Vinnige feite

  • Die woord “imperialisme” is afgelei van die Latynse begrip “imperium”, wat “absolute mag” beteken.
  • Amerika word nie as ’n imperiale mag beskou nie, maar daar word wel vergelykings tussen dié land en ander imperialiste getref. Amerika het deur die Spaans-Amerikaanse Oorlog ’n einde aan Spanje se koloniale mag in die Westelike Halfrond gemaak. Nadat Spanje aan Kuba onttrek het, het Amerika beheer van Guam en Puerto Rico oorgeneem. Die Filippyne het gevolg, maar Amerika het nooit die gebied gekoloniseer nie. 1
  • Die eerste Engelse kolonies was in Noord-Amerika, wat toe net as die “Nuwe Wêreld” bekendgestaan het. Die eerste permanente Engelse kolonie was by Jamestown in Virginia, Noord-Amerika.
  • Imperialisme was al die rede vir baie oorloë, soos die Eerste Wêreldoorlog. Hoekom? Wel, die Oostenryk-Hongaarse Ryk het Bosnië-Herzegowina geannekseer waar baie Serwiërs gebly het. Die buurland, Serwië, was nie gelukkig daarmee nie, want hulle wou alle Serwiërs bymekaar gehad het. ’n Bosniese Serwiër het op 28 Junie 1914 die keiser van Oostenryk se neef, die aartshertog Franz Ferdinand, en sy vrou, Sophie, doodgeskiet. Oostenryk-Hongarye het dadelik Serwië blameer en kort daarna oorlog verklaar. Elke land se bondgenote het hulle ondersteun en die gevolg was ’n lang en vernietigende oorlog. 9
  • Die Tweede Wêreldoorlog was ook die gevolg van lande wat net al meer wou gehad het. Die Duitse kanselier Adolf Hitler het byvoorbeeld gesê dat hulle Pole inval, want Pole was eens op ’n tyd deel van die Duitse grondgebied. 9
  • Die hoof van die Statebond is die Verenigde Koninkryk se monarg (’n koning of koningin). Ná koningin Elisabeth II se dood op 8 September 2022 vul haar seun koning Charles III sedert sy inhuldiging as troonopvolger op 6 Mei 2023 hierdie posisie. 7
Foto: iStock

Verbeel jou dat jy albasters by die skool speel. Een outjie het die mooiste en blinkste albasters, maar hy wil jou en die ander maats se albasters ook vat. Hy boelie al die kinders om hul albasters te vat en toe jy weer sien, het jy geen mooi albasters oor nie.

Dit is die grondslag van imperialisme. Dit is die politieke beleid van ’n staat om ander gebiede onder sy mag en invloed te bring. Dit is dus wanneer ’n land sy mag op ander lande afdwing om hul grondgebied onder sy beheer te neem. Ons het in Suid-Afrika ook imperialisme ervaar toe Brittanje gedeeltes in Suid-Afrika geannekseer het en oorlog daaroor gevoer het.

Kaapse parlement, ongeveer 1872

As jy al van kolonialisme gehoor het, sal jy dalk nou dink dat dit darem baie dieselfde as imperialisme klink. Die woordeboekdefinisie klink ook dieselfde! Kolonialisme is ’n ekonomiese, politieke en maatskaplike beleid waardeur ’n groot moondheid sy beheer oor ander landstreke en volke handhaaf of uitbrei. Die verskil is dat imperialisme wel sonder kolonisering kan gebeur.

Kolonisering vind plaas as die imperialiste hul burgers stuur om in die gebied te bly en dit te koloniseer. Soms vat lande ander lande se grond oor, maar stuur nie hul eie burgers om dit te beheer nie. 1

Daar heers baie debatte oor imperialisme, want party mense sê dit het net ’n negatiewe impak gehad, terwyl ander weer aanvoer dat dit wel voordele gehad het, soos om die lande wat hulle ingeneem het, te laat ontwikkel. Dis ’n komplekse onderwerp en een waaroor mense nie maklik gaan ooreenstem nie.

Die redes vir imperialisme

Hoekom sal ’n ander land nie tevrede wees met sy grond en ander lande uitlos nie? Daar is verskeie redes waarom imperialiste ander lande wil beheer. Dit is dikwels as gevolg van ekonomiese, kulturele of politieke motiewe (redes).

Imperialiste buit dikwels die land wat hulle inneem se hulpbronne vir hul eie gewin uit. Dit is soos Brittanje met sy ideologie van imperialisme wat graag Suid-Afrika se goud en diamante wou hê.

Imperialiste glo dat as ’n land welvaart wil verkry, moet ’n ander land welvaart verloor. Hulle glo hulle kan hul land/ryk met mag uitbrei.

Die tipiese doel van imperialisme is om soveel hulpbronne as moontlik te kry, dikwels deur uitbuiting en uitbreiding met mag. Die lande wat deur imperialiste ingeneem word, verloor hul minerale, kulturele en monetêre welvaart.

Die argumente vir imperialisme word grootliks in vier kategorieë verdeel:

  • Ekonomies: Daar word geargumenteer dat daar voordele is ten opsigte van die verkryging van goedere soos katoen, sy, tabak, goud en grond sowel as toegang tot handelsroetes.
  • Kultureel: Imperialiste glo hul volk is beter as ander en is daarom beter toegerus om beheer oor ander groepe uit te oefen
  • Polities of strategies: Die imperialis wil dalk soveel as moontlike gebiede inneem om homself sterker te maak en groter mag uit te oefen. Hy glo dit kan hulle in die toekoms teen vyande beskerm.
  • Moreel of godsdienstig: Die imperialis argumenteer dat mense teen die gevare van ’n onderdrukkende regering of godsdiens beskerm moet word en wil hulle daarom aan ’n ander een bekendstel. 1

Imperialisme in antieke tye

Imperialisme was nie vreemd in die antieke tye nie. Die Assiriese ryk was byvoorbeeld in die 6de tot 4de eeu v.C. deur die Persiërs oorgeneem en daarna het die Grieke weer oor die gebied koning gekraai. Alexander die Grote (356-323 v.C.) het groot suksesse vir die Grieke behaal. Hy het byvoorbeeld die oostelike Mediterreense streek met die westelike deel van Asië verenig.  Nog ’n groot imperialistiese ryk was die Romeinse Ryk wat hul ryk van Brittanje tot Egipte uitgebou het. 2

Standbeeld van Alexander die Grote, Griekeland

Imperialisme deur die eeue

Engeland, Frankryk, Nederland, Portugal en Spanje het tussen die 15de eeu en 18de eeu gebiede in Amerika, Indië en Oos-Indië ingeneem. Vir byna ‘n eeu daarna was daar relatief min imperialisme, danksy sterk teenkanting daarteen. In die dekades tussen die middel van die 19de eeu en die Eerste Wêreldoorlog (1914-1918) het dit egter weer opgevlam. Die destydse Volkebond (vandag die Verenigde Nasies) het imperialisme as ’n probleem uitgelig, maar Japan wou sy ryk uitbou en het in 1931 China aangeval.

’n Nuwe tydperk van imperialisme is in die jare dertig en veertig ingelei. Dit was die Tweede Wêreldoorlog waar Italië, Japan en Duitsland hul ryke wou uitbou. Die Sowjetunie was ook aan die begin deel van die plan, maar het later ook oorlog teen sy voormalige bondgenote verklaar. 2

Die goue eeu van imperialisme

Die Industriële Revolusie het ’n rol gespeel om imperialiste ’n hupstoot te gee. Dit het in die 19de eeu in Brittanje begin en daar was allerlei slim uitvindsels, soos stoomskepe en -lokomotiewe, wat vervoer en handel baie makliker gemaak het. Dit het dit ook makliker vir Europese nasies gemaak om met Afrikalande handel te dryf. Die ontwikkelings, ook in wapens, het dit ook vir hulle makliker gemaak om Afrikalande met mag te oorwin. 3

Europese lande het tussen 1870 en 1900 groot gebiede van Afrika en Asië ingeneem. Dit was so ’n groot grondgebied dat dit omtrent ’n vyfde van die wêreld se grondmassa beslaan het!

Duitsland, Oostenryk-Hongarye, Frankryk, Rusland en Groot-Brittanje het op imperialisme staatgemaak om hul ryke uit te bou en ryker te word.

Hierdie ryke was baie groot en magtig. Die Oostenryk-Hongaarse Ryk het byvoorbeeld lande in suidoostelike Europa wat aan Rusland grens, ingesluit. Duitsland se ryk het die voormalige Franse gebiede van Alsace en Lorraine ingesluit, asook Afrikalande soos vandag se Namibië. Die Russiese Ryk het die grootste gedeelte van oostelike Europa ingesluit, asook Serwië. Die Britse Ryk was in ’n stadium die grootste ryk ter wêreld, en het lande in Afrika, Asië en in Amerika ingeneem. Die Franse het weer die grootste gedeelte van Noord-Afrika sowel as Viëtnam beheer. 1

Die grootste imperialistiese mag

Die Britse Ryk was baie groot en het in ’n stadium Noord-Amerika, Australië, Nieu-Seeland, gedeeltes van Asië en Afrika en klein dele van Sentrale en Suid-Amerika ook ingesluit.

Die ryk was in die jaar 1922 die grootste ryk ter wêreld en het ongeveer ’n kwart van die aarde se grondoppervlak besit, en oor nagenoeg 458 miljoen mense regeer.

Die mag van die Britse Ryk het reeds in die 16de eeu begin toe Engeland besluit het om sy ryk deur ’n beleid van imperialisme uit te bou. Dit het groot veranderinge aan samelewings, kulture en die lewe van mense om die wêreld heen gebring.

Die 16de eeu staan as ’n ontdekkingsera bekend –  beter skepe is gebou en mense kon nuwe lande ontdek. Engeland wou meer grond oorsee kry sodat hulle daar nuwe gemeenskappe (kolonies) kon bou. Hierdie kolonies kon Engeland met waardevolle minerale en materiale, soos metale, suiker en tabak voorsien. 4

Hulle het Natal ook geannekseer, maar toe diamante en goud gevind is, wou hulle die ander provinsies ook gehad het. Transvaal het in die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) geseëvier, maar die volgende oorlog het nie so goed geëindig nie. Die Anglo-Boereoorlog (1899-1902) is tussen die Boererepublieke (Transvaal en die Oranje-Vrystaat) en Groot-Brittanje geveg. Brittanje het hierdie oorlog gewen en oor al die kolonies – die Kaapkolonie, Natal, die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Republiek van die Oranje-Vrystaat – geheers.

Oorspronklike kaart van die Transvaal of Suid-Afrikaanse Republiek insluitend die Goud- en Diamantveld

Agt jaar later is al die kolonies onder een vaandel byeengebring toe die Unie van Suid-Afrika op 31 Mei 1910 gevorm is. Die hoof van die staat was egter steeds die monarg, maar dit het ook verander toe Suid-Afrika op 31 Mei 1961 ’n republiek geword het. 5

Die Stormloop vir Afrika

Die Engelse noem dit die “Scramble for Africa” maar ons praat sommer van die Stormloop vir Afrika, want Europese lande het omtrent die hele Afrika onder hul beheer gebring en elke ryk wou sy grondgebied vergroot het.

Die Stormloop het reeds in die 1880’s begin en teen 1914 was daar net twee lande wat nie deur ’n Europese mag beheer is nie. Dit was Liberië en Ethiopië. 3

Europese ryke het spoorweë en ander infrastruktuur gebou om handel in Afrika oor te neem. Baie Afrikagroepe het geveg om hul grond te behou, maar die groepe soos die Ashanti, Fulani, Tuareg, Opobo, Nbele en Shona is deur Europese magte oorwin. Ethiopië het hard geveg teen ’n bewindsoorname deur Italië en het in 1896 die Italianers verslaan. Die Italianers het wel later die land oorgeneem, maar hul bewind het net ’n paar jaar geduur. 3

Die Stormloop vir Afrika het noodgedwonge tot konflik tussen Europese magte gelei, want elkeen wou die grootste sny van die koek hê. Daar was veral konflik tussen die Britte en Franse in Wes-Afrika, die Portugese en Britte in Oos-Afrika en die Franse en België in Sentraal-Afrika. Mededinging tussen Groot-Brittanje en Frankryk het daartoe gelei dat die Duitse kanselier Otto von Bismarck ingetree het.

Otto von Bismarck

In 1884 het Bismarck ’n vergadering van die Europese magte in Berlyn, Duitsland, byeengeroep. Die leiers van Groot-Brittanje, Frankryk, Duitsland, Portugal en België het toe ’n ooreenkoms oor Afrika gesluit en bepaal aan wie watter dele moes behoort. Geen Afrikaleiers is genooi nie en niemand van Afrika is gevra om kommentaar oor hul planne te lewer nie. Inteendeel, hulle het na kaarte van Afrika gekyk en besluit watter kolonies aan wie moes behoort. Die konferensie se impak was so groot dat Europese lande teen 1900 nagenoeg 90% van Afrika vir hulle gevat het. 6

Mettertyd het Europese lande wel beheer van die kolonies teruggee, maar die skade was gedoen en dit was moeilik vir die lande om stabiele ekonomieë te bou.

Die Statebond

Die Eerste Wêreldoorlog het in 1914 uitgebreek en die Verenigde Koninkryk het oorlog namens die hele ryk verklaar sonder om sy dominiums (grondgebiede onder beheer) te raadpleeg. Ná die einde van die oorlog het die dominiums wel die vredesverklaring onderteken. Hulle is ook as volle lede van die Volkebond aanvaar. Die Imperiale Konferensie van 1926 het Brittanje en die dominiums as “outonome gemeenskappe binne die Britse ryk” verklaar. Hulle was lede van die Britse Statebond van Nasies en daar is genoem dat nie een ondergeskik aan die ander was nie.

Ou vlag van die Statebond

Met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 het die lidlande hul eie oorlogsverklarings uitgereik. Net Ierland het neutraal gebly en Brittanje ondersteun. Brittanje kon egter nie al die grondgebiede beskerm nie en hul heerskappy in veral die Midde-Ooste en Asië het baie verswak.

Brittanje het in 1948 die gebied wat vandag as Israel bekend is, onafhanklik verklaar. Jordanië het in 1946 gevolg, Indië in 1947, Burma (nou Mianmar) en Ceylon (nou Sri Lanka) in 1948.

Jerusalem, Israel

In 1949 is Ierland van die Statebond geskei en het die Republiek van Ierland geword. Spoedig het al die kolonies onafhanklikheid verkry. Die laaste groot Britse kolonie Hongkong het in 1997 onafhanklikheid verkry. Hoewel die Britse ryk nie meer kolonies besit nie, bestaan die Statebond vandag steeds en beskerm hul lede se belange.

Vandag bly een derde van die wêreld se bevolking in lande wat Statebondlede is. Amper al die lede (meer as 50) was voorheen deel van die Britse Ryk. 7

Nuwe Imperialisme

Vanaf 1875 heers die tydperk van Nuwe Imperialisme. Europese lande het probeer om eerste te wees om die lande wat nog nie in Afrika, Asië en die Stille Oseaan-eilande beset is nie, oor te neem. Benjamin Disraeli, wat toe die eerste minister onder koningin Victoria was, was veral ’n groot naam in Nuwe Imperialisme. Hy het aandele in die Suezkanaal gekoop om te verseker dat daar beheer oor die handelsroete na Indië en Oos-Asië gehou word. Koningin Victoria het ook toe die titel as keiserin van Indië gekry. 8

Woordbank

geannekseer   Besitneming of inlywing, gewoonlik van ’n gebied of land.
belange Iets wat iemand raak.
burgers Mense wat lede van ’n stad of staat is.
dominiums Grondgebied onder beheer.
ideologie   Die idees en sienings wat die basies vorm van ’n politieke en ekonomiese bestel.
imperialisme  Die politieke beleid van ’n staat om ander gebiede onder sy mag en invloed te bring.
hupstoot te gee Om iets weer te laat vlamvat; aanmoediging.
kolonialisme  Die oorheersing van groot state oor ander, minder ontwikkelde lande, veral in vorige eeue.
kolonies ’n Land wat deur ’n ander land besit en oorheers word.
koning gekraai Wen; beheer oorneem.
monarg Koning of koningin wat regeer.
monetêre welvaart Finansieel sterk.
ooreenkoms Dit is as twee of meer mense ’n afspraak of belofte maak om iets te doen.
regering Die bestuur van ’n land.
verslaan In ’n oorlog oorwin. 10

Lees hierdie artikels om meer oor imperialisme te leer

Kyk hierdie video’s om meer oor imperialisme te leer

Wat is imperialisme?

Die begin van Europese imperialisme

Imperialisme vs. Kolonisering

Imperialisme in die 19de eeu

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 25 Mei 2023 | Bygewerk op 26 Februarie 2024