Vinnige feite

  • Die Nuwe Republiek, wat deur die Boere in Zoeloeland gestig is, is amptelik deur Duitsland en Portugal erken. 6
  • Tydens Dinuzulu en sy ooms se gevangenisstraf op St. Helena is hulle toegelaat om ʼn klein groepie Zoeloes saam te neem, onder andere die vrouens van die twee ooms. Daar was ook ʼn inyanga (tradisionele geneser), Paul Mthimkulu, wat hulle vergesel het om vir hulle geestelike en fisiese gesondheid te sorg. 2
  • Op St. Helena is Dinuzulu en sy geselskap deur die destydse goewerneur van die eiland, R.A. Sterndale, ontvang. Almal was deftig geklee in manelpakke en pluiskeile, ook Dinuzulu en sy mense. (ʼn Manelpak se baadjie het ʼn lang agterpant en ʼn pluiskeil is ʼn hoë hoed met ʼn rand.) 2
  • Mankulumana kaSomaphunga was Dinuzulu se hoof induna (raadsman) wat oor die Usuthu regeer het terwyl Dinuzulu in die gevangenis op St. Helena was. 2
  • Toe die South African National Congress (SANNC) – nou slegs die African National Congress (ANC) – op 8 Januarie 1912 gestig is, is Dinuzulu in sy afwesigheid as lewenslange president aangestel vir sy stryd om die waardigheid van sy mense te behou, asook vir sy stryd om die behoud van die koninklike Zoeloefamilielyn. 2
  • Op 20 September 2008 is ʼn standbeeld van Dinuzulu in Dinuzuluweg in Durban onthul. 8
Foto: iStock

Soms word iemand gebore om ʼn sekere posisie in die lewe te beklee, en dan is daar allerhande dinge wat voor sy of haar geboorte gebeur wat die lewe vir die persoon baie moeilik maak al beklee hy of sy later ʼn belangrike posisie in die lewe. Vir Dinuzulu, wat later koning van die Zoeloes sou word, het dinge so gebeur.

Onstuimige grootwordjare

Dinuzulu is in 1868 gebore, en hy was deel van die Usuthustam. Die presiese dag waarop hy gebore is, is onbekend. 1

Dinuzulu se pa was Cetshwayo, koning van die Zoeloes, en sy ma was Nomvimbi. Cetshwayo was die laaste koning van ʼn Zoeloeland wat waarlik onafhanklik was en oor ʼn onafhanklike Zoeloevolk regeer het. 2 Sy ma was een van die umndlunkulu wat Cetshwayo by sy verskillende wonings laat woon het. 2 (Dit was vrouens waarmee die koning nie getroud was nie, hulle kan ook “byvrouens” genoem word.) Sy is gevange geneem en ontvoer en was nie een van Cetshwayo se vrouens nie, hoewel hulle later getroud is. Haar pa was nie ʼn koninklike nie – sy naam was Msweli, en hy het aan die Nzimelastam behoort. In sy latere lewe was daar steeds mense wat Dinuzulu as ʼn buite-egtelike kind beskou het. 2

Koning Cetshwayo kaMpande

Dinuzulu was net 15 jaar oud toe sy pa gesterf het. Dit was ʼn moeilike tyd vir die jong seun. Omdat hy so jonk was, het hy hulp gekry van sy ooms Ndabuko, Ziwedu, Shingana en Dabulamanzi. Omdat hy nog minderjarig was, het sy ooms Ndabuko en Mnyamana as sy voogde opgetree en die leiding van die Usuthu oorgeneem.

Dit was ʼn tyd vol probleme in die geskiedenis van die Zoeloes. Hulle was in opstand teen administratiewe reëls en wette van die Britte, en daar was ook interne verdeelheid en gevegte tussen verskillende Zoeloegroepe. Een van Dinuzulu se belangrikste teenstanders was Zibhebhu, ʼn vyand van sy pa en iemand wat koning wou word. 2

Dinuzulu

Dinuzulu se probleme duur voort

Die interne gevegte tussen verskillende Zoeloestamme was so erg dat van Dinuzulu se volgelinge as gevolg van onder andere Zibhebhu se optrede in hongersnood geleef het. Dit het die Usuthuleiers (Dinuzulu en sy raadgewers) gedwing om ʼn plan wat later vir hulle groot probleme sou veroorsaak, te maak. Mnyamana, een van die raadgewers, was veral bekommerd oor hierdie plan. 2

Dinuzulu het by ʼn aantal Boere hulp teen Zibhebhu gevra. Die Boere sou hom erken as koning van die Zoeloes, en in ruil daarvoor het hy ʼn groot stuk van sy grondgebied aan hulle gegee. Op 1 Mei 1884 het die Boere ʼn kroningsgeleentheid vir Dinuzulu gereël. Vir hierdie geleentheid het Dinuzulu blykbaar dieselfde soort perdryklere as die Boere en ʼn breërandhoed gedra. Die Boere het ʼn soort tydelike verhoog tussen twee ossewaens gebou, en daarop was ʼn houtkrat wat soos ʼn troon vir Dinuzulu moes wees. Tydens hierdie seremonie het die Boere beloof om aan hom militêre hulp te gee in ruil vir die grond wat hy vir hulle gee. 2

Op hierdie grond het die Boere in 1884 die Nieuwe (Nuwe) Republiek gestig met die dorp Vryheid as hoofstad en Lukas Meyer as president. Hierdie Nuwe Republiek is in 1888 by die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) as die distrik Vryheid ingelyf. 3

Ongeveer 100 van hierdie Boere het vir Dinuzulu, ingevolge hul ooreenkoms, gehelp om teen Zibhebhu te veg, en op 5 Junie 1884 verslaan hulle vir Zibhebhu sodat hy moes vlug. 1 Later sou Dinuzulu en sy mense egter besef dat hierdie ooreenkoms met die Boere nie alleenlik voordele ingehou het nie omdat nuwe blanke intrekkers in die gebied meer grond van die Zoeloes wou hê. 2

Dinuzulu se probleme het nie opgehou nadat Zibhebhu verdryf is nie omdat die Britte nie sy koningskap wou erken nie. Op 14 Mei 1887 word die hele Zoeloeland as ʼn Britse kolonie geannekseer (Brittanje het beheer oor Zoeloeland oorgeneem). Hiermee was Dinuzulu nie tevrede nie, en hy kom daarteen in opstand. Toe Britse soldate die opstand onderdruk, vlug Dinuzulu na Transvaal, waar hy vir drie maande lank rondvlug. Hy is in hierdie stadium net 20 jaar oud.

Uiteindelik gaan hy terug na Pietermaritzburg, waar hy homself op 15 November 1888 aan die Britte oorgee. Hy en twee van sy ooms, Ndabuko en Shingana, word al drie aan hoogverraad skuldig bevind omdat hulle teen die Britse regering in opstand gekom het. Hulle word tot onderskeidelik 10, 15 en 12 jaar gevangenisstraf gevonnis. Hulle is vir hul tronkstraf na St. Helena gestuur. 1 St. Helena is in die Suid-Atlantiese Oseaan, ongeveer 1 900 km wes van die grens tussen Angola en Namibië. 4 Dinuzulu en sy ooms keer in Januarie 1898 na Zoeloeland terug voordat hulle hul volle gevangenisstraf uitgedien het. 1

St Helena-gevangenis

Nuwe moeilikheid met die Britte

Ná sy terugkeer van St. Helena af word Dinuzulu as ʼn regeringsamptenaar in Eshowe, Zoeloeland, aangestel. Een van sy pligte was om aan Zoeloelandse amptenare raad te gee oor sake wat die Zoeloes geraak het. Hy word ook erken as kaptein van die Usuthu se woongebied. Hy kry ná ʼn kort rukkie toestemming om by sy eie mense in die Usuthuwoongebied, meer as 200 km van Eshowe af, te gaan woon.

Zoeloe-hutte

Toe hy weer by sy eie mense woon, het hy met meer as een vrou getrou en ook nog ʼn paar ander vrouens gehad waarmee hy nie getroud was nie. Hy het begin om sy invloed onder die Zoeloes uit te brei. Hy wou waarskynlik soveel invloed onder die Zoeloes bekom dat die Natalse regering hom as opperhoof van die Zoeloes erken. Hierdie planne van hom misluk egter heeltemal.

Aan die begin van 1906 word hy betrek by nog ʼn opstand van ʼn hoofman met die naam Bambatha teen nuwe belasting wat deur die Natalse regering ingestel is. Die Natalse regering wou hê dat Dinuzulu teen sy mense optree, maar hy het geweier. Dinuzulu word in hegtenis geneem, en in die hofsaak wat in 1908 gevolg het, is hy tot ʼn boete en vier jaar gevangenisstraf gevonnis. Baie mense het geglo dat Dinuzulu nie eintlik werklik by die opstand betrokke was nie. 5 Generaal Louis Botha, wat hom onder andere geken het, het ook so geglo. 1

Generaal Louis Botha

Dinuzulu is in 1910 vrygelaat, en hy het op die plaas Rietfontein in die distrik Middelburg in Oos-Transvaal (vandag Mpumalanga) gaan woon. Hier is hy op 18 Oktober 1913 oorlede. 1 Dinuzulu is deur sy seun Solomon opgevolg. Solomon se ma was Umkasilomo. 2

Dinuzulu se persoonlikheid en voorkoms

Al was daar soveel teenspoed en politieke vyande in sy lewe, het hy deur sy hele lewe vasberade probeer om sy koninklike status te behou en die Zoeloes weer as ʼn onafhanklike volk op te bou. Hy het ʼn vinnige humeur gehad, was dapper in gevegte, en hy was ook ʼn goeie perderuiter en skut.

Fisies was hy groot en eintlik oorgewig. Later in sy lewe het hy soveel gewig opgetel dat hy soms selfs moeilik beweeg het. 2

Woordbank

behoud Om iets in stand te hou soos dit is.
hongersnood Letterlik beteken dit ‘te veel honger’ – wanneer mense nie kos het om te eet nie.
hoogverraad Optrede waarvan die doel is om die regering van ʼn land omver te werp of vernietig.
ingelyf Om iets deel te maak van ʼn groep of land, byvoorbeeld Ná die oorlog is die gebied by die land van die oorwinnaars ingelyf.
interne Binne ʼn volk of groep – in hierdie geval binne die Zoeloevolk.
misluk Wanneer iets nie slaag of gebeur nie.
onderdruk Om ʼn groep of volk deur mag iets te laat doen of op ʼn sekere manier te laat optree.
opstand Wanneer ʼn groot groep mense ontvrede raak teenoor ʼn regering of ʼn ander gesagsliggaam en dit deur hulle optrede duidelik wys.
vasberade Iemand wat nie maklik van sy of haar standpunt afwyk nie; nie maklik van standpunt verander nie. 7

Kyk hierdie video’s om nog meer te leer oor Dinizulu

Kyk hier hoe Dinuzulu gelyk het.

Die stoel wat vir Dinuzulu gemaak is terwyl hy in die gevangenis op St. Helena was

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 14 November 2022 | Bygewerk op 18 Januarie 2024