Vinnige feite

  • Daar ry sedert 1843 elke dag ’n koets, die Brougham-koets, om pos af te lewer tussen die Buckingham- en St. James-paleise in Engeland. 7
  • Die goue staatskoets is die oudste koets wat deur die Britse koninklikes gebruik word. Dit is reeds sedert 1821 in gebruik en die Britse monarg (nou koning Charles III) ry elke jaar in dié 4,5 ton-koets na onder meer die opening van die Britse parlement. Die nuutste koets, wat destyds spesiaal vir wyle koningin Elizabeth (koning Charles III se ma) se diamantjubileum gemaak is, spog met elektriese vensters en verhitting. 8
  • Perde wat koetse getrek het, het oogklappe gedra. Dit was gedoen om hulle in staat te stel om soos ons te kyk – reguit vorentoe. Perde se oë sit aan die kant van hul koppe en hulle kan 340° sien, so die oogklappe help dat hulle op die pad konsentreer (veral in die ou tyd voor ordentlike paaie, toe hulle oor heuwels en rowwe terrein moes beweeg). 9
Foto: iStock

Dit is amper vakansie en julle gaan see toe! Julle gaan waarskynlik met die motor ry en jou ma gaan lekker padkos inpak. Of julle gaan dalk vlieg en sommer in ’n japtrap in die skuimwater speel. Verbeel jou daar was nie motors of treine of vliegtuie nie en julle moes met ’n wa, getrek deur perde of osse, tot by die see ry. Dit sou langer geneem het om tot daar te kom as wat die hele vakansie lank is!

Waens en koetse is van die vroegste vervoermiddels. Ons ouers se oumas en oupas het nog met ossewaens gereis en Sondae in ’n blinkgepoetsde koets kerk toe gery. ’n Mens kon nie sommer net besluit jy wil gou winkel toe gaan nie. Uitstappies en inkopies was beperk en was groot gebeurtenisse. Almal was opgewonde as die wa en perde ingespan is vir ’n groot tog.

Die uitvinding van die wiel het dit baie makliker gemaak om goedere en mense te vervoer. Vroeë wiele was van hout gemaak en dié wiele is aan asse vasgemaak wat die karretjies getrek het. Karretjies was die eerste voertuie met wiele waarvan ons weet. Dit het twee wiele gehad en is gewoonlik deur ’n os of ’n donkie getrek.

Waens is voertuie met vier wiele. Waens is vir honderde jare gebruik om swaar vragte oor lang afstande te vervoer. Dit is deur osse en perde getrek, en sommige waens is toegemaak en mense het daarin gery. 1

Koetse is groot, toe (bedekte) voertuie met vier wiele wat mense vervoer het. Koetse is deur twee, vier of ses perde getrek en mense kon binne-in die koets en bo-op die dak sit. Die poskoets was een van die vroegste vorms van openbare vervoer en het nie net briewe nie, maar ook tot agt mense op ’n slag vervoer.

Volgens argiefstukke het die destydse Kaapse goewerneur Simon van der Stel per koets na Namakwaland gereis om koper te soek. Ons weet dus dat daar al in 1685 koetse in Suid-Afrika was. Die meeste koetse was Nederlandse of Franse ontwerpe, en teen die einde van die 18de eeu het Britse koetse in gebruik gekom. 2

Die eerste brandweerwa (dit was van hout gemaak en het baie soos ’n oop ossewa gelyk) in die Kaap het in 1737 uit Nederland aangekom. Brandweerwaens is eers deur perde getrek en baie mense was nodig om die handpomp, waarmee water uitgepomp is om die vuur te blus, te hanteer. In die middel van die 1800’s het stoompompe die handpompe vervang. In die 1900’s het petrolaangedrewe brandweerwaens hul verskyning gemaak.

Donkiekarre

Donkies is vir baie jare in Afrika gebruik om goedere deur die Sahara-woestyn te vervoer. Donkies kan egter nie lank sonder kos en water oorleef nie, en vanaf ongeveer die 3de eeu is hulle vervang deur kamele. In Suid-Afrika is donkiekarre vandag nog in baie plattelandse gebiede te sien. ’n Muil is ’n kruising tussen ’n vroulike perd en ’n donkie. Mense gebruik muile sedert die antieke tye. Die antieke Grieke en Romeine het hulle gebruik om karretjies (amper soos perdekarre) te trek en vragte te vervoer. In die 20ste eeu is hulle vir militêre vervoer gebruik. Dit het minder geword sedert die uitvinding van motors en trekkers, maar ’n mens sien nog gereeld donkiekarre op Suid-Afrika se grondpaaie waar motors nie maklik kan ry nie. 3

Die ossewa

Die ossewa is een van die belangrikste waens in Suid-Afrika se geskiedenis. Tydens die Groot Trek was die ossewa die Voortrekkers se tuiste, amper soos die karavaan (woonwa) wat ons vandag ken. Elke gesin het twee tot drie waens gehad wat volgepak was met die huisapteek; meelkiste; trommels met brood en beskuit; slope vol droë ertjies, biltong en boontjies; stene seep; erdepotte vol vet en koffers (tasse) vol klere. En natuurlik gewere en ammunisie, die familiebybel en skoolboeke. Dié waens, met ’n seiltent wat oor kweperhouthoepels gespan is, kon nie baie ver op een dag reis nie omdat die osse moes rus. Hulle kon slegs omtrent 32 km per dag aflê. 4

Die bokwa

Die bokwa was ’n groter soort ossewa wat in die 1870’s ontwerp is om myntoerusting na die diamantvelde te vervoer. Dit het nie hoë kante soos die ossewa gehad nie, maar wel kantreëlings om te keer dat goed afval. Sommige bokwaens het ’n tent oor die agterste deel gehad wat die wa bedek het. ’n Seil is oor die vrag gegooi en die dele wat afgehang het, was die slaapplek in die aand.

Die skotskar en kapkar

Die skotskar het soos ’n halwe ossewa gelyk en is op plase gebruik om allerlei soorte vrag te vervoer. Dit het ’n wipbak of verwyderbare bak gehad. Die kapkar is nog een van ons belangrikste historiese voertuie. Aanvanklik was die kap vas, maar later kon die kap afgeslaan word. Voor die koms van die motor was die kapkar die vinnigste vervoermiddel vir boere. 5

Ken jy dié sêgoed?

Het iemand al vir jou gesê jy moenie so voor op die wa wees nie, of sit ’n bietjie skouer aan die wiel? Albei hierdie spreekwoorde verwys na die Voortrekkers. In toeka se dae moes kinders hul plek ken. Die sitplek wat op die trekpad vir die boer en sy vrou gereserveer was, was voor op die wa.

Kinders en minderes moes agterop die wa saamry en dié wat hulle sommer voorop tuisgemaak het, was vrypostige mense (wintie) wat nie hul plek geken het nie. Om skouer aan die wiel te sit, beteken om al jou krag in te span om iets gedoen te kry. Die Voortrekkers moes letterlik skouer aan die wiel sit om oor hoë berge en deur moeilike driwwe te kom. 6

Woordbank

japtrap Kort rukkie; oomblik; kits/vinnig.
koets Dikwels deftige toe rytuig met vier wiele, deur perde getrek, in die ou dae onder meer gebruik om passagiers/pos/ens. te vervoer.
muil Kruising tussen ‘n perdemerrie en eselhings, ‘n dier wat nie kan voortplant nie.
tog Reis; rit; toer.
vrypostige Baie vrymoedig; voorbarig; skaamteloos; astrant.

Lees hierdie artikels om nog meer te leer

Kyk na hierdie video om nog meer te leer

Tweewielkarretjies, waens en koetse

Foto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStockFoto: iStock
Gepubliseer op: 29 November 2021 | Bygewerk op 3 April 2024