Vinnige feite

  • Die verhuising van mense uit die Kaapkolonie verder die binneland in, het eers in die laat 1900’s die benaming Groot Trek gekry.
  • Belangrike Voortrekkerleiers was, onder andere, Andries Pretorius, Andries Hendrik Potgieter, Piet Retief, Sarel Cilliers en Gerrit Maritz.
  • Die totale aantal mense wat getrek het, was ongeveer 23 000.
  • Die slag van Bloedrivier in 1838 was die grootste veldslag wat daar ooit in Suid-Afrika was.
  • Verskeie dorpe en stede is na Voortrekkerleiers vernoem – die stad Pretoria is byvoorbeeld na Andries Pretorius vernoem.
Foto: iStock

Wat was die Groot Trek?

Die Groot Trek was ’n georganiseerde verhuising toe duisende Afrikaanssprekende persone uit die Britse Kaapkolonie na die binneland getrek het.

Die belangrikste deel van die Groot Trek het in die 1830’s-40’s plaasgevind. 1

Doel van die Groot Trek

Toe die Voortrekkers die Kaapkolonie verlaat het, was hul doel om ’n onafhanklike volk te word en nie meer onder die Britse regering se gesag te leef nie. 2

Voorbereiding vir die Groot Trek

Die Voortrekkers het nie net skielik opgepak en getrek nie. Hulle het vooraf planne gemaak en hulself voorberei. Daar is drie groepe uitgestuur om na die regte woonplek te soek.

  • Een groep is na Natal.
  • ’n Tweede groep is na die Soutpansberg.
  • Die derde groep het tot in Damaraland, Namibië, gegaan.

Daar is min inligting bekend oor wat hierdie verskillende groepe uitgevind het, maar die inligting wat hulle teruggebring het, moes die Voortrekkers laat besluit het watter roetes om te volg. 3

Oorsake van die Groot Trek

Ekonomiese redes

Grondbesit

Afrikanergrensboere aan die Oosgrens van die Kaapkolonie kon eintlik net uit veeboerdery ’n bestaan maak. Groot plase was dus nodig om suksesvol met vee te boer. Die Oosgrensdistrikte was die distrikte van Graaff-Reinet, Uitenhage, Somerset-Oos, Tarkastad, Grahamstad, Cradock en Colesberg. Omdat die Groot-Visrivier as oostelike grens vasgestel is, kon die boere nie hul grond in daardie rigting uitbrei nie. Daar het dus ’n tekort aan landbougrond ontstaan.

Voorblad van De Natalier

Die Britse regering het besluit om ’n groot gebied aan die Oos- en Noordoosgrens, waar Afrikaners geboer het, aan Engelse boere te gee indien die Afrikaners nie instem tot nuwe wette nie. Dit het veroorsaak dat die boere die Britse regering nie meer vertrou het nie.

Uit hierdie streek het daar meer as 300 gesinne weggetrek. Hierdie Trekkers het Voortrekkerleiers soos Louis Tregardt (Trichardt), Johannes de Lange, Louis Nel en Piet Retief ingesluit. 1

Opmerking: Die Oosgrensdistrikte was die distrikte van Graaff-Reinet, Uitenhage, Somerset-Oos, Tarkastad, Grahamstad, Cradock en Colesberg. 3

Verliese deur Grensoorloë

Die Afrikaner-Oosgrensboere het baie verliese in die grensoorloë met die Xhosas gely – veral in die Sesde Oosgrensoorlog van 1835. Daar was te min soldate om die Oosgrens te beskerm en die regering het te min uitbetaal om die boere vir hul verliese te vergoed. 1

Sesde Grensoorlog

Diefstalle deur rondlopers

Bendes wat in die oostelike en noordoostelike grensdistrikte rondgeswerf het, het in die tien jaar voor die Groot Trek voortdurend vee en ander besittings op plase gesteel. 1

Arbeidswetgewing

Verandering in die wette wat die indiensneming van slawe geraak het, het die administrasie van die boere se werknemers moeilik gemaak. 1

Sosiale redes

Tot in 1827 was Afrikanerboere gewoond aan ’n sekere soort burgerlike instelling (soos ’n plaaslike regering) waarin hulle ook verteenwoordig is. Die landdros en heemrade het maandeliks bymekaargekom en die heemrade was vooraanstaande burgers van die distrik. Daar was ook ’n veldkornet vir elke distrik/wyk wat gekies is. Hierdie stelsel is afgeskaf en vervang deur ’n stelsel waar slegs een persoon deur die regering aangestel is – meestal ’n Engelssprekende persoon. 1

Goeie verslae oor die binneland en Ooskus

Boere, soos die latere Voortrekkerleier Piet Uys wat in Uitenhage geboer het en Hans Dons de Lange, het verkenningsbesoeke aan die binneland en aan Natal gebring. Hulle het goeie verslae gelewer oor die gunstige boerderymoontlikhede in die gebiede wat hulle besoek het. 1

Aantal trekkers

Tussen 1835 en 1845 het meer as 2 500 gesinne getrek. Die getal mense wat gedurende hierdie tyd getrek het, word op ongeveer 17 000 geskat. Aangesien elke gesin ook werknemers saamgeneem het, beteken dit dat die totale aantal mense ongeveer 23 000 kon wees. 1

Voortrekkerkinders

Opofferings van die Voortrekkers

 Die Voortrekkers se lewe tydens die trek was nie maklik nie. Voor die Trek het hulle reeds baie verloor en opgeoffer. Boere moes hul plase en besittings teen baie lae pryse verkoop. Baie min besittings kon saamgeneem word omdat daar nie veel plek op die waens was nie.

Tregardt verder teen Drakensberg af, 1837

Baie families is van mekaar geskei aangesien sommige familielede besluit het om te trek en sommiges besluit het om in die Kaapkolonie agter te bly.

Gedurende die Trek self, was dinge ook nie maklik nie. Hulle moes met ossewaens deur riviere en oor berge trek. Almal kon nie die heeltyd op die waens ry nie en die Trekkers – ook vroue en kinders – moes baie ver stap. Kos moes in die buitelug op oop vure gaargemaak word en in plaas van in huise, moes hulle in die watente of onder die waens op die grond slaap.

Tregardt-hulle trek oor die Noordelike Drakensberg
Wa se wiel word herstel by Soutpansberg

Later tydens die Trek was daar baie veldslae waar ook vroue en selfs kinders soms moes help veg. 2

Slag van Boomplaats
Slag van Zwartkopjes

Leiers van die Groot Trek

Louis Tregardt (Trichardt)

Louis Tregardt het in 1834 getrek en het eers langs die Indwerivier gaan bly saam met ander grensboergesinne, waaronder Johannes Hendrik de Lange (wat ook as Hans Dons de Lange bekendgestaan het). Hierdie groep het die Kaapkolonie in September 1835 finaal verlaat. Streng gesproke het hulle nie deel gevorm van die groot groep Voortrekkers nie. 1

Louis Trichardt
Dagboekinskrywing van Louis Trichardt

Hendrik Potgieter

Hendrik Potgieter was ’n persoon met baie invloed en het in die distrik Tarkastad naby die Noordoosgrens gewoon. Hy het teen die einde van 1835 of vroeg in 1836 begin trek. Uit hierdie distrik het baie mense getrek.

Tydens ’n vergadering wat vroeg in 1836 deur die aanwesige mans noord van die Oranjerivier gehou is, is Hendrik Potgieter tot kommandant verkies.

Potgieter was die leier van een van die grootste groepe Trekkers.

Hendrik Potgieter

Sarel Cilliers

Sarel Cilliers het uit die distrik Colesberg getrek. Sy Trekgroep het by Boesmansberg in Transoranje (vandag bekend as die Vrystaat) by die trek van Potgieter aangesluit. 1

Sarel Cilliers

Gerrit (Gert) Maritz

Gert Maritz het uit Graaff-Reinet weggetrek. Hy het sowel ’n goeie skoolopleiding as regskennis gehad en tydens die Trek soms as regter opgetree.

Maritz se kommando in Namakwaland

Piet Retief

Piet Retief het in Februarie 1837 uit die distrik Albany weggetrek. Hy het die redes vir sy besluit om te trek, op 2 Februarie 1837 in The Graham’s Town Journal gepubliseer. Van hierdie redes was die swak beskerming wat die boere op die Oosgrens van die regering gekry het asook finansiële verliese wat hulle gely het met, onder meer, die vrystelling van die slawe.

Retief se groep Trekkers het in April 1837 by die Vetrivier aangekom waar die meeste ander Trekkers reeds was.

Piet Retief
Retiefmoord

Piet Uys

Piet Uys het ook vroeg in April 1837 by die res van die Trekkers aangesluit nadat hy uit die distrik Uitenhage weggetrek het. 1

Piet Uys
Doop van babas in die Uys-laer

Onderhandeling met Dingaan

Piet Retief het in September 1837 besluit om na Natal te trek. ’n Groot deel van die Trekkers, waaronder Hendrik Potgieter, wou nie na Natal verhuis nie.

Retief het laer getrek aan die westekant van die Drakensberg en met ’n klein groepie mans na die Zoeloe-koning Dingaan (Dingane) vertrek om oor grond te onderhandel. Dingaan het ingestem om grond aan hulle te gee as hulle van sy vee wat gesteel is, aan hom terugbesorg.

Zoeloekoning Dingaan
Zoeloekrygers van Mpande

Retief en sy manskappe het die vee by die Tlokwa-stam gaan haal en teruggebring. Retief het daarna weer met ’n groot groep van sy mense vir ’n tweede besoek aan Dingaan vertrek. Die ooreenkoms is op 6 Februarie 1838 onderteken, maar ten spyte daarvan het Dingaan sy onderdane beveel om Retief en sy hele groep uit te moor. Dit was die Slag van Bloedrivier.

Pretorius onderhandel met Zoeloegesante by Port Natal
Dingaan en Retief, op ‘n paneel by die Voortrekkermonument

Hierna het Dingaan sy krygers gestuur om die ander laers te gaan aanval. Ongeveer 350 wit Trekkers het gesterf asook net soveel van hul bruin- en swart werknemers.

In ’n strafekspedisie wat teen die Zoeloe-rebel Silkaats uitgestuur is, het Piet Uys en sy seun Dirkie gesterf. 1

Dorpe en stede in Suid-Afrika wat na Voortrekkerleiers vernoem is

Pretoria: Vernoem na Andries Pretorius.

Potchefstroom: Andries Hendrik Potgieter was die stigter van die dorp wat eers Mooiriviersdorp of Vryburg genoem is. Die naam is later verander na Potchefstroom – ‘Pot’ vir Potgieter en ‘chef’ om te dui op die leier wat hy was.

Louis Trichardt: Vernoem na Louis Trichardt (vandag bekend as Makhado).

Pietermaritzburg: Die eerste verklaring vir dié stad se naam is dat dit vernoem is na beide Piet Retief en Gerrit Maritz.  ’n Tweede verklaring is dat die stad na Piet Retief alleen vernoem is. Volgens hierdie verklaring is sy volle voorname, naamlik Pieter Mouriets, gebruik om “Pieter Mouriets Burg” te vorm. Dit sou later Pietermaritzburg word.

Piet Retief: Vernoem na Piet Retief. 4

Ooreenkomste om grond vir boerdery te bekom

Verskeie ooreenkomste is tussen die Trekkerboere en plaaslike gemeenskappe gesluit om grond vir boerdery te bekom.

In die omgewing waar Winburg vandag geleë is, het die Trekkers die grond tussen die Vet- en die Vaalrivier vir beeste by Makwana, die leier van die Taung-gemeenskap geruil.

Die ooreenkoms tussen Piet Retief en Dingaan oor grond in Natal is jare later in 1923 as eg bewys. Daarvolgens sou die boere die grond tussen die Tugela- en Mzimvuburivier as eiendom kry. Dingaan het die ooreenkoms egter anders verstaan as die Trekkers. Sy mening was dat die ooreenkoms hulle net toelaat om die grond te gebruik. 1

Verdrag tussen Retief en Dingaan

Veldslae en botsings

Die trek van so ’n groot groep mense na die binneland het gelei tot botsings met van die inheemse volke wat daar gewoon het. Enkele van hierdie veldslae word as voorbeelde hier genoem.

Vaalrivierslag

Hendrik Potgieter het in Mei 1836 met ’n groep Trekkers na die Soutpansberg vertrek om te kyk na boerderymoontlikhede. Die res van die Trekgroep het vir hulle gewag. Toe hulle op 2 September 1836 terugkeer, het hulle uitgevind dat die trekgroep in die omgewing van die huidige Parys aangeval is deur ’n Ndebele-impie. Ongeveer 20 Trekkers, ’n aantal veewagters en tot 150 Ndebele-krygers is in hierdie slag dood. Silkaats (Mzilikazi), was in hierdie tyd die leier van die Ndebeles. Die Trekkers het moontlik onbewustelik in die Ndebeles se gebied inbeweeg en vir Silkaats was die Trekkers se gewere na alle waarskynlikheid ’n bedreiging.

Kort hierna het die Ndebeles weer die groep Trekkers aangeval. Die aanval is afgeweer, maar die Ndebeles het byna al die skape (41 000), beeste (6 000) en trekosse as buit saamgeneem. 1

Die Slag van Bloedrivier

In 1838 was die Voortrekkers skielik sonder hul belangrikste leiers. Retief en Uys was dood, Potgieter het oor die Drakensberg teruggetrek na Potchefstroom omdat hy nie in Natal wou bly nie en Maritz is in September 1838 oorlede.

Bloedrivier kleurskildery, 1838

In November 1838 het Andries Pretorius en ander groepe Trekkers uit die Kaapkolonie in die gebied opgedaag. Pretorius is gekies as hoofkommandant van die strafkommando wat teen Dingaan sou gaan veg. Hierdie kommando het uiteindelik uit 470 mans bestaan. Terwyl hulle op pad was, het hulle die gedagte van ’n gelofte bespreek en op Sondag 9 Desember 1838 het Sarel Cilliers hierdie gelofte in gebed by die Wasbankspruit afgelê.

In dié gelofte het die groep Trekkers die volgende onderneem: Indien God hulle sou help om die Zoeloes te oorwin, sou hulle dié dag van die oorwinning elke jaar herdenk. Hulle sou ook ’n kerk bou.

Op 15 Desember 1838 het die Trekkers gehoor dat die Zoeloes op pad was. Pretorius het op die oewer van die Ncomerivier laergetrek. Hierdie rivier is later deur die Trekkers Bloedrivier genoem. Op Sondag 16 Desember het ongeveer 10 000 Zoeloekrygers die laer aangeval. Die Trekkers het daarin geslaag om elke keer die aanvalle af te weer en uiteindelik het die Zoeloes gevlug.

Daar was slegs drie Trekkers wat gewond was. Meer as 3 000 Zoeloelyke is egter rondom die laer getel.

Hierdie was die grootste veldslag ooit in Suid-Afrika. Pretorius is as ’n held beskou en hy het selfs ver buite die grense van Natal bekendgeraak.

Pretorius en sy Wenkommando het verder beweeg na uMgungundlovu, die stat van Dingaan. Die stat was uitgebrand. Op die koppie waar Retief en sy groep vermoor is, het hulle, onder meer, die verweerde leertas gekry waarin die ooreenkoms tussen Retief en Dingaan steeds was. 1

Umgungundlovu
Andries Pretorius

Die Voortrekkers se gebruik van ’n laer tydens veldslae

Die Voortrekkers het hul waens gebruik om hulself, maar veral die vroue en kinders, te beskerm wanneer hulle aangeval is. Die waens is in ’n sirkel of halfsirkel getrek en die mans het met hul gewere agter die waens hul plekke ingeneem van waar hulle op die aanstormende krygers kon skiet.

Die vroue en kinders het binne die laer geskuil. Soms is die perde ook binne die laer gehou om te verhoed dat hulle gesteel word.

Die openinge tussen die waens is met doringtakke toegemaak.

Die gewere wat gebruik is, was voorlaaiergewere wat ook sannas genoem is. Soms het vroue en kinders gehelp om die gewere te laai sodat die mans vinniger kon skiet. 1

Die Republiek Natalia

Vlag van Republiek Natalia
Volgens die ooreenkoms tussen Retief en Dingaan het die Republiek Natalia tussen die Tugela- en die Umzimvuburivier gelê.

Daar is ’n volksraad van 24 lede verkies. Pretorius is afgevaardig om met Potgieter te gaan onderhandel om die twee Voortrekkergemeenskappe in Natal en Potchefstroom te verenig. Op 2 Februarie 1841 is die twee groepe in een Republiek ingesluit sodat die Republiek Natalia ook die Potchefstroom-Winburg gebied ingesluit het.

Die Britse regering het geweier om die nuwe Voortrekkerstaat as ’n onafhanklike staat te erken en in Mei 1842 het die Britte Port Natal beset. In Mei 1844 is Natal ’n aparte distrik van die Kaapkolonie gemaak.

Die Republiek Natalia het net vir ’n kort rukkie bestaan, maar dit het die Voortrekkers belangrike lesse oor demokrasie geleer. 1

Twee Boererepublieke

ZAR (Zuid-Afrikaanse Republiek)

Die ZAR is in 1852 tot stand gebring nadat die Sandrivierkonvensie op 17 Januarie 1852 onderteken is. Die mense wat die ooreenkoms onderteken het, was Andries Pretorius namens die Voortrekkers en twee kommissarisse, W.S. Hogge en C.M. Owen, namens die Britse owerheid. Die Trekkerrepubliek was dus nou onafhanklik van Brittanje. 1

Andries Pretorius op perd gewond by Bloedrivier

Republiek van die Oranje-Vrystaat

Die Britse regering het reeds voor 1852 besluit dat hulle uit die gebied tussen die Vaal- en die Oranjerivier wil onttrek.

Op 23 Februarie 1854 is die Bloemfonteinkonvensie onderteken. Hiermee is die onafhanklikheid van die gebied erken en is die Republiek van die Oranje-Vrystaat tot stand gebring. 1

Bloemfontein, 1850’s

Die betekenis van die Groot Trek

Die Groot Trek is een van die belangrikste gebeurtenisse in die geskiedenis van die Afrikaner. Dit het ook daartoe gelei dat twee onafhanklike Voortrekkerstate in die binneland ontstaan het.

Die Voortrekkers het ’n nuwe republikeinse bestuurstelsel geskep en die Natalse Voortrekkerrepubliek was die eerste republiek in Afrika.

Die Groot Trek het ook tot die opkoms van die Afrikaner gelei. 1

Woordbank

buit Dinge wat deur ’n persoon of ’n groep tydens ’n oorlog of deur diefstal verkry is.
heemrade Lid die hof wat jare gelede (in die tyd van die Oos-Indiese Kompanjie) onder voorsitterskap van die landdros onder meer ’n hof gevorm het om sake te verhoor. 5
impie Zoeloeregiment
veldslae Geveg tussen vyandelike magte in die veld.
voorlaaiergewere Outydse geweer wat by die bek van die loop gelaai word.

Kyk na hierdie skakels om nog meer te leer

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 13 September 2022 | Bygewerk op 22 April 2024