Vinnige feite

  • Victoria se eerste naam is nie Victoria nie, dis Alexandrina. Sy is genoem na haar peetpa, tsaar Alexander I van Rusland. Sy het verkies om haar tweede naam, Victoria, of haar bynaam, Drina, te gebruik. 14
  • Sy was die eerste Britse koninklike wat Buckingham-paleis as haar woning in Londen gebruik het. Sy het die paleis by haar oom William IV geërf, en die gebou laat vergroot en verbeter tot die paleis wat ons vandag ken. 14
  • Sy het verskeie sluipmoordaanvalle oorleef, onder andere deur ’n werklose Ierse immigrant, ’n oudsoldaat en ’n Skotse digter. Feitlik al die aanvallers is aangekla van hoogverraad, maar onskuldig bevind op grond van hul geestestoestand. Victoria het ná elke sluipmoordaanval gewilder geword. 14
  • Victoria het haar man, Albert, ontmoet toe hy die feesviering vir haar sewentiende verjaarsdag kom bywoon het. Toe sy twintig was, het sy hom gevra om te trou. 14
  • Sy het die tradisie begin dat bruide op hul troues wit rokke dra. Voor haar troue het bruide enige kleur rok gedra, wat ook al vir hulle mooi was. Maar Victoria het wit gekies as ’n simbool van haar onskuld, en het aan al die bruilofsgaste opdrag gegee om ander kleure as wit te dra. Sy het ’n rok met ’n sleep en ’n wit sluier gedra en het lemoenbloeisels in haar hare gehad. Dit is alles tot vandag toe nog tradisie by troues. 14
  • Nog ’n tradisie wat in haar huishouding ontstaan het, is die versiering van ’n Kersboom. Dit het begin by Albert wat in 1848 versierde bome by kinderhuise, skole en weermagbarakke laat aflewer het. Hulle het self ’n boom in Windsor-kasteel versier. Van daar af is dit ’n tradisie wat wêreldwyd voorkom. 14
  • Bokant die deur van die Frogmore-mausoleum waar sy en Albert begrawe is, het sy die woorde laat aanbring: “Vaarwel beste geliefde, hier sal ek uiteindelik saam met jou rus, en saam met jou sal ek in Christus opstaan.” 14
Foto: iStock

Koningin Victoria het vir amper 64 jaar oor die Britse Ryk regeer. Sy was die Britse koninklike wat die tweede langste op die troon was – haar agter-agterkleinkind Elizabeth II het vir ʼn rapsie langer as 70 jaar geregeer. 1

Fisiek was sy ’n klein vroutjie, maar sy het ’n enorme invloed gehad op die Britse monargie, die Britse Ryk en die sosiale waardes wat tydens haar heerskappy gevestig is – die tydperk waarna ons vandag verwys as die Victoriaanse Era. 1

Om te verstaan waar Victoria in die Britse monargie se geslagsregister inpas, kan jy hierdie artikel oor die Britse koningshuis gaan lees. Jy kan ook in hierdie artikel gaan lees hoe die monargie in Brittanje en ander monargieë in die wêreld saamgestel is.

Vroeë jare

Alexandrina Victoria is op 24 Mei 1819 in Kensington-paleis in Londen gebore. Sy was deel van die koninklike familie, want haar oupa was koning George III.

Sy was egter nie die troonopvolger se dogter nie – haar pa, Edward, was die koning se vierde seun. Dit beteken die drie ouer broers het voor Edward die reg gehad om koning te word. Toe George III dood is, het sy oudste seun, William IV, hom opgevolg, maar hy is dood sonder enige wettige erfgename wat die troon by hom kon oorneem. Die twee broers ná hom is ook oorlede sonder erfgename. 2

Edward is in 1820 dood toe die jong Victoria maar 1 jaar oud was. Haar ma, die hertogin van Kent, het uit ’n vooraanstaande Duitse familie gekom, en haar ma se broer, Leopold, het later die Belgiese koning geword. 3

Haar ma het ’n raadgewer gehad, ene sir John Conway, wat vir homself mag en invloed wou kry. Hy het geweet as hy sy invloed oor Victoria se ma kan behou, kan hy ook die jong meisie beïnvloed wat later die koningin sou word en sodoende ’n baie magtige man word.

Sir Conway en haar ma het haar weg gehou van haar pa se familie en haar geïsoleer van ander kinders van haar ouderdom sodat sy net op hulle sou staatmaak. Maar Victoria was van kleins af slim, en sy het verstaan wat haar ma en John Conway besig was om te doen. Dit het die verhouding tussen haar en haar ma baie moeilik gemaak. 3

Kroning

Toe George III se seun, koning William IV, in 1837 dood is, was Victoria 18. (Dis so oud soos wat kinders in matriek is.) Volgens Britse wetgewing was sy wel oud genoeg om die troon te bestyg. ’n Jaar later, op 28 Junie 1838, is sy tydens ’n baie plegtige seremonie vol ou tradisies en gebruike in die Westminster-abdy as koningin gekroon. Sy was toe maar pas 19. 1

Sy was dadelik ’n gewilde koningin. Omdat die Britte so min van haar geweet het, was hulle nuuskierig oor haar, en mense het graag oor haar gepraat. Sy het ook ’n baie sterk pligsbesef teenoor haar land en haar onderdane gehad. Sy het in haar dagboek geskryf:

“Ek sal my allerbeste doen om my plig teenoor my land na te kom. Ek is baie jonk en miskien … onervare, maar ek is seker min mense het meer … passie om te doen wat reg en goed is as ek.” 1

Die kroning van koningin Victoria het op Donderdag, 28 Junie 1838 plaasgevind

Huwelik met Albert

Twee jaar nadat sy koningin geword het, is sy getroud. Haar man was verlangs familie van haar. As jy ons artikel oor die Britse koningshuis gelees het, sal jy onthou dat Brittanje in ’n stadium ’n Duitse koning – die eerste George – gekry het. Victoria was sy nasaat in Engeland, maar die res van die familie het nog in Duitsland bly voortbestaan.

Koningin Victoria trou op 10 Februarie 1840 met haar man, Prins Albert, in die St James’s Palace-kapel

Een van die lede van daardie deel van die familie, was ’n jong prins met die naam van Albert von Saxe-Coburg und Gotha. In 1840 is sy met Albert getroud. 4

‘n Doop in Buckingham-paleis, 1841

Sy was aanvanklik baie rigied daaroor dat sy die koningin was en hy haar ondergeskikte. Maar dit het later duidelik geword dat sy ’n onderdanige rol in hul huwelik gespeel het en dat sy haar baie keer deur Albert laat lei het. Hierdie opvatting oor hoe ’n verhouding en ’n huwelik moet werk, het ’n sosiale norm geword wat in groot dele van die Britse Ryk posgevat het. 4

Koningin Victoria en prinses Beatrice, 1904
‘n Huis op Isle of Wight wat soms besoek is deur Prins Albert, koningin Victoria en hul kinders

Victoria en Albert het nege kinders gehad. Hierdie kinders is belangrik oor die huwelike wat hulle gesluit het, want daardeur is die meeste koningshuise van Europa onderling verbind.

So het dit gewerk:

  • Victoria (gebore 1840) is getroud met Friedrich III, die Duitse keiser. Hul oudste seun was later keiser Wilhelm II van Duitsland, die keiser wat ná die Eerste Wêreldoorlog moes abdikeer. Victoria en Friedrich se dogter Sophia is getroud met Constantine I, die koning van Griekeland. 5
  • Edward VII (1841) was Victoria en Albert se oudste seun en dus die troonopvolger. Hy is getroud met Alexandra, die dogter van die koning van Denemarke, Christian IX. Hul seun George V het ná Edward se dood koning geword. Hul dogter Maud is getroud met Haakon VII, die koning van Noorweë. 6
  • Alice (1843) is getroud met Ludwig IV, aartshertog van Hesse. Hul tweede jongste dogter, Alexandra, is getroud met tsaar Nicholas Romanof II. Sy, Nicholas en hul kinders is tydens die Russiese Revolusie vermoor. 5
  • Alfred (gebore 1844) is getroud met Maria, die jongste dogter van Alexander II, die voormalige Russiese tsaar. 7
  • Helena (1846) is getroud met Christian, ’n prins van Sleeswyk-Holstein. 7
  • Louise (1848) is getroud met John Campbell, die hertog van Argyll. Hulle het nie kinders gehad nie. 7
  • Arthur (1850) is getroud met Louise Margaret. Haar pa was ’n Pruisiese prins en ’n neef van Wilhelm I, die voormalige Duitse keiser. Hul dogter Margaret is met die Sweedse koning Gustaf VI Adolf getroud. 5
  • Leopold (1853) is getroud met Helen van Waldeck-Pyrmont. Haar suster was toe reeds getroud met Wilhelm III, die Nederlandse koning. 7
  • Beatrice (1857) is getroud met prins Henry von Battenberg. Die familie sou later hul van verander na Mountbatten. Hulle dogter Victoria Eugenie is getroud met koning Alfonso VIII van Spanje. 5
Koningin Victoria in swart met haar twee seuns en ‘n kleinseun.

Britse binnelandse sake tydens haar heerskappy

Toe Victoria koningin geword het, was Brittanje reeds ’n konstitusionele monargie. Dit beteken die land het ’n koningshuis met ’n monarg op die troon, maar die monarg neem nie besluite oor die regering nie. Die land word regeer deur verteenwoordigers wat in verkiesings deur die mense self gekies word en in ’n parlement byeenkom. In so ’n land behoort die monarg nie kant te kies tussen politieke partye nie. Almal het dus verwag dat Victoria se invloed op binnelandse sake baie klein sou wees. 3

Toe sy pas aan bewind gekom het, was haar belangrikste politieke raadgewer die eerste minister, lord Melbourne. Hy het haar beïnvloed om sy party se beleid oor sake te ondersteun en om nie aandag te gee aan die sosiale kwessies wat besig was om in die land te ontstaan nie, en dit het haar by baie Britte ongewild gemaak. 3

Saam met haar hofknapie, Arthur Ponsonby

Nadat sy en Albert getroud is, het Albert haar raadgewer geword. Albert was slim, belese en hardwerkend, en hy het ’n lewendige belangstelling in die wetenskap en kunste gehad. Dit was vir hom belangrik dat die wêreld moet weet hoe sterk Brittanje is. Hy het byvoorbeeld die Great Exhibition van 1851 gereël, ’n groot handelskou waar Brittanje se rykdom en prestasies vir die wêreld ten toon gestel is. Albert het mettertyd al hoe meer van haar pligte oorgeneem. Hy het ook hul persoonlike geldsake oorgeneem en met slim besluite hul rykdom laat groei. 3

Die Great Exibition

Albert het haar geleer om nie in te meng nie, maar om steeds haar invloed as monarg te laat geld. 8 Dit was anders as vorige konings wat dikwels hul wil op die parlement afgedwing het.

Koningin Victoria en prins Albert

Sy en Albert het byvoorbeeld die afskaffing van die kontroversiële graanwette (in Engels: Corn Laws) 9 voorgestaan. Dié wette het onder meer spesiale heffings op graanprodukte gevoeg en so die belange van grondeienaars – meestal adellikes – beskerm. Maar die heffings en belasting het kos vir gewone mense duur gemaak, en toe die aartappeloes in 1845 in Ierland misluk, het dit tot ’n verskriklike hongersnood gelei.

Victoria en veral Albert het die afskaffing van die graanwette openlik ondersteun. 3

Koningin Victoria en Prins Albert by Her Majesty’s Theatre, Londen

Britse buitelandse sake tydens haar heerskappy

Op dieselfde manier as wat die monarg in ’n konstitusionele monargie nie eintlik inmeng met binnelandse sake nie, meng hulle ook nie met buitelandse sake in nie. Tog het sy en Albert ook daarop ’n beduidende invloed gehad. Hulle was familie van baie adellike en koninklike families in Europa, en dit was dus vir hulle belangrik om goeie verhoudinge te hê met lande waar hulle familielede regeer het. Sy het soms, deur direk briewe aan haar familielede of aangetroude familielede te stuur, spanning tussen Europese moondhede opgelos. 8

Maar dit was veral later in haar lewe dat Victoria se invloed op Brittanje se buitelandse beleid sigbaar sou word.

Toe Victoria aan bewind gekom het, was Brittanje ’n belangrike handelsmoondheid, maar dit was die omvang van Brittanje se invloed. Gedurende haar tyd op die troon het Brittanje die wêreld se magtigste ryk geword. In daardie tyd het Brittanje se grondgebied met meer as 10 miljoen vierkante myl (sowat 16 miljoen vierkante kilometer) uitgebrei. En daarmee saam het sy het meer as 400 miljoen onderdane bygekry. 10 Veral ná die verkiesing van sir Benjamin Disraeli as Britse eerste minister in 1868, het Victoria se invloed as monarg gegroei, want hulle het dieselfde idees gehad oor die uitbreiding van Brittanje se invloed, veral in die Ooste. 3

In 1857 het ’n reeks opstande in Indië Brittanje se invloed in die land begin bedreig. In Junie 1858 is die opstande finaal onderdruk, die Oos-Indiese Kompanjie (’n handelsmaatskappy) is ontbind, en die Britse regering het die bestuur van die land oorgeneem. 11 Indië was van toe af ’n Britse kolonie. Hoewel Brittanje se gesag van die Indiese prinse formeel erken het en Victoria self nooit in Indië was nie, is sy op 1 Mei 1876 as keiserin van Indië gekroon. 12

Koningin Victoria en haar Indiese dienskneg, Sheikh Chidda

Teen die 1880’s was die stormloop vir grondgebied in Afrika behoorlik aan die gang. [Lees hier oor die stormloop vir Afrika.] Dit was die tydperk waarin Europese moondhede gebiede in Afrika gekoloniseer het. In 1884 en 1885 het die Europese moondhede in Berlyn byeengekom om te besluit wie watter gebiede in Afrika sou koloniseer sodat hulle nie met mekaar in konflik kom nie.

By hierdie konferensies het Brittanje die meeste invloed gehad en daarom die meeste gebiede gekry. Een van die gebiede waarop Brittanje beslag gelê het, was die streek wat in 1910 Suid-Afrika sou word. 13

Dit was natuurlik nie net vir vat nie. In Suid-Afrika het die twee Boererepublieke oorlog teen Brittanje verklaar. Die Boere het die eerste oorlog gewen, maar die tweede verloor. Teen Victoria se dood in 1901 was die hele gebied ’n Britse kolonie. 13

Victoria, die weduwee

Die enkele gebeurtenis wat Victoria die hardste getref het, was haar man se dood. Albert is in 1861 dood toe hy maar 42 jaar oud was. Victoria was verpletter en het die volgende 10 jaar van haar lewe in feitlik totale afsondering geleef. Sy het ook vir die res van haar lewe swart gedra – die kleur wat aandui dat ’n mens rou oor die dood van ’n geliefde. 1

Terwyl sy haar so afgesonder het, het haar gewildheid onder die Britse publiek skerp gedaal. Maar sy het mettertyd weer begin deelneem aan die openbare lewe en haar pligte as monarg begin nakom. Veral die uitbreiding van die Britse Ryk het weer haar aansien in die oë van die Britte herstel. 1

Koningin Victoria in rou oor haar man Prins Albert

Nalatenskap

Haar belangrikste nalatenskap is ongetwyfeld die opkoms van die Britse Ryk wat gedurende haar heerskappy plaasgevind het. Teen haar dood het dit Indië, Australië, Kanada, Nieu-Seeland en ’n groot deel van Afrika ingesluit, en omtrent ’n vyfde van die aarde se oppervlakte beslaan en ’n kwart van die wêreld se bevolking was haar onderdane! 1

Haar regeringstydperk is ook gekenmerk deur groot sosiale, wetenskaplike en tegnologiese ontwikkeling.

Voorste fasade van Buckingham-paleis, met die Victoria-gedenkteken

Die volgende is van die belangrikste gebeure in haar tyd: 11

  • Slawerny is afgeskaf (1838).
  • Die SS Great Western seil in sy nooiensvaart oor die Atlantiese Oseaan (1838). Die stoomskip het die vaart van Bristol na New York in minder as 15 dae afgelê, wat die reistyd tussen die twee lande beduidend verkort het.
  • Die Londen-Birmingham-spoorlyn open (1838). Dit was ’n enorme ingenieursprestasie in daardie tyd. Dit was die eerste spoorlyn wat Londen met die industriële stede van Birmingham en Manchester verbind het, en was die begin van die opkoms van spoorvervoer.
  • Die “Penny Post” word bekendgestel (1840). Voor hierdie stelsel ontwikkel is, was dit baie duur om te kommunikeer. Die ontvangers van briewe moes daarvoor betaal, en dit was dikwels onbekostigbaar – selfs soveel as ’n hele dag se inkomste. Met hierdie stelsel, waar die sender van die brief ’n pennie kon betaal en die brief enige plek in die Verenigde Koninkryk heen kon stuur, het kommunikasie vir gewone mense toeganklik geraak.
  • Die Wet op Openbare Gesondheid word deurgevoer (1848). ’n Wêreldwye uitbreking van cholera waarin duisende mense dood is, het daartoe gelei dat die bestuur van water en sanitasie onder ’n sentrale beheerliggaam geplaas is.
  • ’n Manier om staal op groot skaal goedkoop te produseer, word ontwikkel (1856). Voor hierdie ontwikkeling was die produksie van staal so duur dat net klein produkte daarvan gemaak kon word. Met die Bessemer-omskakeling kon Brittanje nou groot goed soos brûe en treine ook van staal vervaardig.
  • Die eerste lyn van die Londense moltreinstelsel, die Metropolitan, word oopgestel (1863).
  • Die Suezkanaal open (1869). Die kanaal is eintlik deur die Franse ontwikkel, maar omdat dit handel met die Ooste soveel makliker en vinniger gemaak het, het Brittanje ’n aandeel in die beheer oor die kanaal gekry.
  • Alexander Graham Bell patenteer die telefoon (1876).
  • Skoolopleiding word verpligtend vir kinders (1880). Die feit dat kinders verplig is om skool by te woon, het dit onmoontlik gemaak om hulle in fabrieke te laat werk. Dit het kinderarbeid feitlik uitgeroei.
  • Die beweging om vir vroue stemreg te verkry, begin (1889).

Victoria het ook ’n beduidende rol gespeel in sosiale gebruike van haar tyd, en het baie daartoe bygedra dat die Britse monargie weer by Britte populêr geword het. 1

Victoria is oorlede op 22 Januarie 1901 toe sy 81 jaar oud was. Sy is langs Albert begrawe in die Frogmore-mausoleum naby Windsor. 1

Koningin Victoria-standbeeld ontwerp deur Thomas Brock in 1901, buite die stadsaal, Birmingham, Engeland

Woordbank

abdikeer Van die troon afstand doen.
abdy ’n Gebou of kompleks geboue waar monnike of nonne woon; baie abdye sluit kerke in.
belese Die eienskap van iemand wat baie lees en dus ingelig is.
troon te bestyg ’n Figuurlike uitdrukking wat beteken “die monarg word”.
geslagsregister Die volgorde waarin mense in ’n bepaalde familie gebore word, trou en doodgaan; ook “stamboom”.
handelsmoondheid ’n Land wat handel oorheers.
heerskappy Tydperk waartydens iemand heers.
hoogverraad Verraad teen ’n mens se eie staat.
keiser Die heerser oor ‘n ryk; ‘n keiser is dus die hoof van ‘n baie groot gebied waarin daar verskeie koninkryke ook kan voorkom.
koning Die heerser oor ‘n koninkryk.
konstitusionele monargie ’n Land waar daar ’n monarg is, wie se magte deur ’n grondwet (konstitusie) beperk word. In so ’n land regeer die parlement wat deur die mense verkies word.
kontroversiële Die eienskap dat dit kontroversie (meningsverskil) veroorsaak.
mausoleum ’n Gebou wat ’n graftombe of graftombes bevat, gewoonlik indrukwekkend omdat belangrike mense daar begrawe is; praalgraf
nooiensvaart ’n Skip of boot se heel eerste vaart.
onderdane Iemand wat in ’n land bly waaroor ’n monarg heers.
onderdanige Die eienskap dat ’n persoon onder iemand anders se gesag staan; ’n houding wat ’n persoon onder iemand anders se gesag plaas.
ondergeskikte Iemand wat minder belangrik is as die ander persoon.
posgevat Begin.
sosiale norm Die standaard wat in ’n bepaalde samelewing vir ’n bepaalde saak gestel word.
sosiale waardes Die opvattings oor wat reg en verkeerd is wat in ’n bepaalde samelewing geld.
stormloop ’n Onbeheerste toestroming van diere of mense na ’n plek, gewoonlik om iets van waarde te gaan opraap.
tsaar Die titel van die Russiese keiser. Die woord is eintlik ‘n vervorming van die Latynse woord ceasar wat ‘keiser’ beteken.
verpletter Platgeslaan.
weermagbarakke Die gebou waarin weermagsoldate gehuisves word.

Verbreed jou kennis met hierdie artikels

Kyk ook hier

Alles wat jy moet weet oor koningin Victoria

Die moets en moenies uit die Victoriaanse era

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 15 September 2023 | Bygewerk op 22 April 2024