. 6

Hertzog wou nie die vredesooreenkoms onderteken nie, maar die ander leiers het hom oortuig. 5 Hy het op 31 Mei 1902 as lid van die Vrystaatse regering die Vrede van Vereeniging in die Melrosehuis onderteken. 6

Ondertekenaars van die Verdrag van Vereeniging
Melrosehuis, waar die vredesverdrag onderteken is

Die begin van Hertzog se politieke loopbaan

In 1903 het Hertzog in ’n Bloemfonteinse poskantoor opgemerk hoe swak Afrikaners behandel is omdat hulle nie in hul eie taal deur die Engelse werkers gehelp kon word nie. Hierdie gebeurtenis het hom laat besluit om sy lewe te wy aan die opheffing van die Afrikaners. 6

Hertzog het vier doelwitte gehad. Die eerste was om te veg teen Britse imperialisme (die droom van Brittanje om Suid-Afrika te regeer) [Lees hier oor imperialisme]; die tweede om te veg vir gelyke taalregte en moedertaalonderrig (in hierdie stadium nog vir Hollands – die Afrikaners se amptelike taal); die derde die heropbou van die verarmde Boerebevolking wat deur die oorlog verpletter was; en die laaste die verkryging van volledige selfbestuur – ’n regering waar die Vrystaters, en nie die Britte nie, aan die hoof van die regering was. 4

Orangia-Unie

Om hierdie doelwitte te bereik, het De Wet, Hertzog en Abraham Fischer in 1906 ’n politieke party, die Orangia-Unie, gestig. Toe die Britte in 1907 vir die Vrystaat selfbestuur gegee het, het die Orangia-Unie die verkiesing met ’n groot meerderheid gewen. Hertzog was die minister van onderwys en lid van die Volksraad (die liggaam wat wette gemaak het). 4

Abraham Fischer

Onderwys en die taalstryd

As minister van onderwys het Hertzog twee beginsels gehad: moedertaalonderrig en taalgelykheid. 7

Sy onderwyswet sou soos volg werk: tot en met standerd vier (vandag se graad ses) sou kinders skoolgaan in die taal wat die kind die beste kon verstaan en praat. Daarna sou hulle tot in matriek (graad 12) ses vakke gehad het: drie in Hollands en drie in Engels. 6 Daar was teenkanting van albei kante af: baie Hollandse onderwysers was nie tweetalig nie, 4 en die Engelssprekendes was ongelukkig met die gelykstelling van die twee tale. 6

In 1909 was Hertzog een van die stigterslede van De Zuid-Afrikaansche Akademie voor Taal, Letteren en Kunst (vandag die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns). Die doel was om ’n tuiste te skep vir die ontwikkeling van die Nederlandse en Afrikaanse taal, letterkunde, kuns en geskiedenis. 8

Hertzog het al hoe meer bekend geword as Afrikanernasionalis: hy wou Suid-Afrika bevry van die onderdrukking van die Britte, en hy was ook bereid om hard te veg vir die Afrikaners se taal, kultuur, godsdiens en tradisies. 6 Afrikaners oor die hele Suid-Afrika het hom as politieke en kultuurleier begin respekteer. 4

Sy teenstanders het na sy strewe as “Hertzogisme” verwys en hy is uitgeskel as anti-Brits en ’n rassehater (rasse in daardie tyd het bedoel Afrikaanssprekendes teen Engelssprekendes). 4

Op die voorblad van Time-tydskrif, 27 April 1925

Betrokkenheid by Uniewording

Hertzog was een van die afgevaardigdes van die Oranjerivierkolonie (vandag se Vrystaat) by die Nasionale Konvensie van 1908-1909, waar die kwessie van uniewording (samesmelting) van die vier Suid-Afrikaanse kolonies (Transvaal, Oranjerivierkolonie, Kaapkolonie en Natal) bespreek is. Hy het geglo dat unifikasie Afrikaners sou verenig. 9 Sy een doel is deur Uniewording bereik: Afrikaans en Engels is gelyk gemaak. 4

Die Nasionale Konvensie, 1908
Kaart van die kolonies van Suid-Afrika

Konflik met Botha en die eerste Unie-kabinet

Die Suid-Afrikaanse Party (SAP), waarvan die Orangia-Unie deel was, het in 1910 die eerste verkiesing gewen en generaal Louis Botha het die eerste minister geword. 1 Hy wou nie eintlik vir Hertzog as minister aanstel nie, omdat baie mense, veral Engelssprekendes, nie van hom gehou het nie. Omdat Hertzog egter baie gewild onder die Afrikaners was, het Botha nie eintlik ’n keuse gehad nie. Hertzog is dus aangestel as minister van justisie en Naturellesake (verouderde benaming vir ’n lid van enigeen van die inboorlingstamme van Afrika; swart mens). 4

Hertzog en Botha se idees het hemelsbreed verskil. Botha het die “eenstroombeleid” voorgestaan: Engelssprekendes en Afrikaners moes versoen en saam in een stroom loop, en die Afrikaners moes die Britte vergewe vir wat hulle in die oorlog aan die Afrikaners gedoen het. 10

Hertzog wou nie met die Britte versoen nie. Sy beleid was “Suid-Afrika Eerste” en is die “Tweestroombeleid” – Afrikaners en Engelssprekendes moes langs mekaar maar apart ontwikkel – genoem. 5

Hertzog was so uitgesproke oor sy idees dat Botha vir hom die keuse gegee om te bedank óf om sy idees te laat vaar. Toe Hertzog weier, het Botha vir Hertzog uit die kabinet weggelaat. 4

Die eerste kabinet van die Unie van Suid-Afrika in 1910 onder leiding van eerste minister Louis Botha

’n Nasionale Party word gestig

Hertzog het in 1913 die SAP verlaat en in Januarie 1914 is die Nasionale Party (NP) in Bloemfontein gestig. Hertzog is as leier verkies. 9

Die NP se beleid was “Suid-Afrika Eerste” – gelyke samewerking tussen Afrikaners en Engelssprekendes, 7 en die moontlikheid van afskeiding van die Britse Ryk. Hul ondersteuners was natuurlik meestal Afrikaners. 11

Die groei van die NP

Die NP se steun het vinnig gegroei. In 1914 het die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) in Europa uitgebreek. Botha se besluit om aan Brittanje se kant tot die oorlog toe te tree en Suidwes-Afrika (vandag se Namibië) aan te val, het gelei tot die Rebellie van 1914, wat ’n gewapende opstand teen die regering was. 4

Hertzog het die rebelle openlik gesteun, al het hy hulle gebruik van geweld afgekeur. 9 Bitterheid teenoor die regering het steun vir die NP laat groei. 4

In 1919 was Hertzog lid van ’n onsuksesvolle afvaardiging wat by die vredesamesprekings ná die oorlog gaan pleit het vir Suid-Afrika se onafhanklikheid. 4 In dieselfde jaar sterf Botha en generaal Jan Smuts volg hom as eerste minister op. 4

Teen die tyd van die verkiesing van 1921 het die NP soveel gegroei dat hulle die grootste party was. Daarna het hulle ’n koalisie gevorm met die Arbeidersparty, ’n party vir Engelstalige werkers. Beide het belowe om te veg vir die beskerming van wit werkers se regte. Hierdie samewerking het as die Pakt-ooreenkoms bekendgestaan. 12

Jan Smuts

Hertzog aan bewind, 1924-1939

Die Pakt-koalisie het in 1924 die verkiesing gewen en Hertzog het die eerste minister van Suid-Afrika geword. Hy was vir 15 jaar lank die eerste minister oor drie verskillende regerings tussen 1924 en 1939. 13

Die eerste regering, tussen 1924 en 1929, was die Pakt-regering. In 1929 het die NP ’n volslae meerderheid in die verkiesing gewen, en kon dus sonder die hulp van ’n ander party regeer. 4

Vroeg in die 1930’s het die Groot Depressie die regering verswak. 11 Hertzog en Smuts het die Verenigde Suid-Afrikaanse Nasionale Party (VP) in 1934 gestig, met Hertzog as leier en Smuts as onderleier. Hierdie party is soms die Smelters-party genoem (omdat Hertzog en Smuts saamgesmelt het). 14

Die totstandkoming van die VP was ’n triomf vir Hertzog. Nie almal was egter gelukkig oor die samesmelting nie. Dr. D.F. Malan en sy volgelinge het afgestig en die Gesuiwerde Nasionale Party (GNP) gevorm. 12

Hertzog en Smuts het oor meeste kwessies saamgestem. Die een ding waaroor hulle egter verskil het, was Suid-Afrika se reg om neutraal te bly (nie kant te kies nie) indien Brittanje weer oorlog sou verklaar. Dit sou hulle later weer ʼn keer laat skeur. 4

Hertzog-kabinet, 1933

Kwessies in Hertzog se bewindsjare

In Hertzog se regeringstyd was daar vyf vername kwessies: die posisie van Afrikaans, ’n nuwe vlag vir Suid-Afrika, die ekonomie, Suid-Afrika se verhouding met Brittanje, en die rassebeleid.

Afrikaans

Toe Afrikaans op 27 Mei 1925 as amptelike taal van Suid-Afrika erken is, het Hertzog een van sy groot ideale bereik. Die regering het geld beskikbaar gemaak vir die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Die Bybelvertaling in Afrikaans in 1933 was ook ’n belangrike mylpaal in die ontwikkeling van Afrikaans. 15

1933 Hertzog ontvang kopie van eerste Bybel in Afrikaans, Pretoria

’n Nuwe vlag vir Suid-Afrika

Tot in die 1920s was die Britse vlag, die Union Jack, Suid-Afrika se amptelike vlag. Hertzog wou ’n nuwe vlag hê, maar baie Suid-Afrikaners het baie sterk oor die kwessie van ’n nuwe vlag gevoel.

Op die ou end was daar so baie tweestryd dat ’n skikking bereik is. Suid-Afrika sou twee vlae hê: ’n nuwe vlag, die Oranje-Blanje-Blou, én die Union Jack. Daar is besluit dat die Prinsevlag (Oranje-Blanje-Blou) as basis sal dien vir ’n nuwe Unievlag, maar dat die vlae van die twee Boererepublieke én die Union Jack op die wit vlak aangebring moes word. (Die Nederlandse Prinsevlag is deur Prins Willem van Oranje gebruik in sy stryd teen die Katolieke Kerk). 16

Die nuwe landsvlag is op 31 Mei 1928 vir die eerste keer gehys. 15

Die ekonomie

Onder Hertzog het die regering belê in Suid-Afrika se industrialisasie (skepping en uitbreiding van nywerhede). Yskor (Suid-Afrikaanse Yster- en Staalkorporasie) is in 1928 onder leiding van die briljante dr. H.J. van der Bijl gestig, die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens (vandag se Transnet) opgerig, en verskeie damme is gebou. 4

H.J. van der Bijl

In die vroeë 1930’s was Suid-Afrika in die greep van die wêreldwye Groot Depressie. Suid-Afrikaners het ekonomies swaar gekry, en Hertzog se hantering van die depressie het baie kritiek uitgelok. Die Depressie was die hoofrede vir die samesmelting met Smuts in 1934. 17

Buitelandse beleid en Suid-Afrika se verhouding met Brittanje

In 1927 het Hertzog se regering die Unieburgerskapwet aanvaar. Hiervolgens was Suid-Afrikaners vir die eerste keer Suid-Afrikaanse burgers. 15

Suid-Afrika se posisie met betrekking to Brittanje was ’n belangrike kwessie vir Hertzog. Suid-Afrika, soos ander Britse kolonies soos Kanada en Australië, was ’n dominium. Dit het beteken dat hulle dieselfde regte gehad het as Brittanje. Dit was egter nêrens behoorlik aangeteken nie.

Hertzog wou seker maak dat Suid-Afrika op geen manier meer aan Brittanje onderdanig sou wees nie. 17

In 1926 het Hertzog (saam met die Kanadese eerste minister) dit reggekry dat die Balfour-verklaring aanvaar is. Hierdie dokument het gesê: “Die dominiums is outonome (onafhanklike) gemeenskappe in die Britse Ryk. Hulle is gelyk in status, in geen opsig ondergeskik aan mekaar in enige aspek van hul binnelandse of buitelandse beleid nie, maar verenig in ’n gemeenskaplike lojaliteit aan die Kroon … ” 15

Imperiale Konferensie, 1926

In 1931 is die Statuut van Westminster deur die Britse parlement en die Statuswetgewing (deur die Suid-Afrikaanse parlement) aanvaar. 11 Suid-Afrika het steeds die Britse Kroon erken, maar was in alle ander opsigte ’n onafhanklike staat, ten volle gelyk aan Brittanje. 15

Hierdie was ’n reuseoorwinning vir Hertzog se diplomasie. Vir hom was die Afrikaner se eeue oue stryd teen Britse oorheersing nou op ’n einde. 8

Meeste Afrikaners was tevrede. Maar dr. Malan en die “Gesuiwerdes” wou totale onafhanklikheid gehad het, met geen skakels met Brittanje nie. 1

Rassebeleid

Bruin mense

Hertzog was op maatskaplike vlak teen integrasie van wit en bruin mense. Hy het gesê: “Die plek van die opgevoede kleurling (soos hy na bruin mense verwys het) is onder sy eie mense. Hy moet sy eie mense dien.” 7 Hy het egter geglo dat wit en bruin mense dieselfde politieke regte moes hê, en tot in 1929 het hy bruin mense in die Kaap wat stemreg gehad het, se stem probeer wen. 15

In 1930 is stemreg aan wit vroue toegeken, en daarna was die bruin stem so ’n klein deel van die totale stem dat dit nie meer nodig was om hul stem te probeer wen nie. Hertzog het dus ophou probeer, alhoewel hy vas gestaan het dat bruin mense se stemreg nie verminder moes word nie. 15

Swart mense

Hertzog het geglo daar is ’n diepgaande verskil tussen wit mense en swart mense. In 1922 het hy in ’n toespraak gesê: “Die swart mens kry sy eie gebied waar alle regte aan hom toegestaan sal word. Hy kan in ons land woon, maar hier kan hy op geen regte aanspraak maak nie. Die teenoorgestelde is ook waar.” 13

Sy oplossing was segregasie (die beleid waarvolgens rasse geskei word) en afsonderlike ontwikkeling. [Lees hier oor segregasie en apartheid.]

Hertzog het die omstrede Wet op Naturellengrond van 1913 opgestel. Hiervolgens is stukke grond, wat reservate genoem is, opsy gesit vir slegs swart mense se gebruik. Swart mense kon in hul reservate grond koop of verkoop, verhuur of bewoon. 9

Hertzog se idee agter dié wet was dat swart mense in reservate nie deur buitelanders uitgebuit moes word nie. Maar die wet was baie ongewild, want veels te min grond is aan swart mense afgestaan en boonop kon swart mense nie in wit gebiede grond besit nie. 1

In Maart 1925 het Hertzog sy Swart Manifes uitgereik waarin hy sy segregasiebeleid aangekondig het. Volgens die beleid sou integrasie tot die ondergang van beide wit en swart mense se kulture lei, en segregasie tot die behoud daarvan. 4

Ander wette wat in Hertzog se tyd aangeneem is, was:

  • Die Kleurslagboomwet van 1926, wat swart mense uit sekere werke uitgesluit het.
  • Die Naturelle-administrasiewet van 1927, wat swart regstelsels erken het.
  • Die Naturelletrust- en Grondwet van 1935, wat geld beskikbaar gemaak het om nog grond vir die reservate aan te koop.
  • Die Naturelleverteenwoordigingswet van 1936, wat die Verteenwoordigende Naturelleraad geskep het. Dit het uit swart leiers bestaan wat die regering moes raad gee oor sake wat swart mense geraak het. 4 Swart kiesers in die Kaap het hul stemreg verloor, maar kon wit verteenwoordigers kies om hulle in die regering te verteenwoordig. Die wet het ook die geld beskikbaar gemaak om nog grond vir die reservate aan te koop. Die reservate het nou 13,7% van die landsoppervlak beslaan. 15

Die besluite wat geneem is gedurende Hertzog se bewind, het Suid-Afrika in ’n wetlik gesegregeerde land in verander. 18

Gesuiwerdes en Smelters

Die VP het die verkiesing van 1938 maklik gewen, ten spyte van groot druk vanaf Malan en die Gesuiwerdes. 5 Hertzog het gereedgemaak vir sy vierde termyn as eerste minister.

In Europa in die 1930’s het oorlog gedreig. Hertzog was heftig teen Suid-Afrika se deelname aan die oorlog gekant. 14

Hertzog het Duitsland ondersteun – eerstens as buffer teen die kommunisme van die Sowjetunie (Rusland) en tweedens omdat hy gevoel het die Verdrag van Versailles, die vredesverdrag wat ná die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) gesluit is, was onregverdig teenoor Duitsland. 4 [Lees hier oor kommunisme.]

Toe die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) in September 1939 uitgebreek het, het Hertzog in die parlement voorgestel dat Suid-Afrika neutraal moes bly. 14 Smuts en sy ondersteuners was daarteen gekant. In die stemming is Hertzog se voorstel verwerp. Suid-Afrika het dus aan Brittanje se kant tot die oorlog toegetree. 4

Die samewerking tussen Smuts en Hertzog het in duie gestort. Hertzog het op 5 Oktober 1939 as eerste minister bedank. Smuts het die nuwe eerste minister geword en oorlog teen Duitsland verklaar. 4

Jan Smuts

Samewerking met Malan en uittrede

Hertzog het uit die VP bedank en die Volksparty gevorm. 1 Kort daarna het hy weer met Malan – wat ook teen die oorlog gekant was – saamgesmelt en hulle het die Herenigde Nasionale Party of Volksparty (HNP of V) gestig, met Hertzog as die leier. 4

Hierdie samewerking het nie lank gehou nie. Malan wou Suid-Afrika ’n republiek maak met Afrikaners in beheer en Engelssprekendes onderdanig aan hulle. Hertzog het nie hiermee saamgestem nie. Ná botsings tussen Malan en Hertzog het Hertzog hom aan die party onttrek.

Hertzog se volgelinge het die Afrikanerparty gestig. 19 Hertzog was egter gebroke en verbitterd en het hom aan die politiek onttrek. 2

Hertzog en D.F. Malan

Persoonlike lewe

Hertzog was as kind skaam en teruggetrokke, maar het sy pa se vegtersbloed geërf. 2

Hy het sy vrou, Wilhelmina Jacoba (Mynie) Neethling, in Stellenbosch ontmoet en hulle het ná die voltooiing van sy studies op 9 Oktober 1894 getrou. Sy was vriende met nóg ’n student, Issie Krige, wat met Jan Smuts getrou het. 1 Daar is drie seuns en ’n dogtertjie uit die huwelik gebore, maar die dogtertjie is vroeg oorlede. 2 Sy oudste seun, Johannes Albertus Munnik Hertzog, was later ’n kabinetslid. 4

J.B.M. Hertzog en sy vrou Wilhelmina

Hertzog was lief vir jag en het baie uitstappies na die buiteland onderneem. Hy het in filosofie belanggestel. Hy was algemeen bekend en gerespekteer, en baie mense het hom Regter genoem, wat ’n eretitel was. 4

Op 21 November 1942 sterf Hertzog op 76-jarige ouderdom, ná ’n operasie en siekbed in die Algemene Hospitaal in Pretoria. Hy is langs sy vrou, wat in April 1942 gesterf het, op sy plaas Waterval begrawe. 4

J.C. Smuts, Mev. Hertzog, Mev. Smuts en J.B.M. Hertzog

Die Hertzog-prys

In 1910 moes Hertzog aan iemand skadevergoeding betaal. Afrikaners, en veral Vrystaters, vanoor die hele land het geld bygedra sodat Hertzog sy boete kon betaal. Daar was op die ou end te veel geld en Hertzog het die surplus (dit wat oor was) aan De Zuid-Afrikaansche Akademie voor Taal, Letteren en Kunst geskenk.

Met hierdie geld is die Hertzog-prys in 1914 geskep. Dit is vandag die literêre prys in Afrikaans met die grootste prestige. Die eerste Hertzog-prys is in 1915 aan die skrywer Totius toegeken vir sy meesterwerk Trekkersweë. 6

In 1916 is die Hertzogprys (wat jaarliks om die beurt vir drama, poësie of prosa toegeken word) aan Totius toegeken vir sy digbundel Trekkerswee. Die eerste gedig daarin is getiteld “Silwer strale”. Die eerste strofe daarvan lui: “Dis heuwels, heuwels net / sover ’n mens se oog kan speur: / grasheuwels waar ook riwwe gaan, / met enkele stroompies tussendeur.”

Ten slotte

Hertzog het nie eer of posisie gesoek nie. Hy het ’n politikus uit pligsgevoel geword. 4

Hy was ’n vurige openbare spreker en blitsvinnig met tussenwerpsels. 4 Hy was egter soms onduidelik en dubbelsinnig (dit wat hy gesê het kon op verskillende manier verstaan word). 15

In persoonlike verhoudings met vyande was hy soms kleinlik. Maar hy was ook nederig, innemend en sjarmant. Hy het nepotisme (die begunstiging van familie en vriende) en agterbaksheid verpes.

Begrafnis van J.B.M Hertzog by Waterval. Op pad na begraafplaas

Sy grootste opponent, Jan Smuts, het getuig van sy eerlikheid, regskapenheid en onkreukbare (volkome eerlike, opregte en onomkoopbare) optrede.

Hertzog het die Afrikanervolk ’n gevoel van waarde gegee. In sy tyd is die hoeksteen gelê vir die Afrikaner se oorheersing van twintigste eeuse Suid-Afrikaanse geskiedenis. 4

Woordbank

dominium Onafhanklike gemeenskappe in die Britse Ryk.
dubbelsinnig Iets wat op twee maniere verstaan kan word.
guerrillaoorlogvoering Onkonvensionele manier van oorlogvoering wanneer klein groepies strooptogte op verbindingsweë soos treinspore uitvoer, of hinderlae op moeilik begaanbare terrein uitvoer.
imperialisme Wanneer ʼn staat ander gebiede onder sy mag of invloed wil neem.
industrialisasie Skepping en uitbreiding van nywerhede.
in duie gestort Misluk, of tot ’n einde kom.
integrasie Wanneer ‘n groep mense deel van ’n ander groep word en die twee groepe mekaar aanvaar.
koalisie ’n Ooreenkoms tussen twee partye (teen ’n derde een).
kommunisme ’n Politieke stelsel waarin die regering die produksie en vervaardiging van alle voedsel en goedere beheer en niemand sy/haar eie eiendom (mag) besit nie.
konsepgrondwet ’n Voorlopige voorstel vir die reëls wat bepaal hoe ’n staat geregeer word, hoe magte verdeel word en watter regte burgers oor beskik.
konserwatief Wat nie hou van verandering of nuwe idees nie, maar liewer dit wat bekend en gevestig is wil behou.
krygstrategie Die planne wat jy maak en die manier waarop jy te werk gaan om ’n oorlog te wen.
les opsê Swaarkry of sukkel.
naam gemaak Bekend raak.
nasionalis Die begeerte van ‘n groep mense (van dieselfde volk, met dieselfde taal, ens.) om hul eie, onafhanklike land te vorm.
Naturel(le) Verouderde benaming vir ’n lid van enigeen van die inboorlingstamme van Afrika; swart mens.
nepotisme Bevoordeling van familie en vriende.
neutraal Nie kant kies nie; onpartydig wees.
omstrede Waaroor mense sterk, uiteenlopende menings het en hewig verskil.
onderdanig Altyd gewillig om iemand te gehoorsaam, al behandel die persoon jou ook onvriendelik.
ondergang In ’n al hoe slegter toestand raak; tot niet gaan.
onkreukbare Volkome eerlik en opreg, iemand wat nie omgekoop kan word nie.
oorwonne Wat oorwin of verslaan is.
opperbevelvoerder Hoof van die weermag.
outonome Onafhanklik en selfstandig; selfregerend.
reputasie Wat mense van iemand of iets dink as gevolg van wat in die verlede gebeur het.
segregasie Politieke stelsel waarvolgens rasse, klasse, of etniese groepe geskei word en van aparte skole, vervoer, behuising en openbare geriewe gebruik moet maak. Segregasie was die voorloper van apartheid.
sjarmant Aangenaam en aantreklik of bekoorlik.
skadevergoeding Vergoeding in geld van skade wat gely is.
stoere Wanneer iemand vasberade of onwrikbaar is en vas in iets glo.
surplus Te veel, oortollig; dit wat oor is.
tussenwerpsels Woorde waarvan die funksie is om ’n gevoel of emosionele toestand uit te druk, of om spanning te ontlaai; uitroep.
uniewording Samevoeging in ’n unie.
vindingryk Slim of kreatief; die vermoë om dinge uit te vind en slim oplossings te bedink.
volslae Totale; heeltemal.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer oor J.B.M. Hertzog

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor J.B.M. Hertzog

Die rebellie van 1914
Generaal Hertzog word verwelkom met sy terugkoms (1927)

Die hysing van die Unievlag, 1928

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: AfriForum Uitgewers
Gepubliseer op: 22 Augustus 2023 | Bygewerk op 14 Mei 2024